Читать книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

2

Fanny Mabaso ís gereed, wit valletjiesvoorskoot en al.

Dulcie, Ashwin en Cheryl was onder die eerstes om te ry en die eerste om by die huis aan te kom. Op pad het hulle by Checkers aangegaan en elkeen het iets gegryp en betaal. In Chesterlaan het Ashwin met ’n geskree van bande rem getrap en Dulcie het uitgespring, die trappe na die voordeur op gehardloop.

“Fanny!” roep sy hard en storm die kombuis binne.

’n Verskrikte Fanny smyt haastig ’n sigaretstompie by die venster uit en glimlag mooi. Dulcie se groet word beantwoord met ’n kopknik.

Vir ’n oomblik staan miesies en huishulp mekaar en aanstaar.

“Nou ja, laat ons begin,” sê Dulcie en wys na die yskas. “Vat die skottels en sit dit op die eetkamertafel, die mense is by die voordeur.”

Fanny maak haastig die yskas oop, vat ’n skottel in elke hand en loop eetkamer toe. Dulcie maak die yskas weer oop vir die skottel hoenderlewertjies en word begroet deur ’n rookwalm.

“Fanny!” skree sy luidkeels. Oomblikke later kom Fanny ingevlieg.

Die poedel tjank by die agterdeur.

“Miesies?” vra Fanny skoon uitasem en maak die agterdeur oop. Nash die poedel kom ingehardloop, bokspring by die aanskoue van sy ounooi. Draai dan om om aan die vreemde vrou in die valletjiesvoorskoot te ruik.

“Ek het jou nie geroep om die deur oop te maak nie! Laat meneer Douglas jou toe om in sý huis te rook?” Dulcie probeer kwaad lyk.

“Miesies?”

Dulcie bekyk die vrou van veertig plus met dieselfde bragrootte as Rose. Sy behartig Hanna se huis – nou Sparky se huis – met die presiesheid van ’n weermagmajoor, maar sy kan kamma nie ’n eenvoudige vraag verstaan nie.

Dulcie sug en besluit om dit daar te laat. Teen R100 vir ’n Saterdag was Fanny die goedkoopste hulp wat hulle kon kry, en dit op kort kennisgewing. Sy het wel gestipuleer dat hulle vir haar takeaways moet gee en haar huis toe moet neem. Dis seker min genoeg.

“Fanny, as jy móét rook, rook asseblief búite,” sê Dulcie stug.

“Miesies.”

Die labrador sit ’n keel op omdat sy buite gelos word.

Cheryl het alewig honde en katte huis toe gebring, en Ashwin het daarop aangedring om vir elke dier ’n pleknaam as naam te gee (voordat hulle die volgende dag by die DBV afgelaai word). Maar Nashville die poedel, Nash vir kort, en China die teef het gebly. Wanneer Nash en China lepellê, kan jy nie die een van die ander onderskei nie, albei is pikswart.

Dulcie loer oor die onderdeur. China staan op haar agterbene al kwylend vir die stukkie wat-ook-al in Dulcie se hand. Sy gooi twee stukkies hoenderlewer in die hond se keel af.

“Voer jy miskien die hond ons pièce de résistance?” vra Violet agter haar.

Dulcie swaai om, gryp Violet aan die skouers en gee haar ’n drukkie. “My vriendin, dis hoekom ek so lief is vir jou.”

“Omdat ek jou toelaat om die honde hoenderlewer te voer?”

“Nee. Wel, ja, dit ook. Maar ek is mal oor die manier waarop jy óns sê as jy verwys na een van jóú skeppings.”

Violet bars uit van die lag. “Ag, komaan. Dit was jou idees, jou hande, jou bestanddele, en net ’n klein bietjie van my magic.”

“Dis presies wat ek bedoel. Nou ja, gryp ’n bietjie van jou magic en volg my.” Dulcie beduie na ’n skottel in die yskas.

’n Paar minute later staan ’n skare om die eetkamertafel, hulle bordjies behoorlik oorlaai met alles wat hulle in die hande kan kry. Die berge kos krimp tot bulte wat in molshope verander.

Dulcie se gedagtes flits na Eritrea, Rwanda, Ethiopië en Gumaville se straatkinders. Dun mense, baie dun mense en geraamtes. Sy kou, kou, kou aan die happie varkvleis in haar mond voor sy dit afgewurg kry.

Sy loop heen en weer tussen die mense, moedig hulle aan om te eet en gemaklik te wees (wat dit ook al beteken). Sy begin neem sommer dadelik bestellings vir koffie en tee. Onnodig om te wag, redeneer sy, hoe gouer hulle klaarkry met eet en drink, hoe gouer kan hulle huis toe gaan.

Twaalf tees en agt koffies. Reg? Nee, wag, dit kan nie reg wees nie. Sy tel weer. Sowaar, daar is twintig mense. Tussen begraafplaas en huis het hulle nog drie bygekry. Dulcie bekyk die gesigte om haar een vir een. Besef ’n paar is onbekend én heelwat donkerder van vel as die res van die familie.

Sy gee Violet ’n kyk. Hulle twee is beroemd vir daardie betekenisvolle kyk. Soos dit ’n beste vriendin betaam, kom Violet dadelik oorgestap.

“Druk jy op my knoppie?” vra sy.

“Problemo . . . Ons was sewentien by die graf, nou is ons twintig. Enigiemand hier wat jy nog nooit in jou lewe gesien het nie? Enigiemand wat verdag lyk?”

“Hmm. Hoekom dink jy het ek daarop aangedring om ekstra kos te maak?”

“Régtig?”

Die besef daag by Dulcie: hierdie is ’n land waar begrafnisse gratis kos beteken. Mense sluit eenvoudig aan by enige groep roubeklaers waarop hulle afkom, met die vooruitsig op ’n lekker ete. Sy het al daarvan gehoor. Om die waarheid te sê, dis algemene kennis, maar hulle bly in Róxy! Voorstad van oorvloed, ordentlikheid en snobisme.

“Wie’s daardie ou met die afro en die pienk hemp, Ma?” vra Cheryl saggies. “Is hulle nie gatecrashers nie?”

“Is dit nie antie Doll se seun nie?” vra Ashwin.

“Wat praat jy? Antie Doll-hulle is in Kaapstad!” sê Dulcie met ’n stem wat grens aan histerie. Ongenooide vreemdelinge in haar huis!

Haar oog kom tot rus op nog ’n vreemde gesig. Snaakse haarstyl, ongeskeer, gekreukelde hemp, bord oorlaai met kos.

Sy en Violet kyk vlugtig na mekaar. Dulcie loop tot by Sparky. “Sparky . . . ken jy die donker man daar oorkant? Hy gesels met Rose, daar in die hoek.”

“O, dis my goeie ou vriend Abrie, Hanna se oudste swaer. Dink nie julle het al ontmoet nie.”

Wat beteken dit? Het Bennie en Sparky nog ’n broer?

“O. Nee, ek het hom nog nie ontmoet nie. Jammer, Sparky, ek het nie bedoel om . . . Maar as hy Hanna se swaer is, wie se bróér is hy?”

“Dudley!” roep Sparky na sy swaer. “Kan jy die raaisel oplos? Wie se broer is Abrie?”

“Abrie? Hy is . . . uhm . . . Wag, hy’s mos Hanna se suster se man. Hanna se swaer. Ek dink nie hy’t ’n broer nie.”

“Maar dan is hy mos jou swaer ook?”

“Ja, dis seker reg.”

Dulcie voel meteens verspot. En ergerlik. “En waar is haar suster? Ek bedoel, jou skoonsuster? Abrie se vrou?”

“Hulle is geskei. Al lankal. Ek dink sy is oorsee.”

“O.” Gaan weg, Dulcie, sê sy vir haarself. Gaan ver, ver weg.

Ashwin dwaal deur die mense na die kostafel toe, sy vingers verstrengel met dié van die besemstok met die nommer 28A-bragrootte. Lyk soos ’n verhongerde gevangene in ’n Afrika-konsentrasiekamp. Ashwin, asseblief, bid sy, voed haar en lós haar.

