Читать книгу Pastoor - Pat Stamatélos - Страница 6

1

Оглавление

Ek skrik toe sy die ding nader aan my mond bring. Hande, borste en hare dwing al my kant toe soos sy vooroor lê, oor die breedte van die lessenaar. Vir die eerste keer kan ek haar van naby waar­neem, haar aandag nie by my nie.

Sy is mooi gebou; nie plankdun nie, maar met sagte rondings, haar borste ook vol en rond en ’n goeie hand vol as ek daaroor kom­­mentaar moet lewer, en dis die sensuele kepie in daardie einste hand vol wat vlugtig ’n gevoel van onbetaamlikheid by my ontlok.

“Is als reg, mevrou Ziman?” Sy klink besorg. “Ek meet net die afstand.”

My oë spring terug na haar gesig. Ek knik my ja.

Baie oplettend van haar, dink ek, om my ongemak so vinnig raak te sien; seker jare se ondervinding van verskrikte mense. Sy maak die mikrofoontjie voor my staan, maar nie té naby nie en skakel dit aan, kyk na my asof vir goedkeuring, haar lyfie nou reg­op tussen stoel en lessenaar.

My knik voel meganies, en dan kry ek uiteindelik weer my stem: “Ja, als reg,” sê ek, “maar is ’n bandopnemer regtig nodig?” Ek pro­beer so rustig en beleefd moontlik klink terwyl my hart in my keel klop. Ek gee ’n klein hoesie.

Was ek so senuagtig met die eerste besoek?

Nee. Ek was te depressief om om te gee. Soos ’n bang hond het ek eenvoudig stert tussen die bene op my rug omgerol en my keel uitgehou. Wat het sy van my gedink, so onderdanig?

En nou ’n bandopnemer. Bid jou aan. Waar is die dae toe terapeute met pen en papier gesit het en jy agterna nog ’n kans gehad het om te sê hy het ’n fout gemaak, dis nie presies wat jy gesê het nie? Of dalk het jou gesigsuitdrukking iets anders laat blyk wat hy moes opgemerk en so genoteer het, wat ook al.

“Rusty shorthand,” sê sy met ’n lag in haar stem.

Dis nou ’n antwoord, dink ek. Is sy nie veronderstel om simpa­tiek te wees nie? Vol deernis, begrip, medelye, barmhartig … nee, wag, ek praat nou uit die Bybel uit. Maar nogtans, ek is nie seker of ek moet lag of huil nie.

’n Grapjas vir ’n sielkundige. Maar daar is seker ’n eerste vir alles.

Nietemin, ek moet erken haar stem is strelend, haar oë sag – so sag dat my verkreukelde persepsies dreig om georden te word en dit vir my voel asof my inhibisies my wil verlaat. Haar mooi koppie laat sy dikwels kantel as sy jou met die ene konsentrasie aan­kyk. Dit het ek al die eerste dag agtergekom.

My eerste reaksie, nee, instink, toe een van my kollegas by die skool my aanraai om ’n shrink te gaan sien, was: hárdloop, shrinks is vir ongebalanseerde mense, snaakse mense. Vir mal mense, het ek gedink, en ek is nie een van húlle nie, al praat ’n mens nie so van húlle nie. Dit het baie wik en weeg gekos voor ek teësinnig die telefoon kon optel om te bel, my enigste gedagte: soos ’n lam ter slagting.

Daar was so baie sielkundiges waaruit ek kon kies.

Ek het eers op die internet gaan kyk, toe die telefoongids deur­geblaai. Die internet was verwarrend, die telefoongids niksseggend, mense ontkennend. Jou dokter mag nie weet nie en jy kan tog nie iemand trompop loop en vra vir ’n verwysing net omdat jy ’n spes­maas het die persoon sien ’n sielkundige nie. Dis soos om ’n vrou te vra om ’n plastiese chirurg aan te beveel. Ekskuus? Waarom vra jy mý?

My verbeelding het op hol gegaan. In my geestesoog kon ek hulle sien staan soos ertjies in ’n peul, almal eenders. Dieselfde snyers­pakkies, oninteressante wit bloese, eenderse hofskoene, dalk ’n serp of beskeie stringetjie krale, min grimering en soortgelyke sagte haarstyle en met ’n sieklik soet glimlag, pen in die hand. Agterdog op hul gesig.

Toe kies ek haar: Wanda van Vollenhoven.

Ek het haar naam gekry van ’n effens geskeurde vuil pamflet wat die wind teen my tuinhekkie aangewaai het. Ek het na die pa­piertjie gegryp toe die wind dit weer ’n keer skep en teen my plak. Ek was half verblind deur stof en my slierte hare, maar die woorde “kliniese sielkundige” het my oog gevang en ek het die pamflet in my handsak gedruk, later uitgehaal en dit rustig op die toilet ge­sit en lees.

Wanda van Vollenhoven.

Haar naam alleen het by my die beeld opgeroep van ’n be­to­we­rende intellektueel en ek het dadelik haar naam en nommer op my selfoon ingetik, die pamflet in die toilet weggespoel. Wie weet, het ek gedink, dalk sou sy die antwoorde op al my lewensvrae hê.

Wat sal sy oor jou sê, Pastoor? Sál sy ooit by jou uitkom? Is jy die probleem, of is ek die probleem? Sy die sielkundige, die psi­goloog, die sielvrou, die ontleder. In haar spreekkamer is alle pro­bleme oorkomelik. Wees rustig, jou beurt kom nog, dis nou myne.

Wanda die kliniese sielkundige.

Agterna het ek haar op die internet gaan soek, maar tevergeefs. Kan ’n mens iemand vertrou wat nie die moed het om haar dienste op die internet te adverteer nie? My toe bygeval die flerries adverteer ook daar.

Ek het haar kwasi-anonimiteit daaraan toegeskryf dat sy so goed in haar werk en dus so besig is dat sy nie hóéf te adverteer nie. ’n Shrink is ’n shrink, het ek desperaat besluit, ek kon nie langer uit­hou nie, ek het nou hulp nodig, of dan ten minste raad. Soggens kon ek nie opstaan nie en die res van die dag sleep ek myself voort van die een gesiggie na die ander, die een boek na die ander, son­der dat ek die naam onderwyseres werd is.

