Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 88

Оглавление

18 Maart

Wag gelowig

LEES Jesaja 55:8–13

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here … – Jesaja 55:8

Elkeen van ons het die een of ander tyd in ons lewe hulp nodig, soms dringend. As ons dan vir God om hulp vra, moet ons Hom tyd gee om ons te antwoord. God hanteer ons krisisse en nood dikwels heel anders as wat ons dit sou doen.

So dikwels draai ons in ons nood na God toe met paniek in ons harte. Ons prewel ’n haastige gebed en verwag dat God onmiddellik moet antwoord. Wag eerder gelowig op God. Dan sal jy nooit teleurgestel word nie. Moenie slegs biddend op God se leiding wag nie, wees ook sensitief vir sy wil. Jy kan nie aan Hom voorskryf nie. Wat Hý egter voorskryf, moet jy nougeset nakom.

Só ’n gehoorsaamheid maak telkens vir ons nuwe vergesigte oop. Dinge begin in ons lewe gebeur wat ons nooit gedink het moontlik sou wees nie. Ons sien God aan die werk in ons lewe op ’n verstommende wyse en dit bring verwondering en opwinding mee. Daar is geen eentonigheid en sleurgang in ons lewe meer nie en sy teenwoordigheid word vir ons ’n heerlike werklikheid. Wat meer kan ons verlang?

GEBED

Vader, bewaar my daarvan om u wil vir my lewe te probeer buig. Help my om in u wil te wandel en te buig voor u gedagtes omdat U die beste weet wat ek nodig het en dit sal voorsien.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх