Читать книгу Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis - Страница 9
HOOFSTUK 1
ОглавлениеNa skaap
God is met ons?
Dis juis die ding: gode is altyd ver. Ons moet na hulle toe gaan, ons moet opdaag voordat hulle opdaag. Ons moet net so ietwat mooier sing, en harder lees, en iets meer doen, dan sal God opdaag.
Toe ek hierdie “God is met ons” hier bo tik, oorweldig dit my. Wat kan ink en papier nou in elk geval van die teenwoordigheid van God sê? Hoe probeer ’n mens so ’n groot en ongelooflike waarheid oordra? God is soms so ver, oftewel God voel soms so ver. Hoe pas die heerlikheid van ’n troon en die mag van die God van die heelal in elk geval in my daaglikse lewe, soos wanneer ek melk en brood gaan koop?
* * *
Lank terug het ek om ’n tafel met ’n groep mense gesit, mense wat dalk nie so maklik verteerbaar vir die deursnit kerkganger sal wees nie – maar hopelik is ek verkeerd. Ek het langs my destydse meisie gesit. Die tafel was onder ’n afdak gedek met kersliggies wat bo ons opgehang is. Dit was vir ’n vriend se verjaardag, Tom dink ek was sy naam. Tom en sy boyfriend het aan die verste kant van die tafel gesit en ons amper in die middel. Glase vol wyn, feestelikheid. Oorkant ons het nog ’n paartjie gesit, twee ouens. Ek kan nou glad nie die name onthou nie, was nog altyd maar sleg daarmee. Die een ou aan die regterkant was soos ’n vrou aangetrek, netjiese bob-styl hare, mooi grimering, somersrokkie, eintlik heel netjies en stylvol. Ek onthou dat sy1 in ’n stadium opgekyk het, ons oë vir ’n oomblik ontmoet het en sy geglimlag het. Ek het stip na haar gekyk en toe weggekyk. Sy het haar oë laat sak en ongemaklik na haar bord kos gekyk.
Tot vandag toe voel ek soos ’n idioot oor daardie dag. Ek kon seker maar net geglimlag het, ordentlik gewees het en my gedra het, maar nee.
* * *
Naby in die veld waar Jesus gebore is, was daar skaapwagters. Ons almal ken die storie. Ons het dit seker al ’n honderd keer gehoor en meer as ’n duisend keer op ’n kitsch kerskaartjie gesien. Ek was self ’n herder in ons kleuterskoolkonsert op Marble Hall. Ek het so ’n ligte blou en pienk (ja, pienk) herderspakkie aangehad van een of ander vlambare blink lap. My wange was superrooi, koorsagtig rooi, en my lippe nog meer. Juffrou het sekerlik gesê die mammas moet ’n bietjie kleur aansit anders lyk die kinders te bleek onder die ligte in die laerskool se saal.
Baie trots.
Herders was nou nie regtig so romanties as wat ons onsself altyd verbeel nie. Hulle het nie veel na die herders op die Kerskaartjies gelyk nie en nog minder soos die gespierde Dawid met sy goue lier in die Kinderbybel. Herders was eintlik maar in die antieke tyd uitvaagsels en amper so sleg soos heidene, net so een trappie hoër dalk. Hulle was nie juis gereken nie, in so mate dat ’n herder nie eers in die hof mag getuig het nie.
“Jy weet hulle lieg mos altyd.”
Die naaste tipe persoon aan wie ek kan dink wat dalk soos destydse herders kan wees, is ’n karwag, veral die tipe rondom ons huis (ons bly naby Loftus Versfeld Stadion in Pretoria) wat kort voor ’n rugby- of ’n sokkerwedstryd opdaag. Hulle kom hier aan met ’n verslete en verbleikte frokkie en jy moet altyd vooruit betaal – net om hulle nooit weer na die wedstryd te sien nie.
Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: Dink enige van ons regtig dat ’n karwag jou motor met sy lewe sal verdedig vir die stukkie silwer wat jy uit die asbakkie krap? Rêrig?