Dulcie sien Lucretia se neergeslane oë hang aan Ashwin se stywe boudjies. Of miskien is sy net te bang om na háár te kyk.

Kyk na haar gene, Ashwin, kyk na haar géne, pleit Dulcie se moederlike instink. Lucretia se suster is van haar trollie af, haar ma nie ver agter nie.

“Wie is daai twee darkies daar anderkant, Ma?” vra Ashwin, rol sy oë in hulle rigting.

Dulcie se hart gaan staan.

“Dárkies, Ashwin?” Cheryl se stem is ysig.

“Donkerder as óns, dis wat ek bedoel.”

Dulcie se hart begin weer klop. Sy kon sien hoe haar dogter – die aktivis vir menseregte, vroueregte, diereregte en die reg om swart te wees – wou-wou vlamvat.

“Het jy miskien opgelet daar is ’n whitey onder ons?” vervolg Cheryl. “Dus, wat maak dit van ons?”

“Kry nou end, julle twee!” raas Dulcie en probeer kwaai lyk.

Sy sien met afgryse hoe Lucretia terugdeins. Mylord, klink sy só erg? Lyk sy so dreigend?

Haar sel lui. Dis Rocky die eiendomsagent.

“Haai daar, Dulcie! Bly ek kry jou in die hande – uiteindelik. Hoe gaan dit met jou, mevrou Scarlet Pimpernel?”

Dulcie giggel. “Hallo, Rocky, dit gaan goed,” fluister sy, beweeg ’n bietjie weg van die begrafnispaartie.

“Weet jy dis volmaan vanaand?” vra hy ernstig. “Ons sal die perfekte uitsig op die hemelse ligte hê deur die venster by die Hideaway-restaurant.”

“Nie vanaand nie, Rocky. Ek het so pas teruggekom van my skoonsuster se begrafnis. My huis is vol mense.”

Hulle spreek af om mekaar later te kontak en Dulcie beëindig die oproep. Sy voel ’n warmte op haar wange. Sedert sy die huis gekoop het, bel Rocky haar nogal gereeld.

Eers het hy net vriendelik gesels, uitgevra na die huis. Is sy nog gelukkig en tevrede met haar nuwe woning? Later het sy gewonder oor ’n binnehuisversierder, en hy het summier een aanbeveel. Haar die volgende dag geskakel om te hoor of sy reggekom het.

Toe die plante wat min onderhoud verg vir haar tuin. Hy het haar die volgende dag opgelaai en na ’n kwekery geneem. Wat terloops ook ’n koffiekroeg het.

Haar familie en vriende is ver weg in Gumaville en Westonaria, die kinders op kollege of by die werk. Dit was maklik om mekaar te ontmoet vir ’n cappuccino en ’n geselsie, en baie aangenaam. Sonder enige verduidelikings aan enigiemand of verwagtinge van mekaar.

Maar . . . om uit te gaan vir ete, is soos om in Ludo ’n rits blokkies aan te skuif, op pad Home toe. En sy is nog glad nie gereed om huis se kant toe te beweeg nie.

Sy sien Sparky neem ’n oproep op sy sel. Hy glimlag verleë en staan vinnig op, loop na die ingangsportaal. Hy lyk ’n bietjie van stryk gebring, dink sy geamuseerd.

Nash die poedel neem sy plek in op die bank.

Enver loop nader vir nog kos, hou sy bordjie gereed. “Wie is die man met die Kiss my arse-T-hemp, tannie Dulcie? Ruik nogal na dagga,” sê hy terloops en tel ’n hoenderboudjie op.

Dis genoeg! besluit Dulcie. Sy gaan nie enige indringers by háár begrafnispaartie duld nie. Dis nou wel nie haar begrafnis nie, maar nogtans, die paartie is in haar huis. Nou ja, ook nie juis ’n paartie nie, maar steeds in haar huis – in Chesterlaan, Róxy.

Dis skaars drie maande sedert hulle hier ingetrek het, en aangesien hulle omring is deur skatryk (fluisterende) wit mense wat hulle honde soengroet, is daar ’n sekere standaard wat gehandhaaf moet word. Die familie oorkant die straat is nou wel swart, maar ryk en invloedryk, daarvan is sy seker. Sy moet nou maak soos enige ordentlike Roxy-inwoner sal maak: raak ontslae van die ongewenstes. Onmiddellik.

Sy marsjeer die kombuis binne, ruk laaie oop op soek na papierborde, marsjeer terug na die sitkamer. Sy loop die jong man met die afro-haarstyl en pienk hemp trompop. “Sit jou kos op die papierbord en lóóp, voor ek die polisie roep,” fluister sy dreigend. “En neem jou vriend saam met jou!”

Hy gee haar ’n vinnige, bang kyk en mompel iets oor tee wat so lank vat om bedien te word. Maar binne sekondes is die ongewenstes uitgesmyt en op pad, papierborde volgelaai met kos.

“Miskien moet ek China op hulle sit?” wonder Dulcie hardop.

Violet skud haar kop. “Nee, wat, die hond sal klem-in-die-kaak kry.”

Dis waar. Sy bly nou in Roxy, waar honde nie hulle kos vang nie, maar slegs gaar vleis eet.

Dulcie se selfvoldaanheid is van korte duur, tot sy besef die bure sal dink sy het nie behoorlike borde nie. Die groter skok is die besef dat die blas gesigte, wat nog rustig staan en kou, familievriende is. Hoewel Sparky se vriende.

Na die duiwel daarmee, dink sy. Met swart vriende en ’n wit vrou in die laer, is hulle eenvoudig kosmopolitaans, interrassig en polities korrek. Laat die Tutu’s en die Zumas van die land kennis neem. Sy wens heimlik Rose wil op die stoep loop staan; dit sal hulle beeld die wêreld se goed doen.

Dulcie voel terstond feestelik. Sy vat ’n hap van ’n frikkadel en kou smaaklik.

Met die omdraai sien sy hoe Rose Enver liefies oor die arm vryf. Hy vee met sy hand oor sy oë en gesig. Die seningrige Enver wat Dulcie drie jaar gelede by sy vertrek gedruk en koebaai gesoen het, spog nou met ’n dubbele ken en ’n effense magie. Maar dieselfde pragtige mens.

Dulcie gaan gesels met Sparky, wat saam met die poedel op die bank ingedruk sit. Hy lyk vir haar ’n bietjie verbouereerd.

“Ek sien jy het ’n oproep gehad,” sê sy. “Is alles reg?”

Sparky kyk haar grootoog aan, wenkbroue wat tot by sy haarlyn spring.

“Ek vra net . . . uit besorgdheid,” las sy haastig by, bang hy gaan omkap van asem ophou.

“O. Ja, dit was die meubelwinkel.”

“Die meubelwinkel?” Sy is absoluut verbyster. Twee vrekke in ’n ertjiedop, een dood en een lewend, wat meubels koop?

“Fantastiese kos, Sparky,” sê ’n man.

“Fantastiese skoonsuster,” sê hy en glimlag flou.

Dulcie sweer sy kan die weerkaatsing van twee blikkies bully beef en ’n verlange in sy oë sien. Hanna was ’n meester met die blikoopmaker en het enigiets wat sy kon oopsny as kos opgedis. Op Fanny se af dae.

Dulcie wonder of Fanny al begin het om die tee te bedien.

“Fanny!”

“Miesies?”

“Twaalf tees en agt koffies. Nee, wag! Van die tees en koffies het so pas geloop. Laat ek weer tel. Wie wil tee hê? Wie wil koffie hê?”

Tien tees en vier koffies. Dulcie skud haar kop. Nou is daar weer te min. Wat de duiwel, sy gaan nie die vermistes soek nie, koffie óf tee.

“Fanny, het jy gehoor? Tien tees en vier koffies, asseblief.”

“Miesies.”

Puck en Bowie klim oor hulle pa se skoot, sukkel om die komkommer in sy hand by te kom. Dulcie glimlag vir hulle pa se geduld.

Ná Enver sy graad aan Wits behaal het, het hy ’n uitnodiging aanvaar om in Amerika by ’n navorsingsentrum te werk. Hy het geen tyd verspil om oor te gaan nie. Gedurende dié tyd het Hanna haar meer as ooit aan kos vergryp. Sonder ophou.

