Читать книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek - Страница 9

5

Оглавление

Hul eerste kliënte met die jagbesigheid is twee Amerikaners. John ry vroeg met een van hulle, die geesdriftige Kevin L. Grant, in sy Fordtrok rantjieskamp toe om ’n eland te gaan soek. Die beeswagters het glo ’n troppie daar in die doringveld sien wei.

Pretorius stap saam met die ander een, Jeff Lanser, na sy ou Datsunbakkie wat onder die groot kameeldoring op Guntsas se werf staan. Dis koud en die uitvoeragent uit Idaho dra ’n skaapvelbaadjie. Hy klim agterop met sy Winchestergeweer. Langs hom op die dwarsplank sit Natie, die Damara-plaaswerker wat moet help laai, of spoorsny as ’n bok gekwes is.

Joan, Lanser se vrou, gaan ook saam. Sy is opgewonde oor die vooruitsig om die veld in te ry en haar man ’n koedoe te sien skiet. Sy het gesien hoe ontsagwekkend die horings is wat teen die muur op Guntsas se stoep hang. Haar kamera hou sy gereed op haar skoot, en met haar ander hand hou sy Pretorius se geweer tussen hulle regop.

Hulle het die vorige aand tot laat op die stoep gekuier. Ná Pretorius vir die Amerikaners vleis gebraai het, het John hulle genooi vir ’n dop. Hulle het die bottel whiskey oopgemaak wat John vir die jagtog gekoop het en dubbele dubbels geskink.

Dit het minder gedoen aan Grant – die kleiner een van die jagters en ’n eiendomsagent – as aan die groot, vet Lanser met die wyerandhoed, wat later uitbundig gelag het vir elke grappie wat John vertel. Lanser het baie onvas op sy voete probeer demonstreer hoe hy eenkeer moes omswaai om ’n takbok te skiet wat agter hom uit die bosse gebars het, toe val hy amper van die hoë stoep af.

Voor Joan Lanser se ongeoefende oog staan die skans van die doringruigtes waarin die wild skuil soos ’n muur; sy kla oor die bos oral so dieselfde lyk.

“Probeer om bewegings in die doringlaagte op te let,” gee Pretorius raad. “As ’n koedoe blare pluk, ritsel ’n tak effens, ’n stertkwas kan dalk swaai, of die bok roer net sy groot ore. Koedoes weet hoe om doodstil te staan en onder die bome deur te kyk wie aankom.”

Vroeg in die oggend egter soek hulle kos, en is meer op hulle gemak ná die nag se onrus, verduidelik hy. Dis hoekom hulle die koedoes vroeg moet gaan soek.

Joan praat aanmekaar. Sy vertel hom Jeff was in Viëtnam, op ’n rivierboot. ’n Jaar lank het hulle op en af met ’n rivier langs deur die woude na die Viëtkong gesoek. Tot ’n virus hom in die hospitaal laat beland het. Ook maar goed so, anders het hy dalk ook onder die vlag teruggekom. Van toe af kan Jeff nie meer sy drank vat nie. Maar dis goed as iets ’n man briek.

“Do you also have something breaking your speed, Huklaas?”

“Why?”

“You are very cautious. You’re what we call the strong, silent type.”

“I am quiet because I prefer to listen to people.”

“Not at all like your partner . . .”

Toe hulle om ’n draai in die sandpad skielik op ’n troppie koedoes afkom, staan die diere oop en bloot in die son – groot, vaalbruin en skynbaar onbewus van die gevaar wat die bakkie bring. Drie koeie, twee kalwers, maar waar is die bul?

“Which one?” fluister Lanser dringend van skuins bokant Pretorius se kop. Hy het reeds die grendel van sy Winchester oopgetrek en ’n patroon halfpad in die loop ingestoot.

“Don’t shoot! Wait for a bull,” beveel Pretorius sag.

Die koedoes draai weg en verdwyn met lang, stadige spronge in die ruigte. As daar ’n bul by was, het hy betyds padgegee. Joan begin Pretorius opgewonde uitvra, maar hy wil eers na die spore gaan kyk.

Hy klim uit en Natie, wat die roetine ken, volg hom. Die Amerikaners bly by die bakkie agter. Dis volgens John se instruksie: Beindruk jou kliënte met optredes wat hulle nie mooi begryp nie. Dan dink hulle dis alles tricks of the trade – geheime, ingewikkelde prosedures wat die professionele gids volg om die sukses van die jag te verseker.

