Читать книгу Kroes - Pat Stamatélos - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Dis in standerd ses dat ek en Lorrain bevriend raak. Sy is alles wat ek wil wees maar nooit kan wees nie. Sy is beeldskoon. Lang reguit hare, mooi oë en pragtige, perfekte tande. Sy is slim, vriendelik en gewild. En sy lyk wit.

Hoekom Lorrain juis vir my kies om maats mee te wees, weet ek nie. In vergelyking met haar is ek lelik en inkennig. Kitty en Maggie sê die rede dat sy so lief is om by my te boer en oor te slaap is omdat haar ma die een man na die ander aanhou. Hulle trek gedurig van plek tot plek. Daar is geen standvastigheid in haar lewe nie, ook min liefde. Die aandag en stabiliteit waarna sy smag, kry sy by ons, in ons pondok.

Lorrain het net een fout, miskien twee: sy het lang vingers en ag, is sy tog lief vir die kêrels! En die kêrels vir haar. Sy maak my baie dinge wys, dinge wat die anties my nie sal vertel nie.

Op ’n dag word ek “grootmeisie”, soos die anties dit noem.

Kitty sê ek moet nou oppas, ek kan nou bybies kry, ek moenie my voete onder ’n klong se kombers insteek nie.

Lorrain kraai van die lag met die aanhoor van dié storie.

“Jy is somma stupid om dit te glo! Jy moet mos eers iets doen. Ek meen, dis nie só easy nie.”

Ons is albei dertien en nuuskierig. Lorrain oorreed my om Vrydagaand by haar oor te slaap. Eers is ek huiwerig, maar aan Lorrain is daar geen keer as sy eers op ’n ding besluit het nie. Tuis vra ek baie mooi of ek by Lorrain kan oorslaap. Die anties dink lank en stem toe ’n bietjie teësinnig in.

Die middag is ek daar weg met my tassie, my pyjamas en tandeborsel ingepak. Dis eers na die middagbroodjie dat Lorrain my die ding mooi vertel.

“Pettie, ek het gesien hoe die mense elke aand daar anderkant die jetty op die strand games speel. Dis vroteier, aan-aan en nog ander goed. Daar is baie hoërskoolkinners. Wil jy saamgaan?”

“Van wanneer af speel onse kinders daar?” wil ek weet. “Die wit mense swem dan daar.”

Ek weet goed waar die bruin mense mag en nie mag swem nie. My anties het my mooi geleer, hulle weet van dié dinge.

Lorrain lag weer. Sy praat nie van die bruin kinders nie, dis wit kinders.

Ek is geskok. Ons speel mos nie saam met wit mense nie. Wat wil sy onder die wittes gaan soek, dis moeilikheid.

Aag, sê sy, sy was al daar. And what is more, sy het ’n oulike wit outjie losgeslaan. Hy smaak haar sommer baie. Hy sê sy moet iemand saambring vir sy pel. Nou vat sy my saam.

“Jy is mal,” wil ek nog teëstribbel, maar Lorrain wil nie hoor nie.

Ek is nie verbaas dat die mense dink Lorrain is wit nie, maar wat van my? Ek lyk nie so wit soos sy nie.

“Ons kan my ma se hair straightener gebruik, dan sal niemand iets wiet nie,” sê sy.

Lorrain is vuur en vlam. Ek was my hare, sy smeer die stink goed aan. Haar ma-hulle weet van die gedoente in die badkamer, maar hulle lag net.

Ek is bang. Ek weet nie hoe dit is om wit te wees nie. Wat praat ’n wit kind? Miskien sal hulle hoor ek is bruin, miskien kan hulle ruik ek is bruin.

“Nommer een,” sê Lorrain, “jy sê niks, en nommer twee, ons spuit my ma se perfume aan. Problem solved.”

Lorrain blaas my hare droog, haal dan die rollers versigtig uit en borsel my hare. Ek verkyk my aan die gesig in die spieël. My hare is reguit, soos toutjies. Binne ’n halfuur het ek wit geword.

Lorrain is so opgewonde, dit lyk of sy kan bars. Met ’n “Bye-bye, ons gaan ’n bietjie by die see loop,” is ons vort. Binne-in bewe ek. Sê nou een van my skoolmaats sien my met die toutjieshare, wat sal hulle sê? Ek is seker ek gaan iets oorkom voordat ons by die ander kant van die jetty uitkom.

Lorrain is so selfversekerd soos altyd. “Hou op worrie, maak net asof jy wit is.”

Maak asof ek wit is? Hoe maak ’n mens so?

Ons kan die mense van ver af hoor lag en skree. Ons gaan stadig nader. Daar is baie mense. Hulle lyk almal na groot kinders. Stadig staan ons nog ’n bietjie nader. Ek en Lorrain is nie klein vir ons ouderdom nie. Lorrain dra al bra, en ek is lank. Die straatligte skyn helder op die mense waar hulle met kaal voete diep in die sagte wit sand staan. Aan albei kante is duine en voor ons lê die see, stil, kalm en donker.

Ek voel hoe Lorrain so ’n bietjie teen my druk, sy is ook nie meer so seker nie. Ons sien hom tegelyk. Hy kom val-val tussen die mense deur aangehardloop.

“Lorrain! Lorrain!” roep hy van ver af. Laggend kom hy op ons afgepyl.

“Dis hy,” sis Lorrain in my oor en stamp my met haar elmboog in die ribbes.

“Hallo, Peet,” groet Lorrain op haar mooiste. Dan sis sy weer in my oor: “Praat nou soos ’n wit mens!”

“Ek is bly jy het gekom. Is dit jou vriendin?”

“Ja, Peet, dis Patricia.”

“Hallo, Patricia,” sê hy en vat my hand. “Kom, ek stel jou voor aan ou Kraut.”

Hy vat Lorrain aan die hand en ek is agterna. Hy soek tussen die kinders en kry uiteindelik vir Kraut.

“Hier is die meisies. Jy ken mos vir Lorrain. Dis haar vriendin Patricia,” sê Peet en draai dan my kant toe. “Kraut se ouers is Duits, en sy naam is nie regtig Kraut nie.”

“Ag toe nou,” protesteer die ander ou. Hy staan op, skud so ’n bietjie die sand af en groet my baie beleef met die hand. Ek bewe. Hy bekyk my van nader. Hy weet ek is bruin! skree dit binne my, hy kan dit sien!

Maar die ou met die blonde kuif en blou oë glimlag mooi en vriendelik. Hy vat weer my hand, trek my saam oor die sand. Ek kan nie sy hand vasvat nie, sê nou iemand sien my? Ek voel benoud, maar die wit mens hou my hand net stywer vas en ons gaan staan langs mekaar in die kring.

Nie lank nie en ons hardloop saam, lag saam en die wit mens bly aan my sy, maar ek bly bang. Selfbewus soek ek na ander gesigte wat bruin lyk in die mengelmoes van kinders. Ja, dink ek, dié een lyk ’n bietjie bruin, daai ou se hare is ’n bietjie kroeserig, die een oorkant lyk ook . . . Ek begin ’n bietjie ontspan. Nee, besluit ek, ek steek nie af nie.

Ons speel lank so saam. Een word geblinddoek en moet ons vang. Ons spat uitmekaar. Kraut vat my hand en sleep my saam, oor die duine. Ons hardloop moeilik deur die los sand. Ek val ’n slag en Kraut trek my op. Tussen ’n paar polletjies gras val ons neer. Hy lê op sy rug, ek sit langs hom en hy lag met my. My oë bly vasgenael op sy mooi gesig. Hy is pragtig, en hy lag met my, Pattie Peters.

Hy trek my skielik af na hom toe. Ek probeer nog skerm, maar hy rol my om op my rug. Ek voel hoe sy lyf teen myne druk. Sy blonde hare val oor my gesig, kielie my neus.

“Is jy bang?” terg hy laggend.

“Nee, vir wat?” vra ek bekkig.

“Hou my dan vas.”

My hart klop in my keel. Hy vat my hande en sit een aan elke kant van sy gesig. Ek is bang hy kan ruik ek is bruin en sit my hande op sy hare. Dit voel sag en glad. Sy bene klem myne vas. Ver weg hoor ek die kinders lag en skree. Langs ons spoel die branders saggies uit op die sand.

