Читать книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

5

Shorty voel oorstuurs. Dis Sondag, die dag ná al die gebeure by Chesterlaan nommer 199, Roxy. Eers het die dokter gekom, toe die poelies, die undertakers, die bure en al die nuuskieriges wat voor die huis saamdrom. Sommer so, sonder invitation, soos Louwkie sou gesê het. Party het by die hek gestaan asof hulle daar hoort.

Die poelies het goed uit Louwkie en Oubaas se kamer uitgedra. Hulle het selfs vir Oubaas uitgedra. Al het dit onverwags koel geword en begin reën, het die poelies nogtans elke venster in die plek oopgemaak. Sy het haar hart in haar hande gehou toe sy sien hoe hulle toilet spray oral rondspuit.

Louwkie sou nie daarvan gehou het nie, maar sy het nie vrae gevra nie, dit was nie haar plek om die poelies uit te vra nie. Sy het eenkant gestaan en alles en almal in stilte aangekyk.

Nou sit sy in die vaal kantoortjie by die poeliesstasie.

Die man agter die lessenaar oorkant haar rol sy oë. Sy self knip nie ’n oog nie, want sy bang hom niks. In die oggend as hy opstaan, stink sy asem nes hare. Dan gaan hy na die kleinhuisie en maak sy shitz nes sy. Hy voel die koue, sy voel die koue, hy voel pyn, sy voel pyn. Daar is geen verskil nie.

Dis net sy taal wat anders is.

“Begin by die begin,” sê die man in uniform.

Hy praat Engels, sy’s nie onnosel nie, maar hy praat met so ’n dik aksent, dis moeilik om hom te verstaan. Hy druk ’n knoppie op ’n masjientjie wat dadelik saggies begin gons. Shorty snork onderlangs, sy bang ook nie masjiene nie.

Sy mompel iets, kyk in die verte, verby mense se koppe, deur die venster. Van wanneer af werk die poelies op Sondae? wonder sy.

“Ouma, jy moet hard praat,” sê die man. “Ek kan jou nie mooi hoor nie.”

Shorty pers haar lippe saam. “Is jy doof?”

Die mans lag.

Sy sit en kyk hoe hy met die masjientjie vroetel, benige vingers wat trek en druk en uiteindelik afskakel. Hy staan op, gaan praat met iemand in ’n taal wat sy herken, van lank gelede.

Haar ma was ’n bruin vrou van Kimberley se geweste, haar pa ’n Zulu van Shayamoya. Hulle het aan die rand van ’n suikerrietplantasie gebly, met groen weivelde so ver as die oog kan sien. Sy en ’n ouer nefie moes na die skape en koeie omsien en het uitgelate deur groen valleie en oor heuwels met lang gras gehardloop.

Haar boetie is jonk oorlede en haar pa is kort daarna vort, op soek na groot geld in Egoli. Sy was net nege jaar oud. Haar pa het nooit teruggekom nie.

Op haar tiende verjaarsdag het haar ma gesê: “Vandag verlaat ons dié plek vir ewig. En van vandag af, Shorty, is jou van nie meer Tshabalala nie, maar Present. Jou pa het vergeet dat hy ’n dogter het.”

Haar ma het nooit weer ’n woord Zulu gepraat nie. Maar wanneer die donkerte in haar kop wegtrek, het Shorty haar pa se stories onthou, en ’n familie wat om die vuurtjie sit.

’n Ander man kom sit oorkant haar. Hy is ’n jong boykie, mooi gesig, mooi vel. Heel waarskynlik deur sy ma geborsvoed tot op vyf, ses jaar. Definitief plattelands, sy kan dit aan sy houding en maniere sien.

“Ouma, wat is jou naam?” vra hy mooi, skakel die masjientjie weer aan.

Sy stem is beleef, soos iemand wat respekte het vir gryshare. Sy hou daarvan, hy kon net sowel haar kleinseun gewees het. Eintlik haar agterkleinkind, ja.

“My naam is Florence Present.” Las gou by: “My ma het my na Florence Nightingale vernoem. Jy weet, die nurse van die groot oorlog.” Hy lyk verward en sy verduidelik: “Sy was the lady with the lamp.”

Die jong man knik, ’n plooi op sy voorkop.

“My ma het vir ’n oumies in die suikerplantasies gewerk, en dié het vir my die naam van Shorty gegee.” Sy glimlag. “Jy weet, omdat ek so kort is.”

Die jong man met die gladde vel knik sy kop en glimlag terug.

“Waar is jy gebore, Ouma?” vra die boykie.

Shorty kyk hom verbaas aan. Is sy nie veronderstel om oor Louwkie te praat nie?

“In Natal. Dit word nou KwaZulu-Natal genoem.” Sy is miskien oud, maar sy is nie onnosel nie.

“Hoe oud was Ouma toe Ouma na Gauteng gekom het?”

“Ek was ’n jong meisie van omtrent twintig jaar, maar toe was dit nog Transvaal genoem, en nog Apartheid.”

Shorty kan aan die manier waarop die jong man haar aankyk, sien dat hy impressed is met haar. Hy knik weer en glimlag en sy voel lus om hom oor sy kop te streel.

“Hoe lank werk Ouma al vir meneer en mevrou Louw?”

“Hulle is albei dood. Daar is nie meer werk nie.”

Die jong man van die platteland glimlag flou. “Ek weet,” sê hy, “maar hoe lank hét Ouma vir hulle gewerk?”

“Vier-en-vyftig jaar. Die dag ná my dertigste verjaarsdag het ek vir die Louws begin werk. Vier-en-vyftig jaar gelede. Ek is nou vier-en-tagtig.”

Die beleefde jong man se oë rek en sy mond sak oop. Shorty glimlag innerlik. Sy weet, hy het nie gedink sy is so oud nie, want ten spyte van haar jare lyk sy nog goed. Dis net haar kop wat soms agterbly as sy vorentoe gaan, maar die liggaam is nog sterk, die hande nog kragtig.

“Ouma, weet Ouma wat in meneer en mevrou Louw se huis gebeur het?” vra die boykie met ’n soet stem.

Shorty kyk hom aan soos ’n ma haar klein kind sou aankyk as sy hom saans in sy kombersie gaan toedraai. “Die mense in daardie huis is almal dood,” sê sy beslis.

“Ouma, weet Ouma wánneer hulle dood is?”

Sy is nie die dokter nie, hoe moet sy weet? Maar sy probeer haar nie slim hou met die boykie oorkant haar nie. Hy dra die uniform, loop met die geweer. Sy moet hom ook respekte wys.

“Dokter Drikus Opperman het na die huis gekom en na Louwkie en na Oubaas gekyk, gesê hulle is albei dood. Ná die dokter het die poelies gekom, toe die undertakers.”

Sy wys na die groot man wat teen ’n muur aanleun asof hy wil omval. “Daai man het na die huis gekom en ook gesê Louwkie en Oubaas is dood.”

Shorty vee met die agterkant van haar hand ’n paar maal oor haar neus. “Louwkie het nog die oggend van die breakfast geëet wat ek vir haar gemaak het, maar Oubaas eet lank nie meer nie.”

“Noem Ouma vir mevrou Louw Louwkie?”

“Ja, van altyd af. Sy noem my Shorty en ek noem haar Louwkie.”

“Hoekom het meneer Louw nie geëet nie?”

“Omdat Louwkie gesê het Oubaas eet nie meer nie. Van lankal. Ons het nog altyd sy gesig gewas, hom aangetrek en hom aan ’n stoel vasgemaak.”

Shorty voel ’n bietjie kriewelrig. Arme Louwkie, arme Oubaas. Sy moet suutjies van hulle praat, hulle moenie hoor dat sy so sit en praat van hulle nie.

“Maar, Ouma, het mevrou Louw nie haar man al jare gelede begrawe nie?”

“Ja, sy het. Dit was ’n baie mooi begrafnis, met ’n duur kis.”

“Hoe is dit dan moontlik vir Oubaas om nog in ’n stoel te sit?”

Tussen die venster en die gang is daar ’n trek en die kantoor voel koud. Shorty trek die kombers stywer om haar skouers. Die son wat deur die karige gordyne inkom, is dun en maer soos ’n straatkind.

