Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie - Страница 9
6
Оглавление“Hoe voel jou enkel?” Dewald staan in die deur van die hut met ’n beker koffie in sy hand. Hy het haar gisternag hier gelos en nie weer haar beddegoed uitgedra soos die vorige nagte nie.
Sy sit vinnig regop en roer die enkel. “Dit is nie meer so seer soos gister nie.”
Dewald gee vir haar die beker koffie aan en kom sit eenkant op die bedjie. Sonder om haar toestemming te vra, draai hy die verband af en bevoel die enkel. “Dit is nie so erg soos wat ek gedink het nie. Jy behoort oor ’n dag of twee weer op jou voet te kan trap.”
Hy trek die broekspyp hoër op en bekyk die krapplek. Dan staan hy op en gaan haal weer van die salf uit die swart blik wat hy aan die merk smeer.“Ons sal nou vroeër moet vertrek. Ons het net een perd en ons sal sukkel om op Otjimbingwe te kom. Môreoggend sodra dit lig is, moet ons begin.”
“Maar . . .”
Dewald luister nie na wat sy wil sê nie. Hy staan net op en stap by die deur uit.
Ingedagte drink Katrien haar koffie en spring dan op haar een been na buite.
Dewald het al die papwater opgesit en staan met sy rug na haar toe. Hy staar ver oor die stil, ontwakende veld, maar sien niks raak nie. Alles binne-in hom is ’n warboel van emosie. Moet hy nie maar ’n ander plan met haar maak nie? Die gevaar is so groot dat iets dalk skeefloop, veral nou met haar beseerde enkel.
Katrien gaan sak onder die boom neer en kyk na sy stil gestalte. Hy lyk so eensaam en seergemaak. Benoud knoop sy een hempsknopie los asof sy lug soek. Dit is asof haar gedagtes en gevoelens haar wil versmoor. Gisternag het sy seergemaakte oë by haar gespook en dan het sy weer sy lippe op hare gevoel brand.
Dewald kyk skielik om en sy oë hou hare stil gevange. Elkeen is besig met sy eie gedagtes en bekommernisse. Met verwondering sien hy die dofrooi gloed van haar hals af opstyg en dit ontlok ’n teerheid en sagtheid in hom wat hom week maak.
Dewald is die hele dag stil en bekommerd en Katrien neem maar aan dat hy vir haar kwaad is. Teen die aand voel sy hartseer en ongelukkig, maar sy weet nie waaroor nie. Sy weet nie eens of dit in haarself is wat sy teleurgesteld is nie.
Dewald stap teen laatmiddag die veld in om later terug te kom met twee groot sampioene. “Die vleis is sleg; ek het dit daar anderkant vir die jakkalse gaan weggooi. Sê net vir my wat om te doen, dan maak ek die paddastoele gou gaar.”
“Toemaar, ek sal dit doen. Rol net asseblief vir my daardie groot klip naby die vuur.”
Hulle eet later in stilte en Dewald gaan spoel self die borde en bekers uit.
“Ons moet al die biltong wat hier is in die saalsak druk, want ons gaan ’n goeie twee dae op die pad wees.” Dewald pak die laaste bietjie koffie en suiker ook in die saalsak. “Ons kan ongelukkig nie die ketel ook saamvat nie. Ons het net die een perd en jy, met jou beseerde enkel, sal meestal daarop moet ry.”
“Ons kan mos maar die water sommer in die bekers kook,” doen Katrien skaam aan die hand, al ignoreer Dewald dit ook geheel en al.
Hy kom staan voor haar waar sy teen die boom sit.“Jy waag nie weer een van jou simpel planne nie. As jy nie so wantrouig was nie, het ons nog albei perde en die geweer gehad.”
Katrien sug. Dit was seker ’n onnosel ding wat sy gedoen het, maar hy kan darem nie verwag dat sy ’n rower wat haar ontvoer het, moet vertrou nie. Dit is darem verregaande!
“Verstaan jy my? Dit gaan nou om jou lewe en myne. Of jy my nou vertrou of nie, dit maak aan my geen saak nie. Ek het jou belowe dat ek jou lewend hier sal uitkry en ek sal dit doen, al breek ek ook my eie nek!”
Katrien laat haar kop sak en kyk op haar hande af.
Dewald sak af en kom sit op sy hurke voor haar. “Ek het ’n goeie vermoede wat jou dunk van my is. Maar hoekom jy my vrees, weet ek nie. Dinge is nie soos dit op die oog af lyk nie. Ek kan jou ongelukkig nie nou in my vertroue neem nie. Die situasie is te delikaat en dit kan alles verongeluk.”
“Hoe kan jy van my verwag om jou te vertrou?”
“Vertrou my net! Dit is al wat ek vra. As jy regtig nie kan nie, belowe my dan net jy sal nie weer probeer vlug of my van die gras af probeer maak nie. As ek nie by jou is nie, gaan jy geen kans hê nie.”
“Ek wou jou nie doodmaak nie. Regtig nie . . . ek . . .”
“Spaar jou traantjies. Ek laat my nie twee keer met dieselfde strik vang nie. Kry dit net in jou kop dat jy nie met daardie beseerde enkel moet probeer wegkom nie. Die ander gaan nie vir jou genade hê nie.”
Dit voel vir Katrien asof sy nog nie ’n oog toegemaak het nie, toe sy al vir Dewald hoor werskaf om vuur te maak. Die dag skyn grou by die hut se deur in.
Katrien swaai haar bene van die bed af en toets haar beseerde voet liggies. Dit is nog gevoelig, maar beslis nie meer so seer soos die vorige dag nie. As sy die voet vandag nog laat rus, behoort dit gou-gou heelwat beter te wees.
Sy hou aan die hut se deurkosyn vas en spring dan op haar een been na buite. “Kan ek help?”
“Nee wat, dit is nie nodig nie.”
Sy steur haar egter nie verder aan Dewald nie en wip weer terug na die hut toe om die meel te kry om pap mee te maak.
Die ontbyt verloop stil en stroef en voordat die son nog behoorlik op is, sit sy al op die perd en vat Dewald die teuels stewig vas om hulle die berg uit te lei. Die saalsakke is bultend, want hulle moes alles daarin druk. Hy haak hare en syne oor die perd en stadig begin hul uittog.
In doodse stilte stap hulle al kronkelend deur die berg. Dit is gevaarliker as toe hulle gekom het, want die paadjie is skerp afdraand en Dewald is uiters versigtig dat die perd nie moet gly en seerkry nie. Dit voel soos ’n ewigheid voordat hulle onder die berg op die gelykte uitkom.
Dewald vee die sweet van sy voorkop af en steek sy hande uit om haar van die perd af te tel. Sy buk vooroor en gly gemaklik in sy arms af. ’n Oomblik lank staan sy styf teen hom aan en ’n vreemde begeerte om haar arms om sy lyf te slaan en haar kop teen sy bors te druk, spring soos ’n fontein in haar op.
Verleë en ongemaklik oor hierdie vreemde begeerte staan sy vinnig terug en ontwyk sy oë.
Hulle drink van die water uit die watersak en laat die perd so ’n uurtjie rus. Daar is egter nie water vir die perd nie en Katrien wonder bekommerd wanneer en waar hulle vir die stomme dier gaan water kry.
“Waarheen gaan jy nou met my?” Katrien krap met ’n stokkie voor haar in die grond.
“Otjimbingwe toe.”
Sy sug diep. Sou hierdie week saam met haar nie ook iets aan hom gedoen het soos aan haar nie? Is hy werklik nog van plan om aan te gaan met hierdie diefstal en haar nog aan die genade van die ander rowers uit te lewer?
“Dewald . . . as jy nie kans sien om die geld te verloor nie, hoekom laat jy my dan nie net gaan nie? My oupa het nie juis geld nie, maar ek is seker daarvan as ons die plaas verkoop, sal hy jou iets kan gee as . . . hy my lewend kan terugkry.”
“Ek kan nie. Hulle wil jou daar hê sodat Lukas en die ander kan dink alles is reg. Lukas en jou ander mense moet die beeste aanjaag tot kort voor Windhoek. Hulle wil so min moontlik agterdog wek, want almal is deesdae op hul hoede vir die veediewe.”
