Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie - Страница 8
5
ОглавлениеDie newels wyk stadig voor Dewald se oë. Hy voel die steekpyn in sy kop toe hy effens beweeg en dit voel asof sy oë te groot is vir hul kasse. Stadig steek hy sy hand uit na die seerplek aan sy agterkop. Dit is gelukkig net ’n yslike knop wat onder sy vingers ingly en nie die taai klewerigheid van bloed nie.
Hy probeer orent kom toe die werklikheid tot hom deurdring. “So ’n duiwelskind! Vuurvreter!” Dewald vloek kliphard en hou sy kop vas toe die duiseligheid hom weer wil oorval.
Hy strompel hut toe en uit sy saalsak haal hy ’n swart blik waarin verskillende soorte medisyne en ook verbande is. Met vingers wat weet wat hulle soek, skud hy twee wit pille uit ’n papiersakkie en strompel terug na die boom toe waar die watersak hang. Hy sluk sommer die pille af met water wat hy so uit die sak drink.
Nou eers sien hy dat Katrien se perd en die een saal ook weg is. Hy kyk na die watersak in sy hand.“Onnosel! Jy sal vrek van die dors; hier is geen water in die berg nie. En jy sal waaragtig nie self hier uitkom nie.” Dewald baklei kliphard met die watersak in sy hand. Met bewende knieë stap hy fontein toe om die sak vol water te gaan maak.
Die enigste inkomplek is soos hulle gekom het, daarom doen hy nie eens die moeite om na spore te soek nie. Hy haak die tou van die boom af en draai dit om sy skouer. Hy sal uiters versigtig moet wees, want die klein derduiwel het nou die geweer ook.
’n Ent van die hut af kry hy die voetspoortjie in ’n kolletjie sagte sand. Sy behoort omtrent twee uur voorsprong op hom te hê.
Die pille begin stadigaan ’n uitwerking hê en sy kop is nie meer so kloppend seer nie. Daar is nou net ’n besliste, onredelike woede in sy binneste. Hy het haar so mooi gevra om hom te vertrou! Hy het haar mos gewys dat hy haar nie leed wil aandoen nie. Hoekom sou sy dit nou aan hom doen?
Dewald word yskoud toe hy sien waarlangs sy met die perd probeer gaan. Op hierdie paadjie sal sy nooit uit die berg kom nie.
Katrien sak teen die rots af en voel hoe die warm trane oor haar wange loop. Sy is dors en moeg en nou stap sy nog in sirkels ook. Sy gaan nooit vandag hier uitkom nie.
’n Goeie vyf minute sit sy onder die rots en dan tel sy beslis die geweer op en haak dit weer oor haar skouer. Sy sal net eenvoudig ’n ander rigting moet probeer inslaan. Van nou af sal sy gereeld by ’n uitkykpunt moet kom om te sien of sy nog in die regte rigting beweeg.
Bes struikel agter haar en Katrien voel die skrik koud op haar uitslaan. Die wêreld is hard en rotsagtig en die lysies is nou en amper onbegaanbaar. Sy kan dit nie waag om die teuels een oomblik te los nie, want sy kan aan Bes se gespanne houding sien dat sy heeltemal verbouereerd is.
Die afgrond is sommer skielik so sonder waarskuwing voor hulle. Lam van skrik leun Katrien teen die rots agter haar. Hulle sal moet terug, maar sy sal vir Bes agteruit moet laat stap, want omdraaikans is hier glad nie.
“Kom nou, ounooi!” Sy druk liggies teen Bes se bors. Die ou perd beur egter nog steeds vorentoe. “Kom, ou Bes!” Liggies vryf sy teen die getroue dier se nek, maar Bes se hele liggaam bewe en is snaarstyf gespan.
’n Voël vlieg kwetterend voor hulle verby en verskrik gryp Katrien in die lug. Met ’n gil voel sy hoe die geweer van haar skouer afgly en hoe die grond terselfdertyd onder haar padgee. Bes se oë rol wild in hul kasse. Saam met Katrien se gille slaan die perd se vreesbevange gerunnik teen die rotse vas om dan demonies terug te weergalm.
Katrien gooi haar lyf werktuiglik vorentoe en dan voel sy hoe haar vingers agter iets stewigs vashaak. Haar val is gestuit! Snikkend en biddend probeer sy haarself optrek. Haar voete hang egter loodswaar aan haar lyf en sy kan geen vastrapplek kry nie.
Stadig maak sy haar oë oop. Gelukkig rus haar borskas nog op die lysie en haar hande klou krampagtig aan ’n uitstaande rotspunt vas. Krag wat uit vrees en nood gebore is, laat haar haar liggaam stadig vorentoe trek. Na ’n ewigheid voel sy dat die rotswand onder haar maag inskuif. Versigtig steek sy haar een hand vorentoe om verder weg ’n vashouplek te soek. Tergend stadig, bietjie vir bietjie, trek sy haar lyf vorentoe om later bewend en snikkend op die smal rotslysie te lê.
Lank lê sy net so totdat die ergste skrik uit haar is. Sy maak haar oë op ’n klein skrefie oop en loer versigtig om haar. Bes moet hier afgestort het. Sy stuur weer ’n skietgebedjie op. Ag, asseblief, liewe Vader, gee tog dat sy op slag dood is. Moenie dat my dier iewers lê en ly nie.
Sy kruip weer versigtig nader aan die afgrond en loer oor die kant. Baie, baie ver onder op ’n rots lê die lewelose liggaam van ou Bes. Die bene is potsierlik skeef onder haar ingevou.
Snikkend druk Katrien haar kop op haar arms en dit is eers baie later dat sy stadig op haar maag die terugtog op die smal lysie langs begin. Sy weet dat daar genoeg ruimte is om te loop, want sy en Bes het hierlangs gekom, maar sy vertrou nie haar bene nie. Van die skrik sal hulle sommer onder haar padgee. Die beknopte ruimte voor haar word breër en sy kruip versigtig onder ’n oorhangende rots in.
Haar lippe is droog en haar keel en bors brand van die dors. Eers na ’n lang ruk dring die werklikheid tot haar deur. Die eerste waaraan sy dink, is die geweer. Wat sou van die geweer geword het? Dit moet van haar skouer afgegly het toe sy geval het. Maar sy gaan nie terug op daardie smal lysie nie. Sy sal liewer haar dood hier sit en inwag.
Dewald kry die twee rye spore by die groot rots en besef dat Katrien in sirkels moet geloop het. Hy soek naarstiglik na ander spore wat in ’n ander rigting lei en kry dan eindelik ’n enkelspoor wat beslis meer wes draai.
Hy sal moet gou spring voordat dit donker is. Hier in die berg word dit gou donker en dit behoort seker al ná vier te wees. Die berg is reeds vol skaduwees en oor nog ’n uur of twee sal dit sterk skemer wees.
Vreesbevange sien hy hoe smal die lysies word en sonder om verder na spore te soek, klim hy vinnig teen die enigste begaanbare paadjie uit. Is die meisiekind dan heeltemal van haar kop af? Sy kan mos onmoontlik met die perd hierlangs. Die vrees knyp sy keel toe en hy hardloop vreesbevange teen die steiltes uit.
Hy wonder hoe ’n groot draai het sy geloop toe sy daar in sirkels geloop het. Dit gee hom darem ’n kans om haar in te haal.
Dewald klouter op ’n rots om te kyk of hy nie iets kan sien nie. Dan hoor hy skielik die veraf gerunnik van ’n perd en terselfdertyd ’n meisie se vreesbevange gille. Verbouereerd draai hy in die rondte. Die eggo kom nou van alle kante af na hom toe aan.
Hy spring van die rots af en hardloop hoër teen die smal paadjie op. Die lysie word al nouer en Dewald dink nie hy het al ooit in sy lewe soveel onuitgesproke gebede gebid nie.
Katrien hoor ’n geluid en sy maak haarself skraal teen die rots. Dit is al laat in die middag en die skaduwees rek lank in die klowe. Dit is moeilik om tyd hier in die berg te skat, maar dit behoort binne die volgende uur of twee heeltemal donker te wees.
“Katrien!”
Katrien kan haar ore nie glo nie. “Dit . . . is Dewald!” Sy prewel die woorde saggies, byna geluidloos. Hy het na haar kom soek. Hy is natuurlik nou woedend en sal haar seker te lyf gaan. Sy het ook nie eens meer die geweer om haarself mee te verdedig nie.
