Читать книгу Pastoor - Pat Stamatélos - Страница 7

Notas

Оглавление

Ek was al by sielsontleder-cum-dermuitrygers, ek is nie heeltemal stupid nie. Ek kan myself diagnoseer as ek wil, die internet vertel ’n mens alles. Hulle hoë woorde ten spyt het die slim mense nog nie ’n kuur vir depres­sie gevind nie. Die swart hond bly op my hakke, soms grommend, soms bytend.

In die kombuis: Gooi goed bymekaar vir aandete. Praat met Fred oor my terapiesessie. Ag, hy het met halwe oor geluister.

Sê vir Fred Wanda is beïndruk dat ek op gehoor kan speel. Verwyt weer vir Ma en Pa: Daar was nooit geld vir ’n klavier nie, maar genoeg vir Bols brandy elke naweek, soms elke dag, Grand-Pa’s om die hangover te dokter, petrol vir plaas toe ry. Maar nie vir ’n klavier nie!

Fred sê hy spaar, ek weet mos, en as hy so met die plat hand oor sy kaal kop vee, weet ek hy voel uitgevang of verleë. Ek het al gevra hy moet op rekening koop, maar nee, hy wil kontant koop. Ek gaan nie smeek nie.

My kinderdae is sinoniem met smeek vir ’n klavier, maar in die plek daarvan het ek Ma se dooie oë, haar ongekamde hare en slepende voete gekry. Dan kla sy van hoofpyn, soek na haar Grand-Pa-poeiertjies en sê my aan om self iets te maak vir middagete, sy gaan lê. Ek moet haar vieruur kom roep, voor Pa huis toe kom.

Die volgende dag niks skaamte nie – geselserig, vriendelik, behulpsaam, asof sy wou vergoed. Seker gereken een dronk dag op ’n slag. Lekker warm kos wat my ná skool inwag. Die vorige dag uitgewis, ten minste in haar kop.

Ek het vir Wanda gevra of sy klavier speel, en sy’s glo net so lief vir die klavier en kan darem chopsticks oortuigend speel. Ek het gelag. Sy’s da­rem eerlik, nè, dit het ek ook vir Fred gesê.

Sal aanhou bid vir my eie klavier.

Ná weke het my vingers steeds lomp en onhandig gevoel, maar ek wou so graag rég speel, vir jou Pastoor, en so graag my eie klavier hê waarop ek kan oefen. “Jy is te ongeduldig, Kleintjie, maar jy moe­nie dat die vlammetjie van hoop ooit in hierdie hartjie geblus word nie,” het jy gesê en my kinderborsie geskulp en saggies ge­druk.

Om darem sulke gedagtes te dink terwyl Fred my staan en aankyk!

Ná my eerste besoek aan Wanda het ek Fred vertel van Wanda se ontvangs met al daardie feetjies. Net so lyk haar boheemse sessiekamer het ek hom in die kombuis vertel, onortodoks, onkonvensioneel, vol feetjies.

Fred het kwaai gesê ek moet vir my ’n ander sielkundige kry en ek moet die donnerse feetjies los, want my depressie en buie raak hulle almal. (Wanda sterk my glo in my kwaad.) Bid jou aan! Wat weet hy?

Wanda se spreekkamers – nie wat ek verwag het nie – en toe ek haar ont­moet, was ek nog meer verbyster. Sy het so professioneel en welvarend voorgekom, haar meubels en dekor so smaakvol.

Die gebou wat haar kamers huisves is ’n outydse, karamelkleurige dubbelverdieping-classic met allerhande tierlantyntjies buite teen die muur, die fasade klein, glad nie imposant nie. Verf dop plek-plek af, sodat dit eenvoudig saamsmelt met sy omgewing. Ingedruk tussen die Spaza Shop aan die een kant, Govender’s Fine Clothing aan die ander kant, albei tipies van onderdorpse verwaarlosing.

Swaar dubbeldeur van hout, wat sekerlik deur ’n kranksinnige groen geverf is en nou besig is om ernstig af te skilfer, swaai maklik heen en weer op groot, piepende skaniere. Bo die deur is ’n naamplaatjie in verweerde sierskrif; lyk asof daar Trella-huis staan. Langs die houtdeur ’n kleinerige venster met gekleurde glas. Mens kan jou verbeel dis ’n plek van aanbidding.

Binne Wanda se sessiekamer. Wanda na aanleiding van my naglopery: Dit kon nie vir jou lekker gewees het om in die nag van een kamer na ’n ander te hardloop nie.

Om herinner te word aan kamertjie-kamertjie (my ma se uitdrukking destyds) is nie vir my terapeuties nie, die donkerte nog nooit vir my remediërend nie.

Moet haar tog vertel: Met my wakkerword het ek uit my bed gespring, gillend die gang af gehardloop en in my ma en pa se bed gespring. Kleintjie! Gaan lê op die ander bedjie, Kleintjie! het sy deur die slaap gesis en my uit die bed gestoot. My gesoebat het nie gehelp nie.

(Ek het haar vertel Ma het baie maal na drank geruik. Moes ek dit gesê het, nou al?)

Uiteindelik spring ek tog in die bedjie wat teen die muur staan, ’n groot piepie wat my oë laat traan, maar te bang om weer op te staan. Ma sou my nie toilet toe neem nie, nie die lig aanskakel nie.

Ma het my partykeer so aangekyk. Jy lyk bleek, Kleintjie, kom ek gee vir jou medisyne.

Nee, Ma, ek wil nie hê nie.

Ja, kom nou.

Het ek nie dié ritueel geken nie?

Wanda het bandopnemer, maar skryf ook soms in boek. Wonder wat. Wanda wil weet of ek soos aanneemma lyk.

Glad nie. Daai jare het hulle nie ma en kind gematch nie, net dankbaar iemand wil die kind van hulle hande afvat.

Ma met sagte, donkerbruin oë, breë, mooi belynde wenkbroue. Haar hare kortgeknip, ook donker en krullerig. Sy was maer, amper atleties gebou – sy het soms saam rondgehardloop by die huis. Wow, sy toe reeds diep in die veertig, ek so vyf of ses.

Ma met haar moulose rokke, altyd gekla sy kry warm, haar dun arm­pypies ten spyt.

Ma was vir my mooi. Behalwe as haar oë verdof van drank, haar gesig amper vormloos en verwronge ingedruk in kussing, kwylende mond wat klein, nat kolletjies maak, hare wat woes oor haar gesig lê.

Pastoor was vir my mooi.

Ons het amper in mekaar vasgeloop, net binne die kerkdeure, ek was so opgewonde om jou te sien. Pa se stilswye en Ma se malligheid het skielik nie meer saak gemaak nie, want op daardie oomblik was jy ’n engel. My engel.

Ek het Wanda van my dagboek vertel, ek dink daaraan om ’n boek oor my lewe te skryf. Dit kan goeie terapie wees, sê me. Van Vollenhoven. ’n Skrywer het eenkeer gesê: We live by stories, we also live in them. Hou gerus aan daarmee.

Ek sal skryf van die Saterdagoggende wanneer Ma en Pa hulle roes af­slaap van die vorige aand se bottel Bols en ek in die sitkamer my klavierles oefen, Pa se plaat op die draaitafel. Dan praat ek met juffrou Roux.

Luister hoe speel ek, Juffrou. Die plankie waarop ek die note geteken het, is nie lank genoeg nie, Juffrou, en ek kan nie die klanke hoor nie, maar luister na my kop, Juffrou, ek speel perfek. Régtig.

Ma se traporreltjie, toe oupa se groter traporrel, tannie Trix se klavier en toe sy klavier. Nou speel ek op my eie klavier, die swart Yamaha, gekoop en betaal en gebêre in my agterkop.

Ek kon jou heerlike naskeer ruik, jou reuk betowerend, gewens my pa ruik ook so lekker. Jou netheid so anders as ons vuil, stink huis. Ek was eers skigtig vir die beradingsessies by jou, Pastoor, maar jy het so vriendelik en sag met my gepraat. Jy het gesê my hande is so mooi as jy hulle vaderlik tussen jou groot hande vasvat. “Jy het mooi grootgeword, Kleintjie, is jy al in die hoërskool?”

My geliefde, my priester en my sublieme boodskapper van erotika. Ek haat jou, Pastoor. Ek háát jou. Ek hááát jou!

By die kombuisvenster, kyk na Fred wat met die honde speel. My hart roep: Kom hou my tog net ’n bietjie vas, ek het jou nodig om my verwronge gedagtes, selfs gekke verlange, te besweer.

Ek kan nie vergeet nie. Ek kan nie. Ek kán nie.

Ek sal nooit vergeet nie.

Nag, Dagboek. KZ.

Pastoor

Подняться наверх