Читать книгу Ter wille van geluk - Naretha Franken - Страница 3
1
ОглавлениеToe die deure voor Marina oopskuif, voel sy hoe die trots in haar bors opstoot. Nie net was haar oupa een van die stigterslede van dié unieke kliniek nie, maar vandag is dit deel van haar soos wat dit deel van hom was.
Toe die SARR Kliniek ongeveer dertig jaar gelede sy deure geopen het, het dit slegs uit twee vleuels bestaan. Die doel was uitsluitlik dat erg getraumatiseerde pasiënte hier kon kom aansterk onder die wakende oog van die beste terapeute en dokters in die land. Vandag het dit uitgebrei tot ’n enorme hospitaalkliniek, maar die doel is steeds dieselfde.
Die letter S van die SARR dui haar oupa aan: Sebastiaan. Hy was een van die land se top neurochirurge in die vroeë tagtigs toe sy broer sy rug in ’n motorongeluk beseer het. Twee jaar na die ongeluk het oom Hendrik nog nie aanvaar dat hy sy lewe in ’n rystoel sou moes voortsit nie. Hewige depressie het ingetree en hy het sy eie lewe geneem.
Dit het dokter Sebastiaan Basson tot die besef gebring dat daar regtig nie genoeg plekke is waar sulke mense kan leer om hul omstandighede te aanvaar nie. Óf waar hulle eers weer rigting in hul eie lewe kan vind voordat hulle uitgestoot word in die besige en onverskillige samelewing waar niemand eintlik met hulle simpatie het nie.
Hy en twee van sy vennote is Amerika toe om navorsing te gaan doen en ’n paar jaar later is die SARR Kliniek geopen. Vandag is haar oupa nie meer hier nie, maar sy kosbare werk sal vir altyd voortleef. Toe haar eie lewe vyf jaar gelede in duie gestort het, het haar oupa gereël dat sy hier aangestel word as fisioterapeut en vandag is die plek ook haar veilige hawe. Al het sy met haar oupa se afsterwe van sy aandele geërf en is sy vandag die afdelingshoof van haar seksie, beskou sy dit nog steeds as haar veilige hawe. Hier kan sy haarself wees. Hoef sy nie gedurig oor haar skouer te loer nie en hier kan sy haar liefde vir haar medemens volkome uitleef.
Toe die deure agter haar sag toegly, moet sy haar oë knip om aan die skerp lig gewoond te raak. Dis nog maar die middel van Mei, maar met onweer in die lug is dit reeds donker buite, al wys die groot horlosie agter die ontvangstoonbank dis nog nie eens halfag nie.
Die ontvangslokaal is stil en leeg, afgesien van die ontvangsdame wat op die foon besig is.
Marina waai vlugtig vir haar en stap dan in die lang gang af. Dié deel van die kliniek is reeds verlate, want slegs hier en daar brand ’n lig. By die derde vleuel stoot sy die swaaideure oop en is verbaas om nog lig by die radiografie-afdeling te sien. Die meeste terapeute in dié afdeling werk van ag tot vyf en is dus al heerlik warm voor hulle televisiestelle.
Aangesien sy drie weke met vakansie weg was, het sy vir Lizel, haar ontvangsdame, gevra om die nuwe pasiënte se lêers op die toonbank te laat. Sy wil hulle net gou deurgaan voordat sy môreoggend weer begin werk. Net om bietjie insig te kry in wat in haar afdeling aangaan. Sy skakel die ligte van haar spreekkamer aan, maar stap dan eers verder af in die gang tot waar die lig skyn.
Die radiografis Helene is net besig om die masjiene af te skakel toe Marina om die deur loer.
“Hi,” hyg sy en hou haar hand oor haar hart, “jy sal my ’n flippen hartaanval gee.”
Marina lag en stap die vertrek binne. “Jy werk laat. Nuwe geval?”
Sy knik. “Dokter De Villiers wou nie tot môre wag nie. Ook maar goed, want die arme vrou het baie seerder gekry as wat ons vermoed het.” Sy druk haar kuif agter haar oor in en sug. “Sy is ’n week gelede deur drie mans aangerand en verkrag, maar was daarna te bang om uit die huis te gaan. Nadat hulle haar gelos het, het sy blykbaar die deure gesluit, meubels voor die vensters geskuif en het sy amper ’n week lank alleen daar met haar vrese gesit voordat haar seun bekommerd geraak en haar gaan soek het. Hulle het haar vreeslik verniel, Marina, maar sy weier volstrek om eers na ’n hospitaal te gaan. Behalwe die gekraakte ribbetjies en blou kolle waar die aanvallers haar geskop en getrap het, is haar onderkaak gebreek en boonop het sy erge vaginale gisinfeksie opgedoen.” Trane skiet sommer opnuut in Helene se oë.
