Читать книгу Hans gee Herklaas horings - Rudie van Rensburg - Страница 9

7

Оглавление

Hans besef hy het ’n sloot in die oggend geslaap toe hy eers tienuur wakker word. Tromslae baljaar ritmies teen sy slape toe hy uit die bed opstaan. Als Vasie se skuld, want dié ken mos geen einde nie. Die paar snapsies van gistermiddag het toe nie daar geëindig nie. Teen laataand het hy, Vasie en Herklaas soveel raaswater ingehad dat hulle skoon vergeet het om te eet.

Dit ten spyte van die kerriebredie wat Wilhelmina berei het. Sien ’n mens haar agter die kospotte, sou jy nie weet haar klawers is vals nie, soos Vasie dit stel. In haar kombuis is sy volgens Herklaas ’n raakvatter van formaat. Maar haar bredie het gisteraand aan die agterspeen gesuip, terwyl hulle in die voorkamer met die voorspene besig was.

Hans strompel in die gang af en loer by Vasie se kamer in. Dié is nie meer in sy kooi nie. Hans wend hom na die badkamer, waar hy stort en sy ander ablusies afhandel.

Hy trek weer gister se ligbruin kortbroek-safaripak aan. Môre sal hy die bloue dra. Hy moet suinig met sy klere omgaan, want hy het net genoeg vir ’n paar dae ingepak.

In die kombuis is Wilhelmina besig om skottelgoed te was. Vanoggend het sy ’n lang, wye rok aan wat uit die Voortrekkers se tyd moet dateer. Sy verstar toe sy Hans sien. Dadelik verorber haar intense blik hom weer soos gister. “Ouma Meelbol is opbouende voedsel vir die tenge­rige kind,” sing sy. “Gebruik Epidermol vir kitsverligting van atleetvoet.”

Hans mompel dat dit na goeie raad klink en maak hom vinnig uit die voete. Hierdie bleek vrou gee hom die horries. Saam met háár wil hy nie alleen in ’n vertrek vasgekeer wees nie.

Hy kry Vasie en Herklaas in die voorkamer.

Vasie loop rusteloos heen en weer en Herklaas sit ineengekrimp in sy gemakstoel. Dié lyk of hy die aarde alleen op sy skouers dra – ’n ridder van die droewige figuur.

“Dit gaan maar dunnetjies met my ou neef,” sê Vasie.

“Ja, hake-krukke,” kerm Herklaas se stemmetjie.

“Wingerdgriep?” vra Hans.

Vasie lag. “Nee, dit het ons al drie seker vanoggend onder lede, maar daar’s ’n ánder sakie wat Herklaas se maagseer teister.”

Hans gaan sit op die bank, sak so diep daarin weg dat hy nie oor sy kniekoppe kan kyk nie. “Nou laat ek hoor.”

“Toe, vertel hom, Herklaas,” por Vasie.

“Die saak staan so.” Die skril intensiteit van die ketel se gefluit is terug, hoor Hans. “Ek en Wilhelmina is gelukkig hier in ons dakwoonstelletjie. En ek is geseënd met huurders wat getrou betaal. Meer van die lewe vra ek nie. Maar nou neuk iemand aan my om die plek aan hom te verkoop.”

“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Stuur hom net in sy maai,” sê Hans.

“Dis nie so maklik nie,” sê Vasie.

“Inderdaad, neef,” sê Herklaas. “Niks is maklik as Grond Graaffwater die voornemende koper is nie.”

Vasie en Herklaas kyk vol afwagting na Hans.

“Behoort ek hom te ken?”

“Het jy nog nie van Grónd Grááffwater gehoor nie?” roep Vasie uit.

“Ken hom van g’n adamskant nie.”

“Vertel hom, Herklaas.”

“Hy’s ’n man van groot aansien in hierdie geweste. Hy en sy vrou is klipsteenhard van die geld. Besit meer eiendomme as enige ander mens hier. Maar dis alles ou geld. Grond se pa het glo sy pitte met karre verdien, maar die gerugte wil dit hê dat hy sy miljoene eintlik met blink klippies gemaak het, wat hy uit Namibië en Angola ingesmokkel het. En Grond se skoonpa, Petrus Smoelstra, het in die ou dae elke enkele visfabriek aan die Suid- en Wes-Kaapse kuslyn besit. Die mense het hom later Vis Oppenheimer gedoop, oor sy skatte geen einde ken nie.”

Herklaas sug voor hy voortgaan. “En met al daai ou geld in die bank, is Grond nie die soort man vir wie mens nee sê nie. Hy’s gou op sy agterpote as hy nie sy sin kry nie.”

“Hmm,” sê Hans. “Hy’t seker die naam Grond gekry omdat hy so baie eiendomme besit?”

’n Effense glimlag skemer deur op Herklaas se gepynigde gesig. “Nee, die mense vertel hy het as jong kind grond gevreet soos ander van sy ouderdom ProNutro. Glo ’n tekort aan yster gehad.”

“Gmf. En nou hou hy hom ’n yster hier.”

“Dit kan mens seker sê,” gee Herklaas toe.

“Sê ek vir myselwers ek stem saam met my neef, want dit bly maar ’n dilemma. Ek het al stories gehoor van mense wat sleg tweede gekom het as hulle nie met Grond se idees saamdans nie,” sê Vasie.

“Nou vir wat wil hy jou gebou hê?” vra Hans.

“Wil ’n hotel hier oprig.”

“En wat is hy bereid om te betaal?”

Herklaas trek sy skouers op. “Dié sal ek seker môre hoor.”

“Môre?”

“Ja,” sê Vasie, “Grond kom môre hierheen om glo ‘amptelik besigheid te praat’. En Herklaas sien eintlik nie vir so ’n ontmoeting kans nie.”

“Hoe oud is Grond?” vra Hans.

“Laat vyftigs.”

Hans snork. “Bogsnuiter! Ek en Vasie sal saam met jou hier sit as hy kom. Dan wys ons hom waar Dawid die wortels gegrawe het.”

Herklaas se gesig helder op.

Vasie wys ook tande. “Jou ou biesiepol!” roep hy uit. “Sê ek vir myselwers daar’s geen beter man om hierdie ding te hanteer as Hans van Kraaienburg nie.”

Hy draai na Herklaas. “Hy’t die vloer gevee met ons vorige matrone by die ouetehuis, ’n diktator wat Hitler na ’n lammetjie sou laat lyk het. Maar Hans het behoorlik kerrie van haar gemaak. Grond gaan gou uitvind hy boks hier teen iemand wat in dieselfde gewigsklas as hy is.”

Ná ’n halfuur se rype beraad besluit hulle dat Hans môre as Herklaas se “eiendomskonsultant” voorgestel sal word en dat hy namens Herklaas die praatwerk en onderhandelinge sal doen. Herklaas straal oor dié besluit.

Maar Hans bly vanoggend sukkel om te konsentreer. “Jou vrou het nie dalk ’n poeier of ’n pil uit haar Handels­huis-dae wat ’n kloppende hoofpyn sal stuit nie?”

“Dis nie almiskie nie,” sê Vasie en vat ook aan sy voorhoof.

Herklaas skud sy kop. “Ongelukkig bestaan dit net in haar gedagtes. Maar julle kan hier om die draai in Hoof­straat opstap. Julle sal by Brenda se apteek regkom.”

Hans bedank Herklaas en beduie vir Vasie dat hulle op hulle apostelperde die reis moet aanpak.

Grond Graaffwater is vinnig uit sy gedagtes. Hy’t mos gekom om vakansie te hou, en dit is waarop hy hom nou gaan toespits.

Hans gee Herklaas horings

Подняться наверх