Agter my toe slaapkamerdeur (ek moes eers moed bymekaarskraap om vir my man, Fred, te sê) het ek haar nommer geskakel met die hoop om darem oor ’n week, miskien twee op die meeste, ’n uurtjie van haar besige tyd te bekom.

Sy het die foon self geantwoord en die wind was skoon uit my seile. Die skielike kontak, die aanhoor van die shrink se stem, was meteens oorweldigend. Ek het ’n bietjie gehoes en geproes, gewens daar was eerder die onpersoonlike, amper onbelangstellende stem van ’n ontvangsklerk.

“Ek wil net ’n bietjie gesels,” het ek verskonend gesê, seker ek klink soos ’n ellendeling wat mense moet betaal om met haar te praat. “Ek ly aan depressie, ek het berading nodig …” het ek onseker voortgeploeter, gevoel soos ’n opperste gek, en toe nogal met nadruk bygevoeg: “… ek dínk.”

“Ons noem dit terapie, nie berading nie,” het sy gesê, saaklik maar nie onvriendelik nie. “Sal vieruur jou pas?”

“Watter dag?” het ek verskrik gevra.

“Vandag. Wat is jou naam?”

Vandag? My naam? Die selfoon het in my hand gegly.

Al naam waaraan ek kon dink, was my van, Ziman. Voornaam en noemnaam vergete. Gelukkig het sy nie gevra nie en ons het mekaar beleefd gegroet, ’n wedersydse “totsiens, Mevrou”, maar nét toe ek die oproep wou beëindig, roep sy na my: “Mevrou Ziman! Glo jy in feetjies?”

“In feetjies?” Ek was heeltemal oorbluf.

“Ja. Glo jy in feetjies?”

“Uhm … nee.” Ek was effens onseker, nie geweet of die vraag ’n toets was met die bedoeling om die gewone siel van die awe­regse te onderskei nie. Dis kleingeestig van haar, het ek gereken, selfs onsensitief.

Daar was ’n stilte tussen ons, ingehoue asems, toe sê sy: “Hmm … totsiens,” en lui af.

Ek het werklik ’n lang geskiedenis van slegte keuses, dit strek tot by … ek wil amper sê geboorte, en ek het gewonder of ek die regte persoon gekies het. Maar soos honderd maal tevore het ek nie in staat gevoel om om te draai nie. My keuse vasgeknoop.

Die eerste dag het sy my op die boonste treetjie ingewag, haar voete omtrent weggesak in die oorvloed van ’n skelpienk-en-pers mat van wol. Haar veelkleurige chiffon-uitrusting het tot op haar tone geswiep. Sy het in ’n ou houtstoel met wieletjies gaan sit by ’n tafel wat as lessenaar gedien het; ek oorkant haar op ’n houtbank. Sonder omhaal het sy my gevra waaroor ek haar kom sien, en ek het sommer prontuit vir haar gesê ek ly aan depressie, nie nodig om te wag dat sy dit vir my moet uitspel nie. Vat my geld en maak ’n einde aan my lyding, het ek gereken.

Ons lewe in ’n era waar alles kits is en ek wou ook kitsoplossings van haar hê. Agterna, by die huis, het ek eers besef daar is nie iets soos ’n quick fix nie, dat ek sal moet teruggaan vir verdere terapie om die sogenaamde sluimerende depressie onder die knie te probeer kry, in die hoop dat my probleem (probleme?) nie té ingewik­keld is nie. Wat sy my wel gegee het, was die emosionele onder­steuning om daardie dag aan te gaan tot hier waar ek van­dag weer in haar spreekkamer is.

As ek net presies kan weet wat my probleem is. ’n Mens kan tog nie jou verlede ongedaan maak nie, kan jy? My lewe voel soms soos ’n tapisserie van verkeerde mense, verkeerde besluite, regte vrese. Daar is so baie dinge.

Luister na die tortelduiwe, Kleintjie, is dit nie pragtig nie? Net so pragtig soos jy, het jy gesê. My pastoor. Verkeerde mens, verkeerde besluit, regte vrees. Maar dis lankal oor en verby. Waarom bly spook dit? Soos ’n stem uit ’n slopemmer.

Haar kantoor lyk soos ’n toneeltjie uit ’n sprokiesboek en ek pro­­beer my daarop instel dat ek op die mooi om my konsentreer. Soos op die donkerpers viooltjies in helderkleurige kera­miek­potjies en feetjies wat tussen die blare pryk, die een se uitrusting meer uitspattig as die ander een. Links van my is ’n piepklein teekoppie en piering, en ek leun oor om te sien wat in die koppie is, lyk soos teeblare. En in die middel van die teeblare … nog ’n feetjie! Elke feetjie met ’n towerstaf in haar hand.

Ek dink verlede week het Wanda my net deurgekyk, want van­dag is ek opgegradeer van die ontvangslokaal na wat sy haar sessiekamer noem. Van ’n houtbank na ’n gemakstoel. Maar hierdie sessiekamer is net so boheems en onkonvensioneel soos haar ont­vangs, net so vol feetjies. Nie sprake van kliniese wit nie, of dalk dink ek aan hospitale of psigiatriese inrigtings. Wys jou.

Ek bekyk die vrou voor my skelmpies. Te oordeel na haar voor­koms kan sy netsowel saam met die feetjies in ’n koppie vol teeblare of ’n blompot vol viooltjies sit. ’n Pixie pleks van ’n sielkundige wat ongestoord en gemaklik weggesink sit in haar yslike stoel van dons en spons, op die gevaar af om heel ingesluk te word. Ek sit ver terug, probeer so ontspanne soos sy lyk, druk my lyf dieper in die milddadige sagtheid van die stoel in.

Toe sy my vierkant aankyk, merk ek ’n vonkel in haar oog, die pruilmondjie wat skrams in ’n halfmaantjie verander. Wag sy vir my om te praat?

My moed sak, ek is nie gereed nie.

Wat is ek vir haar? Gevallestudie nommer … duisend? Die arme vrou, sy het nog nie eens begin nie en ek kry haar reeds jammer.

