Читать книгу Kroes - Pat Stamatélos - Страница 9

Hoofstuk 6

Оглавление

My matriekjaar is iets van die verlede, 1966 lê op sy rug en dis weer Krismis.

Ek was die oggend by Lettie en ons het reeds ons “Merry Christmas” gesê en geskenke oopgemaak. Toe is sy kombuis toe, want die familie kom. By my huis is dit dieselfde: die mense kom.

Kay kom kuier met ’n kêrel en ons is almal verbaas dat sy so ’n mooi klong losgeslaan het. Paulkie is stil, terwyl Kay al die praatwerk doen. Hulle het Stewie saamgebring. Sy skooljare is lank reeds verby. Hy is ’n jong man van in die twintig, en ons is bly om te sien hoe goed hy lyk.

“Kyk, ons het nou gedecide om te trou, nè. Paulkie werk by Karl Bremer hospital en sy geld vir carpenter is nie te sleg nie. Ons moet nog blyplek soek en julle wiet hoe difficult dit is. Henna het gesê ons kan maar by hulle kom bly, maar haar plekkie is so klein. Sy het selwers vier kinners en nog haar suster Miss Oliver ook. Waar gaan ek en Paulkie ook nog lê? Dis difficult.”

Ons sit aandagtig en luister terwyl Kay praat. Paulkie knik sy kop, hy stem saam. Ons knik ook. Ja, dis difficult.

Ons sit die sitkamertjie vol. Krismis ken mense net een adres, sê die anties altyd, al verander die adres soms. Almal is daar. Behalwe Kay, Paulkie, Stewie en ons drie, is Dadda en antie Mona ook daar en dan nog Kitty-hulle se niggies, antie Maudie, antie Lizzie en antie Maudie se man, Bob. Almal met ’n koppie tee in die hand, oudergewoonte op Krismismiddag.

Die hoogtepunt is natuurlik die doekpudding na ete en die koek met middagtee. Op laerskool was dit nog pounds and shillings en toe het Kitty die koek deurspek met tiekies, en die gedoente om te kyk wie kry die meeste tiekies was ’n aardigheid. Later jare was dit nie meer tiekies nie en het Kitty vyfsentstukke ingegooi, maar nie so oordadig nie. “Life is too expensive nowadays,” het die anties verskoning gemaak, maar die koek en pudding het gewild gebly.

“Ek is nou nie professional nie, gooi somma die goedjies so bymekaar. Laaik djy dit?” vra Kitty dan aan die een wat eerste proe.

Almal is dit eens: die pudding was heerlik en die koek smaak vorentoe. Dan skep sy gou-gou nog terwyl sy aan ’n ander een vra: “Laaik djy dit?”

Stewie se bordjie word tot oorlopens toe vol geskep. Oor die breedte van die kamer glimlag ons met mekaar. Dis ’n glimlag wat sê: ons onthou. Ons onthou al die lekkerte van ons kleinweesdae. Ons onthou en ons is nog lief vir mekaar, ten spyte van die pyn, ten spyte van die lang skeiding, sommer ten spyte van alles. Hy staan van sy plek af op en kom sit by my.

“Nou wanneer wil djulle eintlik die wedding hou?” vra Maggie vir Kay.

“Ons het gedink somma volgende maand. Daar’s tog no sense in waiting. Ons is reg vir mekaar.”

Paulkie glimlag breed. Ja-nee, hulle is reg vir mekaar. Maar waar kan hulle gaan bly, die huise is so skaars. Die government beloof die hyse, ma wa ís die hyse?

“Nee, die wit mense sit in hom,” sê oom Bob.

“Maar ons is ook mense. Ons trou ook, kry ook kinners, party kyk nog na die ou mense. Hulle moet vir ons ok sorre, ons is ok citizens,” sê antie Maudie.

“Second-class citizens, dearie,” sê Maggie, “second-class citizens.”

“Hulle moet net die vote teruggee, dan sal djy ’n ding sien,” sê oom Bob.

Almal lag, al is dit ’n bitter lag. Oom Bob het altyd dieselfde storie: gee net terug die vote, dan kom als reg. Ons praat nog so van die vote, toe loop oompie Spykers in.

“Mirrag, mirrag, mense. Dis al blerrie Krismismirrag en ek is nog nugter. Wa’s daai lekka pudding?” gesels hy met die intrapslag.

