Читать книгу Zip! - Nataniël - Страница 6

Оглавление

DANS

Dit gebeur dikwels dat mense deelneem aan aktiwiteite wat op die oog af vreemd lyk of nie by hulle pas nie, maar dat daar wel ’n doel agter is. Sportmanne sal balletklasse bywoon, want dit help om hulle spiere sterk te maak. Duisende mense gaan elke dag gym toe, want hulle mag dalk iemand ontmoet vir ’n moontlike verhouding of kortstondige sonde.

So is ek gebore sonder die geringste teken van koördinasie. Ek en my gedagtes en my mond is besig met een ding terwyl die res van my lyf ’n heel ander lewe lei. Ek was nooit daarvan bewus totdat ek die eerste keer ’n troue bygewoon het nie. Almal het aan tafels gesit en gesels, daar was hoenderpastei en vriendelike kelners en ek het geen onheil vermoed nie. Die volgende oomblik bars ’n stuk musiek los en almal gaan aan die dans, twee-twee al in die rondte asof hulle almal saam iewers geoefen het. My mond het oopgehang, dié een draai in die rondte, die ander een gaan onderdeur nog een se arm, dan trap hulle vorentoe, dan trap hulle agtertoe, hoe weet hulle wanneer gebeur wat?

Jare later word ek weer na ’n troue genooi, dieselfde storie. Ek’s net aan die gesels, woerts! spring almal op en begin weer dans. Diékant toe en daaikant toe, is dit ’n kode? Is daar boodskappies in die musiek wat ek nie kan hoor nie?

So suffer ek ’n leeftyd lank met my ongehoorsame lyf en lede­mate wat glad nie wil deelneem aan hierdie aardse aktiwi­teite nie. Selfs tydens repetisies vir my eie vertonings leer die ander die bewegings aan binne ’n paar uur, ek vat weke voor ek die eenvoudigste roetine kan onthou. Dis nie rêrig iets waaroor ek praat nie, maar vir jare probeer ek verstaan hoe dit werk, wat weet die ander wat ek nie weet nie.

Ek kon nog nooit ’n televisiereeks klaarkyk nie, op ’n stadium verloor ek belangstelling, maar vir jare sit ek vasgenael voor elke episode van Strictly Come Dancing, bekende persoonlikhede wat nog nooit kon dans nie, leer binne weke om te dans. Hulle draai en swaai en wals en foxtrot en quickstep, ek sit verstom.

So lees ek eendag ’n artikel waarin daar beweer word dat niks op aarde beter is vir koördinasie as ballroom-danse nie, en dat dit een van dié gewildste aktiwiteite in die wêreld is, selfs in Suid-Afrika, in sekere lande is dit al ’n amptelike sport­soort. Ek besluit dis tyd, só onnosel is ek ook nie, ek gaan klas neem, al gee ek nie twee treë in die regte rigting nie, gaan ek ten min­ste omring wees van hemelse wesens, niemand op aarde het mooier boude as ballroom-dansers of ysskaatsers nie.

Ek wil nie hê iemand moet weet van my planne nie, so ek kan nie rondvra nie, ek soek na ’n dansplek in die Geelbladsye. Jy sal my nie glo nie, maar daar is honderde. Ek kies op die ou end ’n ballroom-skool in Centurion, daar sal niemand my herken nie. Ek bel en vra watter aande is vir beginners, hulle sê Dinsdae, maar ek moet die regte skoene hê, jy kry dit by so en so. Ek gaan koop vir my ’n paar ballroom-skoene. Dit is ’n sagte skoen met ’n lae hak en word spesiaal gemaak vir dansers. Vir presies vyf minute is dit die gemaklikste skoene op aarde. En dan breek alle hel los. Niks, niks maak seerder nie, dis ’n pyn wat jy moet beleef om te glo. Ek weet nie hoekom daar tronke op aarde is nie, jy kan vir ’n moordenaar net ’n paar ballroom-skoene aantrek, hy gaan nêrens.