“Ons het met jou eerste besoek gepraat oor die kwessie van die mikrofoon en jy het toestemming gegee, maar as dit jou enigsins ongemaklik laat voel …”

“Nee, dis reg so,” jok ek vinnig. Sy moenie dink ek steek iets weg nie. Ek wil ook nie kinderagtig voorkom deur bang te wees vir ’n mikrofoon nie; by die skool leer ’n mens gou genoeg om in die ding te praat. Ontspan, ontspan …

Dit val my by, sy hét verlede week gepraat van ’n mikrofoon, en ek hét ja gesê, maar ek was toe so swartgallig en só buite weste dat ek nie nou kan onthou presies wie wat gesê het nie. Vandag is Maandag, dit weet ek wel, dis vieruur, haar kantoor is nie groot nie en dis warm binne. ’n Venster is oop, maar daar trek nie ’n luggie nie, selfs die gordyne hang slap. Ek probeer ongesiens die sweet wat op my hande pêrel aan my langbroek afvee.

Het sy dan nie lugreëling nie?

Kry haar feetjies koud?

Kry sy koud? Is dit net ek?

Haar dekor is alles in skakerings van groen en wit, en ek sit en wonder of dit ’n dieper betekenis het, want sý is ook in groen ge­klee, met groot wit oorbelle. Blinkertjies en valletjies oor die lengte en breedte van haar bloes, soos ’n blommekind van vyftig jaar ge­lede. Al wat kort, is die bandana.

“Dit moes baie moed geverg het om hierheen te kom,” sê sy, “om met ’n vreemdeling te praat oor die gevoel wat dreig om jou ruimte van veiligheid op sy kop te keer. Amper soos ’n kind se bang gevoel.”

Sy onthou goed. Dit was wat ek laas vir haar gesê het, alhoewel nie heeltemal so beskrywend nie. Sy het ’n maniertjie om aan die punt van haar neus te vat, en ek wonder of daar enige betekenis aan te heg is.

Soos almal wat aan dié onnoembare, donker siekte ly, voel ek ook soos ’n uitgeworpene, belas met die alewige vraag: Waarom ék? Dalk sal sy vir my iets kan bied, iets soos ’n lewensfilosofie.

“Dis miskien makliker gesê as gedaan,” sê sy, “maar ek wil hê jy moet probeer ontspan.”

Haar stem ruk my uit my gedagtegang uit en ek sit ’n aks vo­ren­toe, onthou sy het gesê ek moet ontspan, sit weer agtertoe.

“Verbeel jou ek is die goeie feetjie wat bo-op die Kersboom sit. Vertel my van al jou vrese, jou probleme, alles wat jou saans laat wakker lê en ek sal my toorstokkie swaai en alles wat jou pla, sal mettertyd soos mis voor die son verdwyn.” Sy swaai haar pen heen en weer terwyl sy praat.

Het ek reg gehoor?

Ek is verwerp, mishandel, ly aan depressie, toon selfmoordnei­gings, en dié vrou praat oor ’n goeie feetjie, nogal bo-op ’n Kersboom, haar eie pen niks minder as ’n towerstaf nie.

Ons staar mekaar aan oor die ontsaglik groot eikehoutblad, wat byna heeltemal bedek is met plantjies, plastiekdiertjies, feetjies, kerse en parafernalia. Daar is ’n waterfles bedek met ’n outydse ge­hekelde doilie met ’n soom van ’n verskeidenheid van geborduur­de feetjies. Oulik as jy van oulik hou.

Dalk laat sy haar pasiënte rustig agteroor op ’n sagte bank lê terwyl sy ’n pendulum (dalk ’n slapende feetjie?) voor jou oë swaai totdat jy liggies indommel. Dit spaar jou die verleentheid om jou siel te ontbloot terwyl jy haar in die oë kyk.

Jy het nooit die lig aangeskakel nie. Daar is te veel vensters, het jy gesê. Iemand sal lont ruik, kom ondersoek instel. Haai kyk, die kleuterskool se lig brand, ek wonder wie is daar? Pastoor? Klein­tjie? Dit sou nie deug nie. Die straatlig, buitelig, oorgenoeg lig, baie dankie. Dit het my die verleentheid gespaar om jou in die oë te kyk. Om jou aan te kyk.

“Moet dit nie ’n engeltjie wees nie … ek bedoel, bo-op die Kers­boom?” vra ek, my stem temerig.

“Kom ons speel dis ’n feetjie,” sê sy sag maar beslis. “Met vler­kies, natuurlik.” Sy hou ’n oop hand langs elke skouer, palms na my toe en maak heen-en-weer-bewegings. Vlerke.

’n Oomblik sit ek oorbluf, toe lag ek. Dalk is sy ’n sielkundige vir versteurdes, of ek het die verkeerde nommer geskakel. Maar hier sit ek! En bid ek is nie ’n versteurde nie.

“Mevrou …” begin ek huiwerig, maar sy val my in die rede.

“Noem my Wanda. Wanda met die magic wand.”

Ek wou sê: Mevrou, ek voel senuagtig, bang, onnosel, wat ook al; eintlik wil ek glad nie hier wees nie, die hele ding van ’n sielkundige wat my wil analiseer, is vir my traumaties, ek dink die woorde is: dit freak my uit. En nou nog ’n feetjie in plaas van ’n engeltjie, ek bedoel sielkundige.

Maar humor is goed, dis trouens al wat my die afgelope klompie jare aan die lewe gehou het.

’n Bewoënheid druk eensklaps op my hart en ek sluk en pik trane weg. Die volgende oomblik leun Wanda vorentoe, vou haar arms voor haar op die blad, haar borste beurend teen die materiaal van haar rok; die blik onder haar lang wimpers sagter as ’n oomblik gelede. Ek skuif ietwat senuagtig op my stoel rond, weet nie of dit as gevolg van haar sagte blik of die boheemse milieu is waarin ek my bevind nie.

“Ek probeer nie ligsinnig wees nie, ek wil net hê jy moet gemaklik voel,” sê sy – ’n duidelike poging om my gerus te stel, en ek wonder weer of ek so verskrik lyk soos ek voel.

“Gedurende ons sessies sal jy dalk diep moet skep. Ek probeer net om ’n aangename atmosfeer te bewerkstellig waarby ons albei aanklank kan vind.”

Haar kort, blonde hare met ’n paar pienk-perserige strepe lê effens gekrul oor haar kop, haar oë groen en groot, en om haar nek stringe krale van verskillende kleure en soorte. Silwer armbande aan albei arms blink in die repie son wat deur die gordyne en oor haar lessenaar val.

Ek knik, want die woorde sit dik in my keel. Sy kyk my vraend, of is dit uitdagend aan, ek kan nie besluit nie, en dan voel die hele omgewing vir my ’n bietjie oorweldigend: die mooi kantoor, die mooi vrou, haar mooi woorde, en ek sien nou die eerste maal die wit blommetjies (freesias?) in ’n deurskynende groen botteltjie gerangskik. ’n Mooi feetjie in blaarkleertjies is aan die botteltjie vasgemaak, ’n toorstokkie in die hand. Fyn en mooi.

Alles mooi, mooi, mooi.

Ek soek met bewerige hande in my handsak rond na ’n snesie; al wat ek nou nodig het om my selfvertroue nog ’n verdere knou te gee, is ’n rooi neus en maskara-strepe oor my wange.

Sy stoot amper ongemerk die pak Kleenex effens nader aan my en dit is asof sy elke beweging van my dophou. Dan die besef: lyf­taal spreek harder as woorde, snot en trane harder as belydenis. Ek snuit saggies en voel soos ’n idioot, kyk haar vlugtig aan en gee ’n verleë laggie.

“Jy lyk hartseer, mevrou Ziman. Ontsteld …”

Dis dan soos ek gedink het dit gaan wees. Warm patat en koue pampoen. Sy sê ’n woord, ek reageer. Ek sê ’n woord, sy reageer. Jy’s koud, jy’s warm, jy’s warmer, jy brand …

Kleintjie!

Pastoor.

Dankie, Kleintjie.

Plesier, Pastoor.

“Mevrou Ziman, ek kan sien dit is vir jou moeilik om oor jou­self te praat. Wees net rustig, daar is niks wat ons jaag nie. As jy my nie as die goeie feetjie wil aanvaar nie, beskou my dan as ’n biegmoeder. Net vir die duur van ons sessies.”

Die moederstorie is seker na aanleiding van wat ek haar laas vertel het, naamlik dat ek aangeneem is. Ek het dit net terloops ge­noem, maar sy het dit onthou, sonder ’n bandopname en sonder dat sy notas geneem het. ’n Biegmoeder tien jaar ouer as ek? Waar­om nie? Met my eerste besoek het ek haar geboortedatum op een van die dokumente op haar lessenaar gesien – ek het vinnig en skelm gekyk. Sy is sewe-en-vyftig.

“Wat wil jy hê moet ek sê?” vra ek in ’n flou stemmetjie wat ek skaars as my eie herken.

“Dalk kan jy begin waar dit vir jou veilig voel. Sê wie jy is.”

Sonder om oogkontak te verloor, of ’n groot vertoon, skuif sy die mooi houer met snesies tussen my en die mikrofoon in. Met die ding buite sig voel ek meer ontspanne, maar toe ek steeds huiwer, moedig sy my aan met: “Jy het die vorige keer gesê jy is aangeneem, jou name verander. Wat was jou oorspronklike naam?”

“Ek is Kleintjie Ziman.”

“Is Kleintjie jou oorspronklike naam, of is dit jou noemnaam?”

“Hulle noem my Kleintjie.”

Wat wil die vrou van my hê? “My doopnaam is Susanna.”

“En jou nooiensvan?”

“Merwe. Maar my noemnaam is Kleintjie.” Ek voel soos ’n sot, die vrou gaan dink ek is onnosel. Story of my life. “My getroude van is Ziman.”

“Mevrou Ziman, is Susanna Merwe die naam wat jou aanneemma jou gegee het, of jou biologiese ma?”

“My aanneemma,” sê ek, onkant gevang deur hierdie uitleg van die familiegeskiedenis. “Ek was by die Agnes-tehuis vir Ongehude Moeders geregistreer as Juliet Jacobs. Jacobs is my biologiese ma se nooiensvan.”

“Dus is jy Susanna …”

“Ek word Kleintjie genoem,” val ek haar in die rede. “Nooit Susanna nie. Niemand weet van die naam nie, en ek is net, wás net, op rekord Juliet Jacobs.” Herhalings, herhalings …

Die feetjie van die Kersboom kyk my nogmaals stip aan, haar kop skuins gedraai, en toe sy praat, is haar stem soos ’n sagte brandertjie wat sê: Ek kan met jou speel, maar ook oor jou rol.

“Dus, by die tehuis vir ongehude moeders is jy, op rekord, Juliet Jacobs, en op jou aannemingspapiere by die welsyn is jy ook Juliet Jacobs. Maar met jou aanneming het dié name weggeval en is jy wettig as Susanna Merwe geregistreer. Is dit reg so?”

“Ja, dis seker so.” Ek het nog nooit so helder daaroor gedink nie.

“Ek kan hoor dat jy baie geheg is aan jou noemnaam. Sal dit reg wees as ek jou vir die doeleindes van die terapiesessies dan Kleintjie noem? Sal jy gemaklik voel daarmee?”

Dankie, tog. My biologiese ma het vir Juliet Jacobs afgeteken; sy bestaan nie meer nie en niemand ken my as Susanna nie. “Ja, dankie, dis reg so,” sê ek verlig.

“Dankie, Kleintjie. As jy gereed is om verder te gaan …?” sê-vra sy vriendelik, wys skrams na die snesiehouer, eintlik na die weggesteekte mikrofoon op haar lessenaar, en sê dan: “Sê jou naam en ook sommer wanneer jy verjaar, asseblief.”

“Wanneer ek verjaar?”

“Ja. Wanneer dit jou verjaardag is, bak ons ’n feetjiekoek. Het jy geweet die verjaardagfeetjie, regte naam Natalicia felicitata, is die besigste feetjie van almal?”

“Nee, ek het nie geweet nie,” sê ek voordat ek myself kan keer.

“Dis die reine waarheid. Nou, sê iets oor jouself.”

’n Oomblik kyk ek die vrou stil en grootoog aan. Die een malle is die dirigent en die ander die orkes. Ek moes liewer my kal­meer­pilletjie vanoggend geneem het.

