Читать книгу Kroes - Pat Stamatélos - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Dis ’n helder somersdag. Eerwaarde Bantjies kom by die winkel aan waar Kitty werk. Hy tref haar in die stoorkamertjie aan.

“Die baas het gesê iemand wil my sien, maar haai, ek het geskrik toe ek die eerwaarde sien. Daar staat hy, in sy swart pak nogal, en hy lyk so serious. Ek dink toe: iemand is dood en hy bring nou die tyding.”

So vertel Kitty die aand aan tafel. Ek en Maggie knik kop, ons luister aandagtig.

Maar die eerwaarde bring nie nuus van die dood nie, maar amper iets net so ernstig. Hy moes vir familie in Faure gaan kuier en dis toe op sy pad terug dat hy die kind sien.

Hy sien sy het ’n skoolrok aan, maar dis in skooltyd. Sy is opgeskote en dra haar tas. Hy trek van die pad af, wuif vir haar sy moet nader kom. Hy het darem gemeen die kind sal nie vir hom bang wees nie, sy kan mos aan die swart pak en wit das sien hy is ’n man van die kerk.

“Waar gaan jy dan heen, kindjie? Dis mos lankal skooltyd,” vra hy vriendelik.

Die trane loop oor haar wange. Nee, sy gaan nie hier skool nie, bly ook nie hier nie. Sy is op pad Somerset-Wes toe, na die winkel waar haar antie werk.

Hy laai haar op, hy gaan mos soontoe. In die kar praat hy met die kind, hy kan mos sien dinge is nie pluis nie, die kind lyk dan so aangedaan.

So praat hy met Kitty daar in die stoorkamertjie. Die kind sê haar naam is Dorie Peters en mevrou is haar antie. Haar huis is in Goodwood, sy het weggeloop. Sy sê haar sussie bly by julle.

Kitty het hom verseker dis reg so, maar sy het haar oor ’n mik geskrik. Wat sou Dorie besiel het om weg te loop? Hulle kan nie nog ’n kind vat nie, hulle kan dit nie afford nie.

Die eerwaarde sê Dorie is by sy huis, sy vrou kyk na haar. Kitty vra toestemming by die baas en die eerwaarde vat haar na sy huis toe.

“En daar sit sy,” vertel Kitty, “Dorie met brood en jam in die hand.”

“Goeiemôre, mevrou dominee,” groet Kitty beleef, kyk na Dorie en glimlag.

Mevrou dominee vat Dorie aan die arm. Sy het die badjie vol warm water getap en haar aangesê om eers skoon te kom voor hulle verder praat.

Met Dorie uit die pad kon die grootmense gesels. Kitty wil weet wat Dorie te sê gehad het.

“Nee,” sê mevrou dominee, “die kind sê nie veel nie, maar sy is upset. Ek meen te sê, sy het mos baie ver geloop, en ek rieken sy moes ’n good reason gehad het, nè?”

Die eerwaarde sê dat hulle reeds vir onse pa gebel het, ook vir antie Anna op Grabouw. Dorie het gesê sy het weggeloop om by antie Anna en oom Kalie te gaan bly. Skaam-skaam het sy vertel dat sy graag by die anties in die Strand wil bly, maar hulle kyk klaar na haar sussie.

Die antie en oom van Grabouw het gesê hulle kom die kind haal. Oom Kalie sal vir onse pa by die werk bel en sê hulle vat die kind. Oom Kalie werk by Elgin se apple factory en alhoewel die ou oom glad nie drink nie, is hy lief vir die jong meide.

Maar nou ja, Dorie wil weg van die leë huis, die verantwoordelikhede. Sy is die een wat moet sorg dat daar elke dag brood en melk gekoop word, dat die groente geskil word, dat die huis aan die kant is.

Die oom en antie het gekom, iets gesê van die skande wat Dorie oor haar dadda gebring het deur weg te loop, en toe is hulle gereed om te ry.

“Daai kind het darem guts, djy kan nou sê wat djy wil,” sê Maggie. “Ek meen, om so alleen te loop is mos dangerous, die vuilgoed kon haar seergemaak het.”

Ek en Kitty knik kop. Ja, die kind het guts.