“Wat sê djy, Spykers,” begin oom Bob weer, “is dit nie high time dat ons weer die vote kry nie?”

“Hoeka tyd, my broer, hoeka tyd. Ma dan gaat die gatvere waai, ek sê djou.”

“Nei, ma dis reg so. Ons sal hulle ytsmyt, die hele donnerse klomp. Wa hoor djy van ’n party wat so lank inbly? Dis lankal time for a change.”

“Ek stem. Dis hoeka time for a change. Die pudding smaak lekka, antie, ma die bordjie is dan nou leeg . . .”

Kitty skep weer. Oompie kan die brandewyn proe en lek-lek oor sy lippe en maak klapgeluide met sy tong.

“Het djy al ’n bietjie trousseau bymekaar?” wil antie Lizzie weet.

“Watse goete?” vra oompie Spykers, so effens van stryk gebring.

“Eet djy djou pudding. Dis girl talk dié,” kom dit van die antie.

“Daai wit Hollander is nou vrek, ma dink djy Vorster gaan bieterder wees?”

“Bieter vir wie? Nie virrie bruin man nie! Die Progressives het die regte idea.”

“Nowhere. Hulle is nowhere. Die Boere stem nie vir hulle nie, hulle is bang virrie Jode. En die United Party beteken boggerol.”

“Ek het ’n paar kussingslope, ’n paar lakens, ’n tafeldoek, kleedjies wat ek self gemaak het, koppies en nog so ’n paar odds and ends.”

“Gaan djy nog continue met die werk?”

“Ja, die lewe is so expensive. Ek kannie anners nie.”

“Gee djy net die Progressives ’n kans, ou pellie, ek sê djou . . .”

“Wil iemand nog tee hê?” vra Maggie so tussendeur.

“Ek hoor my baby girl gaan nou university toe?”

“Ja, Dadda, maar ek sal nie op die kampus wees nie. Michaelis School of Fine Art is bo in die Tuine. Ek sal in en uit met die trein moet ry,” sê ek.

“Pettie sal goed doen,” sê Dadda vir almal, “sy is so talented.”

“Dja, sy teken mooi.”

Daar word weer oor my wonderlike talent uitgebrei.

Teen laatmiddag sit oompie Spykers al styf teen Kay se Paulkie, sy lang maer bene voor hom uitgestrek, die arm slap agter op die rugleuning, maar dit druk-druk so effens teen Paulkie se skouers.

Die vrouens praat oor Kay se troue. Sy vra ek moet strooimeisie wees. Ek kan my ore nie glo nie, ek was nog nooit strooimeisie nie.

Oompie Spykers fluister vir Paulkie, maar ek hoor hom.

“Hierso, vir wat wil so ’n oulike jongetjie soos djy nou ga staat en vrou vat, hè?”

Paulkie skuif so effens op die bank. Hy glimlag verleë en vryf ’n bietjie aan sy bakore.

“Nei, dis ma tyd, oompie. Dis ma tyd.”

“Los die oompie, man,” sê oompie Spykers ’n bietjie verontwaardig, “ek’s nog djonk. En djy is nog djonk.”

Oompie klap-klap saggies op Paulkie se been.

Paulkie weet aan watter kant van die draad oompie Spykers sit en sy kleur is nou asvaal. Oompie se groot hand bly op sy been en Paulkie is in die knyp. As hy verder skuif, val hy van die bank af.

Ek kyk na oompie. Hy lyk nog jonk, maar ek weet hy trek al verby vyftig.

“Djy moet ’n bietjie wag, man, life is full of surprises,” sê oompie, dié keer ’n bietjie harder.

“Jy sal ’n surprise kry as jy nie jou donnerse hand van my Paulkie se been afhaal nie, jou blerrie moffie,” sê Kay hard van anderkant af.

“Wat sê djy?” vra oompie nou baie verontwaardig, maar hy haal gou sy hand af.

Paulkie neem sy kans waar en staan haastig op.

“Dis laat,” sê hy en staan so ’n entjie weg van waar oompie sit.

“Wag nou, Paulkie, ek eet nog,” maak antie Mona beswaar terwyl sy haar derde bakkie eetgoed verorber. Die lipstick en Cutex is die perfect match, sien ek. Ek bekyk haar weer. Sy is smaakvol geklee vir haar jare, krale om die nek met bypassende oorbelle, selfs die skoene pas by die outfit.

“Haai, Mamma, ma jy eet darem lekker,” lag Dadda en knipoog vir my.

Kay groet almal behalwe vir oompie Spykers. Sy gee hom ’n vuil kyk. Nog voor sy kan keer, skud oompie hand met Paulkie en Kay is uit by die deur. Hy hou Paulkie se hand ’n bietjie lank vas en agter Kay se rug knipoog hy vir Paulkie en trek sy groot slap lippe op ’n plooi, soos iemand wat ’n soen stuur. Ek voel ek gaan uitbars van die lag, dis so snaaks. Paulkie struikel amper oor sy eie voete om by die deur uit te kom.

Stewie druk my styf vas toe hy ook groet. Ek kom nou eers agter hoe lank en breed hy geword het sedert ek hom laas gesien het. Of was hy maar altyd so? Hy vertel dat hy een van die dae Pretoria toe gaan. Iemand het hom ’n werk met goeie geld beloof. Hy moet nog net reël vir blyplek, dan gaan hy, sak en pak. Hy klink so opgewonde soos ek hom as kind onthou, al is hy heelwat ouer as ek.

Uncle Bob klap almal op die skouer, antie Lizzie en antie Maudie soen almal. Laaste om te ry, is Dadda en antie Mona. My Kersgeskenk van hulle is ’n koekie seep. Op die papier staan Two for the price of one, maar ek het net een gekry.

Oudergewoonte het almal eers lank grondgetrap by die voordeur voordat hulle vir die soveelste maal groet en uiteindelik hulle ry kry.

So kom nog ’n Kersdag aan sy einde. Nou kan ons stryk kry in ons eie huis: elkeen met sy eie gedagtes en gevoelens oor die Kersdag. Ons was skottelgoed en droog af en bêre tot laat. Ek en die anties gesels om die wasbak.

“Djou dadda het nie miskien vir djou ’n geldjie gegee nie, het hy?” vra Maggie so met die buk om die bordjies weg te pak.

“Nee, hy het nie.”

Maggie maak ’n harde snorkgeluid, Kitty ook. Ja, dink ek, ek weet: Dadda onderhou my nie. Nie eens ’n paar sent vir treingeld nie. Nie ’n paar rand vir die universiteit nie. Die anties het darem gehoop hy sal . . .

“Dis Mona,” sê Kitty, “die ou vrek.”

Ek vertel die anties van Stewie wat Pretoria toe gaan en van die geleentheid vir ’n goeie werk met baie geld. Skielik voel ek so bly en bewoë, die trane loop sommer. Ons is almal bly.

“Sy lewe loep nou straight,” sê Kitty, “hy gaan nou settle.”

Kay se troue is onvergeetlik. Dis einde Januarie en vrek warm. Arme Paulkie kry ’n verkeerskaartjie vir te vinnig ry, en boonop is sy skedonk nie padwaardig nie, sê hulle, maar niks kan die vreugde en opwinding van die groot dag demp nie. My hare word weer reguit gemaak en Kay smeer vir my lipstick aan.

Ek loop agter Kay die kerk binne en die ou bekendes van Goodwood kyk my kopknikkend aan. Dié Pettie het verander, kan ek hulle amper hoor dink, sy lyk mooi. My rok is pragtig en ek voel soos ’n prinses. Ek luister aandagtig na die pastoor, maar kan agterna niks van die preek onthou nie.

Dis ’n Christelike troue en daar is geen sterk drank nie, tot oompie Spykers se spyt. Kay was verplig om hom te nooi, hy moes vir Kitty en Maggie en vir my bring.

Die onthaal is in haar vriendin Henna se huis, en daar ontmoet familie en vriende mekaar weer, party na baie jare. Ek kry baie komplimente en wens die onthaal wil vir ewig aanhou.

Agterna skinder die anties oor hoe oud dié een geword het en hoe vet daardie een geword het. Kay-hulle is nie op honeymoon nie. Watter bruin mens het geld vir so iets, en waar moet hulle kwansuis gaan bly?

Hulle het ’n groot kamer vir blyplek gekry en met net ’n bed en Kay se trousseau-goed trek hulle in.

’n Paar dae na die troue kry ek ’n brief. Dis van Dorie. Het ek die strooimeisie-affêre geniet? wil sy weet. Het Kay haar kaartjie met die R20 ontvang?

Jy weet, my pay is te min vir ’n treinkaartjie, anders sou ek gekom het, skryf sy.