“Julle het alles haarfyn beplan, nè? Tot alternatiewe planne ingeval een nie uitwerk nie.”
“Ja, alles is haarfyn beplan.”
Sy skuif nader aan hom en lê haar hand pleitend op sy arm. “Dewald, ek smeek jou, asseblief! Laat my asseblief gaan. Ek het daaroor gedink en ek besef nou dat my ouma en oupa al die jare maar net vir my geleef het. Hulle sal eerder vir my wil terughê as die beeste of die geld.”
Hy kyk nie na haar nie. Sy blik rus stil op die hand wat sy arm so benoud omklem. Binne-in hom woed ’n stryd wat sy nie sal verstaan nie. Hy is self so onwillig om haar aan soveel gevare bloot te stel, maar die sukses van sy plan hang geheel en al van die volgende paar dae af. As sy tog net naby hom wil bly en nie weer probeer ontsnap nie! Hy kyk op en sien die trane aan die lang wimpers en iets knak binne-in hom. Sonder dat hy dit so wil hê, is sy skielik in sy arms en soen hy haar wild en onbeheers.
Die bruin oë, so vol bewondering, wat so sag na hom kyk, ruk hom tot die werklikheid terug en hy verag homself vir sy volgende woorde, veral toe hy die ongeloof en verwarring op haar gesig sien. “Jy speel al weer met vuur, nè? Een van die dae gaan ek vergeet dat ek ’n heer is en dan gaan jy nie so goed daarvan afkom nie.” Sy groot hand omvou haar gesiggie en dan sak sy kop weer laer en rus sy mond nog ’n keer sag en talmend op hare.
Hy laat haar gaan en Katrien kyk hom net verslae aan. Sy is seker daarvan dat sy oë sy woorde weerspreek en dit verwar haar heeltemal. Vinnig druk sy haar gesig in haar hande en haar skouers ruk terwyl geluidlose snikke deur haar golf.
Dewald staan vinnig op en stap ’n ent van haar af weg. Wat moet hy doen? Hy het nie verwag dat sy so pragtig en vroulik sou wees nie. Hulle het almal gedink sy sou groot en grof wees. ’n Vrou wat so ’n lang trek met ’n trop beeste aandurf, behoort groot en grof te wees en soos ’n man met ’n vuis te kan slaan.
Sy kyk na sy breë rug waar hy ’n entjie van haar af gaan staan en ver voor hom uitstaar. ’n Vreemde mens! Hy was hierdie afgelope dae net goed vir haar. Hy het haar nooit te na gekom of probeer molesteer nie, behalwe die dag daar by die fontein, en wel, dit was darem abnormale omstandighede en hy het haar darem net gesoen.
Asof vanself gaan haar hand na haar mond toe en vryf sy liggies oor haar lippe waarop syne nou net met soveel emosie en dringendheid gerus het. Peinsend kyk sy na hom. Sy is seker daarvan hy voel iets vir haar. Hy behandel haar met soveel respek. Hy pleit gedurig by haar dat sy hom moet vertrou. As sy net kan weet wat die bende rowers se planne is, wat sý plan is, dan kan sy probeer om iets uit te werk.
Doelgerig druk ’n plan wat sy al vroeër op die proef gestel het, hom weer pertinent op die voorgrond. Haar enigste wapen is die feit dat sy ’n vrou is, en sy sal net moet baklei met die wapen tot haar beskikking – al moet sy ook van haar trots en selfrespek daarvoor inboet. Sy sal baie versigtig moet wees. Hy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. As sy nou ewe skielik vriendelik en toegeeflik word, sal hy hond se gedagtes kry. Sy sal dit geleidelik moet doen sodat dit natuurlik kan lyk. Dit is blykbaar nog twee dae se reis na Otjimbingwe toe en dit gee haar darem ’n kans.
Sy laat sak dus weer haar kop op haar knieë en sit doodstil en inmekaar totdat sy onder haar arms deur sien hoe hy omdraai en nader kom.
“Kom, ons moet aanstoot. Dit is nog twee uur se ry voordat ons by water vir die perd kom.”
Sy sukkel self orent en klap sy hand wat hy na haar toe hou weg. “Ek het niks van jou nodig nie!” Sy hou haar astrant en sien met genoegdoening dat haar strategie werk.
“Ag, moenie kinderagtig wees nie.” Hy buk en trek haar regop. “Los my! Jy maak misbruik van my wanneer ek verleë is. Ek het jou al gesmeek vir my vryheid; ek het jou al selfs geld aangebied, maar jy wíl my nie help nie. Jy is te bekommerd dat jy dalk geldelik aan die kortste ent sal trek in hierdie transaksie. Ek hoop jou gewete keil jou op dat jy niks daarvan sal geniet nie.”
Dewald sug net en tel haar met ’n swaaibeweging op die perd se rug. “Haal jou voete uit die stiebeuels. Ek sal saam met jou op die perd moet ry, anders kom ons nooit by ons bestemming nie.”
Sonder om teë te praat, skop sy haar voete uit die stiebeuels en wag dat hy agter haar moet opklim. Sy sit styf en gemaklik teen sy breë bors. Hy vat die teuels uit haar hande en sy skuif kastig ’n entjie vorentoe en hou haar rug styf en regop. Hy moet darem nie dink sy gaan die rit geniet nie. Sy arms wat om haar kom om die teuels voor vas te vat, is hard en onpersoonlik, so asof hy geen genot uit haar nabyheid put nie.
Op ’n gemaklike draffie ry hulle verder. Ritmies beweeg hul liggame saam met die perd se gang en so ongemerk moontlik skuif sy agtertoe en vas teen sy harde, gespierde liggaam. Geleidelik en baie doelbewus ontspan sy teen hom en dit is met ’n vreemde glimlaggie om haar lippe dat sy voel hoe sy arms om haar ontspan en warm en gemaklik om haar heupe kom rus.
Na ’n lang ruk verbreek sy die stilte ongemerk sonder om om te kyk. “Ken jy hierdie wêreld?”
Die wind suis by hul ore verby en hy buk vorentoe sodat sy gesig hier by hare is. “Hm?”
“Ek sê, ken jy hierdie wêreld? Dit lyk so asof jy presies weet waarheen jy gaan.”
“Ja, ek ken hierdie wêreld.”
“Woon jou ouers hier naby?” Sy leun nog verder terug sodat hy kan hoor wat sy sê, maar sodoende druk sy ook stywer teen sy bors aan.
Sy asem is warm teen haar slaap en sy stem is ongewoon grof toe hy praat. “Dit kan ek nie vir jou sê nie.”
“Hoekom nie?”
“Hoekom wil jy al hierdie dinge weet? Dit is tog nie belangrik nie.”
“Ek is sommer net nuuskierig, want dit is vir my amper ondenkbaar dat een Suidwester ’n ander een se goed sal steel.”
Dewald lag sinies. “Ja, dit is maar buitengewone omstandighede, nè? Ek wonder wat sou gebeur het as ons mekaar op ’n ander plek en in ’n ander stadium ontmoet het.”
Katrien draai haar gesig sodat sy syne kan sien, want hy klink so hartseer en ongelukkig. Haar oë is groot en donker hier by sy gesig en sy sien hoe ’n spiertjie in sy wang vinnig beweeg soos hy sy tande op mekaar klem.
“Dewald?” Haar stem is sag en vraend. “Jy klink so bitter.”
“Nee, nie bitter nie. Dit is net . . . Ag, nou ja, ek kan seker ook niks anders verwag nie.”
Sy draai haar kop weer vorentoe, maar haar kop bly sommer daar in die holte van sy skouer. Die stilte is rustig en kameraadskaplik en Katrien skep weer stadig moed dat haar plan dalk tog kan slaag.
Die son sak al vinnig in die weste toe hulle by ’n ou, vervalle opstal stilhou.
“Wel, dit was ons skof vir vandag.” Hy klim af en steek sy hande na haar uit. Gemaklik lig hy haar af en sit haar op die grond neer. “Ek gaan net gou vir Prins ’n bietjie water gee en dan kom maak ek vir ons ’n vuurtjie. Hier behoort ’n ou blik te wees waarin ons water kan kook.”
