Читать книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

3

“Gaan ons leeus sien, tannie Dulcie?” wil Puck weet.

Die ses grootmense in die sitkamer wag vir Fanny om klaar te maak in die kombuis. Sparky moet haar op pad gaan aflaai.

“Fanny is ’n bietjie stadig, nè?” vra Rose versigtig terwyl sy na haar horlosie loer. “Om die waarheid te sê kom sy ’n bietjie agterlik voor.” Sy klink terselfdertyd apologeties en simpatiek. “Verstaan sy Engels of Afrikaans?”

“Hmm . . .” sê Dulcie net.

“Sy’s oukei. Sy werk al die afgelope tien . . . uhm . . . twintig jaar vir my,” tree Sparky vir Fanny in die bresse. “Sy’s eintlik Tswana, maar sy kan Engels en Afrikaans goed praat.”

“Regtig?” vra Rose skepties.

Dulcie vang die ondeundheid in Enver se oog toe hy ’n verleë kuggie gee. Sy wonder of hy haar gedagtes oor Miss American Pie kan lees.

“Ashwin, hoekom neem jý nie die kinders –” begin sy, maar word in haar spore gestuit.

“Ma, ek weet van ’n geval waar die leeus op iemand se kar toegesak het. Die kar was omtrent gekrap. Selfs die bande was flenters gebyt.” Hy leun oor na haar. “Ek gaan définitief nie met my Volksie leeupark toe nie,” fluister hy in Afrikaans.

“Wat sê jy?” wil Puck weet.

“Wat sê jy?” wil Bowie ook weet.

Ashwin slaan oor na Engels. “Ek het gesê die leeus gaan julle opvreet!” lag hy en kielie vir Bowie totdat hy omtrent blou word in die gesig.

Dan leun Ashwin na Cheryl se kant toe, klap haar liefies op die knie. “Vra vir tannie Cheryl om julle na die leeupark te neem.”

“Assebliéf, tannie Cheryl, assebliéf . . .” begin hulle smeek.

Cheryl ruk haar kop om, kyk Ashwin kwaad aan. “Moenie eens daaraan dínk nie! My Uno gaan nie náby ’n leeu nie!” sis sy.

“Haai, kalmeer!” sê Ashwin kamma geskok.

“Haai, kalmeer!” aap die seuns hom na.

Cheryl lag toe sy besef sy het dalk geoorreageer. Sy trek die seuns nader, sit haar arms om hulle. “Seuns, leeus in ’n leeupark is net so gevaarlik soos wilde leeus. Hulle kan baie skade aanrig en selfs ’n klein karretjie soos myne omrol. Ek wil regtig nie so ’n kans waag nie,” preek sy vir hulle.

En sagter, toe die tweetjies stil van skok is: “Ashwin, hou jou blerrie idees vir jouself, hoor!”

“Ashwin, hou jou blerrie idees . . .”

“Ashwin, hou jou blerrie . . .”

“Puck! Bowie! Hou op!” sê Enver kwaai.

“Dad, kan ons vir China en Nash saamvat? Hulle kan vir die leeus blaf as hulle te naby die kar kom,” stel Puck voor.

“Goeie idee,” sê Ashwin en skud van die lag.

Cheryl blaas op soos ’n brulpadda. “Ráák net aan my honde . . .”

“Dis nou genoeg,” sê Dulcie, “ons het gaste. Enver en oom Sparky ken albei die leeupark, ek is seker hulle sal –”

“Miesies Dulcie! Miesies Dulcie!” roep ’n vrouestem van buite af.

Dulcie staan op.

“Onthou tog om haar kleur te vra,” giggel Cheryl.

Dulcie besluit om dit te ignoreer.

“Los jou ma uit,” sê Sparky goedig. “Ek dink sy’s net ’n bietjie gestres van in Roxy bly. Nè, Dulcie?”

Lyk ek gestres? wonder Dulcie op pad voordeur toe.

“Maar waarom?” vra Rose. “Roxy is so ’n lieflike area. Die bome en die pragtige grasperke laat my aan my tuisdorp dink. Dis so mooi, baie mooier as . . .”

“Westonaria?” vra Enver laggend. “Haai-haai, dis my tuisdorp daai!”

