Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie - Страница 7

4

Оглавление

Katrien se oë flikker oop en sy kyk na die grou hemel bokant haar. Die dag is seker besig om te breek. ’n Mens sal later in die oggend die son eers sien, want die berge keer dit hier in die valleitjie van alle kante af.

Sy roer effens en frons dan sodat die fyn plooitjies haar voorkop opkreukel. Sy het sowaar aan die slaap geraak en heerlik geslaap die grootste gedeelte van die nag.

’n Entjie van haar af lê Dewald en slaap met ’n salige uitdrukking van rus en vrede op sy gesig. Hy lyk skoon en vars na gisteraand se bad en hy het selfs sy hare gewas, want daar is geen teken van stof daarin nie. Die swart hare is blink en los op sy kop.

Hy is ’n eienaardige mens. Sy het gisteraand met doodse vrees hier kom lê, want sy het nie kans gesien vir die bedompige hut waarvan hy nog die deur ook wou toemaak nie. Toe hy sien dat sy nie van plan is om in die hut opgesluit te word nie, het hy ’n tou aan haar voet vasgebind met ’n vreemde soort knoop, wat hy weer aan sy voet gebind het. Die middelste gedeelte van die lang tou was aan haar voet en die knoop aan syne. Sy kon dus nie eens probeer om die knoop los te kry nie.

Wel, dit sal sy hom darem ter ere nagee: hy is vinding­ryk! Hy het ook nie gedurende die nag geprobeer om haar enigsins leed aan te doen nie. Trouens, hy het nie eens aan haar geraak nie. Die hele aangeleentheid slaan haar dronk. Is hy dan nie juis uitgekies om haar hier op te pas omdat hy so ’n voorliefde vir vroue het nie? Sy weet nie wat in daardie kop van hom aangaan en waarvoor hy wag nie. Maar hy moet net weet dit gaan nie ’n piekniek wees nie. Hy sal weet hy het haar opgepas!

Sy ruk hard met haar voet en Dewald sit dadelik regop. “Haai! Wat dink jy doen jy?”

“Ek is wakker en ek het lus vir koffie.”

Dewald kan die glimlag nie van sy gesig weer nie. “En ek slaap dan nou so lekker hier by jou.”

“Wel, ek slaap glad nie lekker nie.”

“Jy het die hele nag soos ’n baba geslaap, liefie. Moenie nou jok nie.”

Katrien gluur hom net vies aan, want sy kan nie eens stry nie. “Dit lyk vir my jy begin my darem al vertrou.”

“Ek vertrou liewer ’n geelslang.”

“Liefie! Hoe kan jy sulke lelike dinge vir jou slaapmaatjie sê?” Katrien besef dat sy al weer besig is om aan die kortste ent te trek. “Maak my los; ek wil opstaan.”

“Hoe sê ’n mens?”

“Het julle dalk vir my asseblief gevra toe julle my beeste wou steel?”

Dewald lag en buk vooroor om die tou aan sy enkel los te maak. Dan staan hy op en rek hom behaaglik uit.“Nou ja, dan gaan maak ek maar vuur as die baas lus het vir koffie.”

Katrien verkyk haar aan die vrolike uitdrukking op sy gesig. Weer eens kry sy die gevoel dat hy darem nie lyk en optree soos ’n misdadiger en ’n vrouemolesteerder nie.

Dewald maak fluit-fluit vuur en tel dan die keteltjie op om water by die fontein te gaan haal. “Kom, stap saam, anders moet ek jou weer vasmaak en dit raak nou vervelig.”

Katrien weet dat sy nie eintlik ’n keuse het nie.“Ek wil net gou my handdoek en tandeborsel kry, anders moet ek netnou weer hier afstap sonder my skoene.”

Dewald fluit sy vrolike deuntjie terwyl hy vir haar wag en swaai die keteltjie op die ritme daarvan rond.

Dit is eers later, terwyl hulle terugstap, dat Katrien besef sy het haar waaksaamheid heeltemal laat verslap. Dit is natuurlik sy plan van aksie: hy wil haar eers gerus en ontspanne maak, en dan slaan hy toe.

Sy maak vir hulle koffie en gaan haal dan van die beskuit wat sy in die saalsak gedruk het.

“Waar boer jou oupa?” Dewald druk die heerlike beskuit diep in sy koffie en slurp dit dan met genoegdoening op.

