Читать книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek - Страница 6

2

Оглавление

Ná die eerste jaar het Goraseb Safaris ’n klein balans op die bankstate gewys. Heelwat van die skuld wat John aangegaan het om die toerusting aan te skaf was al gedelg, en daar was amper twintigduisend rand in ’n spaarrekening, vir die wis en die onwis.

Vir John was die banksakkie vol buitelandse note, wat hy sorgvuldig in sy groot huis op Guntsas weggesteek het, egter veel belangriker: die saadkapitaal vir Teufelsbach Gemstones (Pty) Ltd se volgende onderneming.

Pretorius het gewonder hoekom sy vennoot dit “saadkapitaal” noem, maar hy wou nie vra nie. Van finansies verstaan hy soveel soos ’n kat van saffraan. Hy ken ’n dieselenjin en hy weet hoe om remme te bloei, maar moenie met ’n storie oor beleggings en opbrengste kom nie.

Dat die safaribesigheid beter betaal as boerdery, dit weet hy nou.

John het Guntsas, sy pa se beesplaas naby Otjiwarongo, geërf. Net meer as seweduisend hektaar gesonde doringveld. En saam met Guntsas het John hóm ook eintlik gekry, want hy het eenvoudig aangehou om te doen wat hy op die plaas vir oom Richard, John se pa, gedoen het.

Hy het al wat enjin is in stand gehou. As iets breek dit reggemaak – voertuie én windpompe. En vir die harde veldwerk het hy nooit geskrik nie. Kampdrade span. Met die bees werk; tollies brandmerk en onthoring. Sorg dat daar soutlekblokke in al die weikampe kom.

Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy het vir oom Richard gewerk sonder dat hy ooit ’n posbeskrywing gehad het. Voorman of plaasbestuurder, wat maak dit saak? Hy het sy werk net as werk beskou. In die sweet van sy aanskyn sy brood verdien, soos sy pa altyd gesê het.

Hy het sy liefde vir plaaswerk by sy pa gekry – lang Salmon Pretorius, die jongste seun van ’n Dorslandtrekker. En sy liefde vir Suidwes.

Van Angola kan Pretorius min onthou; sy pa het in 1964 met hulle van Humpata teruggetrek Suidwes toe. En werk op ’n plaas in die Mariental-distrik gekry. By Hannes Louw, in sy karakoelboerdery. ’n Groot plaas, want daar lê die vlaktes wyd, en in die opsny daarvan kon die plaasgrense ver uitgeskuif word. Gevolglik woon die boere yl versprei oor groot afstande. Die opstal van hul naaste buurman was meer as twintig kilometer weg, en Mariental meer as ’n honderd kilometer op die grondpad.

Voor hy skool toe is, het hy gedink mense leef maar so alleen. Hy was altyd bra skaam om gesig te wys as daar vreemde kinders op die werf kom. Hulle het selde dorp toe gegaan; sy pa het geglo dis goed waar hulle is. Op ’n plaas kry kinders alles wat hulle nodig het: ’n huis waarin hulle by hul ouers grootword en van hulle leer, en die veld wat vir speel wyd ooplê na alle kante toe.

Ontevredenheid oor jou lot is sonde, het sy pa geglo. Hy het as kind swaarkry in Angola leer ken. Dit het hom geleer dat as jy van jou werk seker is, en elke dag kos het, moet jy nie aanhou loop en soek na iets beters nie. Humpata het mens dankbaarheid geleer, het hy altyd gesê. En standvastigheid.

Ná skool het Pretorius op Guntsas begin werk, en die plaas was nog altyd goed vir hom. Hy kon nog nie aan ’n rede dink om weg te gaan nie. Nuuskierigheid oor die lewe op die dorp, of oor hoe dit moet voel om in Windhoek te bly kan mos nie ’n sterk genoeg trekpleister wees om hom die pad te laat vat nie.

Sy jonger broer werk nou al sewe jaar in die koöperasie in Keetmanshoop. En sy suster, Rebekka, wat op negentien met Floris Jooste van Lüderitz getrou het, is tevrede om huisvrou te wees en hul vier kinders groot te maak. Wie hulle ken, weet hulle Pretoriusse groei mettertyd in hul werk vas, taaier as kanniedood in klipgrond. Groei en houvas, dít kan hy. Hy dra sy werk met trots, soos ’n Afrikanerbees sy horings.

