Читать книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek - Страница 8

4

Оглавление

Die droogte hou aan deur die vroeë tagtigs. Die boere van Otjiwarongo en Okahandja moet elders weiding vir hul beeste soek. Pretorius ry Gobabis toe, en daarna af na die suidwestelike Kalaharistreke, na Aroab en Karasburg, met die hoop dat daar beter weiding sal wees.

Nêrens het die veld genoeg herstel ná die bietjie somerreën om meer vee te dra nie. Boonop het ’n groot veldbrand al die weiding rondom Windhoek en in die Khomas Hochland vernietig. In die rante gryns die parallellopende rotsriwwe soos die swart tande van ’n ou skaapskedel.

Hy keer onverrigter sake terug na Guntsas.

“Ek het nie geld om voer in die Republiek te gaan koop nie,” sê John. “Ons sal die beeste moet verkoop.”

Omdat baie ander boere dieselfde plan gekry het, daal die vleispryse. Beeste is meteens spotgoedkoop in Suidwes.

Die geld wat hy vir die beeste gekry het, stoot John in Teufelsbach Gemstones in. Hulle grawe nog ’n paar prospekteringslote met die hoop om weer ’n ametisrif raak te loop.

In Januarie 1983 gooi hulle handdoek in. John adverteer die myntoerusting: Te koop, kwalik gebruik!

Binne dae bel ’n man oor die laaigraaf: hy wil kom kyk. John spreek met hom af wanneer hy Guntsas toe kan kom.

Gedurende daardie week steek die weer op, onverwags potblou uit die noordweste. Hulle kan die reën op die wind ruik, maar die wolke vol belofte trek verby. Nog wolke waai oor, en dit gee Pretorius hoop.

Een nag hoor hy reën tik-tik op die sinkdak van sy buitekamer, maar dis net enkele groot druppels. Sy blydskap syfer weg toe dit ophou en die wind weer begin waai. Hy lê en dink aan hul uitgedunde kudde; as die reën nou kom, kan die beeste dalk nog gered word.

Voordag die oggend toe die koper op Guntsas verwag word, sak ’n ligte reënbui uit. Die geur van die klam grond hang in die lug, soet soos dié van ’n vrou se hare.

Die koper klim uit sy bakkie en snuif behaaglik die oggendlug op, ’n potsierlike vet mannetjie in nuwe kakieklere. “Koster Hawega, koper en verkoper van grondverskuiwingstoerusting,” stel hy homself voor. In sy eie woorde, ’n middelman. “Reg innie mirrel, Sirril!”

Pretorius vat hom na die myn toe, nou net ’n diep, stil skeur in die veld. Die laaigraaf en die kompressor en bore staan onder die sinkafdak. Hy skakel die masjien aan en ry onder die afdak uit; besef op daardie oomblik dat hy net soveel van die reuk van dieselrook hou as dié van die nat veld.

Om die smous te wys hoe die hidroulies beheerde laaigraaf werk, skep hy diep in ’n hoop klippe en gooi dit eenkant uit. Toe ry hy weer met die laaigraaf onder die afdak in. Hy’s nie lus om so ’n bruikbare masjien aan ’n middelmannetjie af te staan wat dit nie self wil gebruik nie. Wat geen waardering vir die meganiese krag van die hidroulika het nie. Net daarmee wil spekuleer, soos met donkies.

“Wat wil julle vir die masjien hê?” vra die smous.

“Een-vyftig. Eenhonderd en vyftigduisend rand, kontant.”

“Dis hoog. Té hoog, eintlik. Ek het aan tagtig gedink. Daar’s nie baie kopers vir sulke masjiene nie. Ek sit dalk vir ’n lang ruk daarmee opgeskeep.”

John het die vorige aand ’n laer prys voorgestel, maar Pretorius is vasberade om nie in ’n gekibbel die onderspit te delf nie. Nie teen hierdie smous in sy kraaknuwe kakiebroek en -hemp nie.

“Ons prys is ons prys,” sê hy.

“Dis so ’n lekker oggend ná die reëntjie, ek voel skoon plesierig,” sê die smous. “Ek maak sommer die prys ’n ronde honderd duisend. Hoe klink dit vir jou? Vrygewig, nè? Later sal ek seker nog lang trane huil, maar nou staan ons hier in die veld en kyk na die sloot wat julle gegrawe het – ’n nuttelose diep gat. En na ’n masjien wat net in julle pad is. Kom nou, meneer Pretorius, gryp my aanbod. Dis ’n goeie bod, jy sal nie sommer beter kry nie.”

’n Nuwe gedagte tref Pretorius skielik: as vanoggend se reënbui die einde van die droogte beteken, sal hulle nie meer beeste hoef te verkoop nie. En kan hulle al die toerusting hou. Om ’n myn te hê, is mos glad nie so ’n slegte ding nie.

Die smous is leëhand daar weg, nog net so joviaal as met sy aankoms.

Daarna het die reën inderdaad gekom: harde stortbuie wat grys oor die rante geskuif het. Die nat veld het soet geruik. Ná ’n week het die gras begin uitloop, en aan die punte van die doringbome se takke het sagte groen blaartjies verskyn. Die droogte was gebreek.

Pretorius se blydskap oor die reën nie by Guntsas verbygetrek het nie, was groot. Ook oor die masjien wat hy nie verkoop het nie.

Toe bring John vir hom ’n boodskap van Mea af. Net ’n kort briefie op ’n velletjie uit ’n notaboek.

Wat het van jou geword, wildeman van die Huaneb? Ek wonder soms of jy dink ek was te voorbarig by die dans. Maar ek kon nie die versoeking weerstaan om jou uit jou agterveldse onskuld te skok nie.

Vergewe my.

Mea.

Wat sy dus ook al daardie aand gesê het, dit was nié verby tussen hulle nie. Sy wíl van hom hoor.

Saam met die Duitsers sit Pretorius en John in ’n ingegraafde skuiling naby ’n watergat langs die Etoshapanne. Deur die lae venstertjie hou hulle die springbokke dop wat versigtig naderwei, gevolg deur ’n paar sebras en wildebeeste.

Schiele kyk deur sy verkyker. Sonder dat hy besef dat die Bausch & Lomb se helder besonderhede die ander ontgaan, lewer hy lopende kommentaar oor wat hy op die vlakte sien. “Kyk daar! En dáár!”

Later vertel Pretorius hulle van die Etosha Petroleum Corporation: hoe die Amerikaner met sy wyerand-Stetson en kapstewels in die groot pan wou kom olie soek. Toe Verwoerd, Suid-Afrika se premier, gevra word of hy dan nie bekommerd is oor die ekologiese skade wat die geboor vir olie sal veroorsaak nie, was sy kortaf antwoord: “Kwaggas het nie stemreg nie.”

Frau Schiele wys dié reaksie met so ’n afkeurende skud van haar kop af dat haar blonde vlegsel wyd swaai. Sy het die eetgerei op die opslaantafeltjie gerangskik en is besig om die kosmandjie uit te pak: ’n lang dik salami, rogbrood, kaas, tamaties en swart olywe.

“Verstaan politici dan nooit dat nie alle vraagstukke met ’n stemming beslis kan word nie?” vra sy en hap in die skyf camembert waarmee sy beduie het.

Gotschalk se oë blits agter sy brillense. “Die volkswil is net belangrik as dit hulle pas. Maar ek wil nog die politikus ontmoet wat nie dink olie is in die nasionale belang nie.”

“Definitief belangriker as die bewaring van die natuur,” kom dit van Monika.

Horst skink koue bier in hul glase toe die agterste sebras meteens omspring en in ’n stofwolk weggalop.

“Dis ’n leeu!” roep Schiele opgewonde.

“Waar? Waar?” vra almal tegelyk.

Dit blyk egter die sebras het vir ’n klein maroen Renault geskrik. Dié kom vinnig aangery en stop langs Goraseb Safaris se veldvoertuie. ’n Jong man in ’n denim en sandale en ’n kort, plomp meisie met krullerige bruin hare klim uit. Hulle staan ’n rukkie na die verlate watergat in die kalkholte en kyk. Die man beduie iets en die meisie lag.

Toe loop hulle hand aan hand om die twee Land Cruisers asof hulle dit wil inspekteer. Hulle beraadslaag ’n rukkie en haal dan ’n reisdeken uit hul motortjie. Daarmee stap hulle reguit na die watergat, waar hulle die reisdeken op ’n sanderige kol oopgooi en daarop gaan sit.

Die springbokke en ’n paar blouwildebeeste staan die twee op ’n afstand en betrag: die hartstogtelike omhelsing en gesoen op die reisdeken, die klere wat stuk vir stuk waai.

“Besef hulle nie hier kan leeus in die omtrek wees nie?” fluister Horst.

“Jy kan daarop wed dat daar leeus naby ’n drinkplek sal wees,” sê John. “Dis die beste vangplek in hierdie oop wêreld. Hulle hoef net in die biesies te lê en wag op ’n ding wat kom suip. En spring hom dan onderstebo.”

“Moet ons hulle nie waarsku nie?” vra Anchen besorg.

“Ek glo nie hulle wil nou gewaarsku wees nie,” sê Monika. “Maar ingeval dit regtig nodig is, hou ek my kamera reg.”

“Dis te erg,” sê Frau Schiele en stapel skyfies salami op haar broodjie. “Wil jy afneem hoe hulle deur leeus opgevreet word?” Met ’n paar groot happe demonstreer sy hoe gulsig dit kan gebeur.

Pretorius dink aan John se lamentasie dat sy nog al die winste van hierdie toer sal opeet.

“Nee, net wat die paartjie gaan doen as hulle so skrik. Ons lesers sal dit geniet om die foto te sien. Ons kan dit met ’n byskrif plaas: Wild lewe in Afrika.”

John kyk verbaas na haar. “Ek dink nie dit sal snaaks wees nie, Monika. Daai twee het nie ’n benul hoe gevaarlik dit is nie. Leeus is vinnig; as hulle storm, is dit gou verby. Voor die tweetjies weet wat gebeur, is hulle leeukos.”

Die jong man het intussen agter sy meisie stelling ingeneem; vrolik hande-viervoet ontvang sy die driftige gestoot van sy skraal heupe.

“Hoe slim,” sê Monika guitig. “Só kan hulle albei die panne bespied, of daar nie gevaar aankom nie.” Sy lig haar kamera en ná ’n vinnige verstelling neem sy ’n paar foto’s van die paartjie.

“Jy mag mos nie; jy skend hulle privaatheid,” sê Frau Schiele geskok.

Monika se laggie klink ondeund op in die klein skuiling. “Dit lyk nie juis of dit hulle pla dat iemand hulle sien nie. Miskien hou hulle van die idee dat hier toeskouers iewers naby is. Hulle weet mos die mense wat met daardie Land Cruisers gekom het, moet in die omgewing wees.”

Inderdaad blyk die paartjie se onbesorgde geesdrif vir hul liefdesdaad – wat hulle uitdruk in vrolike, ekstatiese krete – heel duidelik. En niemand weet hoe om Monika se suggestie te weerlê nie.

Ná ’n stiltetjie lig Horst, die restaurateur, sy glas bier en sê: “Kom ons drink daarop. Prosit!”

Schiele lig ook sy glas. “Op die ewige jong liefde. Dat die drif nooit sal kwyn nie.”

“Op die skroeiende drif van die jeug!” roep Gotschalk meteens verrassend luid.

Dit laat Pretorius Mea weer onthou: hoe gedemp hul hartstog begin het.

By die ou Duitse huis in die Khomas Hochland se ranteveld ry Mea van die grondpad af. Haar motortjie wip oor die klippers en steekgras. Sy parkeer voor die hekkie.

Pretorius klim uit. “’n Snaakse plek om piekniek te hou,” terg hy haar.

“So kombineer ek my werk en plesier.”

Toe Mea hom bel, het sy verduidelik dat ’n kliënt die huis wil koop en herstel. Pretorius kan haar dalk sê of dit moontlik is, en wat dit min of meer sal kos. “Ek het jou deskundige advies nodig.”

