Читать книгу Hans gee Herklaas horings - Rudie van Rensburg - Страница 10

8

Оглавление

Toe Grond terugkom by die huis nadat sy Ferrari se battery behoorlik gelaai is, het hy na sy studeerkamer gekom. Bernadette was besig om Clément sy Afrikaanse klas vir die dag te gee en hy wou dus nie in daardie deel van die huis rondhang nie. Hy was bang sy betrek hom daarby.

Hy kan nou seker doen wat hy al so lank uitstel – om sy studeerkamer op te ruim. Nie een van die vier skoonma­kers word hier toegelaat wanneer hy nie by is nie. Selfs dan laat hy hulle net toe om die mat te stofsuig en die meubels af te stof. Niémand krap in sy laaie en kabinette nie.

Grond trek die boonste lessenaarlaai oop en haal die vel papier uit wat hy tot nou toe nie oor sy hart kon kry om weg te gooi nie. Toe die idee van ’n hotel destyds by hom posgevat het, het hy ’n local kunstenaar gevra om vir hom dié logo te ontwerp.

Hy hou die vel papier ’n entjie weg en beskou dit weer bewonderend. Die goue letterwerk was die perfekte kleur, die paar krulle en kartels op net die regte plekke aangebring. Hy was in die wolke oor die ontwerp. Graaffwater Tower, staan daar.

Kopskuddend skeur hy dit op en gooi dit in die snippermandjie. Toe hy die naam aan Bernadette voorlê, het sy haar top geblaas. “As dit nie Smoelstra-Graaffwater Tower genoem word nie, kan jy daarvan vergeet! Dis ook mý oorlede pa se geld wat daai projek gaan help finansier.”

Ná talle onsmaaklike vloermoere en verskeie beledigings wat heen en weer geslinger is, het hulle oplaas die strydbyl begrawe en saamgestem dat die naam, met wátter familie­van ook al vooraan, te lank en lomp vir ’n hotel sou wees. Toe is The Whale gebore.

Grond skeur ook brommend ’n klomp regsdokumente op wat hy opgestel het toe hy nog die droom van Graaffwater Tower nagejaag het.

Agter uit die laai krap hy die wit koevert nader. Hy vou dit oop en haal die foto uit. Haar gesiggie laat altyd sy hart bokspring. Fienie Filmalter. Sy eerste en enigste ware liefde, wat op ’n haar soos Sonja Herholdt gelyk het. Sy sou sy trouvrou geword het, maar sy pa het ’n stokkie daarvoor gesteek: “Die spul Filmalters het agter die bossies grootgeword. Jy sal die Graaffwater-bloedlyn net besoedel met hulle gene.”

As Grond tóé geweet het dat hy twee windballe het, en die Graaffwater-bloedlyn dus deur niemand besoedel kon word nie, het hy sy kop gevolg en met Fienie getrou.

Maar sy pa en Vis Oppenheimer het ander planne gehad. Die troue met Bernadette was een wat lankal gereël was. “Die kinders van adellike families is natuurlike pasmaats,” het sy pa verklaar en geen teëspraak van Grond se kant geduld nie.

Met ’n sug skeur hy die foto op en gooi dit in die snippermandjie. Nie die moeite werd om dit te hou nie. As Bernadette dit nou moet ontdek, sal sy uit wraak sommer haar deel van die geld uit die The Whale-projek onttrek.

Want as dit by Fienie kom, is sy tot enigiets in staat. Toe sy Grond ’n paar jaar gelede betrap dat hy kwylend na ’n kykNET-program oor Sonja Herholdt kyk, het sy in ’n onbeheerste woedebui die TV-skerm met ’n blompot stukkend gegooi en ’n maand lank nie met hom gepraat nie.

Fienie se gesiggie sal voortaan net in sy gedagtes vorm kry.

Uit die agterste, donker hoekie van die laai haal hy die swart telefoonboekie uit met name van ongure manne, shady characters van die onderwêreld, skurke, geldwassers en afpersers wat hy in sý posisie nie kan bekostig om op sy selfoon se kontaklys te hê nie.

Hy kyk vlugtig deur die name. Talle nommers sal verouder wees, want baie van die mense is nou gaste by Korrektiewe Dienste se inwonende facilities. Almal baddies wat hy die afgelope dertig jaar ingespan het om vir hom sekere gunsies te doen.

Spelonk en sy trawante – Boel en Beenmeel – se nommers is ook daar. Grond ril toe hy aan Spelonk dink – die een en enigste mens op aarde vir wie hy lugtig is. Dit nou buiten Bernadette wanneer sy in een van haar onweersbuie is.

Hy bêre die telefoonboekie weer op sy gebruiklike plek.

Hans gee Herklaas horings

Подняться наверх