Sy weet nie wat die ergste sal wees nie: om aan sy genade of dié van die veld en sy elemente uitgelewer te wees. Dalk het sy nou die dier in hom wakker gemaak en sal hy haar nie meer met soveel respek behandel nie.
Sy druk haarself styf teen die rots vas. Haar verstand staan stil en sy weet nie wat om te doen nie. Sy het nie eintlik ’n keuse nie. Haar voet het seergekry en sy kan hier bly en doodgaan van dors en honger, of sy kan haarself uitlewer aan sy woede.
Katrien skuif stadig af totdat sy op haar sy lê, trek die beseerde been teen die rots vas en druk haar kop op haar arms. Dalk sal die dood hier in die berg genadiger wees.
Dewald versnel sy pas, sy oë soekend op die grond na ’n spoor. Ná die gil en die perd se wilde gerunnik het hy nog nie weer ’n enkele geluid gehoor nie. Sou sy en die perd van die kranse afgeval het?
Hy wens hy het vlerke soos ’n arend sodat hy oor die talle versperrings kan kom. Hy roep ’n paar keer, maar dit is net ’n doodse stilte wat hom begroet.
Hy sien eerste die bruin sandaaltjie agter die rots uitsteek terwyl sy oë soekend rondflits. Die lyfie lê so stil toe hy nader kom en dit lyk vir hom heeltemal leweloos. Met twee treë is hy langs haar.
“Katrien! Liefie!” Hy hurk by haar en draai haar stadig om.
Die vrees maak haar slap en sy knyp haar oë styf toe. Sy voel Dewald se kop op haar bors toe hy bekommerd sy oor teen haar hart druk. Die sug van verligting wat uit Dewald se bors ontsnap, is so groot dat Katrien se oë verbaas oopflikker.
Stil staar hy in die groot, bruin oë. Woorde van verligting en woede maal deurmekaar in sy gedagtes rond, maar hy is onmagtig om dit uit te spreek.
“Dewald . . . ek . . .”
“O!” Hy kreun, steek sy hande onder haar in en druk haar baie styf teen hom vas.
Sy arms is sterk en teer en met verwondering rus Katrien teen sy skouer. Sy weet nie wat hierdie emosie is wat deur haar golf nie. Dit kan verligting of teerheid of selfs blydskap wees, dit is net vir haar groots en vreemd.
Hy hou haar ’n entjie van hom af weg en kyk na die vuil, stowwerige gesiggie met die geswolle lippe wat van dors spreek. Hy stut haar nog steeds agter haar rug en met een hand trek hy die watersak nader. Hy trek die prop met sy tande uit voordat hy die sak teen haar lippe hou. Gulsig drink sy die water, haar oë tog behoedsaam en versigtig op sy gesig gerig.
“Kom, ons moet hier uitkom voordat dit donker is. Dit is gevaarlik hier tussen die kranse met die afgrond hier langsaan.” Hy kyk soekend rond. “Waar is jou perd?”
“Sy . . . is die afgrond af. O, Dewald . . . sy . . .”
Die histeriese snikke wat sy so gesukkel het om onder beheer te kry, ruk skielik weer na die oppervlak en haar hele skraal liggaam ruk toe sy aan die vreeslikheid daarvan dink.
Dewald vou haar net weer toe in sy arms en sus haar liggies heen en weer. Sy stem is sag en paaiend terwyl hy haar kop teen sy skouer vasdruk. “Toemaar, alles is reg! Ek is net dankbaar dat jy nie ook daar af is nie.” Hy staan skielik op asof hy skaam kry vir sy eie woorde en hou sy hand na haar toe uit. “Kom ons loop!”
Sy vat sy hand en sit haar gewig op die gesonde been, maar toe sy die eerste tree op die beseerde voet gee, vou haar been onder haar in en sy sak met ’n uitroep van pyn weer neer.
“Wat is dit?” Dewald is dadelik weer langs haar.
“Dit is my voet; ek dink my enkel is verstuit. Ek moet dit beslis seergemaak het toe ek daar van die kranse afgeval het.”
Hy sak op sy hurke neer en skuif haar langbroek se pyp op. Nou eers sien Katrien die bloed aan die broekspyp en sy kyk gefassineer hoe sy hande versigtig die been en enkel betas. Sy let nou eers op watter mooi hande hy het. Hulle is groot en sterk maar ook sensitief.