“Wys jou hoe waar is die spreekwoord van die fonteintjie,” het hy gesê en gelag. Dié keer was hy aan die wenkant.

Van die pad af lyk die groot geel dubbelverdiepinghuis verwaarloos. Dit staan half verskuil agter yl doringbome. Bokant die kliptrap in die middel van die stoep wag ’n toe voordeur, maar in die regop sinkmure van die tweede vlak staar net ’n ry venstergate oor die harde veld.

Hulle volg die voetpad deur die wit steekgras; hy dra die piekniekmandjie.

Hy stoot die voordeur oop. In die groot ontvangsportaal is dit koel en stil; onder die plankvloer is seker ’n kelder. ’n Kliptrap swaai teen die oorkantste muur boontoe. Hulle loop van vertrek tot vertrek; hul voetstappe klink hol in die leë ruimte.

Toe Mea met hom praat, is haar stem sag, byna ’n fluistering. “Ek dink hoe die Duitse boere van die omgewing in die ou dae hier saamgekom het. Hoe hulle geëet en gedrink en gesing het. Hier kon hulle lekker gekuier het.”

“Ja, die huis het seker ’n paar stories om te vertel,” sê hy moedswillig hard.

Sy knik. “Dalk is die huis bly ons is hier.” Sy kyk om haar rond. “Waar gaan ons eet? Ek het ’n koedoevel saamgebring; vir ’n piekniek saam met ’n wildeman sal dit seker doen.”

Pretorius gaan haal die koedoevel in die motor.

Hy gooi dit oop waar sy wys op die vloer, in ’n sonkol. Daarna trek hy die bottel witwyn se kurk uit.

Hulle eet op die koedoevel. En drink die suurderige wyn. Hul gesprek vloei in kort sinne. Woordtennis oor die net van die waarskuwing wat hy onthou: Wat begin het, is alreeds besig om te eindig. Daarom reageer hy versigtig.

Tot Mea, met die sonlig blink in haar blonde hare, na hom oorleun. Tóé eers raak hy aan haar voorarm.

Hy soen haar driftig. Pers sy lippe op hare; druk haar teen hom vas. As sy nie daarvan hou nie, sal sy mos sê.

Toe sy die papierborde en glase eenkant toe skuif en terugleun, gly haar romp terug oor haar bobene. Die gladde blinkbruin spiere lok sy hande. Hy voel hoe sag dit ontspan het. Sy laat hom haar knieë van mekaar wegdruk, maak dit oper vir hom om daar te kom kniel. Sy knoop sy hemp los, toe sy gordel.

Toe hy kaal is, en sy ook, laat sy hom op haar lê, in die mik van haar bene. In die son; hy voel die gloed daarvan op sy rug. Sy ontvang hom met ’n stout glimlaggie.

Hy luister na haar, verbaas oor hoe haar asemteue woorde word, onverstaanbaar maar aanmoedigend, en toe sien hy hoe blou die son in haar oë vonk. Nog steeds glimlag sy, nou bevredig.

Daarna het hy gewag dat sy weer vir hom sê dis verby.

Sy het nié.

Op pad na Halali stop Pretorius om brandhout op te tel. Toe hy uit die Land Cruiser klim, waarsku Anchen: “Pasop, Herklaas, dat die leeus jou nie vang nie.”

“Daar’s my alarm,” wys hy na ’n rooibokram wat eenkant staan en hulle dophou.

Nadat hulle by Halali aangekom en hy die tente onder twee groot mopaniebome opgeslaan het, pak hy ’n vuur aan. In sy stapeltjie hout en gras kry ’n vlammetjie vat aan ’n takkie, lek boontoe en vermenigvuldig dan knetterend. Die blou rook ruik na doringboomgom.

John gaan wys die Duitsers die watergat langs die kop.

Sononder kom die olifanttroppe uit die bos om te suip. Die stof gloei rooi om die suile van hul bene, en kelkiewyne fladder verskrik daarin op, net om byna dadelik weer te gaan sit.

Nog later kom die renosters, nors en wantrouig in die spreiligte. Hulle draai van kant tot kant, mik met hul neushorings en snuif die lug, voor hulle spits bekke uiteindelik na die water sak. Versigtig, byna fyntjies, drink hulle die modderige water.