Rose bloos.

“Daar is baie misdaad in wit areas, Rose, vernaamlik Roxy. Dit het ons eers uitgevind ná ons die huis gekoop het,” erken Cheryl.

“Maar julle het ses voet hoë heinings om die huis, julle het slotte aan die hekke . . .” Rose lyk verbyster.

“En ’n alarm,” sê Ashwin, “én waghonde.”

“Ja, ons is glad nie veilig nie,” sê sy suster.

“Moenie jou ore aan hulle uitleen nie, Rose,” sê Dulcie oor haar skouer.

Rose spring op en volg haar buitentoe, die kinders loop agterna.

Aan die ander kant van die hek staan Shorty Present. Sy wring haar hande, vroetel met haar kopdoek, wring weer haar hande. Daar is ’n skielike opswiep van stof en blare, die son nou versteek agter donker wolke. Dulcie trek haar oë op skrefies om die vrou beter te sien.

Sy glimlag toegeeflik vir die ou girl. Shorty werk vir haar buurvrou mevrou Louw van oorkant die straat, ’n weduwee van in die tagtig. Mevrou Louw het ’n snaaksigheid wat, volgens Cheryl, grens aan malheid.

Op hulle eerste dag in Roxy het mevrou Louw Dulcie se deurklokkie gelui. Hulle het dadelik aanklank by mekaar gevind.

“Welkom, my naam is Louwkie, ek bly in die hoekhuis,” het die klein gryskopvroutjie gesê, ’n lag in haar stem. In haar ortopediese skoene het sy niks hoër as ’n outydse tiekie op ’n koerant gestaan nie. In haar hande het sy ’n sjokoladekoek vasgehou. Dulcie was skoon ontroer.

“My dogter Lana het dit van die ooste gebring,” het Louwkie gesê.

Twee weke later was dit tertjies wat haar dogter van die ooste gebring het. China, Japan, Korea, Viëtnam? het Dulcie gewonder.

“Nee, man! Die Oos-Rand.” Louwkie het haar verkneukel in die misverstand. Hulle het saam tee gedrink en lekker gesels.

Dulcie kyk besorg na die klein vroutjie voor haar. “Wat’s fout, Shorty?”

“Dis Louwkie. Sy lyk vir my siek. Ek ken die dokter se telefounnommer, maar Louwkie se foun werk met ’n kode. En haar sel het nie airtime nie.”

Vir ’n oomblik is Dulcie te geskok om ’n woord te uiter. Al is Louwkie oor die tagtig, lyk sy steeds springlewendig. Sy doen haar eie inkopies, bestuur nog haar motor, kook self en sien om na haar hond en voëls.

“Natuurlik kan jy my foon gebruik, Shorty. Ek kry gou die sleutel vir die hek.”

Dulcie draf die trappe op na die voordeur, Rose op haar hakke, seuns wat aan die hek bly hang.

“Gaan jy haar laat inkom?” vra Rose die ene ritteltit.

“Ek reken so, Rose. Die hek is ver, die telefoondraad is nie lank genoeg om by te kom nie,” sê Dulcie geïrriteerd. Sy kry skaam toe sy besef Rose en die kinders kon nie ’n woord van die gesprek by die hek verstaan nie.

“What she say?” vra Puck.

“What she say?” vra sy eggo.

“Sy vra hulp, haar werkgewer is siek.”

Twee minute later gesels Shorty met Louwkie se dokter. Hy belowe hy sal binne ’n uur daar wees.

Dulcie skryf haar selnommer en huisnommer neer en gee dit vir Shorty. “Jy kan my enige tyd bel as dit nodig is, Shorty, dag of nag.”

Maar Shorty wil om die dood nie hê Dulcie moet oorloop na Louwkie toe nie.

“Wie gaan vanaand na haar kyk?” vra Dulcie vies.

“Sy’t rus nodig, dis al,” sê Shorty ferm. “Louwkie en Oubaas wil nie mense om hulle hê as hulle siek is nie.”

Dulcie moet ’n glimlag keer. Ja-right, Louwkie en Oubaas, dink sy toe sy staan en kyk hoe die ou vrou oor die straat waggel.

Vier begrafnisse en 'n troue

Подняться наверх