John is sewe jaar jonger as hy, maar hulle kom al ’n lang pad saam – hy het by oom Richard begin werk toe John nog op skool was. Die oom was een van die voorste beesboere in die Otjiwarongo-distrik, ’n nasaat van die Heckrodts van Ghanzi. Hulle het daar gevestig toe dit nog Betsjoeanaland was, waar John se oupa met die dogter van ’n Engelse ivoorjagter getrou het. Vandaar die Engelse name in hul familie. En John het sy blou oë van sy ouma geërf, sê hy nogal trots.

John was net klaar met skool – die Hoër Tegniese Skool in Otjiwarongo – toe die soort ongeluk gebeur wat soveel Suidwesboere tref. ’n Koedoebul skemeraand langs die pad, en oom Richard hét vinnig gery. Groot en sterk soos hy was, is hy op slag dood.

Guntsas het meteens stil geraak. Oom Richard se harde stem het nie meer oor die werf opgeklink nie, en sonder sy dawerende lag was die atmosfeer in die voorkamer somber. In die kraal het sy Afrikanerosse tevergeefs op sy roep gewag.

John, die enigste seun, was eensklaps baas van Guntsas. Op die seweduisend hektaar was vyfhonderd bees: koeie en kalwers, ses bulle en byna ’n honderd jong osse. Oom Richard het vyf plaaswerkers in sy diens gehad, Damaras. Hulle was goeie werkers, oorlams.

“Jy moet my seblief help, Herklaas,” het John gevra. “Ten minste tot ek my voete vind.”

“Ons maak so.”

Daarmee, só eenvoudig, het hul vennootskap begin.

Tant Hester, John se ma, het Windhoek toe getrek; die storie van die terroriste wat uit Ovamboland nadersluip, het haar nie aangestaan nie.

John het gesê: “Laat hulle kom! Ek sal my nie van Guntsas laat afjaag nie.”

Pretorius onthou dat hy toe ook nie gedink het dat dit gevaarlik is nie. Die groot plase in die doringveld, die hele wye, leë gebied noordwes van Otjiwarongo, het niks gehad wat die indringers kon aantrek nie. Wou hulle beeste steel, moet hulle met die trop deur die bos probeer trek; op die paaie sou hulle dadelik opgemerk word. En wat was daar in die huise waarin hulle sou belangstel? Die stukke huisraad of die boere se bakkies? Dalk hul jaggewere? Dit het net nie sin gemaak om met ’n terreurveldtog in Otjiwarongo te begin nie.

Boonop was die boere reg vir enige insypelaars. Hulle het hul werksmense opdrag gegee om vreemdelinge wat op die plaas kom dadelik aan te meld. Soggens het hulle langs hul lyndrade afgery, met ’n Boesman-spoorsnyer voor op die neus van die bakkie. As hy ’n vars spoor in die sagte sand sien – die polisie het hulle gewys hoe lyk die chevronspoor wat die terroriste se rubbersole maak – sou hulle hom soos ’n bok jag. Néé, Otjiwarongo was nie veilig vir insypelaars nie.

Die moeilikheid was op die grens, in die digte bosse weerskante van die kaplyn. Ná hul inval in Angola, ná hulle die Kubane en die Plan-magte op hul plek gesit het, het die Suid-Afrikaanse burgermagsoldate daar bo agtergebly. Hulle moet die grens oppas, Swapolede voorkeer as hulle Suidwes probeer binnekom. ’n Strategie van wedersydse hinderlae.

Dit het mettertyd weer stil geraak in hul geweste. Nie die veld se stilte nie, maar die rus en vrede van ’n buurt waarin almal met hul daaglikse werksaamhede voortgaan. In Otjiwarongo het die ooms langs die Hoër Tegniese Skool se rugbyveld oor die skermutselinge op die grens gepraat asof dit eintlik ’n ander land se oorlog is.

Dit was egter nie so rustig op Guntsas nie. Daar moes ’n jong man van negentien die leisels van die groot boerdery optel en probeer styfhou. Weliswaar met Pretorius se hulp, toe al ses en twintig en reeds taai gebrei deur die plaaswerk. Maar dit het hom nie soos John se meerdere laat voel nie, eerder soos ’n ouer broer. Belangstellend én effe verbaas, want John se geesdrif vir saketransaksies was vir hom bra vreemd.

John het op skool reeds ’n besigheidjie begin: hy het wildsbiltong van die plaas af koshuis toe gevat en by die hoërskool verkoop. Toe het hy een vakansie, met Pretorius se hulp, sy pa se ou bakkie reggemaak en die bakwerk mooi gespuitverf. Hy het daarmee koshuis toe gery en wou dit aan sy maats verhuur. Toe die plan vrugte afwerp, het hy ’n ou motor gekoop, dit herstel en geverf, en toe by ’n Damaraboer vir bokke en beeste verruil. Uit die winste van sy veespekulasie kon hy ’n tweede bakkie koop en regmaak. Dié het hy ook koshuis toe gevat.

In sy matriekjaar het John reeds ’n bankrekening by Volkskas gehad, en as die eienaar van ’n motorfiets en drie bloedrooi bakkies was hy ’n gesiene sakeman by die Hoër Tegniese Skool. Niemand het verwag dat hy sal wil boer nie.

Met die versekeringsgeld wat ná oom Richard se dood uitbetaal is, het John tien erwe in Otjiwarongo gekoop en ’n huis vir sy ma in Windhoek. “Een of ander tyd sal meer mense op die dorp wil kom bly,” het hy voorspel. “Dan bou ons vir hulle huise.”

Pretorius het hom later help bou aan die eerste huis. Reeds ’n vennoot in die Guntsas-boerdery, het die bouery hom toe ook by die besigheidswêreld betrek. Van nature versigtig, wou hy nie die inisiatief neem nie. Maar volg, dít kon hy.

Hy het aandagtig John se vordering met sy ondernemings dopgehou. Die jong man was altyd haastig, te ongeduldig om te wag; niks moes in sy pad staan nie. Hy wou iets sien wérk; dit moet slaag en wins maak.

Vrydagmiddae laat, net voor dit begin skemer, wou John uit, na sy maters toe. Dan klim hy met sy kitaar in die hand in sy Fordtrok en vat die pad Otjiwarongo toe. So vinnig as wat hy kan, ry hy; die stofstreep agter die trok wys waar hy deur die langkamp jaag grootpad toe.

Pretorius het geweet van die meisies in die distrik wat John aangetrek het: Afrikaanse en half-Duitse meisies. Nuwe verpleegstertjies, winkelassistente en sekretaresses in die dorp. En hier en daar op ’n plaas: die stewig geboude susters van sy vriende, of hul vrolike niggies in ryklere.

John was op skool al vir die meisies aantreklik. Toe hy sy snor laat groei, het dit hom ouer laat lyk. Weerbarstig soos ’n vlootoffisier. En meer na die baas van ’n beesplaas. Van Guntsas, die spogplaas in die distrik, met sy groot rooibaksteenhuis agter die wye, koel stoepe. Dit was seker ook deel van die meisies in die buurt se drome. Wie sou nie so ’n kombuis met ’n groen Agastoof en warm water uit ’n gasgeiser wou hê nie? Nie een van hulle was onwillig om met John uit te gaan nie. Hulle het ook nie sommer “nee” gesê nie, al was die meeste daardie tyd bra versigtig.

John het dikwels by hom kom spog: “Greta het ’n lekker paar tiete,” of later: “Gisteraand het Marjan se lus g’n ent gehad nie.”

Dan het Pretorius gewonder wat is lekker aan tiete. Of lus vir wat? Hy het van die meisies in Otjiwarongo geken, selfs by enkeles gaan kuier en hulle uitgeneem, gewoonlik na die dorp se bioskoop toe. Maar anders as John was hy bedaard.

“As jy vrou soek, is dit om vrou te vat,” was sy verweer. Voor die risiko’s verbonde aan ’n rond-en-bont-vryery het hy teruggedeins.

Iewers wag die regte een, het sy ma van Keetmanshoop af, waar sy ná sy pa se dood gaan bly het, aan hom geskryf. En vertel van ’n paartjie op die dorp wat op ’n vreemde manier by mekaar uitgekom het. Jou beurt sal ook kom.

John het hom probeer oorhaal om deel te neem aan die jagtog. “Dié wat wil trou, is g’n kroonwild nie,” het hy raad gegee. “Hulle soek almal man. So sappig soos tsammas, sê ek jou. Laat hulle jou net aanpas, Herklaas. Dit doen mos niemand skade nie, allermins vir hulle. Al erken hulle dit nie sommer nie, hou meisies baie van die uitsoekery.”

