Читать книгу HaKotel: Die muur - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеJulie 2013
Jerusalem
Marc staan voor ’n wye vensterraam in die Hadassah Mediese Sentrum. Ver onder hom lyk dit of Jerusalem in die drukkende somerhitte bewe. Hy vryf onbewustelik die sweet aan sy palms teen sy T-hemp droog. Ál wat hy sien, is Natan se donker oë en sy natgeswete hare. Ál waaraan hy kan dink, is: Adonai Tzva’ot, nie nóg ’n keer nie!
Hy skrik toe Rivkah liggies aan sy arm raak. Sy is terug van die laboratorium waar Natan weer vir toetse opgeneem is. Haar gesig is só bleek dat hy nie daarna kan kyk sonder om ’n dowwe pyn in sy hart te voel klop nie. Hy vou haar woordeloos in sy arms toe. Slap soos ’n lappop sak sy teen hom aan. Hy hou haar vas, sy bewende mond teen haar hare.
“Het hy gehuil?” vra hy toe sy steeds stilbly.
Sy skud haar kop. “Hy het vandag glad nie gehuil nie.” Haar stem is byna onhoorbaar sag.
Sy ouers ook nie, dink Marc, want hulle kan nie meer huil nie.
“Het dr. Gilles verder iets gesê?” vra hy later.
Met haar hande teen sy bors stoot sy haarself regop, maar sy kyk weg van hom af. Sy skud weer haar kop. “Ek is seker hy gaan hom vannag hier hou …”
“Lo!” kreun hy.
Sy maak haar los uit sy arms, wat willoos teen sy sye val.
Ek moet sterk wees vir haar, dink hy moeg, maar die krag ontbreek hom. Hy bly stil langs haar voor die groot vensterraam staan.
Jerusalem bars uit sy nate. In Ben Yehudastraat, ’n wandellaan vol winkels en restaurante, weerklink die stemme van kopers wat lag en praat. Dis skoolvakansie in Israel en dis somer. Oral klink die musiek van straatmusikante tussen die gejoel op. Die klanke van viole, trombone, dwarsfluite – selfs ’n harp en elders ’n trekklavier – kan gehoor word. Drie kunstig gegrimeerde narre in skelgeel-en-pers drag trek met ’n horde jillende kinders teen die effense straathelling op. Onder een van die bome knoop ’n man ballonne in wonderbare vorms. ’n Bont troppie kinders vergaap hulle aan sy skeppings.
’n Entjie verder onder nóg ’n boom staan twee Chassidim in swart pakke en breërandhoede met peyot, baarde en swaaiende tzitziyot by ’n tafel bedek met tefillin, kippot, talliyot, siddurim en ander bybehore van die ultra-Ortodokse leefwyse. ’n Aantal moontlike klante hang daar rond en maak luide aan- en opmerkings. Die gesiggies van babas in ’n eindelose variasie van stootkarretjies vertoon bloesend in die versengende hitte. Swanger mammas met trossies spruite om hulle heen staan die bedrywighede met ’n roomys in die hand en gadeslaan. Oral is groepies soldate in uniform te sien. Baie van hulle is pragtige, jong vroue. Elke sitplek onder die sambrele van die talle straatkafeetjies word deur vrolike klante beset.
Daar is ’n atmosfeer van feestelikheid in die lug, want gister was Tisha B’Av, ’n dag van rou waarop daar vir 24 uur lank, van sononder tot sononder, gevas is. Dit is die negende dag van die Joodse maand Av. Dis nie ’n dag van toewyding omdat dit ’n oesfees is of omdat ’n bepaalde mylpaal in die lees van die Tora bereik is nie. Dit is eerder ’n dag van nasionale rou omdat dit herinner aan die grootste onheil wat die Joodse volk ooit getref het – die verwoesting van die twee tempels. Volgens Joodse oorlewering is die Eerste Tempel en Tweede Tempel op hierdie selfde datum verwoes.
Die Babiloniërs het die Eerste Tempel in 586 v.C. in puin gelê. Die Romeine het in 70 n.C. dieselfde met die Tweede Tempel gedoen. Met die verwoesting van die Tweede Tempel het die diaspora of verstrooiing van die Jodedom begin, wat uiteindelik tot die stigting van die huidige Israel-staat gelei het. Die vernietiging van die tempels was egter nie die laaste tragedie wat op Tisha B’Av sou gebeur nie. Op hierdie dag in 1290 het koning Eduard I van Engeland die Jode uit sy land verban. Die Jode is ook 202 jaar later, in die jaar 1492, uit Spanje verdryf. Hulle moes teen Tisha B’Av uit die land wees.
