Читать книгу HaKotel: Die muur - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Dis byna tienuur die aand toe Marc en Rivkah eindelik tuiskom. Hulle is duidelik moeg en oorspanne. Dit het lank geneem om Natan aan die slaap te kry, selfs met ’n susmiddel. Hy was geweldig angstig omdat hy ná die vreesaanjaende toetse van die dag ook nog in die hospitaal moes agterbly.

Rivkah se moeder, Hadassah, wat vroeër die aand aangekom het, het kos gemaak. Sy het daarin geslaag om Yhoshi redelik tot bedaring te bring, maar kon hom eers aan die slaap kry nadat hy gesien het sy ouers is terug. Nou hou hy sy ma styf vas en kyk haar bekommerd aan.

“Dis alles in orde, skat. Hulle wil net nog ’n paar toetse doen om seker te maak hy het niks verder nodig nie.”

Rivkah se wit gesig stel hom nie gerus nie. “Kom hy môre huis toe?”

“Ek is byna seker, ja.”

“Gaan hulle weer ’n operasie doen?”

Rivkah antwoord nie en Marc sit sy arm om Yhoshi. “Ons hoop nie so nie, lieweling. Dis maar net dat dr. Gilles heeltemal seker wil maak alles is 100%.”

“En as dit nie is nie?”

“Dan sal ons môre hoor wat moet gebeur.”

Marc bly kyk in die ogies waarin daar nog soveel vrae is, en die kind bly stil.

Dis ook Marc wat hom uiteindelik in sy bed kry. Eers lees hy vir hom ’n stukkie voor uit die boek wat hulle elke aand saam lees. Dan neem hy Yhoshi se hand in syne om, soos elke aand, die aandgebed vir kinders en daarna die Sh’ma te bid. Die kind trek sy hand terug.

“Wat is dit, Yhosh?”

“HaShem luister nie na wat ons vra nie.” Hy kyk weg voor sy pa se blik.

“Yhosh, HaShem luister na elke woord wat ons van Hom vra. Hy, wat beter as onsself weet wat vir ons goed is, weet hoe Hy moet antwoord wat ons vra.”

“Hoe kan dit vir ons goed wees as Natani doodgaan?”

Dit voel vir Marc of sy stem wil stok, maar hy antwoord so kalm moontlik. “As ons die Sh’ma bid, vra ons Hom niks nie. Ons erken eintlik net wie Hy is: Adonai Echad. As ons môre weet wat Natani se toestand is, sal ons daaroor tot Hom bid.”

“En as Hy nie hoor nie?”

Marc vryf kalmerend met sy duim oor die handjie in syne. “Hy het die vorige keer ons gebed beantwoord, Yhoshi.”

Daar blink trane in die kind se oë. Marc trek hom nader en soen hom. Toe fluister Yhoshi die aandgebed saam met sy pa. En daarna die Sh’ma. “Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu, Adonai Echad.”

Marc bly by sy seun totdat hy seker is die kind slaap. Toe gaan hy uit sonder om te kyk na Natan se leë bedjie waar die gemmerkatjie opgekrul lê en slaap.


Terug in die kombuis peusel Rivkah lusteloos aan die kos wat haar ma voorgesit het. “Natani was verskriklik angstig vandag,” sê sy. “Hy het tog verlede jaar en ook in Meimaand nooit só gereageer nie. Hy het my so styf vasgehou dat hy elke keer wakker geword het wanneer ek sy handjie versigtig wou losmaak sodat ek kon opstaan.”

“Miskien het hy agtergekom hoe gespanne ons is,” antwoord Marc.

“Wat is jul plan vir môre?” vra Chaim, wat intussen ook aangekom het.

“Ek het met iemand omgeruil sodat ek eers twee-uur begin werk. Ek kan ongelukkig nie die dag af neem nie. Dis skoolvakansie. Baie van die personeel is met verlof. Maar Marc het vakansie.”

Marc kyk eers na sy vrou en toe na sy skoonpa. “Ons het gedink om môre vroeg saam hospitaal toe te gaan en daar te bly om te hoor wat die uitslag van die skandering en die ander toetse is. Maar nou, met Yhoshi wat so oorstuur is, wonder ek of een van ons nie maar hier by hom moet bly, pleks van om hom vroegoggend na julle toe te neem nie.”