Nader aan die klipkoppie staan ’n ou kakietent met ’n Land Rover langsaan geparkeer. Voor is ’n man in ’n ferweelbroek en toeritsbaadjie ook al besig om sy kampvuur aan te blaas. Sy vrou sit in ’n seilstoel en blaai deur ’n tydskrif, terwyl hul twee dogtertjies en sproetgesigseuntjie in die omtrek speel.

Pretorius hou hulle dop. Die dogtertjies maak of hulle bokkies is. Die seuntjie, ’n woeste leeu, wil hulle vang. Hy jaag hulle met kwaai gromme om die Land Rover, dan gil hulle en soek keer op keer veiligheid by hul ma. Hul gejil dra ver in die stilte van die kamp.

Pretorius hou daarvan, van die kinderlike erns van hul jagspel. Hy dink aan die stories oor Angola wat hy by sy pa gehoor het. Hy wens hy kan dit vir die seuntjie vertel, sy oë ’n bietjie laat rek. Dit moet lekker wees om ’n seun van jou eie te hê, hom saam met jou veld toe te vat.

Die son is amper onder, nog net ’n helderrooi appel wat sy kleur aan die lug gee. Oor die tente en in die kruine van die bome skyn ’n poeierige glans, asof alles met goudstof bestuif is.

Toe die Duitsers terugkom, soek hulle warm klere; hulle was nie voorbereid op die skielike nagkoue om die watergat nie. Monika trek ’n langbroek onder haar romp aan, wat sy dan ongeërg oor haar heupe afskil.

Frau Schiele kom vra Pretorius of die ouers haar sal verkwalik as sy vir die kinders lekkergoed gee. Die beste is om hulle ma te vra, is sy raad. Waarop sy na die vrou in die kampstoel stap en ’n rukkie met haar staan en praat.

Toe sy terugkom, glimlag sy verleë. “Dit kan nie so kort voor ete nie; ek moes geweet het.”

Horst help Pretorius om aandete te maak. Noedels waarby hy gebraaide uie en maalvleis roer. Hy voeg ’n huisie knoffel by en toe ’n klein rissie, om die geur te beklemtoon.

John maak twee bottels rooiwyn oop: Diemersdal 1982. Gotschalk ruik aan die proppe.

Dit word vinnig donker, en Pretorius moet die gasligte aansteek. Een kom op die tafel tussen die blikborde en straal sy lig skerp en wit oor alles. Die naglug het skerpkoud geword; hul asem blaas wolkies voor hul monde en die bredie stoom in die pot.

Pretorius skep vir almal in die blikborde op, maar John dring daarop aan dat elkeen ’n glas kry vir die wyn. Horst, wynkenner, proe en vergelyk dit met ’n roos – die kleur en hoe fluweelsag dit is.

John speel die Suidweslied op sy kitaar, maar hy sing die woorde wat Pretorius uitgedink het: “Suidwes is beter, ja, Suidwes is goed; die waaisand aan dié kant vra Boere se moed.”

Later die aand tree die man en vrou van langsaan die ligkring binne. Hulle is in hul veertigs en klink effens onseker toe hulle op Engels groet.

Die vrou vra om verskoning dat sy Frau Schiele se vriendelike versoek vroeër geweier het. Sy het ’n warm baadjie vir die besoek aangetrek, ’n teken dat hulle dalk ’n rukkie wil vertoef.

“Alles reg,” sê Frau Schiele gul. “Voor ons môreoggend ry, gee ek vir die kinders die lekkers vir die pad.”

“Maak gerus so,” sê die vrou. “Dit sal hulle stil hou terwyl ons diere kyk.”

“U is baie gaaf,” sê die man. Sy goueraambril en die begin van ’n bles wat diep weerskante van sy agteroorgekamde kuif insny, laat hom na ’n musikant lyk. Hy is heelwat ouer as sy vrou.

John nooi hulle om saam ’n glasie wyn te drink. Hy stel homself voor, en daarna volg die res van die geselskap.

