Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 9

Ganekwane en die groen draak

Оглавление

Corlia Fourie


Prelees – groepbespreking

 Mense noem vandag soms diere wat miljoene jare gelede uitgesterf het ook drake. Dit is natuurlik nie korrek nie want dit is dinosourusse. Is die draak in die illustrasie ’n dinosourus of ’n draak in ’n fiktiewe verhaal? Hoekom sê jy so?

 ’n Sangoma en ’n moetiedokter (ook gespel muthi/muti) is nie dieselfde nie. Die sangoma (gewoonlik 'n vrou) is ’n gerespekteerde, tradisionele geneser en iemand wat allerlei dinge kan sien wat ander mense nie kan sien nie. Sy kan ook die toekoms voorspel. Die moetiedokter is ’n kruiedokter. Hy ken die veldmedisyne goed en hy sal nooit iemand toor nie. Dikwels is hy/sy ook die een wat baie volksverhale ken en dit vir die kinders oorvertel.

Die verhaal

Eendag het mense hulle dorp hoog teen die berg op gebou sodat hulle hul vyande van ver af kon sien aankom. Vyande soos mense van ander stamme, en wilde diere soos leeus en luiperds, olifante en renosters.

Maar toe klim ’n groen draak van die ander kant af oor die berg en gaan woon in ’n grot hoër op teen dieselfde berg. Die groen draak blaas rook en vuur en die mense raak bang.

Toe stuur die hoofman ’n boodskapper met koperarmbande na die groen draak toe. Die boodskapper sê: “Ons weet jy is nie rêrig wreed nie, liewe draak. Ons weet jy het eintlik ’n baie sagte hartjie wat jy onder jou groen skubbe wegsteek. Ons weet as ons net laag voor jou neerbuig, sal jy ons niks doen nie, liewe, goeie ou draak.”

Die draak kyk na die man met die koperarmbande en hy luister ook na hom. Toe hy klaar gekyk en geluister het, sluk hy die man saam met die koperarmbande in.

Die dag daarna stuur die hoofman nog ’n boodskapper na die draak. Die boodskapper neem ’n leeuvel vir die draak. Die boodskapper kniel voor die draak

en sê: “O, magtige monster, o, grootste ondier, o, draak van drake …”

En terwyl hy nog so praat, sluk die draak hom saam met die leeuvel in.

Die derde dag stuur die hoofman nog ’n boodskapper na die draak. Die boodskapper val op die grond voor die draak neer. Toe lig hy sy kop so ’n bietjie. Net ’n bietjie, sodat die draak darem kan hoor wat hy sê.

“O, prins van drake, jy is sowaar wild, o, koning van drake, ons kan nie teen jou veg nie, want ons is nie drake nie. Ons is net arme ou mensekindertjies ...”

“En dis hoekom julle so lekker is!” brul die draak en sluk ook die derde boodskapper in.

Toe weet die hoofman nie meer wat om te doen nie. Hy vra raad by die stam se sangoma. Die sangoma moet ’n toorwoord sê om die draak weg te toor.

Maar die sangoma skud net sy kop. Toe sê hy: “Ek kan ’n jong man op ’n meisie verlief maak, maar ek kan nie drake wegtoor nie.”

“Dóén iets,” sê die hoofman kwaai.

Die sangoma gooi sy sakkie vol bene op die grond uit en kyk mooi hoe dit geval het. Hy kyk lank en toe sê hy: “Die bene praat. Die bene vertel die groot storie. Die bene sê die storie-ouma moet hierheen kom.”

Die hoofman stuur dadelik iemand om die storie-ouma te gaan haal en toe sy daar aankom, sê die toornaar: “Die bene sê die storie-ouma moet na die groen draak gaan. Die storie-ouma moet vir die groen draak stories vertel. Mooi stories. Baie stories. Dan sal die groen draak van ons vergeet.”