Rivkah knik instemmend. “Ek sal môreoggend gaan en Natani huis toe bring wanneer hy klaar is. Of as hy nog moet bly …” Sy byt op haar lip en kyk vinnig weg.

Chaim wil sy dogter gerusstel. “Bel my net, Rivvie. As hy nog moet bly, sal ek Marc hier kom haal, hom hospitaal toe neem, jou MADA toe vat en Yhoshi na ons toe neem.” Chaim neem sy dogter se hand in syne.

“Todah, Abba,” sê Rivkah met oë wat rooi van die trane is, “maar Marc kan maar met die motor kom en as dit nodig is, kan hy vir Yhoshi na julle toe neem. Ek haal sommer môreoggend die bus.”

“Wat presies het Gilles gesê?” vra Hadassah saggies.

“Basies net dat daar ’n letsel op die skandering wys waaroor hy nie heeltemal gelukkig is nie. Hy wou vandag nóg ’n skandering doen en môre verdere bloedtoetse. Die rede waarom hy hom vannag daar gehou het, is omdat hy hom op ’n binneaarse drup gesit het. Dis alles goed wat hom angstig maak en aan verlede jaar herinner.”

“Nie een van daardie dinge klink goed nie,” prewel Hadassah.

Chaim vind dit moeilik om die woorde te vind omdat hy die toneel vroeër die dag met Yhoshi skerp in sy geheue het, maar hy sê dit tog: “Ons sal HaShem vertrou.”

Rivkah glimlag flou. “Ja, Abba,” sê sy, “ons kan niks anders doen nie.”


Toe hulle uiteindelik in die bed is, kruip Rivkah styf teen Marc aan. Hy vryf sy gesig in haar hare. Sy voel koud teen hom, ten spyte van die warm naglug buite.

“Jy moet slaap, chamudah. Môre word nog ’n moeilike dag.”

“Ek is bang, Marc. Ek is net só bang.”

Ek ook. Ek is verskriklik bang, wil hy sê, maar hy doen dit nie. “Dit kan ook iets heel eenvoudigs wees.”

“Dit kan die kanker wees wat teruggekom het. Marc, ek sien nie kans daarvoor nie.”

Hy hou haar stywer vas. “Ons sal daardeur kom. Ons het die Ewige van Israel om aan vas te hou.”

Sy sug net. Later sê sy: “As hy vannag wakker word en ons is nie daar nie, gaan hy histeries word.”

“Saggies, lief. Hulle sal mooi na hom kyk,” is al wat hy kan sê.

“Dit voel of ek wil doodgaan binnekant, Marc,” fluister sy teen sy skouer.

Hy draai om na haar toe, en neem haar in sy arms en soen haar gesig herhaaldelik. Hy proe die sout van haar trane en weet ook hý wil doodgaan van binne wanneer hy die trauma van die vorige jaar onthou.

Eindelik raak sy tog van vermoeienis aan die slaap, maar hy lê so met haar nog in sy arm die donker nag en instaar. Buite op die plein hoor hy hoe die eerste voorherfswind die olmbome se blare oor die stene jaag. Sonder dat hy wil, voel hy weer Natan se klamgeswete handjie in syne. Gistermiddag het hy met hom in die koelte van die boom voor Moshe se winkel gesit. Die kleintjie het lusteloos teen hom aangeleun en geen belangstelling getoon in sy maatjies wat luidrugtig op die plein aan die speel was nie.

Marc het sy sketsboek en pastelle uit die skildersak getrek. “Kom,” het hy gesê, “teken jy vir my daardie hopie granate op die tafel daar.”

Die seuntjie het sy kop teen Marc se mou geskuur sodat die lang donker hare oor sy gesiggie geval het. “Teken jy dit, Abba.”

“Ag nee, kom nou, Natani. Jy kan dan sulke pragtige granate teken. Kyk net hoe helder kleur die son hulle daar op die vensterbank.”

Maar die kleinding het sy gesiggie in Marc se los hemp geberg. “Ek wil nie.”

“Oy vey!” het Marc met valse vrolikheid geroep, want sy hart het benoud in sy binneste geklop. “Jy wíl nie? Waar het ’n mens nou só ’n ding gehoor?”

“Ek is moeg, Abba.”

