Читать книгу Ruisdal se nuwe chirurg - Serena Steyn - Страница 3
Оглавление1
Dokter Magdali Hattingh ry haar pa se imposante meenthuiskompleks binne, parkeer haar silwer sportmotor met die “Magdali”-nommerplaat voor sy dubbelmotorhuis en strek toe sy uitklim.
Sy is moeg. Die noodoperasie gisteraand, boonop ná ’n harde dag by die spreekkamer, het haar kragte getap. Sy wou vanmiddag gaan fliek het, of net iewers ontspan, maar toe bel haar pa. Sy wonder waarom hy haar so dringend wil sien.
Sou hy siek wees? Die desperaatheid in sy stem oor die telefoon bly haar by. Hy wou nie uitwei nie, maar hy sal haar tog seker om geen ander rede tydens werksure bel nie. Roelof Hattingh het nog al die jare in sy welvarende prokureurspraktyk die onwrikbare leuse gehandhaaf dat werk voor persoonlike sake kom. Só het Magdali grootgeword.
Sy draf met die trap op en haar pa maak die deur oop nog voor sy die klokkie kan druk.
“Ek is jammer om te pla in werkstyd, Kiewiet,” sê hy dadelik.
Sy is geskok om te sien hoe verwese haar pa lyk. Sy gelaatskleur is ’n ongesonde wit en sy hare lyk ongekam. Hy het ook nog nie vandag geskeer nie.
“Als reg, Dad.” Sy soen hom op sy koue wang en ruik whisky. “Is Dad siek?”
Hy skud sy kop en vou haar krampagtig in sy arms toe. “Ek het ’n fout gemaak, Kiewiet,” sê hy amper onhoorbaar terwyl hy aan haar vasklou.
Magdali wikkel haar los en kyk verwonderd na hom. “Dad? Ons almal maak mos foute. Dis geen rede om te lyk asof jy ’n doodsvonnis ontvang het nie.”
Hy vermy haar ondersoekende blik en trek sy kierie nader. “Kom ons gaan sitkamer toe, ek kort nog ’n whisky.”
“Hoeveelste een is dit vandag?” vra Magdali met ’n tikkie humor. Hy antwoord nie en sukkel met moeite voor haar uit na die sitkamer toe. Sy knie het baie versleg en Magdali merk op dat die skeef loop reeds sy ander heup en been se beweging benadeel.
“Dad sal na daardie knie moet laat kyk.”
“Ek was by Monument,” sê Roelof, “hulle sê ek sal ’n knievervanging moet kry. Die waglys is lank.”
Waarom die staatshospitaal? Magdali frons toe haar pa na die kroeg in die hoek van die vertrek mik en vir hom ’n groot whisky skink. Sy hande bewe so dat hy whisky op die houtkabinet mors. Hy gaan sit sy glas op ’n tafeltjie neer voor hy steunend in die stoel langsaan neersak. Magdali sien dat hy die kierie binne reikafstand neersit en die seer knie glad nie buig nie.
“Ek het geld verduister.”
Die woorde versplinter die vrede in Magdali. “Dad?” Sy staar hom geskok aan. “Dad kan nie ernstig wees nie! Dis tronksake!”
“Ek weet.” Hy maak sy oë toe, tas na sy glas op die tafeltjie en neem ’n groot sluk. Toe sug hy en maak sy oë oop. “Die hemel weet, Kiewiet, ek skraap al heelweek die moed bymekaar om jou te vertel.”
Magdali gaan sit oorkant hom en neem sy koue hand in hare. “Vertel my,” sê sy sag.
Trane stoot in sy oë op toe hy na haar kyk. “Dankie, my kind,” prewel hy. “Jy was nog altyd vir my ’n steunpilaar. Nou moet ek dít aan jou doen ...” Trane biggel oor sy wange en hy vee dit met die agterkant van sy hand weg.
Magdali wag geduldig dat hy ’n opgefrommelde sakdoek uit sy sak trek en sy neus blaas.
“Dit het so onskuldig begin, Kiewiet,” begin hy bewerig, maar gou val sy woorde oor mekaar in sy haas om hom te ontboesem.
“Toe jou ma destyds siek geword het, jy was in matriek ... Jy weet ek kon nie die diagnose van breinkanker aanvaar nie. Ek het haar na die beste spesialiste in die wêreld geneem. En toe, toe my geld begin opraak, het ek uit die trustfonds begin leen en dit later teruggesit. Later, ná haar dood en die klomp kliënte wat geëmigreer het, het ek weer geleen vir jou studie. Elke keer bietjie meer. Ek kon dit elke keer terugsit.