Die egpaar heet Bester: Jannes en Sheila Bester van Ermelo in die Republiek. Jannes verduidelik dis ’n mooi dorp in Suidoos-Transvaal, op die pad Natal toe. Dis hul eerste besoek aan Suidwes-Afrika, voeg hy by. “’n Wonderlike land.”

Pretorius bied sy stoel vir Sheila Bester aan en gaan op die bankie langs die vuur sit. Anchen kom langs hom sit. Aan haar ander kant is nog genoeg plek vir John. Sy glimlag vir hom toe hy daar kom sit.

“Nou voel ek lekker veilig,” sê sy. “Tussen twee groot wit jagters.”

“Voldoen Suidwes aan julle verwagtings?” vra Jannes vir die Duitsers. Agter hom boggel die donker nok van die klipkop teen die sterbesaaide aandlug.

Gotschalk leun vertroulik vorentoe. “Weet jy, meneer Bester, tot dusver ontwyk ons versigtig al die brandpunte.”

Sy tande blink in die vuurlig soos hy glimlag. Klaarblyklik bedoel hy dit as aanknopingspunt vir ’n gesprek wat in die politiek se rigting beweeg.

Bester stel hom nie teleur nie. “Ja, dis beter om uit die grensgebied weg te bly. Al het ons weermag alles daar onder beheer.”

“Sekere roetes lei na die politieke onrus.” Anchen sper haar oë groot en lok hom met ’n bang kyk uit. “Ons kom dalk nog af op hierdie dorre land se vele maatskaplike en ekonomiese probleme.”

Dan draai sy na John langs haar, plaas haar hand op sy arm. “Maar John hier, nou so kalm en bedaard, vermy sorgvuldig al daardie gevaarlike roetes.”

Monika lag. “Ons is op ’n politiek-korrekte safari, Jannes. Ons hou ons streng by berge en bosse en allerhande gevaarlike diere.”

Bester kyk van die vuur af op. “Dis moeilik om te sê wat’s die regte pad vir Suidwes-Afrika.”

“Soek Suid-Afrika dan nog na ’n plan?” vra Anchen kamma verbaas. “Ek dog hulle hét al een.”

Gotschalk glimlag weer met sy blink tande. “’n Plan so goed soos afsonderlike ontwikkeling! Wat die groepe in Namibië ook netjies apart sal hou.” Duidelik geniet hy die koers van die gesprek.

Bester stel hoe uiteenlopend die volke is, beduie met ’n wye gebaar en oop hande. “Wat in Suid-Afrika werk, sal nie noodwendig hier werk nie.”

“Wérk dit dan in Suid-Afrika?” vra Gotschalk met ’n frons wat sy voorkop laat keep. “Presies wát werk daar, meneer Bester?”

Bester kyk ernstig na hom; duidelik het hy al hieroor nagedink. “Iets werk as dit verbetering bring. Soos beter mediese dienste en die verhoging van mense se lewenstandaard. As dit sterftesyfers verlaag. Veral kindersterftes het baie afgeneem; dis nogal bemoedigend. Maak maar ’n optelsom van sulke gunstige faktore, en wat kry jy? Die swart mense se lewensverwagting het aansienlik gestyg.”

Ná ’n oomblik van stilte waarin hy aan sy wyn proe, vra hy retories: “Hét afsonderlike ontwikkeling gewerk? Ja, sekerlik . . . as jy dit aan sulke syfers meet.”

“Net jammer die swart mense sien dit anders,” sê Schiele.

Waarop Gotschalk vinnig byvoeg: “Hulle verkies oënskynlik politieke regte bo maatskaplike verbetering.”

“Myns insiens is politiek vir hulle maar net ’n middel tot die doel,” sê Bester. “Hulle glo meerderheidsregering sal hulle die goed gee wat hulle vra . . . met die hoop dat ander daarvoor sal betaal. Ek werk in ’n openbare hospitaal: ons bied reeds op groot skaal goedkoop mediese dienste aan hulle. Weet u hoe min kos ’n bevalling swart vroue? Maar hulle eis nog meer. Hulle sal met niks minder as gratis gesondheidsdienste tevrede wees nie.”

