Читать книгу Hans gee Herklaas horings - Rudie van Rensburg - Страница 6

4

Оглавление

Toe Dannou weg is, het Grond en Bernadette middagete by Bientang’s Cave in die ou hawe genuttig, waar hulle ’n seekosbord gedeel het. Hulle het die wilde garnale, Wes­kus-oesters, gemarineerde mossels en gerookte kabeljou afgesluk met ’n bottel yskoue Dom Pérignon (2005), terwyl hulle onverpoosd oor The Whale geklets het.

Teen ’n tafereel van klotsende branders, ’n kobaltblou lug en die gekrys van seevoëls, was dit asof Bernadette in sekere flitsende sekondes vir Grond haar effense skoonheid van ouds herwin het. Ten spyte van haar swaar grimering wat soos Spaanse pleisterwerk ouderdomskrake moet verdoesel, die lippe wat net soos haar ou ma s’n begin pap hang en die onooglike moesie op haar wang wat deur die jare al hoe meer soos ’n vrugtetor begin lyk, het hy hom soms verbeel hy gewaar weer die stralende gesig van sy bruid van twee-en-dertig jaar gelede.

En vir daardie paar goue oomblikke moet hy Dannou bedank. Dié het genoeg van Bernadette se voorstelle by sy planne geïnkorporeer om haar geesdrif spontaan te aktiveer. Dis duidelik sy deel nou Grond se euforie oor The Whale.

“Die badkamers in die suites moet iets spesiaals wees. Goue krane, marmerbaddens, dubbele wasbakke en toilette met goud en hout beslaan,” het sy gekoer. En so het sy voortgebabbel oor elke klein detail waaraan Dannou nog nie aandag gegee het nie.

Oor die nagereg van crème brûlée vir hom en wortelkoek vir haar, het hulle begin bespiegel oor wie almal na die groot bekendstellingsaand genooi sal word: uiteraard Cyril asook Grond se ou huisvriend Thabo, Ace om die ander ANC-faksie nie afgeskeep te laat voel nie, Helen, Trevor, Pravin, FW, die Ruperts, die Players, Ernie, Rassie, Siya en dalk Markus om mediabelangstelling vir die geleentheid aan te wakker.

Bernadette het ook onderneem om haar vriendskapsbande met Gordon Ramsay te probeer herstel, nadat hulle jare gelede ’n onsmaaklike uitval in ’n restaurantjie in Cornwall gehad het. “Om hom as gassjef te hê sal soveel meer luister aan die spyskaart verleen,” het sy gesê. “En ná die toesprake en feesmaal sal ’n kort kabaretvertoning deur Nataniël die aand darem netjies afsluit, nè?”

Bernadette het selfs Grond se voorstel aanvaar dat hulle Hoepels van Heerden, befaamde pottebakker van Onrus, nou al opdrag gee om net vir dié aand eetborde in die vorm van walvisse te maak.

“Maar die borde móét van mekaar verskil. Ons wil nie die persepsie van goedkoop massavervaardiging skep nie,” was haar uitdruklike voorwaarde.

“Dalk kan ons die borde later weer inspan wanneer ons ander famous gaste in die hotel onthaal,” het Grond gesê.

“Nee, my skat, dan is dit al tweedehands. Ons kan dit eer­der gebruik om my breekgoed in Kleinmond en Rooi-Els se strandhuise aan te vul.”

Ná die ete by Bientang’s Cave was albei net te loom om die entjie na Voëlklip toe terug te ry, en het hulle maar ’n middagslapie in hulle seeuitsig-woonstel in Marine Drive gaan vang.

En nou, terwyl hulle aansit vir aandete in die nuwe hawe se Harbour Rock-restaurant, is dit vir Grond duidelik dat Bernadette se behoefte om oor The Whale se bekendstelling te droom, nog nie uitgewoed is nie.

“Ek het besluit om Gert van de Merwe te vra om my uitrusting vir daardie aand te skep. Gert ken mos my smaak – elegant, klassiek en tydloos.”

“Fabulous!” sê Grond. Hy weet Bernadette het al ’n paar keer van dié bekroonde klereontwerper se dienste gebruik gemaak.

Hulle bestel sushi en ’n bottel Môreson Miss Molly Petit Rosé.

“Ek visualiseer ’n asembenemende, klassieke swart tabberd, maar met ’n kosmopolitaanse gevoel, as jy weet wat ek bedoel.”

“Ek kan dit klaar in my geestesoog sien, my liefie,” lieg Grond. “Jy gaan absoluut stunning lyk.”

Hy kyk op toe iemand ’n hand op sy skouer sit.

Dis Janneman Koster, jare lank al stadsraadslid en gewese burgemeester van die dorp.

Hy leun oor na Grond en praat in ’n fluisterstem. “Ek hoor gerugte van groot dinge wat kom. Ons by die raad is baie opgewonde daaroor, hoor! Dit gaan die dorp behóórlik op die mêp sit.”

Grond knik tevrede. “Ja-nee, ou Janneman, die wiele is aan die rol. Solank julle die bouplanne vinnig deurdruk, kan The Whale binne ’n jaar sy staan kry.”

Janneman wys tandvleis soos hy glimlag. “Jy weet mos by ons loop dinge seepglad, veral as jý die een is wat ’n versoekie rig.”

“Excellent!” sê Grond.

Janneman kom regop en beduie na ’n tafeltjie teen die muur. “Maar laat ek loop, wil nie hê vroulief moet vir my wag nie. Dis ons veertigste huweliksherdenking vandag.”

Toe Janneman sy sit by sy vrou kry, wink Grond ’n kelner nader. “Gaan lewer ’n bottel Veuve Clicquot op my reke­ning by meneer Koster se tafel af.”

Grond knipoog vir Bernadette. “So ’n botteltjie Franse sjampanje kan ons vorentoe net by die raad help.”

Maar dadelik sien hy dat Bernadette se feestelike gemoed­stemming geblus is. Daar spring ’n spiertjie in haar wang, wat die vrugtetor laat tril, so asof dit wil wegvlieg. Haar afgeremde mondhoeke voorspel ook niks goeds nie.

“Jy is lekker breedsprakig vir iemand wat nog nie eens ou Herklaas se plek gekoop het nie,” sny haar stem ysig deur die Harbour Rock.

“Ai, my liefie, moet tog nie dat ou Herklaas ons aand bederf nie.”

“Toe jy en Janneman praat, kon ek nie anders as om die werklikheid weer in die gesig te staar nie. Feit is, ons het nog nié ’n staanplek vir The Whale nie. Is daar nie ’n ander gebou in die middedorp waarop jy jou visier moet instel nie?”

Grond se beswaarde sug klink op soos die gebulk van ’n bees. “Ongelukkig is ou Herklaas se blerrie gebou die enigste geskikte plek. Ek het lank met die stadsbeplanners vergader. Daar is net te veel waterpype onder die ander geboue. Omdat ons diep sal moet grawe vir The Whale se sesverdieping-kelderparkeerarea, sal dit tydrowend wees en allerhande goedkeuringsprosesse moet deurgaan as ons op enige ander site as ou Herklaas s’n werk. Dit sal die projek met twee tot drie jaar terugsit, en dis tog totaal onaanvaarbaar.”

“En as ou Herklaas volstrek weier om te verkoop?”

Grond gee ’n laggie. “Hy sal nie, my liefie.”

“Maar jy sê dan hy wil nie verkoop nie.”

Grond kug en druk-druk aan sy pruik. “Kyk, ek het die ou imbesiel en sy vrou nog net twee keer vinnig in die dorp raakgeloop en toe genoem ek stel belang in die gebou. Albei kere het hy nie keen gelyk nie. Sy mal ou vrou se geklets maak ook dat mens g’n sin met hom kan praat nie. Maar oormôre gaan ek hom in sy ou flatjie sien en hom ’n offer maak wat hy nie kan refuse nie.”

“En wat gaan jy hom aanbied?”

“By sesmiljoen begin, wat die vervalle ou plek seker oor sy goeie ligging werd is. Maar val hy nie daarvoor nie, is ek bereid om tien of selfs meer te hoes. Maar koop sal ek die donnerse plek koop.”

“Jy sê oormôre?”

“Ja, sien hom om elfuur in sy flatjie. Hy bly mos bo-op die gebou.”

“Ek gaan saam met jou.”

Grond glimlag. “Fantastic! Saam was ons nog altyd ’n unbeatable team.”

Hans gee Herklaas horings

Подняться наверх