Читать книгу Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis - Страница 5

Voorwoord

Оглавление

“My nooi is in ’n nartjie,

my ouma in kaneel.

daar’s iemand … iemand in anys,

daar’s ’n vrou in elke geur!”

So skryf DJ Opperman (1917-1985), een van die grootste stemme ooit in die Afrikaanse letterkunde. Geure omring ons gedurig. Dit betower ons … Dit herinner ons … Dit nooi ons … Dit stoot ons af.

Die regte parfuum herinner ons uit die bloute aan ons eerste hoërskoolliefde. Aromatiese kosgeure maak ons honger. Die reuk van reën of die geure van blomme vul ons met vreugde. Gebrande kos se reuke veroorsaak dat ons al wat ’n venster is in die kombuis oopmaak om daarvan ontslae te raak. Uie se reuk laat ons oë traan. Asblikke laat ons na ons asem snak.

Dan is daar boonop al die geure wat aan mense vaskleef, soos ouma se kaneelgeure. Die reuk van ghries wat werktuigkundiges soms vergesel. Daardie “deep heat-” reuk wat sinoniem is met rugbyspelers en ander sportsterre. Dettol en mediese personeel …

Om nie te kan ruik nie, moet ’n verskriklike las wees. Vra maar vir diegene wie se reuksintuie permanent beskadig is. Vir mense wat een of ander tydelike lugweginfeksie onder die knie probeer kry. Hulle kan dan nie ruik of behoorlik proe wat hulle eet nie. Kos raak gou-gou smaakloos wanneer dit onruikbaar raak. Dalk gebeur dieselfde met die lewe! Wanneer ons die lewe se klanke en geure nie meer kan ruik nie, wil ons dit ook nie regtig beleef nie.

Reuke en smake loop hand aan hand, ook wanneer ons geloof ter sprake is. Vat maar Israel se godsdiens wat deurtrek was van allerlei geure. Die reuk van brandende vleis op die brandofferaltaar in Jerusalem het besoekers dadelik opgeval; so ook die wierook wat elke oggend en aand op ’n spesiale wierookaltaar reg langs die Allerheiligste gebrand is. Hul geloof was ruikbaar en proebaar. Toe kom die tempel tot ’n val en toe raak mense se geloofsneuse verstop. Van toe af het baie van ons vergeet om ons geloof te ruik … en om sommer self ook die regte geloofsgeure af te gee.

Genadiglik het Pierre du Plessis weer die fyn geloofskuns van ruik ontdek. Hy leer ons in hierdie aangrypende boek hoe om ons geloofsreuksintuig reg in te oefen. Jesus se geure van genade, liefde en omgee word op soveel maniere op die volgende bladsye vertel dat jy Hom behoorlik kan inasem. Parfuum, mirre, hout en klip, ’n kruis, stof, sweet, skape – jy noem dit en hierdie geure kleef aan Jesus vas. Pierre leer ons ook tussen die lyne om self die regte geure af te gee. In dieselfde asem leer hy hoe om vriende en vreemdelinge se reuke uit te ken en hulle raak te leef – al daardie mense wat vir Jesus so ontsettend kosbaar is.

Jy het nou een van daardie skaars boeke in jou hand wat regtig ’n vars, kreatiewe perspektief op Jesus en op die lewe self bied. Dit huisves ’n skatkamer vol nuwe geloofsgeure en vars persepsies. Dit gaan jou leer hoe om ’n nuwe geloofsneus te hê en hoe om agter die regte reuke van geloof aan te leef!

Stephan Joubert

Jesus ruik na mirre en stof

Подняться наверх