“Naby Otjiwarongo.”

“Jy sê hulle het jou grootgemaak?”

“Ja. My oupa was ’n onderwyser en hy het my sommer geleer ook. Ek is net die laaste twee jaar van my skoolloopbaan Windhoek toe.”

“So, dan is jy nogal ’n slim meisie ook.”

“Ja, slim genoeg dat ek my eie brood verdien en nie nodig het om ander mense se goed te steel nie.”

Dewald sug net en antwoord haar nie daarop nie.

Katrien kyk na die oop, eerlike gesig en dit word seer binne-in haar om te dink dat ’n mens se uiterlike so bedrieglik kan wees. “Meneer . . .”

“Ek het jou al gesê my naam is Dewald. Of . . . as jy wil, kan jy vir my ook maar ‘liefie’ of ‘skatjie’ sê. Dit werk goed.”

“Dewald . . . hoeveel kry jy uit hierdie transaksie?”

“Dit hang af hoeveel ons vir die beeste kry.”

“Wel, dis jy en Klaus en twee Ovambo’s.”

“Nee, ons is vyf. Die geld word in vier dele verdeel. Die twee Ovambo’s gaan saam een deel kry; hul taak is minder veeleisend as ons ander s’n.”

“Help my, dan gee ek jou meer. Toe, asseblief!”

“Ho, wag nou! Wag nou, my engel! Jy is mos nou skelm!”

“Om my eie goed terug te wil kry!”

“Jy wil hê ek moet nou teen my vriende draai om jou te help. Vergeet dit! Ou Klaus sal my saam met jou soos ’n hond doodskiet.”

“Jy is ’n papbroek! Klaus is net so groot soos jy, maar jy is bang vir hom!”

“Ek sal nou nie sê bang nie. Dit is net . . . wel . . . ek verdien ’n klomp geld so en dit is nie moeilike werk nie. Al wat ek moet doen, is om jou geselskap te hou. ’n Mens slag nie die gans wat die goue eiers lê nie.”

“Maar ek sê mos vir jou ek sal jou meer betaal as wat hulle vir jou kan gee.”

“Luister, meisiekind, met mense soos hulle speel ’n mens nie. Ons twee het nie ’n kans teen hulle nie.”

“O, jy maak my siek! Ek sal hulle alleen aandurf as jy dan te vrotsig is.”

“Jy sal eers van my ontslae moet raak.” Dewald grinnik in haar rigting.

Katrien staar moedeloos voor haar uit. Sy sal vinnig aan ’n ander plan moet dink. Miskien moet sy maak asof sy hom vertrou en dan, wanneer hy dit die minste verwag, die hasepad kies. Sy staan stram op en rek haar uit. “Ek gaan die borde was.”

“Trek jou skoene uit.”

“Hier is dorings; ek gaan dit nie doen nie.”

Dewald staan vinnig op en met een tree is hy by haar. Hy buk af, tel haar voet op en begin haar sandaal losmaak. Sy breë rug met die spiere wat bulte maak onder die kakiehemp is sommer hier by haar. Woedend kap sy hom met haar vuiste op sy skouers, maar hy voel dit blykbaar nie eens nie. Dan buk sy verder vorentoe en gryp hom aan sy bos digte, swart hare vas en trek met al haar krag.

“Eina!” Hy los haar voet en gryp dan haar hande op sy kop vas en maak hulle sonder inspanning los. Sy oë is kwaai toe hy haar twee hande stewig vasvat en haar nader trek. “Luister, nou kry jy end met hierdie kinderagtigheid! Dink jy miskien dit is vir my lekker om aan jou te vat? Jy tart my! As jy jou skoene self uitgetrek het, sou dit nie vir my nodig gewees het om dit te doen nie. As jy graag wil hê ek moet aan jou raak, sê net so; ek doen sulke ou dingetjies sommer gratis.”

Katrien is sprakeloos van verontwaardiging en probeer wild haar hande uit syne losruk.

Dewald los haar en stap ’n tree of twee weg. Daar gaan hy staan en beskou haar met sy arms oor sy bors gekruis.

Katrien kyk nie in sy rigting nie. Sy trek net haar sandale vinnig uit en gooi dit in sy rigting. Sy maak die borde en bekers met soveel drif bymekaar dat Dewald net stilweg glimlag. Sy gryp die pappot aan sy hingsel en storm af fontein toe.

Dewald bied nie aan om haar te help nie, maar gaan sit net stil onder die boom met ’n vreemde glimlaggie om sy mond.

Katrien praat nie weer met hom nadat sy teruggekom het van die fontein af nie. Later in die oggend maak sy die hut met soveel energie en opgekropte frustrasie skoon dat die stof behoorlik in ’n wolk daarom hang. Alles wat wasbaar is in die hut, het sy uitgewas, en toe nog die vloer met ’n takbesempie wat sy gemaak het, uitgevee. Teen die tyd dat sy met die hut klaar is, is sy asvaal van die stof en taai van die sweet.

Met haar handdoek en seep en ’n stel skoon klere wat sy in die saalsak gehad het, kom sy by die hut uitgestap.

Dewald grinnik in haar rigting en dit maak haar woedend. Sy gaan sit ’n entjie van hom af en maak haar sandale stil-stil los. Sy tel dit op en gaan sit dit netjies langs mekaar voor hom neer. Sonder om weer in sy rigting te kyk, tel sy haar goedjies op en stap met die voetpaadjie af fontein toe.

Katrien is maar versigtig en was eers haar hare terwyl sy nog haar vuil klere aanhet. Sy wil so kort moontlik in haar Evasgewaad wees.

Die bad was vinnig maar tog heerlik verfrissend en sy voel ’n ander mens toe sy klaar is. Sy was haar vuil klere uit en hang dit oor ’n bos om droog te word. Haar hare is lank en dik en sy vryf dit ywerig droog met haar handdoek.

“Liefie!”

“O!” Katrien kners op haar tande van frustrasie.

“Hoekom draai jy so lank? Is jy nog daar?” Katrien antwoord hom nie. Met verbasing en genoegdoening hoor sy met sy volgende roep ’n duidelike toon van kommer in sy stem. “Liefie! Katrien!”

“Ek is hier.” Katrien is ongeduldig en sommer weer van voor af onvergenoeg.

Dewald is besig om die vleis stukkend te sny om te braai toe sy by die hut terugkom. Katrien gaan bêre haar handdoek en seep, vat dan haar borsel en gaan sit onder die boom om die lang hare uit te borsel sodat dit kan droog word.

Dewald bekyk haar ingedagte. Sy lyk so bekoorlik en vroulik met die lang hare wat amper tot in haar middel hang! Dit vang nou die sonstraaltjies op en blink vrolik.

Hy sout die vleis en trek die rooster nader.

“Ek wil tog nie eet nie, dankie.” Katrien sien nie kans vir die groot stukke vleis vandag nie. Dit is warm en sy het nie lus vir kos nie.

“Jy moet eet.”

“Ek voel nie honger nie.”

Dewald sug. “Ek is jammer, dame, maar dit is al wat ek jou kan aanbied: net vleis!”

’n Flou glimlaggie trek om Katrien se mond en sy kom nie agter dat sy hom heeltemal vriendelik antwoord nie. “Ek was nog nooit ’n groot vleiseter nie. Oupa terg my altyd daaroor. Hy sê ek is nie ’n regte Suidwester nie. Ek is baie lief vir groente en . . . dan het ek ’n vreeslike soettand. Ek sien altyd kans vir ’n soetigheidjie.” Dewald het in alle geval genoeg vleis vir haar ook gebraai, maar sy drink net koffie. Sy voel Dewald se blik kort-kort peinsend op haar en dit ontsenu haar heeltemal. Haar hare hang nog steeds soos ’n mantel om haar skouers en sy voel gereeld daaraan of dit nog nie droog is nie. Toe sy tevrede is, borsel sy dit agtertoe en begin dit vleg.

“Laat dit so loshang. Dit is mooi.”

Katrien kyk verbaas na Dewald wat nou skielik verleë lyk. Sy skud haar kop ongelowig, maar diep binne-in haar flikker ’n vlammetjie van hoop. Dan is daar die stadige ontwaking van ’n nuwe plan. Sy sal hom versigtig na haar kant toe oorhaal. Sy het een bate, en dit is dat sy ’n vrou is. Dalk kan sy tog sy belangstelling so ’n klein bietjie prikkel; hy het tog ’n reputasie met vroue. Miskien kan sy hom oorhaal om haar te help.

“Dit is te warm wanneer hulle so loshang.” Sy staan later op en maak die vuil borde en bekers bymekaar. “Stap saam met my fontein toe. Die dorings steek my te veel wanneer ek elke keer sonder my skoene moet gaan.”

Dewald gooi sy kop agteroor en lag dat die klank dawerend teen die rotse vasslaan. “Wel, dit is een manier om jou onderdanig te hou: ek jaag jou net die dorings in!”

Katrien glimlag stram, maar trek darem ook nie haar skoene uit nie.

Dewald staan geduldig op en vat die borde en bekers by haar. Sy stap voor hom in die voetpaadjie en hy verkyk hom aan haar netjiese, skraal postuurtjie in die kakiebroek en -hemp. Die dik, bruin vlegsel lê breed en blink agter haar rug en swaai liggies heen en weer. Sy buk by die fontein en was die borde en bekers terwyl Dewald haar met stil, onpeilbare blou oë dophou.

“Waaraan is jou ouers dood?”

Katrien kyk verbaas uit haar gehurkte posisie op na hom. Toe sy die vriendelike belangstelling in sy oë sien, byt sy die sarkastiese antwoord wat op haar tong was terug en waag sy die eerste tree op die pad van haar nuwe, gewaagde plan. Sy skud die water van die bekers af en staan op. “Hulle het verdrink.”

Stil en sonder veel emosie vertel sy hom die storie terwyl hulle terugstap. Sy sien die meegevoel op sy gesig en verander dan haar stemtoon en borduur so ’n bietjie oor die swaarkry. Sy vertel van haar oupa wat al so oud is en van die beeste wat hul laaste hoop was, aangesien hulle soveel teëspoed gehad het.

Toe sy oordrewe hartseer sug, draai Dewald vinnig sy gesig weg sodat sy nie die vonkeling in sy oë moet sien nie.

Katrien bêre die borde en bekers en kom sit by hom onder die boom. “Waar kom jy vandaan?” Dewald haal net sy skouers op en kyk by haar verby. Katrien gee egter nie so gou moed op nie.“Leef jou ouers nog?”

“Ja.” Dewald krap met ’n stokkie in die grond en kyk nie op nie.

“Woon hulle hier in Suidwes?”

“Ja.”

“Watter deel?”

“Wat wil jy maak as jy weet?”

“Dalk ontmoet ek hulle eendag, dan kan ek darem vir hulle vertel watter soort seun hulle het.”

“Wat sal jy hulle vertel? Dat ek mooi na jou gekyk het en jou geen leed aangedoen het nie?”

“Gmf! Maar ek moet darem kort-kort hier in die dorings in sonder skoene, anders word ek vasgemaak.”

“Jy soebat dan om vasgemaak te word! As jy nie so koppig is nie, sal ek dit nie hoef te doen nie.”

“Dewald . . .” Hy kyk stadig op en hul oë meet mekaar ’n tydlose sekonde lank. “Laat my asseblief gaan, anders sal ek my mense nie meer kan inhaal nie. Lukas is ’n ou man en sy vrou, Anna, is ook by hulle. Hulle . . . gaan hulle seermaak en . . . ek móét probeer om die beeste terug te kry. Ek kan nie sonder die geld teruggaan huis toe nie . . . asseblief, Dewald!”

“As ek jou laat gaan, sal jy nooit by jou huis uitkom nie – met of sonder geld.”

Magteloos druk Katrien haar kop op haar opgetrekte knieë terwyl trane van frustrasie stadig tussen haar toegeknypte ooglede deur sypel.

’n Groot hand kom rus swaar op die blink, bruin hare en vryf dit dan baie liggies. “Katrien!” Sy kyk egter nie op nie, bly net so ineengetrek sit. “Liefie!”

“As jy dit waag om weer vir my so te sê, dan klap ek jou!” Dewald lag net en kyk in die onstuimige, bruin oë. “Al wat ek jou kan belowe, is dat ek jou lewend en ongeskonde by jou oupa en ouma sal besorg as jy hier bly en nie probeer ontsnap nie, al moet ek ook my eie lewe daarvoor waag. Dit is ’n belofte, Katrien!”

“Jy dink net aan die geld. Geld! Geld wat jy sal kry uit ander mense se eiendom. Hoe kan jy verwag dat ek sulke beloftes moet glo? Jy sal te bang wees ek herken jou later.”

“Al wat ek vra, is dat jy my moet vertrou.”

“O, jy is haatlik! Ek . . .” Haar keel trek toe en magteloos soek haar verstand na nog iets om by te voeg.

“Dit is hierdie stilsittery wat jou so omkrap. Kom ons gaan soek iets wat jy vanaand kan eet.”

“Ek wil nie eet nie.”

Dewald staan op en hou sy hand na haar toe uit. “Stap saam; die stap sal jou goed doen. As jy hier wil bly, moet ek jou weer vasmaak en dit sal jou nog meer frustreer.”

Katrien sug soos ’n ou vrou, maar sy staan darem op en stap hut toe om haar hoed te gaan haal.

“Dit is nie nodig om ’n hoed op te sit nie; die son is al besig om te sak hier in die berg.”

Sy meet die son met haar oë en besluit dan dat hy gelyk het. Die paadjie tussen die kranse en rotse deur is hobbelrig en ongelyk en plek-plek moet hulle oor rotse klouter. Die oefening is egter vir Katrien salwend na die stilsittery die afgelope twee dae en sy geniet dit meer as wat sy gedink het sy sou.

By ’n hoë miershoop staan ’n plaat paddastoele, so groot soos borde, wit en oopgevlek in die namiddagsonnetjie.

“Daar is jou groente. Ek het dit gisteraand gesien toe ek kom jag het.”

“O, ja, dit sal heerlik wees! Ek is dol hieroor.”

Dewald pluk drie grotes en oorhandig een aan haar. “Ek verbeel my daar is ’n emmertjie vet in die hut. Maak dit sommer daarin gaar.”

“Ja, ek het die vet vanoggend gesien toe ek daar skoongemaak het. Ek gaan die paddastoele vir ons in die ysterpot bak.”

“Ek dog jy het nie honger nie!”

Katrien glimlag stralend na Dewald en hy voel hoe sy hart wild bokspring.

“Ek was net nie lus vir vleis nie.”

In ’n gemoedelike stilte stap hulle saam terug. Langs die pad is pragtige veldblomme en Katrien pluk vir haar daarvan ook ’n bossie. “Wat wil jy daarmee maak? Kan ’n mens dit dalk eet?” Katrien kyk verleë na die blomme in haar hand en wil dit dan weggooi, maar Dewald keer vinnig. Sy hand sluit ’n oomblik lank warm oor hare.

“Ek maak net ’n grappie. Hou dit. Dalk laat dit jou beter voel.” Verleë kyk sy na hom. Sy wens sy kon meer weet van hom en hom beter verstaan. Sy wens sy kon weet wat in sy kop aangaan. Sy wil weet of hierdie woorde eg en opreg is en of dit alles deel van ’n uitgewerkte plan is.

By die kamp word die blomme in een van die koffie­bekers vol water gesit en dan plaas sy dit in die middel van die lendelam tafel.

Die sampioene is ’n welkome verandering ná die wildsvleis en pap en Katrien eet soos ’n mens wat weke laas kos gehad het.

Al Katrien se vriendelikheid en onderlangse blikke help egter nie veel nie. Slaaptyd maak Dewald haar sonder ver­skoning weer met die tou aan sy voet vas.

Vanaand kan sy egter nie weer so maklik aan die slaap raak nie, ten spyte daarvan dat die sterre vrolik flonker en die koel nagluggie lawend is. Soos gisteraand het hulle die velle na buite gedra en ’n paar tree van mekaar af elkeen ’n bed opgemaak, maar sy is vanaand pynlik bewus van Dewald wat hier so naby haar slaap. Miskien is dit omdat sy effe gerus geraak het deur die dag. Hy het die afgelope twee dae nog nie een keer geprobeer om haar leed aan te doen of selfs net aan haar te raak nie. Iets is egter vir haar nie pluis nie en sy kan net nie haar vinger daarop lê nie.

Sy draai op haar rug en vou haar arms onder haar kop in. “Hoekom slaap jy nie?”

“Ek is bang!”

“Vir my?”

“Ja.”

Hy sit skielik regop en beweeg sy lang lyf vorentoe sodat hy langs haar is. “Jy moenie vir my bang wees nie. Ek het belowe om jou veilig by jou ouma en oupa te besorg.”

“Hoe kan ek jou tog glo?”

“Jy móét my glo, Katrien! Dit is die enigste manier waarop jy lewend hier gaan uitkom.”

Katrien sug en Dewald hoor die verlatenheid in haar stem. “Wat sal dit help om lewend hier uit te kom? Wie dink jy sal ooit weer in my belangstel? Ek wat ’n week of dalk langer saam met ’n rower en veedief in die berge moes deurbring.”

“Toemaar, ek sal met jou trou.”

“Ag, moenie geklik wees nie. As ek lewend hier uitkom, dan sit jy in die tronk.”

“Ja, dit is ook weer waar.” Dewald kruip stil terug na sy eie lêplekkie.

Lank lê en worstel elkeen met sy eie gedagtes. “Dewald . . .”

“Ja, liefie?”

“Ag, moet tog nie so eenvoudig wees nie.” Sy hoor hom saggies in die donker lag en vererg bly sy stil.

“Wat is dit, Katrien?”

“My ouma en oupa . . . Sal . . . jy net vir hulle laat weet wat met my gebeur het? Ek bedoel . . . hulle is al oud en dit is beter dat hulle weet ek is dood as dat hulle die res van hul lewe bly hoop dat ek tog maar eendag sal terugkom.”

“Dit sal mos nie nodig wees nie, liefie. Ek het mos be­lowe om jou lewend hier uit te kry.”

“Ek twyfel baie sterk daaraan. Julle gee tog nie om wat met iemand anders gebeur nie. Vir julle is dit sommer net ’n avontuur, want die geld wat julle hieruit maak, mors julle seker op die eerste dorp op vroue en drank uit.”

“Darem nie hierdie keer nie, liefie. Ek hou niks van drank nie en ek het mos hierdie keer ’n vrou.”

Verskrik bly Katrien stil. Het sy nie dalk nou slapende honde wakker gemaak nie? “Jy . . . e . . .” Katrien huiwer ongemaklik.

“Ja?”

“Jy is anders as wat ek my voorgestel het ’n rower en dief behoort te wees.”

“Hoe bedoel jy?”

“Ag, ek weet nie. Vergeet dit.”

“Jy bedoel ek kyk so mooi na jou? Ek rand jou nie aan en sleep jou nie aan jou hare rond nie?”

“Ja, dit is miskien wat ek bedoel.”

“Ek belowe ek sal jou ongeskonde hier uitkry, maar jy wil my nie vertrou nie.”

“Dewald, sal jy my nie asseblief help om my beeste terug te kry nie?”

“O, jou Delila! Nee, my liefie, ek kan regtig nie.”

Die sug wat saggies uit haar borskas ontsnap, klink so pateties dat Dewald homself moet inhou om nie op te spring en haar styf teen hom vas te druk nie.

Dit is lank stil en Dewald het gedink sy slaap al toe die stemmetjie weer bewerig uit die donker kom. “Dewald . . . ons het nie meer geld nie. Die beeste is ons enigste hoop. Daar het nou bek-en-klouseer in Ovamboland uitgebreek. Dit is hoekom ek hierdie tog alleen aangepak het voordat dit daar na ons toe versprei. Oupa is oud . . . Ons kan nie weer van voor af begin nie.”

Sy stem is dik en ongewoon hees toe hy haar uiteindelik antwoord: “Jy moet nou slaap. Dit is al laat.”

Met ’n bang gevoel kruip Katrien in ’n stywe bondeltjie. Sy het nog heeldag haar hoop daarop gebou dat hy dalk so ’n bietjie verlief op haar sou raak en dan bereid sou wees om haar te help. Nou lyk dit asof hierdie hoop van haar ook maar net ’n neweldroom was.

Katrien weet nie wanneer sy aan die slaap geraak het nie, maar stadig dring die vrolike getjilp van die voëltjies deur die slaapnewels. Onwillig om die dag se bekommernis weer aan te durf, lê sy ’n lang ruk eers so met haar oë toe voordat sy dit stadig oopmaak en in Dewald se helderblou, laggende oë kyk.

“Maar jy kan darem vreeslik snork! Dan slaap jy nog met ’n oop mond ook.”

“Ag!”

“Kom, liefie, dat ek die bande wat ons bind, loswikkel.” Hy vroetel aan die tou by sy enkel en toe dit los is, tel hy haar voet in sy hand op. Haar voet is omtrent so groot soos sy hand en hy draai die tou om haar enkel versigtig los.