Hulle loop ’n groot draai om die kol bosse waarheen die koedoes gemik het en kry gou hul spore: smaller ingetrap as wat ’n bul sou maak, en skerper, met los sandjies wat in die hardloop weggespat het. Nie ’n enkele groot spoor van ’n koedoebul nie.

’n Ruk lank staan Pretorius en Natie onder ’n boom en tuur na die bosrantjies, maar nêrens sien hulle iets beweeg nie.

Terug by die bakkie drink Jeff en Joan koffie wat hulle uit Pretorius se fles geskink het. Hulle bied hom van sy eie koffie aan. Hy neem twee slukke en gee die res vir Natie. Dié blaas die stoom van die koffie af voor hy die beker na sy lippe bring. Hy klap sy lippe van genoegdoening toe hy klaar is.

Dis al ná tien die oggend toe hulle weer ’n koedoe sien. Hierdie keer is dit ’n groot drie-draaie-bul – Natie het die lang, gekrulde horings bokant ’n doringbos gewaar en sag op die bakkie se dak geklop.

Pretorius kyk deur sy verkyker na die bos, meer as honderd en vyftig tree weg. Hy kan nie die koedoebul se vaal lyf deur die takke sien nie, maar die luggie trek skaars, en weg van hulle af, sodat die dier nie hul reuk sal kry nie. As die koedoe hulle gewaar het, sal hy wag om te sien of hulle naderkom. Dan padgee, die ruigte in.

Natie beduie hulle moet nadergaan, te voet; die koedoebul bekruip as dit kan.

Pretorius verwag dat die Amerikaner onwillig sal wees om van die bakkie af te klim, maar hy vra tog vir Lanser of hy die bok wil probeer bekruip. Tot sy verbasing swaai die groot Amerikaner summier sy bene oor die kant, druk sy hoed op sy kop vas en beduie hulle moet voor loop.

Hulle loop baie stadig, gebukkend agter die swarthaakbosse sodat die koedoebul hulle nie moet sien aankom nie, en probeer om nie takkies onder hul voete te laat kraak nie. So vorder hulle vyftig tree en sak dan op hul knieë af. Pretorius het nog steeds nie die koedoebul gesien nie, maar Natie beduie hulle moet linksom gaan, na ’n mopanieboom wat eenkant in sy poel skaduwee staan.

Toe Pretorius hom stadig lig om oor die swarthaak te loer, staan die koedoebul so naby dat hy hom met ’n klip kan raakgooi. Hy wys met sy voorvinger aan Lanser in watter rigting hy moet kyk om die dier te sien.

Die jagter lig sy geweer na sy skouer.

Dis so stil dat Pretorius die klik van die veiligheidsknip hoor. Die volgende oomblik knal die skoot.

Toe die koeël die koedoebul tref, reg voor sy bors in sy kuiltjie, spring hy. Dit gebeur altyd met ’n hartskoot: met sy laaste krag probeer die dier nog vlug. Maar die koedoe was onbewus waar die jagters skuil en storm reg op hulle af. Lanser skiet weer, en die groot bul val vlak voor hulle in die gras neer.

Hulle kom al drie orent. Toe hoor hulle skril, opgewonde krete van die bakkie se kant af. Joan het die afloop van die jag gesien en is ekstaties.

Pretorius sien hoe die koedoe vrek: sy oë wat dof word en bloed wat uit sy bek loop. Natie vra sy mes om die dier keelaf te sny.

Hulle laai die koedoebul agterop die Datsun. Pretorius staan in die bak, vat een van die horings stewig vas en trek. Die kop en swaar nek lig oor die kant. Daarna sleep hy die koedoe se voorlyf tot in die bak, terwyl Natie en Jeff agter beur om die boude ook op te kry.

Jeff lyk trots op die bloedvlekke op sy broekspype. “You’re as strong as an ox,” prys hy Pretorius.

Die aand by die vuur vier hulle Lanser se suksesvolle jag met whiskey en ys. Joan vertel die soveelste keer hoe die gewonde koedoebul op Jeff afgestorm het, maar hy het hom met sy volgende skoot gestuit. “It was so goddamn exciting, I nearly wet myself!”

“Hierdie storie gaan nog vir ons baie klante bring,” sê John laat die aand vir Pretorius. “Dit lyk of ons goed geld uit jag kan maak.”

“Die Amerikaners wil net die trofeë hê. Wat gaan ons met al die wildsvleis maak?”

“Ons begin ’n biltongstalletjie langs die grootpad.”

Daaruit, blyk dit toe later, kon hulle ’n lekker dik stroom kontant melk.

Intussen het ’n ander soort jagtog reg onder Pretorius se neus ontwikkel . . . Hy was nou seker John en Lianna het die skoot hoog deur. Sal sy binnekort die vrou in Guntsas se groot, koel huis word?

Hoe sal dit my lewe verander? het hy homself afgevra.

Moet hy nie dalk nou al elders gaan werk soek nie? Maar met dié gedagte kon hy hom nie sommer versoen nie.

Toe vlugtig weer die dagdroom: Kan hy Mea gaan haal en na Guntsas bring? As vrou van die plaasbestuurder? Al het hy nooit aan homself as plaasbestuurder gedink nie, eerder as John se vennoot. Sal Mea daarmee tevrede wees? Wat sal sy op Guntsas doen?

Hy kon egter nie dink hoe sy hier sal aanpas nie. Sy sal nie haar prokureurspraktyk wil laat vaar nie. En geleenthede vir haar om in Otjiwarongo sport te beoefen, is maar skraal; die plaas lê ver. Kinders hê en grootmaak? Mea ’n ma?

Dis eers toe hy aan ’n gesin dink dat hy besef hoe ingrypend sy omstandighede sal moet verander om Mea tevrede te stel. Só ingrypend dat dit eintlik onmoontlik is. Hy sal van Guntsas moet weggaan en iets anders gaan doen.

Hy glimlag toe hy dink wat sy ma daar in haar huisie in Keetmanshoop van so ’n plan sal sê. Hy is nie opgelei vir ’n professionele beroep nie; hy het net matriek by die tegniese skool. Wat anders kan hy doen? Wat wíl hy doen? Miskien kan hy ’n motorwerktuigkundige word in een van Pupkewitz se motorhawens. In Windhoek, nogal.

Nee, op geen manier kan hy sy lewe verander om aan Mea se standaarde te voldoen nie.

Dié gedagte laat hom besluit: hy wil nie Windhoek toe gaan nie. Hy sal saam met John op die plaas bly so lank as wat John hom wil gebruik. Hy is tevrede met sy omstandighede hier.

Tevrede wees het hy by sy pa geleer, voorman op ’n karakoelplaas naby Mariental. “’n Goeie ding moet jy nie sommer los nie,” het sy pa gesê.

Maar hoe dan nou met Mea gemaak? Sy is wonderlik goed, maar hy kan nie aan ’n manier dink om haar te behou nie!

Die Land Cruiser dreun egalig voort. In die breë vallei tussen kliprantjies trek die grondpad ’n dowwe vaal streep, sonder beduidenis van ’n bestemming.

Voor langs Pretorius het Anchen al haar verwondering uitgespreek oor die padmakers se bedoeling: wou hulle inderdaad iewers heen met dié roete deur die barre landskap?

“Miskien het hulle net aangehou pad bou tot hulle by ’n plek kom wat lyk of mense daar kan bly,” kom dit van Horst. “Toe bou iemand iets daar, en mettertyd kom ander en rig ’n vulstasie op, of ’n klein winkeltjie, en uiteindelik kry die plek ’n naam. Later, ná heelparty mense hulle by die eensame pos gevestig het, keer die padbouers verheug terug om die pad verder te bou.”

“Solitaire het dalk só ontstaan,” grinnik Pretorius. “Hoewel die paar mense wat daar bly dit sekerlik sal ontken.”

Anchen vra waar Solitaire is, en hy verduidelik sy moet op die kaart suidwes van Windhoek kyk. Volgende keer sal hy hulle soontoe vat. En sommer ook na Sesriem en Sossusvlei. Dáár kan hulle teen die groot sandduin uitklim om die woestyn rondom te sien duine maak tot waar jou sig ophou.

“Wat laat jou dink ons sal weer Namibië besoek?” vra Gotschalk.

Pretorius ignoreer maar die snedige toon van die vraag. “Voor jy weet, doktor, het ons land sy tsammas oor jou gerank. En dan wil jy altyd weer terugkom.”

Op Horst se vraag wat tsammas is, verduidelik hy dis geharde rankplante wat vrugte soos spanspekke dra – eetbaar, maar lank nie so lekker nie.

Anchen kyk om na Gotschalk. “Moenie Herklaas se geesdrif demp nie, doktor. Hy is maar net baie geheg aan sy land.”

“Jy kan ’n kolonis vertrou om een te bly, nè?”

“Herr Doktor? Gryp die land jou dan nie aan nie?” terg sy kamstig liefies. Hy bly haar ’n antwoord skuldig.

Minute lank staar hulle stilswyend na die landskap waardeur hulle ry. Weerskante van die pad skuif plat, klipperige rante verby, sonder ’n enkele kameeldoringboom om die eentonigheid te verbreek.

Toe sê Gotschalk: “Al wat ek hier sien, is die leegheid. ’n Absolute verlatenheid – dis waarin ons ons nou bevind. Hier is niks wat tot jou spreek nie. Net die kaal rante en veld wat eindeloos uitstrek onder die blou hemel.”

“Tog is daar lewe hier,” wys Pretorius hom tereg. “Insekte, selfs trapsuutjiese.”

“Maar hier bly nie mense nie,” antwoord die sosioloog bruusk. Dan, asof hy wil wys hy is nie oordraad nie, verduidelik hy: “Wat jou eintlik behoort aan te gryp, is hoekom die land so leeg is. Dis leeg gemáák . . . Ek stel my voor hoe swaar die stewel van die Suid-Afrikaanse administrasie op alles rus. Alles is tot stof vertrap.”

Pretorius draai sy kop vlugtig, ontmoet Gotschalk se blik. “Ag nee, doktor. Jy kan hulle mos nie blameer dat hier vandag nie mense woon nie.”

“Verdrukking neem baie vorme aan,” antwoord Gotschalk koud.

“Onthou, Herr Doktor, voor die Suid-Afrikaners het die Schutztruppen hier gemarsjeer,” sê Anchen. “Dink net hoe het goewerneur Leutwein se stewels hier getrap. En die blinkgepoleerde kapstewels van generaal Von Trotha.”

Die gesprek verbaas Pretorius al meer. “As julle dink hierdie verlatenheid het deur ontvolking gekom –”

“Dit het met die Duitse besetting begin, Herklaas.”

Gotschalk snork verontwaardig. “Duitsland kan nie vandag meer die blaam daarvoor kry nie – ons is lankal hier uit. Vroeg hierdie eeu al het ons Duitswes-Afrika aan Suid-Afrika afgestaan. Van toe af moet húlle die blaam kry vir wat hier gebeur. En moet hulle maar verlief neem met die wêreld se kritiek op wat hulle hier doen – of nie doen nie.”

Dit voel vir Pretorius of Gotschalk sy kritiek op hóm mik. Op hom wat niks met die Suid-Afrikaners uit te waai het nie, behalwe dat hy die kleinseun van ’n Dorslandtrekker uit Potchefstroom is. Hoe ver terug in die geskiedenis moet jou verbintenis met Suid-Afrika lê om die skuld vir hul regering vry te spring? En hoe lank gaan die skuld hul nageslagte nog bybly?

Dan besef hy: Gotschalk het dit eintlik teen die wittes hier. En daarom ook teen hom – ’n kolonis in die sosioloog se oë. Volgens hom het Swapo die reg om van hulle ontslae te raak.

Dit klink of Anchen die argument met Gotschalk geniet. Haar stem is lig en vrolik toe sy sê: “U weet seker die dag toe Suid-Afrika hier oorgeneem het, was nog net die helfte van die inwoners van die suidelike en sentrale streke oor. Von Trotha se troepe het die land vir hulle skoongemaak. Wag, ek lees vir julle iets.” Sy blaai in haar notaboekie rond.

“Hoor bietjie hier!” Dan lees sy dramaties: “Proklamasie van die opperbevelhebber van die Duitse magte, generaal Von Trotha: Ek, die groot generaal van die Duitse magte, stuur hierdie brief aan die Herero-mense. Herero’s is nie langer Duitse onderdane nie. Alle Herero’s moet die land verlaat. As mense dit nie wil doen nie, dan sal ek hulle met my groot kanonne dwing om dit te doen. Elke Herero wat binne die Duitse grense gevind word, met of sonder ’n geweer, met of sonder beeste, sal geskiet word. Ek sal nie langer enige vroue of kinders ontvang nie; ek sal hulle terugjaag na hul mense toe, of hulle skiet. Dit is my besluit vir die Herero-mense . . .”

“Aldus die groot generaal met die groot kanonne. Hy het nie doekies omgedraai nie.”

Al weet Pretorius van die oorlog teen Maherero, verbaas dit wat Anchen gelees het hom. Waar kom sy daaraan? Van dié proklamasie het hulle geskiedenisonderwyser op Mariental hulle nooit vertel nie.

