Читать книгу Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 7
Vyf
ОглавлениеJerusalem
18 April 2008
Dankbaar dat hy ’n enkele onbesette plekkie kon vind, gaan sit Henok moeg geloop op een van die bankies wat om die bome in die Ben Yehudastraat aangebring is. Dis Vrydagoggend, sy derde dag in die land. Oor ’n paar uur begin Shabbat en hierdie paar uur is die laaste geleentheid vir voorbereiding van en inkopies vir Pesach wat Saterdagaand ná sononder begin. Hy het saam met Marc, Rivkah en die kinders middestad toe gekom vir die allerlaaste dingetjies wat nog nodig was.
Die vorige dag het Rivkah die ganse dag huis skoongemaak. In sy lewe het hy wat Henok is nog nie so iets aanskou nie. Toe hy in die loop van die oggend van die gastehuis naby die Jaffa-poort, waar hy tuisgaan, by hul woonstel op die Hurvah-plein midde-in die Joodse buurt van die Ou Stad aankom, kon hy beswaarlik glo wat hy sien. Hy het eintlik gegaan om Rivkah te groet, want toe hy in die land aangekom het, het hy en Marc so lank daar op die lughawe gesit en gesels dat hulle eers laat in Jerusalem aangekom het.
Toe hy ’n opmerking maak oor die groot huisskoonmakery het Rivkah aan hom verduidelik dat dié bedrywigheid al ’n week lank aangaan. Die doel is om elke spoortjie van suurdeeg, chametz soos sy dit noem, wat daar moontlik in die huis kon wees, te verwyder. Die ganse woonstel, en veral die kombuis, moet skoongeskrop en suurdeegvry wees. Dit sluit in die noukeurige reiniging van alle gebruiksvoorwerpe soos eetgerei, borde, bakke, potte en panne wat met suurdeeg in aanraking was. Dat sy in ’n rabbi se huis grootgeword het, lag sy, het haar geleer om hierdie dinge goed te hanteer.
“Maar is dit dan regtig nódig?” wou hy weet.
Rivkah het die donker hare wat uit haar poniestert ontsnap het en in kurktrekkerkrulle om haar gesig gehang het, agter haar ore in gevee. “Ja, Henok, weet jy, dit is regtig nodig. As ’n mens besig is om so te swoeg om alles suurdeegvry te kry, kan jy nie help om daaraan te dink hoeveel ongeregtigheid oor die afgelope jaar in jou siel ook vasgekleef geraak het nie. Ek kom elke keer opnuut onder die indruk van hoe nodig dit is dat alles verwyder moet word. Dit herinner my ook altyd daaraan hoe baie ongeregtigheid in my eie lewe deur die bloed van Yeshua, Seh HaElohim, voor HaShem se heilige aangesig bedek word. Ek dink aan die brandoffer wat die kohen hagadol altyd moes bring vir die volk se sonde, en ek onthou weer dat Yeshua daardie offer vir my was.”
Dié paar woorde het vir Henok skielik alles rondom hom in ’n ander perspektief geplaas. Nou sit hy hier in Ben Yehuda in verwondering en kyk na alles wat in Pesach-Jerusalem rondom hom afspeel. Die strate is geweldig druk, want daar was oor die afgelope dae ook ’n ongekende toestroming van pelgrimtoeriste wat oënskynlik geen las het met die warm, stowwerige weersomstandighede wat Jerusalem tans ondervind nie.
’n Paar tree van hom af staan Marc en Rivkah in ’n ernstige bespreking gewikkel oor iets wat op hul inkopielys voorkom. ’n Gevoel van groot verbondenheid met hulle vervul hom wanneer hy na die twee kyk. Rivkah dra ’n lang donker romp met ’n kleurvolle kaftan bo-oor. Soos altyd wanneer sy buitenshuis is, is haar hare na agter vasgebind in ’n kleurvolle doek. So fyn en broos sien sy daar uit dat ’n mens met die beste wil ter wêreld nie haar vurige geaardheid uit haar uiterlike kan aflei nie, dink hy en grinnik by homself.
Marc het ’n ligte wit katoenlangbroek en los hemp aan, ’n donkerblou syserp losweg oor sy linkerskouer en regterheup geknoop en ’n wit kippah op sy donker hare. Beeld van die baie begaafde kunstenaar wat hy is. Yhoshi, sy bont kippah skuins op sy woeste krulkop, sit op sy hurke naby sy pa se voete besig om ’n torretjie wat oor die growwe steen voortkruie met ’n stokkie te dwarsboom. Henok kyk na die voetjies in die piepklein leersandaaltjies en sy hart pyn van die onthou van ’n eie seuntjie wat eenmaal so klein was. In sy stootwaentjie sit klein Natan ook rustig. Hy hou ’n kleurvolle wimpel wat aan die boom bokant hom slinger, bevange dop.
Rondom Henok maal ’n mensemassa en skrik vat aan sy hart wanneer hy daaraan dink hoe maklik ’n selfmoordbomdraer hom- of haarself hier tussen die niksvermoedende mense kan laat ontplof. Hy skud die gedagte met mening van hom af en konsentreer op ’n groot oranjekleurige sambreel ’n entjie van hom af wat oopgespan is oor ’n tafel met talliyot en tefillin daarop uitgestal. Die gesig van die jong soldaat in uniform en wit kippah, geweer op sy rug, wat ’n tallit wat hy wil koop met eerbiedige vingers betas, roer Henok op ’n vreemde manier. Hy en Marc het juis ’n afspraak met Danny sodat hy vir homself ook ’n tallit kan gaan koop wanneer Rivkah netnou met die kinders huis toe gaan.
Die variasie van Jode rondom hom verstom hom meer as die vorige keer toe sy oë nog nie so oop was daarvoor nie. ’n Chassidistiese pa in ’n wit driekwartjas van satyn, wit kouse en ’n groot, pluisige pelshoed kom verby. Teen die effense opdraand stoot hy merkbaar moeilik aan die stootwa met tweelingbabas daarin omdat twee dogtertjies wat langsaan loop, óók albei aan die kante van die waentjie vashou. Hul mamma is so hoog swanger dat sy met moeite by die stadige optoggie byhou. Agter haar loop nog twee groter boeties. Die dogtertjies dra, soos baie van die ander kinders daar, swart-en-wit gestreepte truie by swart rompe. Die seuns het ten spyte van die hitte hoog toegeknoopte wit hempies aan by swart langbroeke en onderbaadjies, glansende wit kippot op die kop.
Nog ’n jong pa in ’n swart manel en hoed stoom teen ’n verwoede pas met ’n baba in ’n stootwaentjie verby. Die lang swart krulle voor sy ore sweef op die wind en steek vreemd af teen die res van sy kaal geskeerde kop wat gedeeltelik van onder sy swart hoed sigbaar is.
’n Ander pa, ook in ’n donker broek en wit hemp, kom rustiger aangeloop met ’n pragtige seuntjie aan elke hand, ook albei in swart-en-wit aangetrek. Dit is duidelik dat die kinders hulle vergaap aan wat om hulle aangaan. Toe hulle by hom verbyloop, hoor Henok die man in Engels met ’n sterk Amerikaanse aksent met die kinders praat. Hy neem aan hulle is deel van honderde familiegroepies Jode uit die Diaspora wat opgewonde is om vir een van die drie pelgrimsfeeste in Jerusalem te wees. Henok wonder of daar so baie mans met kinders op straat is omdat die vroue nog die laaste ete voorberei vir vanaand se Shabbat en Saterdagaand se seder-maal met Pesach.
Oorkant hom staan drie vrouesoldate in olyfgroen uniform, gewere op die rug, vrolik en gesels. Hy verwonder hom weer aan hoe jonk en hoe mooi hulle is. Elkeen het ’n helderkleurige drasak oor die skouer en hy neem aan hulle is op pad huis toe vir Pesach.
Sy blik dwaal op in die Ben Yehudastraat gepak met ’n bont mensemassa. In die straatkafeetjies is elke stoel en tafeltjie beset. Vanoggend het Marc met hom deur Mea Shearim, een van die ultra-Ortodokse buurte, gestap om hom iets van die voorbereidings daar te laat sien. Wat ’n wêreldvreemde gesig was dit nie! Op die hoek van elke paar blokke het mense tougestaan by yslike vate kokende water waar yeshiva-studente besig was om met blaaslampe elke krummeltjie chametz weg te brand van oondrakke, stoofplate en kookpotte wat mense aangedra het. Eetgereedskap en ander metaalartikels is in die kookwater gesteriliseer. Oral op oop stukke grond was gesinne besig om die laaste bietjie van die suurdeeg wat die vorige aand uit elke hoekie van die huis versamel is, te verbrand.
Op pad na die middestad vroeër die oggend het Marc vir Henok vertel dat die verbod op chametz gedurende Pesach so sterk is dat verskeie rituele ingestel is om seker te maak dat alles wat moontlik suurdeeg kan bevat, uit die huis verwyder kan word. Op die aand voor Pesach begin daar boonop ’n seremoniële soektog genaamd bedikat chametz. Dit is ’n simboliese “laaste kans” om enige suurdeeg te vind wat miskien gedurende die groot voorbereidingsproses vir Pesach oorgesien is.
Dié soektog volg ’n baie ou tradisie wat ongetwyfeld sy ontstaan gehad het in die praktiese lewe van destyds, maar wat nou net uit pure nostalgie nagekom word. Die soektog word gewoonlik gelei deur die pa van die huis, toegerus met ’n brandende kers om elke hoekie te verlig, en ’n veer om die krummels in ’n houtlepel op te vee, wat hulle dan in ’n servet leegmaak om later te verbrand. Marc het gelag en gesê daar is gewoonlik iemand in die huis wat ’n paar krummels suurdeeg hier en daar laat val om die saak aanskouliker te maak en ook sodat die seën wat oor die soektog uitgespreek word, nie verniet sou wees nie. Hy het vertel hoeveel plesier hy die vorige aand gehad het in sý soektog met Yhoshi en Natan saam met hom. Dit het hierdie jaar Donderdagaand al gebeur omdat dit vanaand Erev Shabbat is waarna Pesach dan onmiddellik ná Shabbat op Saterdagaand begin.
Dié krummeltjies wat hulle so sorgvuldig bymekaargemaak het, het Marc vertel, sal op die oggend nádat Pesach die vorige aand met sonsondergang begin het, verbrand word. Dié seremonie word volgens Marc biur chametz genoem, en hierdie keer sal dit Sondagoggend gebeur. In die gedrang het Marc gaan stilstaan. “Daar is nog ’n gewoonte wat met Pesach onderhou word en wat op jou sou kon betrekking hê.”
“En dit is?” het Henok gevra.
“Die vas van die eersgeborenes ter herinnering aan die eersgeborenes van die Egiptenaars wat op die vooraand van die uittog uit Egipte gesterf het.”
Oral deur die strate kon ’n mens die gerammel van die yslike vulliswaens hoor – wat die fanatiese skoonmakers se puin moet wegruim.
Wanneer Henok opkyk van waar hy op ’n bankie onder ’n koelteboom in Ben Yehudastraat sit en wag, sien hy Marc met ’n arm vol rose uit ’n blommewinkel oorkant die winkelstraat aankom. Hy onthou hy het vanmôre gehoor dat die meeste blommewinkels die laaste twee dae voor Pesach dag en nag oop bly om al die bestellings vir blomme vir die seder-tafels uit te voer. Dit sal dan ook wees waarvoor Marc die blomme gekoop het. Henok sien hoe hy dit versigtig neersit op die sondakkie van die stootwaentjie waarin die twee kinders reeds sit en waarvan die bagasierak onder ook volgepak is. Marc kyk besorg na Rivkah wat nóg ’n bultende sak oor haar skouer dra. “Moet ek jou nie maar eers terughelp tot by die woonstel nie?” vra hy.
Sy raak gerusstellend teen sy gesig. “Ek’s bat Tziyon, onthou,” lag sy.
Hy grinnik. “Dogter van Sion of te nie, is jy seker jy sal oukei wees met die kinders én al ons aankope?”
Sy waai ’n soen met haar hand na hom toe. “Absoluut! Dis heelent afdraand.”
“Yhosh,” Marc kyk sy seun streng aan, “jy klim onder geen omstandighede uit nie, nè?” Hy tik sy oudste so ernstig op sy kippah dat dit afgly.
Die seuntjie tel die kalotjie van sy skoot op, soen dit en sit dit terug op sy kop. “Nee, Abba!” sê hy verontwaardig.
Marc moet lag. “Kyk maar dat jy luister wat ek gesê het.”
Toe soen hy sy seuntjies en sy vrou en Rivkah vertrek op haar tog terug huis toe.
Die twee mans draai op in Ben Yehuda om hul afspraak met Danny na te kom.
Soos die meeste ander winkeltjies in die winkelstraat, is Danny s’n beswaarlik meer as ’n diep, breërige gangetjie. Daar is nog ’n paar ander tallit-jagters ook in sy winkel, maar Danny maak tyd vir hulle.
“Chag sameach!” groet hy hulle. “Alles reg met Rivkah en die kinders?”
Marc verseker hom hulle is en beduie wat hul missie is.
Danny draai na Henok en kyk met openlike ontsag na die lang, frisgeboude swart man. “Beit Yisra’el? Falasha?” vra hy sag.
Henok knik en skraap sy keel, skielik aangedaan deur dié besondere geleentheid.
Danny takseer hom ’n oomblik. “Jy wil ’n vol tallit hê, neem ek aan?”
“Ja.”
“Wol?”
“Asseblief,” prewel Henok.
Danny neem hulle dieper die winkeltjie in, verduidelik ’n paar sake en laat hulle toe alleen tussen rakke en rakke talliyot. Marc los Henok in vrede om tydsaam sy keuse te maak. Sy eie gedagtes gaan ver terug na die eerste keer toe hy Israel toe gekom en sy ouma Ruwth en sy oom Ofer vir hóm sy eie tallit gegee het net voordat hy voorlopig moes teruggaan Suid-Afrika toe.
“Marc,” het Ofer daardie aand gesê, “ons het besluit om vir jou ’n geskenk saam te gee. Iets om jou Joodsheid te bevestig wanneer jy daar ver van ons af is. Iets wat jou altyd sal herinner dat jy in HaShem se teenwoordigheid is … al is jy ver van Yerushalayim af.”
Hy het daardie dag die pakkie oopgevou en die pragtige gebedsjaal uitgehaal terwyl Ofer en Ruwth en die res van die familie toekyk.
“Ons het gedink,” het sy oom verder gepraat, “jy moet jou eie tallit hê, jou eie klein tabernakel waar jy kan ingaan wanneer en waar jy ook al met die Ewige van Israel wil gemeenskap hê.”
Sy hart het hewig begin klop en hy het gedink aan die keer kort tevore, met die Bar Mitzvah van sy neef Bibi, toe hy ’n geleende tallit moes gebruik. Hoeveel keer het hy nie toe al by die Kotel gestaan en sy eie gebedsjaal vurig begeer nie.
Ofer het hóm toe met dieselfde ontroering dopgehou as wat hý nou na Henok staan en kyk. “Ruwth wou dit al met Bibi se Bar Mitzvah vir jou gee,” het hy vertel, “maar ek het toe gevoel jy verstaan dit nog nie. Nie dat jy ’n tallit nodig het om in HaShem se teenwoordigheid te kom nie, Marc,” het sy oom verder verduidelik. “Ek hoop jy begryp dit. Die bloed van Yeshua het vir jou die voorhangsel geskeur sodat jy moeiteloos daar kan ingaan. Maar ek, en talle ander Messiane en Christene, wat Yeshua as ons Messias ken, vind dit nogtans heerlik om dit te gebruik wanneer ons tyd met Hom deurbring, of in die shul daven.”
Terwyl Marc staan en droom, het Henok sy tallit gevind en sy gesig straal. Hy wys dit opgewonde vir Marc, en betaal vir Danny. Hulle stap terug na die woonstel in die Ou Stad, met net genoeg tyd om te stort en aan te trek vir Shabbat.
Dis ’n besondere Shabbatmaal dié aand in Chaim en Hadassah se woning in Gilo. Daar heers uitbundige vreugde oor die nuus dat Henok uitgevind het dat hy ook ’n Jood is en saam met hulle Shabbat en Pesach kom vier het.
Henok het ’n halfuur voor Shabbat saam met Marc-hulle by die rabbi en sy vrou aangekom. Hul seun, Re’uven, en skoondogter, Shlomit, met hul twee kinders, Yaniv en Yehudit, is ook daar. Presies agtien minute voor Shabbat steek Hadassah die kerse aan. Hy luister hoe sy die Messiaanse seën uitspreek en hy begryp dat Chaim dus aan sy gesin moes vertel het dat hy tot die besef gekom het dat Yeshua die langverwagte Messias is:
“Baruch Atah Adonai Eloheinu Melech ha’olam,
Natan kidushanu bidvarecha venatan lanu et Yeshua
M’shicheynu,
v’tsivanu l’hiyot oht l’olam.”
sê Hadassah en dan, ter wille van Henok, herhaal sy dit in sterk geaksentueerde Engels:
“Deserving of praise are You, O Lord our God, King of
the universe,
Who has sanctified us by your word and given us Yeshua
our Messiah,
and commanded us to be a light to the world.”
Agt en vyftig jaar van my lewe het ek nie geweet dat ek deel van die uitverkore volk is wat God bedoel het ’n lig vir die nasies moet wees nie! dink Henok op daardie oomblik verwonderd.
Toe die seën oor die wyn uitgespreek moet word, knik Chaim in Marc se rigting, en tot Henok se verwondering lees Marc dié gebed uit sy 1953-hersiening van die Afrikaanse Bybel: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”
Toe lig Chaim die silwerwynbeker en in Hebreeus sing almal saam die seëngebed wat Henok by die Messiaanse gemeente in Kaapstad leer ken het: “Baruch Atah Adonai, Eloheinu Melech ha’olam borei pri hagafen … Geseënd is U, Here, Koning van die heelal, wat die vrug van die wynstok gemaak het.”
Daarna verlaat almal die huis, behalwe Rivkah en Shlomit wat by die vier kleintjies agterbly. Omdat dit Shabbat is, stap hulle na Chaim se shul om die kort Kabbalatdiens by te woon waar die Shabbat – die teken van die verbond wat hulle met mekaar kan herbevestig – as ’n koningin verwelkom word.
Ek is déél van God se volk, déél van God se volk! galm dit deur Henok se kop. Toe sy oë ’n oomblik Chaim s’n agter die blink brilglase ontmoet, moet hy sy lippe ferm opmekaarklem om sy emosies te beteuel.
Ná die diens sit almal weer aan by Hadassah se gesellige Shabbattafel. Die silwereetgerei skitter op die wit tafeldoek in die lig van die twee kerse wat oor die challah flikker. Sy het wit rose in die middel van die tafel gerangskik met dieprooi granate van verskillende groottes langsaan.
Eers seën Chaim sy vier kleinkinders, drie seuntjies en ’n dogtertjie van skaars vier maande. Hy lê sy hand beurtelings op die koppe van Yhoshi, Natan en Yaniv. “Mag HaShem julle soos Efraim en Manasse maak.” Toe raak hy aan die koppie van sy enigste kleindogter, Yehudit. “Mag HaShem jou soos Sarah, Rachel en Leah maak.”
Eers toe hulle versadig is en diep bewus van hoe die Shechina in Jerusalem tydens die Shabbat omvou, kom Henok se nuwe tallit ter sprake. Die kinders is almal aan die slaap gemaak en dit het stil geword in die huis.
“Kan ons sien?” vra Chaim, sy oë sag.
Ietwat verleë haal Henok die breë plastiekhouer uit, waarin Danny vroeër die middag die kosbare tallit verpak het. Daaruit haal hy ’n koningsblou fluweelsak te voorskyn waarop diskreet in goud en silwer ’n takkie blomme geborduur is langs die woord “tallit” in Hebreeuse letters. Versigtig, byna eerbiedig, trek hy die gebedsjaal daaruit. Die drie vroue trek hul asem in, want dis inderdaad ’n kunswerk.
“Wol,” sê Hadassah onmiddellik.
Henok knik en stryk liefderik oor die sagte roomkleurige stof met die donkerblou-en-silwer bane. Hy kyk op na Chaim. “Ek weet nie regtig hoe om dit te gebruik nie,” sê hy verleë.
Chaim hou sy hand ’n oomblik styf vas. “Mag ek iets sê voordat ek vir jou verduidelik?”
“Natuurlik.”
“Ek waardeer dit geweldig dat jy nie reeds die oomblik toe jy besef het jy’s van Joodse afkoms, ’n tallit, ’n kippah en ’n shofar gaan koop en dit sonder seremonie begin gebruik het nie …”
“Dankie,” prewel Henok.
Die rabbi neem die tallit by hom. “Daar is ’n gebed wat ons bid wanneer ons die tallit gaan aantrek. Ek sal dit nou bid, en dit later vir jou op skrif gee. Goed?”
Henok knik.
“Barchi naf’shi et Adonai,” bid Chaim aangedaan, “Adonai Elohei gadal’tah m’od, hod V’hadar lavash’tah. Oteh ohr kassal’mah noteh Shamayim kayeriah.”
Hy kyk na Henok se onbegrypende gesig en sê: “Vrylik vertaal is dit iets soos: ‘Loof Adonai, o my siel. Adonai, my God, U is baie groot. U is met heerlikheid en majesteit beklee. Soos met lig omvou, sprei U die hemele oop soos ’n gordyn.’” Henok knik in woordelose verwondering. Die rabbi vou die tallit op. “Hier, dit is die kroonstuk.” Hy beduie na die geborduurde woorde. “Dis goed om dit te bid voordat jy jou tallit aantrek.” Hy lig dit op en lees: “Baruch Atah Adonai, Eloheinu Melech ha’olam. Asher kidshanu bemitzvotav v’tzivanu l’hitateif batzitzit.” Hy druk die woorde op die tallit ’n oomblik teen sy lippe voordat hy vertaal: “Geseënd is U, Adonai, Koning van die heelal, wat ons deur u verordeninge geheilig het en ons beveel om ons in die tzitzit toe te vou.”
“Dankie,” prewel Henok en neem weer die tallit by Chaim. Die rabbi maak keel skoon, haal sy bril af en poets die glase versigtig met ’n wit sakdoek. Dis vir die ander duidelik dat hy sy emosies met moeite bedwing. Ná ’n paar oomblikke kyk hy na sy skoonseun. “Sal jy vir ons B’Midbar 15 by vers 3741 uit jou Complete Jewish Bible voorlees?”
“Numeri 15,” sê Marc ter verduideliking en haal sy Bybel uit.
Solank hy die plek soek, merk Re’uven, wat opmerklik stil is, op: “Henok, onthou ‘gebedsjaal’ is nie eintlik die regte naam nie, want Toragehoorsame Jode soos ek en Abba en Marc dra dit altyd; nie net wanneer ons bid nie.” Hy wys na die wit tzitzit wat onder Chaim se gordel uithang en trek sy eie uit om vir Henok te wys.
Henok knik.
“Marc?”
Toe lees Marc met ’n stem wat ook nie vreeslik vas is nie: “Adonai said to Moshe, ‘Speak to the children of Isra’el, instructing them to make, through all their generations, tzitziyot on the corners of their garments, and put with the tzitzit on each corner a blue thread. It is to be for you a tzitzit to look at and thereby remember all of Adonai’s mitzvot and obey them, so you won’t go around wherever your own heart and eyes lead you to prostitute yourselves, but it will help you to remember and obey all my mitzvot and be holy for your God. I am Adonai your Elohim, who brought you out of the land of Egypt in order to be your Elohim. I am Adonai your Elohim.’”
“Jy weet wat ‘mitzvot’ is?”
“Verordeninge?”
Die rabbi knik. “Die gedagte is dus dat dit ons, elke keer wanneer ons na daardie tzitzit kyk, aan HaShem se mitzvot sal herinner. Die opdrag was dus nie om die tallit te dra nie. In die tyd van die Israeliete en die tempel, in Yeshua se tyd ook, was die tallit net ’n mantel wat die doel gedien het dat ’n mens die tzitzit daaraan kon vasheg. Ek sal nou-nou vir jou verduidelik watter simboliese waarde dit vandag het. Kom ons kyk eers na die tzitzit.”