“Jy’s te jonk om te verstaan hoe dit voel om alleen en eensaam te wees. Hoe dit voel om alleen te gaan slaap, alleen op te staan.”

Shorty sug lank en hard, sit haar hand oor haar seer hart en druk haar neus teen die kombers om haar skouers. Sy trek die reuk van die kombers diep in. Die kombers ruik soos Louwkie. Dit gee haar die nodige krag om al die boykie se baie vrae te beantwoord.

Die jong man bekyk die kombers, wys daarna. “Waar het Ouma die kombers gekry?” vra hy asof hy haar van diefstal beskuldig.

Sy neem aanstoot, sy sou hom nooit oor sý klere gevra het nie. Hy sou definitief nie so iets van sy ouma gevra het nie.

“Louwkie het dit vir my gegee, van altyd af. ’n Paar winters terug was dit baie koud, toe sê Louwkie vir my: ‘Shorty, vat hierdie kombers en draai dit om jou terwyl jy die blare hark, dis bitter koud buite.’ ”

Sy voel vies. Is die man dan blind? Kan hy nie sien gister se warmte is nie meer hier nie? Sy roer haar skouers onder die sagtheid van die kombers, lek oor haar droë lippe. Hulle het haar in so ’n haas kom haal, sy het nie eens ’n smeersel vaselien aan haar nie, nie eens ’n snuifie vir ’n toe neus nie.

“Toe Louwkie bed toe is met haar siekte, het ek die kombers oor haar gegooi vir ekstra warmte. Toe hulle haar kom haal, het ek my kombers teruggevat. Dis mos myne, of hoe?” Sy kyk hom uitdagend aan.

“Ja, natuurlik, maar het Ouma dit nie eers gewas nie?”

“Dis skoon,” sê sy beslis, trek die kombers tot by haar ore, vryf haar wang teen die sagte donsies. Die glimlag in haar hart by die herinnering aan Louwkie word ’n hartseer wat oorloop in groot druppels trane.

Sy voel skaam oor haar bewoënheid, haal ’n sakdoek uit haar mou en vryf oor haar oë en haar gesig. Sy hou haar kop gebuig sodat die poelies nie die blink op haar gesig moet sien nie, maar die trane hou aan loop.

Die boykie druk ’n knoppie op die masjien.

“Ouma, het Ouma nog ’n kombers by die huis wat Ouma oor die skouers kan hang?” vra hy sag.

Dis nou vir jou ’n onnosele vraag, dink sy, maar sy sê niks. Hy dra die uniform, die geweer. Sy knik haar kop, want haar stem het in die niet verdwyn, nes die vuurtjie van Shayamoya.

Tien minute later stop die poeliesvan voor haar huis in Toekies. Sy weet die bure loer deur hulle vensters. In al haar jare was die poelies nog nooit op haar erf nie.

“Moenie te lank draai nie, Ouma,” vermaan die boykie.

“My hoenders is honger, my hond is honger,” sê sy en staan botstil om die jong man aan te gluur. “Ek moet langsaan gaan om ’n bietjie Omo te leen om die kombers in te soak.”

Die jong man knik. “Dis alright, Ouma,” gee hy toe, “ek sal wag.”

Shorty snork en draai haar rug op hom. ’n Plattelandse man behoort te weet van African time. Daar gaan nie gejaag word op haar erf nie.

Sy maak die emaljebeker vol mielies en loop strooi dit oor die draad van die kekkelende hoenders se hok, maak hulle waterbak vol. Toe sny sy twee stukkies brood, druk dit in die bakkie vet en sit dit in die hond se bak.

Sewe jaar gelede het iemand die klein wit hondjie met die bruin oor in haar hoenderhok gesit. Toe sy die oggend die hoenders gaan voer, staan die tjankende hond langs die vet hen, sy beentjies soos vuurhoutjiestokkies. Sy het hom Hoenertjie gedoop.

Toe sy haar diere gevoer het, sluk sy haar trots en gaan vra die buurvrou vir ’n bietjie waspoeier. Dié gee ’n lepel vol waspoeier sonder om vrae te vra.

Shorty sleep die groot sinkbad uit die huis, tap water in en druk die kombers daarin. Met haar moue opgerol staan sy handeviervoet die kombers en knie, borreltjies skuim wat in haar gesig waai.