Die drie weke tussen die 17de van Tammuz en die kulminasie van dié tydperk op die negende van Av is ’n periode waartydens menige tragedie die Joodse volk getref het. Dit word as so onheilspellend in die Joodse kosmologie gereken dat geen huwelike dan toegelaat word nie. Die hare word nie gesny nie. Geen nuwe klere word dan gekoop of gedra nie. Daar word selfs nie na musiek geluister of plesierritte georganiseer nie. Dis ’n tyd van diepe rou en intense selfondersoek.
Dus, ná ’n dag van rou en vas oor soveel ellende uit die verlede, maak elkeen wat nie hoef te werk nie van dié heerlike sonskyndag gebruik. Daar word veral aandag gegee aan die kinders wat hierdie droewige 21 dae swaar beleef het.
Chaim het met Yhoshi, sy oudste kleinseun, stad toe gekom. Natan, twee jaar jonger, moes vandag weer vir ’n breinskandering gaan. In die Krige-huishouding loop die spanning uiteraard altyd hoog wanneer sulke tye aanbreek, veral omdat Natan die laaste tyd weer bleek en lusteloos was. Al was hy twee maande gelede ook daar, het sy dokter gevra dat hy vir ’n skandering moet gaan. Daarom het Chaim dit goed gedink om Yhoshi ’n bietjie uit te neem. Hulle sit nou by so ’n straatkafeetjie. Elkeen het ’n roomys voor hom. Vlak by hulle speel ’n skraal, jong vrou op haar silwerdwarsfluit ’n sonate van Beethoven. Die fyn klanke hang wondermooi om hulle in die hete middaglug. Haar lang, donker hare beweeg liggies in die warm wind terwyl sy speel.
“Jy word volgende maand agt, Yhoshi! Vir my voel dit soos gister toe ons jou bris gevier het.”
Die seuntjie lek die room met die punt van sy tong van sy bolip af.
“Saba! Ek is nou Yhosh, nie meer Yhoshi nie. Jy weet mos!” Hy klink verontwaardig.
“Slicha,” lag sy oupa, “ek sal probeer onthou.”
Die kind frons en sy oë raak diep blou soos sy ma s’n. “Saba?”
“Wat pla jou?” vra die rabbi, wat sy skrander kleinseun maar alte goed ken.
“Gister was Tisha B’Av en ons het soos altyd weer gevas en gerou en gedoen …”
“Ek glo nie jý het nie.”
“Nee, maar almal het.”
“Ken. Wat wou jy vra?”
“Hoekom rou ons ná al die eeue nog steeds oor ons die tempels verloor het? Hoekom is dit so ’n groot ding?”
“Nu …” Chaim haal sy bril af en begin die lense met sy groot, wit sakdoek poleer, asof hy goed nadink oor hoe hy die vraag moet beantwoord. Toe, soos die Jode maar maak, antwoord hy die vraag met ’n teenvraag. “Waarom dink jy beteken dit vir ons so baie?”
“Miskien oor ons dit nie meer het nie?”
Die rabbi glimlag oor die manier waarop sy kleinseun op ’n slim manier uit die valstrik wil kom. “En toe ons dit gehad het – hoekom was dit toe so belangrik?”
“Omdat …” Yhoshi se voorkop trek op ’n plooi. “Omdat die Jode wat in Israel gewoon het, altyd met Pesach en Shavuot Yerushalayim toe gekom het om in die Tempel te aanbid en die feeste te vier.”
“En wat dink jy het dit vir hulle beteken dat hulle dit kon doen?”
“Miskien het hulle gevoel hulle kom baie naby HaShem daar …”
“Nachon. Nou verlang ons harte daarna en rou ons oor ons dit nie meer het nie.”
“Nes die Jode ál die jare getreur het oor ons nie ons eie land het nie – nè, Saba? Maar nou hét ons.”
“Nachon. Net so sal ons weer ’n tempel ook hê.”
“Wanneer HaMashiach kom?”
“Ken,” sê die rabbi, “wanneer HaMashiach weer kom.”
Die kind se oë verdonker. “Dink jy Hy sal in ons tyd kom, Saba?”
“As ek na die wêreld om ons kyk, sal ek sê ja, Hy sal gou kom.”
“Die Jode van ál die eeue het ook gedink Hy sal in hul tyd kom.”
“Dit is so, Yhoshi … Yhosh. Maar weet jy, ons Messiaanse Jode wat weet dat Yeshua die langverwagte Joodse Mashiach is, ons onthou dat Hy gesê het wat die tekens sal wees voor Hy terugkom. Ons dink ons sien daardie tekens.”
“Bedoel jy oorlog en hongersnood en siektes en al daardie goed? Dit was mos altyd daar, Saba.”
“Ek weet, maar Hy het ook gesê die geslag wat die vyeboom …”
“Dis Israel!”
“Nachon. Wat het Hy gesê van daardie geslag?”
“Hulle sal Hom sien terugkom?”
