Читать книгу Ruisdal se nuwe chirurg - Serena Steyn - Страница 6

Оглавление

4

Magdali ry uit radeloosheid direk na haar pa toe. Hulle sal moet koppe bymekaarsit, daar móét ’n ander uitweg wees.

Sy lui die klokkie en ná ’n ruk, toe hy nie oopmaak nie, bel sy hom op sy selfoon. Die foon lui net en sy is besig om die spaarsleutel van die huis uit te haal wat sy vir noodgevalle by haar het, toe haar pa oopmaak. Hy is uitasem en sy gesig is vertrek van pyn. Hy het nog nie by skeer uitgekom nie.

“En nou, Dad?” vra Magdali besorg en steek haar hand na hom uit. Sy vel voel klam en koud.

“Dis maar die knie, Kiewiet.” Hy draai met moeite om en leun swaar op sy kierie. “Ek het vanmiddag iets probeer skuif wat ek nie moes nie.” Hy hinkepink in die gang af. “Eintlik goed jy is hier, dat jy my kan help om in die bed te kom.”

“Het Dad genoeg pynpille?” vra Magdali toe sy hom gehelp het om uit te trek en hom gemaklik maak op die bed.

Hy skud sy kop. “Ek het gister die laaste gedrink. Ook maar goed so, want ek kom nie eintlik by kos maak nie.” Hy probeer glimlag. “Julle dokters sê mos dis sleg om pynpille op ’n leë maag te drink.”

Magdali glimlag nie terug nie, maar stap na haar motor en haal haar dokterstas uit. Sy gee haar pa ’n pynstiller en maak vir hom ’n toebroodjie en koffie. Sy is geskok om te sien hoe leeg die kombuiskaste en yskas is.

“Ek dink Dad moet by my kom bly totdat daar plan gemaak is met die knie,” sê sy. “Tot hoe laat bly die huishoudster gewoonlik?”

Roelof skud sy kop. “Sy het twee weke gelede klaargemaak by my, Kiewiet. Ek kom nie meer by al my verpligtinge uit nie. Die knie lê my kwaai aan bande om nuwe besigheid te werf, noudat so baie kliënte weg is. Ek sukkel om te konsentreer, ek slaap sleg. Ek gaan net ’n paar uur per dag kantoor toe.”

Magdali skakel die bedlampie aan en gaan sit by hom op die bed om die knie te ondersoek. Dat sy sulke goed moet vra ... “Het Dad darem geld vir kos en water en ligte en so?”

“Ek kom deur.” Hy laat sy kop op die kussing terugsak. “Die huis is in die mark.” Hy kreun toe sy die knie effens oplig. “Ek reken al die onkostes kan maar na hulself kyk as ek in die tronk sit,” sê hy skaars hoorbaar.

“Dad gaan nie tronk toe nie!” Magdali trek die laken oor sy knie en staan op. “Frank sal hierdie knie móét regmaak. Dad kan nie so aangaan nie.”

Roelof skud sy kop en beklemming vou om Magdali se hart oor die trane van hopeloosheid in haar pa se oë.

“Nee, Kiewiet, ek het nie meer medies nie.” Sy mond trek skeef. “Ek het ’n propperse gemors van ons lewens gemaak, of hoe?”

“Nou praat Dad nonsens.” Magdali draai weg en gaan voor die venster staan. “Ek en Dolf het vanaand gaan eet.” Sy hou haar stem opgeruimd. “Dis waarom ek gou hier aangekom het. Dolf het my gevra om te trou, Dad. Ons het besef dat ons nog vir mekaar omgee. Hy is ook bereid om Dad tegemoet te kom met die skuld.”

“Wat!” Roelof beur regop teen die kussings. “Jy’s nie ernstig nie, Kiewiet!”

Magdali draai terug na hom en haar hart krimp ineen oor die vreugde op sy pyn-verrinneweerde gesig. “Ek ís ernstig, Dad. Ek hoop Dad keur die huwelik goed?”

Trane spoel oor sy wange. “Ek verwyt myself só vandat jy en Hanro geskei is ...” Sy lippe bewe en ’n snik pers daardeur. “Ek het Dolf destyds te hard geoordeel. Kan dit wees dat julle tóg geluk sal vind, Kiewiet?” Hy reik sy hand uit na haar en sy gaan sit langs hom en hou hom vas. Sy hande klem krampagtig om haar skouers.