“My naam is Kleintjie Ziman,” sê ek dan, “en ek is sewe-en-veertig jaar oud, verjaar op 10 September en is gebore in die Agnes-tehuis vir Ongehude Moeders. My aanneemma het my oor­spronklike naam, Juliet Jacobs, laat verander na haar eie naam, Susanna Merwe. Maar my noemnaam is Kleintjie.” Ek sluk, dit was nogal ’n mondvol.

Wanda Magic knik tevrede, verseker my nogmaals dat ek gerus kan ontspan; sy wil werklik hê ek moet gemaklik voel gedurende ons sessies. Haar optrede vind ek opreg en innig.

Ek laat my opgetrekte skouers sak, haal diep asem, blaas stadig uit en voel hoe my binneste wil-wil ontknoop, soos een wat uit­eindelik genoeg moed bymekaarskraap vir … ek wonder wat. Ontboeseming?

“Wil jy my iets oor jouself vertel?” por sy my aan, voel seker des­peraat oor my stilswye. “Laas keer het jy gepraat van ’n seer wat jy al jare lank met jou saamdra. Wil jy my meer vertel?”

Steeds huiwer ek. Laas was ek so depressief dat ek dinge kwytgeraak het in ’n desperate poging om … wat hét ek als kwytge­raak? Nou sit ek met ’n mond vol tande, nie meer vir my maklik om oop te maak nie, sy is immers ’n vreemde vrou.

“Ek verstaan jou huiwering, Kleintjie. Ek is ’n vreemde vrou en soms …”

Kan die vrou gedagtes lees?

Wanda van Vollenhoven se stem dreun voort. Diep, mooi en dui­delik, asof sy heeldag tyd het, en ek skuif effens vorentoe op my stoel, bang ek mis een frase, een wyse woord.

Agter haar teen die muur hang haar geraamde meestersgraad, ook ander sertifikate, en ek probeer so onopsigtelik moontlik uitmaak wat hulle sê. Hoe gekwalifiseerd is die vrou? Goue rame om papier met vergulde letters.

Hoe gekwalifiseerd is die mán? So baie diplomas teen sy muur. Hy kan preek. Hy kan liefhê en hy kan moor. Dit gee hom die reg.

Watse reg het sy? Ek moet kyk. En voorbereid wees.

Heel ingedagte rek ek my nek om beter te sien, en dan sê sy: “Ek sien jy kyk na my kwalifikasies.” Sy wys met haar hand oor haar regterskouer na die muur agter haar.

“Ekskuus, dis nie wat ek bedoel het nie, ek bedoel gedink het nie …”

Wanda skud haar kop, toemaar, dis niks, beduie sy. “Dit is net na­tuurlik om te wonder of die persoon voor jou bekwaam is of nie.”

Het ek aanstoot gegee? Wens ek het geweet of daar reëls in ’n shrink se kamer is, ’n protokol van dinge doen en sê. Ek lees die geraamde woorde wat eenkant hang: Be kind, for everyone you meet is fighting a great battle. – Plato.

Amen, dink ek, dis diep. Toe gewaar ek die feetjie wat op die raam sit, silwer beentjies wat speels oor die glas hang.

Wanda se monoloog het oënskynlik opgedroog, en die stilte is nou ongemaklik, maar ek voel heeltemal onbevoeg om enige kom­mentaar te lewer. Dis soos met ’n doodstyding, my verstand slaan eenvoudig toe. Gewoonlik praat ek maklik oor myself; nou sit en wonder ek oor die vrou voor my. Ek wil ontspan, maar daar is die stramheid van ’n spanning in my.

Ek het die behoefte om haar iewers anders as in hierdie kantoor te plaas. Miskien in ’n kombuis of in ’n tuin voor haar huis. As ’n mens aan iemand dink wat nie by jou bly nie, dink jy tog aan hulle in ’n spesifieke omgewing, maar liefs nie in ’n shrink se kan­toor nie, al is sy die shrink. Dus, op die gevaar af dat ek aanstoot kan gee, vra ek haar waar sy woon.

Wanda se lippies gaan oop en toe sonder dat sy ’n woord uitkry, en getrou aan my impulsiewe geaardheid, is ek onmiddellik spyt en vra ek om verskoning, besef ek het heel waarskynlik ’n grens oor­skry. Dis nou eenmaal ek, altyd te veel, te gou. “Jy is te familiêr,” sê Fred altyd as ek, volgens hom, te eie word met sogenaamde vreemdelinge.

“Dis nie nodig om verskoning te vra nie,” sê Wanda dan, “mens wil maar iets van jou gespreksgenoot af weet. Ek bly in ’n klein meenthuis in die noorde, met ’n kat en ’n lappie grond vir tuinmaak.”

Sy bly in die noorde en haar kantoor is in die weste? Dis vir my vreemd, maar ek vra nie verder uit nie. “Ek wou nog altyd ’n kat gehad het,” sê ek, “maar met twee vierpotige kathaters op die erf is dit nie moontlik nie.”

Haar glimlag is skrams en vlietend. Die spanning is gebreek, maar ek weet steeds nie waar sy bly nie.

Jou glimlag was nooit gejaagd nie, Pastoor, nooit skrams nie maar vol, breed en warm ook, met goddelike beloftes. Tussen kerk­gangers het ek jou oë gesoek, die verruklike plooie om jou mondhoeke, die skulp van jou ore. En as ek dit gevind het, het dit in my oë getalm en het ek die prentjie diep binne my gebêre. Jy is soos ’n pa, het ek gedink. Béter as my pa. Ek beter as jou dogter. Weg is die drank, weg is die stank.

“As jy gereed is, gaan gerus voort,” sê Wanda.

Ek moet onthou: Geen ditjies en datjies nie, dis shrink en pa­siënt. In teenstelling met Pastoor en lidmaat. Nou ja, dan is dit nou my beurt, ek sal moet praat.

“Op die oomblik is ek sekretaresse en PRO by ’n skooltjie op ’n plekkie êrens tussen niewers en nêrens.” Ek gee ’n sagte laggie, dis immers ’n grappie. Soort van. “Soms staan ek ook in vir ’n on­derwyser wat met verlof of siek is en dit gebeur nogal dikwels.”

Ek aarsel, nie seker watter invalshoek ek moet gebruik nie.

Wanda kom tot my redding. “Is jy getroud?” vra sy. “Miskien kinders?”

“Ja, my man se naam is Fred en ek het twee dogters. Fred het voorheen op die myn gewerk, maar werk tans by ’n invoer-en-­uitvoer-maatskappy wat verbintenisse met die myn het. Fred is ’n goeie man vir my en weet alles omtrent my, ons het nie geheime vir mekaar nie. Jy weet wat ek bedoel.”

Sy knik.

Die stukkie oor die geheime klink seker verspot, maar ek wil hê sy moet weet dat Fred weet ek sien ’n sielkundige, dis al. Dis in elk geval genoeg vir eers. Netnou sê ek weer te veel, is ek weer te familiêr.

“Wat doen jy in jou vrye tyd?”

“Ek lees graag poësie en sielkunde. Ek het kindersielkunde ge­swot.”

“Dis baie interessant. Waar het jy studeer?”

“By Potch, vir my onderwysdiploma.”

“En jou gesondheid, oor die algemeen? Enige probleme?”

Behalwe my depressie is ek gesond, verseker ek haar. Neem net die gewone vitamiene, ’n halwe antidepressant-pilletjie daagliks, voorbehoedpille, oor-die-toonbank-pille vir pyn en Saint John’s wort. Ek gaan nie my gewigsprobleem noem nie, dis tog ooglopend. Die feit dat sy, hoewel tien jaar ouer as ek, baie mooi is, modern aan­trek en pragtig gebou is, met al die rondings op die regte plekke, maak dit nie vir my makliker nie.

Ek hou haar dop; haar blik het nog nie een keer oor my lyf ge­gaan nie. Maar sy kan maar kyk as sy wil, ek het ’n pers pakkie aan, lyk goed versorg en steek nie af nie.

“Waarom neem jy vitamiene?”

“Ek bly moeg, sukkel om te konsentreer, kan nie die kinders se name onthou nie. Maar of die vitamiene werklik help, weet ek ook nie.”

Sy kyk my aan.

Moet ek bylas dis vir woema, seksdrang, werk­lus, inspirasie? My fut is uit, Wanda. Punt.

“Kleintjie, waarmee kan ek help, waar kry ek jou vandag?”

Ek skud my kop, dis veiliger as om te praat. Waar moet ek begin? Ek’s terdeë bewus van die feit dat sy my stadig maar seker gaan inkatrol, en nie sonder pyn nie. Dis seker haar werk, om woorde uit iemand se keel te trek wat hulle nie wil prysgee nie.

Verdomde trane stoot op agter my kykers en dis die ou scenario van ’n damwal wat wil bars en ’n stroom woorde wat verwoed alles in sy pad saamsleep; die soort uitbarsting wat Fred so die herrie in maak dat hy sommer opstaan en loop.

Die gedagte aan Fred se kwaai gesig laat my dadelik bedaar, my die stortvloed woorde en trane genadiglik ingesluk kry. Ek en Wanda kyk mekaar stilswyend aan, en toe leun sy vooroor, steek haar hande na my uit, soos na ’n drenkeling, verbeel ek my, haar palms na bo. “Vat my hande, Kleintjie,” sê sy.

My binneste ruk. Die toenadering is te gou; sy is so kalm en oog­lopend gretig om te help met raad en nou ook daad.

“Kleintjie, dis doodnatuurlik om ’n bietjie onseker te voel. Ek gaan probeer om ons sessies so stresvry moontlik te maak.” Sy klink so vol begrip vir my noute. “Soms het mens ’n vertrekpunt no­dig om aan die gang te kom en ek wil jou graag help om by daardie punt te kom.”

My reaksie hierop is om haar aan te staar. Ek is uiteraard so belemmer deur ou, struikelende emosies dat ek sukkel om sinne, samehangende gedagtes en selfs woorde saam te flans.

“Laat ek verduidelik,” sê sy, soos vir ’n kind.

Ek knik.

“Ons gaan hande vashou en ek gaan ’n woord of twee sê, dan kan jy my hande so effentjies of so hard druk soos jy wil. Hoe harder jy druk, hoe dieper lê die pyn op daardie gebied. Sien jy kans?”

Dit klink eenvoudig genoeg. Ek knik weer, sê ek sien kans en steek my hande na haar uit, stadig, steeds huiwerig.

“Is jy gereed?” vra sy.

Ek sê amper onhoorbaar ja. Let the show begin.

“Indien jy enigsins ongemaklik voel, kan jy jou hande terugsit op jou skoot.”

Dankie, maar ek wil nie lafhartig voorkom nie, vat haar hande styf vas en met afgryse voel ek hoe die sweet in my oksels en ag­ter my nek uitslaan, weet ek bevind my op onbekende terrein. Die gevoel wat in my binneste opwel, is ’n ou gevoel, ek is besig om ’n angsaanval te kry, kan sy nie sien nie? My hande sweterig, my asem gejaagd, my oë verstar.

Uithou, uithou …

Toe maak sy haar hande stadig los uit my greep, en ek trek myne terug, sit terug.

Wanda skink ’n glas water en gee dit vir my aan. My mond voel soos kladpapier en ek sluk gretig, drink die glas leeg, ergerlik dat die onbekende my so kan beduiwel.

“Dis net natuurlik dat mens ’n mate van angs ondervind as jy die onbekende betree,” sê sy, sit haar palms nou plat op haar les­senaarblad.

Kan die vrou régtig gedagtes lees?

“In jou gedagtes is jy onseker wat aangaan …” die sin bly hang.

“Ja, ek wás bang, ek is jammer,” sê ek, hoor die trilling in my stem.

“Kleintjie, die enigste rede waarom ek dié metode van kommuni­kasie gebruik, is omdat mens soms bang is om jou gevoelens en gedagtes te verwoord. Dis heeltemal normaal, en as jy my sal toe­laat, sal ek jou help om dié vrees te probeer oorkom.”

Hoekom hét ek so geskrik? Ek weet sy wil my help en sal my nie in die verleentheid stel nie. Ek is skoon mal. Wel, dan is ek seker op die regte plek …

“Om iemand se hande te vat, om blootgestel te word aan indringende vrae en effens uit jou gemaksone gelig te word, is nie maklik nie. Dis verstaanbaar dat jy effens skrikkerig gaan voel.”

