Читать книгу Ruisdal se nuwe chirurg - Serena Steyn - Страница 4
Оглавление2
Magdali ry fronsend uit die spoglandgoed weg. Die nuus oor Dolf se nuwe pos by Ruisdal het haar geruk, selfs meer nog as haar pa se bekentenis. Sy weet net dat sy heel eerste moet gaan slaap. Sy ken haarself, en alles lyk altyd meer hopeloos as sy oormoeg is. Haar pa se aanmerking oor die staatshospitaal pla ook. Sy wou hom nog daarna vra, maar die ontdekking dat haar pa wederregtelik vir Dolf soveel geld skuld, sowel as Dolf se terugkeer, het alle ander sake uit haar gemoed verdryf.
Haar meenthuis is gelukkig nie ver nie en sy ry spoedig en dankbaar haar sekuriteitskompleks naby die hospitaal binne. By haar huis gekom, gooi sy haar sleutels saam met die pos en haar selfoon op die bank in die woonvertrek neer. Daar is weer ’n brief van Hanro, sien sy, en sy wens die soveelste keer hy wil aanvaar dat hul egskeiding finaal is.
Sy skop haar skoene uit en stap kaalvoet yskas toe om ’n glas melk en ’n stuk kaas te kry. Toe stap sy al kouende met die trap op na haar slaapkamer en stoot die balkondeur wyd oop voor sy haar klere uittrek en op die bed gaan lê. Die koel luggie vee troostend oor haar naakte liggaam en sy trek die laken oor haar bene voor sy wegdommel.
Die donderweer maak Magdali in die vroeë oggendure wakker en ’n koue wind laat die natgereënde gordyne in die kamer rondwapper. Sy staan op, trek die balkondeur toe en gaan lê weer.
Toe sy weer wakker word, skyn die môrelig deur die vensters en lawaai die voëls buite. Sy trek haar japon aan en stap met die trap af om ontbyt te gaan maak. Haar selfoon lê nog op die bank waar sy dit gisteraand gegooi het en sy tel dit op voor sy die ketel gaan aanskakel. Daar is boodskappe van die hospitaal om te sê dat die hartomleiding-pasiënt ’n rustige nag gehad het, en haar ontvangsdame herinner haar aan die vroeë afspraak om 07:30. Magdali eet haastig ontbyt en draf by die trap op om te gaan stort en aantrek. Normaalweg sien sy pasiënte eers vanaf halfnege, nadat sy haar hospitaalrondtes voltooi het, maar Donderdae hanteer sy noodgevalle en opvolgbesoeke van pasiënte wat reeds ontslaan is.
Soos altyd is dit vanoggend vir haar lekker om deur die sekuriteitshek by Ruisdal Hospitaal te ry. Die hospitaal is in ’n vallei geleë en só beplan dat dit met die omgewing saamsmelt. Die spruit se water ruis raserig onder die brug by die oprit na die hospitaal en die groot wilgers langs die brug is groen en skoongewas ná die vroegoggendreën. Voor die hoofingang leun ’n pasiënt met ’n gipsbeen en krukke op die houtreling en rook terwyl hy blykbaar die visse in die dammetjie aandagtig bekyk.
Magdali parkeer onderdak aan die sykant van die hoofgebou en stap na binne om die hyser na haar spreekkamer op die vyfde vloer te neem.
“Môre, dokter,” groet die verpleegpersoneel wat sy in die hyser teëkom en sy luister glimlaggend na hul vrolike gesprek oor ’n partytjie die vorige aand, voor hulle op die vierde vloer uitklim.
Toe die hyser op haar vloer oopgaan, tref dit haar met ’n slag dat Dolf moontlik reeds daar is. Haar hart krimp ineen. Dankie tog vir die vroeë waarskuwing van haar pa! Dit sou vir haar ’n geweldige skok gewees het om Dolf onvoorbereid by Ruisdal raak te loop.
“Magdali!”