Dit was skaars ’n fluistering, maar Marc het dit gehoor. Hy het die sketsboek en pastelle op die grond laat gly en Natan op sy skoot getrek. Styf teen sy bors, kon Marc sy hartjie angstig hoor klop.

“Babbelossie, môre wanneer dr. Gilles jou weer gesien het, sal hy jou iets gee om jou weer baie beter te laat voel.”

“Ek wil nie gaan nie.”

“Môre hierdie tyd is alles oor, lieweling,” het Marc magteloos gefluister en saggies met sy ken oor die donker hare gevryf.

“Ek wil nie gaan nie, Abba. Ek wil hier by jou bly.”

“Ons kan nie anders nie, Natani. Jy wil mos nie altyd so moeg wees soos wat jy nou is nie.”

“Sal jy by my bly?”

Marc het dit blindweg beloof. En nou het hy hom alleen gelaat. Die bed word vir hom te nou en hy staan versigtig op om Rivkah nie wakker te maak nie. Shmu’eli maak fyn tjankgeluidjies en kom staan op teen sy bene. Die hondjie vra dat Marc hom optel. Marc loer by Yhoshi in. Hy het vanaand met die verweerde beertjie van sy babajare styf in die een arm aan die slaap geraak. Shishi, Natan se gemmerkatjie, lê steeds opgekrul op sy bed, maar sy is wakker. Marc sien haar wye oë groen glim in die flou lig van die plein se lampe wat deur die venster val.

“Adonai …” kreun hy.

Deur die stil woonstel stap hy met die hondjie in sy arms. Opeens hoor hy homself fluister: “Ek sal nie sterf van pyn en van angs nie, want die Allerhoogste is my lewe.” Toe weet hy sonder die geringste twyfel dat Adonai van die hemel en die aarde van hom bewus is. Hy het met hom in sy angs en verlatenheid gepraat. Hy gaan staan stil en voel stadig maar seker hoe sy asemhaling egaliger word. Daar neem ’n stilte van hom besit sodat hy kan teruggaan kamer toe, terug na sy bed toe. Hy trek sy vrou so styf teen hom aan dat sy half wakker word en verskrik roep: “Wat?”

“Niks,” sê hy. Hy soen haar sag tussen die geurige hare in haar nek. “Slaap maar, ek is hier.”

Donderdag 18 Julie

Die dokter kom na Rivkah toe waar sy met nikssiende oë deur die wagkamer se groot venster sit en kyk. Sy word eers van sy teenwoordigheid bewus toe hy haar naam sê.

Toe spring sy op. “Gilles …!”

Hy neem haar aan die arm en hulle gaan sit.

“Wat?” vra sy bleek om die mond.

“Nie heeltemal goeie nuus nie, maar ook nie heeltemal sleg nie.”

“Wat is dit, Gilles?”

“Dit wat ek op die eerste skandering vermoed het, was op die tweede duideliker. Daar is ’n heel klein gewas …”

“Adoni …” kreun sy met haar hand naby haar mond.

“Maar luister nou wat ek sê – dis aan die buitekant van die skedel en dit is moontlik dat dit nie kwaadaardig is nie.”

“Moontlik?”

“Ek sou sê die kanse is 50/50.”

Sy knyp haar oë styf toe. “So groot?”

Hy knik. “Ongelukkig.”

Sy sluk. “Moet dit verwyder word?”

“Ja, en dadelik, want ek wil absolute sekerheid hê.”

“Nóg ’n operasie,” sê sy en kyk weg deur die venster.

“Nie naastenby so groot en gevaarlik soos die eerste nie, Rivkah.”

“Maar ’n operasie en alles wat daarmee saamgaan …” Sy druk haar vuiste teen haar oë.

Gilles wag totdat sy haar hande laat sak.

Sy sug. “Miskien het ek dit diep in my hart verwag, want hy was die laaste weke al so bleek en half lusteloos.”

Die dokter knik. “Weet jy, hy moes dikwels hoofpyn gehad het. Vir ’n wyle al, maar ek dink hy was te bang om dit vir julle te sê. Miskien was hy bang vir nóg ’n operasie.” Die trane loop nou vryelik oor Rivkah se wange. Hy haal ’n sakdoek uit en gee dit vir haar aan.