Ek weet haar geselsies is net om my ’n kans te gee om te besin, om te kalmeer, om by te kom, as ’t ware. “Nee wat, ek is nou ge­reed,” sê ek, probeer oortuigend klink, vryf my hande nogmaals oor my langbroek om hulle droog te kry. Meteens sien ek dit as ’n uitdaging en steek my hande na haar uit. “Vat my hande, dis reg so,” sê ek en dwing myself tot kalmte.

Sy vat nie dadelik my hande nie. “Daar is geen druk nie,” sê sy sag en paaiend.

“Ek wil,” sê ek. Daar is nie nou omdraaikans nie. In for a penny, in for a pound, dis wat Edna altyd sê. Edna, dierbare kollega en onmisbare vriendin. Met Edna se laggende gesig in my gedagtes kom ek tot bedaring, voel hoe my hart ritmieser klop, my mond minder droog. Ja wat, ek is sports genoeg, dink ek vol bravade toe sy my hande saggies vasvat.

Haar hande is steeds koel; myne nou droog. Die wonderbaarlike ding van haar aanraking is dat dit oombliklik ’n kalmerende uitwerking op my het. Of dalk is ek net ingestel om dit so te er­vaar. Die mense by die skool gaan sowaar vir my lag as ek hulle vertel.

“Onthou, hoe ontstellender die onderwerp, hoe harder druk jy,” sê Wanda. “Jy kan selfs jou oë toemaak, miskien laat dit jou vei­liger voel.”

Dis ’n goeie voorstel en ek maak so. Feetjies is in elk geval ver­onderstel om denkbeeldig te wees en dus is dit beter as ek nie in haar vaskyk nie.

“Jou man,” sê sy sonder om te talm.

Dis nie nodig om haar hand te druk nie. Ek en Fred is lief vir me­kaar, ons ken mekaar soos die agterkant van ons hande, maar ek voel sy verwag tog iets van my en ek druk liggies, haar hande soos lugkussinkies onder my vingers.

“Jou dogters.”

My lewe, my liefde.

“Jou werk.”

My toevlug, ek voel bekwaam genoeg om enigiets aan te pak wat hulle my kant toe gooi. Nou ja toe, ek was onnodig bang.

“Klavier.”

Ek skrik so groot dat ek haar hand ’n nanosekonde in ’n ystergreep vasdruk, maak my oë haastig oop, los en trek terug. Met ’n ekskuus op my lippe kyk ek af, sien dat ek albei my hande in ’n vuis gebal het. Hoe is dit moontlik? ’n Oomblik gelede het ek haar hande oor die lessenaar vasgeklem.

Dan kom ek tot verhaal. “Ek is jammer,” mompel ek, voel die hitte wat op my wange kom lê, “dit was pure refleks …” Ek aarsel, dis gelade woorde, pure refleks.

Pure refleks. Onwillekeurige senuweeprikkel.

Ek wou nie met jou gaan praat oor persoonlike dinge nie, Pastoor, ek was te skaam vir jou, vir myself, vir my ouers.

“Gaan, Kleintjie, jy het iemand nodig om mee te praat,” het Ma my aangemoedig. “Iemand om jou rigting in die lewe te gee. Pa is so besig, ek werk ook nou. Pastoor sal vir jou leer hoe om die klavier te speel; hy sê dis deel van jou berading. Pastoor sal jou mooi leer.”

Ware woorde en die knop in die broek pure refleks, het jy gesê.

Ek kyk op na Wanda. “Jy weet ek is mal oor klavierspeel,” sê ek. “Ek dink ek het dit genoem in my vorige sessie.” My binneste krimp ineen; ek is nou glad nie meer seker of ek dit vir haar genoem het nie, lig my hande van my skoot af op en steek hulle ten­tatief na haar uit. Dit is moontlik my laaste kans.

Haar blik is so betekenisvol sy kon net sowel gesê het “uitgevang!” Maar dalk doen ek die vrou ’n onreg aan, want haar hele wese, wyse woorde en al, spreek van begrip en professionaliteit.

Soos voorheen vat sy my hande sagkens vas en ek maak my oë weer toe, bly sy het onthou van die klavier. Sy het tog die eerste dag geluister.

“Jou kliniese sielkundige,” sê sy.

Ek glimlag breed en lag binnetoe, seker sy doen dieselfde en gee twee vinnige drukkies. Laat sy maar dink wat sy wil.

Haar hande is bottersag. Doen sy ooit tuinwerk? Ek gee my heel­temal oor aan hierdie eiesoortige kommunikasie, en sug nogmaals saggies. Sy moet kan sien én hoor dat ek nou heeltemal op my ge­mak is.

“Jou ma.”

Reaksie. So erg dat ek omtrent nie krag oorhet vir nog ’n ronde sogenaamde kommunikasie nie. Sy los my hande, nie soos ’n warm patat nie, maar geleidelik, sit terug.

Ek kan nie glo ek is weer so maklik uitgevang nie. Waarom het ek so hewig gereageer? Ma was tog lief vir my, ek vir haar, ten spyte van … alles.

“Wat dink jy, kan ons vandag ’n bietjie oor jou ma gesels? Ek neem aan dis jou aanneemma?”

Ek knik. Met die onverklaarbare gevoel dat ek verraad pleeg.

“Of wil jy eerder iets vertel van jou biologiese ma?”

Wat is daar om te sê? Sy het my gelos, by die hospitaal al. Tatta, sien jou! Of miskien het sy sonder selfs ’n terugblik uitgestap.

“Nee,” sê ek, “ons kan vandag oor my aanneemma gesels.” Won­der wie die ons nou eintlik is. “Wil jy begin by die vroegste, mooi­ste herinneringe aan jou ma?”

Dis maklik. “Winter in Gauteng, destyds Transvaal, is yskoud. Bly in die bed, het Ma meermale gesê, ek kom jou aantrek. Dan loop haal sy my klere uit die kas. Broekie, langmoufrokkie, sok­kies, skoolrok, trui.”

Ek voel effe verleë, het nog nooit vir iemand vertel Ma het my onder die komberse help aantrek nie. Miskien lag hulle vir my.

“Dit spreek van deernis en omgee,” sê Wanda. Saaklik.

Ja, aan die begin. Nee, nie eens toe nie, en tog was daar blyke van omgee, was daar nie?