Die lippe wat oor myne vryf, is sag en warm. Is dit waarvan Lorrain gepraat het? Is dit hoe ’n mens ’n bybie maak? Ek voel bang en stoot hom aan die skouers weg.

“En nou?” vra hy effens verbaas.

“Ek moet loop,” sê ek vinnig en staan op, maar hy gryp my hand.

“Bly nog ’n rukkie, toe, dis mos lekker hier.”

Nee, ek het besluit ek wil loop.

“Pettie! Pettie!” hoor ek Lorrain roep.

“Ag, nie nou nie,” sê Kraut effens vies. Hy sit regop en vee die sand uit sy hare.

“Hier is ons!” roep hy.

“En toe, hoe was dit? Wat het julle gedoen?” wil Lorrain later weet. Ons hardloop arm om die nek huis toe. Dis al laat, haar ma sal wonder wat van ons geword het. Die seuns wou saam huis toe loop, maar ons wou niks weet nie en het vir hulle weggehardloop.

Ek vertel haar dat Kraut my vasgedruk het, gesoen het.

“Is dit al?” lag sy.

“Wat het julle miskien gedoen?” wil ek weet.

“Nee, niks,” sê sy. “Peet is baie decent, weet jy. Hy gaan volgende jaar university toe, hy gaan leer vir dokter. Hoe lyk ek vir jou as mevrou dokter, hè?”

“Jy’s mal. Hy sal nie met jou trou nie.”

“Komaan, Pettie, jy moenie snaaks wees nie. Jy weet, Peet laaik my baie. Hy wil my net na sy huis toe vat. Hy dink ek is sestien!”

Sy skater soos sy lag.

“Die Strand is ’n klein plekkie. Netnou sê iemand vir die polisie en dan is daar groot moeilikheid,” waarsku ek, maar Lorrain wil niks weet nie.

Kitty en Maggie is vies oor die reguit hare.

“Djou krulhare was pragtig, en kyk hoe lyk djy nou!” sê Maggie kwaai.

Ek maak die hare in ’n kort poniestert vas, maar alleen in my kamer maak ek dit los as ek voor die spieël sit. Dan maak ek asof ek wit is en ek praat saggies met Kraut. Maar ek gaan nooit weer saam met Lorrain na die ander kant van die jetty nie.

Lorrain gaan nog elke aand. Dis somer en skoolvakansie en haar ma laat haar gaan. Sy het ’n wit kêrel losgeslaan en kan nie uitgepraat raak oor Peet nie. Maar na minder as twee weke loop die ding skielik dood en dit gebeur op ’n lelike manier.

Dis ’n paar dae voor Krismis toe Lorrain se ma besluit dis weer sulke tyd: hulle moet trek. Haar skuldeisers soek seker weer haar bloed, sê die anties alwetend, of dis weer ’n man wat haar ’n hard time gee. Hoe dit ook al sy, Pearl Cupido wil trek. Sy vra oom Spykers om te help.

Sy karretjie word so hoog gelaai, dit lyk soos die toring van Babel. Pearl Cupido sit voor met Keffie, die kleinboetie, op haar skoot. Agter sit Dakkie, Lorrain se ouer broer, ek en Lorrain. Ek wil ook die nuwe huis sien.

Dis laatmiddag en oompie Spykers is hoog in die takke. Oompie en sy karretjie slinger so sing-sing, klap-klap deur die verkeer met ’n stoel of tafel wat kort-kort dreig om af te val. Die boot staan oop en is propvol potte wat aan die buitekant vasgemaak is. Hulle klieng-klieng teen mekaar soos oompie vet gee of rem trap. Ons klink soos Wilkie se sirkus op vier wiele.

’n Motor draai skielik voor ons in en oom Spykers moet vinnig rem. Keffie vlieg vorentoe en stamp sy kop teen die voorruit. Ons drie agter wip omtrent oor die voorste sitplekke.

“Djou donnerse hel, kyk djy nie wa djy ry nie!” skree oompie.

Die woorde is skaars uit sy mond, toe vlieg Keffie vir die tweede keer van sy ma se skoot af. Die motor agter ons het te na aan ons gery en kon nie betyds rem nie. Die slag is oorverdowend en ons hoor hoe rol die kastrolle oor die pad. Ander karre moet uitswaai, mense druk hul toeters hard. Stoele val af, komberse lê oor die pad. Keffie skree nou éérs; hoor en sien vergaan.