Oom Kalie en antie Anna is godsdienstige mense en Dorie moet na dieselfde kerk gaan. As hulle sing, moet sy saamsing, en as hulle hande klap, moet sy saam hande klap. Haar vriende word gekeur, haar boeke word gekeur. Dorie het miskien van ’n leë huis weggekom, maar geluk vind sy nie by die oom en antie nie.

Lank daarna vertel sy my op ’n keer van antie Anna se kat. Die wyfiekat kry kleintjies en die antie wil nie die ses stuks hou nie. Daar waar sy sit en huiswerk doen, kom die antie na haar en sê sy voel nou so aardig oor die ding wat sy gedoen het.

Antie is ’n kerkmens, dink Dorie, wat kan so aardig wees?

Antie Anna sê sy het die kleintjies in ’n sak gesit en hulle in die dam gegooi om te versuip. Dorie is geskok en wil huil. “Kan jy glo, Pettie,” sê Dorie, “sy sit in die voorste bank en klap hande en skree halleluja, en dan verdrink sy klein katjies!”

Op ’n keer gee ek vir Dorie ’n pak kaarte. Sommer om so ’n bietjie op haar eie te speel as sy verveeld is. Antie Anna vat die kaarte en pos dit terug aan my. Ek kry die strokie om te sê daar wag ’n pakkie vir my by die poskantoor. Daar aangekom, sê hulle ek moet die posgeld betaal. Kitty en Maggie is kwaad.

“Sy kon maar die donnerse goed weggesmyt het! Hoekom moet sy dit terugstuur dat ons die posgeld ook nog moet betaal? Die skynheilige goed!”

Ek voel jammer vir Dorie. Hier is ek in die Strand, daar is sy in Grabouw. Kay bly saam met ’n vriendin in ’n buitekamer. Stewie is in ’n ambagskool, ver van Dadda-hulle af. Ek huil oor my familie wat so verstrooi is. Ons is broer en susters, maar ons het soos vreemdelinge vir mekaar geword. Onse mamma is dood en dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek hoop net die dooies kan nie sien wat op aarde aangaan nie, want Mamma sal baie trane huil oor haar kinders. So sit ek aan tafel en dink.

Mamma het ons elkeen onder haar hart gedra, nege maande lank. Elkeen se doeke omgeruil, ons snotneuse afgevee, vuil handjies gewas. Sy was lief vir ons, elkeen van ons. Sy het dissipline met die een hand uitgedeel en liefde met die ander.

Dis ironies dat Dorie die een is wat weggeloop het. Dadda was lief om te vertel dat van al sy kinders Dorie die mooiste bybie was. Sy het baie maal in Mamma en Dadda se bed ingekruip, dan het Dadda vroegoggend vir haar koffie in die bed gebring. Dorie, die lieflingskind. Nou sit sy by Dadda se suster en haar man in Grabouw. Alleen, sonder die dadda wat so lief is vir haar.

Maar Dorie bly nie lank daar nie. Sy skryf standerd agt, kry werk en spaar. Twee maande later klim sy op ’n trein Johannesburg toe.

Dadda bel Kitty by die werk. Hy kom my die naweek haal, vroeg Vrydagaand. Ek is bly om ’n bietjie weg te kom van die huis, maar ek voel tog onseker. Dadda het ’n nuwe vrou, antie Mona. Sal sy van my hou? Ons het mekaar net vlugtig gesien toe Dadda haar vir ’n visit gebring het.

Die anties is nie ingenome met haar nie. Hulle het baie te sê gehad toe Dadda weer trou en die huis verkoop.

Dadda-hulle het agter in die jaart van twee ou mense ingetrek. Die plekkie is groot genoeg vir hulle, sê Dadda. Hulle maak ’n klein bydrae vir water en elektrisiteit en so word die huur betaal. Oor naweke peuter en skoffel hy in die tuin terwyl die man op die stoep staan en met ’n bewerige hand en kierie beduie wat gedoen moet word.

Een keer per week gaan Dadda vir die ou mense biblioteek toe, hulle is mos wit, en saam-saam word boeke wat versigtig uitgesoek is, gelees en bespreek. Antie Mona is lief vir tydskrifte en vertel vir almal dis haar enigste waais. Dan knipoog Dadda vir die mense en ons lag lekker, sonder dat ek ooit weet waaroor ons lag.

Gelukkig is Parow nie te ver van Kaapstad af waar Dadda werk nie, en die stasie nie te ver van die huis in Cloetestraat nie. Dadda se Angliatjie staan teenaan die buitegeboue, beskut onder druifstokke, en die huismense is hulle goedgesind.

Hoe Mona Thembi en Dadda by mekaar uitgekom het, weet ek nie. Nog minder hoe my dadda sin in haar gekry het, maar hy noem haar Monatjie en sy noem hom Bokkie. Hulle praat mooi met mekaar, soos verliefdes.

Antie Mona is net so breed soos sy lank is en die dubbelkenne hang amper op die naeltjie. Die oë is skrefies en die klein mondjie altyd bloedrooi gesmeer – om dit sigbaar te maak, sê die anties. Die hare is netjies gevleg en bo-op die kop vasgemaak.

Vrydagaand bekyk ek my dadda se nuwe huis van binne. Die meubels is alles nuut, selfs die mat op die vloer lyk nuut. Die huis het ’n tweede kamertjie en ek herken van my mamma se ou meubels.

Die aand sit ons in die kombuisie en gesels en antie Mona maak tee. Ek voel skaam dat my dadda se nuwe vrou vir my tee aandra, ek is net veertien jaar oud. Ek voel ’n bietjie senuagtig in haar geselskap en dit laat my hakkel.

Sy dink seker baie sleg van Dadda se jongste kind, dink ek toe ek inklim om te gaan slaap. Ek weet nie wat om met haar te gesels nie.

Saterdagoggend is daar nie veel kans vir inlê nie. Antie Mona maak pap en ons moet opstaan en kom aansit. Die pap en warm koffie smaak lekker. Daarna moet ek en Dadda winkels toe om ’n bietjie kruideniersware te koop. Sy sit geld in Dadda se hand en vermaan hom om die kleingeld terug te bring.

“Moenie die change op nonsense uitgee nie, Bokkie, ons het dit nodig,” sê sy weer. Dadda lag net en met ’n “Aag, Mamma” is ons daar weg.

Ek kyk na Dadda waar hy geduldig by die till staan en wag op sy beurt. Hy lyk netjies, skoon geskeer, sy grys hare mooi gekam. Sy klere lyk skoon en sy skoene blink. Hy ruik lekker, soos iemand wat nou net uit die bad geklim het, en hy lyk gelukkig.

Ek het gesien hoe antie Mona my dadda pamperlang. Sy vreet die oukêrel amper op van liefde en Dadda blom behoorlik in haar nabyheid. Hy skryf gedigte vir haar en sy lees dit oor en oor.

Vir die eerste keer voel ek bly dat Dadda weer vrou gevat het. Hy het die regte ding gedoen. Dis duidelik die ou mense is smoorverlief en ek kan sien sy sorg mooi vir hom.

Ons eet middagete en Dadda vertel my van die hell driving.

“Die show starts three o’clock, ma ons moet vroeg gaan om parking te kry.”

Hell driving. Dit klink lekker, dink ek.

Die wors en eiers word afgesluk en ek en Dadda is gereed om te gaan. Antie Mona eet nog. Haar wors was groter as ons s’n en sy het meer brood geëet ook.

“Mamma,” sê Dadda terwyl hy liefies oor haar skouers vryf, “hoe lyk dit met ’n bietjie small change? Ons moet mos betaal om in te gaan.”

“Ag nee, Bok, wat is dit dan nou? Djy het mos nie geld nodig vir staanplek nie,” sê antie Mona met ’n hol laggie.

“Ons moet die entrance fee betaal, Mamma.”

Antie Mona haal haar beursie tussen haar borste uit en maak dit stadig oop. Sy bekyk die geld, vroetel ’n bietjie rond tussen die muntstukke. Sy sit 40c in Dadda se hand. Dis min, dink ek, maar Dadda vra nie nog nie.

In die kar kyk ek na die petrollesing. Dit staan amper op empty en ek bid ons kom daar en terug. By die hek van die groot gronde hou ons stil om te betaal.

“Fifty cents,” sê die man en hou sy hand.

Dadda maak sy hand oop en kyk na die 40c. Ek kan sien sy groot hand is natgesweet. Hy lek oor sy droë lippe. Ek kry skaam vir sy part.

“Toemaar, Dadda . . . Ek . . . ek . . . ek het g- . . . geld,” hakkel ek en sit nog geld in sy hand. Hy fluister iets soos “Dankie, my kind” en gee die geld haastig vir die man.

Op daardie oomblik haat ek antie Mona vir wat sy my dadda aandoen. Sy verneder hom voor sy kind. Ek koop ice creams vir ons en ek en Dadda eet lekker, en ons gesels lekker. Ek voel skielik nog liewer vir Kitty en Maggie oor die geld wat hulle vir my gegee het.

“Mens gaan nie uit djou hys sonder ’n pennie nie,” sê hulle altyd. Ek is nou baie dankbaar vir die pennie. Die hell drivers is opwindend en ons geniet dit terdeë.

Tuis sê Dadda niks oor die geld nie, maar ek wens eintlik hy wil iets sê, miskien sal sy sleg voel oor haar suinigheid.

Dadda en die antie gaan vroeg kamer toe, hulle wil albei lê en lees. Dadda het ’n dik boek van die ou man geskaai, met sy permissie, en antie Mona het die nuutste Personality.

Ek gaan na my kamertjie toe, vat potlood en papier en teken. Kitty en Maggie is lief om vir mense te vertel hoe talented Pettie is en dan moet almal eers na my tekeninge kyk. Ek droom om kunsskool toe te gaan.

Laat Sondagmiddag ry ons terug Strand toe. Kitty en Maggie maak aandete en antie Mona eet omtrent. Sy maak skoonskip van die paar vetkoeke en drink twee koppies koffie.

“Haai, Mamma,” sê Dadda, “maar jy eet darem nou lekker.”

“Dja, die kos smaak lekka,” beaam sy.

Dadda-hulle gaan huis toe en ek vertel die anties van antie Mona se suinigheid. Hulle lag, maar ek voel ’n bietjie skaam. Sy is darem my dadda se vrou.

Die anties vra nie uit oor Stewie nie. Ek is baie lief vir my broer, ek kan selfs die kos van sy bord af eet en hy sal nie kwaad word nie. Ons mamma se dood het ons almal geraak. Stewie het rebels geword, hy kon nie haar dood aanvaar of verwerk nie. Sy hartseer en verslaenheid stuur hom in die verkeerde rigting. Hy raak met slegte geselskap deurmekaar en word na ’n ambagskool gestuur, vir kinders wat nie wil skoolgaan nie.

Ek dink terug aan ons dae saam by Mamma se huis. Ons speel skool-skool en Stewie is die meneer. Hy slaan ons hard omdat ons kamma so stupid en lui is. Dan skree en kerm ons, maar dis alles net speel-speel. Daar is nie ’n kind in ons straat wat nie vir Stewie lief was nie. Dit was voor hy met die skollies deurmekaar geraak het.

Ons huis het ’n lang gang gehad. Stewie kniel op die kaal vloerplanke, sy albasters wat hy sy perde noem opgeline teen ’n liniaal. Elke perd het ’n naam. Die liniaal word vinnig vorentoe gestoot en die perde hardloop voordeur se kant toe, met Stewie kort op hulle hakke. Die wenner word aangekondig, sy posisie teen die liniaal word verander, en die proses begin van voor af.

Maar toe stuur hulle my ouboet ver weg.

“Die law is die law,” het my ousus Kay gesê en haar neus gesnuit.

In my laaste skooljaar maak ek maats met Lettie Louw. Sy is die slimste in ons klas en moedig my aan om my drome te volg om na skool kuns te studeer. Sy wil ook universiteit toe gaan, maar haar mense is arm, sy sal moet gaan werk.

“Ek laaik hospitale,” sê sy. “Ek het aansoek gedoen by die hospitaal om radiography te study,” sê sy. “Ten minste kry ek ’n bietjie betaling terwyl ek study, en die course is nie te duur nie, en nie te lank nie. Wie weet, miskien kry ’n ryk dokter nog sin in my . . .”

“Dink tog aan my as jy eendag so skatryk is.” Ons lag lekker vir die droom.

“Nee wat, jy is die een wat ’n famous artist gaan word,” sê sy. “Dink jy maar aan my! Wat sê die anties van die university? Is daar geld?”

“Ons negotiate nog. Hulle het ’n polis wat ietsie werd is, hoor ek hulle praat in die kombuis. Ek wil so graag gaan . . .”

Kroes

Подняться наверх