Pretorius kon dit nie mooi verstaan nie, maar hy wou nie ’n verduideliking vra nie. Dis moeilik vir ’n man om by ’n jonger een te leer, al terg die geheime ook hoe. Hy het net gelag oor die stories – die al wilder wedervaringe – wat John kom vertel het.

Ná ’n jaar of twee van dié driftige soektog in die omgewing, en in al wyer kringe in die ander distrikte, het John uiteindelik ook Windhoek as sy jagveld betree. Daar was baie meer meisies, en John het verbasend vinnig een raakgeloop van wie hy hou: Lianna, ’n onderwyseres vars uit die kollege. Hy het dikwels by haar gaan kuier. En langer weggebly, want van Otjiwarongo na Windhoek vra ’n halfdag se ry.

Toe, een naweek, nooi John hom saam Windhoek toe. Na die jaarlikse polisiedans by die Safarihotel buitekant die dorp.

“Ek kan nie dans nie; ek’t nog nooit geleer nie,” het hy geprotesteer.

“Dit maak nie saak nie, Herklaas. Jy sal gou leer.”

“Met wie moet ek nogal dans?”

“Lianna het gesê ek moet jou saambring. Sy wil jou aan haar vriendin voorstel: Mea. Jy sal van haar hou; sy’s sports.”

Die belofte dat Mea hom sal leer dans, was tegelykertyd ’n opwindende vooruitsig en ’n dreigement. Wat sal gebeur as hy sukkel om te leer, soos in die wiskundeklas? Kan hy die toets dop?

Omdat hy skaam was om te erken hoe bang hy is, het hy ingewillig om saam te gaan. “Al is dit dan net vir die geselskap.”

Ook daarin lê gevaar, het hy toe besef. Waaroor sal dié Mea met hom wil praat? Beslis nie boerdery nie.

Daar was so baie wat hy wou weet – wat hy gevoel het hy móés weet – maar hy kon John nie uitvra nie. Die vereiste sosiale etiket moet hy maar in die loop van die aand probeer agterkom, het hy besluit.

Volgens John was dit nie ’n deftige pakokkasie nie; Pretorius se sportbaadjie en flennelbroek sou doen. En John het vir hom ’n das geleen, ’n rooie.

Toe Lianna Mea aan hom voorstel – ’n mooi blouoog-blondine nes John haar beskryf het – sê sy: “En ligloop, hoor! My vriendin is ’n prokureur.”

Mea se kort rokkie is goudgeel in die glans van die sononder en haar arms lyk of hulle gloei. Ronde, bruingebrande arms en skouers; haar sport beoefen sy klaarblyklik in die buitelug. En naby aan dertig lyk sy baie meer wêreldwys as Lianna.

Mea nooi hulle vriendelik by haar woonstel in. In die skemer sitkamertjie is ’n rusbank en twee leunstoele. Die groot, ouderwetse buffet spieël haar rug momenteel, haar kort hare só lig dat dit byna wit lyk.

Talle trofees en silwerbekers van verskillende groottes op die boekrak bevestig dat sy haar al onderskei het in tennis, gimnastiek en swem. Met ’n swaai van sy hand na die versameling vra John onnodig: “Alles joune?”

Mea knik net haar kop glimlaggend.

Sy vra of hulle bier wil hê, en sonder om te wag gaan haal sy ’n sespak uit die yskas. Sy skeur die plastiek maklik oop. “Ons drink sommer uit die botteltjies.”

“Ek beny Mea haar lekker woonstel,” sê Lianna.

Pretorius vergelyk sy eie buitekamer daarmee. By hom staan net ’n bed, ’n tafeltjie met ’n riempiestoel en ’n hangkas. Kaal mure en die uitsig deur die venster op ’n skurwe kliprant. G’n boeke nie.

Hy sak onverwags diep weg in die sagte, bontoorgetrekte leunstoel. Wat hom dwing om op te kyk na die twee meisies op die bank oorkant hom, na Mea. En so sien hy hoe sy haar rok opskuif en dit ongeërg tussen haar bobene indruk. Verrassend skaamteloos. Nog nooit het hy een van die meisies in Otjiwarongo dít sien doen nie.

Hy dink hoe die spiere wat nou so sag lyk, so ontspanne, saamtrek as sy spring en skêrskop, of deur die lug tuimel. Hoe sal dit wees om so ’n atletiese vrou te vry? Onwillekeurig gly sy blik na die ronding van haar borste. Dié twee appeltjies is klein, maar stewig genoeg om astrante knoppies uit die katoen te stoot.

Wat het John gesê? Dat Pretorius se blinde dadel glo heel kapabel is!

Hulle drink die lager uit die bruin Tafelbierbotteltjies, en die twee vriendinne gesels oor koeitjies en kalfies.

Lianna het Pretorius as John se vriend voorgestel; nou vertel sy Mea dat hy John help om sy plaas te bestuur. “Herklaas moet jou maar vertel wat hy als doen. Hy’s glo ’n man van die veld. ’n Gróót ou, nè? Ek het jou mos gesê hy is meer as net ’n hand vol.”

Mea glimlag, lag dan.

Pretorius voel nie hy is so buitengewoon nie; party mans is nog groter as hy, langer of breër. Maar Lianna sien hom blykbaar anders. Wat het sy alles van hom gesê? En wat verwag Mea vanaand van hom?

“In die veld is dit net sand en klippe, en jy kry dorings in jou boude as jy gaan sit,” lag Mea. “Ek hou van Windhoek.”

Pretorius luister skaars na John se stories, so onseker is hy oor hoe hy moet optree. Hy neem nog ’n sluk van die koue bier. Waaroor kan hy met Mea praat? Van die regswêreld weet hy niks. En sport? Hy stel eintlik net in rugby belang.

“Lyk my jy’s ’n kampioen,” sê hy terwyl hy na die trofees beduie.

“Ek hét al ’n paar keer gewen, soos jy kan sien.”

“Hou jy van wen, of hou jy daarvan om te kompeteer?”

“Ek toets maar myself.”

Pretorius kyk af na die bierbottel in sy hand. Hulle gaan dans; dit kan maklik ’n yslike verleentheid word. Sal sy verlief neem met sy lomp passies, sy voete wat knoop en hom laat struikel? Sal sy hom verskoon as hy op haar tone trap?

En wat van sy sweet? Altyd as hy hom inspan, sodra hy warm kry, pêrel die sweet uit sy bors en skouers. Dan kleef sy hemp aan hom. En sy sal dit kan ruik, die skerp geur daarvan. Hoe kan hy haar in sy arms hou as hy soos ’n moeë perd nat van die salpeter is?

Gelukkig hou John aan met praat; hulle ander kry selde ’n woord in. Hy hoef net af en toe iets te beaam wat John sê, of ’n brokkie inligting verstrek wat John vra.

Hy kyk na die skildery langs die boekrak: snaakse stomp bote op ’n rooi see. Dan na die rugkante van die boeke. Meestal regsboeke, maar daar is ook ’n kopie van The Naked Yoga tussen hulle. Toe kyk hy maar deur die venster na die blou skemer buite op die rante, maar hy waag dit nie weer om sy blik na Mea se knieë te laat sak nie. Onthou net hoe glad en bruin en rond hulle was.

“Is julle nie lus vir iets sterkers as bier nie?” vra Mea later. “Hoe lyk dit met ’n Kleine-Kleine?”

Sy wys waar Pretorius ’n bottel brandewyn uit die buffet moet kry.

“Om ons in die regte stemming te kry,” lag John.

Lianna sê: “Toe nou! Ek sal sommer.”

Sy spring op en gaan sit op John se skoot. Sy krap sy hare deurmekaar en hou aan om hom oor sy hele gesig te soen, tot hy verleë met ’n oop hand keer. Tog geniet hy dié borrelende lewenslustigheid; dis vir Pretorius maar alte duidelik.

Hy besef nou hoekom John Lianna bo al die ander meisies verkies het: hy is oorweldig. Lianna het hom oorweldig met haar vrolike, spontane geaardheid. Op dié manier is sy hom oor.

Hy staan op en gooi vir hom en John elkeen ’n dop in: brandewyn op ys. Hy het dit nodig. Boeremoed. Die drank bring ’n warm, behaaglike gevoel wat hom vir Mea laat glimlag. En hy sê ewe kordaat: “Ek het nogal gewonder hoe jy lyk, Mea. Otjiwarongo het maar min meisies.”

Onmiddellik besef hy hoe ongevoelig dit klink, asof hy haar vergelyk. En dit laat nie reg aan haar geskied nie: sy is mooi, en klaarblyklik talentvol.

Sy klap saggies op die bank se leë sitplek langs haar: ’n uitnodiging. Haar wenkbroue lig en sy vra soet: “Und bist du zufrieden, Herklaas?”

