Читать книгу Alles wat blink - Melissa Scharneck - Страница 9

Оглавление

Karien

Karien

Die dag toe die dokter my terminaal verklaar het, het ’n doodse vrees oor my toegesak. Dit het gevoel asof ek nie kon asem kry nie, asof ek net daar sou omkap. Toe hoor ek van Karien van Zyl en haar jogaklasse wat glo vreeslik kalmerend is.

Ek het ondersoek ingestel oor die vrou en uitgevind sy is ook ’n fortune teller. Dit het my laat glimlag. Iemand moet ernstige dryfkrag hê om so ’n elaborate scam te laat werk!

Ek het besluit om by die jogaklas in te val. Ek was die hele dag oukei, maar toe die laatmiddagklas begin, was ek glad nie lekker nie. My hart het weer woes geklop en ek was sweterig en lighoofdig van angs.

Op my jogamat sien ek toe uit die hoek van my oog vir die eerste keer hoe lyk Karien van Zyl. Alles aan haar herinner my aan water. Haar groot borste en haar breë heupe en al haar ander sagte kurwes lyk of hulle perfek inmekaarvloei. Haar hare val om haar skouers soos die see om ’n mens se enkels spoel en haar oë is so ’n ligte blou dat dit amper deurskynend is, nes water.

Ek wou dadelik aan haar raak. Ek wou haar voel om seker te maak sy bestaan. G’n mens kan tog met toe oë deur ’n vertrek vol mense wat op die vloer lê loop sonder om een maal iemand raak te trap nie?

Ek kon my oë nie van haar af wegskeur as my lewe daarvan afgehang het nie. Ek was bang as ek vir ’n oomblik wegkyk, mis ek iets waarvoor ek ’n leeftyd al wag.

Sy het net tussen die mense deurgesweef en saggies instruksies gegee. Voor dit behoorlik by my geregistreer het, was dit ’n uur later en die klas verby. Almal het huis toe gegaan en ek het bly sit. Om net te kan bly, om vas te hou, soos Madie in haar man se studeerkamer.

“Jy’s te siek om hier te wees,” was Karien se eerste woorde aan my.

Later het sy vir my gesê sy kon my angstigheid soos ’n spinnekop oor haar voel klim. Haar hartklop het aangepas by myne en dit het gevoel asof haar lyf besig was om te breek. Gelukkig kon haar oë dieper kyk as my foutiewe weefsel, verby die goue drade en blou linte wat sy sê my siel versier. Sy kon mý sien. So lief soos ek vir my ander vriendinne is, het ek nooit gedink iemand sou my so goed ken soos wat Karien my dadelik geken het nie.

“Ek is bang,” het ek later daardie aand vir haar gesê.

Sy het voor my kom sit en al twee my hande in hare geneem. Haar deurskynende oë het vir amper ’n halfuur regdeur my gekyk en nog steeds was daar niks.

“Ek is jammer. Dit het nog nooit met my gebeur nie,” het sy haarself verwyt toe sy uiteindelik opstaan en wegloop.

“Dis oukei!” het ek agter haar aangeroep. Ek wou nie hê sy moes wegloop van my af nie.

“Nee,” het sy gesê, “dis beslis nie oukei nie. My hele lewe ploeter ek in al wat leef en beef se toekoms rond, maar nou voel dit asof ek deur ’n bril vol modder kyk.”

Sy kon niks oor my toekoms wys word nie. My verlede en my gedagtes was glo ’n oop boek, maar oor dinge wat nog nie gebeur het nie, was sy so onkundig soos ek self.

Ek kan nie soggens die wil bymekaarskraap om op te staan nie, skryf Karien in haar boekie.

Dis ’n pienk dagboekie soos ’n dogtertjie sal hê. Karien het nog nooit in haar lewe enigiets in ’n dagboek geskryf nie. Toe gaan ek dood.

Ek vertrou nie die pienk boekie nie, om nie te praat van die dinge wat sy daarin skryf nie. Ek is doodbang dit loop uit op ’n helse lang suicide note eerder as ’n dagboek.

Die spreekwoordelike skoen is nou aan die ander voet – myne. En dis ’n 15 cm-stiletto. Ek weet so baie, maar ek weet nie of Karien oukei gaan wees nie. Sy móét oukei wees, dis nie onderhandelbaar nie. Ek kan nie dink . . .

Ek kan my nie ’n lewe indink sonder daai aura van haar nie. Ek wil nie ’n dag deurmaak waarin ek nie die blou linte en silwer drade wat om haar draai, kan sien nie. My enkel voel leeg sonder haar lint wat daaraan vas was. Daar is niks vir my oor nie en ek kan nie . . . Dit het nooit gevoel asof sy op pad uit is nie. Eerder asof sy op pad in is, om te bly, en ek kan nie . . .

Sy hou op skryf en laat sak haar kop tot teen die pienk bladsy. “Ek kan nie,” fluister sy vir die naat van die boek wat nie kan antwoord nie.

Sy ruk en snik nie, maar sy huil en ál wat ek wil doen, is om weer by haar te wees. Soms dink ek ek kan deur tyd en plek breek tot sy my weer kan sien, tot ek weer aan haar kan raak, maar ek kan nie.

Al wat ek kan doen, is wegraak, na ’n plek waar ek nie eers weet of ek ís nie.

Nóú is dit al wat ek kan doen, maar ek het ’n plan gemaak toe ek nog regte dinge kon doen. Die plan beter werk. As dit nie werk nie, is alles dalk verlore – ek inkluis.

Want een ding weet ek vir seker: Ek sal nie tot ruste kan kom terwyl my geliefdes so probeer aansukkel nie.

Alles wat blink

Подняться наверх