Читать книгу Alles wat blink - Melissa Scharneck - Страница 4
ОглавлениеDie begrafnis
Die begrafnis
Soms voel ’n mens oorwin deur die lewe. Dit gebeur nie baie nie, maar dit gebeur. Daar kom ’n tyd wanneer dit voel asof jy uit die oorlog kom. Jou eie groot depressie – en jy het verloor.
Albert Einstein het glo gesê: “Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree, it will live its whole life believing that it is stupid.”
Ek het dit net een keer moes hoor om te onthou. Ek voel soos die vis. Nie net is dit my sterreteken nie, maar ek is ook Einstein se vis – die een wat moet boomklim. Alewig dom en lomp omdat hierdie lewe pal allerhande kak my kant toe stuur, waarmee ek nie cope nie.
“Pal” is seker ook nie die regte woord nie. Dis darem nie pal nie. Maar die verskil tussen my kak en ander mense s’n is die enormiteit daarvan. As ander mense ’n bietjie voëltjiestront kry, kry ek ’n reusesleepwa olifantdrolle in my driveway wanneer ek laat is vir werk. Skuins geparkeer, sodat daar geen manier is om verby te kom nie. Nie alleen nie.
As mens hulp het, is dit anders. Jy kan die sleepwa stoot of trek of darem geselskap hê terwyl jy dink aan ander opsies. As jy alleen is, is dit ’n ander storie. Een van sweet en bloed en trane.
Vandag is ek stoksielalleen.
I fought the war, but the war won . . . onthou ek die woorde van ’n liedjie wat ek nie regtig goed ken nie. The war won.
Ek’t laas so oorwin gevoel toe ek my ma se panties in haar hangkas in die malhuis uitgepak het. Al haar onderklere is haar lewe lank so foutloos. Silwerskoon, sonder ’n periodvlek of ’n los garing, om nie te praat van gaatjies nie. Dis iets wat ons nie deel nie. As ’n derde party my panties met my ma s’n moes vergelyk, sou hulle dink ek is ’n veteraan van ’n oorlog in die Midde-Ooste. Daar waar vrouens nie tyd het om periodvlekke met sunlightseep weg te skrop nie en waar daar nie geld is om te worry oor nuwe panties koop as die rekke pap is nie. Waar almal se panties 100% cotton is.
Dis wanneer ek laas gevoel het soos ek vandag voel: toe ek daai spierwit pantytjies in netjiese hopies vou en in ’n vreemde laai wegpak vir my ma.
My ma is nog steeds daar. Sy is nie altyd die ma wat ek ken nie, maar met tye kan ek haar herken tussendeur al die dinge wat ek nié herken nie. Daar is kere wanneer dit voel asof my ma nog my ma is, en asof sy altyd daar sal wees vir my, al praat sy van tyd tot tyd met iets of iemand wat ek nie kan sien nie. Al hardloop sy soms weg, vir ’n bedreiging wat ek nog nie kan voel nie.
Vandag is anders omdat my beste vriendin nie meer hier is nie. Daar, hier, nêrens nie. Hopelik êrens, maar waar ook al dit is, dis buite my bereik.
Dood.
Dis fokken finaal.
Ek sal swart dra. Outyds of nie.
As alle kleure saam tot swart kom, is dit gepas. Al my herinneringe, al die leef wat ek al probeer leef het, kom vandag saam. Dit vergader in ’n kis wat nooit in die grond sal gaan nie, saam met die lyk van my enigste vertroueling.
Ag hel, as daar ooit ’n tyd was vir melodrama is dit seker nou, maar dis asof selfs drama oorbodig geword het.
Alles het in as verander.
Dis natuurlik nie nét Janine se dood wat my so laat voel nie, al speel dit ’n moerse rol. Dis ’n leeftyd se diepe teleurstelling wat te erg geword het. Die laaste strooi op die kameel se rug.
En nou voel dit asof ek nie ’n hel omgee of ek leef of doodgaan nie. As ’n reusagtige atoombom binne die volgende sekonde die wêreld sou uitwis en ek verdwyn in niks, sou dit my nie traak nie. Ek het nie ’n goudvis of ’n man of ’n kind of ’n vriendekring of familie om te wil beskerm nie. Al wat ek het is my ma, en sy sal salig onbewus wees van die kak wat kom in ’n atoombom-situasie.
Al wat ek het is myself, en dis nie iets waaraan ek aldag veel waarde heg nie.
Ek haal my begrafnisklere uit, trek my bra en vest aan. Dan ’n swart kraaghemp en ’n swart trui. Ek soek ’n panty wat meer as halfpad heel is (ingeval ek in ’n ongeluk beland en hospitaal toe moet gaan) en trek dan my beste swart broek aan. Teoreties swart, want in die son het dit ’n roesbruin skynsel van ouderdom, maar die some is nie afgetrap nie en in ’n kerk behoort dit heeltemal skaflik te lyk.
Die hemel help my, ek sien nie kans hiervoor nie.
Janine was nooit ’n vreeslike kerkganger nie. Deesdae lyk dit my is daar in elk geval weinig jongmense wat elke Sondag by ’n kerk uitkom. Want ons dink ons sal vir ewig leef, het ’n priester eenmaal vir my gesê.
Ek weet nie eintlik wat Janine se rede was nie, ons het nooit regtig daaroor gepraat nie. As ek moes raai, sou ek sê dis iets wat nooit vir haar iets was om haar oor te bekommer nie. Diep binne dink almal seker as hulle goed is vir die mensdom en die wêreld, is hulle veilig wat die hiernamaals betref.
Janine was goed.
Sy word vandag uit ’n NG kerk begrawe. Die “en gee en gee en gee”-kerk soos iemand dit eenkeer genoem het. Daar is glo baie kollektebordjies wat die rondte doen en ek het gisteraand al ’n klomp tweerande gemaak sodat ek iets het om in te sit.
Kleintyd het ek eendag ’n knoop in die Sondagskoolbordjie gesit omdat my ma vergeet het om ’n munt saam te stuur. Die Sondagskooljuffrou het gesien en tot vandag kry ek so ’n warm gloed van vernedering as ek daai kyk onthou.
Toe ek by die kerk instap, voel ek dadelik weer soos die dogtertjie wat die knoop in die kollektebord gesit het.
Madie Dreyer staan by die deur.
Sy kyk my blitsvinnig op en af en dan word die afkeer op haar gesig vervang met ’n soet glimlag. Ek kan nie help om te wonder hoekom sy met afkeer na my kyk nie. Is dit die gitswart uitrusting wat afsteek by haar beige snyerspakkie? Of my hare wat ek self knip in vergelyking met haar Cleopatra-snit?
Dalk dink sy nog steeds Janine sou langer geleef het as dit nie vir my was nie.
“Hallo, Sonja.” Sy hou ’n program na my uit.
Hoekom moet sy altyd alles self doen? Ek’s seker daar sit ’n begrafnisondernemer êrens in die kerk wat die kak uit ’n koerant se sudoku speel. Ek glo nie ek het al ooit een van daai goed klaargemaak nie. Dalk is daar een of ander wiskundige kortsluiting in my brein.
“Dankie,” sê ek en stap verby.
Dan oorval die seerste seer my.
In die kerk gesprinkel sit vyf ander mense. Karien en Gerda, twee vriendinne van Janine, die predikant, Janine se prokureur en ’n man wat sekerlik net die begrafnisondernemer kan wees – hy lyk morbied. Te veel dood en te min leef, daar’s altyd werk vir sy tipe. Deesdae elke jaar meer as die vorige.
Ek gaan sit op die naaste kerkbank. Dis so hard, my gat sal dit nooit hou nie. Ek hoop nie die diens gaan vir ewig vat nie. Ek sal enige ander plek wil wees as hier. Eerder hoenders slag of koeie help kalf, panties skrop of aangebrande potte was . . .
Gewoonlik wanneer ek in ’n kerk is, kyk ek na die goed: die vensters en die ligte, die beelde en kerse, al sulke goed. Maar vandag rus my oë op die portret van Janine wat voor in die kerk staan, en daar is nêrens anders waarheen hulle wil dwaal nie.
Die foto is geneem toe sy gesonder was. Haar wange is pienk en haar vel blink. Ek ken dit goed, ek het net so een in my woonstel. Dis geneem in Palermo waar sy met vakansie was ’n paar maande ná ons ontmoeting. Ek kon nie saamgaan nie. Dit was kort voor my ma siek geword het en ek wou by haar bly.
Die foto laat my keel rou voel en ek wil my oë uithuil vir Janine Hunt. Ek kan amper sien hoe die katatoniese gevoel van die afgelope dae wegbeweeg van my af en ek wil dit terugtrek en teen my bors vasdruk. Enigiets is beter as om te huil. As ek nou begin, hou ek nie op nie.
Ek weet nie hoe dit gebeur nie, dis asof ’n vlaag stoom uit ’n pot ontsnap en voor my oë wasem, maar toe ek weer kan fokus, is ek terug by die kerkdeur. By Madie.
Sy lyk asof ek haar kan omtik met ’n houtlepel. “Wat nou?” vra sy.
As sy kon, sou sy seker die sin met “fokop” eindig. Maar ek dink sy kán letterlik nie. Daarvoor is sy heeltemal te ordentlik.
“Nee,” antwoord ek.
Dis so stupid. Ek is so stupid. Ek kan nie eers ’n sin agtermekaar kry voor ’n vrou wat my nie kan verdra nie.
“Ek . . .” Ek druk by haar verby.
Ek gee eintlik nie om wat sy dink nie, dink ek toe ek die trappe afstap.
Ek gee nie ’n fok om nie.