“Vergewe my, Kiewiet ... vir alles. Destyds toe Dolf Botswana toe is –”

“Dis verby, Dad.” Magdali soen hom op die voorkop en trek die laken tot onder sy ken toe hy uitgeput teruglê teen die kussings. “Wees rustig. Nie net kry ek ’n skatryk bruidegom nie, maar hy is een van die beste in die wêreld wat knievervangings betref. Ek sal vir Dad ’n afspraak reël.”

Sy staan op en verskuil haar swaar hart agter ’n glimlag. “Bel eerste ding môreoggend die huishoudster. Hopelik het sy nog nie weer begin werk nie. Ek sal haar betaal en Dad se lewenskoste dek tot Dad ná die operasie weer kan begin werk. Probeer nou bietjie slaap. Ek los ’n glas water hierso, en die pynpille is in die laai vir môreoggend. Hier is Dad se kierie vir badkamer toe gaan.”

Haar pa maak sy oë moeg toe. “Dankie, Kiewiet.”

Toe Magdali die huis se voordeur agter haar toetrek, tref die volle implikasie van haar woorde aan haar pa haar. Daar, in die slaapkamer, tussen al die ellendes, het Dolf se huweliksaanbod na die antwoord gelyk, maar ís dit werklik? Sy gaan sit op haar pa se stoep en tuur in die naghemel op terwyl sy logies oor alles probeer dink.

Dolf het haar ’n jaar lange huwelik aangebied, ’n besigheidskontrak, waarvolgens sy as sy gasvrou en eggenote-in-naam moet optree. Dis soos om ’n werk te aanvaar ... Nee! Haar gedagtes maal rond. Sy kan Hanro mos vir geld vra! Die gedagte bring kortstondige hoop, maar dan syfer dit weg. Sy wil niks aan Hanro verskuldig wees en by hom vals hoop wek dat dinge tussen hulle kan regkom nie.

Haar ontmoeting met Dolf vanaand het haar laat besef dat sy, ten spyte van alles, nog baie aangetrokke tot hom is. Dit sal nie regverdig wees teenoor enige man om ’n verhouding te begin voor sy heeltemal oor Dolf is nie.

Die arme, dierbare Hanro ... Op hul huweliksnag het sy reeds geweet dat sy verkeerd gekies het en dat Dolf alle ander mans vir haar bederf het. Sy het geweet dat sy hard sou moes werk aan haar huwelik met Hanro. Dolf was dáár, in haar gedagtes, in haar en Hanro se intiemste oomblikke. Haar vingers het na sy gespierde lyf gehunker en haar ore het bly wag vir sy liefdeswoorde.

Sy staan onrustig op en ry huis toe. Daar is eenvoudig nie ’n ander uitweg nie. Dié Dolf wat sy daar in die restaurant ontmoet het, is ’n ander man as die een op wie sy destyds smoorverlief was. Hy het dit ook duidelik gestel dat hy geen gevoelens meer teenoor háár koester nie en dat hy verhoudings met Andri en dié Camila-vroumens en wie weet hoeveel ander nog gehad het. Die feit is, hy voel só op sy gemak by haar dat ’n blote geriefshuwelik met haar die maklike opsie is.

Magdali parkeer in haar motorhuis en sit ’n rukkie met haar kop teen die leuning die donker en instaar. Dolf is dinamiet vir enige vrou. Sy sal haarself moet pantser as sy die jaar heelhuids wil oorleef. Sy moet haar weersin in sy optrede, en haar opstandigheid omdat hy haar genadeloos in ’n hoek het, soos ’n kleed om haar vou. Die wete dat hy besig is om wraak te neem, sal haar moet beskerm teen enige gevoelens wat nog in haar hart sluimer.

Sy glimlag skeef toe sy die motordeur oopmaak en uitklim. Sy is nou, met die besluit om Dolf se aanbod te aanvaar, vir ’n jaar gebind. Maar sy sal ’n kalender aanskaf en begin weke doodtrek en dan, wanneer die jaar verby en hul huwelik ontbind is, sal sy haarself met ’n lang vakansie bederf. Die wete dat sy haar heeltemal in haar werk kan verdiep om die tyd vinniger om te kry, vloei soos balsem oor Magdali.

Toe sy haar huis se ligte aanskakel, wonder sy wat Hanro gaan sê wanneer hy die nuus van haar en Dolf se komende troue hoor. Oor Andri wil sy liewer nie eens dink nie. Hanro bel haar taamlik gereeld vir geselsies en sy moet hom roskam omdat hy niks van sy skuif na Ruisdal gesê het nie.