Sy gee die boykie ’n vinnige kyk. Hy sit op ’n groot klip onder die vyeboom, sy rug geleun teen die stam terwyl hy haar dophou. Sy regterbeen is voor hom uitgestrek en tussen sy lippe rol hy ’n grassie heen en weer, om en om. Sy linkerskoen hou die beat van Afrika wat oor ’n radio blêr terwyl vrouens opgewonde lag en gesels en hulle wasgoed inseep en uitspoel in die huise om haar.

Honger honde rem aan kettings en kinders speel eenbeentjie. Ou vrouens loer deur vuil, gekraakte vensters. Dun straaltjies rook klim die lang leer en ’n effense reuk van pap hang in die lug. En die boykie wag.

Uiteindelik, met die geblomde kombers oor haar skouers met ’n groot haakspeld vasgemaak, verwerdig sy haar om aan die boykie te erken dat sy gereed is.

Die jong man staan op, stof hom af en loop na die bakkie toe. Terselfdertyd word die beat van Afrika stil. Almal kyk hoe die ou vrou in die voertuig klim en langs die konstabel gaan sit. En in stilte hou die ou vrou van Afrika haar kop omhoog.

“Jy moet my eers na Louwkie se huis toe vat,” sê sy toe hulle op die grootpad indraai. “As ek nie die voëls voer nie, gaan hulle vrek. Die hond ook,” pleit sy.

“Ons kan nie in die huis inkom nie, alles is gesluit,” sê hy.

“Die voëlhokke is agter die huis, ek het ’n sleutel vir die hek.”

Sy hoor hom sug, sien hoe hy vlugtig op sy horlosie kyk.

By Chesterlaan nommer 199 sluit sy die hek oop, die boykie op haar hakke. Sy sluit die garage ook oop, skep hondekos uit vir Kerneels, wat al om die bang man se bene snuif. Die voëls word gevoer.

Shorty se kop is vol gedagtes en woelinge. Sy weet hulle gaan nog baie vrae vra, en sy wil eers die storie in haar kop agtermekaar kry voor sy dit vir hulle vertel.

Vandag is Sondag en gister se warmte het verdwyn soos ’n skollie met ’n gesteelde hoender onder die arm. Maar dit was Dinsdagmiddag warm toe sy vir Louwkie en Oubaas groet. Woensdagoggend was ook warm, maar sy het nietemin haar kombers saamgevat in geval van ’n Hoëveldse donderstorm. Die taxi het haar naby Louwkie se huis afgelaai.

By die hek het Kerneels getjank toe hy haar sien. Hy het sy sagte snoet tussen die tralies gedruk terwyl sy die hek oopsluit. Maar al is hy ’n goeie hond, het Louwkie gesê sy moet versigtig wees om hom nie te laat uitgaan nie, want hy is nie streetwise nie.

“Is jy honger?” het sy hom gevra.

Sy het die huis oopgesluit, eintlik die woonstel. Louwkie en Oubaas het langs die groot huis gebly, maar hulle het nooit daarna verwys as ’n woonstel nie. Op die muur langs die voordeur is ’n bordjie en daarop staan: Ons Huis. Die groot huis het hulle verhuur aan ’n vrou en haar dogter. Maar dié was weg Durban toe.

Soos altyd het Shorty die veiligheidshek oop- en toegesluit, toe die voordeur. “Ons lewe in gevaarlike tye,” het Oubaas altyd gesê.

“Ek moet vir jou sleutels laat maak, Shorty,” het Louwkie lank gelede gesê. “As ons jou nie by die hek hoor roep nie, gaan jy daar soos ’n fool staan en wag vir ons om jou in te laat.” So sy dra die sleutels van altyd af.

Met die inloop het sy na Louwkie geroep, maar geen antwoord gekry nie. Die klein huis was doodstil. Sy het by die slaapkamer ingeloer. Louwkie en Oubaas was albei nog in die kooi. Dit was vreemd. Louwkie het altyd vroeg-vroeg opgestaan om die voëls en die hond kos te gee en om vir Oubaas aan te trek.