Katrien hobbel aan na die murasie toe. Alles is verlate en die huis se dak is lankal afgewaai. Die mure staan nog net halfpad en dit laat haar onwillekeurig dink aan Nehemia uit die Bybel wat moes teruggaan om Jerusalem se mure te gaan herbou. Dit het seker vir hom ook so verlate en vervalle gelyk.
Sy sak op die trappie neer waar vroeër waarskynlik die kombuis moes gewees het, en haar gedagtes draai al om die verlate ou huis. Hoeveel taferele van vreugde en hartseer het hulle dalk hier tussen hierdie mure afgespeel? Hoeveel drome is hier gedroom waarvan die meeste seker nooit verwesenlik is nie?
Dewald kom in en sit die saal en saalsak in een van die vervalle vertrekke neer voordat hy ’n vuurtjie gaan maak. Sonder om te soek, gaan haal hy ’n swartgerookte blik onder ’n bos uit en Katrien besef dat dit een van die veediewe se poste moet wees. Hulle kom seker gereeld hier aan wanneer hulle hul rooftogte uitvoer.
Die ete is maar karig; daar is vir elkeen nog net ’n beskuit en ’n stukkie biltong.
Dewald kyk bekommerd na haar. “Jy voel seker dood van die honger. Môreoggend ry ons by ’n ou vrugteboord verby en soms is daar nog ’n verdwaalde lemoen of ’n paar vye. Ek sal vir jou daarvan pluk.”
“Nee wat, jy hoef nie oor my bekommerd te wees nie. Ek eet nie juis baie nie. Maar wat van jou?”
“Jy is tog nie bekommerd oor my nie?”
Katrien kyk verleë weg. Haar woorde het so spontaan gekom, dit was glad nie deel van haar uitgewerkte strategie nie. Dit laat haar skrik, want ’n oomblik lank was sy werklik bekommerd oor hom.
“Nee, nie juis nie.”
“Ek wil net gou na jou been kyk voordat ons gaan slaap.”
“Ag, dit is nou baie beter.”
“Ek wil nogtans daarna kyk . . . liefie!”
Katrien gluur hom gemaak kwaai aan, maar skielik klink dit so mooi en vertroostend om daardie woord weer uit sy mond te hoor.
Hy skuif die saal so dat sy dit onder haar kop indruk en hy gaan lê maar eenkant op die harde misvloer. Dit is hard en baie ongemaklik en Katrien weet dat hulle vannag nie juis veel sal slaap nie. Sy draai later die honderdste keer op ’n ander sy.
“Is jou enkel seer?”
“Nee!”
“Hoekom slaap jy dan nie?”
“Ek kan nie.”
“Verlang jy na my? Wil jy weer in my arm slaap soos die nag onder die krans?”
“Ag, jy is nie snaaks nie.”
Sy hoor hom saggies lag en dankbaarheid vlam in haar op omdat hy weer gemoedelik en vriendelik is. “Dewald.”
“Hm?”
“Die hoeveelste strooptog is dit dié wat julle nou uitvoer?”
“Dit is my eerste.”
“O!”
“Nou wat beteken dáárdie antwoord?”
“Nee, ek verstaan nou beter. Dit is hoekom jy so bekommerd is dat alles goed moet afloop, anders is jy dalk jou werk kwyt.”
“Ja, en my lewe. Hierdie soort werk bedank ’n mens nie. Jy word ook nie afbetaal nie. Hulle skiet jou doodeenvoudig wanneer hulle nie tevrede is met jou diens nie.”
Die skrik slaan koud om Katrien vas. “Dewald, hoe het jy dan hierby betrokke geraak? Dit . . . pas nie by jou nie.”
“Jy is darem ’n nuuskierige vroumens!”
Daar is ’n kort stiltetjie. Dan kom haar stem weer onseker maar tog nuuskierig. “Hoekom trou jy nie liewer en doen ’n eerlike werk nie? Dit sal jou baie meer tevredenheid verskaf as om sulke dinge te doen.”
“Watse dinge?”
“Ag, jy weet goed.” Die stilte rek en Katrien probeer die saak van ’n ander kant af benader. “Jy kan mos hier in Suidwes kom boer. Die plase is goedkoop en as jy nie geld het nie, kry jy maklik ’n lening. Hulle soek mense om hier te boer sodat die wêreld meer bewoon kan raak.”
“Ek wil darem nie jaarin en jaaruit so alleen op ’n plaas sit nie. ’n Mens sal later verleer om te praat.”
“Maar jy kan mos trou.”
“Waar dink jy sal ek ’n vrou kry? Niemand sal tog ’n dief en daarby nog ’n rower ook vir ’n man wil hê nie.”
Dit is ’n lang ruk stil en Katrien dink hy slaap al, toe kom sy stem sag en tergerig uit die ander hoek.
“Liefie.”
“Hm?” Katrien kom nie eens agter dat sy nie kapsie maak teen die aanspreekvorm nie.
“Tensy . . . jy´ met my trou.”
“Jy is seker laf!”
“Sien jy nou, niemand wil my hê nie. Selfs nie eens jy wat weet dat ek mooi na my vrou sal kyk nie. Ek sal dus maar moet aangaan met my rowerbestaan.”
’n Diep jammerte kom kruip in Katrien se hart in. Foeitog, hy is dalk werklik eensaam. Hy is glad nie soos wat ’n rower behoort te wees nie. Daar steek dalk baie goed in hom en hy het net met die verkeerde mense vriende gemaak. Dalk doen hy dit net vir die avontuur.
“As dit vir die avontuur is dat jy hierdie dinge doen, dan kan jy my mos maar liewer help om my beeste terug te kry.”
“Sal jy dan met my trou?”
Katrien lag saggies en Dewald hoor die pret in haar stem.
“Wat sal jy maak as ek ja sê?” Sy hoor hoe Dewald sy asem intrek, maar gaan vinnig aan voordat hy iets kan sê. “Daardie beeste beteken so baie vir ons. Oupa is baie sieklik en omtrent heeltemal doof. Ons het geen ander heenkome nie. Ek twyfel of ons die plaas verkoop sal kry. Hier is so baie grond wat nog goedkoop is. As ek nie die geld terugneem nie, kan ons maar oppak en iewers anders ’n heenkome gaan soek.”
“Liefie, sal jy regtig met ’n dief trou net om die beeste terug te kry sodat jy hulle kan verkoop om vir jou oupa die geld te neem?”
“Jy verstaan nie, Dewald. Ek is vreeslik baie aan daardie twee dierbare ou mense verskuldig. Ek is hul hele lewe. Hulle het net die een seun gehad en toe reeds het hulle al ’n gevorderde leeftyd bereik. Toe hy dood is, het hulle plaas toe gekom sonder kennis van boerdery, net omdat dit my pa se wens was dat hulle die plaas vir my moes behou.”
“Katrien, sê nou reguit, as ek jou beeste vir jou terugkry, sal jy dan met my trou?”
“Sal jy my dan help teen die ander?”
“Ek het jou gevra of jy met my sal trou as ek jou beeste vir jou terugkry.”
“Ek verstaan jou nie nou nie!”
“Ek het jou nie gevra of jy verstaan nie. Ek het jou gevra of jy dan met my sal trou.”
“Dit was tog sommer net ’n grappie, was dit nie?”
“Ek maak nie simpel grappies nie.”
Katrien dink ’n rukkie lank ernstig daaroor na en lag dan saggies. “Goed. Maar onthou, net as jy my help, nie as ek dit alleen regkry nie.”
“Katrien!” Sy hoor hom in die donker skuifel en dan is sy groot gestalte voor haar. “Jy gaan nie probeer om iets alleen aan te pak nie. Verstaan jy my?”
“Hoekom nie?”
“Dit is gevaarlik! Dit is lewensgevaarlik!” Hy vat haar stewig aan haar skouers en skud haar liggies om die erns van sy woorde by haar tuis te bring.
“Vir my was dit tog van die begin af lewensgevaarlik.”
“Luister nou na my. Jy gaan die volgende paar dae snaakse dinge sien en hoor. Asseblief, liefie, vertrou my net. Dit is al wat ek vra. Sal jy?”
Katrien sug ’n diep sug wat onder uit die dieptes van haar siel kom. “O, Dewald, ek wens ek kon! Ek wil so bitter graag, maar . . .” Sy hande op haar skouers raak teer en liggies vryf hy die skraal skouerknoppe. Sy hande skuif saggies op teen haar nek sodat sy groot hande haar hele gesiggie omskulp. Liggies vryf hy met sy duime langs haar mond se hoeke terwyl sy gesig stadig nader kom. “Vertrou my net nog ’n week. Sal jy?” Sy stem is sag en hees en Katrien kan nie die snaakse weekheid in haar hart verklaar nie.
Sy vertrou haar eie stem nie en knik net saggies voordat sy lippe ’n oomblik lank sag en baie teer op hare rus. Sy hoor die siddering in sy stem toe hy sy stem intrek en haar dan vinnig los.
“Nag, Katrien. Nou moet ons slaap voordat . . .” Hy maak nie sy sin klaar nie en Katrien het nie die moed om hom uit te vra nie.
Dit is ’n rustelose nag en Katrien is die volgende oggend vaak en dikkop.
By die put trek Dewald ’n emmer water op en sy was gou haar gesig en arms in die koel water. Daar was nie plek in die saalsak vir al twee handdoeke nie en sy en Dewald deel sommer vanoggend die enigste een.
Ongeveer ’n halfuur se ry van die murasie af kom hulle op die ou vrugteboord af. Daar is nog so hier en daar ’n lemoentjie en selfs ’n paar vye. Dit is nie vreeslik lekker nie, maar heeltemal eetbaar. Die lekkerste van alles is ’n paar turksvye wat Dewald vir haar skoonmaak. Sy eet soos ’n koningin en lek behoorlik haar vingers af.
“Ons gaan net na die middagete by ’n fonteintjie uitspan. Ons moet daar bly tot vanaand toe. Die volgende stukkie pad sal ons deur die nag moet ry.”
“Hoekom?”
“Hier rond is mense wat my ken. Ek is bang hulle sien my wanneer ek in die dag hier verbygaan.”
Elke keer wanneer sy daaraan herinner word dat hy met duistere dinge besig is, trek iets binne-in haar saam en dit maak haar ongelukkig en hartseer. Dat so ’n mooi jong man met sulke pragtige maniere hom aan sulke dinge skuldig maak, is vir haar te veel om te verwerk.
Hulle rus heerlik uit by die fonteintjie. Katrien strek haar op die koel gras onder die groot bome uit en raak aan die slaap.
Dewald wag totdat dit heeltemal donker is voordat hy die perd opsaal.
Hulle maak eers vir hulle koffie – die water word sommer in die bekers gekook. Dit proe aaklig en na moer, maar dit is darem koffie.
Dewald gooi eers sand oor die kole en maak dan die watersak vol met water uit die fontein.
“Kom, skone dame!”
Hy lig haar gemaklik op die perd en skuif agter haar in. “Hier begin ons tog deur die donker, geheimsinnige nag.”
“Raak jy nou digterlik daaroor?” Katrien se stem is net so lig en vrolik soos Dewald s’n. “Is jy bang, prinses?”
“Ja, ek is doodbang!”
“Vir my? Is jy bang om so saam met my deur die donker nag te ry?”
Die perd draf gemaklik en Katrien besef dat Dewald hierdie wêreld baie goed moet ken. Hy ken elke rots en koppie en stuur die perd doelgerig op sy bestemming af.
“Nee, ek is nie bang vir jou nie.” Verbaas oor haar eie woorde bly Katrien stil. Dit is die waarheid, besef sy. Sy is nie bang vir hom nie. Sy voel so veilig en rustig hier teen hom. Dit is vir haar lekker om by hom te wees, om hier so vas teen hom te sit met sy arms so beskermend om haar. Sy arm om haar middel span stywer en hy trek haar vas teen hom aan. Gewillig laat sy hom begaan en sit haar hande voor op syne wat die teuels vashou. Liggies ril sy toe sy sy warm asem in haar nek voel, en dan sy lippe wat liggies met haar oor speel.
“Moenie, Dewald!”
“Katrien . . .”
Sy draai haar gesig om na hom te kyk en dan sluit sy lippe warm oor hare. Die tyd staan vir hulle stil en net een wete bly klop-klop in haar binneste: sy is lief vir hom. Sy is lief vir hierdie skurk; hierdie man wat ander mense beroof.