Sy sluit die deur agter haar en stap feitlik nikssiende met die trap op slaapkamer toe. Daar volg sy meganies die ritueel van grimering verwyder en tande borsel.

Daar is vir haar geen hoop of raad meer nie, maar Dolf van Vuuren kan môre tot ’n minuut voor nege wag vir haar antwoord.

Magdali loop Hanro die volgende oggend vroeg in Ruisdal se gange raak toe sy haar saalrondtes doen. Sy het hom nogal lanklaas van aangesig tot aangesig gesien en haar eerste gedagte is ’n herhaling van Dolf se woorde aan haar die vorige aand: Hanro het ouer geword. Hy kan egter, soos altyd, deur ’n ring getrek word, en sy pak klere en das getuig van duur en goeie smaak.

“Jy lyk so pragtig soos altyd,” sê hy. “Ek mis dit om jou elke dag te sien.”

“Dag, Hanro. Ek hoor gister eers dat jy ook nou ’n spreekkamer hier het. Jy het my dan niks gesê nie!”

Hy glimlag skeef. “Ek kon dit nie waag nie. Netnou stem jy my aansoek uit en dan moet ek van voor af planne beraam om jou meer te sien. Dit is iets wat ek al lank oorweeg. Ek het baie pasiënte aan die Oosrand en hulle verkies ’n hospitaal nader aan die huis. Ek hou buitendien baie van Ruisdal se landelike ligging.”

“Dit ís rustig hier,” gee Magdali toe. “Van die ander hospitale hier rond is moontlik beter toegerus met spesialisafdelings, maar wat milieu betref, wen Ruisdal loshande.”

Hy glimlag. “Jy was altyd so lief vir die natuur. Ons het mooi herinneringe saam. Magdali, ons twee moet praat ...”

Magdali skud haar kop en kyk rond vir uitkoms. “Hierdie is nie die tyd of plek nie. Buitendien, Hanro, het ons nie al lankal klaar gepraat nie? Daar is mos nou iemand anders vir jou.”

Sy donker oë is ernstig. “Nie meer nie. Niemand kan jou plek vat nie, Magdali. Ek is lief vir jou, en ek gaan nie ophou hoop nie. Ek was onnosel om jou destyds vir ’n egskeiding te dagvaar. Selfs toe dinge tussen ons sleg was, was dit beter as om sonder jou te wees.”

“Hierdie gesprek moet buite werksure plaasvind,” sê Magdali beslis en begin aanstap na haar saal toe.

Hanro val langs haar in. “Dan stap ek maar saam.”

“Wat het van jou model geword?” vra Magdali met wat sy hoop soos ’n tikkie humor klink.

“Sy is onder kontrak in Milaan. Ons gesels nog soms.”

“Ja, wel ...” Magdali kyk onderlangs na hom. “’n Gesogte model en ’n plastiese chirurg se programme kan seker nogal komplikasies inhou vir ’n verhouding.”

“Soos twee dokters s’n,” beaam hy. “Ek het tot die slotsom gekom dat dit kan werk as mens dit wil láát werk. Ek wíl hierdie keer, met ons twee.”

“Ek draai hier af,” beduie Magdali asof sy niks gehoor het nie.

“Hulle sê my Dolf van Vuuren is nou ook by Ruisdal,” sê Hanro voor sy kan ontsnap.

Magdali gaan staan en kyk op na hom. “Dis reg, ja. Hy het ook ’n groot aandeel in Ruisdal gekoop. Ons praktyk werk nou saam met die ortopediese chirurge. Ek moet nou gaan, Hanro.”

Magdali stap flink weg, haar gedagtegang omgedolwe deur die aanhoor van Dolf se naam. Sy moet hom nog bel met haar antwoord, voor negeuur. Sy stoot die saaldeur oop en skuif alle persoonlike sake op die agtergrond toe die suster aan diens opstaan en haar tegemoetstap.

“Hoe het dit vanoggend met ons pasiënte gegaan?” vra Ina en sit Magdali se beker koffie saam met die eerste pasiëntlêers op haar lessenaar neer.

“Beter as gister.” Magdali trek die koffie nader en glimlag vir haar. “Dankie, dit gaan lekker wees. Meneer Vermeulen het goed geslaap en sy bloeddruk is weer normaal. Sy suiker is ook weer op aanvaarbare vlakke. Kyk of jy vir hom ’n afspraak by die dieetkundige kan kry vir vanmiddag. Ek wil hom nie ontslaan voor hy ’n behoorlike eetplan gekry het nie, anders is hy volgende week terug. Ek dink hy en sy vrou moet haar saam gaan sien.”