Gotschalk kyk ergerlik na Anchen. “Sulke besluite is oral geneem. Deur Spanjaarde oor die lot van die Asteke, deur Amerikaanse koloniste oor Rooi Indiane, en selfs deur Russe oor die Tsjetsjniërs – destyds al. Maar die Wêreldoorloë het alles verander.”

“Jy mág nie die geskiedenis so selektief lees nie, Herr Doktor,” vermaan Anchen hom.

Gotschalk se brillense blits. “Dis eenvoudig onvergeeflik as mense die keerpunte in die wêreldgeskiedenis wil ignoreer. En dan nog probeer volhou op hul verkeerde weë.”

Sy hande beklemtoon sy teenkanting. Die verlede is verby, vee sy regterhand horisontaal. Stry teen die onregte van die hede, kap hy met sy wysvinger.

Anchen hou egter vol: “Doktor, almal weet tog ontvolking het hier met die Slag van Waterberg begin. Die vlugpad van die Herero’s het tot in die Kalahari besaai gelê met lyke.”

“Goed, ek gee toe: ons administrasie wás wreed en onmenslik. Maar wat daarna? Wat het die Suid-Afrikaners gedoen?”

Anchen se oë vonkel; sy het Suidwes se geskiedenis gelees. Al weet sy haar punt is bes moontlik verkeerd, gaan sy haar nie met geskiedenisfeite laat troef nie. “Weet u, doktor, dat die Odendaalkommissie die gebied vir swart bewoning verdubbel het?”

Gotschalk snork ergerlik. “Met statistiek kan jy enigiets bewys. Watse grond was dit? ’n Hopelose stuk aarde – berge en woestyn, sand en klippe. Só bar en droog dat niemand daarop kan boer nie. Wat het dit gehelp? Net die mense verder verarm. Terwyl die koloniste sestig persent van Namibië gekry het. Die beste deel!”

“Maar tog was dit ’n mooi gebaar?”

“So mooi soos Odendaal se plan met Katatura,” reageer Gotschalk sarkasties. “’n Lokasie net ver genoeg buitekant Windhoek, met ’n hoë heining rondom, en net een hek wat toegang gee. Of liewer, net een uitgang vir die swartes wat binne saamgehok is.”

Die grondpad klim oor ’n rantjie en onder in ’n vallei sien hulle ’n paar groot anabome, ’n teken van water. In ’n land wat so min het om die lewe vir jou makliker te maak, kon mense al oor die skaduwee van daardie bome baklei het, dink Pretorius.

“Op ’n plaas naby Otjiwarongo het ’n boer klipkoeëls uitgeploeg,” vertel hy sy passasiers. “Rond en groot genoeg vir ’n kanon. Daar’s g’n klippe op daai plaas nie; niemand weet wie het lank gelede met sulke koeëls hier geskiet nie.”

“Voor dit ’n Duitse kolonie geword het?” vra Horst.

“Baie lank voor dit. Ek dink Suidwes ken oorlog. Nog al die eeue tot nou toe maak mense hier oorlog oor grond en water.”

Hy kyk in sy truspieëltjie. Die stof wat onder die wiele opborrel, hang so ver hy kan sien oor die pad. Waar is John-hulle? wonder hy. Hy het John ’n halfuur vooruit laat ry om nie in sy stof te wees nie. Nou hoop hy om hulle skielik voor langs die pad te gewaar, besig om koffie te maak onder ’n witgatboom.

Oor politiek verkies hy die kantlyn, maar Gotschalk en Anchen het hom in hul skrum betrek. Hy het nog nooit oorweeg of Suidwes se ylverspreide bevolking die gevolg is van hul skermutselinge met die Duitse troepe nie. Baie Herero’s het omgekom, ja, ook baie Namas, maar sóveel dat daar nou minder mense in Suidwes woon as toe? Het hulle nie algaande maar weer meer geword nie? Kon die land ooit meer mense en hulle vee dra as nou? Dalk het Ovambo’s eenvoudig die plek ingeneem van al die mense wat deur die Schutztruppen doodgeskiet is.

Op ’n hoogte wat nie van die ander hoogtes in die klipperige landskap onderskei kan word nie, het John sy Land Cruiser geparkeer. Só dat sy passasiers ’n goeie uitsig het op ander hoogtes in die verte, grys en bruin en oker tot wasig blou op die gesigseinder.