Sy werk in ’n groot hospitaal in Johannesburg. Een van die dae gaan sy as suster kwalifiseer en sy is vasberade om elke sent te spaar om oorsee te gaan. Ek glo haar en wens ek kan saamgaan.

Dis Maart en amper tyd vir die universiteit om te begin. Die enigste kwalifikasie wat ek vir die Michaelis Kunsskool nodig het, is matriek en talent. Maggie se polis het genoeg uitbetaal om my universiteitsfooie te dek en sy het nog ietsie oorgehad. Ek kry ’n Saterdagoggendwerk en die anties is verlig. Nou is my treingeld betaal en dis net my kunsmateriaal waarvoor hulle nog hand in die sak sal moet steek.

Ek geniet die Saterdagoggendwerk. Dis in Somerset-Wes en ek sal moet heen en weer met die bus, maar gelukkig word die ekstra uitgawe my gespaar: ek kry ’n lift saam met bure wat elke dag Somerset toe ry vir werk. Hulle weier enige bydrae vir petrol. “Djy is ’n poor student,” sê hulle simpatiek.

Die winkel is ’n speelgoed-en-hobby-winkel en daar is nie veel vir my om te doen nie. My baas se naam is Glen Sneddon en hy en sy vrou is baie nice teenoor my. Ek maak koffie, stof af en pak reg, en as dit baie besig raak, moet ek die customers help, maar ek werk nie met die till nie. Die Sneddons het drie dogters en mevrou is weer met die lyf. Almal hoop en bid dat dit hierdie keer ’n seun is. Mevrou het reeds besluit as dit ’n seun is, gaan die naam Peter-John wees. Maar hulle maak hulle klaar vir nog ’n dogter.

My eerste dag by Michaelis is ’n nagmerrie. Iemand sou my kom oplaai, maar ’n uur voor die tyd laat sy weet die motor gee probleme. Ek moet ’n trein haal.

Die kunsafdeling van die universiteit is aan die bopunt van die Tuine en ek hardloop die hele ent van die stasie af. Laat vir my eerste klas, klop ek saggies aan die groot deur met die naamplaatjie wat sê Lecture Room Number One. Ek stoot die deur versigtig oop en gaan binne. Die lektor, meneer De Villiers, kyk my kwaai aan. Hy wink my nader en wys ek moet gaan sit. Dit voel asof die ander studente se oë gate in my kop boor. Ek skuif haastig in langs ’n meisie in die voorste ry. My hande is nat van die sweet en my klere sit vas aan my lyf.

“Daar’s ’n meid in ons klas,” sal hulle die aand aan tafel vertel. “Sy was laat vir die eerste klas. Sy ruik na sweet.” Die ma en pa sal wonder hoe ek dit kan bekostig.

Ek kyk af na my skoene. Bruin skoene met veters. Lelik. Jy moet ver loop, het Maggie gesê. Hulle is gerieflik en kan maklik skoongemaak word. Nou is hulle vol stof en ek kry ’n bietjie skaam toe die meisie langs my na hulle loer.

Na die inskrywing en verwelkoming gaan ons na ’n ander klas vir Basic Design. Die lektor is Neville Dubow. Sy swart vasgeplakte hare lê agtertoe. Hy lek dikwels oor sy dik lippe en glimlag min. Ons leer later om vreemde dinge in sy klas uit paper en cardboard te maak. Daar is ook opgeblaasde ballonne wat op karton vasgeplak word en soos vroueborste lyk, en horlosie-springs wat so styf span dat dit lyk asof hulle enige oomblik oor die kamer gaan skiet. Verder is dit bokse met slingers en ligte wat spookagtige goed op skerms gooi en vreemde prente met vreemde voorwerpe.

Peggy Delport gee Graphic Design. Sy rook Lucky Strike en praat met ons tussen bruingevlekte tande en rook wat uit haar neusgate borrel. Sy het ’n seun met die naam Zak. Sy leer ons die fynere kuns van design en lettering. Ons eerste taak: ’n eksperiment met sirkels, lyne en vierkante. Aan die einde van die dag hang ons alles teen die muur. Peggy gee haar review. Sy wys met ’n lang stok na my taak.

“Very simplistic, but to the point. Very bold. Good beginning, Patricia.”

Die ander studente kyk na my en glimlag.

“Die meid begin goed,” sal hulle vir ma en pa sê.

Kroes

Подняться наверх