“Goed, dokter.”

“Mevrou Louw lyk nie so goed nie. Ek dink ons sal haar maar moet laat huis toe gaan vir die laaste ruk.” Magdali sug. “Gee asseblief haar lêer vir dokter Billy en ruim vir my tyd in om hom te sien. Ek wil eers sy opinie hê voor ek haar man en dogter sê.”

“Ek maak so. Kan ek die eerste pasiënt instuur?”

Magdali knik. “Ek moet net eers ’n oproep maak. Gee my vyf minute.”

Ina steek by die deur vas. “Jy sal onthou van die gholfdag volgende maand by die Ambassadeurs-landgoed, nè? Ek moet vandag bevestig. Vir die vierbal?”

“Ja, hou my naam maar op,” knik Magdali. “Ek hoop hulle samel weer so baie in vir die kinderhuis. Weet ons al wie die ander drie spelers gaan wees?”

Ina knik. “Dis Andri, dokter Billy en die narkotiseur saam met wie jy laas week gewerk het, Jan-Hendrik, dink ek. Die e-pos het vanoggend deurgekom. Hulle het die name glo gisteraand uit ’n hoed getrek.”

Magdali glimlag. “Hulle gaan elke jaar deur die uit-die-hoed-trek-proses, en dan ruil almal in elk geval onderling uit.”

Ina lag. “Dis al tradisie, ja. Sommige wil by mense uitkom van wie hulle meer hou, ander soek plek by dié wat slegter speel as hulle.”

“Ek is doodtevrede waar ek is,” sê Magdali beslis. “My voorgee is deesdae net so goed soos Andri s’n, ’n stewige 18, en Billy en Jan-Hendrik se spel is nou nie juis toernooigehalte nie. Ons speel vir die lekker. Dis altyd pret om saam met hulle om die baan te gaan.”

Sy kyk verskonend op. “Daar’s nog iets, Ina, ek moes dit eintlik eerste genoem het. My pa se knie het nou heeltemal ingegee. Kry asseblief vir hom so gou moontlik ’n afspraak by een van die ortopediese chirurge.”

“Als reg.” Ina knik. “Tina sal help om hom vinnig in te kry.”

Magdali kyk nadenkend na die deur toe Ina dit agter haar toetrek. Dit help nou dat Ina se suster by die ortopediese praktyk werk. Sy is onrustig oor haar pa. Dalk moet sy tog maar direk by Dolf hoor.

Dan tel Magdali die foon op om hom te bel. Sy verwens die effense bewing in haar hand toe sy wag om deurgeskakel te word.

“Ek aanvaar jou voorstel van ’n een-jaar-kontrak,” sê sy dadelik saaklik toe hy antwoord, “op voorwaarde dat dit alleenlik ’n huwelik in naam bly. En ek wil vra of jy nie na my pa se knie sal kyk nie. Ek was gisteraand by hom en daar was ’n hoë mate van funksieverlies en erge pyn. Ek is besorg dat daar kardiovaskulêre komplikasies mag wees.”

“Dankie.” Sy stem is rustig, sonder enige triomf. “Miskien kan ek jou vanaand uitneem vir ete om ons reëlings te finaliseer. Ek vra Tina om ’n afspraak te maak. En ek sal die operasie kosteloos doen as trougeskenk.”

Magdali staar nadat sy afgelui het ’n rukkie nikssiende na die lêers op haar lessenaar. Sy wens vurig dat sy ’n ander opsie gehad het, maar as Dolf nou boonop die operasie verniet wil doen ...

Sy sien beslis nie daarna uit om vir ’n volle jaar daagliks in Dolf van Vuuren se geselskap te verkeer nie. Sy het pas die grootste besluit van haar lewe geneem. Met ’n paar woorde aan Dolf het sy toegelaat dat haar hele lewe verander en in chaos gedompel word. Sy sug sidderend. Sy sal dit eenvoudig moet verdra en die beste van die saak probeer maak.

Sy bel vir Ina om te sê dat Dolf reeds vir haar pa ’n afspraak laat reël het en dat die eerste pasiënt kan inkom. Toe slaan sy die boonste lêer oop en fokus al haar aandag daarop.

Ruisdal se nuwe chirurg

Подняться наверх