“My arme Hanna,” het Sparky simpatiek gesê. “Sy voel so hartseer oor haar seun se weggaan.” Nou staan die einste seun in haar huis en treur oor sy ma.

In Amerika het Enver die blonde, blouoog, wulpse Rose ontmoet en inderhaas getrou. Volgens Dulcie die spreekwoordelike dumb blonde, maar Rose is nietemin prettig.

Hulle monde het oopgehang toe Enver ná ’n jaar, bruid aan die arm, na Suid-Afrika terugkeer. Familie en vriende het ingeryg gestaan en wag toe die paartjie van die vliegtuig afklim. Die wind het Rose se lang blonde hare opgeswiep terwyl Enver haar hand styf vashou. Die groepie in die ontvangslokaal was dit eens:

“Sy’s wit!” Dulcie. Verbaas.

“Sy is . . . pragtig.” Cheryl. Jaloers.

“Sy’s wit!” Ashwin. Selfvoldaan.

“Julle is reg, sy’s wit.” Dudley. Niksseggend.

“Is sy wit?” Sparky. Verward.

“Sy’s WIT! Praise the Lord, sy’s WIT!” Hanna. Ekstaties.

Voor net ’n handjie vol gaste het hulle ’n tweede keer getrou, in Enver se tuisdorp, Westonaria. Hanna was buite haarself van geluk.

Nou is hulle dit eensgesind: Rose is ’n bekwame moeder vir haar twee seuns en ’n goeie, liefdevolle vrou vir Enver. Die blonde Miss American Pie het die Stamgenote van Anderste Pigmentasie rondborstig omarm, en hulle het besluit vir ’n wit mens is sy heel gangbaar.

Dudley kom verby op sy rustige manier, ’n hoenderlewertjie in sy kies. “Dulcie, het jy gesien? Vier mense het uitgeloop met borde vol kos,” sê hy in Engels, want Rose is byderhand.

“Wat! Kom hulle na ’n begrafnis om kos te steel?” vra Rose met afgryse in haar stem. “Liewe lawdie, dis helder oordag. Het hulle wapens gehad?”

Dulcie wonder of alle Amerikaners so praat, so met nadruk. Sy probeer onthou Amerikaanse presidente se toesprake wat sy al oor TV gehoor het. Ask not what your country can do for you, but what you can do . . . blah-blah.

Enver bars uit van die lag, en die ander lag saam.

“Hulle het nie wapens nodig nie, sweetie. Hulle sluit net aan by die begrafnisstoet en hoop hulle word nie uitgevang nie, dis al.”

“Teen dié tyd het hulle al hulle tjommies bymekaargemaak om te kom opeet wat oor is van die fees,” skerts Ashwin.

“Maar dis ongehoord!” Rose loop vinnig na die voordeur, klap dit toe en draai die sleutel. “Hoe kan hulle ’n dooie se kos kom steel!”

Vir ’n paar oomblikke heers daar ’n doodse stilte.

“Wat het ek gesê?” vra sy skaapagtig.

Mense giggel.

“Dis warm hier binne,” kla Cheryl. “Ek gaan ’n bietjie buitentoe,” en sy sluit die deur oop.

“Nou ja, ons is op pad,” sê drie ouens amper tegelyk, trek aan hulle vrouens. “Daar’s rugby op TV. Dankie, Dulcie, lekker begrafnis . . . uhm, ek bedoel . . . koebaai. Sterkte, Sparky, ou pel.”

“Dankie, Cy, dankie, Gaz, dankie, Stix, dankie, Birdie, dankie, Alicia, dankie . . . uhm, dankie.”

Hulle loop uit. Dulcie sien Cheryl praat op haar sel, hoor haar uitbundige lag voor die deur weer toegaan. Bowie hang aan die deurknop, kerm om buitentoe te gaan.

“Laat hulle in die jaart speel, Rose.”

“Maar is dit veilig? Wie gaan na hulle kyk?”

Hulle ma? glimlag Dulcie. Sê vir haarself: Los dit.

“Gaan jy in jou huis aanbly, Sparky?” vra iemand.

“Hoekom nie? Ek bly al vir ewig daar.”

“Jy gaan eensaam voel.”

“Kom kuier, my maat. Ek het ’n week laas kaart gespeel . . . wel . . . uhm . . .”

“Oom Sparky, jy kan so lank as jy wil by ons kom kuier,” stel Ashwin voor. Las haastig by: “Hei, Ma, dis mos reg so?”

“Natuurlik is dit reg.” Dulcie draai na Sparky. “Wanneer jy lus voel vir geselskap of ’n lekker bord kos, Sparky, ons is hier vir jou.”

“Bring oom se kaarte saam,” sê Ashwin.

Sparky blaas en proes ’n paar maal hard en knik, oënskynlik aangedaan.

Bowie hardloop in die gang af, stamp teen Fanny, en die teepot en koppies vlieg oor die vloer.

Rose spring op en gryp haar seun aan die oor. “Hou op om in die huis te hardloop!” raas sy met hom.

“Ek wil buite speel!” huil Bowie.

Die vloer lyk soos ’n slagveld van glasstukke.

Dulcie sug innerlik. “Fanny, sal jy omgee . . .”

“Miesies.”

Fanny loop kombuis toe, kom terug met ’n borsel, skoppie en lap om alles op te vee.

“Tannie Dulcie, regtig, dink jy daardie ouens gaan terugkom?” Rose se oë is groot.

“Nee, Rose, nie vandag nie.” Dulcie draai na Fanny. “Maak asseblief die agterdeur oop sodat die kinders buite kan gaan speel, en hou tog ’n ogie oor hulle. Hulle ma is bang –”

“Hau!” protesteer Fanny. “Ek moet eers dié gemors skoonmaak, dan nog ’n pot tee maak én die skottelgoed doen. Hoe moet ek na die kinders kyk terwyl ek met my hande in die bak skottelgoed staan, my rug na die deur toe? Ek het net twéé hande en twéé oë! Eish!”

“Fanny?”

“Miesies.”

Beskaam deur haar welsprekendheid haal Fanny die agterdeursleutel uit haar voorskootsak en jaag die seuns tuin toe, die poedel agterna.

Cheryl kom die huis binne. “Ma! Daar’s ’n man buite wat R50 wil hê vir petrol.”

“Sê hy moet loop.”

“Ma, moenie so snaaks wees nie. Hy sê hy’s ons buurman van oorkant die straat. Hy wil net die R50 leen tot –”

“Is hy wit of swart?” Dulcie begin ongeduldig die orige kos in een bord saamskraap.

“Dis sy constitutional right om enige kleur te wees wat hy wil,” terg Dudley terwyl hy nog ’n frikkadelletjie hap.

Cheryl rol haar oë. “Hy’s swart.”

“Hy lieg.”

“Máá!”

Rose kom in beroering. “Miskien is dit een van die gatecrashers wat terugkom om . . . Ek bedoel, miskien is hy gewapen.”

Dulcie gee haar ’n vinnige kyk.

“Wel, miskien wil hy nog ’n bietjie kos hê . . .” sê die roos flou, geen nadruk.

Violet en Trevor lag hardop, iemand giggel. Rose bloos.

Dulcie sug. Gee my krag.

“Cheryl, moenie eens daaraan dink om hom selfs één rand te gee nie.”

“Ag, shame, Ma, kom sê Má vir hom.”

Dulcie trek haar asem diep in. Gatecrashers, swendelaars, leuenaars. Sy skrik nie vir een van hulle nie.

Sy ruk die deur oop en Nash hardloop vooruit, Dulcie kort op sy hakke. Sy marsjeer oor die stoep en skree vir die man met dreadlocks dat sy nie R50 vir kos het nie, laat staan nog vir sy petrol!

Sy besef te laat dat sy nou in Roxy bly. Hier word nie hard gepraat nie, maar gefluister. Gelukkig hou niemand hulle dop nie. Sy hoop maar niemand het gehoor nie.

Die man druk teenaan die hek en wil net begin pleit toe Nash mooitjies sy been lig en op die man se skoene pie. Meneer Dreadlocks staan haastig terug, wys haar die vinger en draai om en loop.

“Mooi so, ounooi se honne,” prys Dulcie ’n stertswaaiende Nash.

“Jy moet nou mooi kyk,” sê sy terug in die sitkamer vir haar dogter. “Hy gaan nou langsaan na die Bothas se huis en meneer Botha gaan hom die R50 gee.”

“Hoe weet Ma?” vra Cheryl verbaas.

“Hy’s wit.”

“Wát? Hoekom sal –”

“Omdat wit mense so onnosel is. Nie jy nie, Rose. ”

“Maar die man is ons buurman!” maak Cheryl beswaar.

“Nee, hy is nie. Thabo Maake is lank en kaalkop. En hy bedel nie.”

“O.”

Dulcie sug geïrriteerd. Cheryl het nog so baie om te leer. Dit val haar by van die uitgelate selfoongesprek.

“Jy’t lekker gesels en gelag oor jou sel. Moet ek miskien al sy naam weet?” vra sy.

“Maa! Moenie laf wees nie. Ek het nie ’n kêrel nie, dit was sommer ’n maat van die skoonheidsalon langsaan. Sy leer my die kuns van grimering, manicures en so aan. Ek het Ma mos al gesê.”

Hmm, dink Dulcie, ’n maat wat jy nog nie huis toe gebring het nie.

Abrie met die wilde hare, gekreukelde hemp en donker pigmentasie kom om Dulcie te groet. Hy neem haar hand in albei sy hande.

Nou ja, gee sy toe, mooi tande, goeie handdruk.

“Ma, ek vat gou vir Lucy huis toe,” sê Ashwin.

“Maak net gou, Ashwin, ek het jou hier nodig,” sê Dulcie vinnig.

“Ma . . . moenie so wees nie,” fluister hy.

Maar Ma se blik is so koud soos haar yskastertjies.

Lucretia gly agter Ashwin uit. “Koebaai, mevrou Douglas, baie dankie vir die lekker kos,” piep sy, duidelik senuagtig. Draf dan stertjie tussen die bene agter Ashwin aan.

“Ja-well-no-fine. Jy sal die ideale skoonma wees. Sy’s klaar verskrik,” sê Violet onderlangs.

“Wat práát jy? Ashwin en sy is nie . . . Ek bedoel . . . jy weet . . . hy stel nie werklik belang nie. Hy’s te besig met sy studies en hy’s platsak en . . .”

“Hmm,” knik Violet, “gaan aan. En?”

“Violet! Kry nou end!”

“My vriendin, jy kyk net na die helfte van die prentjie. In die ander helfte is daar hormone, androgene, testes, testosteroon en nuuskierigheid. Nie noodwendig in dié volgorde nie.”

“Dankie, ek voel nou baie beter.”

Die mense is huis toe, die familie in die voorhuis. By die agterdeur staan Dulcie ’n paar oomblikke stil. Sy kyk hoe Puck en Bowie speel, die honde al om hulle.

Iets rem aan haar hart. Kleinkinders? Dit kan nie wees nie, besluit sy. Miskien net herinneringe aan haar eie kinders toe hulle so klein was. Of miskien is dit die gedagte aan Hanna wat nooit weer haar kleinseuns sal sien nie. Hulle is so pragtig, sy sou absoluut mal gewees het oor hulle.

Nou ja, Bennie sal ook nie sy kleinkinders sien nie. Sy voel effens ontnugter deur dié gedagte. Daar is ’n knop in haar keel en ’n mistigheid in haar oë.

Sy wens Bennie het nog gelewe. Al was dit net om haar te help met die gemors van die hospitaalrekeninge. Toe onthou sy dis oor hóm dat sy in so ’n gemors is. Sy snuif hard, vee haar trane met ’n papierservet af.

“Miesies?” vra Fanny besorg.

“Fanny. Als reg . . . begrafnisse is net swaar vir my.”

“Ag, shame, miesies.”

“Dankie, Fanny.”

Vier begrafnisse en 'n troue

Подняться наверх