Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 7

Die skoenmaker se kitaar

Оглавление

Linda Rode


Prelees – groepbespreking

Kyk na die illustrasie. Die kitaar lyk nie soos dié wat jy waarskynlik gewoond is nie. Dit is omdat hierdie verhaal uit die Portugese kultuur kom en dit is ’n tradisionele Portugese kitaar.

Die Portugese het ’n baie lang verbintenis met hierdie musiekinstrument, ongeveer van die vroeë 1800’s af. ’n Kitaar in die gesin word as ’n erfstuk beskou. Vir enige Portugese gesin sal dit hoogs ongewoon wees om só ’n familiekitaar te verkoop.

Die Portugese gebruik ook hierdie kitaar om iemand te begelei wat fado sing. Fado is ’n soort lied eie aan die Portugese. Dit is weemoedige liedere oor die see, armoede en die mens se lot. Jy kan op YouTube na heelwat fado’s luister.

 Hou jy van kitaarmusiek? Hoekom? / Hoekom nie?

 Watter emosie (gevoel) wek kitaarmusiek by jou?

Die verhaal

Eenmaal was daar ’n skoenmaker met ’n kitaar waarop hy elke aand ná ete gespeel het. Op ’n stoel voor sy huisie, terwyl sy kinders in die nou, skemer straatjie dans en sing en sy vrou in die voorkamer by lamplig sit en lap en borduur en saggies saamneurie. Die skoenmaker was arm, die kinders se klere oud en skif gedra, maar hulle was almal gelukkig.

Skuins oorkant die skoenmaker was ’n ryk man se huis. Skatryk, maar ongelukkig. Aand ná aand sit hy voor sy venster wanneer die skemer val en kyk verlangend na die vrolikheid by die skoenmaker se huisie. A, dink die ryk man, dit moet die kitaar wees. As ek ’n kitaar kan hê, sal my lewe ook vrolik wees. En die ryk man loop na die skoenmaker en bied hom ’n sak vol goue munte aan vir sy kitaar.

Die skoenmaker streel oor sy kitaar se gladde geel hout. Sy oë word klam, maar hy dink aan die baie dinge wat hy met die goue munte sal kan koop, en hy sê ja.

Nog dieselfde aand sit die skoenmaker en sy vrou en tel die goue geldstukke, oor en oor. Hulle stry later met mekaar, want dan kry die een honderd en twee, dan kry die ander honderd en drie.

Moedeloos hou hulle later op tel en begin dink wat hulle met al die geld sal maak.

“Kantgordyne vir die huis en klere vir die kinders en fyn oorbelle van silwerdraad vir my en ... en ...” sê die vrou.

“Nee,” keer die man, “volstrek nie. Ek wil nuwe teëls koop, en ’n melkkoei en ’n paar bale leer om nuwe skoene van te maak en … en …” So stry hulle tot al twee rooi in die gesig is, en woedend vir mekaar, en liefde en vrede soos verskrikte voëls by die deur uitvlieg.

Die kinders kom met lang gesigte van buite af ingedrentel. “Dis niks meer lekker nie,” kla hulle. “Sonder die kitaar wil niemand dans en sing nie.” En hulle gaan sit vies op ’n ry. Hulle donker hare hang in hul oë en hulle lyk kompleet soos weggooikinders.

Só gaan dit aand vir aand.

Toe sê die vrou vir die skoenmaker: “Dis die geld. Ons moet dit teruggee. Dit bring vir ons geen geluk nie.”

Die kinders sê niks nie, maar die skoenmaker voel hul oë op hom. Toe knik hy en neem die swaar sak goue munte. Hy stap daarmee uit in die someraand en toe hy voor die ryk man se venster verbyloop, sien hy hom treurig sit met die glimmende geel kitaar stil langs hom.

“My vriend,” sê die ryk man vir hom, “dis goed so. Neem jou kitaar terug. Dit het my geen vrolikheid gebring nie, want ek kan nie daarop speel soos jy nie. Speel weer saans soos vroeër en wees vrolik.”

Daardie aand pluk die man sy kitaar se snare soos nog nooit tevore nie. Plieng-plieng-plieng, klink dit in die skemer straat. En dan slaan hy die akkoorde dat dit dreun. Die kinders storm uit buitentoe en dans en sing saam met hul maats. In die voorkamer sit die skoenmaker se vrou by lamplig en lap en borduur, en sy neurie saggies saam. Almal is vry en gelukkig soos vroeër, en liefde en vrede woon weer onder hulle dak.

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Herlees die eerste paragraaf en die inligting in “prelees”. Waaroor dink jy het die skoenmaker gesing? Hoekom sê jy so?
2.Wat wou die skoenmaker se vrou met die goue muntstukke koop?
3.Kry mens in die omgewing waarin hierdie verhaal afspeel spogwoonbuurte? Waarom sê jy so?
4.Wat is weggooikinders?
5.Is die kinders in hierdie verhaal weggooikinders? Waarom sê jy so?
6.Waarom het die kitaar nie vir die ryk man geluk gebring nie?
7.Die arm man verkoop nie net sy kitaar nie maar ook iets wat nie verkoop kan word nie. Verduidelik dit in drie sinne.
8.Dink die kinders ook geld kan geluk bring? Waarom sê jy so?
9.Beskryf die lewensles in hierdie verhaal in jou eie woorde, twee tot drie sinne.
10.Noem een ander kenmerk van die volksverhaal in hierdie verhaal, buiten dat dit ’n lewensles bevat.

Postaktiwiteit (verryking)

Skryf ’n paragraaf (120 tot 140 woorde) waarin jy vertel van iets wat vir jou so kosbaar is dat jy dit nooit sal verkoop nie. Sê hoekom dit vir jou kosbaar is.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх