Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 12

Bidsprinkaan en die Maan

Оглавление

Jeanette Ferreira


Prelees – groepbespreking

Die nomadiese San of Boesmans se kultuur is die oudste in Afrika. Tradisioneel het die mans met pyl en boog op groter wildsoorte jag gemaak. Hulle dieet is aangevul deur die vroue wat plantmateriaal, insekte en kleiner diertjies versamel het. Plant en saai en ’n kudde diere vir melk of vleis was nooit deel van hulle kultuur nie. Die San het ook nooit permanente wonings opgerig nie, slegs skerms van vel of tak, waarna hulle verder agter water en kos aangetrek het. Tot vroeg in die vorige eeu het hulle nog hulle tradisionele leefwyse in die Kalahari en dele van Botswana voortgesit maar hulle het grootliks verwesters toe hulle jagvelde deur proklamering verbode jaggebied geword het.

Daar is verdeeldheid oor hulle benaming. Sommige meen die benaming “Boesman” is vernederend en ander voel “San” is beledigend. Daar is nog nie uitsluitsel oor wat hulle genoem moet word nie.

Die verhaal

Lank, lank gelede in die Groot Rooi Woestyn het Bidsprinkaan na Maan sit en kyk. Hy is nou moeg vir die ding dat Maan elke aand deur die lug vlieg en almal hulle daaraan vergaap.

“Kyk, daar gaan Maan,” sê hulle. “Hoe mooi is sy nie met haar glimlag nie. Wanneer Son gaan agter die duine gaan lê en slaap, is dit sy wat vir ons lig gee. Sy is ’n wonderlike god want sy was dood maar nou lewe sy weer.”

Elke keer wat sy so maer word dat sy net ’n strepie met twee skerp punte is, gaan sy dood. Maar nie lank nie of sy word weer vet en sy lewe weer.

O, Bidsprinkaan was so jaloers op Maan. Oor sy so mooi was, ja. Maar veral omdat sy doodgaan en dan weer lewe.

Asof Bidsprinkaan nie ook ’n god is nie! Ongelukkig nie ’n god omdat hy mooi is nie. Nee, daarvoor is sy harige pote te lelik. Hy is ’n god omdat hy hom in ander diere kan verander. Allerhande diere, hoor. Sommer in ’n luis wat iemand lekker kan laat krap. Of in ’n miswurm, hoekom nie? Ag, hy kan ’n slang word as hy iemand die skrik op die lyf wil jaag.

En as hy nou regtig die dag die tweebeenjagters met hulle pyle en boë om die bos wil lei, word hy ’n elandbul. Dan laat hy hom vir baie dae en baie nagte deur die Groot Rooi Woestyn jaag. En as hy moeg raak vir die spulletjie, verander hy weer in ’n bidsprinkaan en sit hy iewers op een van die skaars wit grashalms en lag. Of eintlik hoog in ’n kameeldoringboom, waar hy beter kan sien hoe die tweebeenjagters tot die dood toe verbaas rondstaan oor die elandbul wat sonder spoor verdwyn het, hier voor hulle oë.

Dit is hoekom hy die bedrieërgod is. Hy kan almal so bedrieg dat hulle nie weet hoe hulle dit het nie. Ja-nee, hy verdien daardie naam. Maar o, hy wil so graag ook iets van Maan se mooiheid hê, hy wil so graag dood neerslaan en voor almal se oë weer begin lewe. Hoe wonderlik sal dit nie wees nie as almal sê o, hier is die bedrieërgod en kyk net hoe pragtig is hy, hoe pragtig. En dis nie al nie, hy was dood en nou lewe hy weer! Nes Maan.

Goed, hy weet hy gaan dit nooit regkry om hom in Maan of iets mooiers as Maan te verander nie. Hoeveel keer het hy nie al probeer nie. Elke keer wat hy vir homself sê: “Verander!”, kyk hy op twee luispote af, of ’n slang se glibberige lyf as hy agtertoe loer, of ’n vieslike miswurm. Wanneer hy in ’n elandbul verander, al wil hy in Maan verander, loop hy sommer van moedeloosheid die naaste ding by en gaffel dit met sy twee skerp horings.

En die ding met die dood is, as hy wat Bidsprinkaan is die dag dood is, is hy dood. Hy is heeltemal dood.

Maar die plan wat lank terug in sy kop begin broei het ... As hy Maan kan vang en hy spring wydsbeen op haar rug en hy hou en hy hou, is hy mos ’n groter god as sy. Dan is hy mos haar meester.

Dan sal almal sê: “Kyk so, daar ry Bidsprinkaan op Maan se rug. Hy is meester oor Maan anders sal Maan hom mos afgooi. En ’n meester kan onmoontlik leliker as sy ryding wees. ’n Meester is ’n meester. Nou sal hy natuurlik ook weer saam met Maan lewe wanneer sy doodgegaan het en weer begin lewe.” Dit is wat hulle sal sê.

En dit is wat Bidsprinkaan mos wil hê.

Die vraag is: Hoe vang hy Maan daar hoog in die lug? Hy moet haar mos gevang kry voor hy wydsbeen oor haar rug kan spring en op haar ry.

Bidsprinkaan het gedink en gedink en gedink.

Kyk, ’n riem is ’n slim manier om iets te vang.

A ha, maar is mos rieme in die omte. Die tweebeenjagters loop mos met stertrieme, loop hulle nie? En hulle loop mos met hulle kokers aan ’n riem of wat oor die skouer. Hy het mos al gesien; dis nie verniet dat hy twee oë het wat goed kan sien nie. Hy kan sommer gelyk hierdie kant sien en daardie kant sien en hy kan sy kop so ver draai dat hy agter hom ook kan sien, hierdie kant en daardie kant gelyktydig. Dit is mos hoe ’n god moet kan sien.

Maar om nou ’n riem te gaan vaslê terwyl die jagters om hulle vuur sit en stories vertel of danse dans; dit kan ’n kêrel suur bekom as iemand hom daar vastrap, of hy nou sy lyf luis of miswurm hou. Voor hy hom kom kry, word hy tussen duim en voorvinger doodgeknip of hy beland in sy miswurmlyf tussen die vroue se veldkos. Maak hy hom ’n slang, braai die tweebene sommer in ’n japtrap sy laaste vetjies vir hom uit. Wie jy ook al is, jy moet vir jou skaars hou daar waar die rieme los lê, net reg vir die vat en wegdra.

En op die daad kry Bidsprinkaan ’n bielie van ’n plan. ’n Meester van ’n plan, hy wil mos die Maan se meester word. Hy verander hom in ’n elandbul.

En hy hardloop sommer voor die tweebeenjagters met hulle pyle en boë uit. Hy skop agterop. Hy tart vir hulle. Toe gaan staan hy. En hy spring weer weg. En toe, meteens, lig hy die een hoef asof hy sleg seergekry het. Ja, hy hou vir hom kruppel.

Hy wag tot hulle so naby aan hom kom dat hy die wit van hulle oë kan sien. Toe vlie hy onder hulle in dat jy net pyle en boë sien spat.

En hy gaffel met mening, hoor. Hier pluk hy met sy skerp horings ’n riempie van ’n koker los, daar piets hy ’n stertriem om ’n heup los. Só bewerk hy vir hulle. En hy haak sy horings om die riempies wat bly lê het. En hy is oor die duin en hy is weg. Die spulletjie jagters kaalboude agterna.

“Verander!” beveel hy.

En wie sal nou dink die bidsprinkaan wat so stilletjies hier tussen die gesteelde rieme agter ’n polletjie gras sit, was netnou nog ’n elandbul?

Die oomblik wat die jagters droëbek na hulle skerm toe verdwyn, spring Bidsprinkaan aan die werk. Hy werk en hy werk en hy werk.

En toe Maan daardie aand oor die eerste rooi duin loer, is Bidsprinkaan reg vir haar.

Net vir so ’n bietjie ekstra hoogte klim hy blitsig die naaste kameeldoring uit.

En hy gooi. Mis!

Hy gooi weer. Mis! Sakkerloot!

En hy gooi weer. Mis! Sakkerloot!

Sakkerloot, sakkerloot! Vloeksteen! Tsamma se stingel en duisendpoot se groottoon!

Briesend smyt hy die riem grond toe en klim uit die boom.

Toe ruk hy sy kop regop en kyk vorentoe en terug. Wat dreun dan nou so?

Dit is ’n wolk, moet hy sien toe hy opkyk, ’n wolk so vet soos die uier van ’n elandkoei wat in die melk is.

En die wolk beginne gooi.

Natuurlik, dit is mos nou sewe jaar laas dat daar reën in die Groot Rooi Woestyn was. Dit is tyd.

En die wolk gooi en sy gooi.

Toe is die wolk oor en die reën is verby.

Nou is dit vir weer tsammas uitgrawe en volstruisdoppe vol water maak om te gaan wegsteek as die tweebene wil water hê. Of grawe en grawe en dit met ’n dik grassie se steel uitsuig. Net hier in ’n kameelhout se mik lê nog ’n mondjievol water.

En daar in die hol klip blink lê nog ’n watertjie wat opgedam het. ’n Groterige hol klip, hy moet sê. So groot dat hy glad nader staan om die spul water so bymekaar van ’n kant af te bekyk.

En daar, sapperloot en vloeksteen, tsamma se stingel en duisendpoot se groottoon, daar in die holklip lê Maan. Sy lê daar houtgerus en blinkvet. Asof dit nie genoeg is dat hy aand vir aand moet kyk hoe sy deur die lug ry nie, het sy haar hier in ’n holklip ook nog kom tuismaak.

Vannag is die nag.

Bidsprinkaan doen nie eens moeite om sy rieme te gaan bymekaarmaak waar dit geval het nie. Hy gryp die naaste klip en gooi na Maan dat die water spat.

Hy het haar, o, hy het haar! Al het hy haar nou nie gevang nie, hy het haar goed bygekom!

Maar wat is so seer? En waar is Maan se stukke, verbrands, waar?

Dit is hier in sy oë, man. Nie minder nie as twee van haar skerp stukke het in sy oë gesteek, man.

O, o!

“Maan?”

Daar kom geen antwoord nie.

Hy durf nie ’n oog toemaak nie of die skerp stukke steek hom dat hy van pyn op sy agterpote spring.

“Maan, dis verduiwels seer, vir ingeval jy nie weet nie. Vat terug jou stukke of jy gaan dood.”

Maar daarvoor sal sy natuurlik nie skrik nie, sy kan mos weer lewe nadat sy doodgegaan het. Dit gaan vir jou lelike werk afgee, hierdie pyn in sy twee oë.

“Maan? Kragtie, só kan dit nie aangaan nie. Vat jou stukke terug, Maan.”

Daar kom nie antwoord nie.

En só sit hy die hele nag deur met die skerwe in sy oë. Dit is so seer, hy weet nie eens waar om te vat om die skerwe uit te pluk nie. Hy kan dan glad nie sien nie, man! Die volgende dag ook nie. En die nag daarna. Die stukke sit waar dit sit en hy wat Bidsprinkaan is, moet sien kom klaar met geen slaap nie. Hy kan nie ’n oog toemaak nie. Hy kan nie ’n steek sien nie, oopoë en al.

“Maan, dit was ’n ongeluk, daardie klip in die water. Ek het gemik vir ’n springhaas wat kom water drink het. Regtig.”

Daar kom nie antwoord nie.

Maan is natuurlik heeltemal goed daaraan toe sonder ’n stuk of wat. Dit is mos hoe sy al honderde en duisende jare deur die lewe gaan. Nou hoor sy hom kamma nie.

Hy maak hom klaar om dood te gaan, heeltemal dood te gaan.

“Maan, laat ek nou maar eerlik wees. Ek wou jou vang. En ek het my bloedig vererg toe jou hier in die holklip sien lê. Maar nou is ek jammer.”

Daar kom nie antwoord nie.

“Ek sê dan ek is jammer. Hoe dan nou? Jy kan mos nie so met my maak nie, Maan?” huil Bidsprinkaan.

“Maan,” smeek hy ná die soveelste nag, sy voorpote eerbiedig saamgevou, “ag, ek bid jou, liewe Maan, doen iets. Ruk jou reg en kry jou stukke bymekaar en seil elke nag so lank as wat jy wil deur die lug, maar red my, arme Bidsprinkaan. Jy is my meesteres, Maan, en ek is jou onderdaan. Vergewe my tog maar?”

En Maan, omdat sy ’n god is, het hom vergewe en haar mooi, sagte glimlag geglimlag soos net sy kan.

Bidsprinkaan kon weer sien. Die Groot Rooi Woestyn, die tweebeendiere en die vierbeendiere, hy kon hulle almal sien. Snags wanneer die moegheid hom inhaal, kon hy sy oë toemaak en slaap.

Hoe het hy haar nie uit sy hart uit bedank nie.

Met sy twee growwe kloue saamgevou onder sy ken, het hy oor en oor dankie gesê. “Maan, grote, sagte, lieflike Maan. Solank ek lewe, sal ek tot jou bid om te jou bedank. En my kinders en hulle kinders en hulle kinders, ons almal sal jou altyd tot jou bid om jou te bedank.”

Daarom sit Bidsprinkaan vandag nog met sy twee growwe kloue saamgevou om sy dankgebed vir Maan te bid. Hy bid en hy bid en hy bid vandag nog.

Woordverklarings

as iemand hom daar vastrap (if he is caught in the act of stealing) – as iemand hom daar vang

bielie van ’n plan (a great plan) – groot en goeie plan

droëbek (have had nothing to eat or drink) – sonder dat iemand iets te eet of te drink gekry het

goed bygekom (to feel satisfied that someone has been hurt badly) – goed seergemaak

goed daaraan toe (someone will be fine) – dit gaan goed met iemand

in die omte (in the vicinity) – in die omtrek, nabyheid

jy moet vir jou skaars hou (be careful or you will be caught out) – jy moet wegbly of versigtig wees

kom tuismaak (someone acts as if this is his/her home) – optree asof dit iemand se tuiste is

kyk so (now look) – kyk net

lelike werk afgee (a problematic situation will be created) – probleme skep

loop die naaste ding by (rush at, attack) – storm die naaste ding

’n riem of wat (a few ropes) – ’n paar rieme

’n riem vaslê (steal a rope) – ’n riem steel

reg vir die vat en wegdra (ready to be picked up and get stolen) – gereed om gesteel te word

ruk jou reg (pull yourself together) – kom reg

sakkerloot (damn/exclamation of anger or surprise) – uitroep van verbasing of woede

sien kom klaar (have to do without it) – maar regkom

spring aan die werk (set to work) – begin werk

suur bekom (it will rue someone) – probleme ondervind, in die moeilikheid kom

tot die dood toe verbaas (surprised to death) – vreeslik verbaas

vlie onder hulle in (attack them/rush at them) – bestorm hulle

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Waarom lyk dit asof Maan doodgaan en dan weer leef?
2.Wat doen die bidsprinkaan in die werklikheid wanneer hy sy pote saamvou?
3.Skryf die herhalende frase neer waaruit ons aflei Bidsprinkaan gaan nie gehelp word nie.
4.Skryf die uitdrukking neer wat twee keer in die verhaal voorkom om Bidsprinkaan se verbasing en woede uit te druk.
5.Watter god in die verhaal is vroulik? Hoekom sê jy so?
6.Noem twee dinge wat Bidsprinkaan doen wat wys hy is ’n bedrieërgod.
7.Beskryf die lewensles in hierdie verhaal met ’n vaste uitdrukking in Afrikaans en verduidelik hoekom dit op die verhaal van toepassing is. Leidraad: gat.
8.Watse verklaring bied die verhaal vir ’n natuurverskynsel? Leidraad: Bid.
9.Hoe weet jy hierdie verhaal is baie oud? Noem twee redes.
10.’n Mens of dier kan mos net dood wees, nie “heeltemal dood” nie. Wat word bedoel met “heeltemal dood”?

Kies drie maats uit die klas vir die rolle van die verteller, Maan en Bidsprinkaan. Hierdie drie maats moet nou die verhaal vir die klas vertolk.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх