Читать книгу Zip! - Nataniël - Страница 4

Оглавление

PITTE

Daar is ’n tipe vrou wat heeltemal gemaklik is daarmee om haar tyd op hierdie aarde sonder ’n krummeltjie grimering deur te bring. Sy lyk altyd dieselfde of sy nou ’n veeveiling of ’n voorlesing bywoon. So raak almal haar gewoond. En wanneer sy dan wel eendag by ’n baie spesiale geleentheid soos ’n doop of ’n blommeskou opdaag met die geringste teken van lipstiffie, hoe gedemp ook al, kan niemand dit aanvaar of verwerk nie en lyk sy meteens goedkoop of oordadig.

Naby ons muurbalbaan het Selons gewoon. Sy was só ’n vrou. En omdat selfs die vaalste van wesens geregtig is op ’n lewensverhaal, was sy getroud met ’n man wat totaal die teen­oorgestelde was. Hulle was nie ’n jong egpaar nie en soos dit die gewoonte was in barbaarse tye moes hulle eintlik as Oom en Tannie aangespreek word, maar niemand het dit gewaag nie.

Selons se man het geweier om ouer te word. Sy regte naam was Fillipus. Hy was mal daaroor om sy eie sêgoed op te maak. As hy jou wou groet, het hy sy hand uitgesteek en gesê, Maar sit hom daar! As hy wou koffie hê, het hy gesê, Maar gooi nat jou naaste! As hy wou eet, het hy gesê, Maar kom heel my holte! Soos enigeen wat dit nie het nie, het sy lewe gedraai om geld. Sy gunsteling-sêding was, Pitte gee jou hitte! Op die ou end het almal hom Pitte genoem.

Selons en Pitte het feitlik aparte lewens gelei. Selons het ge­skarrel in die tuin, uitgehelp waar siekte was, vrugte ingelê, geskilder met skulpe, behoort aan die biblioteek en gery met ’n bakkie, enigiets waarvoor jy ’n voorskoot sou nodig kry. Pitte was ’n verkoopsman van polisse tot stofsuiers tot opregte hondjies, enige ding wat hy in die hande kon kry, hy sou kaggel-as verkoop het as daar ’n mark daarvoor was. Hy was elke dag spoggerig uitgevat en het gery met ’n Cortina Convertible.

Pitte was die eerste man wat my laat besef het daar is ander neigings en rigtings op aarde as wat almal navolg. Hy het al­tyd lekker geruik. Sy hare was agteroor ge-olie in ’n brander­formasie. Hy het ’n kettinkie om sy nek gedra en sy broeke het bietjie meer knap gesit as ander mans s’n. Sy skoene het skerp punte gehad en aan sy pinkie was ’n ring met ’n swart steen. Sy tande was spierwit en sy gesig het geblink.

My ma het altyd gesê, Daai man is banger vir ’n plooi as vir die oordeelsdag. Hy sal dat Selons plakpapier vreet van armoede solank hy homself net kan smeer met elke klont nagroom wat sy vel nog kan verorber.

Dit was die waarheid. Pitte was ’n trotse man, behep met sy voorkoms. Daar was niks verkeerd met sy hormone of manlik­heid nie, sy grootste liefde was net eenvoudig die weerkaatsing van ’n spieël.

Op ’n dag vra Selons vir my ma of sy wil saamry, daar is blyk­baar ’n AGS-kermis op die dorp langsaan en jy kan ’n bootreis wen na Algerië, blykbaar is dit nie ’n vreeslike deftige boot nie, die meeste van die passasiers word vermoor, maar vandat sy daai groot puzzle gepak het, wou sy na die noorde, dalk as sy op ’n stoel staan kan sy Egipte sien. My ma sê toe sy sal saamry, dit was net voor haar verjaarsdag en niemand maak ’n souttert soos ’n AGS nie.

Hulle kom toe op die dorp aan, my ma sê sy koop sommer twee soutterte, so ’n mooi bleke met geblikte aspersies en ’n bont een met Weense worsies. My ma sê sy weet daai worsies het kalfshoef en varkstert in, maar hulle sit mos kaas oor, sy wéét al die vrouens gaan twee keer skep.