Andri Schutte, hoof van die fisioterapie-praktyk op dieselfde vloer, loer by haar deur uit. “Ek het nuus!” borrel sy opgewek. “Groot nuus!” In haar styfpassende swart langbroek en roomkleurige bloes met ultrahoëhakskoene lyk sy meer na ’n model as ’n fisioterapeut. Haar hare hang in ’n argelose frizz-styl om haar gesig.
“Kom sien my wanneer jy kans kry,” sê Andri haastig, “ek wil net in my fisio-mondering kom voor my eerste pasiënt hier opdaag.”
Magdali glimlag toe sy verder stap. Andri, haar bloedniggie, is onortodoks, maar ’n uitstekende fisioterapeut, en sy bestuur haar flink spannetjie met ’n ysterhand. Sy is ’n onmisbare skakel in die rehabilitasie van die knie- en heupvervangingspasiënte onder behandeling van die ortopediese chirurge verder af in die gang.
Magdali se ontvangsdame kyk met ’n glimlag op toe sy binnekom. “Môre!”
“Môre, Ina.” Magdali trek die afspraakregister nader en kyk vlugtig na die name. “Hoe lyk ons dag vandag?”
“Bietjie dol met dokter Billy nog op verlof,” sê Ina. “Meneer Botha is eerste. Hulle is vanoggend vroeg by die plaas weg om betyds te wees vir die afspraak. Hulle is net gou badkamer toe. Hy sê die insulien werk goed en sy suiker is baie mooi onder beheer. Hy voel ook heelwat beter en sy bene pyn nie meer so baie nie.”
Magdali knik en lig sy lêer uit die rakkie. “Solank hy reg eet en sy medikasie gereeld neem.”
“Sy vrou is weer saam,” sê Ina. “Sy sê sy maak seker hy pas homself op en neem sy medikasie gereeld. Daar is ook ’n hele paar van dokter Billy se kankerpasiënte wat vandag vir opvolgbesoeke kom. En daar loop gerugte dat die nuwe ortopeed wat by dokter Sakkie oorgeneem het, vanoggend begin.”
“Dis goed,” knik Magdali stroef. “Jy kan maar my koffie deurbring, asseblief, Ina.”
Ysere selfdissipline hou Magdali die res van die oggend aan die gang. Soos tydens haar studentejare, stoot sy alle kwelgedagtes uit haar kop en fokus op die werk wat sy moet doen. Sy is tevrede met meneer Botha se vordering en komplimenteer sy vrou daarop.
Meneer Botha glimlag verleë. “Ja,” beken hy, “dis reg dat my ou wederhelfte die eer kry, dokter. As ek so besig raak, vergeet ek van die medisyne.”
“Ek dril hom, dokter,” knik mevrou Botha, ’n lywige vrou met ’n styf vasgetrekte bolla. Sy plaas haar hand op haar man se been. “Dis my ou lewensmaat hierdie, ek wil nie sonder hom boer nie. Hy moet nog lank hou. Ons dogter kom ook nou van die Kaap af om ’n rukkie by ons te kuier.”
Ná die Bothas sien Magdali ’n paar van haar vennoot se pasiënte wat ná hul chemoterapie vir opvolgbesoeke kom en sy voel daarom ietwat neerslagtig toe die spreekkamer vir middagete sluit. Ina het vir hulle toebroodjies bestel en Magdali neem hare en stap spruit toe. Sy onthou van Andri se uitnodiging toe sy by hul besige praktyk verbystap, maar sy sal haar groot nuus eerder ná werk gaan hoor.
By die spruit gaan sit Magdali op ’n bankie naby die vinnig vloeiende water en maak haar toebroodjie oop terwyl sy die woelinge van die voëls en insekte om haar dophou. Die geluid van die water laat ’n rustigheid oor haar spoel en haar gedagtes vloei terug na haar studentedae.
Sy het Dolf van Vuuren in haar derde jaar op universiteit ontmoet. Per ongeluk. Sy was die dag laat vir klas en het haastig parkeer en uit haar motor gespring. Haar boekesak is in die gejaag in die deur vasgeslaan en die volgende oomblik het die inhoud oor die sypaadjie versprei gelê. Dolf het verbygestap en by haar gehurk om te help optel.
Toe sy die boeke met ’n glimlag by hom neem en in sy vlootblou oë opkyk, het haar blik verder gedwaal na sy glansende swart hare, wat lank in sy nek gekrul het, en na sy skrumspeler-skouers. Haar glimlag het gewyk.
Hulle het na mekaar gekyk en albei het geweet. Dit was so eenvoudig. Dolf het regop gekom en skeef geglimlag. Hy was lank.
“Dis veiliger om te loop, lyk dit my,” het hy in sy diep stem gesê terwyl sy blik sardonies oor haar Mercedes-sportmotor gedwaal het. “Kardeure sorg net vir oponthoud.”
Sy het die boeke teen haar bors vasgeklem en hom agternagestaar toe hy met gemaklike treë verder stap, haar klas vergete. Paniek het haar beetgepak, sy kon nie toelaat dat die mansmens net so uit haar lewe loop nie! Sy wou hom weer sien.
“Magdali!” Hanro se stem was angstig. “Wat draai jy so? Ons is klaar laat! Jy weet hoe sarkasties prof Kannemeyer kan wees!”
Magdali het saam met haar jeugkys lesingsaal toe gedraf, maar sy het niks van die lesing ingeneem nie. Sy het geweet sy is verlief. Haar blik het skuldig na Hanro gedwaal, en asof hy haar gedagtes gelees het, het hy na haar gekyk en geglimlag. Magdali se hart het doef! tot in haar skoene geval.
Sy en Hanro het al vanaf graad nege vas uitgegaan, met haar pa se goedkeuring. Die Schwarzenach-familie was gesiene mense. Hanro se ideaal was om ’n plastiese chirurg te word, terwyl Magdali as algemene praktisyn wou kwalifiseer.
Sy het swaar gesluk waar sy langs Hanro in die lesingsaal sit. Sy het tog geweet sy is lief vir hom ... Of hét sy?
Dolf het haar die volgende middag in die kafeteria opgespoor. Hy het ’n skinkbord geneem en agter haar in die ry gaan staan. “Drink jy koffie?” wou hy weet.
Sy het vlugtig na hom omgekyk, kamtig ongeërg, maar aan die vrede in haar hart het sy geweet dat sy eintlik heeldag gehoop het sy sien hom weer.
“Ek hou van koffie,” het sy geantwoord, “hoekom vra jy?”
Hy het geglimlag, en sy ernstige gesig het verhelder. “Want dan kan ek vir jou koffie koop,” het hy gesê. “Dis al wat ’n arm student kan bekostig. Jammer.”
Hulle het dié dag lank gepraat, en die dae wat gevolg het ook. Sy het met Hanro uitgemaak, tot Hanro én haar pa se ontsteltenis.
Dolf was anders. Hy was van die verkeerde kant van die spoor, ’n vegter wat deur sy wil en beurse sy droom om chirurg te word begin realiseer het. Hy was slim, en sy punte was baie beter as hare. Hy was vyf jaar ouer as sy en in sy vyfde jaar, en sy het hom liefgehad.
Dolf was ’n sensuele minnaar en sy het gespook om te keer dat haar ekstase in sy arms haar nugtere verstand oorheers. Sy was nog nie reg vir ’n ernstige fisieke verhouding nie en haar studie was vir haar ’n hoë prioriteit. Haar ontwakende drange het egter ’n gebrek aan konsentrasie meegebring en sy moes haar behoorlik inspan om haar aandag by haar studie te bepaal. Sy was net so vasberade soos Dolf om klaar te studeer.
Toe het Hanro by haar pa gaan kla.
“Kiewiet,” het haar pa streng gesê toe hy haar daaroor konfronteer, “ek weet die man is aantreklik, kaptein van die eerste span en ’n akademiese uitblinker, maar kyk waar kom hy vandaan.” Hy het die verslag van sy privaat speurder aan haar gegee.
“Lees dit. Sy pa is ’n vroueslaner. Dis die tipe milieu wat homself herhaal, Kiewiet. By Hanro is jy verseker van ’n goeie lewe. Moenie jou toekoms oor hormone weggooi nie.”
Hy het haar semesterverslag opgetel en weer daarna gekyk. “Jy het in al jou vakke laer presteer as voorheen. Dis nie hoe ek jou ken nie, Kiewiet. Hierdie man is sleg vir jou. Jy moet met hom uitmaak.”
Haar pa het sy hande op haar skouers gesit. “Jy is nog te jonk vir die eise wat so ’n man aan jou sal stel. Hy dink waarskynlik net aan een ding. Vyf jaar ouderdomsverskil is op julle ouderdom baie, veral vir iemand uit sy geharde agtergrond. Moenie jou toekoms weggooi nie, my kind. Bly by Hanro, dis veiliger.”
Magdali het weggetrek en haar arms voor haar gekruis. Sy wou nie dat haar pa weet van die warboel in haar eie gemoed nie. Sy was self bitter teleurgesteld oor die punte. Daarby was haar pa se goedkeuring vir haar belangrik. Sy het geglo dat hy die beste weet, maar sy kón eenvoudig nie van Dolf afstand doen nie.
Haar liefde vir hom het ’n innerlike stryd geword. Hul afsprake het verbygevlieg en in sy arms was sy geborge en seker, maar later, wanneer sy alleen was, het haar pa se woorde weer by haar kom eggo.
Dolf se gebrekkige geldsake het ook hul verhouding geknel. Hy het al hoe minder tyd gehad vir uitgaan omdat hy soos ’n besetene moes werk om al sy skuld te delg en sakgeld te verdien. Hy het hardnekkig geweier dat sy vir enigiets betaal en hulle het daaroor hul eerste argumente gehad.
Dit was eksamentyd en Magdali was onder baie druk toe haar pa een oggend onstuimig die kombuis binnekom waar sy met swaar oë gesit en ontbyt eet het ná ’n nag van laat studeer.
“Dit is die laaste strooi!” Hy het die koerant voor haar neus rondgewaai. “Van Vuuren is laas nag gearresteer vir aanranding! Die ander student se wangbeen is gebreek en sy voortande is uitgeslaan. Dit lê die voorblad vol!”
Haar pa het haar verbied om Dolf weer te sien. Die paar keer wat sy tussen eksamens weggeglip het om hom tóg op te soek, het Dolf botweg geweier om oor die aanranding te praat. Magdali het magteloos gevoel en hulle was besig om ál verder van mekaar weg te dryf.
Sy was nog besig met haar eksamens toe die saak voorkom. Dolf het haar nie eens van die datum laat weet nie. Sy moes die aand in die koerant lees dat hy twee maande tronkstraf opgelê is, opgeskort vir vyf jaar. Die magistraat het bevind dat, ongeag die uitlokking, Dolf sy eie krag moes geken het en as finalejaar mediese student moes besef het watter skade hy kon aanrig.
“Dit bewys nou net my punt,” het haar pa triomfantlik gesê toe hy sien sy lees die berig, “geweld sit in sy gene, Kiewiet.”
Haar pa het die privaat speurder se lêer weer langs haar kom neersit waar sy verslae met die koerant gesit het. “Ek wil hê jy moet géén kontak meer met die man hê nie, Magdali. Beëindig jul verhouding finaal. Ek sal nie snags kan slaap as ek weet jy is nog met hom deurmekaar nie.”
Magdali het daardie nag self nie geslaap nie, maar die koerantberig en die lêer herhaaldelik deurgelees terwyl sy eintlik moes studeer. Sy het besluit om die saak met Dolf uit te praat, maar toe sy die volgende dag met hom probeer kontak maak, moes sy hoor dat hy reeds Botswana toe vertrek het vir vakansiewerk. Dit het haar bitter seergemaak dat hy nie eens gebel het om totsiens te sê nie.
Haar pa het haar ná die eksamen vir twee weke Mauritius toe gestuur en Hanro het vir die tweede week by haar aangesluit. Hulle het lang ente op die strand gestap en hy het haar weer gevra om te trou. Sy het nie geweet wat om te antwoord nie en het gepleit vir meer tyd.
Toe Dolf haar drie weke later bel om te sê hy is terug, het sy hom gaan ontmoet en hul verhouding amptelik beëindig.
Hy het versteen bly staan langs die motorfiets wat hy met sy Botswana-geld gekoop het. “Waarom?” het hy gevra en haar moed het haar amper begewe toe sy in sy oë opkyk. “Is dit oor die hofverskyning? Oor ek nie laat weet het nie? Magdali, ek was so oormoeg en alles ...”
Magdali het haar kop geskud, na aan trane. Sy het swaar gesluk. “Die ding kom al ’n lang ruk, Dolf. My pa het jou mense deur ’n privaat speurder laat ondersoek. Hy wil nie hê ek moet met jou uitgaan nie.” As jy my net gebel het voor jy Botswana toe gegaan het, sou ek geweet het jy gee regtig om! Haar hart het dit uitgeroep, maar die woorde wou nie oor haar lippe kom nie.
Sy gesig was onleesbaar, net sy oë het gelewe. “Jy luister na jou pa,” het hy gesê, “maar wat sê jou hart?”
Sy het desperaat aan haar pa se vermanings vasgeklou. “Ek moet aan my toekoms dink,” het sy probeer verduidelik. “Hanro wil verloof raak. Ons ken sy familie al jare.”
“Jou pa is ’n snob,” het Dolf gesê. “Beteken die feit dat ek so ’n ligte vonnis gekry het vir julle niks nie? Daar was versagtende omstandighede! Nie jy of jou pa doen eens die moeite om uit te vind wat dit was nie!”
“Dis moeilik as jy nie met my daaroor wil praat nie!” het sy teruggekap.
Hy het na haar gekyk met bitterheid in sy oë en sy woorde het deur stywe lippe gekom. “Jy het geen vertroue in my nie. Ek het nou niks, maar dit sal nie altyd so wees nie. Weeg wat ons vir mekaar voel dan nie meer as jou pa se opinie nie?”
“My pa het my lief, hy wil net hê wat vir my die beste is,” het sy gesê. “Ek vertrou hom.”
“En nie vir my nie?” Sy oë het nog blouer as gewoonlik geword.
Sy het haar hande hulpeloos voor haar uitgesprei. “Probeer tog verstaan, Dolf! Ek het nagte wakker gelê hieroor. Jy het nie eens die moeite gedoen om vir my totsiens te sê voor jy weg is Botswana toe nie! En ek ken Hanro baie langer as vir jou. Is ek nie aan hom ook lojaliteit verskuldig nie?”
Dolf het sy mond oopgemaak asof hy iets wou sê en toe sy lippe hard saamgepers. Hy het sy kop effens laat sak en haar lank aangekyk. “Wat sê jou hart?” het hy uiteindelik weer gevra.
Magdali se trane het baie vlak gelê en sy het omgeswaai en na haar motor toe gehardloop. Sy het nie omgekyk nie.
Haar selfoon se gelui ruk Magdali terug na die hede. Haar toebroodjie lê vergete op haar skoot.
“Jou pasiënt wag al ’n rukkie,” sê Ina oor die foon. “Is alles reg?”
“Ek is op pad,” sê Magdali haastig. “Kyk solank of jy vir my die nuwe chirurg by ortopedies se selnommer in die hande kan kry.”
In haar spreekkamer gekom, kyk Magdali vlugtig deur die lêers van twee knievervangingskandidate wat Frank Wilson na haar verwys het om seker te maak dat hulle geskik is vir narkose. Haar gedagtes bly egter op hul eie koers.
Sy moet die gesprek met Dolf so gou moontlik afhandel. Dit sal vir albei praktyke nadelig wees as daar spanning tussen hulle is. Sy en Dolf het immers albei aangegaan met hul lewens, die verlede is verby.
Later die middag skakel Magdali Dolf se nommer met bewende hande. Dit lui net en Magdali los ’n boodskap: “My pa sê jy wil met my praat. Bel asseblief terug.” Sy sê nie haar naam nie en byt op haar lip toe sy die oproep beëindig. Sy voel glad nie gereed om Dolf te sien nie, en dit oor so ’n onsmaaklike kwessie! Wat sou haar pa tog besiel het?
Dis ná vyf toe Magdali voor haar kantoorvenster gaan staan en die middaglug diep inasem. Nie eens die uitsig op die spruit bring vanmiddag lafenis nie.
Ina kom binne. “Dokter Van Vuuren het gebel terwyl jy besig was met ’n pasiënt en gesê hy kan nie op jou selfoon deurkom nie. Hy het glo ’n boodskap gelos. Is daar nog iets, of kan ek maar gaan?”
“Ag, die ding se klank was af,” sê Magdali vies en mik om die foon uit haar lessenaarlaai te haal. “Dankie, Ina. Jy kan maar gaan.”
“Is alles reg? Jy was vandag nie jouself nie.”
“Als reg,” verseker Magdali haar, “ek het net ’n netelige sakie wat ek moet afhandel. Lekker aand.”
Toe Ina die praktykdeur agter haar sluit, skakel Magdali die foon se luitoon aan en luister na die boodskap.
“Middag.” Haar hart ruk pynlik toe sy Dolf se stem hoor. “Ja, ons moet praat,” gaan die boodskap voort. “Ontmoet my by Die Goue Fisant, seweuur vanaand. As jy nie weet waar dit is nie, sal my ontvangsdame jou kan help. Dit sal raadsaam wees om op te daag. Om jou pa se onthalwe.”
Verontwaardiging stu in Magdali op en sy druk dadelik die sleutel om die boodskap uit te vee. Sy is nie meer die onervare studentjie wat Dolf onthou nie, hy kan haar nie so hanteer nie! Sy stemtoon was kil en minagtend.
Dis sewe jaar sedert sy hom laas gesien het. Dit sou vir haar erg genoeg gewees het onder normale omstandighede, maar nou is hy ál wat tussen haar pa en ’n stewige tronkvonnis staan. Haar hart klop hard en sy voel benoud. Uit Dolf se stemtoon klink dit nie of hy haar en haar pa genadig gaan wees nie.
Magdali is nog besig om pasiënte se kliniese notas te voltooi toe daar ’n klop aan haar privaat uitgang se deur is. Dis Andri.
“Middag!” sê sy opgeruimd. Sy het nog haar fisio-klere aan, ’n gemaklike loshangende bloes en ’n langbroek, met plat skoene. Haar hare is nou netjies vasgebind. “Het jy tyd vir gesels?”
“Kom in.” Magdali sit die laaste lêer in die uit-mandjie en lê terug in haar stoel terwyl Andri oorkant haar neerval en een been oor die stoelleuning swaai.
“Jammer,” sê Magdali. “Daar was nie vroeër tyd om by jou uit te kom nie, maar ek is die ene ore.”
Andri loer onder haar blonde kuif deur na Magdali. “Dolf is terug.”
“Ek het gehoor, ja. Is dít jou nuus?”
“Jy’s so kalm!” sê Andri en pluk die rekkie uit haar hare. “Ek is bly. My nuus is dat ek hom nie hierdie keer gaan laat wegkom nie, ek sweer dit! Hy het nadat julle uitgemaak het meer uit vermakerigheid as iets anders met my begin uitgaan, ek weet. Maar daai jaar wat ons saam was ... daar wás vonke tussen ons! Ek het baie daaroor gedink nadat hy oorsee is, en ek dink ek was altyd te gretig om hom tevrede te hou. Dolf hou van ’n verhouding waar hy die jagter moet wees. Hierdie keer gaan ek my kaarte reg speel.”
Magdali glimlag effens. “Ek hoop hy is nog ongetroud.”
“Natuurlik is hy!” sê Andri verontwaardig, “ek het mos uitgevind. Daar is net ’n Camila-vroumens met wie hy in Switserland deurmekaar was. Ek het haar ontmoet toe ek verlede jaar gou by hom aangegaan het ná daai kongres, maar hulle is nie verloof of enigiets nie.” Sy glimlag dromerig. “Ek sal sowaar trou as hy my vra, Magdali, enige tyd. Dit sal ek van geen ander man sê nie.” Sy glimlag stout. “Dink net, ek gaan hom elke dag hier in die gange sien, is dit nie wonderlik nie?”
“Ja, dink net.”
Andri swaai haar been van die leuning af en sit vooroor. “Jy gee regtig nie meer vir hom om nie, of hoe, Magdali?”
Magdali strek haar skouers. “Dis al sewe jaar, nig. My lewe is in ’n gerieflike patroon en ek het lekker gewerk saam met dokter Sakkie, ek wil die professionele verhouding met hul praktyk in stand hou. Maar ek is versigtig. Ek hoop nie hy kom krap alles hier deurmekaar nie.”
“Dan is dit goed, solank jy nie nog dink oor hom nie.” Andri sit terug. “Ek sien Hanro het ook ’n spreekkamer hier by ons oopgemaak.”
Magdali sit vinnig regop. “Hy opereer soms hier, dis al, waar het jy dit gesien?”
Andri skud haar kop en trek ’n gesig. “Nee jong, die Ruisdaller het gesê ‘spreekkamer geopen’.”
“Nee!” Magdali sit verslae terug in haar stoel. “Sy aansoek moes seker voor die raad gedien het toe ek die week in Talabaai was. Nou sit ek saam met twee ekse in die personeelvergaderings!”
Andri lag. “Jy’t goeie smaak, dis al wat ék sê. Dolf is ’n droom en Hanro is die spreekwoordelike tall, dark and handsome. Geen wonder die Evas stroom na hom toe vir al hul kosmetiese regstellings nie.” Sy rek haar uit en staan op. “Tarra, skat. Ek sien jou môre. Ek moet aan my planne werk om Dolf weer deel van my sosiale kring te maak. Sê groete vir jou pa wanneer jy hom sien.”
Magdali staar ’n rukkie na die toe deur nadat Andri uit is. Sy het haar in haar studie begrawe ná haar verhouding met Dolf beëindig is. Sy het gedink hy is vir altyd uit haar lewe, maar Dolf het op die horison gebly en toe boonop met Andri, pas deur ’n stormagtige liefdesteleurstelling, begin uitgaan – en oorgeslaap.
“Sien?” het haar pa gesê, toe daar ná ’n tydjie stories loop dat Andri een van vele is. “Sy soort het geen finesse nie, hulle ken nie getrouheid nie. Jy is beter af waar jy is.”
Sy het oudergewoonte geswyg en haar pa laat begaan, al wou sy uitroep: Hy was getrou in óns verhouding! Dad se aandrang dat ek hom los, is wat veroorsaak het dat hy uithaak!
Sy en Hanro het in hul sesde jaar verloof geraak en is in hul hospitaaljaar getroud. Haar pa het teen daardie tyd ook al genoeg drama met sy nuwe vrou gehad.
Sy hét die regte keuse gemaak, het Magdali haarself toe probeer wysmaak. Ná ’n jaar se getroude lewe met Hanro het sy haar as internis begin bekwaam. Haar pa was reg, sy hét sekuriteit gehad, en ’n goeie man ...
En geluk? het haar hart gevra.
Hul huwelik was ná twee jaar op die rotse. Hanro het saans nie meer huis toe gekom nie en haar uiteindelik om ’n egskeiding gevra. Hy het gesê dat daar ’n nuwe vrou in sy lewe is – ’n langbeen-blondekopmodel.
Magdali was besig met eksamens en het nie teëgestribbel nie. Haar pa was in sy eie egskeiding gewikkel en het nie veel te sê gehad nie.
Sy was net dankbaar dat Dolf op daardie stadium reeds oorsee was. In die jare daarna het hy as chirurg gewerk by een van die topklinieke in Switserland. Sy het artikels deur hom en oor sy werk gelees, en geweet dat hy die waarheid gepraat het by hul laaste ontmoeting: “Ek sal nie altyd sukkel nie.”
Sy pak lusteloos op. “Hulle sê mos slegte goed gebeur in drieë,” praat sy haarself saggies moed in, “en Hanro se skuif hierheen is die derde. Dit móét nou end kry!”
Sy sien glad nie uit na haar afspraak met Dolf nie.