“Dis natuurlik ook waarom hy hierdie keer so verskriklik bang was om hospitaal toe te kom.”

“Hy is nou ses jaar oud, Rivkah. Hy weet wat om te verwag.”

“Wanneer wil jy opereer?”

“Môreoggend.”

Sy trek haar asem skerp in. “Ek sal met MADA moet reël. Ek moet vanmiddag twee-uur gaan werk oor ek vanoggend … ek …” Sy bly verward stil.

Hy neem haar weer aan die arm. “Paramedikus, ek praat nou met jou. Kom by.”

Sy haal diep asem en glimlag flou. “Slicha.”

“Ek wil voorstel dat jy gaan werk en dat Marc hier na hom toe kom. Hoe natuurliker julle optree, hoe rustiger en makliker gaan dit vir hom wees. Ek weet ook hoe dit by MADA lyk. Aviel was netnou hier met ’n setlaar wat in die kop geskiet is toe hy in sy motor op pad was van Jerusalem af. Net voor Giv’at Ze’ev. Hulle het nou elke paar hande nodig wat beskikbaar is.”

Sy knik. “Miskien is jy reg. Kan ek nou na Natani toe gaan?”

“Natuurlik kan jy, maar hy slaap nou. Ek het hom met ’n kalmeermiddel ingespuit ná ál die narigheid van die skandering en die bloedtoetse.”

“Hy was so ontsteld toe ek voor die tyd by hom was. Het hy baie gehuil?”

“Nee, nie soveel soos ek gedink het hy sou nie. Dit is alles maar baie traumaties vir ’n kind.”

Daar is weer trane in haar oë. “Ek kan my nie indink dat hy nóg ’n operasie moet hê nie.”

“Vasbyt en glo,” sê hy.

“Moet hy vanaand hier bly?” vra sy.

“Ja. Ek wil hom aan die binneaarse drup hou en nog bloed gee. Ek wil ook môre vroeg opereer.”

Sy staan ’n oomblik weerloos en hy slaan sy arm om haar. “Gaan werk nou. Dit sal jou goed doen. Sorg net dat Marc hier is wanneer hy so oor ’n uur wakker word.”


Toe Rivkah vroegoggend weg is hospitaal toe, was Yhoshi al wakker. Ná sy optrede van die vorige aand was Marc onseker wat om van sy oudste te verwag, maar die kind was kalm; daarom het Marc, nadat hy vir hom ontbyt gegee het, voorgestel dat hulle afgaan plein toe. Enersyds wou hy sit en teken omdat dit sy gedagtes tot so ’n mate sou aflei oor wat by die hospitaal aan die gebeur is. Andersyds wou hy Yhoshi van sy rekenaar wegkry sodat hy buite kan speel.

“Kom,” sê hy, “ek is seker Avraham sal onder op die plein wees. Dit sal nie weer so warm soos gister word nie.”

“Kan ek hom bel om te vra of hy kom?”

Marc knik. As dit van hom afhang, sou Yhoshi nie op agt al sy eie selfoon gehad het nie, maar omstandighede in die land is van so ’n aard dat ’n mens altyd onmiddellik met jou mense in aanraking moet kan kom as die een of ander krisis opduik.

Yhoshi kan sommer gou al aankondig: “Avraham is al op die plein, Abba.”

Toe hy sy selfoon in die sak van sy jeans terugdruk, hou Marc sy hand uit. “Nee, los dit hier, julle kan ’n slag iets anders doen as net met jul selfone speel.”

“Abbaaa! Avraham het sy foon daar! Daar is niks anders om te doen nie!”

“Wat het julle twee dan gedoen voordat julle selfone gehad het?”

“Niks!”

“Nou doen dan vanoggend weer ’n bietjie niks.”

“Bevakasha, Abba! Ek het Avraham die hele week nie gesien nie en daar is so baie wat ons met ons fone wil doen.”

Marc se vermoë om voet by stuk te hou, is wankelrig vanmôre. Hy sug. “Nou goed, Yhosh. Vir ’n halfuur, maar tienuur bring jy die foon vir my. Is dit duidelik?”

“Todah rabah, Abba!” Hy is by die deur uit nog voordat Marc die skildersak uit sy studeerkamertjie gehaal het.