“Amper waar ons in Duitsland is,” sê Schiele. “Met ons sosiale welsynstaat.”

“Nogal ’n model om na te aspireer!” Gotschalk lig sy leë glas hoog. Skud dit asof hy hoop om druppels te sien uitspat: ’n sproeireën van die goeie lewe oor alle behoeftiges.

“Die administrasie moet net ons paaie in stand hou,” probeer John die gesprek in ’n ander rigting stuur. “Hier behoort dit voorrang te geniet.”

“Vir die safari’s wat die land deurkruis ’n móét.” Schiele slaan met sy vuis in sy linkerpalm om te beklemtoon. “Anders strand ’n mens dalk op ongerieflike plekke.”

“Kom, Jannes. Die kinders is alleen daar,” sê Sheila Bester.

Dié skielike oproep verras Pretorius. Hy het nie opgelet of sy met haar man se standpunt saamstem nie, bloot omdat sy nog niks gesê het nie. Nou bevestig sy egter haar aandeel in die gesin se besluite. Sy het ’n musikale stem, dink hy. Soos ’n klein voëltjie se fluit.

Bester draai eers half vererg na sy vrou toe. Dan staan hy op. Hy knik sy hoë voorkop beleef na Gotschalk en toe na die ander.

“Goeienag, vriende. Dit was interessant om julle menings te hoor.”

“En jý het goeie inligting, hoor,” sê Anchen.

Wat Gotschalk kopknikkend beaam. “Waardevol, ja. Baie dankie!” Hy groet op Duits.

Al die ander wens ook die Besters ’n goeie nagrus toe. Van die watergat se kant af skril die verergde getrompetter van ’n olifant.

Minute later sien Pretorius hoe Jannes Bester se skadubeeld groot word in sy tent. Hy is klaarblyklik ’n beampte wat nie geringgeskat kan word nie.

Gotschalk sit terug in sy stoel. “Dis goed om met iemand te praat wat al die sterk punte van die stelsel ken, hoewel hy die skromelike gebrek aan aanvaarding verswyg. Op slot van sake is dít wat die deurslag sal gee. Soos hier in Namibië, waar Swapo se goedkeuring ontbreek.”

John vererg hom vir die opmerking. “Die man moet sy simpatie vir Swapo vir homself hou,” sê hy onderlangs op Afrikaans vir Pretorius. “Wat weet hy van ons probleme?”

Gedurende die nag word hulle asblik deur twee ratels besoek. Toe Pretorius die blik hoor omval, staan hy op en klim met die flits uit die Land Cruiser.

Met doelgerigte ywer krap die bonkige diertjies die inhoud van die asblik uit. Die mannetjie steur hom nie aan Pretorius se teenwoordigheid nie, grom net ’n waarskuwing. Ná ’n rukkie draf die paartjie kordaat weg, bakbeen op soek na ander aas.

Terug in sy slaapsak lê en dink Pretorius oor die kampvuurgesprek. Oor Bester se regverdiging van apartheid. Die Suid-Afrikaanse administrasie wou weliswaar ook hier in Suidwes die volke skei.

Gotschalk glo kennelik in selfbeskikking. Wat kan hy, Pretorius, daarop antwoord? Dat sy pa in Angola gebore is en nooit burgerskap van Suidwes of Suid-Afrika gekry het nie? Dat hyself net ’n burger van Suidwes geword het omdat hy moes?

En as witte was dit maklik. Hier tel elke kop; die regering het jou nodig, al kom jy ook uit Angola.

Hy het niks om te sê oor veelpartydemokrasie nie. Of oor die moontlikheid dat al die mag in die hande van een politieke party kan beland. Politici wil regeer om vir hulleself aansien te verwerf. En daarmee saam die kans om lekker aan te sit by die suiptrog van die administrasie.

Politiek laat hom koud.

En nasionalisme? Mense se geesdrif vir ’n staat. Vir ’n vlag wat bo ’n polisiestasie wapper, en ’n volkslied. Watter verskil maak dit tog aan die mense in Afrika? Waar moet sy lojaliteit tog lê?

Die ander vennoot

Подняться наверх