Читать книгу Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Vier

Оглавление

Dis ná nege toe hy die volgende oggend wakker skrik. Op die tafel in die woonkamer lê ’n nota van Jurgen. Hoop jy’t goed geslaap. Werk tot 15h00. Kry jou op Leidseplein 16h15. J.

Hy’t heeltemal van dié afspraak vergeet. Die dag tot drie-uur slinger meteens tot in die oneindigheid voor hom uit. Hy loop na die raam en sien dat dit nogmaals reën. Nie soos die vorige aand so hewig nie, maar tog. ’n Pêrelagtige motreëntjie wat skyn te verdamp voordat dit die strate raak. Tog loop daar oral straaltjies water en kan hy die geute hoor roggel. Onder in die straat rommel die verkeer on­afgebroke.

Die katte hou hom stip dop vanuit hul lêplekke. Jurgen laat Rubicon gedurende die dag by ’n ou dame wat agter hom ’n straatvlak-woonstelletjie bewoon en dus oor ’n miniatuur-tuintjie beskik. Sy gaan wandel gereeld met die hond gedurende die dag wanneer hy werk. Dis ’n uitkoms vir hond en vrou.

Marc loop doelloos in die vertrek rond. Hy kyk deur die lys be­sienswaardighede wat Jurgen vir hom opgestel het. Hy het geen trek in een van die dinge vandag nie. Hy voel mislik en troosteloos. Hy wil by sy ma wees en by sy huis. Maar toe hy lugbrief en pen uitgehaal het om vir haar te skrywe, verlaat dié energie hom ook. Hy besluit om tog maar die stad in te gaan. Terwyl hy sy windjekker in die kamer staan en aantrek, kom die gedagte vir die eerste keer by hom op. Eers verwerp hy dit verskrik. Maar dit verlaat hom nie ’n oomblik nie. Hy kam sy hare voor die spieël en kyk homself lank aan. Die ou bekende opwinding en vrees wat hy altyd as kind geken het as hy heimlik besluit om ’n ding te doen wat hy weet verkeerd is, het hy nou. Hy sien dit in sy oë lig. Hy kam sy hare klaar, trek sy leerbaadjie se kraag op. Sy maag roer ontsteld.

Dit reën nie hard genoeg vir ’n sambreel nie, tog maak dit hom goed nat. Hy haal nie die trem nie, stap die hele pad tot in die midde­stad. Op die Dam sit hy ’n rukkie koud en verveeld na die vlamvreters en die duiwe en kyk. Free Mandela wat in rooi op die kleistene geverf was, is byna weggereën. Iemand het met groen Free De Klerk daaroor geskrywe.

Wanneer dit te koud word, gaan hy een van die knus kafeetjies binne. Hy voel egter nie honger nie. Hy drink drie biere en rook vyf sigarette tot hy daar mislik en lighoofdig van word.

Toe staan hy meteens op en stap direk na die raam waar die Jamaikaan sit. Dit neem haar nie lank om hom te herken nie. Die glimlag verbreed op haar donker gesig. Sy lig haar hande en skouers vraend op. Hy knik en voel die bloed in sy ore donder. Sy staan onmiddellik op om hom binne te laat.

Sy hande sweet terwyl hy die smal donker trap agter haar uit­klim. Die bedompige reuk van kos wat vlakby in veel olie gebraai word, mure en hout wat muf, en ou lug kom na hom toe. Hy haal panieke­rig dieper asem. Toe hulle bo is, draai die vrou na hom toe. Hy merk nou eers dat sy ’n syerige japon met Japannese motief bedruk aange­trek het oor die skamele onderklere waarmee sy in die lokhokkie te sien was. Haar donker vel gloei effens teen die dieprooi blink stof. Sy meet hom met haar swart oë en die glimlag om haar mond versag.

“Eerste keer?” Sy praat Nederlands heeltemal sonder aksent.

Hy bloos ontset. Knik toe.

Haar glimlag verdiep. “Spesiale prys dan, hoor.” Sy noem die be­drag. Minder as wat hy verwag het.

Hy frommel dit lomp uit sy beursie en sy moet vir hom klein­geld uit haar kas gaan haal. Dan trek sy die vuil, wit gordyne teen die gragte­venster toe sodat nog net die skadu’s van die yl bome daarteen val. Dit voel asof sy maag omdraai soos in die eerste ure toe hy op die skip was. Hy sien die plakpapier teen die mure, oud en hier en daar geskeur, vetterig van ou stof. Daar’s ’n geraamde portretjie van Madonna en Kind, albei met glinsterende stralekranse en appelrooi wange. Uit die dak hang ’n kaal vliegbemiste gloeilampie waarteen hy met die inkom al sy kop gestamp het. Die smal houtkateltjie het style bo en onder, en oor die dun matrassie is ’n goedkoop Indiese blinkdraaddeken gedrapeer. Die vuil kussing vertoon bulterig.

Toe sy praat, skrik hy hewig. “Sal ek jou uitklee, jongen?”

Hy knik onseker, maar haar hande is vriendelik en liefkosend so­dat hy daar ’n ereksie van kry. Sy asem brand teen sy lippe. Hy du haar lomp na die bed, maar sy skud haar kop en toe eers sien hy die kondoom in haar hand wat sy na hom uithou. Maar hy is so onwennig en sy hande bewe so allerverskrikliks dat hy niks regkry nie. Sy moet dit vir hom doen. Daarna laat sy toe dat hy haar agteroor op die bedjie stoot en hy sak op haar neer. Raak al gou weg in haar gul, warm lyf. Hy ruik haar harde swart hare, haar sweet en soet reukwater en die matras. Hy voel haar heupe, haar sterk bene, haar sagte, groot borste soos kussings teen hom aan. Sy liggaam beweeg heeltemal buite-om sy verstand. Hy voel asof hy daar weinig beheer oor het. Hy hoor sy eie harde asemhaling.

Maar hy bereik tog nie ’n orgasme nie. Dit voel vir hom asof dit alles so verskriklik lank duur. Sweet loop uit sy oksels oor sy bors af. Sy keel pyn. Maar sy lyf bly voortbeur soos ’n opgewonde dier.

Hy sien hoe sy op die hardtikkende wekker voor die bed kyk. “Ek kan nog nie,” pleit hy moeisaam, “moenie weggaan nie.”

Hy sien haar groot wit tande toe sy lag. “Dit kom allemaal voor­mekaar, jongen. Gaan maar deur, ek help jou straks.”

Sy help hom en dis asof sy verstand uit sy kop loskom en iewers bo hom teen die dak duisel. Hoër en hoër. Toe hy kom, weet hy nie dat die geluide wat hy hoor uit sy eie mond kom nie. Hy beur hygend agteroor en voel hoe sy vingers in haar bo-arms keep. Sy kerm effens, maar sy bly stil lê. Hy syg weer teen haar neer en voel hoe hulle sweet op sy gesig en in sy hare vermeng. Sy neus brand en hy besef beskaamd dat hy ook gehuil het. Sy praat vertroostend met hom. Sagte geluidjies maak sy en werk haar vingers in sy klam hare.

“Ek sal dubbel betaal,” hyg hy, “vir die ekstra tyd.”

Sy lag. “Ja, hoor.” Maar sy hou sy kop styf teen haar vas tot hy weer egaliger asemhaal.

“Dankie,” prewel hy toe hy weer regop oor haar kan kom.

Sy glimlag. “Jy maak dit wel, jongen.”

Sy bly agter hom staan terwyl hy hom aantrek. Hy sukkel om alles so vinnig moontlik aan te kry. Staan die hele tyd met sy rug na haar toe gedraai. Toe hy sy windjekker aantrek, voel hy vinnig of sy beursie nog daarin sit. Dié’s veilig. Hy kyk haar nie weer vol aan toe hy weg­gaan nie. Sy is besig om die vuil gordyne voor die venster weg te trek.

Buite hap hy dankbaar na die skoner lug en word meteens so dood­naar dat hy ’n oomblik lank vrees hy gaan in die straat opbring. Sweet slaan op sy gesig uit. Hy sluk paniekerig en ná ’n paar oomblikke hou die gesuis in sy ore op. Die koel reën val teen sy gesig en hy voel won­derlik verlig. Hy lag toe ’n meisie met ’n fiets op die sypaadjie teen hom vasry. Hy gaan ’n stewige maaltyd op die Leidseplein eet solank hy vir Jurgen wag. Die straat dreun en toeter om hom. Hy voel hom daar deel van. Hy koop ’n koerant en lees dit hartstogtelik. Hy waag dit nie om alleen met sy gedagtes om te gaan nie.

Toe Jurgen aankom, drink hulle nog ’n keer koffie. Dié kyk hom ondersoekend aan. “Wat het jy alles vandag gedoen?”

“Niks besonders nie,” lieg hy vlug. “Laat geslaap en toe bietjie rondgeloop.”

“Gaan jy môre na jou ouma toe?”

Hy kyk Jurgen verdwaas aan. “Môre?”

“Dis Donderdag vandag.”

“Is dit? Hel, ek het dit nie besef nie. Ja. Ja, natuurlik.”

“Ek het gedink om volgende week verlof te neem, dan kan ons, as jy wil, so ’n klein toertjie die binneland in maak. Jy kan nie net in Amsterdam bly vassit nie.”

“Dit sal fantasties wees!” roep hy bly. “Kan jy dit doen?”

Jurgen sug. “Anders sou ek dit tog nie voorgestel het nie, man!”

Hulle besluit om na ’n vroegaandfilm te gaan en nie te laat te gaan slaap nie.

Klaprose teen die wind

Подняться наверх