Hy gaan langs haar sit. “Gits, ja. Ek bedoel eintlik . . . daar’s nie één soos jy in Otjiwarongo nie.” En toe sy aanhou glimlag, kyk hy sonder skroom af na haar mooi bruin bene.

Hulle ry na die dansklub toe, al vier ingedruk voor in John se groot Fordtrok. Mea sit half op Pretorius se skoot; sy het haar een been vrypostig oor syne gehaak, en hy het sy arms om haar middel, sy hande liggies gekruis op haar plat magie. Die geur van haar parfuum damp met elke asemteug tot in sy kop: soet jasmyn en kruienaeltjies.

John vertel van die rugbywedstryd wat Otjiwarongo ’n paar weke gelede teen Tsumeb gespeel het. Hy speel losskakel omdat hy al een is wat pale toe kan skop. “En Herklaas is ons agsteman, die sterkste losvoorspeler in ons span. Na die wedstryd het ons gaan vleisbraai op Tinus de Bruyn se plaas. Kasper Buitendagh was daar, saam met sy broer, die een wat polisieman is en net van grensdiens teruggekom het. Hy sê dit begin al moeiliker raak om die Swapo-terroriste wat oorkom, voor te keer; hulle patrolleer die paaie, maar die terroriste hou in die bosse. Kasper voel dit is net ’n kwessie van tyd voor hulle in Katatura is. Gelukkig is daar nog heelwat Suid-Afrikaanse soldate op die grens; hulle help darem keer en as dinge erger raak, kan hulle Angola ingaan om die terrs daar in hul neste te gaan uitrook.” Dis donker toe hulle voor die Safarihotel stilhou. Bo, teen die diepblou gewelf, begin sterre al prik. Maar die middag se hitte lê nog opgedam tussen die rantjies – hulle voel hoe warm dit is toe hulle uit die lugverkoelde kajuit klim.

In die saaltjie is die ligte gedemp om die dansers in skemer te hul. Die orkes speel al. Toe Pretorius haar vra, sê Mea dis jazz: ’n stadige, meesleurende ritme om die pleitende tone van ’n trompet. Enkele paartjies dans, swaai stadig en lui deur hul draaie.

By aanskoue van die skuifelende voete, hoe die lywe swenk en tol oor die gladde vloer, kom daar weer ’n beklemming in Pretorius se gemoed. Die dansvloer is ’n arena waarin ’n onbeholpene soos hy heimlik deur die toeskouers uitgelag word.

Hulle vind ’n leë tafel en ’n kelner kom neem hul bestelling. Maar hulle sit skaars, toe steek Mea haar hand na Pretorius uit. “Kom!” gebied sy.

Hy voel soos ’n skoolseun. Huiwerig betree hy die dansvloer agter haar aan. Hy neem haar hand, plaas sy ander hand op haar rug. Onder sy vingerpunte voel hy die regop holte tussen haar rugspiere. Toe sy na hom opkyk, is haar blik ’n ysblou toets: Uithaal en wys nou! Onsekerheid hang loodswaar in sy lyf. Hy trek haar teen hom vas, die soepel gimnas, of is dit nou die ratse tennisster?

Toe Mea haar lyf teen syne pas, voel sy egter nie vir hom na die sterk sportvrou nie. Inteendeel, sy is meegewend en sag, byna huiwerig om sy bewegings teen te gaan. As hy vorentoe tree, voel hy haar hand oor sy skouer na sy norra skuif. Dans sy agteruit, gee hy maar net nog ’n tree, bewus van hoe haar voorkop soms aan sy bors raak.

Dis toe makliker as wat hy gedink het. Hy hoef maar net saam met haar oor die vloer te loop, in die skuilte van die skemer agter die ander paartjies aan. Stuur hy haar, of volg hy? Hy kan nie agterkom nie. Hy gee ’n paar langer treë; sy rek hare om by te bly. Dan stadiger, en hy voel haar teen hom asemhaal.

Hy waag ’n draai; sy gly maklik om hom, effens agteroor geleun. Hy het gevoel hoe sy ’n treetjie mis, dit herhaal. Hy trek haar stywer teen hom vas en draai weer. Maklik, haar bobene stamp vlugtig teen syne – daardie spiere wat so geoefen knoop en los. Toe speel die orkes die laaste akkoorde en hulle stop eers om iets koels te drink.

Pretorius en Mea loop terug na hul tafel, na die vrolikheid van John en Lianna se gesprek. Lag hulle dalk vir hom? Nee, John maak al weer grappe.

Pretorius trek Mea se stoel vir haar uit. Sy glimlag op na hom. Hy is verwonderd. Is dans met die vreemde meisie dan so maklik? Hoe het hy so gou reggekom?

“Jy is wragtie goed,” prys hy Mea se vernuf.

“Ek hou daarvan dat jy my so sterk vashou. Dan weet ek wat jy wil doen.”

“Dit kan my in die moeilikheid laat beland.”

Waarop sy lag: “Genau!”

Die kelner bring hul drankies: vir hom en Mea albei brandewyn-en-coke met baie ys. Dis gesellig om so langs haar by die tafel te sit. Saam met haar uit die lang glas te drink. Die ys rinkel en gasborreltjies bars deur die oppervlak.

Hy en Mea het hul eie gesprek; hulle steur hulle nie aan die ander twee se gekorswel nie.

“’n Man wil altyd terugkom,” sê sy later. “Dalk om ordentlik te wees, om te wys hy dink nie sleg van haar nie. Of om uit te vind of hy darem ’n goeie indruk gemaak het.”

“Party van ons is maar onseker,” erken hy.

“Onseker? Is dit omdat jy bang is ek voel dis die begin van ’n verhouding?”

“Dit begin mos gewoonlik so.”

“Néé. Wat begin het, het geëindig. Dis agter die rug. Soos ná ’n pot tennis sê ek net dankie en wiederschau! En dan loop ék weg. Schluss! Kaput.”

Hy is nie seker of hy haar reg verstaan nie. “Net so? Verby?”

Sy lag. “As ek wegloop, sal jy sien hoe verras is jý.”

“Ek hoop jy bly darem vanaand tot John terugry. Ek wil nie alleen hier sit nie.”

“Toemaar, Herklaas, ek los jou eers as ons kláár is,” lag sy vrolik.

Dit oortuig hom dat sy reeds besluit het een aand saam met hom is genoeg. Hy geval haar nie; sy geselskap of iets skiet te kort. En sy gaan hom nie sê wát nie. Hy moet maar net die beste van ’n slegte saak maak.

Weer volg hulle John en Lianna na die dansvloer. In die geklop van die basdrom se ritme voel hy sy bloed pols. Hy staan teenoor Mea en trap-trap die eenvoudige passies, swaai sy bolyf van kant tot kant, pomp effens met sy arms soos sy hom wys.

Toe die musiek verander, langsaam word, neem hy haar in sy arms. Hulle tree saam oor die vloer, dig teen mekaar sodat hy haar bewegings kan voel, die spel van haar spiere. Hy streel oor haar rug, roekeloos af na die begin van haar boudspleet en weer op oor haar blaaie tot waar hy haar kaal skouers voel. As dit net hierdie een keer is, dink hy, kan hy mos maar waag. Hulle sal mekaar nooit weer sien nie. Sy, die sportiewe, besige prokureur, sal hom nie eens onthou nie.

Die warmte dam tussen hulle op. Hy gee nie om oor die gladde sweet in sy oksels, hoe klam sy hemp aan sy bolyf begin kleef nie. Snuif net behaaglik diep aan die geur van haar hare. Laventelblom ruik so kruierig soet, maar Mea het ook ’n ander geur. Die muskus van haar hals; waar kom perskepit se wilde geur vandaan?

Terug by die tafel hervat hulle hul gesprek van vroeër. “Soek jy diep, baie diep in my, vind jy dalk ek’s ook maar oppervlakkig,” terg Mea hom.

“Ek, weer, is so diep, ek kan nie daar onder uitkom nie,” antwoord hy.

Wat al drie die ander laat uitbars van die lag. “Dieper as Oshikoto se gat!” roep John. “En onder, weet ons mos, lê die Duitsers se kanonne rond.”

Later vra Mea hom uit oor Guntsas, en hy vertel haar van die beesboerdery.

Op sy beurt vra hy haar oor haar werk en haar sport. “Ek het nie geweet ’n meisie wat gimnastiek doen, sal nog swem en perdry ook nie . . .”

“En wat nog?” vra sy. Toe, met ’n glinstering in haar blou oë, vat sy hom onder die tafel tussen sy bene vas. En fluister: “Ja, nogal heelwat meer as ’n hand vol!”

Hy skrik só, hy val amper van sy stoel af.

Die ander vennoot

Подняться наверх