Hy vryf die rooi merk wat die tou gemaak het liggies met sy vingerpunte en toe hy opkyk, kyk hy reg in haar oë waarin daar ’n peinsende uitdrukking is.

“Moet net nie vir my sê jy is jammer hieroor nie. Ek dink jy skep ’n sadistiese behae daarin om my so te ver­rinneweer.”

Dewald haal sy skouers op en lag skeefweg. “Wel, ek weet van min ouens wat met ’n vrou kan redeneer en as oorwinnaar uit die stryd tree.”

Katrien sien sy ontspanne houding en nuwe planne begin al weer in haar agterkop rondfladder. Sy sal net moet seker maak van haar rigting en alles eers haarfyn beplan.

Dewald staan op en trek haar aan haar hand op. “Kom ons gaan haal koffiewater en gaan was ons sommer ook.”

Katrien kry eers gou haar goedjies in die hut en draf dan na buite waar hy geduldig vir haar staan en wag. Met meer konsentrasie beskou Katrien die omgewing. Die geweer staan teen die boomstam, maar op hierdie oomblik is Dewald tussen haar en die boom. Sy sal net eenvoudig moet probeer om vandag nog hier weg te kom, anders is dit te laat. Hierdie klomp skelms het ’n ander wegkruipplek by Otjimbingwe en sy moet hulle inhaal voordat hulle daar is.

Hulle voel heerlik verfris toe hulle terugkom, en Katrien sny solank die vleis in klein stukkies om saam met die sampioene te braai. Soos ’n ou getroude paartjie wat nie ’n enkele probleem in die wêreld het nie, sit hulle gesellig saam ontbyt en eet.

“Dink jy nie ons moet ’n slag die perde opsaal en ’n entjie met hulle gaan ry nie?” Katrien sê dit gewoon, maar Dewald is dadelik agterdogtig.

“Hoekom?”

“Hulle het ’n bietjie oefening nodig.”

“Ons kan hulle sommer hier rondlei.”

“Dit sal lekker wees om ’n entjie te gaan ry.” Katrien hou haar baie doenig met die kos in haar bord.

“Dit is te bergagtig, dit sal allermins ’n plesier wees. Hierdie valleitjie is ook te klein om te dink ons sal hier kan rondry.”

“Ag, jy is darem naar!”

Dewald lag. “Ek het hierdie uitdrukking laas op . . .” Hy bly skielik stil en staan op om vir hom nog koffie in te gooi.

Nuuskierig sit Katrien regop. “Waar het jy dit laas gehoor?”

“Nêrens nie.”

“Jy vertel my ook niks van jouself nie. Wie is jy en waar kom jy vandaan?”

“Dit is beter dat jy nie weet nie.”

“Jy weet alles van my af.”

“Darem nie alles nie. Ek weet nog nie of jy dalk verloof of verlief is nie.”

“Ek het jou ’n vraag gevra, Dewald.”

Dewald maak asof hy nie haar laaste vraag gehoor het nie. “Het jy?” Hy klink so onskuldig.

“Het ek wat?”

“Het jy ’n kêrel wat vir jou wag? Klaus het gepraat van ’n kêrel wat vir jou wag, of nee . . . jy sou by hom op die plaas gaan kuier het.”

“Nee, dit was sommer ’n storie om Lukas tevrede te stel. Hulle almal, met my ouma aan die voorpunt, soek heeldag vir my ’n man – eintlik iemand om die plaaswerk uit my hande te neem. Dit was al storie wat hom sou oorhaal om my alleen te laat ry.”

Dewald hoor die hartseer in haar stem en hy wens dat hy haar in sy vertroue kan neem. Dinge is egter te deurmekaar en te delikaat in hierdie stadium. Hy kan nie nou kanse waag nie, want dan was al die opoffering tevergeefs.

“Is daar iemand anders daar naby julle?”

“Miskien.”

Katrien staan op en gaan haal van die rou vleis. “Ons sal van hierdie vleis moet kook; dit gaan nie hou nie.” Sy sny die vleis in blokkies en gooi dit in die driebeenpot terwyl Dewald ’n paar kooltjies onder die pot krap sodat dit stadig kan kook.

Katrien beweeg ongemerk nader aan die geweer. Sy het die omgewing goed opgesom. Haar beste kans sal wees om deur die opening agter die hut weg te kom.

