Читать книгу Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis - Страница 7

Krip

Оглавление

Wanneer ons in ’n kerkdiens ons geloofsbelydenis opsê, praat ons van die krip en die kruis. Jesus is gebore en Jesus het gesterf. Ons baseer ons geloof en ons geloofspad op hierdie twee gebeurtenisse, maar wat van die res? Daar is nagenoeg drie en dertig jaar tussen die twee. Hoekom het ons dan so baie stories oor Jesus as al wat saak maak, is dat hy gebore is, gesterf het en opgestaan het? Boonop het ons nie net een weergawe van sy lewe nie, maar vier uit vier oogpunte.

Jesus se gunsteling-titel vir homself was “die Seun van die mens”. Jesus is die argetipe van die mens. Hy het die heelal kom red, maar hy het ook vir ons kom wys wat dit is om mens te wees, hoe om volkome mens te wees, hoe om in oorvloed te leef.

Die vraag is nie net wat glo jy nie, waarvan die antwoord gewoonlik iets is soos: “Ek glo in die opstanding” of “Ek glo dat Jesus my persoonlike Saligmaker en Verlosser is” of “Ek glo dat hy vir my sondes kom sterf het”. Die groter vraag is, wie is Jesus? Dit is die vraag wat die Evangelies deurentyd vra.

“Wie is hierdie man?”

Dit is ’n vraag wat ons samelewing steeds vra. Google ’n slag Jesus en kyk wat verskyn. Jesus is die sentrale figuur in die Westerse samelewing – of jy nou ’n Christen is of nie. Jesus was al op die voorblad van TIME, LIFE en Newsweek. Hy is seker die mees kontroversiële figuur in die geskiedenis.

Wie is hierdie man wat na skaap, sweet, bloed, parfuum, vissermanne en armes ruik? Wat sê dit vir my van Hom en sy lewe? Wat sê dit vir my van God self?

Wie Jesus is, is seker ’n belangrike vraag vir ons almal. Belangriker egter is ons antwoord. Wat doen ek met my lewe as gevolg van my kennis van wie Jesus is, van wie God is? Wat is my reaksie? Watter tipe mens is ek dan of moet ek dan word? As ek na Jesus kyk, hoe lyk my lewe dan, hoe sien ek die wêreld? As ek so naby aan Hom kom dat ek soos Hy begin ruik, hoe lyk my daaglikse lewe?

Hopelik is dit meer as net ’n transaksie.

Jesus ruik na mirre en stof

Подняться наверх