Читать книгу Zip! - Nataniël - Страница 5

Оглавление

’N DING MET ’N FLUIT

’n Gewoonte is ’n ding wat só gereeld deur iemand gedoen word dat hulle glad nie meer daaroor dink nie. ’n Groot deel van ons tyd op aarde word afgestaan aan gewoontes en heelwat van dié gewoontes maak glad nie sin nie, maar word nooit bevraagteken nie.

Suid-Afrikaners het byvoorbeeld die gewoonte om op ’n vraag te reageer deur eers nee te sê en dan die vraag te beantwoord.

Hoe gaan dit?

Nee, goed, man.

Hoe was die rugby?

Nee, lekker.

Hoe was die weer?

Nee, warm.

As jy vra: Wil jy ’n koppie tee hê? sê hulle: Nee, jong, ek moet seker ry! En dan sit hulle.

Ander gewoontes word wel bevraagteken, maar maak volkome sin. My ouma het altyd die gewoonte gehad om geld wat rondlê of wat oorbly ná inkopies, in haar klere weg te steek, in sak­kies en some en voerings en plooie. Dan vergeet sy daarvan en ontdek dit weer eendag. Dit het veroorsaak dat sy altyd vrolik was. Eenkeer by ’n begrafnis het sy só baie geld in haar mou ontdek dat sy Joegaai! geskree het toe die kis begin sak.

So maak ek klaar met skool en gaan studeer op Stellenbosch. Dit was vir almal duidelik dat ek privaat verblyf moes kry, ’n manskoshuis sou net lei tot moleste. Tannie Gwan (my ouma se niggie wat ’n sendeling was en in Malawi deur terroriste ont­voer is en toe ná haar ontsnapping by ’n dokter op Stellenbosch kom werk het) laat weet toe daar is ’n oop kamer in Tannie Ita se woonstel reg onder haar eie.

Tannie Ita was ’n gevorderde bejaarde met ’n grys rol hare en baie goeie maniere. Haar een seun het oorsee gewoon en die ander een was ’n homoseksueel. Sy het op die grondvloer gebly in dieselfde blok woonstelle as Tannie Gwan. Dit was regoor De Wets, die bekende afdelingswinkel. Dié winkel het geslagte lank behoort aan dieselfde familie en het ’n hele straatblok vol gestaan. Dit het houtvloere gehad en geen hysers. In Londen lok só ’n winkel net skatryk klante, in Stellenbosch lok dit muise, rotte en elke ander plaag. Dit het altyd geklink of dit reën soos die muise in daai winkel rondgehardloop het, maar nog steeds het die mense gegaan want jy kon daar goed kry soos hekelgare en snuif wat nêrens anders meer te koop was nie.

Op ’n stadium het dié muise onderdeur die straat beweeg en in die woonstelblok begin verskyn. Orals was klein swart kolletjies. Ek het vir my ma gesê Tannie Ita moes baie mal wees oor anys, sy’t mosbeskuit, mosbrood, mospastei en mos­koekies. Toe sê my ma, dis muismis, ek moet haar vertel, op daai ouderdom sien jou oë glad nie meer kolletjies nie óf net kolletjies.

Ek vertel toe vir Tannie Ita van die plaag en sy en ’n ontsetten­de ou oom gaan koop muisvalle. By De Wets. Van toe af hang daar elke oggend ’n vet muis teen die yskas af. Tannie Ita sien hom eers raak teen etenstyd, maar dan is ek lankal die strate in. Ek vra later my ouers of ek iewers anders kan gaan bly, maar my ma sê al is Tannie Ita se een seun nes ’n vrou, het sy die geldjie nodig, sy neem aan soveel bejaarde aktiwiteite deel, dis ’n voorbeeld vir ons almal.

Dit was waar, Tannie Ita het kaart gespeel, sy’t behoort aan ’n klub wat elke maand met ’n bus reg rondom Stellenbosch gery het en dan het hulle gestop vir slaai onder ’n afdak. Verder het sy in ’n senior koor gesing, maar nie soos gewone oumense – almal sing die wysie – nie, hulle het gesing in stemme, bewend en dwalend, dit het geklink soos spoke op ’n baie ou kasset.

Daai tyd ontmoet ek vir Dijkerman Höbel. Hy was ’n lang student met dromerige oë, ’n lang blonde kuif en vierkantige lippe. Hy het fluit gespeel in die universiteit se orkes, glad nie goed nie, maar niemand het omgegee nie, hy was pragtig en die konserte was vol. Op ’n stadium vertrek Tannie Ita en nog bejaardes op ’n toer na die Bybellande, ek gril te veel om die muisval bo-op die yskas te stel, later is daar soveel van hulle, jy kan snags hoor hoe skuif hulle die meubels.

Ek besluit toe, ek nooi vir Dijkerman Höbel vir ’n drankie, dan kan hy op sy fluit speel, dalk volg die muise hom huis toe. Dijkerman daag toe een aand skemertyd op, dis die eerste keer dat ek sy kuif van naby sien, ek is so gespanne, ek drink ’n halwe bottel van Tannie Ita se sjerrie voor ek onthou om hom te vra om te speel. Hy speel toe fluit, maar so vrot dat daar nie ’n muis verskyn nie, in fact, só vrot dat die een muis twee dae later self ’n fluit by De Wets gaan steel en dit saans begin speel.

Dijkerman steur hom aan niks, hy lyk net mooi, drink net nog sjerrie en sak al hoe laer op sy stoel. Ek is só opgewerk, ek weet nie of ek moet skree vir hulp of lip-ice aansit nie. Toe skielik vra Dijkerman of ek lus is vir ’n pilletjie.

Ek sê, Vir ’n kopseer?

Nee, sê hy, dis soos ’n kalmeerpil, hy drink dit dat hy nie bewe met die fluit nie, dis nie drugs nie, maar saam met ’n drankie laat dit jou lekker voel.

Ek sê, Ek voel al baie lekker.

Dijkerman sê toe dan gaan hy maar eerder, maar kan ek die pilletjies vir hom hou, hy is bang hulle krap in sy goed by die koshuis.

Ek sê toe dis reg so, maar daai nag kry ek nie ’n oog toe nie, sê nou maar die goed is onwettig. Ek kan dit ook nie weggooi nie, wat sê ek vir Dijkerman. So sit ek die lig aan en maak Tannie Ita se gangkas oop. Binne teen die deur hang die lelikste rok in die geskiedenis van lap. Die onderste deel is oranje en skop uit na buite, die boonste deel is wit en gesmok met honderde plooitjies. Ek besluit toe smok is vir smokkel, ek gaan druk in elke plooi ’n pil, oumense gooi niks weg nie, ek haal dit net weer uit as Dijkerman kom kuier.

Tannie Ita keer die volgende week terug van al haar lande en ’n dag later vra Dijkerman sy pille, hy voel ’n bietjie op edge. Daai middag maak ek die kas oop. Die rok is weg. Ek soek vir Tannie Ita, sy’s ook weg. Ek hardloop op na Tannie Gwan. Sy sê Tannie Ita is uit met die koor, hulle het almal hulle lelike rokke aan.

Ek sê, Hoe lelik is die rokke?

Sy sê, So oranje en wit met smokwerk.

Die koor het toe gaan sing op ’n begrafnis. Die oorledene was ’n lid van die klub met die bus. Blykbaar het Tannie Ita op ’n stadium begin rondskuiwe, toe’t sy gesê sy kry warm, toe’t sy begin sweet, hulle sê sulke helder kolle, en toe gly sy net van die kerkbank af. Hulle dog sy’s dood en dra haar tot voor langs die ander lyk en sing toe nog ’n spooklied. Maar nog voor hulle klaar is, toe snork Tannie Ita kliphard.

Sy’t eers vier dae later wakker geword. Die dominee wou hê sy moet kom praat oor haar skyndood, maar sy sê sy’t net geslaap. Iewers op ’n wolk. Sy sê haar koorbloes is bont gevlek, geen mens weet van wat.

Ek is tot vandag toe ’n bietjie histeries. Ek het byna my landlady vermoor met beeldskone Dijkerman Höbel se fluitpille.

En dit breek my hart, ek sien elke dag die mooiste mense, blonde goed met lang kuiwe. Maar hulle sal vir jou enigiets laat doen. Hulle kom nie in my huis nie. Ook nie ’n ding met ’n fluit nie.

(uit die Seven Loud People-verhoogproduksie, 2012)

Zip!

Подняться наверх