Читать книгу Ruisdal se nuwe chirurg - Serena Steyn - Страница 5
Оглавление3
Magdali parkeer ’n paar minute voor sewe in die verligte sprokiestuin van Die Goue Fisant en wonder waarom Dolf die eksklusiewe Ambassadeurs-landgoed se restaurant gekies het. Wil hy daarmee wys dat hy deesdae geld het?
Sy sug toe sy haar handsak uit die kattebak haal. Sy het geen spesiale moeite met haar voorkoms gedoen nie. Sy is nog in haar werksklere en het min grimering aan, terwyl haar hare eenvoudig los om haar gesig hang.
Sy huiwer by die deur en probeer Dolf opspoor tussen die groot aantal mense wat tussen die tafels en die buffet beweeg. Die hoofkelner, uitgevat in ’n aandpak, staan nader. “Kan ons help?”
“Ek het ’n afspraak met dokter Van Vuuren,” sê sy. Sy besef sy weet nie eintlik hoe om Dolf te beskryf nie – sewe jaar is ’n lang tyd.
Die kelner kyk na die lys in sy hand. “U is seker dokter Hattingh. Stap gerus saam.” Hy lei Magdali na die verste punt van die restaurant, naby mooi potplante, en sy moet sluk toe sy Dolf sien. Hy lyk vreemd vernaam in sy swart pak van uitstekende snit, en sy besef dat hy haar al die pad na die tafel toe dophou.
Oral om hulle beweeg en gesels mense, keurig uitgevat, en Magdali voel ’n stekie genoegdoening omdat sy so informeel aangetrek is. Dit voel asof sy op ’n manier rebelleer teen die omstandighede wat haar hierheen gebring het.
Dolf staan op toe sy by die tafel kom. “Dankie, Marco,” sê hy vir haar gids. “Julle kan nou die wynlys bring.”
Die hoofkelner trek Magdali se stoel uit en verdwyn weer in die rigting van die ingang. Magdali sit haar handsak met oordrewe sorg langs haar stoel neer en kyk eers om haar rond voordat sy haar oë na die man oorkant haar lig.
Die impak van Dolf se persoonlikheid het oor die jare gegroei. Hy het ’n bietjie gewig aangesit en is bruingebrand, wat sy oë nog meer treffend laat vertoon. Magdali onthou sy manier van sit, met sy kop effens omlaag en sy oë broeiend. Sy neus is nog net so reguit soos sy onthou en sy ferm en sensuele mond wek onwelkome herinneringe. Die goed gevormde hande op die tafel is netjies versorg. Hy dra geen ringe nie.
“Jy het ouer geword,” sê Dolf.
Magdali knik. “Natuurlik. Ons het mekaar sewe jaar laas gesien.”
“Ja,” en sy blik gaan opsommend oor haar, “dit ís sewe jaar. Jy lyk moeg. Het jy ’n moeilike dag gehad?”
Magdali kyk dankbaar op na die kelner wat nader stap en die wynlys aan Dolf oorhandig. Sy wíl nie met Dolf oor haar lewe praat nie. En dan sê hy boonop sulke vermetel goed!
Ná ’n paar oomblikke roep Dolf weer vir Marco nader en bestel ’n duur merlot. Die kelner bring dit vinnig en skink seremonieel vir Dolf eerste. Hy gooi Magdali se glas ook vol nadat Dolf tevrede geknik het.
“Ricardo sal julle verder help,” sê hy dan. “Gaaf om jou weer in Suid-Afrika te sien, dokter Van Vuuren.” Hy buig hoflik en verdwyn weer deur toe terwyl die witgeklede tafelkelner spyskaarte bring.
“Gee ons ’n rukkie kans,” sê Dolf rustig. Hy kyk weer peinsend na Magdali toe die kelner diskreet wegsmelt. “Jy wou sê oor jou dag?”
“Ek wou nié.” Sy ontmoet sy blik uitdagend. Die empatie wat sy daar sien, laat haar opstandigheid egter verflou en sy antwoord kortaf. “My laaste pasiënte vandag is besig om te herstel van chemoterapie. Hul prognose is nie goed nie. Dit vat maar steeds aan ’n mens.”
Hy knik begrypend. “Jy loop die pad saam met hulle. Dis anders vir my. Meeste van my pasiënte is korttermyn-operasiegevalle.”
Magdali tel die spyskaart op en blaai daardeur. Sy wil nie verder haar pasiënte en werk met Dolf bespreek nie, maar gou moet sy tog die spyskaart neersit. Sy kyk vasbeslote op na hom.
“Jy wou my spreek oor my pa?”
Hy sit rustig terug in sy stoel en bestudeer sy wynglas. “Hulle vertel my jy en Schwarzenach is geskei.”
“Ja.” Magdali hou haar stem sonder emosie. “Dit het nie vir ons uitgewerk nie. Wat wil jy hê, Dolf?”
“Sou sy skuif na Ruisdal beteken dat hy dalk wil opmaak?”
“Jy weet baie.”
Hy glimlag en haar hart begin met pynlike, swaar slae klop. Haar skanse teen die verlede is vinnig aan die verkrummel. Sy merk sy skewe linkeroogtand en onthou eensklaps die intensiteit van sy liefkosings, hoe sy altyd die growwe kantjie van die tand met haar tong verken het ...
“Ek is verlede week verkies tot Ruisdal se direksie,” sê hy, “so hulle het my volledig ingelig.”
Magdali moet ’n groot sluk wyn neem. Dit vloei warm in haar keel af, maar haar hart voel koud van vrees. “Ek ... sien.”
“Ek het ook ’n groot aandeel in Ruisdal gekoop,” gaan Dolf voort. “Die direksie het baie waardering daarvoor. Hulle het oorspandeer met die aanbouery en dit lyk my onbekwame boekhouding en geldverduistering is in die mode hier rond.”
Magdali sit haar glas neer. “Daar kom ons nou by die kern van die saak. Waarom die moeite doen om vir my ’n ete te koop, Dolf? Ek is hier om my pa se saak te bepleit. Ek is jammer oor sy misstap. Dit was vir my ’n skok toe hy my gister daarvan vertel het, maar dit het gebeur. Ek wil natuurlik nie hê jy moet hom laat vervolg nie. Dit sal sy dood beteken as hy tronk toe moet gaan. Kan ons asseblief ’n alternatief oorweeg? Ek sal borg teken en help afbetaal.”
Sy gesig bly uitdrukkingloos, maar sy oë gloei. “Ons kan oor ete daaroor praat,” sê hy en wink die kelner nader om te bestel. Toe dié wegstap, nadat Dolf sommer ook namens haar bestel het, kyk hy weer na Magdali.
“Waarom is jy en Schwarzenach geskei?”
Magdali behou ’n koel uiterlike front, maar in haar binneste ween sy. Dit wat tussen haar en Dolf was, is verby. Dit was ’n oomblik in die ewigheid, en sy het haar rug daarop gedraai. Dis hoe dit is, sy moet dit aanvaar en vorentoe beweeg. Daar is sommige goed waaraan niks verander kan word nie. Haar beroep het haar dit geleer.
“Dis mý saak,” antwoord sy kortaf.
Sy mondhoeke trek geamuseerd. “Ek het een miljoen redes om van daardie stelling te verskil.”
Magdali kyk hom opsommend aan. Dolf van Vuuren het die hef in die hand en hy buit dit uit. Sy haat dit om hier vasgepen in haar stoel te sit en aan sy wense te moet voldoen, maar sy het nie juis ’n keuse nie. Hy speel met haar soos ’n kat met ’n muis, en sy sal dit moet verdra totdat hy al sy kaarte op die tafel gepak het. Wat gaan in die man se hart aan? Verlustig hy hom werklik in haar dilemma?
Sy lig haar glas en drink dit leeg. Dolf wil vir haar nog wyn skink, maar sy keer hom. “Ek het genoeg gehad, dankie. Ek sal graag ’n bottel water wil bestel as die kelner weer kom. Nou goed, Dolf. Kom ons hou op speletjies speel. Waarom wil jy weet oor die egskeiding? Dit het niks met my pa se geldverduistering te doen nie.”
“Inteendeel,” sê Dolf rustig en teug aan sy wyn, “dit het alles daarmee te doen. Ek wil weet of jy dit oorweeg om terug te gaan na Schwarzenach.”
Sy ondersoek sy gesig. “Jy wil weet of hý my pa finansieel sal kan bystaan?”
Dolf roer net sy skouers en vat nog ’n sluk wyn.
Hul voorgeregte kom en Dolf bestel haar bottel water. Magdali besef verbaas dat sy honger is en geniet haar garnaalkelkie. Sy het vanmiddag nie veel eetlus gehad nie.
“Ek eet graag hier,” sê Dolf rustig toe sy die leë kelkie terugstoot. “Hul kos is uitmuntend. Ek het ’n paar jaar gelede op die plek afgekom tydens een van my besoeke aan Suid-Afrika.”
Die kelner skink sy wynglas weer vol en neem hul borde weg.
