Читать книгу Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 8
Ses
ОглавлениеJerusalem
Erev Pesach, Saterdagaand 19 April 2008
Oor die stad hang ’n atmosfeer van wonderlike afwagting. Die son is byna onder, Jerusalem het goud geword en binne die volgende paar minute sal Pesach aanbreek. In die Kriges se huis op die Hurvah-plein loop die opwinding hoog. Dis die eerste keer in die ses jaar wat Marc en Rivkah getroud is dat die seder by hulle aan huis gevier word, en die eerste keer dat Marc as hoof van sy huis die leiding sal neem. Twee weke tevore het hy dertig geword, pa van twee seuntjies, en sy skoonpa het daarop aangedring dat hierdie een sý seder moet wees. Dis duidelik dat Marc senuagtig voel daaroor. Henok hou alles met intense belangstelling dop.
Re’uven, Shlomit en hul twee kinders hou vanjaar die seder by haar ouers in Haifa, aangesien hulle besig is om te verhuis na ’n moshav naby Be’er Sheva in die Negev. Maar Chaim en Hadassah is by Marc-hulle. Ook Marc se ouma Ruwth en sy oom Ofer en dié se vrou, Shoshana, en hul seun Binyamin, Bibi soos hulle hom noem, is daar. Henok het al gehoor dat hulle hul enigste ander seun, David, gedurende die Libanon-oorlog van 2006 verloor het – ’n diep wond wat nog baie pyn veroorsaak.
“Dis die eerste keer dat ons ’n seder gaan vier waarin Yeshua as Maschiach sy aangewese plek sal hê,” sê Chaim wat langs Henok staan by die groot venster wat oor die plein uitkyk.
“Almal wat vandag hier kom, weet dat u Yeshua nou as die Joodse Messias erken?”
“Dis reg. Jy weet seker dat Ofer die leier van ’n Messiaanse gemeente hier in Jerusalem is?”
Henok knik. “Ja, Marc het my vertel. Maar ú, loop u nie gevaar dat u gemeente en ander te hore sal kom op hoe ’n manier u die seder vier nie?”
Die rabbi trek sy skouers op. “Dis in HaShem se hande, Chanok.” Na ’n oomblik van stille nadenke vra hy: “Het jy al ooit ’n seder bygewoon?”
“Ek was verlede jaar in die Kaap by só ’n ete, maar ek verstaan nie alles nie.”
Chaim glimlag. “Wel, dan is dit net die regte aand vir jou. Ek dink Marc sal vanaand heelwat dinge verduidelik, ook vir Yhoshi, want hy is nou byna drie en hy begin al goed verstaan. Slim mannetjie, hý.”
Kort daarná sê Marc: “Ek dink ons moet aan tafel kom.” Die hele voorkamer ruik na die gegeurde olie waarmee die gasheer elke gas wat binnegekom het se hoof gesalf het as verwelkoming.
Die gaste gaan sit aan die lang tafel wat oor die lengte van die woonkamer opgestel is. Teen elke stoel se leuning is ’n gemaklike kussing neergesit, want die seder is ’n maaltyd wat lank aanhou en niemand is ooit haastig nie.
Henok raak effens selfbewus aan sy geborduurde kippah en Ruwth wat langs hom sit, lê haar hand oor syne op die tafel. “Wat ’n wonder het HaShem tog gedoen dat jy hier by ons kan wees.”
Hy draai sy hand om en vou dié van die petite grys vroutjie aan sy linkerkant in syne toe. Hy sien sy het dieselfde helder oë as Ofer en hy onthou dat Marc gesê het sy ouma is twee en tagtig. Sy lyk dit nie. “Baie dankie. Dit is vir my ’n groot wonder.”
Hy merk hoe rustig Yhoshi, wat ’n rukkie gelede nog deur die huis geskarrel het, nou langs sy ma sit. Natan in sy hoë stoeltjie aan haar ander kant bekyk ook alles met groot oë.
Toe almal tot sit gekom het en daar stilte oor die tafel sak, steek Rivkah die twee kerse aan en bid die seëngebed:
“Geseënd is U, Adonai ons Elohim,
Koning van die heelal,
wat u Seun Yeshua, ons Messias,
gestuur het as Lig vir die wêreld
en as ons Paaslam.
Ons nooi U as ons Eregas vanaand
by hierdie feesmaal.
Amen.”
Toe sy gaan sit, soek Marc se hand hare op die tafel langs hom. Henok sien die blik wat tussen hulle wissel en ineens dink hy aan Sarah, en wonder hy wat sy doen.
Marc staan op om die eerste beker wyn, dié van heiligmaking, te seën. Hy skink almal se glase vol en toe bid hy oor die silwerbeker in sy hand: “Geseënd is U, Adonai ons Elohim,
Koning van die heelal, wat die vrug van die wingerd geskep het.”
Hy lê sy hand ’n oomblik op Yhoshi se skouer. “Kiddush,” sê die seuntjie sonder huiwering.
Almal drink van hul wyn en die glase word weer vol gemaak.
’n Kommetjie water word omgestuur en almal was hul hande en droog dit met ’n wit servet af.
“Ons was ons hande voordat ons met die seder begin,” sê Rivkah gedemp vir Yhoshi. Toe almal klaar is, was sy ook Natan se handjies.
Toe neem almal ’n takkie pietersielie uit die seder-bord en doop dit in die soutwater voordat hulle dit eet.
“Hoekom die soutwater, Yhoshi?” vra sy pa.
“Omdat die Egiptenaars die Jode baie laat huil het,” antwoord hy astrant en trek ’n gesig toe hy die stukkie pietersielie afbyt sodat die familie lag.
“Mooi!” prys Marc hom. “Trane is mos ook sout, en dié soutwater laat ons daaraan dink.”
“Karpas,” sê Chaim vir Henok en knik in die rigting van die pietersielie.
“Pietersielie is ook simbool van die nuwe lewe in Yeshua,” sê Ruwth vir niemand in besonder nie.
Marc haal die lappie van die drie matzot af wat in ’n spesiale houertjie in die middel van die tafel staan. Hy neem die middelste van die drie en breek dit in twee onewe dele. Die groter stuk lig hy op vir almal om te sien voordat hy dit in ’n wit doek toedraai.
“Afkopmens,” roep Yhoshi dadelik.
“Dis reg,” sê sy pa, “en dit beteken die Een wat gekom het en gáán kom …”
“Maschiach,” sê Yhoshi pront.
Marc glimlag. “Dis reg, Yhosh.” Vir Henok verduidelik hy: “Dit verwys ook na HaShem die Skepper, en na die Drie-eenheid van HaShem: die Vader, die Seun en die Ruach HaKodesh. Yeshua is die enigste Middelaar tussen ons mense en HaShem. Hy is, soos Yhoshi sê, die Een wat gekom het en weer gaan kom.”
“Hallelu Yah! ” sug Chaim. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel, die straf wat vir ons die vrede meebring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Almal om die tafel vat hande en Ofer bid: “Dankie, Vader, vir u geliefde Seun, Yeshua, wat gekom het sodat ons vir ewig kan lewe.”
Marc staan op en skink die tweede beker, maar laat dit eers op die tafel staan. Dan gaan sit hy weer by Yhoshi en neem die kind se handjie in syne. “Ek gaan hom net ’n bietjie help met die betekenis van die dinge wat ons vanaand doen,” verduidelik hy. “Yhosh …”
“Abba, ek moet nou vra hoekom vanaand anders is as ander aande,” val die kleintjie hom sonder meer in die rede.
Marc grinnik. “Goed. Nou ja, al die ander aande eet ons …?”
“Regte brood, maar nou eet ons matzah.”
“Reg. Al die ander aande eet ons enige kruie. Maar waarom eet ons vanaand …?”
“Pietersielie.”
Almal lag. “Bitterkruie,” help sy pa hom. “En dis mos om ons te laat onthou van die swaarkry van ons mense in Egipte.” Die kind herhaal dit en toe voeg hy die vierde vraag blitsig by: “Ander aande sit ons net regop op ons stoele, hoekom het ons vanaand kussings?”
“Dis reg,” sê sy pa.
“Slim kind!” prys sy ouma.
“Yhoshi, weet jy hoekom ons vanaand op kussings sit?” vra sy oupa.
“Oor die slawe nie kussings gehad het om op te sit nie, en ons is mos nie slawe nie.”
“Goed gesê!”
Rivkah hou die gedrukte boekie waarin die prosedure van die seder-maal vir elke gas uiteengesit word in die lug. “En dit?” vra sy vir Yhoshi. “Wat is dit?”
“Haggadah,” sê hy dadelik.
Marc tik goedkeurend op sy kippah. En dan vertel hy, volgens die seder-maaltradisie, die verhaal van die Israeliete se wonderbaarlike uittog uit Egipte. Ter wille van Yhoshi doen hy dit in ’n kinderlike trant, maar só dat ook elk van die volwassenes opnuut daardeur geraak word.
Wanneer hulle by die verhaal van die tien plae kom, drup elkeen aan tafel ’n druppel wyn in sy of haar bord vir elke plaag en benoem dit hardop: “Water verander in bloed, paddas, muskiete, steekvlieë, pes onder die vee, bose swere, hael, sprinkane, duisternis, die dood van die eersgeborenes.”
“Abba, is ek ook ’n eerste gebore?”
“Eersgeborene. Ja, jy is.”
“Ek gaan nie doodgaan nie!”
Marc neem die kind se handjie weer in syne. “Nee, jy gaan nie, Yhoshi, want net soos die lammetjie se bloed wat aan die deure van die Israeliete se deure gesmeer is en húl eersgeborenes se lewe gespaar het, so beskerm die bloed van Yeshua ook jou lewe, ons almal se lewe, lieweling.”
“Laat ons nie vergeet wat dit gekos het om die volk Israel uit Egipte te bevry nie,” maan Chaim. “Ons moet ook dink aan die lyding en dood van die Egiptenaars se eersgeborenes. Net soos dit ons Go’el, Yeshua, se lewe gekos het om ons uit die Egipte van ons sonde te bevry.”
“Kom ons onthou al die wonders wat HaShem vir ons gedoen het,” sê Marc dan.
“Die Rietsee het oopgegaan!” sê iemand.
“Dayenu!” roep almal dadelik.
“Manna het uit die hemel geval!” sê ’n ander.
“Dayenu!” word daar weer met mening geroep.
Terwyl die een na die ander van die Almagtige se werke uitgeroep en dan met “Dayenu” begroet word, kyk Henok vraend na Ruwth.
“Dit beteken ‘dit sou genoeg gewees het’ – al het HaShem nét dit gedoen.”
“O!” sê Henok, en toe roep hy: “En Hy het Yeshua op die derde dag uit die dood opgewek!”
“Dayenu!” weergalm dit so hard om die tafel dat Natan se onderlippie verskrik begin bewe.
Rivkah tel hom uit sy stoeltjie en sus hom vertroostend.
“Kom ons lees,” sê Marc. Almal tel hul drukstukke op en lees hardop saam met hom: “Ons was almal slawe in ons eie Egipteland onder die mag van die sonde. Ons is genadeloos behandel en het verdrukking en smarte gely, maar ons het uitgeroep tot Adonai ons Elohim. Adonai het ons versugting gehoor en ons verdrukking en lyding gesien. Hy het ons met sy magtige Hand uit Egipte gelei met groot tekens en wonders. Daarom kan ons vandag dankbaar wees in die wete dat indien Adonai ons nie van ons slawebande bevry het nie, ons steeds in die land van slawerny en sonde en dood sou gewees het. Geseënd is U, Koning van die heelal, U wat u beloftes aan Israel hou. Die vyand staan teen Israel op om die land te vernietig, maar die Heilige van Israel red ons van al ons vyande.”
Almal lig hul glase en Marc bid:
“Geseënd is U, Adonai ons Elohim,
Koning van die heelal,
wat ons verlos het uit die slawerny van Egipte
en ons saamgebring het by hierdie feesmaal
om ons verlossing te vier.
Ons dank U terwyl ons drink
van die vrug van die wingerd.”
Marc draai na Chaim: “Abba, wil u vir Yhoshi en vir ons die seder-bord verduidelik?”
“Maar jy kan mos, Marc. Jy het alles so goed gedoen.”
“Ek wil graag dat u dit doen.”
Chaim wys na die skenkelbeen in die middel van die bord. “Wat dink jy beteken dit, Yehoshua?”
Die kind kyk lank na die bord, maar toe skud hy sy kop.
“Waar het b’nei Yisra’el die bloed gekry om aan die deure se kosyne te smeer?”
“Hulle het mos ’n lammetjie doodgemaak.”
Sy oupa kyk na hom. “En ons, Yhoshi, hoekom het ons dan vanaand die been op die tafel?”
Hy dink na en toe sê hy onseker: “Yeshua …?”
“Wat van Yeshua?” vra sy oupa sag.
“Hulle … het Hom ook doodgemaak.”
“Net soos die lammetjie?”
Die kind knik.
“Dit is reg! Hy is Elohim se Lam, Yhoshi. Hy is vir ons doodgemaak nes die Israeliete se lammetjie.”
Yhoshi wys na die skenkelbeen. “Dit is die been van ’n lammetjie?”
Sy oupa knik.
“Seh HaElohim … ons sing dit, Saba.”
“Dis reg.”
“Seh HaElohim,” sê die kind weer sag.
“Verstaan jy nou, Yhoshi?”
Yhoshi knik, raak ligweg aan die been en bring toe sy vingertjie na sy lippe.
Henok sien Ruwth en Shoshana se oë blink van trane en die ander het hul oë laat sak. Ook hy kyk weg, want eenmaal het hy ook ’n seuntjie gehad … wat met sy lewetjie betaal het vir die dwaasheid van ander.
Ná ’n paar stil oomblikke vra Chaim: “En die matzah, Yhosh, weet jy hoekom eet ons vanaand matzah?”
Die kind is bewus van die gelaaide atmosfeer en hakkel effens toe hy antwoord. “Die mense van Israel het nie daai aand tyd gehad om regte brode te maak nie, Saba. Die Egiptenaars sou hulle dan gevang het!”
“Dis reg, lieweling.”
Marc neem die boonste matzah en die klein stukkie gebreekte matzah in die middel en seën dit:
“Geseënd is U, Adonai ons Elohim,
wat ons beveel het om matzah te eet.”
Hy breek vir elkeen ’n stukkie van beide matzot af.
“Wat noem ons dié bitterkruie, ben Yhoshi?” vra sy oupa en wys daarna op die seder-bord.
Dit weet die kind nie.
“Maror,” help die rabbi hom, “en ons het mos netnou gesê ons eet dit om die swaarkrydae in Egipte te onthou, toe ons slawe was …”
“Maar ons was nie slawe nie!” val die kleintjie hom effens ongeduldig in die rede toe sy oupa asemskep.
“Nie regtig in Egipte nie, Yhosh, maar ons was almal soos slawe van Satan voordat ons vir Yeshua geken het. Ja?”
Yhoshi knik effens.
“Nou maak ons ’n toebroodjie van die matzah en die bitterkruie en eet dit.” Hulle maak so.
“Wat noem ons dit?” vra Chaim en wys na die smeersel op die broodjie.
Yhoshi skud net sy koppie, maar Henok sê sonder dat hy dit beplan het: “Charoset.”
“Dankie, Chanok. Weet jy ook hoekom ons dit eet?”
“Ek dink dit het iets te make met die werk wat die slawe moes doen …”
“Dis reg, dit herinner aan die messelklei waarmee hulle die stene moes maak.”
“Daar’s nog ’n eier op die bord,” sê die kleintjie vinnig.
Sy oupa glimlag. “Dit het ek vergeet, Yhosh! Weet jy hoekom dit daar is?”
Die kind knik ingenome, want hy weet. “Dis vir HaMikdash.”
“Wel … ja.” Hy neem die hardgekookte eier en kyk ernstig na sy familie om die tafel: “Dit herinner ons aan die sonde en rebellie van Israel wat gemaak het dat hul heilige tempel verwoes is. Mag dit vir ons ’n waarskuwing wees dat die oordeel by die huis van Adonai begin.”
En toe is dit tyd vir die maaltyd. Die rabbi spreek die seën uit, die vroue dra die disse aan en hulle val met mening weg aan die voortreflike ete wat met soveel sorg berei is in die dae vooraf.
Terwyl hulle eet, let Henok op dat Marc, toe hy sien Yhoshi se aandag is afgelei deur iets anders, die stukkie matzah neem wat hy vroeër in ’n wit servet toegedraai het. Dan steek hy dit versigtig agter ’n groot potplant in die een hoek van die vertrek weg.
“Die afikoman?” vra Henok fluisterend vir Ruwth langs hom.
Sy knik. “Dis reg. Hoe weet jy?”
“Ek was al by een seder-maal, maar ek het nog bitter min verstaan.”
Halfpad deur die maal raak Natan moeg vir die bedrywighede en Rivkah neem hom bed toe.
“Hy gaan stroopsoet slaap,” sê sy grootouma Ruwth.
“Nogal meestal makliker as dié meneer hier,” sê Rivkah en knik in Yhoshi se rigting.
Mettertyd raak dit duidelik dat dit ook al heelwat later as Yhoshi se slaaptyd is. Hy vrywe sy oë en is met niks van sy kos tevrede nie, die ewige bruin beertjie styf in sy een arm. Sy pa neem hom op sy skoot. “Ons gaan nóú die afikoman soek, hoor,” sê hy. “Ons is almal amper klaar geëet.”
Die kleintjie kry weer lewe. “Kan ek?”
“Natuurlik.”
“Wat kry ek?” wil hy astrant weet.
Sy oupa lag. “Wie weet.”
“Die seder is nie klaar voordat die afikoman geëet is nie,” sê Ruwth vir Henok. “Die jongste in die familie moet dit soek en die tradisie is dan dat hy, wanneer hy dit gekry het, ’n geskenk ontvang voordat hy dit afgee. Dié dat Yhosh vra wat hy kry.”
“Waar kom dié tradisie vandaan?”
“Ag, ek dink aanvanklik was dit hoofsaaklik om kinders se belangstelling te behou. Jy weet die seder is lánk, nè? Maar ons as Messiane beskou dit as ’n teken van Yeshua ná sy kruisiging, sy liggaam toegedraai in grafklere, en dan word Hy weer opgewek.”
“Ek het nooit só daaroor gedink nie,” sê Henok verwonderd. “Ja, daar is soveel van Hom in die feeste wat die Jode getrou vier sonder dat hulle besef dit spreek van Hom wat gekom het en weer sal kom. Kyk, daar was mos nou ook drie stukke matzot – Vader, Seun en Ruach HaKodesh. En die middelste is die een wat Marc uitgehaal het, onthou jy? Dit simboliseer die Seun. Dié het Marc toegedraai en weggesteek, nè? Maar die Seun gaan te voorskyn kom, ja? En dis daarvan wat Sagaria 12 sê: ‘Op daardie dag as Hy terugkom, sal hulle na hom kyk vir wie hulle doodgemaak het en hulle sal oor Hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste kind, hulle sal huil soos ’n mens oor ’n oudste seun huil.’”
“Ongelooflik!”
“Ja, dit is, en die genade van HaShem is nog ongeloofliker.”
Die soekery na die afikoman verskaf groot pret met Yhoshi wat opgewonde skree as sy pa “koud” sê wanneer hy wegbeweeg van die wegsteekplek agter die potplant, en “warm” as hy nader kom. Shmu’el raak ook geweldig opgewerk deur die soekery. Dit duur ook nie lank voordat die skat gevind word nie. Yhoshi hou die wit servet triomfantelik omhoog terwyl hy so hard gil dat die hondjie skel begin blaf en die kleinste verskrik in die kamer aan die huil raak.
Yhoshi druk die servet teen sy bors vas. “Wat kry ek?”
“Versigtig!” maan sy ma. “Jy druk die afikomen stukkend.”
Ruwth trek ’n pakkie in geskenkpapier onder haar stoel uit en gee dit vir hom. Toe hy dit oorhaastig oopskeur, kom daar ’n sagte wit speelgoedhaas te voorskyn.
Hy bekyk die speelding ’n rukkie onseker. Toe druk hy sy beertjie se gesiggie in sy nek asof dié nie moet sien nie voordat hy die haas optel en op sy stoel neersit.
“Dis ’n mooi hasie,” sê Rivkah wat net teruggekom het nadat sy die baba weer aan die slaap gemaak het.
“Dis vir Natani,” sê Yhoshi, “ek is groot.”
“Nie te groot om nou beslis bed toe te gaan nie,” skud sy ma haar kop en tel hom op.
Toe daar weer orde gedaal het, neem Marc die afikomen, wat gelukkig nog ongeskonde is, breek dit en gee aan elkeen om die tafel ’n stukkie terwyl hy aanhaal: “Ná die ete het Yeshua die brood geneem en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en aan hulle gegee en gesê: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.’”
Daarna skink hy die derde beker. Almal se glase word weer vol gemaak en hy sê: “Net so het Hy ook die beker ná die maaltyd geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die B’rit Chadashah, die hernude verbond, in my bloed wat vir julle uitgestort is.’” Toe knik hy in Chaim se rigting. Die rabbi sluit sy oë ’n paar oomblikke voordat hy Psalm 126 foutloos aanhaal:
“Toe Adonai die lot van Tziyon verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
Adonai het groot dinge
aan hierdie mense gedoen.
Adonai hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
Verander tog nou ons lot, Adonai,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.”
En hy bid: “Adonai, hoe heerlik is dit dat ons vanaand kan onthou waar ons was, maar nóg heerliker dat ons weet waarheen ons op pad is. Yeshua, Ben Elohim Chai, U het ons nie as weeskinders agtergelaat nie. U het vir ons ’n wonderlike troos gegee, die Ruach HaKodesh, die Een wat op die pad met ons saamloop. En Hy bid vir ons en tree vir ons in by Avinu She’ BaShamayim. Baruch HaBa B’Shem Adonai. Geseënd is Hy wat kom in u Naam vir ewig en ewig.”
Marc skink die vierde beker en almal se glase word weer aangevul.
“Die beker vir Elia,” verduidelik Ruwth vir Henok.
“Waarom Elia?” vra hy gedemp aan haar.
Maar die rabbi het hom gehoor. “Eendag sal Elia kom om die koms van Maschiach aan te kondig. Volgende jaar as Adonai ons in lewe bewaar, sal Yhosh groot genoeg wees om die hele seder by te woon. Dan sal ons vir hom sê dat hy die deur moet gaan oopmaak, en dat die beker daar is vir ingeval Elia sou kom.”
“Ortodokse Jode, wat nie glo dat Maschiach al in Yeshua gekom het nie, sê vir hul kinders Elia kom om aan te kondig dat die Messias nog sal kom, die era wanneer die vrede op aarde volmaak sal wees,” verduidelik Hadassah sag. “Hul verwagting is dat dié tyd ‘gou en in ons dag’ sal aanbreek.”
Mark lig die beker en hulle sing: “Hodu l’Adonai … Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Toe sê almal die laaste woorde van die seder saam: “L’shanah ha’ba-ah Yerushalayim … volgende jaar in Jerusalem!”
Terwyl daar koffie gemaak word, word daar gesels en selfs van die geliefde Pesachliedere gesing, soos Adir Hu en Echad Me Yodea-ah, wat spreek van die grootheid van die Almagtige.
Om die familie so intiem bymekaar te sien, bring meteens by Henok ’n verlange na Sarah, so intens dat hy ongemerk op die stoep uitgaan en sonder meer haar selfoonnommer skakel. Sy antwoord byna onmiddellik.
“Ek dag jy slaap dalk al,” sê hy verleë.
“Wat laat jou so dink?”
“Dis byna elfuur.”
“Is jy dan gewoond dat ek vroeg gaan slaap?”
“Nee …”
“Ek het gewonder of jy toe darem aangekom het.”
“Ja, ek het nog nie gebel nie, dis baie druk hier.”
“Hoe so?”
“Dis Pesach,” sê hy eenvoudig.
“En dit is?”
Hy weet sy vra dit uit moedswilligheid, maar hy antwoord nogtans: “Pase.”
“Wat maak julle vanaand?”
“Ek is hier by Marc en Rivkah en ons is net klaar met die seder-maal.”
“En nou voel jy soos ’n wonderlike Jood?”
Hy ignoreer dit al steek haar spottende woorde soos ’n mes in hom. “Chaim en Hadassah is ook hier.”
“Hulle jubel seker oor nog ’n pas ontdekte Jood.”
“Ek is jammer ek het jou gebel, Sarah.”
Sy is stil en na ’n oomblik sê hy: “Ek is jammer as ek jou ontstel het, Sarah. Ek bedoel dit.”
“Jý ontstel my nie, jou Joodse beneweling ontstel my wel. Ek hoop jy kom dit daar te bowe, as jy sien wie die Jode in werklikheid is. Ek hoop dan kan ons dalk weer met ons lewe probeer voortgaan.”
“Dié hoop sal jou beskaam,” sê hy sag.
“Wel, dan is dit nou maar so …”
Toe het hulle niks meer om vir mekaar te sê nie, en tog beëindig hy nie die gesprek nie.
“Sarah …”
Sy sê niks, maar hy hoor haar asemhaling swaarder word.
“Nag, Sarah.” Toe skakel hy die foon af.
Hy staan ’n rukkie oor die stil keisteenstraatjie onder hom en kyk.
“Henok …”
Toe hy omkyk, is Marc daar.
“Ek het gewonder wat van jou geword het.”
“Bietjie asem kom skep.”
“Lang aand gewees?”
Henok skud sy kop. “Nee, dit het meer vir my beteken as wat jy sou kon dink.”
Marc glimlag. “Ek sóú kon dink … om die waarheid te sê, ek weet presies waarvan jy praat.”
“Ja, ek het vergeet dat jy dit ook ervaar het.”
“Ja … Maar ek het jou eintlik kom sê dat ek toe vanoggend met die Etiopiese Messiaanse leier van wie ek jou vertel het, kon gesels.”
Henok se hart klop vinniger. “En …?”
“Die enigste kansie wat hy het om met jou te gesels, is môremiddag. Hy gaan die hele volgende week Eilat toe en jy vlieg volgende Maandag terug. Sou jy wou?”
“Sou ek wou? Natuurlik wil ek!”
Marc glimlag oor sy entoesiasme. “Twee-uur,” sê hy, “hy het môreaand ’n diens.”
“Is hy dan ’n predikant?”
Marc knik. “Hy’s leier van een van die Messiaanse gemeentes.”
“Fantasties!”
“Jy sal van hom hou.”
“Marc …” vra Henok na ’n paar oomblikke.
“Hmm?”
Henok huiwer verleë. “Kan … ’n mens so laat nog na die Kotel toe gaan?”
Marc raak aan sy skouer. “Jy kan áltyd gaan,” sê hy sag.
Byna elke huis in die Ou Stad is al donker wanneer Henok by die trap kom wat na die Kotel lei. Hy het eers teruggegaan Christ Church-gastehuis toe om sy tallit te kry en wanneer hy nou daar kom, is die muur tog nie heeltemal verlate nie. Aan die mans se kant is nog drie ander eensames besig om te daven. Niemand steur hulle egter aan hom nie. Heel versigtig haal hy die tallit uit sy fluweelsakkie. Hy druk die kroonstuk ’n oomblik teen sy lippe. So emosioneel raak hy dat hy beswaarlik die woorde in Afrikaans gefluister kry. “Geseënd is U, Adonai ons God, Koning van die heelal, wat ons beveel het om ons in ’n tallit toe te vou.” Toe vou hy die kosbare materiaal oor hom en loop in die flou lig van die lampe by die muur tot teen die eeue oue stene. Hy leun sy voorkop daarteen en huil.
“Vader,” fluister hy bewoë, “Abba, ek het huis toe gekom. U, U alleen het my teruggebring …”
Hy weet nie van die duif wat in ’n gleuf in die klip bokant hom sit en op hom afkyk nie. Of van die sterre wat so groot en so blink aan die hemel hang nie.