Henok maak die tallit oor sy knieë oop en kyk met nuwe belangstelling na die klossies met hul kenmerkende knope. Hadassah, Re’uven en Shlomit, Rivkah en Marc wat dié verduideliking ongetwyfeld al male sonder tal gehoor het, luister nogtans geïnteresseerd.
“Jy weet seker daar is nie nommers in die Hebreeuse taal nie, maar dat elke letter ’n numeriese waarde het? Dit word ‘Gematria’ genoem. As jy mooi kyk, sal jy sien elke klossie is nege en dertig keer gedraai: sewe keer dan ’n dubbelknoop; agt keer, dubbelknoop; elf keer, dubbelknoop; en dertien keer – nege en dertig altesame. Sien jy?”
“Jis …” is al wat Henok kan sê. “Niemand het my by ons gemeente daarvan gesê nie.”
“Het jy vir hulle gesê jy is van Joodse afkoms?” vra Marc.
“Nog nie.”
Re’uven gryns. “Seker nie gedink dis nodig vir ’n gentile om sulke dinge te weet nie. Die ouens kan nogal snoep wees oor hul Joodsheid.”
“Re’uven …” maan sy pa liggies.
“Dis nogtans waar,” lag hy.
“Henok, luister, die totaal van sewe plus agt plus elf is ses en twintig – dit is die numeriese waarde van Adonai se naam, Yod Heh Vav Heh.” Hy kyk oor sy bril na Henok.
“Ek verstaan.”
“Die dertien se numeriese waarde is dié van Echad – die Enigste …”
“Die Sh’ma?” fluister-vra Henok ongelowig.
“Ja! Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu Adonai Echad,” sê die rabbi en druk die klossie teen sy lippe.
Die ander is stil. Asof hulle opnuut besef waaroor dit gaan.
“Henok, onthou jy in die gedeelte wat Marc in Engels gelees het, praat dit van ‘on each corner a blue thread’? Nou, hierdie tallit het nie so ’n blou koord nie, om die waarheid te sê, jy sal beswaarlik een kry wat dit wel het. Die rede is dat die skulpdiertjie waarvan die oorspronklike blou gemaak is, nie meer te vinde is nie.”
“Ek het gehoor hulle het dit onlangs weer reggekry om dié diertjies te teel,” val Rivkah hom in die rede.
Haar pa kyk na haar oor sy bril en sy maak verleë keel skoon. “Hierdie een het dit nie, Henok, dié blou koord word die ‘shamash’ genoem, wat ‘dienaar’ beteken. Dit is dieselfde as die middelste kers van die chanukiah. Elke tzitzit het sewe wit koordjies, die getal van volmaaktheid, en dan is daar, as dit beskikbaar is, so ’n dienaarkoord, blou, wat van adel spreek … Wie se adel sou jy sê?”
“Die Seun van God s’n?”
“Dis reg. Wanneer jy hulle nou tel, kry jy agt, wat die getal van ’n nuwe begin is.”
“Dit spreek vir my oor die Messiaanse Ryk wanneer Yeshua sal regeer,” sê Marc.
Die rabbi knik. “Judaïsme se simboliek is vol van Hom, hulle sien dit net nog nie raak nie.” Hy swyg ’n paar oomblikke nadenkend en sê dan: “Ek wil graag glo dat, omdat ek nog my erkenning van Hom as die Joodse Messias vir buitestanders geheim hou, ek hierdie dinge vir my gemeente kan sê sonder om sy Naam te noem, met die hoop dat party van hulle se oë sal oopgaan soos myne oopgegaan het.”
Toe dit stil word ná Chaim se opmerking, vra Henok: “Sou Yeshua ’n tallit gedra het?”
“In Bybelse tye het mans dit altyd gedra wanneer hulle buitenshuis was. Hulle het dit soos ’n mantel oor hul gewone klere aangetrek. Yeshua sou sekerlik dieselfde klere as sy tydgenote gedra het. As die vlekkelose Lam van Elohim sou Hy élke mitzvah van die Tora perfek nagekom het. Ook hierdie een. Hy was immers Maschiach en sonder sonde.”
“Die woord ‘tallit’ is eintlik saamgestel uit twee begrippe,” sê Hadassah en haar man knik. “‘Tal’ wat ‘tent’ beteken en ‘ith’ wat ‘klein’ kan beteken. Dus letterlik klein tentjie.”
“Moshe het volgens Elohim se voorskrifte die mishkan in die woestyn opgerig en wanneer die twee silwertrompette geblaas het, het die volk daar bymekaargekom,” verduidelik Chaim verder. “Maar ’n mens kan dink dat twee en ’n half miljoen Joodse mans nie daar kon inpas nie; daarom het elkeen sy eie private ‘tentjie van samekoms’ gehad. ’n Intieme plekkie waar hy altyd op HaShem kon fokus.”
“Maar is dit nie so dat die tallit ook vir ander dinge gebruik word nie?” vra Henok.
“Vir seker,” sê die rabbi. “Die Tora kan daarin toegedraai word; in Israel word liggame van oorledenes in ’n tallit toegedraai; dit word gebruik as die chuppah waaronder die bruid en bruidegom tydens Joodse huwelike staan.”
“Dis ook die simbool van die huweliksvaandel van Yeshua en sy bruid,” lewer Marc ’n bydrae.
“Dis reg, Marc. In Shir-Hashirim, Hooglied, soos jy dit seker ken, Henok, sê die bruid mos: ‘Hy het my in die wynhuis ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde.’”
“Dis reg, in die Ou Vertaling van Hooglied is dit presies die woorde, iewers in hoofstuk vier, dink ek,” beaam Henok.
“Die Israeliese vlag is ook ’n oopgevoude tallit met die Magen David in die middel,” sê Shlomit.
“Natuurlik,” sug Henok.
“En daardie storie in die B’rit Chadashah van die vrou wat die soom van Yeshua se kleed aangeraak het en dadelik genees is van die siekte waaraan sy twaalf jaar gely het … jy ken dit, nè, Henok?” vra Rivkah.
Henok knik en skielik gaan daar ’n lig vir hom op. “Natuurlik! Dit is aan sy tzitzit dat sy geraak het. Sy het as ’t ware die Allerhoogste se naam in haar hand geneem!”
“Nou ja, ek wonder of Yeshua nie eenvoudig tussen die skare deurgeloop het om die siekes die kans te gee om aan die tzitzit van sy tallit te raak nie …” voltooi Rivkah haar sin.
“Maar …” sê Re’uven, “dan het Hy mos daarmee vir hulle gesê: ‘Ek is Elohim.’”
Sy pa kyk na hom. “Dis reg, Re’uven.”
“Maar ek sukkel daarmee …”
“Ek verstaan,” sê die rabbi gedemp, “dis nie maklik vir ’n Jood nie.”
“Dat Yeshua HaNotsri die Messias kan wees, kan ek … aanvaar, maar dat Hy één met HaShem is … Echad …?”
Henok kyk onbegrypend van pa na seun totdat die rabbi sê: “Dis ’n stryd wat jy nog later sal verstaan, Henok. Kom ons laat dit eers daar. Maar wat ek nog vir jou wou vra, is: Weet jy dat jy ’n naam het wat uit die Tora kom …?”
“Wel, soort van. Henog?”
“Dis reg, maar as ’n Jood sal dit in jou geval ‘Chanok’ wees.”
“Chanok …” proe Henok aan die naam en voel ’n rilling teen sy rug afloop.
“Dis ’n wonderlike naam wat HaShem jou gegee het. Van hom sê die Tora vir ons in B’resheet, oftewel Genesis: ‘Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem.’ Chanok is natuurlik ook in Yeshua se geslagsregister. En dan sê die apostel Judas mos ook dat hy geprofeteer het van die Ewige se uiteindelike oordeel oor dié wat dwaalleer verkondig. ‘Kyk, Adonai kom met sy duisende heilige engele,’ het hy geprofeteer.”
Henok druk sy vuis teen sy mond. “Dié dag raak vir my te veel,” fluister hy.