“Hier is ’n krapplek aan jou been en jy het seker van die spiere in jou enkel verrek. Hier is niks gebreek nie.”
“En nou?”
“Nee, ek weet nie. Hoekom stel jy nie iets voor nie? Jy is mos so slim. Ek het jou so mooi gevra om my te vertrou, maar jy sal my liewer doodslaan en dan jou eie dood hier in die berg kom soek.” Sy stem is ongewoon bitter en hy klink diep seergemaak.
“Ek is jammer, ek wou jou darem nie seermaak nie. Maar ek moes wegkom. Ek kan mos darem nie net stilsit en toekyk hoe julle sommer my goed vat nie.”
“Nee, jy sal liewer jou lewe waag vir ’n klompie beeste. Jou oupa sal jou baie liewer lewend wil terughê as ’n bietjie geld.”
Ongelukkig en hartseer staar sy voor haar op die grond. “Kom!” Dewald sug en tel haar op.
“Maar jy kan my mos nie dra nie?”
“Jy sal ook nie kan loop nie.”
“Los my hier; ek sal regkom.”
“O, ja?” Dewald lig net sy wenkbroue sarkasties. Hy buk en tel die watersak op. “Waar is die geweer?”
“Dit is oor die krans toe ek geval het.”
Katrien sien die magtelose woede in sy oë en sy wens sy kan iets doen of sê om hom nie so kwaad en seergemaak te laat voel nie.
“Nou is ons uitgelewer aan die genade van die natuur en ons sit sonder kos ook.” Hy sit weer die watersak neer. “Wag hier, ek sal gaan kyk of ek dit nie weer in die hande kan kry nie.”
“Dewald, nee! Nee, moet asseblief nie daar probeer afgaan nie. Dit is . . . jy sal dalk iets oorkom!”
“Dit spaar jou die moeite.” Hy stap versigtig om die rots en treetjie vir treetjie al met die lysie langs.
Ná wat vir Katrien soos ’n ewigheid voel, kom hy eindelik terug. “Nee wat, dit is ’n onbegonne taak. ’n Mens sal dit van ’n ander punt af moet benader.”
Katrien sug van verligting, en Dewald kyk verbaas na haar. “Ons sal van hierdie gevaarlike plek af moet wegkom voordat dit donker is.”
Katrien steek haar hand na hom toe uit sodat hy haar kan optrek.
“Jy sal op my rug moet klim sodat ek kan sien waar ek gaan.”
“Maar ek is te swaar en dit is gevaarlik hier.”
“Het jy dalk enige ander voorstelle? Of beplan jy om my van die krans af te stamp?”
Seergemaak bly Katrien stil. Haar redelikheid kry egter gou weer die oorhand en sy besef dat hy ook seker nie anders kan redeneer ná wat sy alles vandag gedoen het nie.
Pynlik klim Katrien op sy rug en skuif haar arms van agter af om sy nek. Baie versigtig en voel-voel begin Dewald die terugtog met sy kosbare vrag op sy rug. Hulle praat niks nie.
Katrien voel kleinlik en gemeen toe sy die groot knop agter sy kop sien. Sy vryf liggies met haar vingerpunte oor die knop. “Was dit baie seer?” Haar stem is net ’n fluistering hier by sy oor.
“O, nee, dit was heerlik! Ek het my byna doodgelag toe ek bykom en ek voel die oulike ou knoppie aan my agterkop.”
Katrien waag dit nie om weer iets te sê nie. Die skaduwees raak langer en die skemerte sak vinnig om hulle toe. Katrien besef dat hulle nooit voor donker die hut sal haal nie. “Is jy nie al moeg nie? Ons is nou van die smal gedeelte af. Ek kan op my been probeer spring.”
“Ek sal nou rus. Ons moet net probeer om by die groot rots uit te kom; daar waar jy vandag al twee keer was.”
“Hoe weet jy dit?”
“Ek het die spore gesien.”
Hy sukkel nog omtrent ’n halfuur aan en Katrien hoor hoe swaar hy al asemhaal. Sy moet ’n dooie gewig hier op sy rug wees. Van nou af sal hy haar heeldag vasmaak. Dit het sy nou van haar voorbarigheid. Sy vervies haar vir haarself. Aarde, wat kon sy anders doen? ’n Mens kan mos nie so gedwee sit en wag dat hulle met haar goed maak wat hulle wil nie. Vir wat steel hulle haar beeste? Dit is sy verdiende loon. Sy moes hom sommer harder geslaan het.