“Djou blerrie donner!” vloek oompie weer.

“Klim uit!” skree Pearl Cupido, “die mense sal my goete steel!” en met dié stamp sy omtrent vir oompie by die deur uit. Die rollers in haar hare het losgekom en ’n paar hang nou slap langs haar kop. Ons drie val soos vrot velle uit die kar, gereed om te red wat daar te redde is.

“Ma! Die helse man het ons lamp gebriek, Ma!” kerm Lorrain. Sy wil nog meer sê, maar toe sien sy die bestuurder van die kar wat ons van agter gestamp het. Soos ek vir Lorrain gesê het: die Strand is ’n klein plekkie. Die kans dat jy nie alle bekendes op een dag sal raakloop nie, is klein.

Pearl Cupido is briesend. “My lamp! In sy donner in! Maar hoe ry djy dan? Op die kar se gat! Kyk djy nie wa djy ry nie?” Met elke verwyt raak haar stem ’n noot hoër. Mense staan nader om te sien wat aangaan.

Die jong man staar ons aan. Oopmond. Sprakeloos.

Oompie hou aan om te vra: “Kyk hoe lyk my lights, en wie gaan betaal? Gaan die kleinbaas betaal? Ek is arm. Mrs Cupido se lamp is gabriek. En wie gaan betaal? Gaan die kleinbaas betaal?”

Oompie se verflenterde blou keppie sit skeef op sy kop en sy lang kakebeen bewe. Die keppie word afgehaal en daar word ’n bietjie deur die swartgrys kroesies gekrap. Sy oorpak het meer gate as materiaal en dan vind sy vingers ’n gat en krap hy voort, diep ingedagte terwyl hy die damage aanskou.

“Dis nie my skuld nie,” meen oompie. “Die kleinbaas moes die distance gehou het. Wie gaan nou betaal?”

“In sy donner in,” sê Pearl van haar lamp. “In sy donner in, en dit was ’n present van my ma. Nou in sy donner in.”

“Ma,” fluister Lorrain saggies, “moenie so hard praat nie.”

Die jong man staan nog asof hy versteen is. Hy kyk van oompie, wat kners op sy enigste twee ondertande, na die vloekende vrou met die rollers in die hare. Na Keffie wat aan sy ma klou en nou eers mooi op dreef is met die geskree. Na Dakkie met die T-hemp wat op sy knieë hang en ’n mus wat tot oor sy ore getrek is, sigaretstompie onder die mus ingesteek, en na my met die piepot in die een hand en die kombers in die ander en dan . . . na Lorrain.

Lorrain met die vuil kaalvoete, die ou rokkie, die hare wat in ’n poniestert langs haar kop vasgemaak is met ou broek-elastic en die oë vol trane. Lorrain draai haar kop weg. Die vernedering is te groot. Sy klim in die kar en druk haar gesig op haar knieë.

“Ek is jammer. Baie jammer. Soos jy sê, ek het nie my distance gehou nie. My pa sal betaal,” kom die jong man tot verhaal.

Oompie kyk hom geskok aan.

“Maar wanneer, meneer? Ek mien, wanneer? Meneer kan sien Mrs Pearl is baie upset orie lamp. Ek kan nie so ry met stukkende lights nie. Hulle moet gefix word. Meneer verstaan wat ek wil sê . . .”

Meneer verstaan. Peet steek sy hand diep in sy sak. Hy haal ’n paar rand uit sy beursie. Dis ’n goeie paar rand. Hy tel die note.

“Ek hoop dis genoeg; die skade is tog nie so groot nie. My pa is weg op besigheid en hy kom eers oor twee dae terug. As jy dink dis te min om die skade te dek dan moet jy liewer wag tot my pa . . .”

Ek sien oompie tel die note so met die oog. Hy maak kamma keel skoon.

“Soos meneer sê, die damage is nie te groot nie. ’n Bietjie virrie lamp, ’n bietjie virrie lights. Ek wiet nou nie . . .” Oompie aarsel soos iemand wat op die punt staan om ’n groot besigheidstransaksie te beklink. Dan word die skroewe aangedraai: “Wat sal meneer se pa sê as hy wiet die meneer bestuur so . . . Miskien is dit nie genoeg nie. Ek wiet nou nie . . .”

Peet lyk effens ergerlik, maar hy is die ene selfbeheersing en bly stil. Hy haal nog note uit sy beursie en sit dit in oompie se hand. Oompie voel-voel die note, amper asof hy wil seker maak dis regte geld.

Alles is nou opgetel en weer vasgemaak. Pearl Cupido staan nader vir haar deel van die geld.

“Gee djy net die geld hierso! Die lamp is expensive!” skree sy en gryp die geld uit oompie se hand.

“Wag nou, Pearlie, djy moenie my geld kom staan en gryp nie,” maak oompie ’n bietjie verleë beswaar.

“Djou geld?” vra antie Pearl verontwaardig. “Djou dronk vark!”

Skielik flits ’n blou lig. “Speedcop!” skree iemand en almal spat uitmekaar.

Oompie spring soos blits in die kar en daar trek ons; antie Pearl klap die deur so in die ry toe. Die verkeerskonstabel skree iets en wys met die vinger, maar oompie sit voet in die hoek.

Lorrain het lank gevat om oor die ding te kom en het haar “vieslike ma” en die “vieslike oom Spykers” geblameer, maar ons het geweet die einde moes kom. Dit is die wet. Dit kon nie anders nie.

Maar ná die ding met Peet het Lorrain gevoel dat as sy goed genoeg is vir een wit man, is sy goed genoeg vir ’n ander.

Kitty en Maggie het Lorrain se ma geblameer vir Lorrain se foute. Soos haar hande wat nie mense se goed kon uitlos nie. Soos met die 25c.

Rachmat het groente gekoop vir die anties en die 25c is die kleingeld. Sy sit dit op die dresser in die kombuis. Dieselfde dag kom Lorrain en ’n maat na my toe. Ons speel Monopoly. Rachmat kom inloer om te groet en te sê van die kleingeld op die dresser. Ons loop kombuis toe en sy voel oor die dresser se blad.

“En nou?” vra sy. “Waar is die change nou?”

Ons soek ’n bietjie, maar die geld is weg. Lorrain besluit dis tyd om huis toe te gaan. Sy groet so in die loop. Ek en Elaine, die ander maat, kyk na mekaar. Ons weet van haar stelery; Elaine het ook al deurgeloop.

“Ek loop nou,” sê Rachmat. “Sê die anties van die change. Dis nie my skuld nie, sê vir hulle daardie meid se ma moet haar ’n slag goed slaan. Koebaai.”

Met dié dat Rachmat net na Lorrain loop, kry sy haar verder aan in die straat. Sy loop agter Lorrain en sien hoe Lorrain geld in haar hand vashou. Dit hoor ons lank daarna.

Die aand is Kitty en Maggie baie ergerlik oor die verlore geld. Dis ons volgende dag se broodgeld.

Later kom Rachmat vir mevrou Abrahams in die groot huis kuier. Kitty en Maggie loop die paar tree na mevrou Abrahams se agterdeur. Hulle wil die storie weer hoor en vra vir die soveelste keer of Rachmat seker is sy het die geld op die dresser gesit.

Dis toe dat mevrou Abrahams haar vererg. “Wie de hel dink djulle is djulle miskien? Sê djy onse Rachie het die geld gasteel? Sy doen djulle vuilwerk en kyk na die kind. Dink djulle miskien djulle is wit?”

“Nee, wag nou,” keer die anties, “ons sê nie Rachmat het die geld gesteel nie. Ons vra net.”

“Maar vir wat vra djy! Oor en oor en oor!” Mevrou is nou goed kwaad. “Ek is nou siek en sat virrie storie! Vat djulle goeters en loep, ek is nou gatvol vir djulle. Die rent wat djulle betaal, is boggerol. Voertsek nou uit my hys!”

Mevrou vat haar handsak en haal haar beursie uit. Kitty en Maggie wil nog mooipraat, maar dis neusie verby. Mevrou haal 25c uit haar beursie en gooi dit op die tafel.

“Vat die geld,” skree sy, “kyk of dit djulle ryk maak. Djulle sal djulle gat sien voorlat djulle weer so ’n cheap plek kry.” Daar is geen keer aan haar nie.