Toe ek by my kar kom, is ek so dankbaar om uit die kerk te wees. Dis beslis beter hier as op daai harde bank, voor daai foto wat vir ewig dieselfde gaan wees.
Janine sal soos iets uit ’n Shakespeare-stuk nooit vir my oud word nie. Vir niemand nie. En sy sou so ’n fabulous ou vrou wees, ek weet dit sommer. Een van daai tannies wat met haar kierie op die sypaadjie slaan en margaritas op haar voorstoep drink terwyl sy die kinders in die buurt skel omdat hulle haar roosmarynbos vertrap.
Ek ry verby die restaurant waar ek werk, maar ek het nie die krag om in te gaan nie. Wat agter daai deure aangaan, voorspel ook net kak. En vandag wil ek net wegbly. Wegbly van die werk af, wegbly van die kerk af, wegbly van enige ander drama as my eie.
Uiteindelik vind my ou Corolla haar pad terug na my woonstel in Woodstock. Madie Dreyer noem Woodstock die gopse. Ek’s seker meeste mense wat in Bishopscourt bly, noem Woodstock die gopse.
Ek het in die Oos-Kaap grootgeword, en met tye voel ek nog steeds soos ’n toeris in die Kaap. Elke dan en wan tref ’n reuk of ’n uitsig of ’n aksent my en ek kan net glimlag. Dit het vinnig my huis geword en dis maklik om vir die Kaap lief te raak, maar die Oos-Kaap lê nog vlak in my bloed. Ek dink dis die hart van Afrika. Daar waar doringboomsilhoeëtte kunstenaars na hul asem laat snak, waar amper almal drie tale kan praat en op een slag ook, waar Xhosa-vrouens sing en dans, dis dáár waar die hart van hierdie land klop.
Op my tuisdorp is daar nie reuseverskille tussen woonbuurte soos hier in die Kaap nie. Daar is natuurlik die mooier, groter huise en die kleiner, kariger huise, maar niks so hartverskeurend soos wat hier aangaan nie. Gewoonlik het ek al voor nege in die oggend ’n huis gesien waarvoor ek ’n brood wil koop en ’n ander huis waar ek wil instap en hulle brood vir myself vat. Of vir die eerste huis gee, soos Robin Hood. Met mý luck sal ek maagpyn kry as ek gesteelde brood eet.
Ek maak vir my ’n sny toast met Bovril en ’n koppie koffie.
My boek lê nog op die kombuistafel waar ek dit gelos het. As enigiets my vandag na trane gaan dryf, is dit The Enchantress of Florence. Fok weet, ek dink nie ek is heeltemal ongeletterd en onopgevoed nie, maar ek kan net nie vat kry aan daai boek nie. Ek probeer nou al vir amper ’n week.
Ek gee nie gewoonlik moed op met ’n boek nie. As ek sover gekom het om die eerste bladsy te lees, byt ek maar vas, maar vandag maak ek Salman Rushdie se boek toe en sit dit terug op die rak.
Ek kan nie vir die sewemiljoenste keer Griet skryf ’n sprokie lees nie. Dan druk ek dalk ook my kop in ’n oond.
Daar is nog die Marian Keyes wat ek uitgeneem het. Ja, ek dink ek sal eerder lees oor ’n vrou wat nie kan verstaan hoe sy ’n dwelmverslaafde kan wees nie, hoekom is sy dan nie maerder nie?
Rachel’s Holiday it is then.
Iewers in die volgende halfuur, met die omblaai terwyl Rachel se ma huil oor sy nie weet wat van die tinfoil in die huis word nie en my enigste vriendin se verassingsdiens aan die gang is, stamp ek my koffie om.
Dit lek soos ’n tong oor die tafel, oor die biblioteekboek, oor my skoot. Asof dit eerder ’n emmer koffie is as ’n gewone beker met ’n kat op. In die paar sekondes waarin ek fokus op die koffie wat skielik oral is, besef ek nie die koppie val nie.
My koppie.
Ek het daai koppie al vandat ek veertien jaar oud was. Jan Breytenbach het dit vir my gegee vir Valentynsdag. Hy wou my boyfriend wees en ek het eenmaal vir hom gesê ek sal eerder ’n katmens as ’n hondmens wees. Katte kan na hulleself kyk – wanneer ek mal word.
My koppie! Ek trek my longe vol lug en dit kom in ’n reeks snikke uit. Met die opstaan hou ek aan die tafelrand vas. My hand gly en ek slaan op die kombuisvloer neer.
Daar lê ek en my koppie toe. Albei opgefok verby die punt van regmaak. Ek bly lê. En ek huil terwyl die koffie in my skoongewaste hare intrek.
As Madie Dreyer nou hier was – en van my gehou het – sou sy vir my nuwe koffie maak, die kombuis in ’n japtrap skoonkry en ’n kalmeerpil aanbied.
Party mense weet net hoe om die lewe te oorleef.
Ek is nie een van hulle nie.