Louwkie het op haar sy gelê. Shorty het oor haar gebuk en gevra: “Is jy siek, Louwkie?”

Aan Louwkie se pap ooglede kon sy sien Louwkie is te siek om te antwoord, die kombers tot by haar oor opgetrek. Shorty het nie meer uitgevra nie. Sy het geweet jy torring nie aan Louwkie as sy siek voel nie.

Sy moes eers vir Kerneels kos gee. Hy het soos ’n honger hond geëet. Die voëls moet ’n bietjie wag, daar sal nog saadjies rondlê in die hok. Terug in die kombuis het Shorty eers mieliepap vir haar en Louwkie gekook. Sy het melk en ’n bietjie botter ingeroer en dit vir Louwkie gevat, maar Louwkie was te siek om die bakkie by haar te neem.

Die bedkassie was vol goed. Shorty het die Bybel, ’n lamp, twee biblioteekboeke, ’n glas water, pille, brille en ’n selfoon alles eenkant gestoot en die bakkie pap bo-op ’n boek gesit, binne Louwkie se bereik.

“As jy voel jy het genoeg krag om jouself op jou elmboog te lig, roep my. Ek gaan eers vir Oubaas aantrek.”

Oubaas was ’n lightweight en sonder bene. Shorty kon hom maklik optel. Sy het sy gesig afgevee, maar nie sy tande geborsel nie, want sy het nie geweet of hy tande het nie. Oubaas het nooit sy mond oopgemaak nie. Sy het hom teen die kussings maak sit.

Hy het net ’n pajamabaadjie aangehad. Sonder bene was ’n broek nie nodig nie. Sy het die pajamabaadjie uitgetrek, sy onderbroek aangetrek en sy frokkie in sy onderbroek ingedruk. Toe het sy vir hom ’n skoon hemp aangetrek.

Geduldig het hy haar dopgehou terwyl sy stadig die knope vasmaak. Omdat sy hande yskoud was, het sy vir hom sy pullover ook aangetrek. Louwkie het nog doodstil gelê, maar Shorty het geweet met die halftoe oë word sy fyn dopgehou. Sy het nie omgegee nie, Louwkie weet sy werk altyd mooi en versigtig met Oubaas. Sy het hom nog nooit seergemaak of laat val nie.

Shorty het na die ou man gekyk, altyd so stil en tevrede, sonder klagtes.

Sy het hom versigtig in sy gunstelingstoel neergesit, hom met ’n gordel vasgemaak en sy arms opgelig. As sy arms afhang, is dit sleg vir sy bloedsirkulasie; hy sal needles en pins in sy arms kry. Dis wat Louwkie altyd gesê het.

Shorty het die gordyne oopgetrek sodat die son lekker op Louwkie se bed en oor Oubaas kon skyn. Shorty het hom daardie dag so jammer gekry. Die ou man moet rasend van bekommernis wees oor sy siek vrou.

Sy het vir haar en Louwkie rooibostee gemaak. Oubaas het nie gedrink nie. Shorty het gewonder wat sy met Louwkie moet doen. Hulle dokter se naam is Drikus Opperman, maar sy kon nie die foon gebruik nie, want dit het met ’n kode gewerk, en daar was nie lugtyd op haar of Louwkie se selfoon nie.

Sy sal wag, het sy besluit. Miskien is Louwkie môre beter.

Met dié dat sy Louwkie se tee op die kassie neersit, het sy oor Louwkie se grys krulle gevryf. Louwkie se voorkop was koel, dus het sy gereken Louwkie het nie koors nie. Sy het skaars aan haar pap geraak, maar Louwkie was lief vir haar rooibos, sy sal dit wel drink. Het sy haar nie geken nie!

Oubaas het haar aangekyk.

Sy het vir hom geglimlag. Raak aan Oubaas en Louwkie het jou aangekyk, raak aan Louwkie en Oubaas het jou aangekyk. So was dit met die twee van hulle.

Shorty kyk op en sien daar is nou drié poelies wat na haar storie luister. Een van hulle het die masjien ’n slag afgeskakel, binne-in gevroetel en dit weer aangeskakel.

“Het mevrou Louw enigiets geëet tussen Woensdag en Saterdag?” wil die man weet.