“Hy het ook nodig om te ontvlug,” sê Marc hardop vir homself. Hy sug. Voordat hy uitgaan, laat hy sy kop teen die Muur sak en bid om genade vir sy kleinste vir alles wat die dag mag inhou. Daar is ’n donker vrees in sy hart wat hom nie wil verlaat nie.

Buite is dit beslis koeler as die vorige paar dae. Marc soek ’n onbesette bank onder een van die bome op. Shmu’eli, wat hom getrou oral volg, spring langs hom op die bank en kyk, kop op sy voorpootjies, na die druk menseverkeer wat oor die plein beweeg.

Oorkant Marc voor die Hurvah-sinagoge sien hy die twee seuntjies druk besig met hul selfone. Nou die dag nog het hulle hul speelgoedtrekkers daar rondgestoot, dink hy half weemoedig. Voor sy geestesoog kom die herinnering op van Natan toe hy ’n skrale twee dae gelede saam met hom hier was. Hy laat sy kop sak en meteens ontbreek die energie hom om sy sketsboek uit sy sak te haal. Hy word eers bewus van iemand wat langs hom kom staan het toe ’n bekende stem hom groet.

“Shalom, achi! Hoe sien jy dan vanmôre so beroerd daar uit?” Moshe staan daar teen die môreson, sy sagte oë vraend op Marc gerig.

Marc glimlag flou en maak ’n hulpelose gebaar met sy hande. “Klein probleempie.”

Moshe krap die hondjie tussen sy ore. “Soos?”

“Natani was gister weer vir ’n skandering en die dokter het hom vannag daar gehou om vanoggend nog toetse te doen. Rivkah is daar by hom.”

Moshe fluit saggies deur sy tande. “Nie so goed nie.”

“Nee,” sê Marc, “ek is bekommerd.”

“Wanneer verwag julle die uitslag?”

“Eintlik enige oomblik nou; Rivkah is al van sewe-uur af by die hospitaal.”

“Sterkte, Marc, ons sal vir julle bid.”

Moshe het nog nie eens die honderd treë terug na sy winkel afgelê nie, toe Marc se selfoon in sy binnesak lui.

Toe Rivkah hom hoor, slaan haar stem só weg dat dit ’n rukkie duur voordat sy kan praat.

Marc temper sy skrik en vra so kalm moontlik. “Rivvie?”

“Hulle gaan weer opereer, Marc.” Hy hoor haar hyg om weer beheer oor haar stem te kry.

“Wat is dit?”

“Hy weet nie. Hy moet opereer om sekerheid te kry.”

“Wanneer?”

“Môreoggend.”

Marc kreun. “Wat dink hy?”

“Hy sê die kanse is 50/50 dat dit … kwaadaardig kan wees.”

“Wat dink jý?” vra hy sinloos.

“Ek weet nie.” Sy begin rukkerig huil. “Ek weet niks meer nie.”

“Wag, ek kom na jou toe.”

“Ek gaan twee-uur werk toe.”

“Jy … wat?”

Haar stem word sterker. “Gilles het gesê daar is niks wat ek op die oomblik kan doen nie. Daar’s ’n krisis by die werk ook en te min mense. Maar as jy nou kan kom voor hy wakker word en Yhoshi by Abba-hulle kan aflaai, sal dit goed wees.”

Marc trek homself bymekaar. “Miskien ís dit die beste as ons alles so normaal moontlik hou. Ter wille van Natani.”

Én van ons! Maar dít sê hy nie.

“Dis wat Gilles ook reken.”

“Dan doen ons dit. Rivkah …”

“Hmm?” Sy huil weer.

“Ek het jou lief.”

Hy hoor haar snik en toe sê sy gedemp: “Kom gou, Marc.”


By MADA is daar inderdaad chaos. Behalwe vir die terreuraanval by Giv’at Ze’ev, het daar minute voor haar aankoms tyding gekom van ’n ernstige motorongeluk op die Beit Shemesh-pad waarin drie voertuie betrokke was.

Eers toe sy in aller yl met haar instrumentetas voor in die ambulans klim, sien Rivkah Aviel is die bestuurder. Sy sit ’n paar oomblikke woordeloos langs hom in die voertuig wat loeiend en met flitsende ligte deur die druk verkeer slinger.

Aviel praat eers toe hulle op die oop Jerusalem/Tel Aviv-snelweg kom en die verkeer effens bedaar het. “Hulle het my vanoggend vroeg ingeroep …” sê hy, sy oë stip op die pad voor hom.

“Jy het dan verlede nag ook gewerk.” Sy kyk deur die syvenster na buite.

“Daar is eenvoudig nie genoeg personeel nie.”

Dis sy stem wat haar onverhoeds betrap … die bekendheid daarvan. Rivkah se hande kramp styf inmekaar op haar skoot en haar mond is kurkdroog. Dit is of die verbyflitsende verkeer vervaag en sy weer te midde van die verwoesting van 2010 se aardbewing in Haïti staan. Hulle was lede van die paramediese span wat ’n veldhospitaal daar beman het. Sy en Aviel … Haar vingers klem stywer inmekaar.

In ’n nag wat alles vir haar meer geword het as wat sy kon hanteer, het hy na haar toe gekom …

Sy kyk nie na hom nie, maar sy weet hy onthou soos sy onthou. Kortstondig soos die seksuele verhouding was, so heftig was dit ook. En so moeilik is dit om aan die herinnering te ontkom …

Die ambulans swenk verby ’n enorme vragwa en mis ’n aankomende motor net-net. Sy trek haar asem skerp in. Vir net ’n oomblik ontmoet hul oë.

Rivkah se gedagtes gryp na Marc, na die verskriklike oomblik toe hy besef wat tussen haar en Aviel gebeur het. Sy dink aan die ontsettende verskeurdheid in haar oor die man wat sy liefhet en die man met wie sy seksueel verbind geraak het. Sy ril by die gedagte aan die enorme krisis waarin sy hul huwelik gedompel het en aan die geweldige uitwerking wat dit op Yhoshi en Natan gehad het. Sy herroep die ontsaglike pyn wat dit gekos het om alles uiteindelik weer by te lê. Onbewustelik laat sy haar ingehoue asem skiet sodat Aviel weer vlugtig na haar kyk.

Deur die geloei van die sirene heen, doem die herinneringe aan die verlede weer voor haar op. Sy dink aan die seminaar in Skotland wat sy en twee mede-paramedici in Desember van daardie selfde jaar bygewoon het en waar sy ’n referaat moes lewer. Die aand voor hul vertrek het een van haar kollegas siek geword en Aviel moes in sy plek gaan.

Rivkah kyk deur die venster na die landskap wat verbyvlieg en probeer aan die beelde ontvlug. Aviel se nabyheid maak dit onmoontlik.

Daardie Desember het die moed haar totaal ontbreek om Marc so kort nadat hulle die skerwe van hul huwelik weer opgetel het te vertel dat Aviel skielik sou saamgaan. Sy het dit eenvoudig verswyg. Sy het naïef gebid dat Marc dit nie te wete sou kom nie.

Sy pers haar lippe opmekaar in ’n desperate poging om van die beelde los te kom, maar sy onthou hoe Aviel in daardie eerste nag in Glasgow weer na haar kamer toe gekom het. Daardie nag het daar niks tussen hulle gebeur nie, maar sy was oorrompel van skrik toe sy besef hoe sterk die seksuele aantrekking tussen hulle steeds was.

Haar mond word opnuut droog toe sy dink aan Marc se ellende toe daar ’n foto van haar en Aviel, saam by die seminaar, in die Jerusalem Post verskyn het. Groter as sy pyn oor wat gebeur het, was sy skok dat sy hom verraai het. Dié nuwe aanslag het byna alles wat hulle oor agt jaar saam opgebou en ná die vorige aanslag herwin het, tot in die grond vernietig.

En tog – tóg besef sy noudat alles weer so helder na haar terugkom – het die verskriklike pyn uiteindelik hul verhouding verstewig. Hulle moes leer om te vergewe, al het hulle voorheen gedink hulle het geweet hoe. Hy vir haar en sy haarself. Van alles was dit die moeilikste om weer te vertrou.

Sy sug en Aviel kyk weer in haar rigting.

Ná Skotland het sy besluit om nooit weer dieselfde skof as Aviel te werk nie, veral nie weer in dieselfde ambulans nie. Aviel het haar besluit gerespekteer en die reëling geld nou al twee jaar lank. Maar hier sit hulle nou, gedompel in ’n krisis wat deel is van hul normale, daaglikse verantwoordelikheid, langs mekaar in dieselfde ambulans.

Rivkah kyk nie na sy hande op die stuur nie en sy weier om toe te laat dat die geur van sy naskeermiddel haar meevoer na dáárdie nag toe hy so naby aan haar was. Waarom moes die noodlot hulle vandag weer saamgooi? Dit woed in haar binneste. Sy sien haar kind se bleek, slapende gesiggie voor haar, en Marc – sy donker hare natgesweet teen sy voorkop – wat haar in die hospitaalgang vashou terwyl sy van ontsteltenis ruk.

Adonai, wees my genadig, pleit sy angstig en klem haar vingers stywer inmekaar.

Die omstandighede op die toneel van die noodlottige ongeluk is van so ’n aard dat elke ander emosie op die agtergrond vervaag. Twee ongelukslagoffers het reeds beswyk. Vyf ander se toestand is uiters kritiek. Twee van hulle is kinders, jonger as Natan. Rivkah en Aviel werk onverpoos saam met die drie ander paramedici wat intussen ook aangekom het.

Op pad terug sit Rivkah agter in die loeiende ambulans by die beseerde Arabiese meisietjie. Haar toestand is bedenklik en Rivkah weet nie of sy die hospitaal lewend gaan haal nie. Sy bid aanhoudend oor die kind. En vir haar eie. Op ’n gegewe oomblik gaan die donker ogies oop en kyk wasig op in Rivkah s’n. Daar kom ’n trek om die mondjie asof sy wil huil. Dit roer Rivkah sodat sy afbuk en haar soen terwyl sy dieselfde trooswoordjies herhaaldelik in Arabies fluister.

Minder as twee uur nadat sy met Marc daar gestaan het, probeer Rivkah in ’n ander gang van die hospitaal die kind se geskokte ma kalmeer. Die ma is self ernstig beseer en wag op ’n trollie om na die teater geneem te word. Sy is dankbaar dat sy Arabies vlot kan praat sodat sy kan verduidelik dat die vrou se dogtertjie nog leef en reeds in die teater is.

Haar man is ’n mediese dokter, vertel die vrou huilend. Hy het die motor bestuur. Weet Rivkah of hy leef? Die ambulans het hom weggeneem voordat sy haar bewussyn herwin het.

Rivkah weet hy leef nie meer nie, maar dít hoef die vrou nie nou te hoor nie. Daarom sê sy dat sy nie seker is nie; sy weet hy is ernstig beseer. Haar dogtertjie leef, troos sy die ma. Sy is in ’n ander teater opgeneem. Hoe kritiek haar toestand is, verswyg Rivkah egter ook.

Die vrou gryp haar hand huilend vas. “Bid vir my,” pleit sy.

Rivkah besef dat sy van haar verwag om tot Allah te bid. Sy hou die koue hand met albei hare styf vas en bid net om genade sonder om ’n god direk aan te spreek.

“Bid ook vir jou God,” prewel die vrou.

“Adonai,” fluister Rivkah koorsagtig in Hebreeus, “wees ons albei genadig.”

Toe neem die verpleegkundige die vrou die teater in en Rivkah bly staan. So ’n verskriklike verlatenheid neem besit van haar dat sy haar hand oor haar mond klem.

Iemand vat haar arm vas en toe sy omkyk, staan Aviel daar. Hy staan daar soos hy die dag in Haïti by haar kom staan het toe alles net te veel geword het.

“Dis verskriklik,” sê sy bewend. “Haar man is dood en ek glo nie die kind gaan dit maak nie.”

Aviel skud sy kop. “Nee, sy het nie. Ek wou jou net kom sê. Sy is in die teater dood.”

Rivkah knyp haar oë instinktief toe. “Adonai, Atah El,” fluister sy skaars hoorbaar. Sy word daarvan bewus dat Aviel steeds haar arm vashou en sy kyk op na hom. “Natan is ook hier in die hospitaal,” sê sy meteens, haar asem kort in haar keel.

“Natan? Waarom?”

“Hy word môre geopereer.”

“Weer dieselfde?”

Sy skud haar kop. “Ons weet nie.” Haar oë skiet vol trane en sy draai haar gesig weg. Aviel slaan sy arms om haar en vir ’n kort rukkie staan sy so by hom. Toe maak sy haar los. Sonder om weer na hom te kyk, sê sy sag. “Ons moet gaan.”

Aviel sug. “Hulle het nou net laat weet daar was ’n skietery op die pad Betlehem toe.”


Marc sit by Natan se bed toe hy wakker word. Die kind se oë fokus byna onmiddellik op hom.

“Abba!”

Marc moet homself met mening bedwing om nie die seuntjie dadelik in sy arms te neem nie. “Shalom, Natani!” sê hy so gewoon as wat hy kan. “Jy’t lekker geslaap, nè?”

Natan wil regop kom. Toe eers sien hy sy arm is aan ’n drup gekoppel. “Kan ek nie huis toe gaan nie?”

“Babbelossie, luister gou. Dr. Gilles wil maar liewer daai ding weghaal voordat dit jou weer hoofpyn gee soos laas.”

Die kind se oë verdonker. “Gaan ek weer so ’n operasie kry?”

Marc gaan sit op die kant van die bed by hom en trek hom teen hom aan, versigtig om die drup nie te versteur nie. “Nee, nie weer so ’n grote nie. Glad nie. Dit is maar net ’n klein … dingetjie wat hy wil wegneem.”

Natan kyk hom ’n rukkie stil aan. Toe vra hy: “Waar is Imma?”

Marc dwing homself om ’n sorgelose laggie te gee. “Ag, sy moes gaan werk, jong.”

Hy sien dankbaar dat dit die kind inderdaad tot ’n mate gerusstel. Verbaas voel Marc dat dit hom ook tot ’n mate laat ontspan.

“Wanneer gaan hulle dit doen?”

Marc voel die lyfie teen hom weer effens verstyf en hy sê liggies: “Ag, sommer môreoggend sodat jy gou weer kan huis toe kom. Dis mos lekker somervakansie en ons wil dan nog ’n bietjie see toe gaan ook.”

Natan raak teen sy kop. “Waar sit die ding, Abba?”

“Nee wat, jong, ek weet nie eens nie.”

Maar Natan druk met sy middelvingertjie teen sy voorkop aan die linkerkant net onder die haarlyn. “Hierso.”

Marc se hart begin ontsteld klop, maar hy neem die handjie in syne en soen die vingertjies. “Hoekom sê jy so?”

“Ek weet.”

Marc laat sy ingehoue asem sag uit voordat hy vra: “Was dit dan seer daar?”

Natan knik ná ’n rukkie.

“Hoekom het jy dan nie vir ons gesê nie?”

Die kind antwoord nie.

“Natani?” dring Marc aan omdat hy hoop Natan sal dit ontken.

“Ek het Yeshua gevra om dit weg te vat.”

Die pyn skiet verblindend deur Marc en hy druk die handjie wat hy steeds vashou teen sy mond totdat hy voel hy kan normaal praat. Sy stem is nogtans skor toe hy praat. Ál waaraan hy kan dink om te sê, is: “Soms dink Hy anders oor dinge as ons, Natani.”

Die bruin oë kyk op na Marc. “Ek weet, Abba.”

Hulle sit so bymekaar en kyk hoe die son wes draai en die Jerusalemsteen van die Muur oorkant hulle goud kleur.


By MADA het Rivkah se skof ten einde geloop. Dit was ’n middag sonder grasie met die een ellende op ’n ander sodat sy skaars die tyd gekry het om oor haar eie te dink. Nou pak sy haar instrumente, wat sy gesteriliseer het, versigtig in die tas terug. Daar is ’n doodsvermoeidheid in ál haar ledemate.

“Rivkah.”

Aviel staan daar. Hy glimlag verleë. “Ek wou net kom sê ek het met Golan gereël dat ek môre in jou plek werk. En Shabbat ook, want ek sien jy is aan diens omdat ons so min is nou in die vakansie.”

Haar mond gaan effens oop. “Aviel, jy doen nagdiens …”

“Dit maak nie saak nie, ek kan altyd ’n uur of wat se slaap inkry. Ek sal dit doen. Ook Sondag as dit nodig is.”

“Maar …”

“Dis klaar gereël.” Hy kyk af. “Ek hoop dit gaan goed met Natan.”

Toe loop hy weg.

HaKotel: Die muur

Подняться наверх