Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 44

Kaalvoet

Оглавление

Twee dae lê ek op my rug. Kort-kort kom die beeldskone meisie met water en vrugte.

Ons cleanse vir jou, sê sy, O, hy gaan jou fix dat jy hik.

Derde dag stap Dokter Seager by die kamer in. Ek draai muur toe dat ek my sin kan onthou.

Ek weet nou nog nie wat ek hier soek nie, sê ek.

Maak dit saak? vra hy en vat weer aan my arm.

Ek skop hout met elke hormoon wat verbykom.

Hm-uhm, sê ek.

Jy moet my vertrou, sê die dokter.

Ek sê, Al van eergister af.

Ons gee jou alles, sê hy, Alles wat van jou weggevat is. Maar eers moet ons uitvind waar jy vandaan kom, waarvan jy aanmekaargesit is.

Toe plak hy twee proppe teen my kop vas, druk ’n knop teen die muur en pomp 200 volts deur my ore. Hy buzz my dat dit voel my hele as val uit en rol bultaf. Hy zonk my ingredients terug tot by die keisersnee en toe zoom hy in.

Uit spring die skooldokter wat begin huil het, want sy kon nie my ruggraat kry nie.

Uit spring die dag toe ek ná skool moes bly, want ek het twee periodes gevat om die 800 m te hardloop.

Uit spring die vrou by die wildtuin wat geskree het, Kyk hoe mak is hulle! en toe vir my peanuts gegooi het.

Uit spring die handskoen en ek wat rillings vang voor die wasbak.

Toe druk hy weer die knop en switch my af. Ek lê klaar gemelk en hy kyk my in die oë en ek weet hy weet alles.

Kry ek nou ’n pil? vra ek.

Jou gesondheid makeer niks, sê hy, Dis net die verpakking wat lol.

Ek sê, Nou wat nou?

Beeldskone meisie kom om die deur. Ons tune jou tot jy sing, sê sy, Ons klits jou op!

Sy’s onder die bed in.

Ons vat jou skoene, sê sy, Die pad paradys toe loop jy kaalvoet.

Die dokter kyk na my met sy advertensiegesig tot dit voel ek smelt en loop albei kante van die bed af.

Hy druk met sy hande al onder my voete.

Droom jy van ’n reguit rug met breë skouers? vra hy.

Ek sien hoe die son en die maan opkom oor hom.

Droom jy van dik, gladde hare en ’n vierkantige ken? vra hy.

Ek sien hoe die wolke om hom oopgaan.

Droom jy van ’n plat maag en perfekte heupe? vra hy.

Ek sien spierwitte duifies wat sirkel om sy kop.

Droom jy van bene wat aanhou en aanhou? vra hy, Gespierde dye wat geen tong kan weerstaan nie?

Al daai, hyg ek.

Ek maak my oë toe. Ek sien hoe stap ek in by Accommodation and Ladies’ Bar.

My voorarms bult oor die toonbank en my kuif hang wild in my oë. Ek grom saggies. Ek sien hoe skrik hulle.

150 Stories

Подняться наверх