Hulle het almal uitgeklim en staan en koffie drink. En toon weinig belangstelling in die landskap wat in alle rigtings dieselfde lyk.

Horst Kuhn klim uit en stap na Schiele toe. Hy gee hom ’n ligte plukkie aan sy hempsmou en wys dan glimlaggend na Gotschalk. “Flussies het ons geleerde reisgenoot hier ons ingelig oor die verlatenheid van hierdie landstreek. Indien julle dalk so in die ry daaroor gewonder het.”

Toe hy merk dat hy almal se aandag het, gaan hy kamstig pedanties voort: “Eers was dit glo dig bevolk hier. Sterk inheemse stamme het hul kuddes in die valleie laat wei. Toe kom die Schutztruppen en delg die mense uit. Deeglike werk – wat later deur die Suid-Afrikaanse polisie en soldate voortgesit is. Helaas was niemand tevrede voor hulle die gebied volledig ontvolk het nie. Daarom is die plek vandag so leeg.”

Almal lag behalwe Gotschalk. Hy benader sake ernstig. Hy vind niks in Suidwes vermaaklik nie. Vir hom skreeu die rante en vlaktes onreg.

Hy snork vererg. “Dis nié wat ek gesê het nie, Kuhn.”

“Die barheid van hierdie vallei kan tog jou veralgemening mooi illustreer, Herr Doktor.”

“Dat die koloniste die land so yl bevolk gelaat het,” voeg Anchen by.

Dit geval Gotschalk nog minder. “Dit het net daartoe bygedra,” bars hy uit. “Waarom die armoede? Waarom het ontwikkeling agterweë gebly?”

Schiele gooi die laaste bietjie koffie in sy beker op die grond uit, en terwyl hy na die streep spatsels wys, sê hy: “Wil iemand dalk dié klippe besproei? Dalk was hier uit die staanspoor net te min om te ontwikkel, Herr Doktor.”

Pretorius kyk besorg na Gotschalk. Die argument dreig om ’n lelike wending te neem. Die sosioloog se stroewe gesigsuitdrukking wys dat hy klaar de duiwel in is. Hy voel dalk sy akademiese statuur is op die spel.

“Julle is almal verkeerd,” probeer John die gesprek ontlont. Hy kan nie bekostig dat daar kwaaivriendskap tussen die toerlede is nie.

Toe bied hy hulle Brits, die geoloog, se verduideliking: “Die woestyn het deur die eeue al groter geword, al dieper die binneland in, as gevolg van klimaatsverandering. Veeboere kon nie meer weiding vir hul vee kry nie, toe trek hulle oos en noordoos, na die Kalahari en die Kavango, en los die droë sentrale gebied vir die Namas. Later kon nie eens meer die Boesmanjagters in die Erongoberge oorleef nie. Al was daar water en welige plantegroei in enkele afgesonderde klowe, het die wild te min geraak. Net die swartrenosters het nog nors aanhou wei tussen die doringstruike.”

“Die Damaras het die Boesmans uit Damaraland gedryf.” Gotschalk bly iesegrimmig.

Wat Anchen, die platjie, laat volhou: “Onder druk van die koloniste, nè?”

“Verdomp! Kry nou end met die onsin.”

Asof hy aan sy treiteraars sy minagting wil toon, stap Gotschalk enkele treë weg, draai sy rug op die geselskap en urineer op die klippe.

Pretorius haal die groot militêre kaart uit sy Land Cruiser en volg die pad wat hulle gery het met sy vinger. “Nog ’n paar uur en ons is daar,” sê hy. Gelukkig vra niemand wat by daardie bestemming wag nie.

John trek vrolik weg met die Schieles en Monika; die stof borrel onder die wiele van sy voertuig op.

Pretorius sit op die modderskerm van die Land Cruiser en hou ongemaklik sy skoorsoekerige passasiers dop. Hy wag dat die stof effens gaan lê sodat hy John-hulle kan volg. Toe hy wil inklim, sien hy dat ’n agterwiel pap is.

Hy haak die domkrag onder die buffer, draai die twee moere los wat die spaarwiel vashou en lig die wiel ergerlik van die bak af. ’n Paar minute later is hy klaar, laat sak die domkrag en tel die pap wiel op die bak.

Sy reisgenote klap hande. “Wat sou ons sonder jou gedoen het?” vra Anchen bewonderend. “Ons twee manne saam sou nie eens daardie wiel kon optel nie.”

Wat hom verleë laat lag, die spanning vergete.

Die ander vennoot

Подняться наверх