Die dag lê eindeloos lank en vervelig voor met niks om te doen nie. Hoeveel dae het sy nie gewens dat sy net een dag kon kry om te rus nie; net een dag van salige niksdoen! Noudat sy dit in haar skoot kry, kan sy dit egter nie geniet nie.

Dewald sit ontspanne teen die boom en Katrien besef dat hy baie minder op sy hoede as aan die begin is. Sy staan op en stap na die hut toe. Hy kyk net lui op en gaan aan om ’n stukkie hout met sy knipmes te sit en kerf.

In die hut haal sy ’n stuk biltong uit haar saalsak en druk dit in haar broeksak, asook ’n dosie vuurhoutjies wat eenkant op die tafel lê.

Sy vat haar borsel en gaan sit weer onder die boom. Tyd­saam maak sy haar hare los en begin dit borsel. Sy sien hoe Dewald se hande verstil en sy blik peinsend op haar hare rus. Dit laat haar ongemaklik voel. Behendig vleg sy die lang hare en gooi die vlegsel oor haar skouer.

“Sal ons nie vir ons ’n bietjie koffie maak nie? Dit is wel nou teetyd, maar koffie sal ook lekker smaak.”

“My ma sou sê jy het darem ’n vreeslike droë lewer.”

“Leef jou ma nog?”

“Ja, sy leef nog. Sy het net sulke mooi, lang hare soos jy.”

“Dewald, hoe kan jy hierdie dinge aan haar doen?”

Dewald antwoord haar nie. Hy staan net op en weeg die koffiekan in sy hand. Dan buk hy oor die vuur om nog ’n stukkie hout op te sit.

Dit is toe dat Katrien haar kans waarneem. So sag moontlik beweeg sy nader aan die geweer en met ’n blitsvinnige beweging gryp sy dit aan die loop. Met al haar krag slaan sy Dewald teen sy agterkop. Hy spring om, dan knak sy knieë stadig onder hom en hy slaan neer soos ’n os.

Katrien gryp die geweer, maar draai eers weer om na hom toe. Ag, Vader, gee tog dat ek hom nie doodgeslaan het nie, bid sy en buk by hom. Toe sy die ligte deining van sy borskas sien, sug sy van verligting.

Vinnig gryp sy haar hoed en met een beweging gooi sy die saal oor ou Bes se rug en trek die gespe van die buikgord vas. Sonder Bes sal sy nie die beestrop kan inhaal nie.

Haar tog gaan egter tergend stadig. Sy het nie opgelet hoe hulle gekom het nie. Sy loop haar gereeld teen hoë rotse of kranse vas wat absoluut onoorkombaar is, en dan moet sy weer ’n ent terugbeweeg. Sy moet in ’n suidwestelike rigting gaan en as plaaskind is dit nie ’n probleem om die rigting te bepaal nie. As sy tog net eers uit die berg met al sy gevare en draaitjies kan kom.

Na meer as twee uur se gesukkel voel sy heeltemal verdwaal. Sy maak vir Bes aan ’n rotspunt vas en klim op ’n hoë rots. Sy is nog diep in die berg, maar toe sy bo-op die rots is, kan sy die blou lug in die verte sien.

Veiligheidshalwe lei sy liewer vir ou Bes. Dit gaan moeisaam en die son speel ook nie saam nie. Dit is op die hitte van die dag en die son staan behoorlik stil. In haar haas om weg te kom, het sy vergeet om water te vat en sy maak al die afgelope uur met haarself daaroor rusie. Dat sy as gebore Suidwester nou so iets gekliks kon doen, gaan haar verstand te bowe. Haar tong klou aan haar verhemelte vas en die droogheid het al versprei tot in haar bors, sodat sy sukkel om asem te kry.

Na ’n moeisame uur lange gesukkel sien Katrien ’n hoë rots voor hulle. Sy moet liewer maar weer hier opklouter en kyk of sy nie kan sien waarheen hulle moet gaan nie. Dit is toe sy haar arms uitstrek om op te klim dat sy die vars voetspoor in die sand onder die rots sien. Stadig sak sy op haar hurke en kyk verdwaas na die spoor. Met ’n gevoel van teleurstelling pas sy haar skoen in die spoor en haar vrees sit om in werklikheid. Sy het verdwaal! Sy het meer as ’n uur lank in ’n sirkel geloop!

Sarah du Pisanie Omnibus 9

Подняться наверх