My ma sê vir die bootreis moet Selons toe deelneem aan ’n kompetisie waar jy aartappels moet raak byt in ’n emmer water en Selons is seker al so moeg vir plakpapier, sy byt twaalf aartappels raak in een minuut en kom tweede. Pleks van ’n bootreis wen sy ’n make-over. Selons sê toe nee dankie, hulle moet ry, maar twee vrouens gryp haar en sê die salon is naby, dis in ’n vrou se huis. My ma sê sy self het nog nie een gesien nie, maar blykbaar is daar min dinge erger as ’n AGS make-over. Sy sê hulle kam en blaas vir Selons en verf haar wange so pienk soos rou skaapvleis, hulle plak vir haar wimpers en pluk haar wenkbroue so dun soos daai vrouens wat boeke doen by ’n garage. My ma sê sy’s so gespanne sy lig later die tert se plastiek en eet twee worsies uit sodat sy net nie hoef te antwoord as Selons vra hoe sy lyk nie. Sy sê toe Selons met haar skaaptjopwange terugklim in daai bakkie toe lyk sy soos ’n hoer wat in ’n slaghuis wegkruip.

En dis toe die begin van die einde. Daai week wou niemand opregte hondjies koop nie en toe Selons met haar make-over by die huis kom, sit Pitte al klaar op die bank. Hy skrik hom boeglam en alhoewel hy dit nooit sou sê nie, lyk Selons vir hom pragtig. Hy hardloop spieël toe en besef hyself doen heeltemal te min. Net daar verkoop hy sy Convertible en laat maak sy neus kleiner. Dis ’n groot gebeurtenis. Niemand op die dorp wil dit erken nie, maar hy lyk fantasties. En na ’n leeftyd van nagroom en skerp skoene besef Pitte daar is ’n hele nuwe wêreld. Hy verkoop die eetkamerstel en die hi-fi en laat maak sy neus nog kleiner. Nou lyk hy glad nie meer mooi nie, maar hy kan nie ophou nie, hy verpand alles wat rondlê en laat sny nog. Uiteindelik is die neus weg, daar is niks, dis seepglad soos ’n vis. Pitte is mal daaroor, maar moet asemhaal deur sy mond. ’n Oop mond lei altyd tot ellende en die dag toe ’n klein voëltjie daarin vlieg, besluit Pitte hy laat dit toewerk, hy los net ’n gaatjie vir ’n strooitjie.

Die operasie is ’n sukses, maar sonder vaste stowwe verloor hy baie gewig en so verskyn die eerste plooi. In sy nek. Toe een op sy boarm, toe een op sy bolyf. Pitte verkoop Selons se bakkie en laat al drie verwyder. Maar die plooie hou aan verskyn. Pitte verdeel die erf in twee en laat weer sny. My ma sê teen daai tyd vreet Selons die plakpapier in sulke repe van die muur af, maar dis te laat. Sy sê uit Pitte se gaatjie kom nog net een sêding: Sny my!

Uiteindelik is die huis ook verkoop en die res van Pitte is ver­wyder. Selons woon agter oumense se huis in ’n tent, Pitte se kop lê op ’n matjie, koeëlrond met twee oë en ’n gaatjie. Daar is niks meer oor nie, nie van hom nie, nie van hulle besittings of lewe nie. Maar daar is ook niks meer wat hom pla nie, hy is uiteindelik gelukkig.

Selons en Pitte het nie rêrig familie of vriende nie, mense help maar as dit swaar gaan en so af en toe gaan kuier my ma. Sy en Selons vat dan vir Pitte uit die tent uit en rol hom heen en weer op die gras. Sy sê elke keer as sy terug by die huis kom, gooi sy nog iets weg. Sy sê ons het heeltemal te veel goed, dis ongelooflik hoe min ons rêrig nodig het.

(uit die 10 Winter Nights with Nataniël-verhoogproduksie, 2011)

Zip!

Подняться наверх