Читать книгу Zip! - Nataniël - Страница 8

Оглавление

POP OF COLOUR

Tydens my hoërskooljare het ons op ’n stadium skuins oor­kant ’n weduwee gewoon. Sy het ’n dogter gehad, ’n lang, sening­rige wese met knieë wat gelyk het of daar ekstra beentjies in was. Haar naam was Silinda. Sy het nooit gepraat nie en net heeldag iewers gesit, op ’n trap of op ’n stoep of op ’n sypaadjie. Met haar knieë. Dan het sy met slap oë gekyk of daar mans verbykom.

Die weduwee het ook ’n seun gehad, ’n spierwit kind. Almal het hom Slang genoem want hy’t gelyk of hy nou net vervel het. Slang was vreeslik grillerig want sy puberteit het te vroeg begin en hy het homself heeltyd gevryf teen meubels of motors.

Ons het hulle gelukkig nie baie te sien gekry nie. Voor hulle huis was ’n ontsettende groot vragmotor. Die weduwee was effens oorgewig en het dus jonger gelyk as wat sy was. Gevolglik het sy ’n kêrel gehad, maar wou nie dat hy in die huis slaap nie, want al was daar buite-egtelike aktiwiteite en twee kinders op hitte, het sy op haar manier geglo aan die Bybel. Dus het die kêrel elke aand in die vragmotor geslaap, daar was ’n bed en stoele en ’n waaier en ’n klein yskassie agterin.

Die weduwee het baie middae ná werk by my ma ingeloer vir tee en om tydskrifte te leen.

Sy was altyd op soek na nuwe idees met klere en was mal daar­oor om die frase “A POP OF COLOUR” te gebruik. Haar gunsteling­kleure was pienk en geel. Dit was nogals uitsonderlik want in daai jare was gewone mense mal oor bruin en ougoud en goed soos geelhoutmeubels, sonfiltergordyne en rottang. Jy kon nou loop soek het na die reinste kol in jou hart, maar op die ou end was daar net een woord om die weduwee en haar om­standig­hede te beskryf en dit was kommin.

Op ’n stadium het van die mense in die omgewing begin kla oor die helse vragmotor wat die hele straat vol staan en die buurt ont­sier, wat help dit jy sny jou gras en oorkant die pad lyk dit soos Epping. Die weduwee slaan links en regs vure dood en lewer koeke en fudge af, maar die ontevredenheid wil nie gaan lê nie. Uiteindelik besef sy sy en die kêrel sal moet trou dat hy in die huis kan slaap.

Ek hoop net nie ons word genooi nie, sê my ma, Daai affêre kan onmoontlik iets wees wat ’n mens sal wil onthou.

In daai dae was ’n trourok wit en lank en vir ’n tweede troue room en kort.

Ek is nie iemand wat oordeel nie, sê my ma, Maar ek sidder nou al. Kan jy dink watse gedagtes is daai vrou aan die kry.

Op ’n stadium verskyn daar ’n tydskrif met ’n artikel oor on­gewone troues. Daar is ook ’n volbladfoto van ’n bruid met ’n rooi trourok en ’n pikswart gidshond. My ma gooi onmiddellik die tydskrif weg voor die weduwee dit kan leen, maar dié het dit toe klaar gesien by die haarsalon en die koeël is letterlik deur die kerk. Binne twee weke ontvang elke huishouding sy troukaartjie. Die tema is POP OF COLOUR en binne-in elke koevert is daar ’n stukkie papier wat die kleur van elke familie aandui. Ons gesin s’n is ligpers. Om dinge nog interessanter te maak vind die troue plaas op Robbeneiland. Die kêrel is ’n tronkbewaarder en kan die kapel en sy sysaal verniet gebruik. Ek het die vorige jaar ’n musiekprys gewen en word gevra om die troumars te speel. Ek gaan nie nou uitbrei oor die ellende en lyding van die paar weke voor die troue nie, maar die weduwee is horende doof en planne bly onveranderd.

En so gebeur dit dat op ’n Saterdagoggend in die laat sewen­tiger­jare ’n ontstellend bont groep mense op ’n kaai in Kaapstad verskyn. Ons gesin lyk soos die personeel by ’n inrigting vir sielsiekes. Die dik Nelle is in tropiese geel en lyk soos ’n toneel uit ’n musical oor lukwarte. Die weduwee se twee kinders is in spierwit, Silinda lyk soos ’n gevriesde vis en Slang lyk soos ’n spook.

’n Tikkie wit, sê my ma, Daar’s nog hoop.

Dit was in die dae voor toeriste Robbeneiland kon besoek en ons word dus opgelaai deur ’n personeelbootjie, ’n voos vaar­tuig uit hout en sonder ’n dak. Ons styg en val en dobber deur daai oseaan soos ’n vlot vol kleurblind vlugtelinge. Bleek gekots maar helder geklee bereik ons die eiland. By dit alles is ons nog ekstra benoud want ons het gehoor die hele plek is vol moordenaars en terroriste en party van hulle is kelners by die onthaal.

Uiteindelik is almal in die kapel. Slang het net begin liefde maak met die konsistorie se deurknop toe gee die koster die teken en ek in my pers gewaad tref middel-C. Almal kyk in die paadjie af. Afgeëts teen ’n ry tronkvensters staan die wedu­wee in ’n skepping van pienk en geel blokkies, sy lyk soos ’n groot pak NikNaks. Maar almal is nog lam van die bootjie en niemand sê ’n woord nie.

Op Robbeneiland is daar nie juis ’n gepaste hoekie vir trou­foto’s nie, wat beteken ’n halfuur later sit ons reeds in die sy­saal aan by lang tafels versier met skulpe vol pienk en geel blomme, en – mag die hemele ons vergewe – word bedien deur mense wat ’n paar jaar later die land sou regeer en die Nobelprys ont­vang.

Ek kan nie onthou hoe ons weer die vasteland bereik het nie, maar ’n week later keer die weduwee en haar man terug van die wittebrood en word die vragmotor weggetrek. Almal sug eers van dankbaarheid en snak toe na hulle asem. Die vragmotor was so lank daar dat ons vergeet het van die huis, ’n goudgeel riller met ’n pienk dak. Op die trap sit Silinda en loer straat-af met slap oë en op die bank sit Slang en wikkel dat jy die splinters hoor kraak.

Ons het almal omgedraai en by ons huise ingeloop. Ons het almal begin droom van ’n vragmotor in die straat.

Maar so twee dae later het ek my ma oor die foon hoor praat.

Dis maklik om te kry, het sy gesê, Ry net af met die straat tot by so ’n pop of colour, ons is skuins oorkant.

(uit die Pop-up!-verhoogproduksie, 2012)

Zip!

Подняться наверх