Читать книгу Alles wat blink - Melissa Scharneck - Страница 7
ОглавлениеSonja
Sonja
Ek het vir Madie eerste ontmoet. Lang jare voor enige van die ander, sy is my oudste vriendin.
Sonja het later gekom, aansienlik later in my lewe. Ná my eerste hartaanval, ná die dood van my ma en pa, ná ek my virginity verloor het, ná ek die eerste paar kere my tasse gepak en die wye wêreld ingevaar het. Wat anders doen mens as jou ouers vir jou sakke vol geld gelos het en jy nie weet hoe lank jy het om te leef nie? Jy gaan eet sushi in Japan en pizza in Italië, jy spring op ’n boot om te kyk waarheen dit jou vat en jy praat met mense wat dink jy is ’n oulike uitlandertjie met ’n aksent.
Ek het Sonja Viljoen ontmoet toe ek een-en-twintig was. Op ’n vliegtuig, uit Frankryk op pad terug huis toe.
Sonja is nés ek. Ek kan nie eers sê sy pas my soos ’n handskoen nie, want ons is al twee die handskoen. Sonja is die tipe vriendin wat nie ’n sekonde ná my gaap nie, sy gaap saam met my. As ek in my kar geklim het om na haar te ry, het ek haar gewoonlik langs die pad gekry – op pad na mý toe.
Ek en Madie is dieselfde ouderdom . . . wás dieselfde ouderdom: dertig. Sonja is drie jaar jonger, maar sy het daai wyse-ou-vrou-kyk in haar oë. Asof sy al alles gesien het. As dit nie vir my hart en haar brein was nie, was ons dalk nooit vriende nie.
Toe ons mekaar ontmoet het, het haar ma net begin mal word. Waansin is al generasies in haar familie. Ons eerste ontmoeting was kort ná haar ouma se dood. Ouma Anna het van die malhuis se dak afgespring. Sy het geglo haar vlerke sal haar oor die inrigting se heining dra. Hoe sy dit reggekry het om op die dak te kom sonder om deur die vele verpleegsters en wagte gesien te word, bly tot vandag haar geheim.
Ouma Anna was glo ’n doodnormale kind wat grootgeword het om ’n doodnormale vrou te wees. Maar op ’n dag het sy stemme begin hoor en dinge begin sien asof dit nog altyd daar was. Sonja wonder steeds wanneer presies dit was wat haar ouma verander het. Sy het baie gesê sy voel asof sy iets miskyk. ’n Gebeurtenis wat van ’n gawe ouma ’n verleentheid gemaak het.
Sonja voel so sleg daaroor dat sy haar skaam vir haar ouma, haar ma, haar eie gene. Wie kan haar daarvoor verkwalik? Ek dink alle mense is skaam vir die dele van hulleself wat moontlik ander mense sal laat lag. Daai lelike lag waarvoor laerskoolkinders so bang is. Wanneer jy weet jy kan nie saamlag nie, want hulle lag vir jou. Vir Sonja het dit nie ná laerskool opgehou nie.
In haar hoërskooljare was sy angsbevange dat iemand sou uitvind van haar ouma Anna. Wat sou sy doen as een van die skoolkinders uitvind Sonja Viljoen se ouma glo sy kan met die duiwel en met Marilyn Monroe praat? Of as mense sou besef dis háár ouma wat kaal in die supermark rondloop en ’n balrok soek omdat sy ’n afspraak met Napoleon het?
Ouma Anna is lankal dood, maar Sonja Viljoen is nog steeds bang. Bang dat mense nie sal verstaan wat met haar ma aangaan nie. En nog banger dat malheid ook haar voorland is.
Sonja se lewe is maar swaar. Sy wag om ook stemme te begin hoor. Of om een oggend op te staan en nie die wêreld om haar te herken nie. Met ons eerste ontmoeting het sy my hierdie dinge vertel. Dinge wat sy voorheen met niemand anders gedeel het nie.
Dit was so maklik vir ons om geheime uit te ruil, asof dit die natuurlikste ding op aarde was. Sy’t seker iets in my gesien wat ook nie sterk genoeg was om die lewe te oorleef nie. Nie op ’n normale manier nie, anyway.
Sonja se ma wou hê sy moes Frankryk toe gaan. Dit het al die Viljoens se spaargeld gekos, maar sy wou nie rede hoor nie. Al was daar die meeste van die tyd nie melk en suiker in hulle huis nie, moes Sonja gaan.
“Ek het haar nog nooit maller sien lyk as die dag toe sy my op die vliegtuig gesit het nie. Ek sal haar ook nooit weer minder mal sien lyk nie,” het Sonja my daardie dag op pad terug huis toe vertel.
Maar ek het verstaan. Haar ma wou net seker maak Sonja dóén dinge. Wanneer jy wag om waansinnig te word – of vir jou hart om te gaan staan – weet jy een ding sonder twyfel: Jy beter leef terwyl jy nog kan. As die son op ’n wintersdag op jou val, moet jy seker maak jy geniet dit, want jy weet nie of daar nog ’n winter gaan wees nie.
Sonja het ’n punt daarvan gemaak om elke dag iets te doen wat haar gelukkig maak. Om ’n herinnering te skep, iets waaraan sy kan vashou. Selfs wanneer ek te sad was om op te staan, het sy my uit die bed kom haal en het ons iéts gedoen. Al was dit net om te gaan fliek of ’n pot skaak te speel. Of sommer net koffie te drink, sy uit daai verdomde koppie van haar waarop sy so heilig was.
Vandat ek weg is, doen sy niks meer wat lekker is nie. Asof sy probeer opmaak vir al die verdriet wat ons mekaar gespaar het. Sy praat met niemand nie; al wat sy doen, is werk. Ek dink nie sy geniet eers meer haar werk nie. Sy doen dit net sodat sy kan betaal vir haar ma se verblyf in die inrigting.
Ek mis dit só om met haar te praat.
“Ek’s altyd bang niemand kom na my begrafnis toe nie.”
“Het jy al ooit vir ’n dodge ou ’n blow job gegee?”
“Dis ’n idee!”
“Wat?”
“As mens al die dodge ouens bymekaarkry vir wie ek al ’n blow job gegee het, kan dit dalk ’n kerk vol maak!”
Sy het my nooit jammer gekry nie. Dit was wonderlik. Iemand wat dink jammerte oor ’n ding wat nie gaan verander nie, is tydmors. Kosbare tyd.
Of dalk is sy net nóg iemand wat goed kan wegsteek hoe baie sy my, haarself en die hele wêreld jammer kry.
Sonja is ’n sjef. Sy werk vir ’n goeie man. Daar’s nie veel van dié spesie nie, maar Pierre Vorster-Swart is ’n goeie man. Wanneer kommer oor Sonja ruk aan die plek waar my hart was, gaan ek na waar Pierre naby haar is.
Hy besit die VS Restaurant. Dit staan vir Vorster-Swart, maar Sonja het dit herdoop na Vol Stront. Al sou ek wou stry, kon ek nie. Pierre is so vol kak soos tien – wat die restaurant betref.
Alles moet perfek wees, van die kos tot die blomme, die uniforms, badkamers, servette, selfs die plantegroei. Elke jaar vroegherfs stuur hy ’n kelner of twee om in die bome in die rokerstuin te klim en hulle te skud. Hulle moet die takke skud tot al die blare wat wil val, val. Daarna moet hulle dit ophark.
Niemand sit ’n voet verkeerd in die VS Restaurant nie, maar dis nie ’n vreesaangedrewe toewyding nie. Hulle weet Pierre is maar net lief vir sy restaurant. Altyd eerste by die werk en laaste om huis toe te gaan. En soms, wanneer hy in die middel van die besige restaurant staan, kan enigiemand met oë sien hy is die trotsste man in die Kaap. Die VS is sy passie, en as mense sy passie deel, kyk hy mooi na hulle. Sy manier van doen wérk, en hy raak net moeilik as mense nie sy bevele noukeurig volg nie.
In die geskiedenis van die VS Restaurant was daar nog net één mens wat Pierre kon oortuig dat hy nie altyd reg is nie: Sonja Viljoen.
My vriendin het nie aldag die geduld wat haar baas openbaar nie, en sy is beslis nie die subtielste mens wat meningsverskille betref nie. Ek was eenmaal in die kombuis toe sy ’n flan tien meter ver in Pierre se rigting gegooi het. Toe die flan so ’n meter links van hom die vloer tref, het hy koeltjies omgedraai, geglimlag en gesê: “Jy, juffroutjie, gaan nou dadelik vir my nog ’n flan maak.”
Sy was só woedend. Dit was amper ’n jaar gelede, toe sy nog skaars ’n maand by die VS gewerk het. Maar selfs toe het almal behalwe Sonja geweet sy’s die baas se oogappel. Sy is vinnig en effektief en sy maak nooit ’n fout nie. Al die kos wat haar hande verlaat, is hemels en al die nuwe idees waarmee sy vorendag kom, werk. Die restaurant was altyd gewild, maar vandat Sonja die hoofsjef is, is dit vol bespreek.
Ek gaan nie lieg nie: Alles van Pierre, van sy eerlike ogies tot sy fabulous eetplek, álles van Pierre Vorster-Swart impress die kak uit my uit, maar ek het nou eers besef wat my die heel meeste impress. Hy sorg elke oggend dat daar ’n helse tafel in sy kombuis gedek word en al wat siel is moet inspring en help ontbyt maak tot die tafel vol kos staan. Dan eet almal saam, soos ’n familietjie. Pierre sit aan die hoof van die tafel, met Sonja aan sy regterkant.
Terwyl almal woel en werskaf om die kos reg te kry, lees hy die koerant. Wanneer Sonja kom sit, beteken dit hulle is reg om te eet. Dan word die koerant opsy geskuif sodat Pierre met sy mense kan gesels. Die kelners praat onder mekaar; die skoonmakers klets ’n hond uit ’n bos. Almal beplan en bespiegel oor die dag se werk wat voorlê asof dit ’n oorlog is wat kom.