Daar is natuurlik ook karwagte met opregte harte en dis seker die punt van die storie.
* * *
Maria en Josef kon nie in die herberg plek kry nie. Dit was nog altyd vir my baie vreemd dat Josef in elk geval vir ’n nege maande swanger vrou saamvat op so ’n lang reis, en dit nogal op ’n donkie. My vrou Rialette sê altyd ’n vrou is eintlik sewe maande en twee jaar swanger. En op die einde van die tweede jaar, in daardie tyd wanneer die maag apart van die lyf beweeg, laai jy jou tienervrou op ’n donkie? Die antwoord vir hierdie vreemde optrede is eintlik eenvoudig.
Die antieke wêreld was ’n samelewing wat om eer en skaamte gebou is. Mans moes vir hul familie en stam eer bring en vrouens se werk was om die eer te beskerm. Vrouens se primêre doel in die lewe was om nie skaamte oor hul families te bring nie.
Hulle moes hulleself altyd mooi stil in die kombuis gedra, net antwoord as daar met hulle gepraat word, nie met ander mans praat nie, en veral nie swanger word voor hulle getroud is nie. Dit was een van die grootste skandes wat ’n vrou oor haar familie kon bring.
In sommige lande in die Midde-Ooste het die mans van die familie vandag nog die volle reg om ’n vrou wat so ’n groot skande oor hul familie bring, dood te maak, selfs met klippe dood te gooi. In Jesus se tyd was dit nie veel anders nie, inteendeel …
Waarom het Josef sy nege maande swanger jong vrou op ’n donkie gelaai en saam na Betlehem gevat? Hy het haar beskerm. Hulle kon haar maklik met klippe by die huis doodgegooi het omdat sy ’n skande oor die familie gebring het met haar buite-egtelike swangerskap.
Betlehem was Josef se dorp van herkoms. Hulle beland uiteindelik in die stal, heel moontlik ’n grot waar die diere gebly het. Nêrens kon hulle plek kry om te slaap nie, selfs nie eers in die herberg nie. Herberge was ook in elk geval nie soos ons hotelle vandag nie en dit was nou nie juis die tipe plek waar jy wou bly as jy dit kon verhoed nie. Die storie van Josef se oor-die-tou-trappery moes seker by sy familie in Betlehem uitgekom het, siende dat hy en Maria nie by ’n niggie of iemand kon oorslaap nie.
Hoe ruik ’n stal? Selfs al is dit skoon? Die oomblik as my broer dieremis ruik, uiter hy altyd sarkasties die woorde: “Mmm, plaasvars!” ’n Stal ruik nie juis dieselfde as die kraamsaal by jou naaste privaat hospitaal nie.
Maria skenk toe geboorte aan haar eersteling tussen die strooi en dieremis in ’n donker stal. Sy draai hom styf in doeke toe en sit hom in die voerbak, seker op ’n bietjie strooi, neer.
* * *
Die tempel was die middelpunt van die Joodse geloof. Dit is baie belangrik om altyd te onthou dat in Jesus se tyd Judaïsme ’n tempelgesentreerde geloof was. Hul geloof, spiritualiteit en identiteit het alles om die aksies van die priesters by die tempel gedraai. Ook moet ons onthou dat die priesters by die tempel minder soos dominees of pastors was en meer soos slagters.
Ek wonder hoeveel kerkleiers kan ’n dier keelafsny? In elk geval, daar is verskriklik baie by die tempel geoffer. Daar is elke dag geoffer en tydens die groot feeste nog veel meer. Sommige mense reken honderde duisende diere se bloed het oor die altaar gevloei.
“Jy moet so maak by die altaar: jy moet elke dag twee lammers offer wat elkeen ’n jaar oud is. Die een word vroeg in die oggend en die ander laat teen die aand geoffer.”2
Kom, maak vinnig saam met my daardie sommetjie: 365 dae in ’n jaar maal 2 gee vir jou 730.
730 lammers.
Nou het ons nog nie eers die offers begin tel tydens die Pasga nie, waar elke gesin wat Jerusalem toe gekom het, ’n lammetjie sonder liggaamsgebrek moes offer. Ook nie al die ander brandoffers wat plaasgevind het tussen die lam in die oggend en die lam in die aand nie. Ons praat van derduisende lammers.
Hulle was nie gewone lammers nie, hulle was perfekte lammers, lammers sonder liggaamsgebrek.3 Hierdie lammers kon nie gebreekte bene hê nie, mank loop of enige ander liggaamsgebrek hê nie. Perfek, dis al wat getel het.
* * *
Betlehem, Beth Lehem in Hebreeus, beteken “huis van brood”. Net buite die dorp op die heuwels het daar heelwat gars en koring gegroei, vandaar die naam. Betlehem, Bayt Lahm in Arabies, het iets anders beteken: “huis van vleis”.
Huis van vleis?
In ’n tempelgesentreerde geloof het jou vergifnis, jou gesin se vergifnis, jou verbintenis met God en jou saligheid afgehang van die offers wat daar gebring is. As jy nie ’n skaapboer was nie of jy het eenvoudig net nie ’n perfekte lam betyds vir die Pasga gehad nie, was die uitdaging om ’n vlekkelose lam in die hande te kry.
Onthou die herders het natuurlik skape opgepas, soos die koortjie gaan, daar op die ope velde. Betlehem is baie naby aan Jerusalem, net sowat tien kilometer gelyk pad soos die kraai vlieg, iets wat jy maklik in ’n oggend kan stap. As jy vinnig stap, kan jy dit selfs in ’n paar uur stap. Dit is so naby dat jy ’n klompie of ’n hele kudde skape daarheen sou kon aanjaag.
Die lammers wat die herders in die stad van Dawid opgepas het, die “oorspronklike” herders, was nie net vir die mense in en om Betlehem vir ’n naweekbraai bedoel nie. Dit was tempelskape. Daardie lammers het een pad gehad en dit was tempel toe om op die altaar geoffer te word en hulle bloed te gee.
Hierdie lammers, soos ons nou al ’n paar keer gesê het, moes sonder liggaamsgebrek wees.
Gestel jy was ’n herder en dit was jou besigheid om lammers aan mense te verskaf wat by die tempel moes gaan offer. Of miskien het jy die twee lammers verskaf wat elke dag by die tempel geoffer moes word – een negeuur in die oggend en een omtrent drieuur in die middag. Sou jy nie alles in jou vermoë gedoen het om seker te maak dat hierdie lammers nie beseer word as hulle gebore word nie? Sou jy nie skrikkerig wees dat as die lammers hul eerste treë daar tussen die klippe en graspolle op die heuwel gee dat hulle nie hul beentjies sal breek nie? Jy sou natuurlik mos alles doen wat jy kon om die lammers sonder liggaamsgebrek te hou.
Jou inkomste hang daarvan af.
Die herders was natuurlik ervare en daar was darem so ’n paar kunsies wat hulle geken het om seker te maak dat die lammers nie na geboorte seerkry nie. Een van hierdie kunsies was om wanneer ’n lam gebore word, daar in een van die grotte in Betlehem wat as stalle gedien het, hom blitsvinnig op te tel en styf in doeke toe draai en hom saggies neer te lê in die naaste veilige plek, die krip.4
* * *
Wat ek eintlik moes gedoen het daardie aand by Tom se verjaardagpartytjie, was om nie met afsku weg te kyk nie, maar om terug te glimlag. Dit sou my niks gekos het nie.
Die ironie wat my tot vandag toe bybly, is dat sy Jesus se teenwoordigheid vir my was. Sy het my laat welkom voel om ’n tafel waarby ek duidelik nie gemaklik was nie. Sy het gewaag om te glimlag, om oop te maak, om deel van my lewe te word op ’n baie klein manier. Ek, wat die sogenaamde Christen was, het net weggekyk.
* * *
Die skaapwagters loop gebuk by die grot in waar Josef en Maria bly. Sy is nog moeg na die geboorte, sy lê dalk net so langs die krip met haar jong hand op Jesus se lyfie wat nog in die doeke toegedraai is. Sy borsie beweeg amper ongemerk op en af soos hy asemhaal.
“Dit lyk mos bekend? Dit lyk soos iets wat ons ken. Is dit nie hoe ons ons lammers toedraai nie?” vra die herders vir mekaar.
“Ons ken hierdie reuke, die stal, die krip, die diere. Hierdie Koning, hierdie Messias, hierdie Redder is een van ons, Hy gaan ons dalk verstaan, ons wat ’n ‘hulle’ vir die res is, ‘hulle’ wat so lieg, ‘hulle’ wat so steel.”
Jesus kom vir almal, nie net vir diegene in groot paleise en katedrale nie, maar ook vir die randfigure, die uitgeworpenes.
* * *
Jesus is God se teenwoordigheid – Emmanuel, God met ons. Hoe langer ek agter Jesus probeer aanloop, hoe meer kompleks en misterieus word hierdie idee vir my. God het by ons kom bly, Hy het by ons sy tent kom opslaan, eintlik sy tabernakel.5
Die tabernakel was die teenwoordigheid van die Here self by die Israeliete toe hulle deur die woestyn getrek het. Die wolk van God het oor die tabernakel in die dag gehang en die vuurkolom in die nag. God self was by hulle, en hulle het lammers geoffer vir hom, ten minste twee elke dag. Hulle sou in die oggend die offer ruik en in die vroegaand.
Hulle kon God se teenwoordigheid ruik in hul tente, terwyl hulle besig was met hul kinders, hul daaglikse lewe.
God is met ons.
Jesus is God. Jesus is God se tent, sy tabernakel. Jesus ruik nie na ’n paleis of ’n koningskind nie, Jesus ruik na skape, ruik na “hulle” wat buite die kring staan. Jesus ruik nie na die spesiale hoogheilige mense nie. Jesus ruik na diegene wat Hom nodig het. Hy kom naby genoeg aan hulle dat Hy hul reuk aanneem en dat dit aan sy lyf afsmeer.
* * *
In ons huis hang my gunsteling-skildery wat ons vriendin, Rina,6 geskilder het. Die werk is van ’n tent wat iewers in die bosveld opgeslaan is. Die tent het breë wit en blou strepe en dit lyk soos ’n markiestent. Dit herinner ietwat aan ’n kerktent iewers in ’n township. Die skildery bied geen leidraad vir wat in of om die tent gebeur nie. Daar is net ’n klein opening wat jou na binne nooi. Die tent beweeg nie, bult net effens waar ’n sagte wind dit druk. Dit verdwyn in die agtergrond, amper asof dit hier en daar deursigtig is, nie eintlik daar is nie. Die vriendin verduidelik die werk gaan oor die tydelikheid van ons bestaan, dat ons hier is, maar ook nie hier nie, dat ons op pad is, op reis is, tydelik is, dat ons teenwoordigheid soms onbeskryflik en ongedefinieerd is.
Die tent voel vir my soos Jesus wat by ons bly, in ons tydelike bosveld, dat Hy sommer net sy tent hier kom opslaan het en gewys het dat God in ons ongedefinieerde, verdwaalde lewe belangstel. Dat God sy Gees saggies oor ons, wat eintlik almal “hulle” is, kom blaas.
Jesus lyk en ruik na ons, hy ruik na die skaapwagters toe hulle Hom in die krip gevind het. Jesus ruik na mens, en dit is die wonder: die groot, heilige, ewige God wat klein en weerloos in ’n krip kom lê het, wat soos ons geword het, wat so naby aan ons gekom dat Hy selfs na ons geruik het.