“Natuurlik,” sê sy verontwaardig. As hy geluister het, sou hy gehoor het dat Louwkie ’n bietjie pap geëet het.

“Sy het ’n bietjie pap geëet. Ek het ook rys, mashed potatoes en minced meat gemaak. Ek is seker sy het van alles ’n bietjie geëet.”

Die mans kyk mekaar in stilte aan.

’n Vrou in uniform kom binne en gee vir Shorty ’n beker soet rooibos en ’n beskuitjie. Sy bedank die vrou en neem ’n slukkie.

“Ouma, wanneer het Ouma by meneer en mevrou Louw begin werk?”

Dis ’n maklike vraag, sy sal die dag nooit vergeet nie.

Destyds het Oubaas en Louwkie nog in die ou huis in Spoorwegstraat in Homelake gebly. Dit was laat Maandagoggend toe sy daar aankom, moeg geloop van werk soek. Die huis het nie mure of ’n hek gehad nie.

“Môre, miesies!” het sy deur die veiligheidshek geroep toe Louwkie die voordeur oopmaak. Shorty het gereken sy en die vrou is omtrent ewe oud, maar uit respekte het sy haar miesies geroep. Sy het dadelik gesien hulle is ook ewe kort, want hulle het mekaar reg in die oog gekyk.

“Ek vra die skrop,” het sy gesê.

“Wat is jou naam?”

“Florence Present, maar hulle noem my Shorty.”

Die vrou het begin lag, seker vir háár, toe lag sy ook, want sy het gereken dis beter as om weggejaag te word.

“En wat kan jy als doen?”

“Enigiets, miesies. Kook, skoonmaak binne en buite, enigiets. Het die miesies ’n wasmasjien?”

“Ja, ek het.”

“En het die miesies die vacuum cleaner?”

“Ja, ek het,” het sy skielik hard gesê, “en ek het ’n klavier ook. Kan jy speel?”

Die kortgatmiesies het toe kwaad gelyk en Shorty was nie seker wat om te sê nie. Het dit beteken sy moet die klavier speel om die werk te kry? Of moet sy nét die klavier speel?

“Nee, miesies, ek kan nie die klavier speel nie, maar ek wil net hê die miesies moet weet dat ek ken van die wasmasjien en die vacuum cleaner.”

Shorty het gesien die blou oë word sag, ’n effense glimlag op die vrou se gesig. Sy het ’n sleutel in die slot gesit en gesê: “Kom binne.”

Toe vat sy Shorty na die kombuis en stel haar voor aan Oubaas.

“Oubaas,” het die vrou gesê, “dis Shorty. Haar naam is eintlik Florence Present. Shorty, dis Oubaas.”

Die man het gelag. “Ek het al baie presente in my lewe gekry,” het hy gesê, “maar ek het nog nooit ’n bruin vrou vir ’n present gekry nie.”

Sy het geweet die man maak net ’n grap, en in haar hart was sy dankbaar dat sy vir Oubaas en Louwkie gevind het.

“Ouma,” word sy in die rede geval, “hoekom het Ouma nie die dokter op Ouma se selfoon gebel nie?”

“Daar was nie genoeg airtime nie,” sê sy kort.

“Hoekom het Ouma nie na mevrou Dulcie Douglas –”

“Ek hét na haar gegaan!” sê Shorty hard en verontwaardig. “Ek het Saterdagmiddag na miesies Dulcie gegaan. Hulle het ’n paar maande gelede ingetrek en Louwkie het soms oorgeloop na haar toe. Ek het toe die dokter gebel en hy het gesê hy kom.”

“Wat ek meen is: hoekom het Ouma nie dádelik na mevrou Douglas gegaan toe Ouma besef mevrou Louw is siek nie? Ouma het eers viér dae later gebel.”

“Ek het gebid dat Louwkie sou beter word. As mens die siekte lank genoeg uitlos, baklei hy partykeer teen homself en die persoon word weer beter.”

Daar is nou vier manne in uniform wat haar aanstaar.

Sy trek haar skouers verskonend op. “Ek moet toilet toe gaan,” sê sy.

Vier begrafnisse en 'n troue

Подняться наверх