Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 45

The New Me

Оглавление

So bly ek in die wit gebou met die bome en die sproeiers op die lawn. Normaalweg sal ek nie glo wat met my gebeur nie, maar my kop is binnekant so gemince, ek tel tot by twee dan’s drie missing. Nes ek wil vra wat gebeur nou, druk die dokter die knop teen die muur, dan’s ek plat.

Ek soek jou fantasieë, sê hy, Jou verste drome.

Ja, sê die beeldskone meisie, Maak liefde met jou toekoms!

Sien dit voor jou, sê die dokter, Voel dit, ruik dit, doen dit.

Ek sê, Ek kry skaam. Dis in elk geval sonde.

Wil jy terug flat toe? sê die dokter op sy beeldskoonste.

Ek maak my oë toe. Ek fantasise padlangs tot by die plaaswerf. Tette en boude, spiere, nippels en suntan lotion. Ek droom tattoos, cocktails met sambrele, seiljagte, seks met O. J. Simpson, Italian suits, twee Oscars, drie orgieë en ’n bosbrand. Ek moan, ek hyg soos ’n siek Alsatian, dwarsdeur my lyf, deur my ore, af met die kabel, in by die muur.

Dokter voer my vrugte, vryf my voete, draai my toe, hang my aan kettings, doop my in stroop, toor my bewusteloos, druk my in duur masjiene, ek trip tot by Ararat en terug.

Soggens kom die meisie, koer my wakker. Sy’s buite haarself.

Fokkit, jodel sy. Ons is te goed!

Dokter Seager draai die verbande los. Elke oggend kom nog iets by. Ek kry cheek bones, bene met bulte, my gat shape tot by die Olympics, my hare maak my hele kop toe, ek score die ganse Hollywood.

Beeldskone meisie bly kyk net een plek.

Goliat, Goliat, sê sy, Verwoes my met jou tempel.

Ek dink, Praat jy met my?

Tot ek afkyk en besef ek is onbetwisbaar goed bedeeld.

En dis alles verniet, sê die meisie.

Teen die derde week is ek een oggend so mooi, ek kan dit nie meer vat nie. Gee my net ’n straathoek, ek hoer die traffic tot stilstand.

Dokter Seager smile ses miljoen dollars.

Dinge vorder mooi, sê hy.

Ek dink, Jou moer, man, ek lyk soos ’n movie. Kry my net op circuit.

Vandag beweeg ons uit, sê hy, Jy moet lug kry. Net so een keer om die tuin.

Plak my met ’n wit gewaad, ek’s uit by die deur. Ek loop oor die lawn, Mark Spitz, Naomi Campbell en Madonna. Ek’s hot, man, ek kook soos ’n primus.

Aan die einde van die lawn staan ’n plaat rose. Pienk en geel in reguit rye.

Is beautiful, en ek pas in.

Hier in die middel sit ’n kol in off-white. Maar dit beweeg, stadig bietjie links, stadig bietjie regs. Dis óf ’n kaktus met batterye, óf ’n ikebana met suurdeeg.

Maar ek’s mos mooi, die ding moet skrik, ek’s deur die rose.

Reg voor my, plat op die kluite, sit ’n ou vrou met ’n blomkool in elke oor.

Ek sê, Antie het kool!

Wat? skree sy, Ek kan niks hoor nie!

Ek sê, My ma sê, al was jy niks, jou ore hou jy skoon!

Het jy ’n knipmes? vra sy.

Ek sê, Ek het nie eers ’n knip nie, maar dinge verander.

Pluk my! skree sy.

Ek breek die blomkool af.

Hou dit, sê sy, Ek diet. Is jy van Dokter Seager?

Ek sê, Ag, verskoon my, maar as ek in die middel van ’n roostuin sit met ’n bolla op my kop en groen goed in my ore, sal ek nogals worry. Voel Antie sleg?

Ek’s net so moeg vir kool, sê sy, Het jy mayonnaise?

Ek sê, Nee, ek’s ’n hunk.

Dan kom hy seker nou op dreef, sê sy, Het maar gesukkel in my tyd.

Ek sê, Ekskuus tog?

Ek was die eerste, sê sy, Vir ou Seager. Hy’s ’n mooi ding, maar’t ook maar lank gevat. Maar ek dra nie ’n wrok nie. Was my man se gedoente. Sê vir my op veertig, hoe moet hy dit opkry, ek lyk af. Ek dink, Shame, met ’n man is dit baie meer oppervlakkig. Met ’n vrou kom dit van binne af, jy weet. Toe sien ek die ad. Daai tyd vat hy nog enige ding. Ek dink, Meld aan, Cornelia, en word visueel. Maar dit was heel aan die begin, was seker ’n ding met die knoppe. Ek dink nog ek word wakker, tight soos ’n virgin, toe sit ek met die kole. Chemiese misplasing, en gefok is ons vir ewig.

Ek raak yskoud deur my stywe lyf. Ek sê, Wie’s ons?

Betsebel woon onder by die bome, sê sy, Soek meer koelte, sy’t mos die mushrooms. Jy weet. Maar Seager oefen seker nou harder, jy lyk vir my heel op datum.

Ek sê, Dokter Seager oefen wat?

Proewegoed, sê sy, Hulle weet mos ook nie aldag waantoe nie. Dis wetenskap en somme. Dis ’n klomp detail. Rome is nie in een dag gebou nie. En die lawns vat baie water.

Ek sê, Ek het niks te doen met lawns nie, niemand het vir my gesê dis proewe nie!

Was jy in die hulpklas? vra sy, Mense wat iets regkry, charge ’n fooi. Hier’s Betsebel nou.

Voor my staan ’n vrou met regaf enkels. Op haar voorkop hang drie mushrooms met verskriklike lang stele.

Het ons gaste vir lunch? vra sy.

Dis die nuutste, sê Cornelia, Maar hy’t niks om te eet nie.

Dis wat jy dink, sê Betsebel, Sak jou oë.

Ek sê, Hoeveel pasiënte is hier nog?

Pasiënt jouself, sê Betsebel, Ons is ’n sanggroep.

Sit, sê Cornelia, Ons sing in thirds.

Ja sê Betsebel, Ons naam is Dish.

Is reg, sê Cornelia, Gee ons net witsous en ons is lasagne.

En toe gaan sit ek plat op die kluite, the new me, en ek sien my eerste kabaret.

En so halfpad tussen die liedjies, toe pluk Betsebel ’n mushroom en sê, As jy weer afkom, bring net bietjie kaas. Is so bland sonder kaas.

150 Stories

Подняться наверх