Читать книгу Kroes - Pat Stamatélos - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Na die geldvoorval het ek Lorrain weer gesien, maar net op straat of in die kerk. Sy het nooit weer kom kuier nie. Miskien het sy probeer vergoed vir wat sy ons aangedoen het, ek weet nie, maar dis deur haar dat ons later ’n blyplek gekry het.

Dis somer en die Big Wheel, soos ons dit genoem het, het dorp toe gekom. Daar is sommer baie lekker rygoed en candyfloss en cool drinks en speletjies, ’n hele gedoente, by Toby’s Carnival.

Lorrain kry my die Vrydag in die straat en sê ek moet haar die aand by die Big Wheel ontmoet, sy het iets om my te vertel. Sewe-uur die aand verkyk ek my aan die wiel wat om en om draai met sy honderde liggies wat aan en af flits en kinders wat gil en lag. Ek staan so ’n bietjie op ’n afstand en wag. Ek sien Lorrain sit op die Big Wheel en langs haar ’n jong man. Ek herken die man dadelik. Dis die ou Jood Israel se jongste seun, Nathan. Hy is nie net die jongste nie, maar die laatlammetjie in ’n kroos van vier. Hy en sy ouer broer verskil twaalf jaar. Ek het al gehoor hoe die mense praat: Die klong is al tussen die bruin mense, hy gee sy ouers baie grys hare, hy wil nie leer nie, wil nie werk nie.

So staan ek hulle en dophou terwyl die groot wiel om en om gaan. Dit hou stil en Lorrain en Nathan klim af.

“Jy het toe gekom,” sê Lorrain en druk al laggend teen Nathan vas. Ek voel ’n bietjie skaam en verleë voor Nathan. Dit voel vir my almal kyk ons aan.

Lorrain praat voort: “Pettie, jy ken mos vir Nathan hierso, nè? Nou ja, sy pa is die eienaar van ’n klomp hyse by South End, daar naby Groenbos se area. Hulle het al lank gelede vir die bruin mense daar begin hyse bou. Hy kan miskien daar vir julle ’n plekkie kry.”

Nathan sê niks, druk Lorrain net styf teen hom vas. Lorrain lag en vermaan hom kamstig om hom te gedra.

“Kitty en Maggie moet na die office gaan in die Main Road, hulle moet gaan apply. Hulle moet net sê Nathan het hulle gestuur. Iemand trek die einde van die maand uit.”

Nathan vroetel in sy baadjiesak, bring ’n stuk papier te voorskyn. Dis die application form, sê hy, julle moet dit invul.

“Dankie,” sê ek vinnig, bly om weg te kom van haar en Nathan. Ek maak aanstaltes om te loop.

“Moenie gaan nie, man,” sê Lorrain. “Dis lekker hier.”

“Dié plek is net vir wit mense,” sê ek en draai om en loop weg. Dis die laaste keer dat ek en Lorrain met mekaar gesels het.

Terug in ons pakkamer die aand lê ek lank en dink aan haar. Aan al die lekker dinge wat ons twee saam gedoen het. Al die kere toe ons cowboys en crooks gespeel het. Die lekker bome wat ons geklim het, die dik briewe wat ek in die hospitaal van haar gekry het toe ek in was vir ’n ooroperasie. Met skaamte het ek die dae onthou toe ek kortaf met haar was terwyl sy altyd net vriendelik was. Sy wou net liefde en vriendskap van my hê.

Na Lorrain het daar ander vriende gekom. Nie sulke lekker vriende nie, maar tog maats saam met wie ek my kon uitleef. Een so ’n maat was Haydee en haar groep vriende.

Ek sluit by hulle aan op veertien. Die dinge wat ons plesier verskaf het, kon soms as gewaag beskou word. Soos die afbrand van ou Israel Friedman se plek. Nie ons skuld nie, maar nogtans.

Na Lorrain my gesê het van die huis in South End, gaan Maggie na die kantoor en doen aansoek. ’n Week later trek ons in.

Die vorige mense was morsig en die plek is vuil en die kamers klein. Al die ligte se switches sit in die gangetjie net langs die voordeur. Kitty bekyk hulle so en sê: “My Lord! Dis nou ’n hotnothys wattie wit mense hier gebou het.”

Die draad rondom die huis is platgetrap en langsaan staan ’n groot ou gebou. Dis Israel Friedman – Lorrain se kêrel se pa – se tweedehandse winkel. Die plek is twee verdiepings hoog en stink behoorlik van al die ou goed. ’n Tweedehandse bed is sommer spotgoedkoop en die meeste bruin mense se kombuistafels kom uit die ou se plek.

Aan elke kant van die gebou is daar ’n laantjie en voor die gebou hoë pilare. Die gebou word saans met ysterhekke gesluit; bedags staan ou Friedman voor die deur, hande agter die rug, sigaar in die mond, hoed effens skeef op die kaal kop en om sy nek ’n fancy bow tie.

Oor naweke is Friedman se winkel ’n lekker speelplek en wegkruipplek vir ons kinders. Dit het baie hoekies en draaitjies en pilare en gangetjies en buitetrappies. Ten spyte van die hoë ysterhekke voor, kan ’n mens maklik langs die gebou inkom waar die draad ’n bietjie platgetrap is.