“Yeled chacham! Weet jy Hy het ook gesê dat dié tekens vinnig op mekaar sal volg, soos met die pyne van ’n swanger vrou wanneer die geboorte van haar baba naby is? En kan jy sien dat hierdie dinge nou vinnig opmekaar gebeur?”
Yhoshi knik stadig. “Ja-a-a. Daar’s baie oorlog in Sirië en Egipte en Libanon. En aardbewings.”
“Dis reg. Maar voor ons van Tisha B’Av weggaan, wil ek jou ’n storietjie daarvan vertel.”
Yhoshi se gesiggie verhelder. Hy ken sy oupa se stories. “Bevakasha!”
“Daar word vertel dat Napoleon en sy manne op Tisha B’Av deur die strate van Parys geloop het. Toe hulle by ’n sinagoge verbyloop, kon hy die gehuil en geweeklaag daar binne hoor. So stuur hy toe een van sy adjudante om te gaan uitvind wat gebeur het. Die man kom terug en sê vir die keiser die mense rou oor hul tempel verwoes is. Dit het Napoleon heeltemal ontstel. ‘Hoekom het ek nie daarvan gehoor nie? Wanneer het dit gebeur? Watter tempel was dit?’ wil hy toe weet. Die antwoord van die adjudant was: ‘Hulle het hul tempel in Jerusalem verloor. Dis op hierdie datum meer as 1 700 jaar gelede verwoes.’ Napoleon bly toe ’n ruk stil staan en dink na oor wat hy gehoor het. Toe sê hy: ‘Ek is oortuig dat ’n volk wat soveel eeue lank oor die verlies van hul tempel rou, sal oorleef om te sien hoe hy herbou word.’”
“Baruch HaShem,” fluister die kind.
Rabbi Cohen knik. “Yhosh, jy is net agt jaar oud, maar daar is een ding van Jood-wees wat jy baie goed moet onthou.”
“Wat is dit, Saba?”
“As ons ons geskiedenis ken en verstaan, kan ons ons lewe in perspektief sien. Weet jy wat ‘perspektief’ beteken?”
Die kind dink ’n oomblik na. “Soos dit regtig is.”
Rabbi Chaim knik weer. “Nu, as ons dít kan doen, dan kan ons onsself, ons mense en dit wat vir ons kosbaar is, verstaan. Dan sal ons weet hoe ons moet lewe en wat ons wil doen met die één lewe wat ons. Maar ook hoe ons bereid sal wees om te ly en wat ons sal verdra sodat die plan vervul kan word waarvoor HaShem ons sy volk gemaak.” Hy kyk die seuntjie ’n rukkie stil aan voordat hy sag sê: “Dis moeilike woorde wat ek met jou praat, Yhosh, maar HaShem het jou met ’n baie helder verstand geseën en ek is van gedagte jy verstaan wat ek jou nou wou laat hoor. Of hoe?”
Die kind glimlag en daar kom ’n skittering in sy donker oë. “Jy het gesê as ek swaar kry oor ek ’n Jood is, dan moet ek weet waarvoor HaShem ons Jode gemaak het.”
Chaim wil lag, maar hy sluk ook aan die emosie wat sy keel laat toetrek. Hy neem die kind se twee handjies wat op die tafel rus, in een van syne en druk dit. “Dit is soos jy sê, Yhosh, en jy moet dit nooit vergeet nie.”
’n Rukkie sit hulle nog daar. Yhoshi is besig met die ingewikkeldheid van sy selfoon en Chaim verlustig hom in die wondermooie musiek wat die dwarsfluitspeler optower en sy dierbare Yerushalayim wat om hom in die goue middagson lewe.
Toe druk daar iemand onseker op Chaim se skouer. “Rabbi Cohen?”
Chaim draai vinnig om in sy stoel en Yhoshi kyk op. Daar staan ’n gryskopman met ’n huiwerige glimlag wat meteens verbreed.
“Chaim!”
“Dovid!” Chaim het so vinnig regop gekom dat sy stoel agteroorslaan. Die twee val mekaar onbeskaamd om die hals.
“Jare nie gesien nie,” sê Chaim toe hulle eindelik tot sit kom. “Waar was jy die hele tyd?”
“Oy vey,” sug die man. “Batya het in 2007 kanker gekry en die kinders het ons kom haal – Amerika toe. Gedag daar’s beter sorg.” Hy skud sy kop. “Ek was dom genoeg om hulle toe te laat, want waar is daar beter dokters as hier? Maar sy is verlede jaar … weg. Ook nie net van kanker nie, maar ook van heimwee na ha’aretz … en ek het teruggekom, Chaim. Hier is ek weer. Dis my land.”
Chaim lê sy hand vertroostend op sy vriend se knie en hulle sit vir ’n ruk stil en luister na die fluitspeler se tere vertolking van HaTikvah, so asof sy Dovid se verlange en pyn aanvoel.
Eers toe onthou Chaim van Yhoshi se teenwoordigheid. “Dovid, dít is my oudste kleinseun, Yehoshua.”
Die ou man neem die handjie liefdevol in syne. “Na’im me’od.”
“Yhosh, Dovid was my bevelvoerder in die Yom Kippur-oorlog en daarna het ons jare lank in dieselfde straat in HaMoshava HaGermanit gewoon.”
Dovid sug. “Ja, ja, dit was kosbare jare. Albei jou kinders is daar gebore, Chaim, nie waar nie? Re’uven en Rivkah?”
Chaim knik. “Yhosh is Rivkah se oudste. Sy het twee seuns. Ek glo ek en jy het kontak verloor toe sy nog in Tzahal was.”
Dovid knik. “Dis reg, sy is mos ’n paramedikus. Die tyd vlieg! Ek het al vroeër vanjaar ’n agterkleinkind ryker geword.”
“Re’uven het ’n seun en ’n dogtertjie. Die jare gaan so ongemerk verby.”
“En rondom ons brand dit. Oy vey, die Arabiese Lente … Dit het ’n nagmerrie vir die Arabiere geword. Kyk hoe lyk Egipte onder die Moslem-broederskap.”
“Ja, ons sal maar moet sien of Morsi dit gaan maak. Lyk nie of hy ’n ernstige idee het van demokrasie nie.”
Dovid skud sy kop. “Lyk nie goed vir Israel nie met Sirië en Libanon wat op die grense brand en Iran wat so te sê ’n kernbom het.”
Chaim sug. “Maar was dit ooit werklik anders vir ons, Dovid? Jy, veral jy, weet dit mos. Ek het nou net hier vir Yhosh gesê as ons nie ons geskiedenis ken en bereid is om swaar te kry nie …” Sy gesig verhelder meteens. “Ek sal graag wil hê dat jy hom jou eie stukkie geskiedenis vertel.”
“Oy, dis ook so lank gelede en dalk glad nie vir hom interessant nie …”
“Tog sou ek graag dat jy dit doen. Jou eerste kennismaking met Eretz Yisra’el.”
“Hy’s nog baie jonk, Chaim. Sal hy verstaan?”
Chaim kyk na Yhoshi en dié knik gretig. “Ek dink so. Die nuwe geslag word vroeg al die feite geleer, maar van persoonlike ervarings hoor hulle nie genoeg nie, Dovid.”
“Yhosh.” Dovid draai sy lyf effens na die seuntjie. “Jy weet dat Eretz Yisra’el ’n mandaatgebied van Brittanje was voor ons in 1948 ’n staat geword het?” vra Dovid.
“Saba en Abba het my vertel. Ook van Hitler en die oorlog en die Shoah.”
“Tov me’od. As ek nou van 1930 praat, klink dit seker vir jou soos baie eeue gelede.”
Yhoshi skud egter sy kop voordat die sin nog klaar is. “Dit was net 83 jaar gelede.”
Die ouer man lag. “Goed so, Yhosh. Weet jy dat ek al 86 jaar oud is?”
“Savta Ruwth is 87.”
“Nu, dan verstaan ons mekaar. Toe dit aan die einde van die 1930’s vir die Jode in Oos-Europa begin duidelik word dat daar oorlog kan kom, het baie van hulle besef dit gaan vir hulle baie, baie gevaarlik word. Jode weet mos – as daar moeilikheid kom in ’n plek waar hulle woon, kry hulle die skuld daarvoor. Daar was in elk geval teen daardie tyd genoeg rede om te weet dat Hitler geen goeie bedoelings met ons gehad het nie. So, diegene wat genoeg geld gehad het, het padgegee Amerika toe. Die res het vir Palestina gemik. Het jy geweet dat die Jode – eintlik almal – toe nog van Israel as Palestina gepraat het?”
“Die Romeine het die land daai naam gegee. Filistea was net die hoekie van die land waar die Filistyne gebly het. Daar het toe nie Arabiere gewoon wat hulself Palestyne genoem het nie,” sê Yhoshi.
Dovid is ietwat verras en sy wenkbroue lig, maar Chaim knipoog vir hom en hy vertel verder.
“Die mense wat Amerika nie kon bekostig nie en wou wegkom, het op enigiets geklim wat hulle oor die see na Eretz Yisra’el toe kon vat. Oos-Europa het net te gevaarlik geword.”
“Hoekom was Oos-Europa dan so gevaarlik?” vra Yhoshi. Sy oë is stip op die ouer man gerig.
“Nou moet jy mooi luister en sê as jy nie verstaan nie. Die sienswyse van die mense in Oos-Europa het gekom van die diep gewortelde anti-Semitisme wat die boerebevolking van Pole gehad het. En dan was daar die bloedlasteropvattings van die Oekraïnse middelklas. Weet jy wat ek met bloedlaster bedoel, Yhosh?”
Yhoshi knik. “Dis dat hulle glo ons maak Christen-kindertjies dood en gebruik hul bloed om matzot te maak vir Pesach.”
“Nachon! Nu, dan verstaan jy hoekom baie Jode gevoel het hulle is nie veilig daar nie. Van die Oos-Europeërs sou hulle nie beskerming kon verwag teen wat ook al Hitler beplan het nie. Nou moet jy ook weet dat baie Jode buite Europa, ja, selfs dié wat toe al hier in Palestina was, nie die gevaar so ingesien het nie. Nu, weet jy wie Golda Meir was?”
Yhoshi antwoord vinnig. “Ken. Dit was haar skuld dat ons amper die Yom Kippur-oorlog verloor het. Sy was toe die eerste minister.”
Die twee mans kyk na mekaar en lag. “Jy’s waarlik goed ingelig, yeled,” sê Dovid. “Maar sy was in daardie jare, lank voor die totstandkoming van die staat Israel, al polities bedrywig. Sy en Ben-Gurion was albei van Oos-Europese afkoms, dus het hulle ’n goeie idee gehad van wat Hitler se oorlog vir die Jode van Oos-Europa sou beteken. Golda het dit haar werk gemaak om die Jode te waarsku om uit Europa pad te gee en die Engelse te probeer oorreed om meer Joodse vlugtelinge toe te laat om na Palestina toe te kom.”
“Hoekom wou die Engelse hulle nie laat kom nie?”
Dovid sug. “Engeland was bang om die Arabiere aanstoot te gee …”
“Oor hulle al die olie het,” val Yhoshi hom in die rede.
“Nachon. Dit was ’n baie moeilike tyd vir die Joodse leierskap onder Ben-Gurion in Palestina. Aan die een kant wou hy Brittanje se guns wen deur soveel moontlik Jode aan te moedig om in die oorlog teen Hitler vir die Britte te veg. Jy sien, Ben-Gurion het gedink Brittanje sou hulle teen die Arabiere se aanslae in Palestina beskerm. Aan die ander kant het hy Brittanje beveg oor hulle nie meer Joodse vlugtelinge wou toelaat om na Israel toe te kom nie.”
“Maar daar het mos tog baie van hulle ingekom?”
“Ja, dit is so. Mossad LeAliyah Bet het hulle onder die grootste geheimhouding by afgeleë hawentjies ingesmokkel. Dis juis waar my storie, wat ek jou nou-nou sal vertel, inkom. Dit was nodig dat derduisende van hulle moes kon binnekom, want in Europa was Hitler besig om die lewe vir die Jode ondraaglik te maak.”
“Dit was nog voor die begin van die werklike Shoah, Yhosh,” verduidelik Yhoshi se oupa. “Dit was die tyd toe Jode die geel ster moes dra. Hul besighede en eiendom is gekonfiskeer, Ortodokse Jode is ook verskriklik verneder en sinagoges is verwoes. Jode is bymekaargejaag om in haglike omstandighede in ghetto’s te woon. ’n Jood se lewe was niks werd nie. Maar toe het die gaskamers nog nie regtig hul verskyning gemaak nie. Almal het egter begin insien hulle moet uit Europa wegkom. Hoe gouer, hoe beter.”
“Nachon, dit was ook die tyd toe Al-Husseini, die groot moefti …” Dovid kyk na Yhoshi wat knik.
“Dis ’n priester van Islam.”
“Soort van. Hy het sterk bande met Hitler gehad en het geëis daar moes onmiddellik ’n einde kom aan die idee van ’n Joodse nasionale tuiste. Ons is nou by 1939, hoor.”
Yhoshi knik, sy intelligente oë blink van gretigheid om meer te hoor.
“Nu, dit was die jaar waarin Neville Chamberlain, die Britse premier, die dokument onderteken het wat Joodse immigrasie na Palestina beperk het tot 75 000, versprei oor vyf jaar. Daarna sou geen Jood meer toegelaat word om na Israel te emigreer sonder Arabiese toestemming nie.”
“Hulle sou tog nooit toestemming gee nie,” merk Yhoshi droog op.
“Ken. Dit was duidelik, want teen daardie tyd het die moefti geen geheim meer gemaak van sy samewerking met die Nazi’s nie. Hulle het hom van geld en voorrade voorsien.” Dovid sug.
“Ben-Gurion se hoop dat Brittanje die Joodse gemeenskap in Palestina teen die Arabiere sou beskerm, het toe ook lank reeds plek gemaak vir die werklikheid,” vul Chaim sy vriend se verhaal aan.
“Absoluut. Maar, Yhosh, só kom ek nou eindelik by my storie uit.”
Die kind vryf sy hande ingenome.
“In 1939 was ek 12 jaar oud. My vader was ’n rabbi in Łódź en moes toe al lank reeds sy betrekking as professor aan die universiteit prysgee. Geld vir ’n gesin van ses om Amerika toe te gaan was daar beslis nie. Daar moes ’n ander uitweg gevind word, want ons het pas verneem die Joodse inwoners in ons straat sou binne die volgende week na die ghetto verskuif word. My jongste sussie was toe maar drie weke oud en my vader het besluit dat Palestina ons enigste redding sou wees.”
“Met die klein babatjie,” sê Yhoshi sag.
Dovid sug weer. “In my volwasse jare het ek dikwels daaroor gewonder. Ek glo haar koms was heeltemal onbeplan, want ons ander drie was al 16, 14 en 12. En my ma was 41 … Maar nou ja, sy was daar en baie kosbaar vir ons, want ons ander drie was seuns. Minder as ’n week ná die publikasie van Chamberlain se soveelste witskrif om die Arabiere gelukkig te maak, seil ons ses toe op ’n gehawende ou stoomboot van Constanţa in Roemenië af na Palestina toe. Toe was dit nog Palestina, hoor!”
Yhoshi knik.
Daar kom ’n droewe laggie om Dovid se mond. “Die boot was totaal oorlaai en het so laag in die water gehang dat dit skrikwekkend was. Daar was oor die 400 mense – mans, vroue en kinders – op die smal dek vasgepen. Ons enigste vooruitsig was die hoop dat ons lewend in Palestina sou aankom.”
Hy kyk ’n rukkie uit oor die wemelende mense in Ben Yehudastraat en skud sy kop. “Dis natuurlik maar ’n kort reis, selfs vir daardie tyd. Nie veel meer as twee dae nie. Naby Ciprus het ’n storm ons getref sodat ons eers in die baai moes anker gooi. Die mense was ellendig seesiek en verbrand van die son …”
“En die baba?” vra Yhoshi.
Dovid trek sy asem rukkerig in en vee oor sy voorkop. “Sy het nie die Heilige Land gehaal nie. In die derde nag aan boord is sy dood. Ontbering op die oop see. Snags het dit bitter koud geword en sy was al swak toe ons weg is. Vroeggebore.”
Hy bly vir ’n ruk stil voordat hy verder praat. “Tot die dag van my dood sal ek nooit vergeet nie hoe Vader vir haar die Kaddish gesê het voor die kleine dingetjie ter see begrawe is …”
’n Rondloperhond kom snuif teen Yhoshi se bene en die kind buk af en druk die groot kop styf teen hom aan. Chaim merk die nattigheid op die kind se wange, maar hy maak of hy dit nie sien nie.
Toe praat Dovid verder. “Terwyl ons gewag het vir die storm om te bedaar, het daar ’n waarskuwing oor die skip se radio gekom. Ons moes in die rigting van Tel Aviv vaar en op ’n afstand van twee myl stop. Dan moes die passasiers, wanneer dit donker is, in reddingsbote neergelaat word. Almal moes gewaarsku word om vir enigiets gereed te wees.”
“Wat ’n boodskap!” roep Chaim uit.
“Die spanning was geweldig toe ons Tel Aviv die volgende nag nader. Net toe dit lyk of die boot oor die horison kruip, het die verblindende soekligte van ’n Britse oorlogskip deur die donkerte oor ons geval. Dit was die HMS Sutton. Oor ’n luidspreker het hulle ons beveel om voort te vaar Haifa toe, waar die passasiers ongehinderd aan land kon gaan. Maar toe hoor ons nog hierdie woorde ook deur die stil nag dawer: ‘Dan sal hulle geïnterneer word’. ”
“Julle kon nie in die land gaan bly nie?”
“Nee, Yhosh, ons is 14 dae later op daardie selfde skip teruggelaai. Sonder kos en medisyne is ons teruggestuur na die hel waarvandaan ons gekom het – al het ons gesê ons sal liewer sterf as teruggaan. Terwyl ons op die boot se dek gebid het, het die inwoners van Haifa uit simpatie met ons in die strate betoog. Hulle het plakkate gedra wat gevra het dat die hekke oopgemaak moet word vir die Joodse vlugtelinge. Dit alles het niks gehelp nie. Die Britte was nie beïndruk nie. Hulle het die treurige ou boot die see in gestoot en ons teruggedwing Europa toe.”
“Wat het toe van julle geword?”
Dovid sug. “Yeled, dis ’n lang en baie hartseer storie. Laat ek dit vir jou op ’n ander dag vertel.”
“Maar het julle almal lewend uitgekom?”
Chaim lê sy hand op Yhoshi se arm. “Dovid het sy ouers en albei sy broers in die doodskampe verloor. Net hy het wonderbaarlik oorleef. Eendag sal ek en jy vir hom gaan kuier,” hy kyk na Dovid wat knik, “dan sal hy jou die hele storie vertel.”
Later stap Chaim en Yhoshi deur die shuks af na die Muur toe, want dit is byna tyd vir Ma’ariv. Die eeue oue stene gloei roesbruin in die laatmiddaglig. Die mossies swerm Muur se kant toe vir die komende nag. Dit het koeler geword, maar die reuk van warm aarde hang nog swaar in die lug.
Yhoshi hou sy oupa dop. Chaim het sy groot swart hoed afgehaal en vir hom gegee om vas te hou. Nou trek hy die tallit versigtig uit die sakkie, skud dit oop en vou dit behendig oor sy kop en skouers. Hy lig die tzitzit na sy lippe en raak dit ligweg aan. Toe laat sak hy sy voorhoof teen die Muur en Yhoshi hoor hom sag sê: “Avinu Malkeinu Echad.”
Iets in sy oupa se stemtoon stuur ’n bewing deur die kind sodat hy sy oë vinnig toemaak en met sy vingers teen sy kippah raak. “Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu,” prewel hy.
Hy dink aan Dovid se verhaal en die mense wat vergeefs op die skip gebid het. Hy dink aan die Britte wat hulle nie by die land wou laat inkom nie en aan die Arabiere wat hulle so vreeslik gehaat het – die Arabiere wat hulle nog altyd haat. Hy dink ook aan die babatjie wat op die skip dood is en in die see begrawe moes word. Waarom het HaShem hulle nie gehelp nie? Hulle is dan sy eie volk? Dan dink hy aan Natan en sy binneste krimp ineen. Toe hulle terugstap na die Ou Stad, het Abba vir Saba op sy selfoon gebel om te sê die dokters hou Natan vir die nag in die hospitaal omdat hulle nog toetse wil doen. Ook dat hy en Imma daar by hom gaan bly totdat hy slaap. Hy kyk op na Chaim wat effens heen en weer wieg terwyl hy bid en hy sluk swaar.
“Saba,” het hy gevra toe Chaim hom die nuus vertel, “dink jy dis slegte nuus van Natani?”
Chaim het sy hand styf in syne geneem. “Ek weet regtig nie, maar dit klink nie vir my heeltemal goed nie.”
Die woonstel in Rechov HaYehudim is so leeg en stil dat Yhoshi styf teen sy oupa aan op die rusbank gaan sit. Hy wil nie oor Natan praat nie, want dan sien hy hoe bleek en na aan trane sy boetie vanoggend was toe hulle weg is. Hoe styf hy aan sy ma vasgehou het. Hy gryp in sy gedagtes rond na iets waaroor hy kan praat voordat sy oupa dalk iets oor Natan sê. Hy dink weer aan die gesprek met Dovid en sê sommer wat in sy kop opkom.
“Ons het mos die reg om in hierdie land te woon – nè, Saba?”
Chaim kom uit sy eie gedagtewêreld terug en kyk na die kind langs hom. “HaShem het die land vir ons gegee, Yhosh. Hy het dit met ’n verbondsbelofte aan Avraham Avinu en sy nageslag en ál hul geslagte gegee. Die nasies van die wêreld aanvaar nie hierdie verbondsbelofte nie, maar ons het ook ’n ander, tweede reg op hierdie land. In 1947 het die Verenigde Nasies aan Israel die reg gegee om ’n staat hier te stig.”
“Maar hier het mos Arabiere ook gewoon.”
“Nachon, die VN het hulle ook die reg gegee om aan die westelike kant van die Jordaan ’n onafhanklike staat te stig. Hulle wou dit egter nie hê nie.”
“Maar die Palestyne sê dan dit was hul land nog voordat die Jode hier gekom het.” Yhoshi weet nie waarom hy dít sê nie, want hy ken eintlik die antwoord. Om die een of ander rede maak die onthou van Natan se wit gesiggie hom lus om met Chaim te stry.
Sy oupa kyk hom ’n oomblik takserend aan voordat hy antwoord. “Net soos jy netnou vir Dovid gesê het – die Palestyne is nie afstammelinge van die Filistyne waarvan ons in die Tanach lees nie. Hulle is al meer as 700 jaar voor Yeshua as ’n stam uitgeroei. Palestina was die naam van ’n landstreek, nie van ’n nasie nie. Hier was nooit ’n koning of ’n president of ’n regering nie. Daar is geen ryk Palestynse geskiedenis soos hulle beweer nie. Jy sal nêrens geskiedenisboeke kry wat jou vertel van ’n Palestynse kultuur wat eeue ver teruggaan nie.” Chaim voel verleë oor sy lang verduideliking, maar hy moet veg teen die spanning wat hom wil inhaal oor wat met Natan verkeerd is.
“Dit staan in húl geskiedenisboeke,” sê Yhoshi nors.
