Читать книгу Alles wat blink - Melissa Scharneck - Страница 5
ОглавлениеÊrens tussen hier en nêrens
Êrens tussen hier en nêrens
Dinge was anders toe ek nog anders was. Klink vreemd, ek weet, maar alles is vreemd. Ek’t nog altyd geweet daar is iets ná die lewe. Natuurlik besef dis waansinnig om te probeer redeneer oor wat dit is, asof logika nou iets daarmee te doen het.
Al garing waaraan my oortuiging gehang het, was die knaende wete: ’n Mens kan tog nie net vergaan nie. ’n Hele lewendige wese, met gevoelens en drome en vrese, kan nie net vergaan nie! Al die gedagtes wat teen die spoed van lig deur ’n mens se brein vlieg, kan nie sommer maar net in niks eindig nie.
Daar is ’n verskil tussen die energie van ’n liggaam wat nie meer wil werk nie, of wat nooit reg wou werk nie, en die brein of spreekwoordelike hart, waarmee daar nooit fout was nie. Heel diep binne-in ’n mens is daar ’n ding, ’n iets wat daai mens maak wie hy of sy is. Dis daardie iets waarin ek altyd onvoorwaardelik geglo het. Iets moet voortleef.
Anyway, hier sit ek nog steeds en probeer om my teorieë te verduidelik – sommige dinge verander nooit.
Die ding is, en vir my is dit ’n groot ding: Mense word agtergelaat. Mense vir wie jy omgee, vir wie jy lief is tot binne-in jou wese. Hierdie mense is nie altyd gereed om jou te laat gaan nie, en jy is selde reg om hulle te laat gaan.
Soms moet mens maar ’n bietjie push – al is dit nou van die ander kant af. Om seker te maak hulle gaan oukei wees. Daar is vir my niks belangriker nie: Hulle moet oukei wees.
Ai, en hulle is ’n ingewikkelde, hardkoppige soort, dié geliefdes na wie ek verwys. Daar is darem net vier van hulle, almal vrouens – en dis al wat hulle gemeen het. Dit, en dat ek lief is vir hulle. Elkeen so baie dieselfde en tog so anders.
Eintlik wil ek die hele spul van hulle gryp en hulle skud. Hard skud. Daar is nog soveel lewe in hulle oor en hulle weier – elkeen op haar eie manier – om te lééf. Hulle het mekaar nodig, maar hulle kon mekaar nog nooit verdra nie.