Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 5

Die seun met die towerpenseel

Оглавление

Linda Rode


Prelees – groepbespreking

 Bespreek in groepverband wat julle weet van potyster en sweiswerk.

 Bespreek ook die sensitiewe saak van families en as mens skaam is vir jou familie.

 Watter raad sal julle aan een van julle maats kan gee wat skaam kry vir sy/haar familie?

 Watter leidrade gee die illustrasie oor die twee karakters en die verhouding tussen hulle?

 Hou jy van teken?

 Noem al die instrumente waarmee mens kan teken. Sê watter daarvan baie duur is.

 Op wat alles kan mens teken?

Die verhaal

’n Arm seun met die naam Ma-Liang was baie lief vir teken. Sy ouers was al twee dood en hy het elke dag vir die ryk mense gaan riet en bamboes sny om ’n geldjie te verdien. Daar op die oewer van die rivier teken hy dan met ’n riet in die riviersand. Wanneer hy water uit die rivier moet gaan haal, teken hy met nat vingers op die gladde rotse. En met ’n stukkie houtskool van ’n uitgebrande vuur teken hy vir die armes voëls en vase en Chinese lanterns om die mure van hul huise mooi te maak.

Ag, as ek net ’n regte penseel kon hê, soos die groot skilders, wens hy dan. ’n Dun, fyn verfkwassie.

Een nag droom hy daar staan ’n ou-ou man met ’n lang dun baard en ’n lang haarvlegsel by hom. “Ek gee vir jou ’n baie spesiale penseel,” sê die ou man in sy droom. “Wees versigtig hoe jy dit gebruik. Doen altyd goed aan ander mense.” En hy druk ’n goue penseel in Ma-Liang se hand.

Toe Ma-Liang wakker word, sug hy. Hy sou so graag so ’n penseel wou hê, maar hy het net genoeg geld om kos te koop. Jou waarlik, toe hy afkyk op sy hand, sien hy hy hou ’n verfkwassie vas met ’n goue steel. Ma-Liang se hart bons van vreugde.

Met vinnige hale skilder hy op die muur. ’n Lieflike pou met ’n waaierstert van goud-en-pers en blou en smaraggroen vere. Toe Ma-Liang die laaste kolletjie op die stertvere klaar geteken het, sprei die pou sy vlerke en gaan sit op ’n wilgerboomtak.

Ma-Liang kan sy geluk nie glo nie. Hy is so lus vir ’n bakkie rys. Gou skilder hy ’n mooi versierde kommetjie hoogvol rys. Toe hy sy penseel neersit, staan die bakkie rys voor hom, reg om geëet te word.

Van toe af help Ma-Liang die arm mense. Hy skilder rysvelde net reg vir oes. As hulle ploeg breek, skilder Ma-Liang ’n nuwe. En vir die hongeriges skilder hy vis wat op die kole braai, of groot bakke kragtige hoendersop. “Moenie dat die keiser dit hoor nie,” sê Ma-Liang dan. Want die keiser van daardie tyd was baie inhalig en het nooit iets vir die armes gegee nie.

Maar op ’n dag hoor die keiser tog van die towerpenseel en hy stuur sy soldate om Ma-Liang met sy penseel en al voor hom te bring. “Ek hoor jy kan die mooiste pou op aarde skilder,” sê die keiser. “Skilder dadelik een vir my!”

Maar Ma-Liang verf blitsvinnig ’n kwaai ou haan wat dadelik lewe kry en om die keiser se kop fladder en kraai.

Die keiser word baie kwaad. “Gee hier die kwas,” sê hy en ruk dit uit Ma-Liang se hand. Daarna laat hy Ma-Liang in die tronk gooi.

Daardie aand nooi die keiser al sy ryk vriende na ’n verrassingsparty. Hy wil hulle wys hoe hy met die towerpenseel kan skilder. Hy vryf sy hande en stoot sy kroon op sy kop reg. Hy lig die goue penseel en skilder ’n berg van pure goud. Maar toe hy klaar is, bly dit net ’n tekening. Hy verf ’n kamer vol juwele wat flonker en skitter in reënboogkleure. Maar toe hy klaar is, bly dit net ’n prentjie. En dit gebeur met elke tekening.

Toe laat haal hy Ma-Liang uit die tronk. “Ek sal jou loslaat,” sê hy, “maar dan moet jy vir my skilder presies wat ek sê. Anders laat ek jou kop afkap. Toe, teken vir my ’n berg van pure goud!”

En Ma-Liang skilder ’n pragtige berg van goud, maar hy skilder dit só dat dit op ’n verre eiland in die grote see staan en glinster in die son.

“Jou onnosele seun,” raas die keiser. “Skilder nou vir my ’n reuseskip waarmee ons na die goue berg kan vaar.”

En Ma-Liang skilder ’n reusedrakeskip wat op die see lê en wieg. Die keiser vryf sy hande en hy en al sy ryk, inhalige vriende klim op die skip.

“Toe, skilder nou vir my ’n seewind sodat ons kan uitvaar na die goue berg!” roep die keiser toe.

En Ma-Liang teken so ’n ligte briesie wat die skip net effentjies roer.

“Domkop!” skel die keiser van die skip af. “Maak soos ek sê, skilder ’n stormwind sodat ons vinniger by die goud kan uitkom!”

Toe skilder Ma-Liang ’n loeiende stormwind wat briesend teen die drakeskip vaswaai en dit laat skommel en kantel en laat wegdryf in die mis, ver verby die eiland met die berg van goud. So ver dat niemand die keiser ooit weer gesien het nie.

Ma-Liang gryp sy goue penseel styf vas, hy skilder ’n vurige swart perd en hulle galop terug na sy eie mense – die arm mense wat nooit iets van hul skatryk keiser gekry het nie. En Ma-Liang bly tussen hulle en skilder vir hul net wat hulle regtig nodig het, en hulle het nooit weer honger gely nie.

Woordverklarings

domkop (blockhead) – iemand wat dom is of dom dinge doen

flonker (sparkle) – skitter, blink

houtskool (charcoal) – oorblyfsel van hout wat uitgebrand het

inhalig (greedy) – gierig

kantel (topple, cant) – omval

loeiend (roaring) – harde blaasklank

oppervlakte (surface) – boonste, onderste of sykant

reusedrakeskip (giant dragon ship) – ’n groot skip in die vorm van ’n draak

skommel (rock, swing) – heen en weer beweeg

stormwind (gale) – wind wat so sterk waai dat dit as ’n storm beskryf kan word

weeshuis (orphanage) – tuiste vir kinders sonder ouers

Postless: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe)
1.Wat word ’n kind genoem waarvan al twee ouers dood is?
2.Noem drie oppervlaktes waarop Ma-Liang teken.
3.Noem drie dinge waarmee Ma-Liang teken.
4.Hoe weet jy hierdie verhaal speel in Sjina af? Noem twee redes.
5.Wat is ’n penseel?
6.Skryf net die regte antwoord neer. Die ou man dra sy hare in ’n lang vlegsel omdat: hy van moderne haarstyle vir mans hou / dit ’n ou gebruik onder Sjinese mans is / hy hou van vroulike haarstyle.
7.Beskryf met een sin hoe die keiser in die volgende sin voel: “Hy vryf sy hande en stoot sy kroon op sy kop reg.”
8.Hoe voer Ma-Liang die ou man se opdrag uit?
9.Die verhaal sê die keiser is inhalig. Hoe sien ons dit in die keiser se optrede? Skryf drie sinne in jou eie woorde.
10.Noem drie kenmerke van volksverhale in hierdie verhaal.
11.Meen jy geregtigheid het geskied in hierdie verhaal? Skryf twee sinne om te verduidelik hoekom jy so sê.

Postaktiwiteit (verryking)

Skryf 8 tot 10 sinne oor wat jy sou teken as jy ’n towerpenseel soos Ma-Liang kry. Dit hoef nie tien voorwerpe te wees nie, dit kan ook net een wees. In jou sinne moet jy verduidelik wat gebeur wanneer die tekening ’n ware voorwerp word en hoe die omgewing lyk.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх