Читать книгу HaKotel: Die muur - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6
Hoofstuk 4
ОглавлениеJerusalem
22 Julie 2013
Rivkah word die Maandag in die vroeë oggendure weens ’n eienaardige droom wakker. Op die horlosieradio voor die bed sien sy dis net ná drie-uur. Natan het die vorige middag teruggekom huis toe en sy slaap voorlopig ’n paar nagte in Yhoshi se bed, langs syne. Yhoshi het vir eers by Marc in die hoofslaapkamer ingetrek.
Sy staan op om te kyk of Natan rustig is. Deur die kamer se oop vensterraam kom die naglug nog warm na binne – ’n herinnering aan Jerusalem se ongenadig hete somerdae in Julie. Oor die Hurvah-sinagoge op die plein hang die maan laag. Sy lig val die kamer skemerig binne.
Natan slaap soos altyd op sy rug. Rivkah staan lank na hom en kyk. Hy het nie meer die groot verband om sy kop nie. Oor die operasiewond is net ’n breë, wit strook pleister. Gelukkig was dit nie dié keer nodig om te veel van sy hare af te skeer nie – net ’n strokie aan die linkerkant. Die res van sy welige bos donker krulle raam die gesiggie wat reeds weer effens kleur kry.
Sy buk oor en soen hom liggies in sy hare sodat hy sug en in sy slaap effens glimlag. Soos dikwels in die verlede tref dit haar hoe sprekend hy op Marc lyk. Sy kyk deur die venster na die Hurvah-koepel wat in die sagte lig van die maan glim. Sy sien die bome waarvan die ruie blare net effens in die soel nagluggie roer. Een van die plein se vele katte glip skigtig oor die keistene en verdwyn in die donker.
Opeens klink die hol gehoe-hoe van ’n naguil deur die stil nag op. Dit laat Rivkah skrik. Sy het die uil nie vlakby haar in die olmboom opgemerk nie, maar nou sien sy hom daar sit en dié knipper met sy groot, geel oë.
“Shalom,” fluister sy om Natan nie wakker te maak nie. Die uil hoe-hoe weer. Nou besef sy eers dat hy in werklikheid met sy rug na haar toe sit en sy nek heeltemal omgedraai het.
“Laila tov,” sê sy gedemp, en die yslike oë knip weer asof hy haar groet.
Toe eers onthou sy die droom waarvan sy wakker geword het. Daar was die gesiglose vrou wat sy om die een of ander rede herken het, en tog nie kon eien nie. Dis die vrou wat so verdrietig gehuil het. Die onthou laat haar ril. Wie was dit dan?
Die uil roep nog ’n keer en toe weet sy meteens wie die vrou is. Dis die Arabiese vrou wat die nag voor Natan se operasie in daardie grusame ongeluk haar man en dogtertjie – en byna haar eie lewe – verloor het. Dit was die ongeluk waarheen sy en Aviel uitgeroep is. Die vrou het haar gevra om te bid net voordat sy die teater ingestoot is. Nóg ’n rilling trek deur haar, want nou kom die vrou se gesig so duidelik voor haar op dat sy selfs die donker vlekke onder haar pragtige oë kan sien.
“Wat sê U vir my, Adonai?” fluister sy.
Ál antwoord wat sy kry, is die uil wat sy vlerke met ’n wir-geluid sprei en dan deur die nag wegswiep.
Sy gaan teen die oop vensterraam staan om te kyk of sy hom nog iewers kan sien sit, maar hy het verdwyn. Toe dink sy aan Aviel – anders as wat sy aan hom gedink het in die twee jaar wat verby is. Toe moes sy haar dikwels met verbetenheid keer om nie die nagte te onthou wat hulle saam in Haïti was nie.
Die kere dat sy hom soms skrams by MADA gesien het, het dit dikwels nog haar hart onstuimig laat klop en haar asem in haar keel laat vassteek. Soms was dit as gevolg van verlange na hom, maar meestal weens skuldgevoelens en verwyt. Langsamerhand het dit rustiger in haar geword. Sy het begin saamleef met die wete dat, al sou sy nooit werklik kon vergeet wat tussen hulle gebeur het nie, dit nie meer ’n skadu sou gooi oor die manier waarop sy Marc altyd liefgehad het nie. Maar nou die dag met die ongeluk het sy geskrik vir die helderheid waarmee die beelde na haar toe teruggekom het.
Sy leun haar gesig teen die nog louwarm ruit aan. “Adoni, Adoni,” sê sy byna onhoorbaar, “dankie dat U my in Yeshua vergewe het. Help my dat hierdie herinneringe nie weer deel van my bestaan sal word nie. Ek het u heilige Naam oneer aangedoen en U het my weer heelgemaak. Help my om sonder hierdie … sonder hierdie onthou te leef. U alleen weet hoe lief ek Marc het. Help my asseblief dat niks weer tussen ons kom nie.” Haar oë word nat van trane. “U het Natani vir ons teruggegee.”
Sy bly lank so staan en sonder dat sy dit besluit het, begin sy fluisterend die Aleinu-gebed bid wat elke Tora-getroue Jood elke dag bid en waarmee sy in die rabbi se huis grootgeword het. “Baruch Hu, Shehu noteh shamayim v’yosed aretz … Geseënd is Hy wat die hemele uitgestrek en die fondasies van die aarde gelê het en Wie se troon van heerlikheid in die hoogste hemele is, die teenwoordigheid van sy majesteit in die verhewe hoogtes. Hy is ons God, daar is geen ander nie. Hy is ons Koning, daar is niemand soos Hy nie …”
’n Diepe vrede neem van haar besit en sy bly met haar kop teen die venster staan en uitkyk oor die plein. Toe begryp sy ook dat die Ewige van Israel haar in die droom gevra het om die vrou te gaan opsoek.
“U sal my die pad moet wys, want ek weet nie hoe ek dit sal doen nie.”
“Ek is die weg!” Yeshua se woorde kom helder by haar op.
Sy voel wonderlik naby die Here en bly nog lank daar staan, half betower deur die sagte lig wat oor die plein en die sinagoge daaragter val. Eers toe Marc aan haar raak, kom sy agter hy is daar. Sy draai om en hy neem haar in sy arms.
Eers praat hulle nie, maar toe vra hy sag: “Wat doen jy dan hier?”
Sy beduie dat hulle Natan sal wakker maak as hulle daar praat en hy gaan saam met haar na die woonkamer.
“Wag,” sê hy, “ek gooi vir ons ’n bietjie sjokolademelk in.”
Toe hy uit die kombuis terugkom, gaan hy by haar op die rusbank sit. “Waarom was jy op? Was Natani nie lekker nie?”
In die flou lig van die maan kan hulle mekaar net-net sien. Sy kyk na hom oor die rand van die beker sjokolademelk wat sy aan die drink is. Hy ruik die soetheid van haar nabyheid. “Nee, ek het ’n vreemde droom gehad.”
Begeerte begin in hom roer en hy trek haar teen hom aan. “Waarvan was dit dan?”
Sy dink ’n rukkie na voordat sy van onder sy ken na hom opkyk. “Ek moet eers vir jou die agtergrond verduidelik.”
Sy hand sluit oor haar bors onder die skamele pajamas wat sy aanhet. “Nou verduidelik dan maar.”
Sy lag verleë. “Wag eers, dis ernstig.”
“Ek wag.”
Sy neem sy hand weg en soen sy vingers voordat sy praat. “Die aand voor Natani se operasie het ek mos gewerk …”
Hy knik. “Wat is so ernstig daaromtrent?”
“Luister nou eers, Marc.” Sy vang sy dwalende hand stewig in hare. “Daar is mos nou met die vakansie ’n personeeltekort, so toe daardie skietery by Giv’at Ze’ev én die verskriklike ongeluk op die Beit-Shemesh-pad gebeur het, moes Golan vir Aviel inroep.”
Rivkah voel Marc se hand in hare verstyf, maar sy moet verder praat. “Dit was die eerste keer ná … ná al die tyd dat ons weer saam gewerk het.”
Hy sê niks, maar sy kan voel hoe swaar sy hart teen haar klop. “Marc, toe ek nou so lank daar in die kinders se kamer voor die venster oor die plein staan en kyk, het ek … geweet dit is verby – vir altyd verby …”
Hy sê steeds niks nie.
“Marc?”
“En wat van hóm?”
Sy dink aan die oomblik by die hospitaal nadat die vrou in die teater ingeneem is, toe sy so verskriklik ontsteld was. Dit was toe Aviel na haar toe gekom en haar net vir daardie oomblik vasgehou het. Sy dink aan die gedagtes wat deur haar gegaan het toe hulle vir die eerste keer weer saam gewerk het. Sy weet dat sy Marc nie daarvan kan vertel nie, maar dat sy ook nie anders kan as om eerlik te wees nie. Eenmaal het sy Marc se vertroue verraai en sy wil dít nie weer doen nie.
Daarom sê sy: “Ek kan nie namens hom praat nie, maar ek weet van myself.”
Dit neem ’n ruk voordat hy sê: “Dankie dat jy my vertel het.”
“Glo jy my?” Sy kyk op na hom.
Hy steek sy gesig in haar welige hare weg. “Ja,” sê hy net gesmoord.
“Ek het jou lief, Marc. Weet jy dit?”
Eindelik antwoord hy baie sag. “Ek weet.”
“Maar daar het nog iets daardie aand gebeur …”
Sy dag dat sy hom effens hoor kreun en sy sê haastig: “Dit het niks met Aviel te make nie.”
“Wat dan?”
Sy vertel hom van die vrou, van die meisietjie, van hoe dit haar eie vrese oor Natan daardie aand vererger het. Sy voel hom langsaam teen haar ontspan.
“Ek het vannag van haar gedroom. Dit was so verskriklik duidelik. Ek wil gaan uitvind wat van haar geword het – hoe sy oorleef sonder haar man en haar enigste kind. Ek glo dis wat HaShem wil hê ek moet doen.”
Hy vryf met sy ken oor haar hare. “Sal jy weet hoe om haar te vind?”
“Ek dink ek sal.”
“Dan moet jy dit doen.”
Sy knik. “Ek wil dit ook doen om dankie te sê dat dit so goed gegaan het met Natani.”
Hy soen haar teen die kant van haar gesig en hulle sit vir ’n ruk so stil bymekaar.
“Dis byna vieruur en jy werk môreoggend,” sê hy later. “Wil jy nie gaan slaap nie?”
Sy skud haar kop. “Daar was netnou ’n uil in die olm hier voor. Hy het met my gepraat.”
“Die vrou en die uil,” sê hy dromerig en sy hand gaan sag oor haar buik. “Sal ek dit skilder?”
Haar asem raak kort. “Ja-a-a.”
Hy trek haar pajamahempie op, buig oor en soen haar klein borste. “Daar’s ’n kind in my bed.” Sy stem klink gesmoord.
Sy lag sag in die holte tussen sy nek en skouer. “Dié is bed genoeg.”
“Ek’s te lank daarvoor,” mompel hy, steek sy arm onder haar deur en tel haar op. Op die sagte mat voor die dooie kaggel laat hy haar sak en klim uit sy slaapklere.
Toe neem hy haar so sag dat trane in haar oë skiet. En nie een van hulle hoor die uil wat weer in die olmboom begin steun het nie.
Twee middae later, toe dit bewolk is en koeler word, neem Marc klein Natan saam met hom na sy werkplek in die Cardo. Die verlange in hom om te skilder het so pynlik geword dat hy dit nie meer kan teëhou nie. Die klein ateljee omvou hom met die lieflike geur van verf en terpentyn, boetseerklei en nuwe houtskool. Met verwondering merk hy ook watter uitwerking dit op sy kleinste het. Natan haal ’n handvol pastelle uit die boksie wat op die werktafel staan en druk dit teen sy gesig aan.