“Toe ontmoet ek vir Lydia. Jy weet hoe graag sy Seychelle toe wou gaan vir ons wittebrood ... en toe ... toe begin dit moeilik raak om die geld alles weer terug te sit.”
Magdali gee sy hand ’n drukkie en staan op. “Ek dink ek moet maar vir my ook ’n whisky gooi.”
Toe sy terugkom, gaan sit sy weer oorkant hom en vat ’n groot sluk van haar whisky en water. Die smaak tower meteens Dolf se forse gestalte op, en die herinnering aan hom laat die bekende pyn deur haar vloei.
Dolf het destyds al gewaarsku dat Lydia ’n cougar is, en dat sy ook by hom aanlê, maar Roelof, Magdali se pa, wou niks verkeerds glo van sy wulpse tweede vrou nie. Totdat hy haar later self betrap het.
“Hoeveel skuld Dad die trustrekening?” vra Magdali.
Die direktheid van die vraag laat hom ineenkrimp. “Een miljoen,” sê hy skaars hoorbaar.
Magdali sit haar glas geskok neer. “Só baie! Maar Dad, kan Dad dalk maar ’n verband op die meenthuis of die plaas neem?”
Hy skud sy kop stadig. “Ek het reeds op albei ’n tweede verband. Onthou jy daardie van-die-plan-af-koop aftreekompleks wat hulle moes staak weens sinkgate?”
Magdali staar hom grootoog aan. “Moenie sê Dad het daarin belê nie!”
Hy laat sy kop sak. “Ek het, Kiewiet. Die bemarker was so oortuigend. Hy het gesê as ek die eenhede verhuur, sal ek binne drie jaar my geld verdriedubbel. Jy weet Lydia het die meeste van my kontant gekry ná die egskeiding. Ek het al die plaas in die mark gehad, maar ek moet ten minste vier miljoen daarvoor kry, en die mark is nou so sleg ...”
“Ai, Dad ...” Magdali vryf met haar duim en wysvinger aan haar slape. “Ek kan Dad nie finansieel help nie, al wil ek. Ek sit nog met al die studieskuld vir my spesialisasie, en ek het maar pas die aandeel in die internispraktyk by Ruisdal gekoop. Maar dalk kan ek Dad op ’n ander manier help. Watter kliënte is betrokke?”
Roelof laat sy oë sak. “Net Sakkie-hulle se ortopediese praktyk. Sakkie sou my nou tegemoetgekom het, Kiewiet, hy sou my tyd gegee het om af te betaal, ons kom ’n lang pad saam, maar die nuwe chirurg wil niks weet nie. Hy het Sakkie se meerderheidsaandeel in die praktyk gekoop toe hy oorsee is. Ek het beplan om die winste van die aftreekompleks te gebruik om die geld terug te sit, maar ...”
Die onwerklikheid van hierdie gesprek tref Magdali meteens. Hy was van kleins af haar vesting van krag, dié streng pa na wie se aandag en goedkeuring sy altyd desperaat gesmag het. Haar hele skoolloopbaan het sy in alles uitgeblink, vir hom. Sy het hom blindelings vertrou, nes dokter Sakkie. Daar is skielik ’n bitter smaak in haar mond.
“Kan ons die nuwe chirurg nie gaan spreek en vra vir afbetalingsterme nie?” stel sy voor. En die ander vennoot, Frank Wilson, ken sy tog goed ...
“Ek het al probeer.” Roelof lek oor sy lippe. Dis vir Magdali asof sy haar pa voor haar sien oud word. “Hy het die boeke laat oudit voor hy die koopkontrak geteken het,” sê hy, “en toe het hy my laas Vrydag ingeroep en gesê hy gee my ’n week om die geld terug te betaal, of hy vervolg my. Hy stel nie belang in enige ander bates soos die wildplaas nie.”
Roelof vryf met bewende hande oor sy gesig. “Hy het nog nie vir Frank Wilson of die polisie ingelig oor die tekort nie. Ek het vir Sakkie oorsee gebel, maar hy sê hy het klaar al sy geld ontvang, die saak is nou tussen my en die nuwe chirurg.”
Die stilte tussen hulle rek.
Magdali staan op en begin rusteloos in die sitkamer rondstap. Sy kort slaap en hunker na haar bed. Daar sal vanmiddag geen fliek of ontspanning vir haar wees nie.
“Wel, dit help nie om draaie om die ding te loop nie,” sê sy ná ’n tydjie en vee haar hare agter haar oor in. “Ek praat nie vir een oomblik sulke optrede goed nie, Dad, maar hoekom is die man so hardvogtig? Die wildplaas sal in ’n goeie mark maklik vier miljoen kan haal. Het Dad aan hom verduidelik dat die egskeiding met Lydia Dad se geldsake geknou het?”
Roelof knik en dit lyk of hy nog verder inmekaarkrimp. “Ek moes destyds na jou geluister het en ’n behoorlike huwelikskontrak met Lydia laat opstel het, maar ek was so verlief ...”
Magdali glimlag bitter. “Ek weet, Dad. En ék was die vark in die verhaal omdat ek die kontrak voorgestel het. Ek dink nie Lydia het my ooit daarvoor vergewe nie.”
“Ek skuld jou ’n verskoning.” Roelof kyk pleitend na haar. “Daaroor en oor baie ander dinge. Ek het destyds gedink ek doen die regte ding ... ook met jou en Hanro. Ek het ook skuld aan jul egskeiding, Kiewiet. Ek moes jou meer tyd gegee het om oor Van Vuuren te kom. Ja, ek het bittere berou oor baie dinge, ek verdién dit om tronk toe te gaan.” Hy maak sy oë toe en leun terug in die stoel. “As jy ná hierdie gesprek hier weggaan en my nooit weer wil sien nie, sal ek jou nie kwalik neem nie.”
Magdali frons. “Hoe praat Dad dan nou? Natuurlik sal ek Dad bystaan! Ek dink tog ons moet saam met die nuwe chirurg gaan gesels. Die man sal tog rede moet insien. Wat gaan hy bereik deur Dad in die tronk te laat gooi?”
Roelof haal diep asem voor hy weer praat. “Die nuwe chirurg ... dis Dolf van Vuuren, Kiewiet. En hy het meer as genoeg rede om my agter tralies te wil sien. Ek was die een wat jou destyds beïnvloed het om Hanro bo hom te kies, en ek dink nie dat hy een van ons twee al daarvoor vergewe het nie.”
Magdali se knieë voel eensklaps soos jellie en sy gryp na ’n stoelleuning om haar te stut. Dolf is terug in Suid-Afrika!
“Dólf het Sakkie se praktyk gekoop?”
Roelof knik en Magdali se hart sak in haar skoene. Sy sal saam met hom moet werk by Ruisdal Hospitaal! Hulle sal dalk selfs saam gevalle moet hanteer!
Sy bitterheid toe sy destyds hul verhouding verbreek het, is iets wat sy nooit sal vergeet nie, sy woede teenoor haar en haar pa se “valse waardes”, soos hy haar dit teen die kop geslinger het.
“Hy het ’n teenaanbod gemaak.” Haar pa se stem kom asof van ver. “Hy is bereid om vervolging te heroorweeg as jy hom sal kontak.”
Magdali staar na haar pa. “Wat wil hy by mý hê, Dad?”
Haar pa skud sy kop. “Ek weet nie, Kiewiet. Hy het net daar in sy stoel gesit en my aangestaar, jy weet mos hoe onleesbaar sy oë kan raak. Toe sê hy net jy moet hom kontak, want ‘miskien kan ek en sy iets uitwerk’.” Haar pa klem sy hande in mekaar vas. “Ek is jammer, Kiewiet, ek wou hom warmplek toe stuur, maar hy was so uitdagend soos altyd. Ek was bang hy laat my net daar toesluit.” Hy sluk.
“Weet Dad of hy getroud is?” Haar stem klink vir haar flou en vreemd. Roelof skud sy kop.
Magdali sug sidderend. “Dit klink nie juis of ek ’n keuse het nie.” Sy haal haar motorsleutels uit haar sak. “Miskien wil hy iets uitwerk met ons twee praktyke. Ons is op dieselfde vloer. Moenie saamstap nie, Dad,” keer sy toe hy wil opstaan. “Daardie knie moet rus, en ’n warm stort en skeer sal ook nie kwaad doen nie.”
Hy knik en trane wel weer in sy oë op. “Ek verdien nie ’n dogter soos jy nie, Kiewiet. Dankie.”
Magdali help hom op uit die stoel en druk haar gesig in sy skouer vas toe hulle groet, maar ervaar geen troos soos van ouds nie. Haar pa het vandag haar lewe omgekeer met sy onthulling. Dit voel of sy hom glad nie ken nie.