“Waarom is jy en Schwarzenach geskei?” vra Dolf weer.
Magdali sug. “Daar was ’n ander vrou,” sê sy saaklik. “Ek was besig om as internis te spesialiseer en ek weet dat ek baie skuld aan die egskeiding het. Ek het Hanro verwaarloos. Ek gaan nie weer daardie paadjie loop nie. Ons is vriende, maar dis al.”
Hy knik sonder kommentaar, sodat sy moet wonder wat in sy gedagtes aangaan. Hulle bly sit in ongemaklike stilte. Dolf praat eers weer toe hul hoofgeregte kom.
“Kom ek speel oop kaarte met jou. Ek het ’n probleem. Die praktyk by Ruisdal is presies waarna ek al jare soek, en die direkteurskap maak die uitdaging nog meer genotvol. My dilemma is Andri. Destyds, nadat jy my op jou pa se aandrang gelos het, was ek platgeslaan. Ek het troos by haar gesoek, en dit gekry.”
Magdali knik sonder om na hom te kyk en probeer die steek jaloesie wat skielik deur haar hart skiet, ignoreer. “Ek weet,” sê sy toonloos. “Andri het vanmiddag vir my gesê sy wil graag weer jul verhouding hervat.”
“Sy maak nie ’n geheim van haar voornemens nie,” sê hy droog. “Sy was destyds besig om van ’n pynlike liefdesteleurstelling te herstel en ek moes jou uit my gestel kry. Ons affair was dus terapeuties vir ons albei. Gerieflik, kan jy maar sê. Ek het aangeneem dat Andri ook so daaroor voel. Ek het my misgis. Sy het my ’n paar keer oorsee gekontak en my selfs laas jaar kom besoek. Sy wil voortgaan waar ons opgehou het, én sy wil hê dit moet op ’n permanente verhouding uitloop.”
Hy skuif sy wynglas geïrriteerd rond. “Die situasie is vir my problematies. Volgens Frank Wilson is Andri een van die knapste fisioterapeute wat hy al teëgekom het. Ek is persoonlik ten gunste van baie meer intensiewe rehabilitasie voor en ná knieoperasies as wat Sakkie Vermaas toegepas het. Ek beplan om Andri se kundigheid en praktyk optimaal te benut en ek wil haar nie vervreem nie.”
Magdali knik en laat sak haar mes en vurk. “Dis ook deels waarom ek vanaand gekom het. Ons praktyk is deel van jul versorgingspan, ek wil nie hê daar moet spanning tussen ons wees nie.”
Dolf sit terug in sy stoel en tel sy glas op. “Ek sien net een opsie,” sê hy, sy uitdrukking onleesbaar, “en ek het jou hulp daarvoor nodig. Ek wil jou ’n aanbod maak. Trou met my, net vir ’n jaar, en ek skryf jou pa se skuld af. Dan kan ek in vrede my praktyk uitbou by Ruisdal en Andri kan ander belangstellings ontwikkel.”
Magdali se skrikbeweging stamp haar wynglas om. Die kelner haas hom nader, maar haar glas was gelukkig leeg. Magdali tel haar servet meganies op en druk dit teen haar mond terwyl die kelner besorg verneem of alles reg is. Sy knik.
“Ja, dankie.” Eers toe hy wegstap met haar leë bord, kyk sy weer na Dolf. “Jou voorstel is belaglik,” sê sy hees.
“Is dit?” Dolf sit haar skynbaar ontspanne en aankyk, sy blou blik intens. “Ek dink nie so nie.” Hy leun vorentoe en skink hul glase weer vol. Hierdie keer laat Magdali hom begaan. “Dis ’n maklike oplossing vir ’n moeilike situasie,” sê hy.
“Maklik vir jóú, miskien!” Woede kom tot Magdali se redding en sy sit verontwaardig vooroor. Sy moet haar inspan om haar stemtoon onder beheer te hou. “Neem jy nou wraak oor my besluit van destyds? Is dit nie taamlik sadisties nie, Dolf? Dis tog nie my skuld dat my pa homself swak gedra het met julle geld nie. Ek het baie hard gewerk om te kom waar ek vandag is. Ek het geen begeerte om weer te trou nie.”
Hy lig sy skouers argeloos. “Dis jou keuse,” sê hy sag. “Wat tussen ons was, is verby. Ons ken mekaar, en ek weet ek kan jou vertrou – dat daar ná die jaar geen komplikasies sal wees wanneer die huwelik ontbind moet word nie. Ek het in Switserland ’n verhouding gehad. Sy was ’n wetenskaplike, Camila Pugot. Nes Andri maak sy geen geheim van haar begeerte om te trou nie. Sy kom my later vanjaar hier besoek. Ek het bande met haar kliniek, so ek wil graag sonder kwade gevoelens uit daardie knyptang ook kom. Dit kan soms uiters problematies wees om ’n alleenloper te wees.”
Magdali sit met moeite terug in haar stoel en tel haar wynglas op. Sy moet probeer ontspan. “Miskien moet jy jou vriendinne beter kies.”
Dolf ignoreer haar sarkasme. “Ek het ruimte nodig om my praktyk in Suid-Afrika te vestig en uit te brei, en ’n vrou aan my sy wat die werk verstaan en my kan help om van lastige komplikasies ontslae te raak. Jy wil jou pa tot elke prys uit die tronk hou. Ék dink die reëling kan ons albei goed pas.”
Magdali sit haar wynglas neer en klem haar hande op haar skoot saam. Haar gedagtes kolk desperaat rond. Dolf se voorstel is die laaste ding wat sy vanaand verwag het. Vrees roer dringend in haar. Hoe kan sy haar toevertrou aan hierdie vreemdeling oorkant haar, hierdie man met die harde oë? Haar hart klop pynlik en sy moet, tot haar vernedering, die trane wegknip.
Haar stem breek toe sy weer probeer praat en sy druk haar lippe ferm opmekaar, kyk eers weer ’n tydjie af. Sy span haar in om haar gesig uitdrukkingloos te hou, soos wanneer sy slegte nuus aan ’n pasiënt moet oordra, of een moet bystaan wat swaar ly.
“Wat presies impliseer hierdie huwelikskontrak van jou?”
Hy roer in sy stoel. “Dis ’n formele kontrak tussen ons twee. Ons kan dit platonies hou, as jy wil, of ons kan die drade van die verlede optel. Die jaar netsowel geniet.”
“Dit sal die dag wees!” Magdali gluur hom aan. “Nee. Watter ander opsies kan jy my pa bied?”
“Geen ander opsies nie.” Dolf se gesig verhard. “Ek sien môre die ouditeur, en dit hang van jou af watter opdrag ek hom gee. Jy kan daaroor dink en my môreoggend voor nege laat weet.”
Magdali se mond is bitter en sy tel haar waterglas op, drink diep. “Ek kan jou afbetaal, Dolf,” sê sy, en sy gee nie meer om dat die desperaatheid in haar stem deurslaan nie. “Ons kan die wildplaas in Mpumalanga aan jou oorteken, daar is ander moontlikhede ook ...”
“Daar is baie moontlikhede,” sê Dolf, “maar net een nood. Dis jou keuse.”
Magdali sit haar glas water neer en tel haar handsak op. “Jy neem nou wraak oor my besluit om Hanro te kies,” sê sy toonloos.
Hy skud sy kop en glimlag. “Sewe jaar later? Ek glo nie. Ons albei se lewens het aangegaan, die noodlot bring ons nou weer vir ’n kort rukkie saam. Kan ek vir jou nog iets bestel?”
Magdali se vingers klem wit om haar handsak se skouerband. “Ek kan jou amper haat vir wat jy aan my doen.”
“Ek doen niks,” sê hy ongeduldig. “Jou pa het dit gedoen. Ek gee net vir jou ’n haalbare opsie, ’n uitweg wat ons albei sal pas. Ek dink jy besef ook die noodsaaklikheid daarvan om diskreet oor hierdie saak te wees. Dit moet so geloofwaardig moontlik voorkom, anders gaan ons niks bereik nie. Ons kan maklik sê dat ons mekaar ná sewe jaar weer gevind het en ontdek het dat ons mekaar steeds liefhet. Ná ’n jaar kan ons die huwelik stilweg laat ontbind. Egskeidings gebeur elke dag, niemand sal eens skeef opkyk nie.”
Magdali staan op. “Ek het meer tyd nodig om te besluit.”
Dolf skud sy kop waarskuwend. “Daar is nie tyd nie. Ek moet môre weet – voor nege. Jou pa het sy tyd geneem om jou te vertel.”
Magdali lek oor haar lippe en kyk hulpeloos na hom. Die restaurant om haar vervaag en sy sien net die intense blou van sy oë. Dieselfde intensiteit wat in sy blik was toe sy hul verhouding beëindig het.
“Dink daaroor,” sê hy sag.
Sy maak haar mond oop om nee te sê, en sluit dit dan weer. Moedeloosheid spoel oor haar. Sy swaai om en stap kop omhoog uit die restaurant.