Dewald kom tot stilstand en sy gly af grond toe. Haar enkel pyn verskriklik, maar sy uiter geen woord daaroor nie. Die krapplek aan haar been brand soos vuur en sy voel warm en koorsig.
“Nou toe, kom. Die rots is nou nie meer ver nie.” Hy trek haar een arm om sy nek en slaan sy arm styf om haar middel. Langs hom spring-spring sy voort.
Onder die groot rots maak Dewald eers die terrein skoon van klippe en stokke en help haar dan om met haar rug teen die rots te sit. Hy skuif die watersak van sy skouer af en kom sit langs haar. “Ons sal maar die nag hier deurbring; ons kan dit nie in die donkerte verder waag nie.”
“Ja.” Katrien voel ellendig toe sy sien hoe Dewald aan die knop agter sy kop vat. Sy wonder of hy nie geweldig hoofpyn het nie. “Kan ek nog ’n bietjie water kry?”
“Ja, wat. Ons wag net totdat dit lig is môre, dan gaan ons voort. Ons behoort vroeg by die hut te wees.”
Stil en nors sit Dewald eenkant. Katrien voel ongelukkig en vreemd skaam. Sy is jammer oor wat sy aan Dewald gedoen het, want hy was werklik nog net goed vir haar. Sy het eintlik geen rede gehad om hom te wantrou nie. Sy loer onderlangs na hom en wonder of sy haar dit verbeel het dat hy haar teen hom vasgedruk het en bly was om haar lewend te kry.
Ag, bog met jou! baklei sy vies met haarself. Hy is ’n rower en dit was net ’n kwessie van tyd voordat hy sy ware kleure sou wys. “Ek het ’n stukkie biltong hier in my sak.” Sy oorhandig dit verleë aan Dewald.
Hy sê niks nie, vat net die biltong by haar, kerf dit fyn en oorhandig dit weer aan haar. Sy breek die gekerfde biltong, wat nie heeltemal deurgesny is nie, in die helfte en oorhandig die een deel aan hom.
“Nee, eet jy maar.”
“Ek wil nie so baie hê nie.”
“Nee, môre moet ek weer hoor ek eet nog jou kos ook op.” Hy druk die biltong terug in haar hand en kyk anderpad, sodat hy nie in die hartseer, ongelukkige oë hoef te kyk nie.
Sy eet haar gedeelte van die biltong en sit die ander deel op ’n klip naby hom neer.
Katrien stoot die beseerde enkel voor haar uit en Dewald kyk vinnig na haar toe sy haar asem liggies intrek van pyn. Hy kom staan op sy knieë langs haar en sonder om ’n woord te sê, trek hy die pyp van die broek weer op. Hy haal sy sakdoek uit en maak dit met die watersak se water nat. Versigtig vee hy die droë bloed van haar been af. Dit is maar net ’n diep krapmerk aan die been, maar haar enkel is geswel en baie pynlik.
Hy maak die sakdoek nog ’n keer nat en bind dit dan stewig om die enkel.
“Ek het pille by die hut en sal môre vir jou iets kan gee vir die pyn.”
“Dankie. Miskien is dit môre al beter.”
“Ek twyfel. Dit sal seker ’n paar dae maar pynlik wees.”
Dit is koel hier in die berg en ’n ligte rilling trek deur Katrien. Sy vryf liggies oor haar arms asof sy dit so wil warm maak.
“Jy moet liewer probeer slaap. Ek sal wakker bly.”
“Hoekom?”
“Ek is bang jy slaan my met ’n klip dood.”
Hartseer en vreemd ongelukkig sluit sy haar oë en leun met haar kop teen die rots agter haar. Lank sit sy so: moeg, honger en koud en dan nog hartseer en ongelukkig ook.
“Sit nader aan my en lê met jou kop teen my skouer, dan sal jy warmer kry en dalk aan die slaap raak.” Sy stem is allermins vriendelik en koppig bly sy net so regop sit.