Die volgende Dinsdag parkeer ek voor die dansskool. Ek wéét dit gaan ’n romantiese ou saaltjie wees, met instrukteurs in stywe pikswart broeke, witwarm gode met name soos Manuel of Alejandro, ek vergeet heeltemal die plek se naam is Herman’s Dance Academy.

Ek klim die trap op en stoot die deur oop. Huis Nerina op Porterville se siekeboeg is meer romanties. Dis ’n vierkantige vertrek met dowwe geel mure, in die een hoek is ’n waaier met papier-streamers, in die ander hoek is ’n tafel met ’n hi-fi, ’n ketel en kitskoffie. Op die dansvloer staan die vyf lelikste mense in die heelal. In die middel staan die instrukteur, Herman. Hy is amper sestig, hy het ’n baie groot broek aan, dieselfde kleur as pannekoekdeeg, hare wat lyk asof hy al baie elektrisiteit ont­vang het en los lippe soos ’n hond agterop ’n bakkie. Ek trek my skoene aan en stap nader.

Vanaand doen ons die samba, sê Herman, Dis ’n smeulende dans.

Ek het nie geweet samba is ’n dans nie, my ouma het sulke salf gehad vir haar voete en ek weet ek gaan binne minute bid vir so ’n potjie.

Om dit makliker te maak, sê Herman, Kry elkeen ’n dansmaat met dieselfde liggaamsbou.

Toe stoot hy ’n stokou dame in my rigting.

Die Japannese waai hulleself koel met waaiers met prentjies op. Wanneer ’n waaier toegevou is, sien jy net die begin en einde van die prentjie, soos twee blare, maar eintlik is dit ’n boom, jy moet dit net oopvou. Só lyk die dame. Sy’t ’n breë kop, dan begin haar romp en dan is daar twee voete. Sy lyk soos ’n skon. Ek dog toe dalk moet mens haar eers ooptrek of optrek soos ’n strandsambreel. Toe die musiek begin, kry ek haar aan die nek beet en begin trek.

Wat maak jy? sê sy, Hou my vas.

Net toe begin my voete klop. Ek sien swart kolle voor my en gryp die vrou.

Werk die heupe! skree Herman. Maar sy broek is te groot, ek kan glad nie sien wat om te doen nie.

Guantanamera, sing my dansmaat. Sy skuur teen my.

Toe ek nog klein was, het Pamela Rosenkrantz eendag vir my een van haar skoolbroodjies gegee. Ek het nie geweet daar was lewer op nie en het ’n groot hap gevat. Ek sal die reuk nooit ver­geet nie, dit was iets tussen wildspastei en die binnekant van ’n baie ou motor. Dit is ook die reuk van ’n swetende skon.

Ons is nog nie twee keer om die baan nie, toe’s my voete dood, my neus is dood, my hoop is dood. Manuel en Alejandro is dood nog voor ek opgedaag het, die vuur wat tussen my polsende heupe moes brand, is geblus. Vir ewig. Ek is tot stilstand geruk deur die werklikheid, wrede skoene en ’n klam skon.

Vandag kan ek staan en ek kan sit, ek kan loop, ek weet waar is voor en waar is agter. En ek is dankbaar. Nederigheid kom na elkeen op ’n ander manier. Myne is aan my besorg in Herman’s Dance Academy. Ek bewonder dié met koördinasie, ek kyk na dansers met verwondering, op televisie, op die verhoog, op straat. As jy my ooit sien in ’n winkel, koorsagtig besig om ’n paar perfekte boude te agtervolg, moenie lelik praat nie, moenie sê, Ja, daar gaan hy, nie. Dis nie wat jy dink nie. Dis nederig­heid. Dankbaarheid en nederigheid.

(uit die Seven Loud People-verhoogproduksie, 2012)

Zip!

Подняться наверх