Читать книгу Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5

Drie

Оглавление

Dit word nege-uur voor Claus, Jurgen se Duitse vriend, opdaag. Ook aan die Nederlanders se begrip van tyd begin Marc hom algaande wen. Nagmense.

Vooraf het Jurgen hom ingelig dat Claus ’n joernalis is. Hy is vir ’n kort rukkie in Nederland om stof vir ’n artikel oor vigs in te samel. Hy woon afwisselend in Hamburg en New York.

Aantreklike man in sy vroeë vyftigs, melancholiese oë, sensuele mond. Hy bekyk Marc met soveel openlike belangstelling dat hy daar ongemaklik van voel.

Ná ’n voortreflike ete wentel die gesprek al gou om vigs. Oor die toestand in New York waarvandaan hy so-ewe kom, sê Claus som­ber teenoor Marc: “Daar’s elke week ’n begrafnis. Dikwels iemand wat jy goed geken het. Duisende New Yorkers is al dood en tien­duisende bevind hulle in die laaste stadium van die siekte.”

“Ek wis nie dat dit só erg was nie,” sê Marc geskok.

“Daar woon minstens halfmiljoen mense met Aids in New York. Ag, seker heelwat meer. Latino’s, junkies, homo’s. Iedereen het in sy familie- en vriendekring wel een wat siek lê. Of seropositief is. Of het al een sien doodgaan. Hierdie arme bliksems het die keuse tus­sen ’n vuil, swak hospitaal sonder simpatie waar daar teen hulle ge­diskrimineer word, of soos ’n hond op die straat …”

“Wil jy whiskey hê, Claus?”vra Jurgen wat gebukkend met sy rug na hulle by ’n klein drankkabinet staan.

“Graag.”

“Ek het gedink oor die mense al meer … veilige seks beoefen …” Marc word warm om sy ore.

Claus se oë ontmoet syne, simpatiek ten spyte van sy siniese woorde. “Ag, wat is veilige seks nou presies? Verlede jaar ontmoet ek ’n aan­treklike jong man wat my vertel dat hy seropositief is …” Hy trek sy skouers op. “Maar die liefde blyk sterker te wees dan alle angs. Op ’n dag skeur die kondoom …” Marc merk hoe die sigaret tussen sy vingers tril en hy probeer so hard om sy hand stil te hou dat sy arm daarvan begin pyn. “Ek was skielik doodbang, te bang om die toetse te laat doen. Vroeër het ek altyd gesê dat ek die toets sou laat doen as daar die geringste kans is dat ek seropositief kan wees. Maar tóé kon ek nie.”

Marc se blik gaan na Jurgen, want hy kry die rare gevoel dat Claus eintlik met Jurgen praat al kyk hy hóm aan. Maar Jurgen is nog steeds met sy rug na hulle besig.

“Hier by ons is ’n teorie dat paniek die siekte kan aktiveer.” Jurgen het met ’n bier in sy hand kom sit, sy ander hand voel-voel na die kat wat onder sy stoel lê en slaap om hom op sy skoot te hys. Hy lyk wit en gespanne.

“Ja,” sê Claus en roer sy glas afgetrokke, “die toets bly maar bo jou kop hang soos die spreekwoordelike swaard. ’n Paar maande ge­lede kom ek in Genoa ’n Griekse jongen teë. Dmitri.” Marc merk dat Jurgen nie opkyk nie. “Ons raak verlief, dus nooi ek hom saam New York toe. Maar hy wou dat ek my eers laat toets. Hy’s vyf en twintig en net klaar gestudeer, heelwat om voor aan die lewe te bly … Eers wou ek nie.” Hy sug. “Maar eensaamheid is ’n verskriklike ding en ten slotte laat ek tog maar die toets in New York doen. Die weke tot die uitslag was suiwer hel. Maar ek was negatief en Dmitri het gekom. Maar ons is versigtig.”

“Hoe’s dit met Stephan?” vra Jurgen ná dit ’n ruk lank so stil was dat Marc van die stadsverkeer ver onder hulle bewus geword het.

“Hy hou hom nog self steeds met ’n streng makrobiotiese dieet aan die lewe, maar …” hy skud sy kop, “vir hoe lank dit nog gaan help … Daar’s Chris … onthou jy hom nog?”

Jurgen knik. Marc sien dat hy sy bierglas met ’n onvaste beweging na sy mond bring.

“Sy vriendin is inmiddels dood. Hy maak dit ook nie meer lank nie, hoor. Hulle het te dikwels dieselfde naald gebruik.”

Marc voel Claus se oë ondersoekend op hom rus en hy sê senu­weeagtig die eerste ding wat by hom opkom: “’n Vriend van my wat ’n uitruilstudent in Amerika was, het in 1987 die groot Aidsmars in Washington gesien.”

Claus skud sy kop stadig, blaas die rook langsaam deur sy neus uit. “Dit het ek meegemaak.”

“Hy het gesê dat daar duisende mense was.”

“Ontsaglik was dit. Volgens die homobeweging seshonderd­duisend.” Hy leun vooroor na Marc. “Ons het langs ’n enorme lap­kleed geloop met die name van duisende Aids-dodes daarop gestik. Ek het gesien hoe mans met gesigte vol Kaposi-vlekke moeisaam aangesukkel het om die name van hulle minnaars op die lap te kom soek. Dit was ontsettend.” Hy neem ’n groot sluk uit die glas wat al weer byna leeg is.

“Ons regering neem die siekte nou maar eers ernstig op vandat dit ook onder die heteroseksuele versprei.”

“Ja … maar dis nie net die owerheid se skuld nie, Jurg. Let’s face it, Larry Kramer was een van die eerste New Yorkers wat aan die begin van die tagtigs die siekte ernstig opgeneem het. Onthou jy watter opskudding het sy stuk The normal heart veroorsaak?” Jurgen knik. Claus wend hom tot Marc. “Hy het sy gay vriende histeries begin waarsku om op te hou om met Jan en alleman bed toe te gaan. Wat het hy vir sy moeite gekry? Hulle het hom vir ’n gay-vyand uitgekryt! Nou eers dat almal sien rondneukery is dodelik, nou het hy skielik die held van die beweging geword.”

“Ja …” Jurgen sug. “Hy het nie veel goeie woorde vir sy eie mense nie. Ek het gelees hy sê gays het die siekte verdien omdat hulle so passief en masochisties is.”

“Hy’s reg ook. Weet jy van die militante groep wat hy gevorm het?”

“Act Up?”

“Ja, dis …”

“Is hulle die groep wat die sterftonele op straat opvoer?” val Marc hom in die rede, bly dat hy iets het om tot die gesprek by te dra.

“Dis reg. Hulle doen dit voor die stadshuise, by hospitale en voor die kantore van vliegmaatskappye wat weier om kaartjies aan Aids-pasiënte te verkoop.”

Jurgen gaan die bottel haal en kom skink ongevraag vir Claus ’n nuwe dop in. “Ek lees dat die siekte in Amerika fataal is vir die teater en opera.”

Claus knik. “Ja, én vir die modehuise, hoor! Amerika se mode­bedryf word letterlik onthoof. Daar’s oral soveel vrees en wanhoop, dis verskriklik. Wie wil nou allerhande modes ontwerp as jou vriende rondom jou sieklê en doodgaan? Aids is besig om die kreatiefste mense af te maai.”

Marc se keel brand van te veel en te vinnig rook, maar hy steek weer ’n sigaret aan. Malibu, die gemmerkat, wat op sy skoot gelê het, spring af en skud haar pote verontwaardig. Toe gaan sy onder die rusbank inkruip.

“Julle rook my katte uit die huis uit,” sê Jurgen om die somber at­mosfeer op te lug. Maar niemand wil lag nie.

“Wat het van die professor geword van wie jy my die vorige keer vertel het? Die een wat jy in Centralpark ontmoet het.”

Claus frons. “Wie was dit nou ook weer?”

“Ek weet nie meer nie. ’n Jood. Matthew of iets.”

“O, hy? Ja, Matthew. Ek is baie bekommerd oor hom. Hy het verlief geraak op ’n ouer man wat streng Katoliek grootgeword het en járe lank getroud was. Die laaste vyf jaar eers het hy uitgekom en toe het hy alles probeer inhaal. Van sy vorige minnaars is al aan Aids dood. Sélf wil hy hom nie laat toets nie. En nou’t hy ’n vaste verhouding met Matthew.”

“Was Matthew nie ook eers getroud nie?”

Claus knik. “Vrou en twee kinders. Hy het pas ’n jaar gelede die moed gehad om uit te kom.”

Dis ’n oomblik lank stil. Marc word stadigaan bewus van ’n toe­nemende verset in hom. Sy oë vind Jurgen s’n. Asof hy daar iets van verstaan, sê dié onverwags: “Sou dit nie dalk meer moed gevra het om by sy gesin te bly nie? Bietjie selfverloëning …?”

Marc trek sy asem versigtig diep in om nie gehoor te word nie. Self het hy voorlopig nog nie die moed om iets te sê nie.

Claus sit ’n ruk lank in sy glas en kyk voor hy sê: “Ék weet nie. Jy sal seker beter weet. Dit kos ook heelwat moed om in die tyd van Aids daarvoor uit te kom dat jy gay is.”

Jurgen knik en dit val Marc op dat die twee manne mekaar veelseggend aankyk.

“Die groot meerderheid van die aktiewe gays is besmet, maar op partytjies word daar liewer nie oor Aids gepraat nie, al is hy áltyd die onsigbare gas by elke fees. Almal vlug desperaat vir die ge­dagte.”

Jy is ook tot die dood toe bang, dink Marc kwaad. Vir al jou ge­sofistikeerdheid en uitgesprokenheid gaan jy jou ook maar vanaand aan drank en woorde te buite. Ek weet nie of die feit dat jy “uitgekom” het veel vir jou gedoen het nie!

Claus gooi weer whiskey oor sy ys. “Ek is nog negatief. Maar ek weet dat ek myself nooit heeltemal sal kan beskerm nie. Ek weet dat ek weer en weer in ’n situasie sal kom waar my begeerte groter as my versigtigheid sal wees. As jy waansinnig verlief is, wil jy ook met en vir die ander sterf.”

Hoeveel maal raak ’n mens dan nog op jou ouderdom waansin­nig verlief, dink Marc wrokkig. Hy kyk na Jurgen vir bevestiging, maar dié is alleen maar met die Siamesie op sy skoot doenig. Hy kyk nie op nie. Marc beteuel homself. “Is selfmoordneigings hoog onder die seropositiewes?”

Jurgen skud sy kop. “Nee, dis verbasend laag. Die idee van mense wat selfmoord pleeg as hulle hoor hulle is seropositief, is ’n dwaling. Die pasiënte waar ek werk, ontwikkel eerder ’n lewensdrang. Alles gaan vir hulle absoluut net om oorlewing.”

“Ek weet,” sê Claus, “ek vind dit ’n ontsettend neerdrukkende per­spektief. As ek weet dat ek besmet is, dat ek elke dag met die dood in my loop … ek glo nie ek het die moed daarvoor nie.” Hy steek nog ’n sigaret op en die ander twee hou hom stil dop. “Dan maar liewer self ’n einde maak … Maar ek dink ook nie ek sal dit regkry nie. Dus laat ek my maar liewer nie toets nie, dan bly daar nog hoop.”

Die ergerlikheid vervloei in Marc. Jy is eerlik, dink hy; wie is ek om jou te veroordeel?

“Maar as jy jou nie wil laat toets nie, is jy tog ’n gevaar vir ander.” Jurgen sê dit so sag dat dit is asof hy net hardop dink.

“Ja, God,” sê Claus swaar. “Drie maal het die kondoom in drie weke geskeur. Maar dit lyk nie eens meer of Dmitri hom daaroor bekommer nie.”

“Hy is jonk …” Jurgen kyk steeds nie op nie. Hy neem die kat se pootjie en druk die kussinkie op sy hand oop. “Jong mense meen dat hulle onsterflik is. Dis vir hulle moeilik om die gevare van Aids ernstig op te neem. Mens moet hulle daarmee help.”

Dis ’n lang ruk stil, toe vra Claus: “Hoor ek jou sê dat ek onver­antwoordelik is teenoor Dmitri?” Hy kyk nie op van sy glas nie.

Dis stil voor Jurg sê: “Jy weet wat my standpunt is.”

“Oor jy so verantwoordelik optree?”

“Dit het ek nie gesê nie.”

Claus kyk op en Marc skrik vir die uitdrukking in sy oë. “Jy het op jou heilige stoel bly sit en nou meen jy jy het die reg om oordeel oor ander uit te spreek.” Sy stem is sag en vol venyn.

Jurgen roer nie, kyk ook nie op nie. “Laat dit maar, Claus, ek spreek nie oordele oor jou uit nie.”

“Maar jy meen tog dat jy in alle ongeskondenheid die reg het om raad te gee.”

“Jy’s dronk,” sê Jurgen baie sag.

“Môre word ek nugter. Maar jy bly skynheilig.”

“Jy het reg om so te dink.”

Claus vloek. “Weet Marc dat jy gay is? Weet hy waarom jy by die Aidskliniek werk?”

Het ek dit altyd geweet? vra Marc homself paniekerig af deur die swaar slae van sy hart heen. Is dit waarom ek so meteens by hom tuis was, so maklik by hom kom bly het?

Jurgen antwoord Claus nie, sy gesig bly afgewend.

“Weet jy?” vra Claus vir Marc.

“Waarom moet ek jou antwoord?” vra Marc skaars hoorbaar. “Maak dit dan vir jou saak?”

“Dit sal Jurg jou ook kan vertel as hy wil …” Maar dis duidelik dat die skielike opwelling van woede bedaar het. Dat hy daar spyt van het. Hy kom regop en bly onseker staan. “Ek is jammer … Jurg. Jy weet hoe dit met my is as ek te veel gedrink het, dat ek nie toe­rekenbaar is nie …”

“Ek weet.”

“Dit was in die eerste plek stom van jou om my hierheen te nooi met hom hier.”

“Ek ís stom.”

“Nee, jy is nie!” Claus leun meteens na Jurgen en sit albei sy hande op sy skouers. Marc sien die trane in sy oë opwel. “Nee, jy is nie,” sê hy weer en knyp sy oë styf toe, sy mond vertrokke. Hy buk af en lê sy wang ’n oomblik teen Jurgen se digte krulhare. “Ek is jammer, Jurg.”

Jurgen bly onbeweeglik sit, net sy vingers sluit vaster om die kat se pootjies. Sodat dié sy oë oopmaak en verwonderd om hom kyk.

Claus kyk nog een maal na Marc. Dan tel hy sy sak en sy jas van die rusbank op, neem sy sigarette en gaan uit.

Dis baie stil toe hy weg is. Daar is net die gedempte geluid van die verkeer ver onder in die straat en die dowwe stemme uit ’n buurhuis. Eers toe hulle albei die straatdeur hoor toeklik, tel Jurgen sy kop op en kyk Marc aan. “Ek sal dit alles vir jou verduidelik.”

“Dis nie nodig nie.”

“Dit is nodig.” Hy kom regop en sit die kat versigtig op die rusbank neer. “Eers moet ek toilet toe gaan.”

Toe hy uit is, gaan Marc by die raam staan en kyk nikssiende na buite. “God, help my!” prewel hy sonder dat hy bewus daarvan is, want hy voel meteens ontsettend sterk. Al bewe hy so dat sy tande op­mekaar klap.

Toe Jurgen terugkom, vind Marc dat hy dringend self daarheen moet gaan. Intussen het Jurgen warm sjokolade gemaak en beskui­tjies uitgehaal. Hy is nie meer so erg bleek nie. Marc het ook ophou bewe. Hy moet homself egter met mening bymekaarvat toe die hond skielik skerp langs hom blaf en hy so ruk dat hy van die sjokolade op sy broek stort.

“Hy hoor die man langsaan wat sy hond uitlaat. Eet nog ’n beskuit.”

“Dankie.” Marc voel verlig hoe die histerie langsaam in hom gaan lê.

“Ek moet so ver terug begin, anders sal jy nooit verstaan hoekom dinge gebeur het soos dit het nie.”

“Ek sal graag luister, maar miskien is jy moeg …”

Jurgen skud sy kop. “Nee, laat ek liewer nou maar alles sê.”

Marc knik. Die katjie kom klim weer op Jurgen se skoot en hy streel haar afgetrokke. Rubicon het aanvaar hy gaan nie vanaand saam met sy buurman stap nie en met ’n berustende sug sy kop op sy voor­pote neergelê en sy oë toegemaak. Dis ná twaalf, sien Marc toe hy on­gemerk op sy horlosie kyk.

“Ek kom uit ’n konserwatiewe familie. Genootskap van Regte Afrikaners. Wynplaas by Franschhoek. Drie seuns. Oudste opgeskryf vir erfgenaam van die familieplaas. Tweede vir predikant. Derde, ek, had ’n keuse tussen medies en regte. Maar die plan het nie uitgewerk nie, want toe ek in matriek was, is broer nommer twee in Angola doodgeskiet. Toe skuif ek op vir predikant …” Hy skud sy kop en kyk by Marc verby. “Die liewe Here in die hemel weet, ek het lank probeer om predikant te word. Ek het dit vir Francois wat dood was probeer en ek het dit vir my ma probeer, want sy was verskriklik stukkend … En ek het dit vir myself probeer, want ondanks alles is ek gelowig. Maar ’n gay word nie ’n predikant in onse kerk nie, dit weet jy tog.”

“Het jy dit dan toe al geweet?” vra Marc sag.

“Ja, ek het. Dié deel sal ek op ’n ander keer vir jou vertel, anders loop ons nou te wyd vir een episode.”

Marc knik. “Ek vra maar.”

“Aan die einde van my vyfde jaar op kweekskool moes ek met die hartverskeurende nuus huis toe kom … ek kan nie aangaan nie. Ek kon uiteraard nie sê waarom nie. Tóé al wou ek landuit, toe al was alles te nou en te benoud vir my. En definitief nie net oor ek gay was nie. Dit was alles net te beperkend, te nou … die politiek, die hele Afrikaner-set-up … My ouers het my vir ’n maand oorsee gestuur. Miskien dat dit moes lyk of ek ’n senu-ineenstorting gehad het of iets, ek weet nie. Of dat ek van my nonsens ontslae kon raak, ek weet nie. Ek het net teruggegaan oor my ma. Sy was ook so half versmoor deur dieselfde dinge as ek, en sy hét al ’n kind verloor … Ons was altyd nader aan mekaar as ek en my pa of my broer. Ag, sy het my seker ook maar onbewustelik beskou as die meisiekind wat sy nooit gekry het nie. Ek weet nie. Anyway, ek het teruggegaan …”

“Dit reën weer,” sê Marc in die stilte wat volg en hom senuagtig maak.

Jurgen luister. “Ja, ek het nie eens agtergekom nie. Hard ook.”

“Het jy toe medies gaan doen?”

“Ja, ek het dit toe probeer. Dit was baie meer in my lyn as teologie, en my swakheid sou my daar nie soveel probleme gegee het nie, het ek gereken.”

“Kaap?”

Jurgen knik. “Kaapse Universiteit. Ook nie bevorderlik vir my Afri­kanerskap gewees nie. Die bietjie wat ek nog oorgehad het. Maar vir Pretoria het ek waaragtig nie kans gesien nie!” Hy strengel sy vingers agter sy nek inmekaar en rek hom effens. “Ek kan nie presies sê hoekom medies nie vir my gewerk het nie. Miskien was ek te ver­dwaal in my identiteitskrisis. Miskien was dit net so eenvoudig soos dat dit ’n moeiliker kursus was, dat dit Engels was. Ek weet nie. My pa het eendag in ’n woede-uitbarsting gesê dat ek elke ander ding wat ek nie moes leer nie, dáár geleer het, behalwe medisyne. Hy was ook reg. Ek het by die linkse politiek betrokke geraak, soos jy kan dink. Nie te erg nie, maar, jy weet, so om te wys ons Afrikaners weet ook hoe …” Hy moes die teenspraak in Marc se oë gesien het, want hy lag. “Ja, ek weet ons weet nóú ook hoe. Maar toe was dit nog ’n bietjie anders. Anyway, aan die einde van my derde jaar het ek nie gaan eksamen skryf nie. Nog ’n pikswart Krismis …”

“Ek kan dink.”

“Pa was woedend, Ma voltyds in trane.” Hy skud sy kop. “Ja … dit was nie lekker nie. Man skaam jou. Dus maar nog ’n slag pro­beer, want geld vir studie was nie ’n probleem nie. Dié tyd was ek uiteraard netjies ge-lable: Die De Villiers’s se moeilike kind. Met Francois dood, was dit net Jacques wat regtig nog die vlag gedra het. Ag, ek praat nou lelik en onverantwoordelik, toe was ek nie so banaal daaroor nie. Ek was by tye ontsettend skaam oor my doelloosheid en my swakheid. As daar net ’n mens was met wie ek oor my éintlike probleem kon praat, wat ek genoeg kon vertrou het. Maar daar was nie. Ek het nie eens my weg oop gesien om na my ma toe te gaan nie. Ek kon haar waaragtig nie meer verdriet aandoen nie …”

Hulle kan die reën steeds teen die ruite hoor stuif. Die hond het ’n slag opgestaan en mistroostig teen die deur gaan snuif en toe maar weer in dieselfde posisie kom lê. Die gesig van die vasgekeerde dier het Marc onverklaarbaar depressief gestem.

“Die army het natuurlik ook nog vir my sit en wag. En dáárvoor het ek eenvoudig nie kans gesien nie!”

“Watter jaar was dit?”

Hy dink ’n oomblik na. “1982.”

“Toe was dit óf die grens óf die townships.”

“Toe was dit óf die grens óf die townships. Inderdaad. Al het ek niks anders seker geweet nie, het ek gesweer dat ek dit nie sou doen nie. Natuurlik het Francois se dood ook daarmee te make gehad. Army sou ek nié doen nie, schluß. Dus dan maar terug varsity toe. Terug Stellenbosch toe vir regte, dalk kry ek weer my wortels, jy weet, soort van.” Hy skud sy kop stadig, nadenkend. “Dit was ’n fiasko. My naam het my inderdaad vooruitgegaan. Maar dit was nie al nie. Die plek het net te bedompig geword, ek kon nie meer asemhaal nie. Ek móés landuit. Nou het ek dié geluk gehad, moet jy hoor. Ek het twee paspoorte gehad. Een daarvan was Nederlands.”

“Nederlands!”

Jurgen lag. “Nederlands. My oupa aan my ma se kant is ’n Neder­lander jare in Suid-Afrika, my ma is daar gebore, maar hy was ver­siende genoeg om sy burgerskap te behou en honderd persent seker te maak dat sy twee dogters dit ook behou. Dus het my ma Nederlandse burgerskap gehad al is sy net so Afrikaans soos ek en jy. Sy het voor haar troue twee jaar in Nederland in die Ambassade gewerk. Toe ek in 1979 in Europa was, het ek met my oupa se hulp en sonder dat my pa geweet het – hy was altyd daartéén – ’n Nederlandse paspoort in die hande gekry.”

“Hel!” sê Marc.

“Ja, hoor. Maar ek het dit so dig soos ’n oester gehou. Oupa Leuvenink was ’n fantastiese bondgenoot. Stel jou voor as die princi­palities wind moes kry dat ek met my politieke agtergrond, shame, ’n dubbele paspoort het! Ek sou my agterkant gesien het en nóóit uitgekom het nie.”

“Hoe het jy uitgekom?”

“Sommer net padgegee. Op my Suid-Afrikaanse paspoort, na­tuurlik. Ek het ’n bietjie geld gehad wat ek met vakansiewerk en so opgespaar het. My motor verkoop ook. Ek hét my ma gegroet,” hy kyk af na die kat in sy skoot, “maar sy het geen benul gehad waarheen ek op pad was, of dat dit min of meer vir goed sou wees nie. Nie dat sy nog ’n kind aan die verloor was nie.” Hy skud sy kop so hewig soos iemand wat ’n ruk onder water was en weer na die oppervlak terugkom. “Ja, dit was ellendig.”

“Was jy hier op uitkering geregtig?”

Jurgen knik. “Maar ek het nie daarvan gebruik gemaak nie. Iewers moet mens jou skuldgevoelens kwytraak. Ek het in die Rotterdam­hawe gaan werk. In omstandighede ellendiger as dié van my pa se laagste arbeiders.” Hy glimlag flou na Marc. “Het jy al van die Verlore Seun gehoor?”

Marc skud sy kop, fluit sag deur sy tande.

“Nóú kom ons eers by Claus se stories uit. Ek moet dit korter maak, die son sal op ons opkom.”

“Sal ek vir ons gaan koffie haal?”

“Maak liewer ’n bietjie Milo, anders slaap ek weer nie.”

Toe hulle met die bekers sit, sê Jurgen: “Miskien moet ek net sê dat ek in daardie stadium nie-praktiserend was. Net op ’n punt van orde. Later praat ons daaroor, ek wil eers net kom by wat Claus gesê het.”

Marc knik, byna verwonderd oor hoe onbedreigd hy voel.

“Ek het nie ’n volle jaar in Rotterdam gewerk nie toe ek Claus leer ken het. Hy het inligtingsfilms vir televisie kom maak by die Aidskliniek. En een van die weinige kere in my lewe dat ek ooit my voete in ’n gay-bar gesit het, het ek hom daar gekry. Weens die een of ander onverklaarbare rede was hy onmiddellik gek op my …”

“Waansinnig verlief …” herhaal Marc Claus se uitdrukking van vroeër die aand.

“Juis,” Jurgen glimlag effens, “Claus is altyd waansinnig verlief op ie­mand. Ek was in daardie stadium ontsettend eensaam en home­sick en disillusioned, maar selfs in daardie toestand het ek nie kans ge­sien vir Claus se aanslag en sy promiskuïteit nie. Ek was te veel pro­duk van my agtergrond. Maar nie net dit nie … Ek … nee! Dit was nie vir my nie. En tot vandag toe nog kan hy nie begryp dat ’n snot­neus soos ek uit agterlike Suid-Afrika hóm van alle mense van die hand kon wys nie. Eers dag hy dis my speletjie. Maar toe hy agterkom dit was nie so nie, was hy ontsettend vernederd, ja … en seerge­maak. Dit was eg nooit my bedoeling om hom dít aan te doen nie, om hom te verneder nie, want daar sit ’n hele boel góéd in Claus, hoor!”

“Ek het die gevoel gekry.”

“Dit was vyf jaar gelede. Al die tyd nog het ek om daardie rede ’n waardige vriendskap met hom probeer volhou. Soos hetero’s ook vriendskappe soms kan volhou, al word die liefde van die een kant af nie beantwoord nie. Miskien was dit ook maar deel van my veld­tog: ordentlik gay wees. Anyway, ons skryf redelik gereeld nog aan mekaar. Ek was ’n slag by hom in New York, hy kom altyd hier as hy in Duitsland is. Dit gebeur nie elke dag dat hy so uitbars nie. As hy dronk is wel. Miskien het ek hom vanaand ook aanleiding gegee …”

Dan is dit stil tussen hulle. Dit reën steeds en die hond snork by Marc se voete.

Hy het ook gesê dat jy nie sonder rede by die Aidskliniek werk nie. Dié woorde hang tussen hulle, onuitgesproke, maar onafwendbaar.

“Ses maande later het ek ’n jong man ontmoet. Tako. Tako van Koningsbrugge …” Daar lê ’n vreemd droewige trek om sy mond. “Hoe oud is jy?” vra hy onverwags.

Marc skrik op toe hy besef die vraag is aan hom gerig. “Ek? Byna drie en twintig.”

“Ek dag so. Hy was ook twee en twintig. ’n Egte Hollandse jongen. Blou oë, ligte hare, skraal. Argitekstudent.” Hy kyk af in sy skoot en draai die kat versigtig om sodat sy op haar rug kronkel en blitssnel na sy vingers vang met haar donker pootjies, oortjies plat getrek. “Ek het op hom verlief geraak soos nooit een keer tevore in my lewe nie. Ek het hom leer ken in ’n restaurant waar ek toe elke aand gesing en kitaar gespeel het. Daardie eerste aand het ek al elke ding waarin ek geglo het oorboord gegooi vir hom.” Hy kyk vir die eerste keer op na Marc. “Kan jy jou voorstel hoe ’n skok dit vir my was toe ek ná ’n paar weke moes agterkom dat hy allesbehalwe die onskuldige jong student was, die naïewe virgin, wat hy voorgegee het. Dat ek hoegenaamd nie sy eerste minnaar was nie. Inteendeel, hy was ge­woon ’n deurwinterde homo. Maar ek kon hom nie daarvoor op­hou liefhê nie … Ek glo nie dat enigiets sou kon maak dat ek kon op­hou om hom lief te hê nie. Gek, hè, hoe dit is …” Dit reën nou drif­tig teen die groot raam aan die oorkant van die vertrek. Jurgen stoot sy bene koulik nader aan die verwarmer. “Ek weet eintlik nie wat my die reg gee om Claus se lewenstyl te veroordeel nie. Ek was ook waansinnig verlief. Ek was ook blind en doof. Maar dit het alles baie kort geduur. Skaars ses maande. Vroeg in ses en tagtig het hy siek geword. Met al my oplees oor Aids en met my mediese kennis, het ek dit onmiddellik geweet. Verby. Maar jy glo dit nie.”

“Hoe begin dit eintlik?” vra Marc, opeens weer bewerig.

Jurgen sug en stoot sy vingers skielik moeg deur sy hare. “Daar het eers die rare plekkies aan sy bene te voorskyn begin kom. Toe dit van geen enkele middel wou opklaar nie, is hy ten slotte na ’n derma­toloog en dié het hom reguit na die kliniek verwys. Ag, toe wou hy ook al vir ’n lang tyd nie meer eintlik eet nie. Nie veel energie gehad nie. Verskriklik gewig verloor. Nagsweet. Alles. Begin Oktober het hulle vasgestel dis Aids …”

“Hy moes dus al siek gewees het toe jy hom leer ken het.”

“O ja. Hy was seropositief.”

“Het jy dit geweet?”

Jurgen skud sy kop langsaam. “Hy het dit nooit vir my gesê nie. En ek het hom ook nie gevra nie. Selfs ook nie toe ek bewys had van sy veelvuldige vroeëre verhoudings nie. Ek het nog die speletjie van sy onskuld en sy naïwiteit saam met hom bly speel. Ek was so verskriklik bang om hom te verloor, en hy wis dit … Alles wat Claus vanaand gesê het, is presies waar. Jy het nie verstand nie en jy kan nie oordeel nie. Of jy wil nie.”

“Hoe het hy dan later die oorsprong van sy siekte aan jou ver­duidelik?”

“Bloedoortappings ná ’n motorfietsongeluk. Absolute leuen.”

Marc steek ’n sigaret aan. “Het jy hom opgepas?”

Jurgen knik. “Maar nie vir lank nie, want einde Oktober het hy las van sy longe begin kry en moes hy in die kliniek opgeneem word. Dis hoe ek aanvanklik in F-5 tereggekom het. Dit was vir my on­denkbaar om hom alleen daar te laat … en my drie jaar medies en my Nederlandse paspoort en my bereidwilligheid om te wérk …” Hy maak ’n gebaar met sy hande. “Nie veel mense is begerig om dáár te werk nie.”

“En toe?” vra Marc met kwalik verborge ongeduld.

“Kaposi in sy longe gevind. Hulle het hom toe op die veelgeroem­de cystostatica-kuur gesit. Ag … aanvanklik het dit nog gelyk of dit mag help, hy’t vir ’n paar weke huis toe gekom. Al sy hare het van die chemoterapie uitgeval … sy lang, byna wit hare …” ’n Ontsettende weemoed vertrek sy mond weer sodat hy sy lippe vasbyt en weg­kyk. Ook Marc laat sy oë ontsteld sak. Asof hy iets aanvoel, kom die hond regop en lê sy swaar kop op Jurgen se bene. Dit neem ’n ruk voor hy weer verder praat. “Begin Desember is hy weer terug na die poli vir nog so ’n kuur. Dié keer was dit heeltemal vrugteloos. Hy was nie eens veertien dae by die huis nie. Direk ná Kersfees moes hy terug. Hy het so ontsettend pyn in sy longe gekry. Daarna het hy nie weer huis toe gekom nie. Hy het longontsteking gekry en die kaposi in sy longe het hand oor hand toegeneem. Ek het begin bid dat dit … moes verbykom … sy lyding was verskriklik om te sien. Sy familie, streng gereformeerdes, het jare al min of meer hulle hande aan hom gewas. Ek was eintlik al wat daar nog was.” Hy laat sy gesig in sy hande sak. Marc sit daar magteloos by. Toe Jurgen weer opkyk, is sy oë rooi. “Hy was so verskriklik bang om dood te gaan. Ek het ure lank met hom oor God en die hemel sit en praat. Oor die liéfde van God in Jesus …” Marc dink meteens aan die twee mans wat hy vroeër die dag in die hospitaal gesien het. Dit laat hom ril. “Op die end het hy tog in ’n soort … vrede gegaan. Dankbaarheid dáárvoor het my ’n eed voor God laat sweer dat dit vir my die allerlaaste maal was …” Hy staan meteens op en stap oor die vertrek na die venster. Die hond is onmiddellik by hom. Hy stoot die raam oop en teug aan die ysige naglug. “Dit het ophou reën,” sê hy. “Sal ons Rubicon gou vir ’n stappie neem?”

Marc kom wankelrig regop. Hy sien dat dit halfdrie is. “Dis goed.”

“Trek vir jou iets aan, dis baie koud buite.”

Hulle stap die steil, donker trappe af, die hond juigend voor hulle uit. Buite val die druppels swaar van die bome af op die nat sypaadjie. Hulle tree versigtig oor die groot poele. Dit ruik na deurweekte, dooie blare. Op die bruggie staan hulle ’n tyd lank in die grag en kyk. Die maan het vlugtig tussen die verbytrekkende wolke uitgekom en weerkaats spookagtig in die water. Hulle praat nie. Jurgen staan met sy arms koulik teen hom aan gevou en Marc sien hoe rilling op ril­ling deur hom trek. Die hond gaan haastig ruikend van een plek na die ander, sy neus laag op die grond.

Terug bo in die woonkamer, haal Jurgen ’n bottel Klipdrift uit die kas en skink ’n stywe dop vir Marc in. “Drink dit,” sê hy toe dié aanvanklik sy kop skud, “jy sal anders nie aan die slaap raak nie. Daar was te veel dinge vir een dag vandag.”

Toe Marc bedwelmd in sy bed lê, verbeel hy hom dat hy vaagweg iemand hoor sing. Hy sit regop en luister beter. Toe staan hy duiselig op, maak sy kamerdeur geruisloos oop en gaan skigtig die trap af na die laer verdieping.

Jurgen sit op die grond met sy rug teen die bank, kop agteroor, kitaar in sy skoot, die snare heel saggies en pluk. Sy oë is toe en sy ge­sig blink van die trane. Hy sing iets op Nederlands wat Marc nie ken nie. Die gedempte lig van die lamp wat laag oor die koffietafel hang, flikker in die glas met brandewyn op die tafel. Die hond tjank ef­fens. Hy sit met sy kop teen Jurgen se knieë. Die twee katte lê styf in­mekaargerol op die rusbank agter hom en slaap.

Marc gaan so sag terug soos hy gekom het. Toe hy weer in sy bed lê, verkluimde lyf in die duvet vasgerol, vou die golwe van hartseer en brandewyn genadiglik te hewig oor hom. Sodat hy slaap voordat hy veel kan dink.

Klaprose teen die wind

Подняться наверх