Die moegheid en inspanning van die dag eis tog maar sy tol, al pyn haar voet en klop haar kop. Sy sluimer in en haar kop knik liggies. Haar kop ruk en sy sit vinnig weer regop.
Dewald vloek gedemp en skuif nader totdat hy vas teen haar sit en druk haar kop met sy een hand hard teen sy skouer vas. “Moet tog nie so verduiwels hardkoppig wees nie! Wie sal jou wil molesteer hier in die berg? Geen regdenkende mens sal so iets wil doen nie. As ek wou, kon ek dit die afgelope drie nagte al gedoen het. Kry dit tog in jou kop dat ek net nie belangstel nie. Ek het belangriker dinge om te doen.”
Vererg probeer Katrien wegskuif, maar sy groot hand hou haar kop daar totdat hy voel hoe die styfheid uit haar liggaam verdwyn. Dit is sag en warm en vreemd gerusstellend hier teenaan hom. Haar asemhaling raak egaliger en dit is met ’n sagte uitdrukking in sy oë dat Dewald ’n rukkie later op die slapende gesiggie afkyk.
Hy wag eers totdat hy sien sy slaap vas voordat hy sy arms versigtig agter haar nek verbyskuif sodat sy gemaklik in sy arm vas teen sy bors kan lê. Stadig sak sy kop en sy wang rus liggies op die bruin hare wat na stof en son ruik.
Katrien skrik baie later wakker en ’n oomblik lank kan sy nie dink waar sy is of watter geluid dit is wat sy hoor nie. Sy lê doodstil om eers aan die omgewing gewoond te raak. Dit is egter die pyn in haar enkel wat haar laat onthou waar sy is en wat gebeur het. Sy voel die stewige arm warm en beskermend om haar en dan raak sy bewus van die ritmiese klop van sy hart onder haar oor.
Die warmte van sy liggaam en die vreemde gevoel in haar binneste verwar haar en maak haar skaam. Hoe is dit dan dat sy hom nie meer vrees nie? Hoe is dit moontlik dat hy wat haar gevange hou, nou so ’n vreemde teerheid in haar kan wakker maak?
Sy sluit weer haar oë en probeer haar asemhaling so egalig moontlik hou. Sy moet eers al hierdie gedagtes en emosies in haar ontleed en rangskik. Hy moet tog nie weet dat sy bewus is van sy arm om haar nie. Netnou raai hy dat sy dit geniet en dit sal baie vernederend wees.
Dewald se liggaam is vol krampe van so stil en ongemaklik sit toe hy in die vroeë oggendure wakker word. Katrien lê nog stil en tevrede in sy arms en sy oë is sag en baie teer toe hy afkyk in die slapende gesiggie.
Sy roer liggies en Dewald sit meer regop sodat sy kan wakker word. Hulle kan oor ’n uur of wat die terugtog na die hut toe aanpak; dit sal dan lig genoeg wees.
Katrien sit vinnig regop en kyk op, net mooi in Dewald se spottende oë.
“Ek het geen duistere bedoelings gehad nie, juffroutjie. Dit was net om jou gemakliker te laat lê dat ek jou teen my bors laat slaap het.”
Sy ontwyk sy oë. “Ek is jammer as dit vir jou baie ongemaklik was. Ek . . . e . . . ek het so vas geslaap.”
Die terugtog is pynlik stadig en dit is al amper middag voordat hulle by die hut aankom.
Dewald sit haar op die bed in die hut neer. Hy strek sy lang liggaam uit en wikkel sy skouers om van die krampe ontslae te raak. Hy kyk af in die rooi gesiggie en alles binne-in hom word week. Foeitog, sy het seker baie pyn. Maar koppig weier sy om een keer te kla.
“Hoe voel jy?”
“Goed, dankie. Ek dink ek sal sommer nou net aan die slaap raak.” Katrien kyk verbaas na die swart blik wat hy uit sy saalsak haal. Sy kan nie sien wat alles daarin is nie, maar hy kom met twee pille in sy hand na haar toe aan.
“Wag, ek gaan haal gou vir jou koel water by die fontein.” Hy draai om om te loop.
Katrien kan nie help om ’n bietjie sarkasties te wees nie, al weet sy hy verdien dit nie nou nie. “Word ek nie eers vasgemaak nie?”
“Wel, die enigste voordeel wat uit hierdie poging van jou gebore is, is die feit dat dit my die moeite spaar om jou kort-kort vas te maak.”
Die water is koel en heerlik en sy sak moeg en seer terug op die bed nadat sy die pille gedrink het.
“Ek weet jy is moeg en jou lyf is seker seer, maar jy sal nou eers saam met my fontein toe moet kom.”
“Hoekom?” Katrien klink so verbaas dat Dewald sukkel om kwaai te lyk. Hy durf dit nie waag dat sy moet sien hy is nie meer kwaad nie, want dan haal sy weer een van haar streke uit. “Ek kan tog nie wegkom nie . . .”
“Ek weet, maar ek wil daardie seerplek aan jou been skoonmaak sodat ek dit kan dokter, anders gaan daar ontsteking in kom.”
“Jy weet baie van sulke dinge af.”
“Dit is tog algemene kennis. Of weet jy dit dalk nie?”
Hy buk om haar op te tel, maar sy keer vinnig.“Dit is nie nodig om my te dra nie. Help my net, dan kan ek self loop.”
“Goed!” Dewald vat haar weer stewig om haar middel vas en trek haar een arm om sy nek. “Ek wonder of jy nie sommer moet bad ook nie, anders kry jy nie weer kans nie. Waar is jou goed, dan kry ek dit vir jou?”
“Toemaar, ek sal dit self kry.”
Sy knyp die bondeltjie klere onder haar arm vas en die handdoek hang sommer om haar nek.
By die fontein staan Dewald ongemaklik rond. “Moet ek jou help?”
“Natuurlik nie!” Katrien is so geskok dat Dewald met die beste wil ter wêreld nie die glimlag van sy gesig kan afkry nie.
“Ek sal hier agter die rots vir jou wag. Roep my net as ek moet kom help of wanneer jy klaar is.”
Dewald verdwyn agter die rots en Katrien maak so vinnig soos sy kan. Sy bad maar so gedeeltelik sodat sy darem nie heeltemal sonder klere is nie. Sy draai die groot handdoek om haar en trek dan vinnig haar skoon klere aan. Dit gaan heel voorspoedig en sy het reeds skoon onderklere en ’n hemp aan. Die probleem kom toe sy haar langbroek wil aantrek. Sy druk liggies met die beseerde voet se toon op die grond en sit haar volle gewig eers op die gesonde been. Sy trap egter op ’n skerp klippie en verloor haar balans sodat sy vol op die beseerde voet trap.
“O, eina!” Intuïtief uiter sy die pynkreet.
Voordat sy tot verhaal kan kom, staan Dewald langs haar. Sy staan hande-viervoet met die beseerde voet agter haar opgelig soos ’n perd wat beslaan word.
Dewald lig haar versigtig aan haar arms op sodat sy voor hom staan. “Wat is dit?”
“Ek . . . het per ongeluk op my seer voet getrap en . . .” Verleë probeer sy die hemp oor haar kaal bene aftrek.
Dewald voel hoe sy hart in sy kuiltjie klop. Hy sit haar hande op sy skouers sodat sy kan vashou en tydsaam, asof hy dit al honderde kere gedoen het, maak hy haar hemp se knopies een vir een vas.
Katrien kan sterf van verleentheid, maar die lang vingers met die swart haartjies op die agterkant wat die knopies so tydsaam vasmaak, hipnotiseer haar en sy staar asof gefassineer daarna. Stadig kyk sy op toe hy die laaste knopie vasmaak en sy oë is stil en onleesbaar op haar blinkskoon gesiggie gerig. Vasgevang in ’n oomblik van ewigheid kyk hulle net stil na mekaar. Dewald se hande skuif stadig om haar tot agter haar rug en dan trek hy haar saggies maar baie beslis nader.
Die klammigheid van haar liggaam slaan deur die hemp en dit raak vaagweg aan die rafels van sy bewussyn.
Katrien kan die gevoel wat in haar opbruis toe sy gesig nader kom glad nie verklaar nie. Dit is afwagtend, ietwat bang, maar tog ook vreemd opwindend. Haar hande, wat aanvanklik op sy skouers gerus het, skuif asof vanself agter sy nek verby en toe sy lippe dringend maar tog teer op hare neerkom, vleg haar hande agter sy donker kop inmekaar.