Stadig begin ’n prentjie in my gedagtes vorm aanneem. “Ma se hande is lekker warm,” sê ek, “en ek en Ma spook om my aange­trek te kry, maar ek weet, as die trui oor my kop getrek word, moet ek opstaan. Ons druk mekaar, ek is lief vir Ma. Haar hare die kleur van sterk koffie, haar oë sag en liefdevol en haar drukkies soos somerson.”

Die stukkie van die somerson het ek sommer net bygelas. My sub B-juffrou het op ’n dag vir die klas gevra om ’n lekker ma-drukkie te beskryf, en ek het gesê dis soos somerson en die juffrou het haar hande saamgeslaan en gesê dis te kostelik vir woorde.

My feetjie knik haar blonde koppie ’n paar keer en net toe ek dink sy gaan opstyg, praat sy: “Dit klink soos baie goeie herinne­ringe.”

Ek haal my skouers op. “Daar is … goeie herinneringe. Soos die popklere. Ma het die mooiste popklere gemaak, al my poppe was altyd baie modieus en pragtig aangetrek.”

“Dus het jy baie poppe gehad?”

Kyk hoe maklik was dit. Waar was sy toe ek vyf, ses jaar oud was? Pasop vir die welsyntannie, het Ma gewaarsku, sy wil jou van my af wegvat. Die welsyntannie het my baie vrae gevra, maar sy het nie oor my poppe gevra nie.

Vir wie is jy die liefste in die hele wêreld, Kleintjie?

Vir Mamma, Tannie. En vir Pappa.

Watse lekker kos maak Mamma alles vir jou?

Lekker souskluitjies, Tannie.

Wie het die skoentjies vir jou gekoop?

Mamma, Tannie.

Aan en aan. Maar niks van my poppe nie.

Wanda sê: “Mens se poppe is soos feetjies, beminlik en hoe meer mens het, hoe gelukkiger en meer geseënd is jy.” Sy is ernstig.

“Ek hét baie poppe gehad, klein en groot,” sê ek. Hoe goed ont­hou ek dit nie. “Party kon loop, van die gordynkap tot voor my bed.”

Die bang, o, die bang. Vergeet van die gogga, die donker en die res, hou net vir Ma in die oog, sy kan wegraak. Wegloop. Dood­gaan. My alleen los. Hou vir Ma in die oog. Bang vir die pop en bang vir Ma.

’n Geluid ontsnap uit my keel, ’n sagte, siniese laggie, en ek weet Wanda hoor dit, maar ek gee nie om nie, laat sy dink wat sy wil. ’n Stilte kom lê weer tussen ons, en ek kyk na haar krale. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat so baie verskillende soorte krale op een slag dra nie.

Wanda verbreek die stilte. “Jy het seker gewonder hoe die pop van die gordynkap tot by jou bed gekom het,” sê sy.

Dink ’n klein kind so iets? Of skrik hulle net vir die onverklaar­bare? So groot dat dit hulle vir die res van hulle lewe bybly. Dit was net Ma se grappie.

Siek grappie.

Ma was siek. Ma is siek.

Nee, ék is siek. Was siek.

Gee die kind nog medisyne.

Ag sies, kyk hoe braak sy.

“Ek het nooit die langbeenpop sien afklim en loop nie, natúúrlik nie,” sê ek, “maar elke keer as ek van die badkamer af terugkom, staan die pop voor my bed.”

Ek lag hardop, weet my senuwees vreet aan my. Die pop wat stil­staan as ek vir haar kyk, beweeg wanneer ek wegkyk. My bang kan ek nie vergeet nie.

Poppe kry snags lewe, het Ma gesê.

Ek is bang vir hulle, Ma, het ek gesê.

As jy soet is, sal hulle jou niks aandoen nie, maar as jy stout is, weet hulle, want hulle sien alles. Toemaar, ek sal die pop terugsit. Daar’s hy. Slaap nou.

Moenie die lig afsit nie, Ma.

Kleintjie, jy’s vol strooi.

Ma wag net tot ek slaap dan kom sit sy die lig af, ek het dit ge­weet.

Ek het versies opgesê. Ek moenie aan die slaap raak nie. Nog ’n versie. Moenie slaap nie. Toe slaap ek, toe sit sy die lig af.

“Saans kon ek net aan die slaap raak met my gesig onder die kombers, te bang om na my poppe te kyk ingeval hulle lewend word, bang om die lig af te skakel. As ek in die nag wakker word, was ek doodbang.” Ek ryg die woorde in ’n rekordtyd in, probeer ’n tikkie vrolikheid in my stem kry, sy moenie dink ek is pateties nie, maar ek voel my onderlip bewe, my hande bewe, my binneste bewe. My liewe shrink, hoe het ons by hierdie punt gekom, met watter vraag het dit alles begin?

“Dus het jy dikwels in die nag wakker geword?” vra Wanda, salig onbewus van my wroegings, maar dis goed so, sy wil nie ’n drama queen voor haar hê nie.

“Ja. Die kere dat ek alleen in my kamer geslaap het, was bitter min,” sê ek, probeer afgetrokke klink. Ek het ’n feit gestel en wil aan­beweeg.

Los Ma uit, sy het kopseer.

Gee haar ’n Grand-Pa, laat haar gaan lê.

Laat haar vroetel onder die kombers.

Kyk hoe salig slaap sy nou.

Môre is sy weer nugter. Môre is nog ’n dag.

“Ek het klavier op gehoor gespeel, weet jy,” sê ek.

“Ja?” Wanda lyk beïndruk. Dit val my dan by dat ek haar dit met my eerste besoek vertel het.

Sy maak ’n merkie in haar boek en kyk my betekenisvol aan. My tyd is om. Ons groet sonder dat sy my vra of sy nog ’n afspraak vir my moet maak. “Ek sien jou volgende week,” sê ek vir haar, en sy glimlag, vra nie watter dag of hoe laat nie.

Met die uitloop draai ek om om nogmaals te groet en sien daar is ’n groen deur in die middel van ’n groen muur, aan die ander kant van die sessiekamer. Dit lyk geheimsinnig, wonder wat daar­agter skuil. Ek hou nie van raaisels nie.

Pastoor

Подняться наверх