Dis ’n Saterdagmiddag. Haydee se ouers rook albei en sy kry ’n halwe pakkie sigarette in die hande. Nou het ons die rookgoed, maar waar gaan ons aansteek? Agter Friedman se plek, besluit ons. Van agter is ons weggesteek deur ’n hoë muur.

Ons voel-voel aan elke deurknop. Een deur gaan oop en ons staan skielik in ’n klein kamertjie met ’n klomp rommel, niks van waarde nie. Meesal lappe en toue, seker wat hulle gebruik om die meubels mee vas te maak. Ons is almal binne en die laaste een maak die deur saggies toe. ’n Klein bietjie lig kom deur ’n piepklein vuil venstertjie. Spinnerakke hang van die plafon af. Ons kan nie verder die gebou in nie, maar die kamertjie is goed genoeg vir ons rookplanne.

“Sies, die blerrie plek stink,” sê Haydee.

“Ek sit op die stoel!” roep Gertie uit, bly om op die enigste stoel te kan sit. Die stoel is linnelam en die binnegoed peul uit. Ons ander drie trek kratte en bokse nader om op te sit. Ons is gereed.

Die sigarette word uitgedeel, eers net een vir elkeen. Haydee steek eerste aan, toe ek, toe Gertie en Dyna. Ons trek nie diep in nie. Die rook word so ’n bietjie in die mond gehou om te wys ons is nie heeltemal onnosel nie, en dan in ’n lang dun straaltjie uitgeblaas. Ons probeer so ongeërg as moontlik lyk.

Ek kyk onderlangs met groot oë na Haydee. Na die manier waarop sy die sigaret vashou. Die hand word ook in die praat so ’n bietjie rondgeswaai asof sy nie eens bewus is van die brandende ding tussen haar vingers nie. So asof sy gewoond is aan rook.

Ons probeer haar almal naboots en probeer ons bes om so casual as moontlik te lyk. Maar die rook brand my oë en ek voel ’n bietjie duiselig.

Ons praat kopstukke. Oor outjies, natuurlik. Ek het nie ’n kêrel nie, maar die ander het óf een, óf het een in die oog. Ek luister grootoog en wonder hoe dit moontlik is om so maklik ’n kêrel te kry.

“Luister,” sê Haydee, “Maandag kom ons almal by my huis bymekaar en dan gaan ons Kerkstraat toe. Djulle moet sien die appelkose aan daai wit dominee se boem! Jislaaik, hulle hang somma so! Ek gaan try om vir Miekie en Tiger saam te bring.” Triomfantlik voeg sy by: “Hoe’s daai!”

“Jislaaik,” sê ons almal. “Fantasties.” Hulle is bak ouens. Ek maak of ek ook kamma bly is, maar ek weet seuns laat my skaam kry. Die ander lyk altyd so selfversekerd; hulle sê net die regte ding op die regte tyd, so voel ek. In seuns se geselskap sukkel ek om net ’n ja of nee uit te hakkel.

So sit ons en planne smee. Die een sigaret is klaar en ’n tweede word aangesteek.

“Djulle is soos bybies wat aan niks gewoond is nie,” lag Haydee ons uit. “Djulle roek almal so mettie langbek!”

“Nee,” sê ek, “een is genoeg. My anties sal dit ruik. Hulle sal my doodslaan as hulle weet ek rook. Ek voel ook nie meer so lekker nie.”

Dyna en Gertie vat elk nog een, maar ek sien hulle trek net effens in en maak paf-paf-geluidjies. Hulle lyk vir my albei groen om die kiewe. Ek begin al kriewelrig word. Ons is al ’n hele rukkie in die kamertjie. Die son trek water en binne die kamertjie word dit goed donker.

“Haai, dis al donker,” sê Gertie skielik ’n bietjie verskrik. “Miskien kan iemand van buite die sigaretvuurtjies sien.”

“Nei, man, daar’s dan ’n muur agter.”

“Ma ek sien dan iets,” hou Gertie vol.

Ons draai ons koppe soos een man venster se kant toe. Haydee besluit sy is klaar met haar smokie en druk haastig haar stompie dood.

Ons oë is vasgenael op die venstertjie. ’n Skaduwee val oor die vuil ruit. Dyna gryp my aan die arm. “Daar’s iemand,” fluister sy bang. Toe hoor ons dit.

’n Baie sagte geklop-klop aan die deur. My keel trek toe en my nekhare rys. Die ander sit net so versteen. Niemand praat nie. Weer die sagte geklop-klop.

Haydee kom tot verhaal.

“Staan stadig op, loop agter my aan. Ek gaat die deur oopruk en dan hol ons. Moenie omkyk nie, run for your life.”

Haar stem bewe ’n bietjie en haar oë is groot. Van die stadig opstaan het niks gekom nie. Ons spring gelyk op en bestorm die deur, Haydee voor. Sy ruk die deur so vinnig oop, party van ons word omtrent raakgeslaan soos al vier tegelyk probeer wegkom.

Buite nael ons asof al die Kaapse skollies op ons hakke is. Ons bly hardloop tot ons by Gertie se huis aankom.

Ons gaan sit op ons hurke agter die heining, te bang om asem te haal. Haydee en Dyna bly naby, maar ek moet weer in die rigting van Friedman se gebou gaan, my huis is dan net langsaan. Ek is goed bang. Dit vat ’n paar minute om moed bymekaar te skraap, maar uiteindelik loop ek huis se kant toe. Wat sal die anties sê as hulle weet?

Die aand raak ek nie gou aan die slaap nie. Dis asof ek weer die geklop aan die deur hoor en ek wonder hoekom die skollies dan nie die deur oopgemaak het nie. Kitty en Maggie sê altyd die skollies is groot menere met groot messe, maar net solank daar ’n klomp bymekaar is. Op hul eie is hulle niks werd nie. So bly my gedagtes maal en ek voel soos iemand op die randjie van ’n disaster.

Toe ruk iemand aan my.

“Staan op, Pettie, djy gaan doodbrand!”

Dis Kitty se stem. Al die ligte in die huis is aan en ek hoor stemme wat ek nie ken nie.

“Komaan! Djulle vrek hier vanaand! Vat die komberse. Hierso djy, gryp die stoele en dra hulle ver weg.”

Dis ’n jong man en hy bulder bevele aan ander jongetjies terwyl hy goed aangee. Die huis is in rep en roer. In die verte kan ek sirenes hoor. Ek is op my voete, trek my kamerjas aan. Sonder dat iemand iets sê, rol ek my beddegoed op, gryp my rokke, steek my voete in my skoolskoene en hardloop by die deur uit.

Buite staan mense, nog meer kom aangehardloop. Ek kyk en ek sidder.

Friedman se ou plek is die ene vlamme. Dit knetter en kraak en rook borrel orals uit. Die brandweerlorrie hou stil en mans spring uit en begin hier gryp en daar vat. Die vlamme lek-lek aan ons dak. Water word oopgedraai. Die een man hou ’n tuinslang op ons dak gerig. Wat van ons mat? dink ek. Wat van my matras? Alles gaan nat word.

Die manne wil voor by die gebou in, maar dis moeilik. Die ystertralies is sterk en die byl help nie. Hulle sukkel; die vuur is groot en die plek is warm.

Ek kyk na die mense om my. Die meeste met oophangmonde en vingers wat wys. Party in pyjamas, kaalvoet, deur die slaap, maar almal is daar. Haydee kom aangehardloop.

“Het djy djou sigaret doodgemaak?” is die eerste ding wat sy vra.

Ek skrik. Onthou dan ek het nie ’n tweede een gerook nie.

“Miskien is dit die skollies wat aan die deur geklop het,” fluister ek terug.

Haydee knik. “Dja, dis die skollies. Dis nie ons skuld nie.”

Mans dra nog meubels buitentoe en sit dit oorkant die straat neer. Kitty se resepteboek word saam met my skoene in die piepot gedra. Potte en panne is in ’n gordyn toegedraai. Die Bybel en ander boeke staan regop in die naaldwerkmandjie.

Die brandweermanne spuit en spuit. Toe die gespuit klaar is, staan ons huisie nog, net een muur en die dak is lelik geskroei. Van ou Friedman se gebou het min oorgebly. Net die groot pilare staan nog, kompleet soos soldaatjies wat weier om om te val. Van die inhoud het niks oorgebly nie.

“My blerrie sideboard!” skree ’n antie langs my wat laat op die toneel afkom.

“Ag nee, het djy ’n sideboard da binne?” wil ’n ander antie weet.

“Ek het hom twee weke terug gelay-by. Tien donnerse rand, in sy moer in!”

Die mense is simpatiek. Tien donnerse rand is baie geld. Sy was daardie aand seker nie die enigste een wat meubels verloor het nie; die ander was seker te skaam of hartseer om te erken dat hulle ook goed en geld verloor het.

“Djy moet djou geld gaan terug demand,” word die antie aangemoedig. Ander sê die ding het gekom oor Friedman se slegte seun.

Ek bekyk ons meubels. Stoele bo-op die tafel, komberse bo-op die stoele en klere wat uit oorvol koffers peul. Die matrasse lê op die vuil sypaadjie. Ek sien die sideboard en kas is nie uitgedra nie. Hulle is geweeg en te swaar gevind. Die mense het alles goed bekyk en toe hulle klaar gekyk het, is Kitty en Maggie se ou Hollandse Bybel weg, asook ons enigste skêr en selfs ’n paar boeke en ’n laken.

Later het die storie die rondte gedoen dat ou Friedman self die brand gestig het om die assuransie te kry. Of die ou toe ooit iets uitbetaal is, weet ek nie, maar almal was spyt oor die brand. Waar sou die mense nou hul tweedehandse potte en tafels koop?

Die vuur het my groot laat skrik en ek het van toe af weggebly van rookgoed, die ander drie ook. Ons het nie weer gepraat oor die brand nie. Dit kon net sowel ons gewees het wat die plek laat afbrand het.

Kroes

Подняться наверх