“Ruik jy dit, Abba?” Sy donker oë skitter.
Marc lig die brose mensie op en soen hom in sy welige hare. “Ek is bly jy ruik dit ook.”
“Kan ek nou teken?”
Marc lag en sit hom neer. “Natuurlik kan jy.” Hy haal ’n skoon tekenvel uit en lê dit langs die pastelle op die tafel neer. Toe trek hy Natan se hoë bankie nader en help hom op. “Wat wil jy teken?”
“Die Hurvah,” sê die kind sonder aarseling.
“O?” Marc is verbaas. “Kan jy hom dan sommerso uit jou kop teken?”
“Jy sal sien, Abba.”
“Goed dan,” sê Marc en stel sy esel op.
“Wat gaan jý doen, Abba?”
“Skilder.”
“Wat?”
“Jy sal sien, Natani.”
Die kind lag ingenome. “Beseder.”
Marc staan ’n rukkie ingedagte voor die esel. Dan vlieg die houtskool oor die doek, liggies maar ferm. Heel gou vergeet hy van sy omgewing; ook van Natan wat stil en ernstig oor sy eie tekening gebuig sit.
Daar verskyn ’n vrou op die doek. Sý vrou. Hy sien die kontoere van haar liggaam wat hy só intiem ken, die buiging van haar nek, die lig teen die sagte lyn van haar ken, haar donker oë, die soetheid van haar mond. Hy sien haar klein, spits borste en die ronding van haar heup. Hy teken die uil in die boom voor die vensterraam – die vrou en die uil.
Rasend snel meng hy die kleure van sy verf op die palet. Die wit van die maan wat in die olm se takke hang en die Hurvah-sinagoge vaag daar agter. Hy kleur die vrou se hare oordadig raafswart, haar mond is die kleur van ’n granaat. Die uil se oë skilder hy noukeurig met ’n fyn kwassie. Lank en met detail bly hy daaraan werk.
“Abba!” Natan se stemmetjie dring tot hom deur.
Hy vee die sweet met die agterkant van sy hand uit sy oë. “Wat, lief?” vra hy met ’n sug.
“Jy het Imma geskilder.”
“Ken.” Hy praat mompelend, met die agterkant van sy hand teen sy mond.
“Jy het nie haar klere geskilder nie …”
Toe eers kyk hy af in Natan se oë. “Ek …” Hy skrik.
“Sy het nie klere aan nie, Abba,” sê die kind weer fluisterend.
“Nachon, ek het dit vergeet.” Hy vee weer oor sy gesig. “Maar kyk, sy kry ’n mooi doek oor haar.” Hy verf kwistig oor die naaktheid heen.
Stadigaan verlaat die intense gevoelens hom sodat hy weer dieper kan asemhaal. Hy weet waarom hy haar naak geskilder het. Sy het daardie nag van Aviel gepraat. Die uil se oë … Dis Aviel wat na haar kyk. Marc voel sy asem wegraak toe hy dit besef.
“Dis ’n tallit wat jy verf, Abba …”
Hy moet wag totdat hy normaal kan praat. “Ken, Natani.”
“Imma dra nie ’n tallit nie, Abba.”
“Dis mooi, is dit nie?” Hy staan ’n tree agteruit om saam met die kind te kyk.
Natan knik. “Maar ’n uil het groot geel oë …”
“Ek sal hulle geel maak, Natani, en groot.”
Die kind knik en kyk stip terwyl hy skilder. Hy praat nie.
Eers toe hy klaar is, sê Natan: “Nou is dit reg, Abba. Nou is dit Imma en ’n regte uil.”
Marc buk oor die tenger seuntjie en druk hom teen sy bors. “Natani, my babbelossie,” fluister hy.
“Huil jy, Abba?”
“Nee, ek huil nie. Ek het jou baie, baie lief.”