Hy soen haar sag en baie teer, maar dan beweeg sy liggies in sy arms en hy druk haar styf teen hom vas terwyl sy lippe hare hongerig en soekend opeis. Die sagtheid van haar klam liggaam bedwelm sy denke en maak ’n hartstog in hom wakker wat hy nooit geweet het bestaan nie.
Verskrik keer Katrien terug tot die werklikheid toe hy haar so styf vasdruk en sy beur met alles waartoe sy in staat is van hom af weg. “Dewald, nee! Nee, moenie!”
Sy lippe los hare toe sy wild begin soebat en luier dan vol teerheid op haar wange en af in haar sagte nek tot by haar oor.
“Los my!” gil sy dit paniekerig uit. “Los my, jou dier! Ek sal jou vermoor!”
Stadig los Dewald haar. Verdwaas oor soveel emosie wat in hom ontketen is, staar hy haar net aan.
“Jy raak nie weer aan my nie, hoor jy?” Katrien bewe soos ’n riet. Sy is bang; bang vir haarself. Sy het haarself ’n oomblik vergeet en soos ’n drenkeling aan hom vasgeklou. Watse soort mens is sy dan dat sy die man wat haar oupa besteel en ruïneer met soveel gevoel kan terugsoen?
“Ek . . . is jammer!” Dewald draai om en stap weer agter die rots in.
Katrien gaan sit plat op die grond en sukkel haar langbroek aan. Sy trek haar sandale aan en begin op een been terugspring na die hut toe.
Dewald kyk haar nog steeds met ’n verdwaasde uitdrukking op sy gesig agterna. Hy stap soos ’n slaapwandelaar agter haar aan en vat haar om die lyf.
“Los my!”
“Jy kan nie alleen daar kom nie. Jy sal jou enkel net nog meer beseer.”
“Ek het jou gesê jy raak nie weer aan my nie.”
“Luister, ek is net ’n man! Ek sien nie elke dag ’n amper kaal vrou nie. Hoekom roep jy my dan terwyl jy nog nie klaar aangetrek is nie? Jy soek vir moeilikheid en wanneer jy dit kry, is jy kastig vreeslik veronreg.”
“Ek het jou glad nie geroep nie!”
“Natuurlik het jy, anders sou ek mos nie uitgekom het nie.”
“Ek het op my voet getrap en uitgeroep van pyn.”
Dewald kyk in die ontstoke gesiggie en hy kan nie help om haar siel so ’n bietjie uit te trek nie. “Nou sê jy my! Moenie maak asof jy dit nie geniet het nie. Jy het jou arms styf om my nek geslaan en my teruggesoen.”
“O, jy is onuitstaanbaar! Jy is ’n dief, ’n rower daarby . . .”
“Ek probeer darem nie ander mense vermoor nie.”
“Ek wou jou glad nie vermoor nie, ek wou net wegkom.”
“O! En sê nou maar jy het harder geslaan as wat jy bedoel het? Sê nou net ek het op daardie oomblik omgekyk en jy het my teen my slaap geslaan? Dink jy ek sou nog hier gewees het?”
Verskrik staar Katrien hom aan. Hoe maklik kon dit nie gebeur het nie. Ná dit alles het hy haar nog kom soek en haar uit die berg gedra.
Dewald sien die skrik in die bruin oë en speel so ’n bietjie op haar gevoel. “Dan sou jy daar bo in die berge tierkos gewees het. Maar jy wil altyd die houe uitdeel. Jy wil altyd veronreg wees. Jy het nog nie eens vir my dankie gesê dat ek jou hierdie hele ent pad gedra het nie. Ek is mos maar net ’n rower. Ek het mos nie ’n gevoel nie en ek kry ook nie seer nie!”
Skaam laat sak Katrien haar kop en in stilte stap hulle tot by die hut.
Dewald verbind haar enkel en smeer salf aan die krapplek. Sy verstom haar aan die handige manier waarop hy die verband om haar enkel draai.
“Jy doen dit baie goed . . . so . . . asof jy gewoond is om dit te doen.” Katrien probeer selfbewus ’n gesprekkie aanknoop, maar Dewald is nie nou te vinde daarvoor nie en antwoord haar nie eens nie. In stilte maak hy haar gemaklik en stap dan uit om te gaan kyk wat daar is om te eet.