Maar die storie-ouma lag met haar dun stem soos ’n hen wat kekkel. Haar gesig trek inmekaar soos ’n keiappel wat te lank in die son gelê het en haar twee geelwit botande steek by haar mond uit.

Sy sê: “Ek is te oud en te lelik. Die groen draak sal nie na my wil luister nie. Maar my kleinkind Ganekwane is jonk en mooi en sy ken al my stories.”

Toe sê die hoofman, die sangoma en al die mense: “Ja, Ganekwane moet na die groen draak gaan. Sy is die mooiste meisie in ons dorpie. Die groen draak sal haar nie opvreet nie.”

Haar ouma en die ander vroue help Ganekwane mooi aantrek. Hulle gee vir haar ’n kort rokkie van luiperdvel, ivoor- en koperarmbande en toe sy dit aanhet, vleg hulle haar hare in baie klein vlegseltjies.

Daarna gee haar ouma vir haar ’n blaar van die stinkhoutboom om onder haar tong te sit. Die blaar sal haar tong die regte woorde help vind. Toe is Ganekwane reg om na die monster se grot toe op te klim.

Die mense van die dorpie klim saam met haar totdat hulle die draak bo in die grot hoor blaas. Toe draai hulle om en hardloop teen die berg af, verby die dorp, die veld in.

Net Ganekwane bly oor. Net Ganekwane klim verder. Net Ganekwane klim tot by die grot waar die groen draak woon.

“Wie’s jy?” vra die groen draak. “En hoekom bly jy staan? Hoekom val jy nie ook op die grond neer soos die ander mense nie?”

“Ek is Ganekwane.”

“Jy is baie mooi, Ganekwane. Jy sal seker baie lekker smaak ook.” Die groen draak steek sy tong uit en lek oor sy bek.

Ganekwane skrik baie groot, maar sy probeer dit wegsteek. Sy sê: “Jy sal jammer wees as jy my insluk.”

“Hoekom? Het jy vuur aan jou vel?”

“Nee.”

“Het jy ’n assegaai agter jou rug?”

“Nee.”

“Het jy klippe tussen jou tone?”

“Nee.”

“En al het jy dit ook gehad, skrik ek nie vir jou nie. Ek sluk mense, klippe, assegaaie en vuur in sonder dat ek dit weet. Hoekom sal ek dan jammer wees as ek vir jou insluk?”

“Omdat ek mooi stories vertel.”

“Wat is stories?” vra die draak.

Toe vertel Ganekwane vir die groen draak van Hlaulu en die bosdier.

Die draak luister.

Toe Ganekwane klaar vertel het, sê die draak: “Nog ’n storie, Ganekwane.”

En toe hy dít sê, bars sy vel oop soos ’n insek s’n en hy kruip met ’n nuwe vel uit sy oue. Maar hy is nie groter, soos insekte groter word wanneer hulle vervel nie. Hy is kleiner.

Ganekwane vertel toe vir hom van Iquina en die man sonder hart. Sy dink so oor die regte woorde dat die blaar onder haar tong uitspring en uit haar mond vlieg en voor die draak se poot val.

Die storiemeisie skrik so groot dat sy haar woorde insluk.

Maar die draak kom niks agter nie. “En toe, Ganekwane?” vra hy.

En Ganekwane vertel en die draak luister met sy groen kop skeef gedraai. Luister en luister. En terwyl hy so luister, sit hy sy poot bo-op die blaar.

Sonder die blaar om haar tong te help, vertel Ganekwane die storie klaar. En toe sy klaar is, sê die draak: “Nog ’n storie, Ganekwane.”

En toe hy dít sê, bars sy vel weer oop en klim hy met ’n nuwe vel uit sy oue. En hy is nog kleiner.

So hou hulle aan, Ganekwane en die draak. Sy hou aan vertel. Hy hou aan luister en vra vir nog stories. Hy wat elke keer kleiner word. En toe Ganekwane al die stories vertel het wat sy ken, begin sy van voor af, totdat die draak so klein is dat sy hom in haar hand kan optel.

Toe die draak sien hoe klein hy is en hoe swak hy is, bewe hy soos Ganekwane gebewe het toe hy gesê het hy gaan haar opvreet.

En Ganekwane sien dit en sy loop met die drakie in haar hand uit die grot tot buite in die helder sonlig.

Die mense van die dorpie kyk hoe Ganekwane teen die berg af loop en hulle kom uit hulle wegkruipplekke. Hulle stap na haar toe en sê: “Dis oor Ganekwane so mooi is dat die draak haar nie opgevreet het nie.”

“Moenie die blaar vergeet nie,” sê haar ouma. “Die stinkhoutboom se blaar is baie sterk umuthi. Dit het haar tong met die stories gehelp.”

Maar Ganekwane skud haar kop en sê: “Nee, dit was die stories. Nét die stories.”

En Ganekwane wys vir hulle die drakie in haar hand.

Toe al die mense so vir hom kyk, word die drakie baie, baie skaam en sy tongetjie skiet uit sy bek uit en hy vang ’n vlieg.

En van toe af tot nou toe word daar stories in daardie dorpie vertel. En van toe af tot nou toe pas die drakie in die kinders se hande.

Woordverklarings

assegaai – tradisionele spies

beentjies – dolosse, beentjies van diere (of mense!) wat towenaars gebruik om hulle towerkrag te versterk

keiappel – veldvruggie

kleinkind (grandchild) – iemand se kind se kind

mensekinders – mense, nie gevaarlik nie, nederig

rêrig (really, truly) – omgangstaal vir “regtig”

sangoma (witchdoctor) – toordokter, tradisionele mens wat oor towerkragte beskik waarmee hy/sy gewoonlik mense kwaad aandoen, gebruik beentjies om te voorspel, dinge te sien wat gewone mense nie kan sien nie

skubbe (scales) – harde lae op die vel

stamme (tribes) – mense van ’n ander gemeenskap

stinkhoutboom (stinkwood) – boomsoort eie aan Suid-Afrika

storie-ouma – ’n ou vrou in die gemeenskap wat bekend is vir stories vertel

toornaar – omgangstaal vir “towenaar”, iemand wat kan toor

vlegsel (string of plaited hair) – hare wat volgens patroon gevleg is

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Waarom sal mense van ander stamme vyande wees? Leidraad: tyd wat lankal verbygegaan het.
2.Hoekom lyk die storie-ouma se gesig soos ’n keiappel wat te lank in die son gelê het?
3.Wat is die storie-ouma se kleinkind se naam?
4.Die koning se boodskappers en Ganekwane se manier om die draak te laat kalmeer, verskil. Noem twee verskille, in jou eie woorde, in volsinne.
5.Dink jy Ganekwane is dapper of net slim? Skryf in twee volsinne hoekom jy so sê.
6.Noem drie kenmerke van volksverhale in hierdie verhaal.
7.Herken jy iets in hierdie verhaal wat jou aan ’n dier in die werklike lewe laat dink? Leidraad: vel.
8.Wat is die verskil tussen die sangoma en die storie-ouma in hierdie verhaal? Skryf vier volsinne in jou eie woorde.
9.Het die stories, die stinkhoutboom se blaar, of al twee Ganekwane die draak help oorwin? Antwoord met twee sinne in jou eie woorde.
10.Lys die basiese storielyn in hierdie verhaal puntsgewys. Sorg dat die volgorde van die gebeure reg is.

Postaktiwiteite (verryking)

 Hierdie verhaal sê nie vir ons wie is Hlaulu of Iquina nie. Maar ons het Hlaulu ontmoet in die vorige verhaal, “Hlaulu en die bosdier”. Stem jy saam?

 Vergelyk jou antwoord 10 by “Ganekwa en die groen draak” en jou antwoord 10 by “Hlaulu en die bosdier”. Daar is heelwat ooreenkoms. Dink jy hierdie twee verhale is verskillende weergawes van dieselfde verhaal? Verduidelik jou antwoord.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх