Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 46

Blommetjie

Оглавление

Maak nie saak wat is die rede nie, maar ek het altyd gedog as mens ná tien jaar vir die eerste keer teruggaan huis toe, is dit nogals ’n ding.

Eers maak jou ma die deur oop en staan net daar. Dan gaan haar hand so half stokkerig mond toe en sy sê, Ek glo dit nie. En dan skree sy agtertoe, Pappa! Pappa, kom kyk wie’s hier.

En Pappa kom by die trap af en hy sê, Magtag man, maar jy’t lyf gekry!

En dan val julle in mekaar se arms en huil soos op die TV en dan gee hulle vir jou geld.

Die een oggend maak Dokter Seager my wakker. Dis klaar, sê hy, Jy’s perfek. Nou moet ons kyk hoe vat jy die buitewêreld.

Beeldskone meisie bring my klere. Ek wil net by die een mou in, toe sien ek die blommetjie. Net hier op my arm.

Ek sê, En dié?

Jy’s nou een van ons, sê die dokter, Die begeerlikes.

Ja, sê die meisie, Is heeljaar lente. Almal wil jou pluk.

Ek sê, En wie pluk die sanggroep in die tuin?

Dit was bietjie ongelukkig, sê die dokter, Ons almal maak foute. Ek kan hulle nie meer terugstuur nie.

Ek sê, Dis regte mense! Jy kan nie net aanvang wat jy wil nie.

Hulle’t ge-consent, sê die meisie.

Ek sê, En jy staan net hier en toekyk wat hierdie man aanvang! Waar’s jou gewete?

Ek’s verskriklik dom, sê sy, Ek mind niks.

Jy’s ondankbaar, sê die dokter, Ons gee jou ’n tweede kans. Klim op jou trein en begin voor.

Ja, sê die meisie, Life’s an oyster. Sluk hom heel.

Ek sê, En my tattoo?

Jy’s nou uitsonderlik, sê die dokter, Dan maak ek my merk.

Ja, sê die beeldskone meisie, Is net ietsie vir keeps. O, hulle gaan freak oor jou!

Mooi loop, sê Dokter Seager.

Ou blompot, sê die meisie.

Toe’s ek op die trein. Ek begin voor. Ek ry langpad tot by anderdorp. Ek loop soek my ouerhuis. Eers moet ek regmaak wat verkeerd was, dan vat ek weer die lewe.

Ek klim af op Ma se dorp, eerste keer in tien jaar loop ek die ou pad, verby al die plekke van kleintyd, elke seer kol. Maar nou’s ek mooi, ek loop regop, trap trots soos ’n koetsperd. Tot by die voordeur, klop drie keer. Nou wag ek vir die oopmaak, die stilte van skok, en dan Ma wat skree.

Daar’s niks. Ek klop weer.

Dis tjoepstil.

Ek maak die deur oop. Alles lyk nog soos daai tyd. Ek loop af met die gang, die prins is terug.

In die kombuis staan Ma met ’n byl. Jy moet uitkom! skree sy, Die toiletpapier is op!

Ek sê, Ma, dis ek.

Dit ook nog, sê sy, Draai jou gat! skree sy, Ek kap die hele spul af!

Ek sê, Ma, ek was tien jaar weg!

Regtig? sê sy, En wie’t jou toe gekry? Willem! skree sy, My kop wil bars, ek waarsku jou!

Ek sê, Hoe lyk ek vir Ma?

Soos ’n pou met ’n perm, sê sy, Staan syntoe.

En toe kap sy met een hou die kombuiskas uit die muur uit. Hele vloer is vol breekgoed. Heel onder lê my pa.

Hello, Stevie, sê hy, Het jy sigarette?

Ek sê, Wat maak Pa in die kas?

Ek rus bietjie, sê hy, Sy maak my klaar.

My ma lig weer die byl. Dis tyd! skree sy, Gaan jy papier koop of nie?

Man, kak in die tuin, sê my pa, Die bure is met vakansie.

Wak! slaat my ma ’n gat in die vloer.

Ek gaan nou loop, sê ek.

Nee, bly vir die begrafnis, sê sy, Ek gaan hom vandag vermoor.

Onthou net, sê my pa, In die tronk moet jy saamstort.

Ma laat val die byl en gryp haar arms. Ek ontsnap weer, sê sy.

Ek sê, Wat praat julle? Waar was Ma?

Ag, Pappa, sê sy, Kry net papier, ek moet oes.

Raai wat eet ons vanaand? sê my pa, Gaan jy mash of maak jy tjips?

Ek sê, Ma, ek het kom vrede maak.

Jy lyk mooi, sug my ma, Ek het ook probeer, maar jou pa’t my nooit weer gevat nie. O, ek haat dit so met die kaalhand, ek soek papier.

Toe buk sy en druk haar hand onder haar rok in. Haar mou skuif op.

Op die boarm sit ’n blommetjie. Ek staan net daar.

Eina, sê sy en kom regop, In haar hand hou sy twee aartappels.

Kry die pot, sê sy, Ons eet mash.

150 Stories

Подняться наверх