Chaim skud sy kop. “Dan staan daar ’n leuen in hul geskiedenisboeke, Yhoshi. Yerushalayim het eers onder Melech David ’n hoofstad geword. Dit was nooit die hoofstad van enige ander land nie, ook nie van Palestina nie. Voordat Israel ná 1967 beheer gekry het, het Arabiere nooit in Yerushalayim belanggestel nie. En toe ons Yerushalayim ná die Sesdaagse Oorlog verower, was dit nie van die Palestyne nie, dit was van Jordanië.”
Yhoshi skop teen die koffietafel se poot en kyk nie op nie. “Hulle sê dit was hul land voordat ons hiernatoe teruggekom het.”
Chaim merk die kind se omgekraptheid en praat sagter. “Yhoshi, toe die Jode in die laaste jare van die agtiende eeu begin terugkom het, is Palestina deur die Turke beheer – nie deur die Arabiere nie. Israel was ’n moeras, ’n woesteny, ’n verwaarloosde land. Dit was ’n plek wat niemand wou hê nie. Eers nadat die Jode teruggekom en die land voorspoedig en vrugbaar kom maak het, en ’n nasie tot stand gebring het, het die kwessie oor ’n Palestynse staat opgekom.”
Yhoshi bly teen die koffietafel skop en Chaim moet hom bedwing om nie met die kind te raas nie. Hy lê net sy hand waarskuwend op sy been. Die kind hou egter nie op nie. Hy vra: “Vir wat sal hulle dan sê hulle het nêrens anders om na toe te gaan nie?”
Shmu’eli, die wit wolhondjie, het teen Yhoshi se been kom opstaan, maar die kind ignoreer hom. Chaim tel die diertjie op sy skoot.
“Hoekom sê hulle so?” vra Yhoshi weer.
“Yhoshi, 99% van die Midde-Ooste is in Arabiese hande. Israel woon maar op ’n tiende van een persent van die wêreld se landmassa. Hoekom sou hulle nêrens anders hê om heen te gaan nie? Waarom sou hulle êrens anders heen wil gaan as hulle reeds so ’n groot deel het van wat vroeër Palestina was?”
“Hulle is Palestyne.”
“Palestyne is net Arabiere. Hulle is nie te onderskei van Jordaniërs, Siriërs, Libanese, Irakiërs of wie ook al nie.”
“Hulle sê Mohammed was in Yerushalayim; daarom is dit húl heilige stad en nie ons s’n nie.”
“Hoe was hy hier?” vra Chaim ergerlik, al skaam hy hom oor sy kinderagtigheid.
“Hulle sê hy het hiervandaan op sy perd na die hemel opgevaar.”
“Waar kom jy aan ál dié nonsens, Yhoshi?”
“My naam is nie Yhoshi nie en ek kan ook lees.”
Chaim voel hoe die haartjies in sy nek regop kom van ergernis en hy beteuel hom met mening. “Vreemd dat hy hier was, maar dat Yerushalayim se naam nie één maal in die Koran voorkom nie terwyl dit byna ’n duisend maal in die Tora en die B’rit Chadashah staan.”
“Maar hulle …” Yhoshi skop nog ’n maal kwaad teen die tafelpoot. Die kosbare Eiffeltorinkie van glas wat Rivkah uit Parys teruggebring het, val met ’n dowwe plof van die koffietafel af op die mat.
Yhoshi bars onbeheersd in trane uit. Onmiddellik trek Chaim die snikkende kind in sy arms. Aanvanklik sit Yhoshi hom met mening teë, maar geleidelik verslap hy en bly hartseer huil.
Met die swart krulkop teen sy bors gedruk, vra Chaim baie sag: “Wat is verkeerd, lieweling? Hoekom is jy so kwaad?”
Eers kry hy geen antwoord nie en hy vryf die kind se rug kalmerend. Uiteindelik lig Yhoshi ’n betraande gesig op. “Natani gaan doodgaan.”
Skok ruk deur Chaim. Dadelik het hy berou dat hy nie vroeër kon optel waarom die kind so reageer nie. “Nee, Yhoshi, nee. Ek is seker dis net toetse wat hulle doen.”
“Hulle sal nie sonder rede nog toetse doen nie! Hy gaan doodgaan, Saba, ek weet dit. Abba en Imma sal nie daar bly as hy nie baie siek is nie.”
“Hulle wag net tot hy slaap …”
“Nee!” roep die kind weer hard.
“Kom nou, Yhoshi, kom ons vra HaShem om Natani te bewaar.”
Toe sit Yhosh regop en kyk na Chaim. Sy oë is baie donker. “Daardie mense op Dovid se boot het ook vir HaShem gevra en Hy het niks gedoen nie. Ook nie vir ál die mense in die Shoah nie.” Hy begin weer klaend huil.
Chaim vou die bibberende seuntjie weer in sy arms toe. Bokant Yhoshi se kop beweeg Chaim se lippe in ’n stille gebed. Hy pleit geluidloos by die Ewige van Israel.