“Mevrou,” praat Maggie mooi en sag, sy probeer verskoning maak vir mevrou se vloekery, “ek dink miskien is dit die bottel wat nou praat . . .”

Maar toe is mevrou eers kwaad. Sy was lief om dop te steek as sy die kleinhuisie besoek, maar niemand is veronderstel om daarvan te weet nie.

Rachmat probeer ook mooipraat en keer, maar in ’n ommesientjie het mevrou al ons losgoed oor die muur gegooi. Die bure kom kyk wat aangaan. Mevrou druk ’n paar mans geld in die hand en binne ’n japtrap is al ons meubels uitgedra. Nog meer mense kom aangeloop om te kyk wat aangaan. Party help optel en ander skree beledigings vir mevrou.

“Dis ’n blerrie skande. Hulle is ou mense en het ’n jong kind om voor te sorre . . .”

“Blerrie bloodsuckers!” skree mevrou Abrahams terug terwyl sy Maggie se skoene oor die straat slinger.

Dis agtuur die aand en daar sit ons. Op die sypaadjie, op koffers en stoele. Uitgesmyt. Die buurmense is simpatiek, maar hulle het nie plek vir nog drie mense nie. Die meeste van hulle slaap vier of meer in ’n kamertjie.

Maar hulp het gekom. Van oompie Spykers. Ons sien hoe oompie om die draai kom in sy karretjie; hy is net betyds om te sien hoe die skoene oor die pad geslinger word. Oompie val amper uit die kar, hy is so kwaad. Maar vir eens in sy lewe is hy nugter. Hy vloek nie en raas nie, laai net op.

“Ek weet waar djulle kan bly,” sê hy. “Ek neem djulle na Vetkoek toe. Sy sal plek maak vir djulle. Dié mense kan in hulle hel gaan.”

Vetkoek is ’n ou kennis van oompie. “Nou nie vrinne nie, verstaan,” sê oompie, “ma ons ken mekaar goed.”

Vetkoek is nie oorstelp van vreugde om ons te sien nie, maar sy maak darem plek vir ons. Haar pakkamer word leeggemaak en ons trek in. Die aand laat gesels die anties en Vetkoek om die kombuistafel. Haar kombuistafel, ons sit in haar huis.

“Lat ek vir djulle ’n ding vertel,” begin sy. “Pearl Cupido was hier net voor djulle hier aangekom het. Is sy kwaad! Sy sê dat djulle haar dogter glo van diefstal accuse. Djulle weet hoe sy te kere kan gaan. Sy gaan djulle glo regsien. Nou verstaan ek die storie nie mooi nie: wie het nou eintlik die geld gevat?”

Nou is ons seker Lorrain het die geld gevat, want niemand het haar beskuldig nie. Dis haar gewete wat haar pla, toe gaan kla sy sommer by haar ma. Ou Vetkoek lag lekker oor die hele petalje. Haar wange en maagrolle skud soos sy lag.

“Kyk nou so ’n meid! Ek het altyd gesê daai kind is te mooi. Ek weet van ander dat sy altyd geld het. Koop dit, koop dat; sy sal nog hard op haar gat val.”

Ons kan weer na mevrou Abrahams gaan met die storie, maar dit sal nie help nie. Sy wil van ons ontslae wees; haar dogter soek blyplek. Maar waarheen nou?

Ek lê in die hoekie agter stoel en tafel en luister hoe Kitty en Maggie praat.

Hulle kan miskien verblyf in South End kry, maar wat van Pettie? Wie gaan vir haar sorg as sy van die skool af kom?

Miskien kan ek terug na my pa toe, dink ek slaperig.

Ek vra hulle die volgende oggend, maar hulle sê die plan sal nie werk nie. Dinge het verander by my huis; hulle het net gister ’n brief van Dadda gekry. Hy gaan weer trou. En die huis verkoop. Kay werk en Stewie is ook al groot, dis net Dorie wat nog skoolgaan. Die nuwe vrou wil nie in die ou vrou se huis bly nie. Sy is ’n weduwee, dieselfde ouderdom as my dadda.

“Nei, bly djy maar hier, ons sal ’n plan maak.”

Kroes

Подняться наверх