Читать книгу Hans gee Herklaas horings - Rudie van Rensburg - Страница 8

6

Оглавление

Vanoggend is Grond op ’n missie.

Hy bel Dannou en lig hom in oor Bernadette se goeie voorstelle oor die badkamers. “Sorg maar dat julle dit stiptelik volg.”

“Wanneer sal ons weet of u die perseel bekom het?” vra Dannou.

“Moet jou nie daaroor bekommer nie, my tjommie. Binnekort behoort daai plek aan my. Moenie dat dit julle spoed breek nie. Gaan net full-steam voort.”

“Ek kan u verseker ons werk vier-en-twintig-sewe daaraan. Oor ’n week sal die finale argiteksplanne gereed wees.”

“Fabulous!” sluit Grond die gesprek af.

Hy haas hom na die kombuis, waar die vyf voertuie se sleutels hang, huiwer ’n oomblik en haal die Ferrari 488 GTB s’n van die hakie af. Lanklaas Hermanus se strate met sy rooi blits gevat.

Bernadette slaap nog en Grond keer Clément Amirault, hul Franse butler wat Bernadette ’n tyd terug by ’n baron in Bordeaux afgerokkel het, voor en lig hom in sy geradbraakte Frans in dat hy gou ’n draai gaan ry. Bernadette gee soggens vir die butler Afrikaanse klasse, want hy het nog nie ’n clue van die taal nie.

Met handgebare verduidelik Grond vir die bleek Fransman met die streepsnorretjie dat hy die Ferrari vir ’n spin vat om seker te maak sy battery loop nie af nie.

Hy betrek Bernadette gewoonlik wanneer hy ’n geheime sending onderneem, maar vanoggend mag sy onder geen omstandighede die ware rede vir hierdie rit weet nie. Dit sal haar vrugtetor net weer aan die tril sit.

En dit was juis om dié rede dat Grond ’n slapelose nag beleef het. Dit het hom gisteraand soos ’n weerligstraal tussen die oë getref net toe hy sy tweedehandse James Hadley Chase-slapband toeklap en die bedlampie wou afsit. Die verlammende besef dat dit die projek nog verder kan vertraag, het sy sooibrand spontaan getrigger. Hy het summier in die badkamer vier Rennies in sy mond geprop en dit soos grondboontjies gekou. Hy moes eers die wit borreltjies by sy mondhoeke afwas voor hy weer in die bed kon klim. Bernadette het ’n skerp oog as dit by sy sooibrand­aanvalle kom en hy was nie lus om weer na haar prekery oor die mediese oorsake daarvan te luister nie.

Toe hy ry, sien hy die strate is vanoggend besonder besig. Dit stem hom onrustig, maar hy het geen ander keuse as om deur te druk nie. Hy móét weet, anders maak hy ook vannag nie ’n oog toe nie.

Grond hou in ’n stegie skuins agter Herklaas se ge­bou stil, wat die Ferrari darem effe kamoefleer. Hy haal sy pruik versigtig af en streel vinnig oor sy kaalkop, sit dan sy donkerbril op en beskou homself in die truspieëltjie.

Niemand sal hom herken nie. Die goue sweetpak help ook, want hy verskyn nooit in die openbaar daarmee nie.

Hy maak eers doodseker dat daar nie mense in die omgewing is nie voor hy uitklim. As deel van sy vermommingstrategie loop hy met ’n hinkstappie om die gebou na die voorkant.

Grond tuur na die drie ondernemings op die onderste verdieping. Moeilike keuse. Daar is die tatoeplek, die vis-en-tjipswinkel en die kantoor van die belaglike nuwe politieke partytjie, die Onthullings-Alliansie – ’n fanatic spul wat allerlei conspiracy theories oor die Suid-Afrikaanse politiek het.

Tipies van ’n idioot soos ou Herklaas om hulle ’n ruimte in sy gebou te gee.

Hy besluit die vis-en-tjipswinkel is die veiligste opsie. Hierdie tyd van die oggend is daar ook nog nie klante nie.

Met ’n oordrewe gehink stap hy in. Die reuk van ou kookolie en aartappelskyfies hang swaar in die lug en laat hom vir ’n oomblik terugsteier. Die eienaar, ’n swetende pokkel met ’n weglêsnor en ’n verpotte klein voorkoppie, kyk hom onbelangstellend aan.

“Ons is nog nie reg vir customers nie. Kom weer oor ’n uur.”

Onder ander omstandighede sou Grond die vloer met die ongeskikte bliksem vee, maar nou is hy die verleë een. “Wonder of meneer my kan help?” vra hy so nederig moontlik.

“Met wat?” blaf Snorman.

“Ek is op soek na ’n ruimte vir my fietswinkel. Gedink hier kan dalk binnekort ’n plekkie oopval.”

Snorman vee eers met sy voorskoot die sweet van sy gesig af. “Nee, ou swaer, nie een van die huurders hier is van plan om weg te gaan nie. Ons moet juis ons huurkontrakte vir volgende jaar aan die einde van hierdie maand hernu. En meneer Havenga is ’n billike landlord. Ons betaal nie deur ons nekke soos op ander plekke nie.”

Grond het als gehoor wat hy wil weet. Op die laaste nippertjie keer hy homself om “Fantastic!” uit te roep. Sonder om te groet, hink hy uit. Gaan hom groot plesier verskaf om hierdie ongeskikte vetsak onder sy gat hier uit te skop wanneer hy die gebou aangeskaf het.

Hy is verheug oor die feit dat die huurkontrakte eers aan die einde van die maand hernu word. Sy groot vrees, en die oorsaak van gisteraand se onwelkome sooibrandaanval, is nou besweer. Ou Herklaas sal nie sy huurkontrakverpligtinge as rede kan aanvoer waarom hy nie dadelik kan verkoop nie.

Dinge val mooi in plek, dink hy toe hy in die kar klim en sy pruik opsit.

Op pad terug huis toe val dit hom by dat hy Bernadette moet herinner om haar vriendin by Bravo! te kontak om die bekendstellingsaand te kom verfilm. kykNET se kykers sal ’n belangrike binnelandse marksegment van The Whale uitmaak. Hulle kom mos soos motte na ’n lig aangevlieg as hulle ’n nuwe uithangplek op die tiewie sien.

Grond ry peinsend terug. Hy kners op sy tande. Môre gaan deurslaggewend wees. Ou Herklaas beter hom nie problems gee nie, anders gaan hy hom verbrysel.

Al moet hy tot die uiterste gaan – om Spelonk en sy trawante te laat kom om die vuilwerk vir hom te doen.

Hans gee Herklaas horings

Подняться наверх