Marina trek haar simpatiek teen haar bors vas en laat haar vir ’n oomblik teen haar skouer huil. “Ai, ou Leentjie, ek weet dis erg, maar jy moenie so betrokke raak nie, jong. Jy sal jou moet staal teen sulke gevalle, want dis waarmee ons elke dag hier werk. Ek weet dis baie makliker gesê as gedaan, maar jy sal moet probeer, jong.” Sy vryf liggies oor die jong meisie se rug. “Miskien moet jy gou môre by een van die sielkundiges ’n draaitjie gaan maak.”
Helene skud haar kop en staan bietjie terug. “Dis nie nodig nie. Ek dink ek sal oukei wees. Ek kan net nie glo dat een mens so iets aan ’n ander kan doen nie. Hel, Marina, waar gaan dit eindig?”
Marina lig haar skouers. “En dit raak net erger en erger. Gelukkig is ons hier om hulle te help.”
“Vir diegene wat genoeg geld het om ons te bekostig, ja, maar wat van die duisende siele wat nie eens by ’n dokter kan uitkom nie?”
“Ek weet hoe jy voel, Leen, maar kom, maak gou klaar dat jy by jou huis kan kom. Dis koud en vanaand gaan nie ek of jy iets aan die situasie kan verander nie.”
“Is seker so.” Sy gooi haar hande in die lug op en sug. “Vertel liewer – hoe was jou vakansie? Wanneer het julle teruggekom?” vra sy dan bietjie meer opgeruimd, terwyl sy die res van die masjiene en ligte begin afskakel.
“Salig. Ons was seker so eenuur terug, toe het ek gou die wasgoed in die masjien gegooi en getuimel. Alles is darem nou weer terug op hul plekke en reg vir die volgende jaar se afsloof.”
Sy help Helene die laaste ligte afskakel, wag dat sy die lokaal sluit en stap dan saam met haar terug in die gang af. “Die weer het gelukkig saamgespeel en ons kon die strandlewe behoorlik geniet.” Sy hou haar arms voor haar uit. “Jy kan mos sien hoe lekker bruin en rond ek geword het. Van môre af is ek weer op ’n streng dieet. Net reg eet.”
Helene stamp haar ligweg met die skouer. “Eendag gaan jy nog deur jou eie foefenjol val.”
Voor Marina se spreekkamer gaan hulle vir ’n oomblik staan.
“Dankie, Marina. Jy verskyn ook altyd wanneer mens jou die nodigste het.”
“Ek het net gou ’n paar lêers kom kry. Dit is maar toevallig, maar ek is bly dat ek hier vir jou is. Gaan maak vir jou ietsie om te drink wat jou rustig sal maak en moenie dink dis ’n skande om hulp te vra nie. Dit is daar tot ons almal se beskikking.”
“Dankie, ek sal kyk hoe ek môre voel. Wil jy hê ek moet vir jou wag?”
Marina skud haar kop. “Dis nie nodig nie. Sien jou môreoggend.”
Sy wag totdat Helene by die swaaideur uit is voordat sy haar spreekkamer se ontvangsafdeling binnestap. Arme Leen, sy is nog so jonk. Eintlik behoort daar ’n ouderdomsperk vir die kliniek se terapeute te wees. Wat Leen vanaand gesien het, is niks in vergelyking met van die gevalle wat hulle al hier opgeneem en behandel het nie.
Op die toonbank lê twee stelle lêers met ’n briefie op elkeen. Marina glimlag. Goeie, getroue Lizel. In die begin het sy min hoop gehad dat die nuwe ontvangsdame die mas sal opkom, maar Lizel het voorwaar ontpop as ’n goeie werker wat onmisbaar geword het.
Op die eerste stapel lêers se briefie is in Lizel se netjiese handskrif geskryf: Ouer gevalle se vordering waarin jy moontlik sal belangstel en op die ander briefie: Nuwe gevalle. Sy tel die boonste lêer van die eerste stapel op en glimlag toe sy die naam daarop lees.
Peter Gregory – hoe knorrig en koppig was hy nie! Hy het sy arm net voor sy sestigste verjaarsdag in ’n motorfietsongeluk verloor en toe sommer daar en dan besluit dis die einde van sy lewe. Nadat hy vir die tweede keer probeer selfdood pleeg het, het sy kinders hom hierheen gebring en het hy almal hier harde bene laat kou. Nou is hy ’n ou lammetjie en help hy graag met van die pasiënte se berading.
Met Peter se lêer nog in haar hand, vang haar oog vlugtig die naam op die boonste lêer van die ander stapel en vir ’n oomblik stol die lewe in haar. Voel dit of elke sel in haar liggaam tot stilstand geskok word, voel sy hoe die bloed swaar in haar voete word, en dan kom alles weer in werking, maar teen ’n té vinnige tempo.
Sy begin onbedaarlik bewe.
Nee! Nee! Nee! Asseblief net nie dít nie. Die noodlot kan tog nie so wreed wees nie. Peter se lêer tuimel uit haar hande – blaaie fladder deur die lug en lê oor die mat by haar voete gestrooi.
Sy probeer haar tot kalmte dwing. “Daar is duisende mense met dieselfde naam,” berispe sy haarself, maar haar oë bly op die lêer skuins voor haar vasgenael.
Haar bene is te lam om haar gewig verder te dra en sy val bewerig terug op Lizel se stoel. ’n Rukkie sit sy so, haar bewende hande inmekaar verstrengel, oë steeds op die naam voor haar op die tafel.
Haar oupa het haar gewaarsku: “Jou verlede haal jou altyd in, my kind. Jy kan hardloop, jy kan wegkruip, maak nie saak waar hy jou weer eendag kry nie, maar kry kry hy vir jou.”
Is dit haar verlede wat haar vanaand, na ’n skamele ses jaar, hier kom uitsnuffel het? Haar hele wese smag na vlug. Sy wil huis toe hardloop, die sakke wat sy so pas uitgepak het, weer gaan pak, haar kind in die kar laai en verdwyn.
Die vraag is waarheen? Waarheen en vir hoe lank dié keer?
Weereens maan sy haarself tot kalmte. Sy sweep haar senuwees op, en dalk is dit pure verniet. Nog ’n paar diep asemteue laat haar effens kalmeer. Sy moet seker maak.
Eers maak sy al die papiere op die mat bymekaar, sit hulle netjies terug in Peter se lêer voordat sy weer huiwerig na die ander stapel kyk.
Haar verlede wil-wil soos ’n boek oopval, maar sy stry met alles in haar vermoë daarteen. Sy wil nie daaraan dink nie. Nie vanaand nie, nie môre nie, nóóit weer nie.
Uiterlike letsels soos die meeste pasiënte hier, het sy nie, maar die man met dieselfde naam as die pasiënt in die lêer voor haar het haar siel geknak – gesteel. Boonop het hy alle vertroue wat sy in die manlike spesie gehad het, so geknou dat sy tot vandag toe nog geen man weer naby haar toegelaat het nie.
Haar hande bewe nog erg toe sy die lêer nadertrek. Die geboortedatum, sy moet die geboortedatum kry. Met moeite slaan sy die lêer oop, sien die blokkies waarin sy geboortedatum moet verskyn, maar sy kry haar hande nie stil genoeg om die syfers leesbaar te maak nie. Miskien is dit haar onderbewussyn wat wil help om die gevreesde oomblik uit te stel.
Dis soos ’n droom – jy sien, maar die syfers en gesigte is nooit heeltemal duidelik nie. Dit bly nie net ’n droom nie. Dit word ’n skokkende werklikheid! ’n Mens kan uit ’n droom wakker word, maar nie uit die werklikheid nie.
Al probeer sy hoe hard keer, val die laaste paar jare weg en staan sy weerloos en alleen voor die gastehuiseienaar en smeek om ’n kamer. Net ’n enkele tas langs haar en haar handsak oor haar skouer. Klim die seer, vernedering en haat wat sy so netjies vir die mense om haar kon wegsteek, terug in haar lewe en voel sy magteloser as die dag toe sy besluit het dat sy genoeg gehad het.
Al die tekens was daar, sy moes dit sien kom het, maar wie is blinder as iemand wat nie wil sien nie? Ja, daar was tekens dat haar man verander het, maar sy het dit toegeskryf aan die feit dat sy eie lewe feitlik oornag so radikaal moes verander. Maar daardie aand – die aand van hul eerste huweliksherdenking – het sy ook die eerste keer besef die probleem is heelwat groter as wat sy wou erken.
Sy het die kombuispersoneel die middag afgegee en self ’n feesmaal vir die twee van hulle beplan. Stilweg het sy gebid dat die vorige aand se rusie ook daarmee uitgewis kon word. Christiaan was hopelik ook te besope om veel daarvan te onthou.
Teen halfvier die middag het hy die huis ingestorm, gestort en hom netjies aangetrek.
Sy het met ’n glimlag geluister hoe hy homself regmaak, gedink hy maak hom netjies vir haar en dat hy dalk self iets vir hulle beplan het, maar toe hy oomblikke later uit die kamer kom, het hy haar vlugtig op die wang gesoen en gesê: “Sien jou later. Ek behoort voor ses terug te wees.”
“Christiaan …”
Hy het by die deur omgedraai en gesteurd terug gekyk.
“Toemaar, jy is haastig.”
“Wat is dit nou weer?”
“Ek wou maar net sê …” Sy het haar trots in haar sak gesteek, tot voor hom gestap en haar arms om sy nek gegooi. “Happy anniversary. Ek dink jy het dalk vergeet.”
Vir ’n oomblik het hy verleë, halfgeskok gelyk, maar toe trek hy haar nader en soen haar behoorlik. “Dink jy regtig ek sal so ’n belangrike dag vergeet? Hoekom dink jy is ek so haastig dorp toe.”
Daardie aand was die eerste keer wat hy nie huis toe gekom het nie. Teen seweuur het sy die kos in skottels geskep en in die oond gesit. Teen aguur het sy regtig bekommerd geraak en teen tienuur het sy begin rondbel. Oral waar hy moontlik kon gewees het, het sy gebel. Later ook die hospitaal en polisiekantoor, maar niemand kon haar help nie.
Alleen en hulpeloos het sy op die bank in die sitkamer gelê en gebid dat hy tog veilig moet wees. Almal het belowe dat hulle sou bel wanneer hulle hom sien, maar die telefoon het nie een keer gelui nie. Daar was ook geen boodskappe op haar selfoon nie, hoegenaamd niks.
Teen elfuur het sy die dreuning van ’n motor gehoor en uitgehardloop op die stoep. Haar bene wou onder haar meegee toe sy die blou ligte van ’n polisievoertuig stadig sien naderkom het. Daar op die trappie van die stoep, het sy hulle ingewag, nie in staat om te beweeg nie. Dit was egter net twee konstabels wat haar kom inlig het dat hulle die pad vanaf die dorp tot hier met soekligte gefynkam het en dat daar geen tekens van enige ongeluk of verlate voertuie is nie. Hulle het haar aangeraai om aanklagkantoor toe te kom en hom as vermis aan te gee as hy teen aguur die oggend nog nie terug is nie.
Teen dagbreek het sy vir die hoeveelste keer op die stoep gaan staan, haar arms styf om haar lyf gevou. Al wat sy kon doen, was bid. Van haar goed versorgde naels was min oor.
Skuins voor sewe daardie oggend het hy voor die skuur stilgehou en luidkeels bevele aan die wagtende werkers begin uitdeel.
Dit het haar tyd gegee om te probeer kalmeer. Sy het kamer toe gegaan, haar gekreukelde klere uitgetrek en onder ’n louwarm stort ingestap. Onder die sproei van die water het sy geluidloos gehuil. Eers uit dankbaarheid dat hy veilig is, en toe het die woede oorgeneem.
Die selfoon in haar baadjiesak begin vibreer en dan lui dit. Dit neem haar ’n oomblik om na die werklikheid terug te keer en toe sy die foon uiteindelik in haar hand het, hou die gelui op.
Dit was haar ouma, sy is seker al bekommerd.
Marina haal eers ’n paar keer diep asem en skakel haar ouma terug. “Jammer, Ouma, ek was net te laat. Ek het bietjie vasgedraai, ek’s nou-nou daar.”
“Als reg. Ek sit Stiaan solank in die bed. Hy lyk vir my bietjie koorsig, maar miskien is hy maar net oormoeg. Hy het seker nie veel op die pad geslaap nie.”
“Gee hom in elk geval sommer ietsie vir koors, Ouma. Ek gaan net hier toemaak, dan kom ek.”
Met die selfoon terug in haar sak, dwing haar gedagtes terug na die verlede, maar sy druk Christiaan se lêer met mening onder in die pak in, stapel die twee pakke opmekaar en druk alles in die seilsak wat sy saamgebring het.
Buite het dit liggies begin reën, tog is sy bly dat sy gestap het. Sy het tyd nodig om te dink.
Die reën op haar kop en in haar gesig herinner haar aan daardie oggend onder die stort en die woede klim terug met elke tree wat sy stap. Die driehonderd meter tot by haar wooneenheid voel vanaand hopeloos te kort. Hoe gaan sy deur die nag kom en hoe op dees aarde gaan sy môreoggend werk toe kan gaan met die wete dat hy, Christiaan van Breda, hier iewers naby is?
Haar maag maak ’n yslike draai toe sy aan haar kind dink: Stiaan! Wat van Stiaan?
Die eerste twee jaar het sy en Stiaan by haar ouma-hulle op die dorp gebly en het haar ouma bedags na klein Stiaan gekyk. Kort na haar oupa se dood het een van die eenhede op die terrein van die kliniek oopgegaan en het hulle drie hierheen geskuif.
Hulle het besluit om haar ouma se huis te verhuur totdat Stiaan skool toe moet gaan. Daardie tyd het dit na die regte ding gelyk, maar vanaand wens Marina dat sy nooit die besluit geneem het nie. Vanaand wil sy so ver as moontlik van dié plek af wees.
Omdat haar verblyf en werk so naby mekaar is, kom Stiaan baie dae sommer saam met haar en is hy vir baie pasiënte ’n opkikkering in hul dag. Met sy groot blou ogies en liefdevolle geaardheid het hy van kleins af pasiënte se harte gesteel en stil-stil met die rehabilitasie van party van hulle gehelp. Soms het sy hom selfs toegelaat om vir Milo, sy Jack Russell, saam te bring as sy gedink het dit sou help om iemand se gemoed ligter te maak.
Veral by die ouer en die kinderpasiënte het Stiaan en Milo al meer as een keer die pad vir die psigiaters en sielkundiges oopgemaak.
Noudat hy ouer is, kom en gaan hy al amper soos hy wil. As sy sien, dan is hy maar hier. En as hy nie hier is nie, wil almal weet waar hy dan vandag is. Gelukkig is die terrein veilig en hou die sekuriteitsbeamptes en personeel almal ’n ogie oor hom.
Sy onthou sy eerste kuiertjie by die kliniek en glimlag onwillekeurig ondanks die benoudheid in haar bors.
Stiaan was toe amper drie en het partykeer nog gesukkel met die l- en s-klanke. Eintlik was hy die dag toevallig daar, want haar ouma moes vir mediese toetse Kaap toe gaan en sy het nie geweet wat om met hom te maak nie. Met die nodige toestemming het sy hom saam werk toe gebring, terwyl Lizel tussendeur moes help om hom besig te hou.
Hy was nie ’n halfuur aan Lizel se sorg oorgegee nie, toe dié in trane vir haar kom sê dat Stiaan weg is en dat sy hom nêrens kry nie.
Dit was syself wat hom ’n rukkie later opgespoor het en in haar spore tot stilstand geskok is.
Stiaan het gestaan voor die rolstoel van Pieter Cronje, ’n oupa wat nie net sy arm in ’n ongeluk verloor het nie, maar ook die lewe van sy geliefde kleinseun. Hy was reeds twee maande hier en wou steeds nie regtig met enigiemand praat nie. Hy was koppig en onbeskof. Alles wat hy gedoen het, was onder protes. Die personeellede het moed begin opgee en het wye draaie om hom geloop.
Met ingetrekte asem het Marina agter die pilaar bly staan en gewonder hoe Pieter sou reageer. Sy was gereed om haar kind voor sy aanslag te gaan wegraap, maar toe gebeur die wonderlike oopbreek van die innerlike sweer voor genesing kan kom.
Verslae het sy gestaan en luister na haar driejarige kind en besef hoe sensitief die mensdom eintlik teenoor ’n kind is.
“Is jy kwaad vir liewe Jesus?” Het Stiaan in sy gebroke taal gevra en tot tussen Pieter se bene gestap.
Marina het asem opgehou vir Pieter se antwoord en reaksie. Waar sou Stiaan aan so ’n vraag kom? Haar grootste vrees was dat hy die arme kind sou wegstamp en hoe so ’n gebaar hom kon skaad.
Die was vir ’n rukkie doodstil. Tot die voëltjies in die boom waaronder Pieter gesit het, het stil geraak.
En toe het Pieter gepraat. Hy het vir Stiaan op sy skoot getel, en Marina kon die emosie in sy stem hoor toe hy sag antwoord: “Ek is, ja. Hoe weet jy?”
“Oom se arm is af en oom lyk hartseer. Is dit baie seer?”
“Net partykeer is dit seer. Wat maak jy hier?”
“Mamma werk hier. Ek bly altyd by Ouma, maar sy is vandag hospitaal toe.”
“Wat is jou naam?”
“Thiaan.”
“Tiaan?”
“Nee, oom. Thiaan.”
“O, oukei. Nou weet ek. Stiaan.”
“Jaaaa.” Stiaan het gegil-lag en van Pieter se skoot afgegly. “Is oom ’n oupa?”
Marina se spiere het weer saamgetrek, maar sy het verskuil agter die pilaar gebly.
Stilte.
“Ek was ’n oupa, ja, maar nie meer nie.”
“Hoekom nie? Ith hy dood?”
Pieter moes geknik het, want Stiaan se vertroostende woorde het nie net vir Pieter nie, maar ook vir Marina in trane gehad.
Verslae het sy tot op haar hurke afgesak.
“Toemaar, oom. Hy is nou die mooiste engeltjie in die hemel. My oupa is ook ’n engeltjie, en ouma sê dis baie beter daar as hier by ons. Nou hoef oom nie meer oor hom te worry nie, hy’th nou veilig.”
Van agter die pilaar het sy besef dat Stiaan haar ouma se woorde herhaal het. Dit was hoe hulle sy vrae oor oupa Sebastiaan beantwoord het nadat hy stil in sy slaap oorlede is. Nooit het sy egter besef dat dit soveel impak op die kind sou hê nie. Nog minder sou enigiemand kon dink dat daardie besoek van klein Stiaan tot Pieter se herstel sal lei nie.
Die storie het soos ’n veldbrand versprei en van daardie dag af was Stiaan oral welkom. Sommige van die personeellede noem hom speels “dokter Stiaan” en daarop is hy baie trots.
Hoe gaan sy aan haar kind verduidelik dat sy hom van môre af nie naby die kliniek wil sien nie?
Marina se hart krimp ineen.
Toe sy voor hulle huis tot stilstand kom, is daar tog ’n stemmetjie wat by al die vrees en paniek verbykom en haar bietjie kalmeer. Die stemmetjie herinner haar dat Christiaan ’n pasiënt is en klaarblyklik nie eens weet dat sy hier werk nie.
Ook maan dit haar dat sy dankbaar moet wees dat sy nie môreoggend trompop in hom gaan vasloop nie, maar dat sy bietjie van ’n voorsprong het en haar vir die ontmoeting kan voorberei.
Milo ontvang haar met ’n swaaiende stert toe sy die voordeur oopstoot.
Sy sit die sak met die lêer op die vloer neer en besef dan eers hoe lam haar arm is. Sy was so ingedagte dat sy nie eens agtergekom het hoe swaar die sak geword het nie.
“Jinne, my kind, kyk hoe nat is jy. Môre is jy siek, gaan klim dadelik in ’n warm bad.”
“Ek sal fine wees, Ouma.” Sy trek haar nat jas uit en gee dit vir haar ouma. “Sal Ouma dit gou kombuis toe neem, asseblief?” Dan gaan sit sy sommer op die vloer en trek haar deurweekte tekkies en sokkies uit.
“Ek weet nie vir wat jy nie die kar gevat het nie.” Ouma Susan hou haar hand uit vir die tekkies en sokkies. Eers toe stap sy kombuis toe.
Marina laat haar begaan.
Kaalvoet loop sy in die gang af na haar seun se kamer. Bekommerd kyk sy na die slapende gesiggie. Sy wou dit nog nooit erken nie, sy wou dit nie sien nie, maar vanaand, met die verlede op hulle drumpel, kan sy nie anders as om dit te erken nie: Stiaan lyk net soos sy pa.
Sy soen hom sag op die voorkop en vee teer oor die blonde haartjies. Sy moet haar kind beskerm, maar een ding weet sy immers vanaand: Vlug gaan en kan sy nie weer nie. Baklei wél.