Dis hier waar ek die graagste inloer op my vriendin.
Vanoggend daar langs Pierre lyk dit of Sonja oukei gaan wees. Ek gaan kyk nie meer wat saans by haar woonstel aangaan nie, dis te erg om te aanskou. Net die ander aand het sy vir amper drie ure na haar kombuistafel gestaar. As sy nie net in stilte in die kombuis sit en staar nie, lê sy op haar bank en staar na die mat, of in haar bed en staar na die dak.
“Het jy enigiets nodig vir môre?” vra Pierre sonder om op te kyk van sy omelet.
Almal weet hy praat met Sonja. Hy klink anders as hy met haar praat, sagter as met die res van die span. Sonja weet van haar kollegas se weddenskappe oor ’n moontlike romanse wat aan die broei is. Dit irriteer haar grensloos. Sy voel dit sit dalk net idees in Pierre se kop as hy daarvan te hore moet kom.
Sy is wonderlik naïef, soos ’n klein kind, wat Pierre se hartsake betref. As jy my vra, het hy self die eerste bet geplaas. “Ek gaan haar nog oorwin, jy sal sien,” het hy ’n paar weke voor my dood vir my gesê.
Sonja skud haar kop. “Niks, alles is gister al afgelewer. Ek voorsien geen probleme nie.”
Pierre glimlag vir haar soos die son wat opkom en sy bloos en kyk vinnig weg.
Ek wil my doodlag vir haar. Al probeer sy hoe hard om saaklik en suur te wees met hom, kry sy dit nooit reg nie.
Haar plan is eenvoudig: Bly weg van mans af. Geen man beteken geen kinders wat wag om eendag mal te word nie. En niemand wat hulle sal skaam vir haar as sy die dag so mal soos ’n springhaas is nie.
“Ek wil tog net nie lastig wees vir mense nie, Janine. Ek wil nie hê mense moet na my kyk en hulle oor my bekommer terwyl hulle hulle eie lewens kan lei nie. Dit klink vreeslik, asof my ma vir my ’n las is. Sy is nie. Ek is lief vir haar, jy weet dit, maar dis juis omdat ek weet hoe dit voel om ’n geliefde so te sien dat ek dit vir niemand anders toewens nie. Ek kan dit nie aan enige man doen nie.”
Die “siklus”, soos sy dit noem, sal met haar tot ’n einde kom.
Persoonlik dink ek sy is vol kak en sy moet ’n kans vat en kyk wat gebeur, dis tog nie op ’n kliptafel uitgekap dat haar kop gaan uithaak nie, maar sy voel baie sterk daaroor.
Pierre weet van niks. Ek dink sy moet hom vertel, anders gaan hy binnekort dink sy’s net ’n koei. Hy kan dalk moed opgee met haar, maar ek glo nie hy sal nie. Hy’s ’n goeie man. ’n Goeie man sal tot aan die einde van die aarde gaan eerder as om moed op te gee.
Ná ontbyt begin almal afdek en skoonmaak. Sonja gaan na haar area van die kombuis en maak asof sy die toerusting inspekteer. Eintlik kyk sy onderlangs na Pierre tot hy in sy kantoor verdwyn.
Ek wens ek het vroeër geweet wat ek nou weet. Sy het dit altyd so vurig ontken . . . Ek sou nooit kon dink hoe moeilik dit vir haar is om saam met Pierre te werk nie. Al wat sy wil doen, is om in te gee. Tog baklei sy so hard teen haar gevoelens, dit maak haar amper fisiek seer. Ek wens sy wil ophou om vir haarself soveel reëls te stel.
“Sonja!” roep Pierre uit sy kantoor.
Sy sug en stap daarheen. “Ja?”
“Hoe voel jy?” vra hy.
Asof sý sal bespreek hoe sy voel. Hy verwys natuurlik na my not so sudden death en my begrafnis gister.
Sonja se mond trek op ’n knop. Mense wat haar nie ken nie, dink sy lyk bemoerd wanneer sy dit doen. Eintlik is dit hoe sy lyk as sy nie wil huil nie: Sy byt die linkerbinnekant van haar onderlip. Ou truuk, ek het dit ook altyd gedoen.
“Ek’s oukei,” antwoord sy na genoeg oomblikke van stilte.
“Ek’s jammer jy . . . moet deur al hierdie dinge gaan. As jy enigiets nodig het . . .”
“Ja, Pierre.” Sy stap by sy kantoor uit.
’n Regte koei. Toegesluit en afgebaken in haar eie vrese. Maar Pierre sal aanhou probeer. Ek weet dit sommer. Dit kalmeer my.
Solank hy naby is, sal Sonja oukei wees. Hy sal haar beskerm. Geen vyand sal groot of sterk genoeg wees om in sy pad te staan nie. Behalwe Sonja self.
En sy sal dit regkry ook, dink ek mismoedig toe ek aanbeweeg na Gerda.